Uittreksel | ’n Kersfeeskomplikasie
Een
Christelle Boshoff voel die styfheid in haar rug. Sy sit haar boek onderstebo op haar skoot neer en vryf haar nek. Die vlug voel vandag buitengewoon lank en sy sien uit na haar eie huis en haar eie bed. Sy kyk op en betrap Francois Sutherland se enigmatiese blik op haar.
“Is alles reg, meneer Sutherland?” vra sy effens lugtig. Hoewel hy seker een van die aantreklikste mans is wat sy ken, kan sy nie bekostig om enige vreemde en onverklaarbare blikke van hom te ontvang nie. Nie dat hy ooit op ’n vreemde manier na haar kyk nie. Dit sal in elk geval onprofessioneel wees om so iets te dink.
“Het jy planne vir Kersfees?”
“Om die waarheid te sê ja, ek het.”
“Kanselleer dit. Ek gaan jou dienste oor Kersfees benodig. Gaan dit ’n probleem wees?” vra hy toe sy hom net grootoog aankyk.
Hy betrap haar nou onkant. Nie net met sy vraag nie, maar ook met die onverbiddelikheid in sy stem. Hy gaan nie sommer nee vir ’n antwoord vat nie. Dit lei sy dadelik af.
“Wel, juffrou Boshoff?”
“Nee, meneer Sutherland, dit gaan nie ’n probleem wees nie.”
Dit is iets wat sy van Francois geleer het: Onnodige vrae en verduidelikings irriteer hom vinnig. Sy tel haar boek op en lees verder. Altans, dis wat sy voorgee. Haar gedagtes draai egter om sy kortaf bevel. Gaan die man dan nie eens oor Kersfees briek aandraai nie? Hy is ’n selferkende werkolis, maar om nie eens Kersfees saam met familie of vriende te geniet nie, klink skielik verskriklik.
Sy kyk op en betrap weer sy oë op haar. Sy is nie seker wat sy lees nie. Amuseer haar koel en kalm houding hom dalk, of dink hy aan iets anders?
“Gaan ek my paspoort benodig? Of ’n visum?”
“Nee, dit sal nie nodig wees nie. Ons bly in die land.”
“Ek sien,” sê sy rustig, hoewel sy hoegenaamd niks sien nie. Francois maak net van haar dienste as lyfwag gebruik wanneer hy oorsee reis. En soms wanneer hy een of ander belangrike konferensie in een van die plaaslike groot stede moet bywoon, maar dit gebeur selde. Dan sorg hy gewoonlik vir sy eie veiligheidsdienste. Sou daar ’n konferensie oor Kersfees wees waarvan sy nie weet nie? Dis werklik ’n vreemde versoek. Sy wil verder uitvra, maar sy oë is terug op sy skootrekenaar. Sy het beslis haar kans om meer uit te vra verspeel. Nou sal sy mooitjies maar moet wag totdat hy uit sy eie haar meer vertel.
Die lugwaardin gee landingsinstruksies en sy bêre haar boek. Sy kyk by die venster uit, want dis iets wat sy telkemale geniet – om te sien hoe die land vinnig nader kom en hoe die straler haar veilig huis toe bring.
Daar wag twee begeleide motors op die aanloopbaan. Een sal Francois na sy bestemming neem en een is vir haar bedoel. Sy het gedoen waarvoor Francois haar maatskappy baie goed betaal. Om hom na die buiteland te vergesel, hom op te pas en veilig by die huis te besorg.
Die bestuurder van haar motor hanteer haar bagasie namens haar. Sy gaan staan voor Francois en steek haar hand uit. “Dit was gaaf om saam met u te werk, meneer Sutherland. Veilig reis verder.”
Sy handdruk is gewoonlik vinnig en kortstondig, maar dié keer kyk hy haar langer in die oë. “Dankie vir jou goeie diens, Juffrou. Kom spreek my asseblief môreoggend. Sê tienuur?”
“Om die Kersfeesreëlings te bespreek?”
Hy knik, los haar hand en klim agter in die swart nutsvoertuig met sy donker getinte ruite. Sy kan nie eens sien of hy in haar rigting kyk of nie. Sy roer haar skouers en klim agter in haar motor.
“Waarheen, juffrou Boshoff?”
“Safety First toe, asseblief.”
Haar suster kyk haar duidelik omgekrap aan. “Watse nonsens is dit, Christelle? Het jy vergeet dat dit Kersfees net die twee van ons gaan wees? Mariette sit happily married in Amerika en nou wil jy ook iewers heen foeter. Wat van my?”
“Ek is jammer, Chantelle, maar jy ken nie daardie man nie. Ek kon nie nee sê nie, al wou ek.”
“Net omdat die man een van die rykstes in die land is, beteken dit nie hy het reg oor jou lewe nie. Wie weet, dalk kan dit hom goed doen om soms die woordjie nee te hoor.”
“Ek is regtig jammer, Sus. Ek sal opmaak, ek belowe.”
“Wanneer? Nuwejaarsdag?”
“Sodra ek môre by sy kantoor was, sal ek jou sê. Hy was baie vaag.”
“En uiters selfsugtig, as jy my vra. Weet jy, dis tipies van hierdie ryk en onaantasbare mans – gee nie ’n snars vir enigeen om nie.”
Sy gaan nie weer jammer sê nie, want Chantelle moet darem haar posisie ook in ag neem. Om ’n persoonlike lyfwag te wees bring heelwat verantwoordelikhede mee. Nou goed, hulle het nog nie ’n kontrak geteken om oor Kersfees te werk nie, maar dit sê nie dat sy nie ’n mate van lojaliteit teenoor die man voel nie. Hulle het die afgelope twee jaar tientalle reise saam onderneem en sy voel sy het in ’n sekere mate tog ’n verpligting teenoor hom. Nou goed, sy het seker ’n groter een teenoor haar suster.
“Wat weet ons alles van die man af? Buiten wat ons nou reeds vasgestel het. Ryk en bederf?”
“Bederf?”
“Ja, hulle is almal. Moet hulle sin kry, anders gooi hulle ’n vloermoer van epidemiese afmetings. Of nog erger, kanselleer hulle werkkontrakte met jou maatskappy en stuur jou op jou pad.”
“Sus, jy is vinnig besig om jou eie vloermoer te gooi. Kalmeer, asseblief. En onthou, jy is Safety First se hoofbestuurder. Hierdie gedrag hoort nie by jou nie. Nugter dink, asseblief.”
“Dis moeilik, want ons praat hier van jou en nie ’n kliënt nie.” Sy haal diep asem. “Al wat jy moet weet, is dat ek glad nie gelukkig is nie.”
“Ek verstaan. Kom ons gaan ’n kompromie aan. Wanneer ek hom môre sien, sal ek vra of ons ’n plaasvervanger vir hom kan aanbied. Baie van ons mense is gewoond daaraan om oor Kersfees beskikbaar te wees. Stem hy in, spandeer ek en jy die hele Kerstyd saam.”
“Goed, kyk wat jy kan uitrig.”
Nadat hulle oudste suster, Mariette, met die bekende akteur Hank Grey getroud is, het haar tweelingsuster, Chantelle, Safety First se bestuur oorgeneem en sy wat Christelle is, het verkies om in die veld te bly. Sy vind dit veel meer opwindend as om heeldag agter ’n lessenaar te sit. Haar hart verwarm. Hoewel sy na haar amper ewebeeld kyk, is haar suster vir haar so mooi met haar lang blonde hare en lieflike blou oë. Boonop is Chantelle ’n koelkop – onverstoorbaar. Sy bestuur die maatskappy met ’n ysterhand en net so goed soos Mariette. Juis daarom voel sy sleg dat Chantelle so oor haar Kersfeesplanne uitgerafel het. Dis nie in haar natuur om so gal te braak nie.