Skip to main content

Uittreksel | ’n Kersboom van hout

Een

Opgewerk gee San-Marie die pakkie vir die koerier. Dis nie die arme man se skuld dat sy vies is nie, maar sy is só kwaad, haar glimlag sit vas.

Die koerier maak hom vinnig uit die voete. Sy gaan nog ’n aar bars oor Jacques-flippen-Myburgh met die lang wimpers. Drie maande. Drie frieken maande lank het sy verskonings gereed as haar vriendinne haar nooi om by hulle in hul moewies groot huise op Val de Vie, die sekuriteitslandgoed buite die Paarl, te kuier sodat sy nie in sy bakkies hoef vas te kyk nie, maar hy slaag nog steeds daarin om haar bloeddruk op te jaag, al sien sy hom nie.

Sedert Mina Strydom, haar een groot vriendin, verlede Kersfees met Louw de Ridder getroud is, is die man gedurig onder haar voete. Saam met Ryno Henning, wat intussen met haar ander vriendin Emily Beyers getroud is en Etienne Fouché wat met nog ’n vriendin Nicola Ackerman, getroud is, is Jacques een van die vier direkteure van DFHM Capital, ’n batebestuursmaatskappy wat in die Paarl gesetel is. As ’n mens na die motors kyk wat die manne ry en die huise waarin hulle bly, rol hulle in die geld.

Geïrriteerd begin sy heen en weer stap. Wat ís dit met die ellendige man? Sy probeer nou al drie maande lank om hom terug te betaal vir haar hospitaalrekening wat hy ongevraagd betaal het.

Sy het hom probeer terugbetaal. Met kontant wat sy per koerier laat aflewer het. ’n Uur later was die koerier terug by haar deur met dieselfde koevert vol geld. Van toe af probeer sy ten minste twee maal per week die geld vir hom stuur, maar hy koerier dit net eenvoudig weer terug.

Hy het dalk die tyd en die geld vir die heen-en-weer-speletjie, sy het nie. Sy kan al opstyg, so kwaad is sy.

Met ’n diep asemteug tel sy stadig hardop tot by tien. As sy haar sonde nie ontsien nie . . .

Sy en Emily, toe nog ongetroud, sou tydens die afgelope Junievakansie op ’n plaas naby Ceres gaan uitspan. Maar natuurlik werk niks in haar lewe uit soos sy dit beplan nie, en in plaas daarvan om te ontspan, moes die arme Emily in die middel van die nag met haar na die hospitaal op Worcester jaag waar sy met virale meningitis gediagnoseer is.

Mina, net soos haar Ierse ouma, weet altyd wanneer daar fout is by een van hulle, en sy en Louw het dadelik deurgery van die Paarl af om vir haar en Emily te kom help. Tot haar stomme verbasing het Jacques ook by die hospitaal opgedaag. En soos altyd het hy oorgevat, haar hospitaalrekening betaal, by haar huis gewag totdat Mina en Louw haar afgelaai het, haar in sy arms opgetel – sy kan nou nog iets oorkom daaroor – en toe so baie kos vir haar gaan koop, haar kaste is nog steeds vol.

Jacques Myburgh se naam het sy geken lank voor sy hom ontmoet het. Rokjagter, player, hartebreker is maar ’n paar van die woorde wat gebruik is om hom te beskryf. Hy date nooit iemand meer as een keer nie, is vertel, en gewoonlik is die vroumense aan sy arm net modelle of skoonheidskoninginne.

En toe sien sy hom terwyl hy polo speel op die veld by Val de Vie terwyl sy, Emily, Mina en Nicola by ’n markdag was wat daar gehou is. En terwyl hulle later in die klubhuis wyn gedrink het, het die vier kom kennis maak. Al vier is breedgeskouerd, aantreklik, sag op die oog, maar een kyk in Jacques se rigting het haar mond summier uitgedroog. Sy’t haar byna doodgeskrik vir die vreemde sensasies op die krop van haar maag.

Van dié man af, het sy geweet, moet sy so ver moontlik wegbly.

Sy druk met haar vingers teen haar slape. As sy net van die simpel hoofpyn kan ontslae raak. Sy trek die haarnaalde en rekkie uit haar hare en masseer haar kopvel met haar vingers. Dis beter. Haar hare is lank en hang laag af teen haar rug wanneer dit los is, daarom dra sy dit altyd in ’n bolla of ’n vlegsel. Dis nie prakties om so ’n vag hare in ’n werkswinkel vol hout en stof en masjinerie te laat loshang nie, maar haar kop is nou so seer, die rekkie en naalde is net ’n irritasie.

Met haar wysvingers vryf sy teen haar slape. Sedert die ellendige virale meningitis bly sy moeg, en vandag het sy ook nog ’n flippen hoofpyn. Sewe na tien dae, het dokter beduie, dis so lank soos wat dit neem om normaalweg daarvan te herstel. Maar oukei, dit is Vrydag, dit was ’n lang week en sy slaap deesdae bitterlik sleg.

En om alles erger te maak, is dit vandag onmenslik warm in die Paarl. Dis die eerste week van November, die erge warm maande is gewoonlik eers Januarie en Februarie, maar sedert Woensdag is die hele Wes-Kaap in die greep van ’n versengende hitte.

Sy spaar al ’n geruime tyd vir ’n lugversorger vir haar werkswinkel en daar is lankal meer as genoeg, maar sy bly huiwerig om so baie geld op een item uit te gee. Netnou raak sy weer siek en kan sy nie werk nie of . . .

Vinnig skud sy haar kop. Geen negatiewe gedagtes nie, preek sy al die hele oggend vir haarself. Vandat sy siek was, is sy huilerig en emosioneel, gevoelens wat sy nie gewoonlik toelaat nie.

Oukei, fokus. Doelgerig druk sy haar oorfone in haar ore en gaan staan weer by haar werkstafel waar sy besig is met ’n lang stuk hout. Die kalmerende klanke van Lewis Capaldi se ryk stem maak haar rustiger. Sy het toevallig onlangs een van die Skotse liedjieskrywer en sanger se songs gehoor en sedertdien luister sy graag na sy musiek. Hy het nie ’n maklike lewe nie, en dis miskien hoekom sy aanklank by sy lirieke vind.

I’m gonna love the hell out of you
Take all the pain that you’re going through . . .

Kan iets of iemand ’n mens se seer wegneem?

Sy weet darem nie. Op sewe en twintig weet sy wat is fantasie en wat is die werklikheid.

Sy begin weer die hout skuur. Ryk Vermaak, een van haar gereelde en oudste kliënte, het vir ’n Kersboom van hout gevra. Die maak van kombuiskaste is wat haar bankbalans in die groen hou, daar is min tyd oor om iets meer kreatief te doen. Wat haar hart egter laat warm klop, is die handgrootte beelde wat sy van diere maak, maar daarvoor het sy bitter min tyd. Kersbome is soos in glad nie haar ding nie. Sy kon egter nie vir Ryk nee sê nie, hy en sy vrou het haar by al sy vriende aanbeveel en sy is hulle baie dank verskuldig.

In teenstelling met Emily wat mal is oor Kersfees, hou sy niks van die feestyd nie, so, om te probeer dink hoe om ’n Kersboom van hout te maak, is heeltemal buite haar raamwerk. Sy het nog nooit een gehad nie en het geen behoefte om een te hê nie.

Sy het nie ’n sielkundige nodig om vir haar te sê hoekom die feesdag haar dwars in die krop steek nie. Die rede is eenvoudig: Haar ma is op Kersdag oorlede, en sy dra die hartseer elke dag saam met haar. Van daardie oomblik af was daar niemand wat haar kon beskerm teen haar pa se venynige kritiek, skerp tong, harde klappe en gedurige druk om te presteer nie.

Vir ’n kort rukkie was oupa Hans, haar ma se pa, nog in die rondte om dinge draagliker te maak, maar hy is dood toe sy hoërskool toe is. Dis hy wat haar van hout geleer het. Sy glimlag. Hy sou vir haar so skeef glimlag en sê die hout sal vir haar wys wat dit wil wees.

Ai, sy mis hom nog elke dag. As hy dalk langer geleef het, was dinge anders, was sy anders.

Ingedagte hou sy op skuur en staar na die hout. Kreatiewe idees is wat sy nou nodig het, maar op die oomblik is haar verbeelding so besig om maniere uit te dink om Jacques Myburgh uit haar lewe te kry, daar is min plek vir enige ander gedagtes.

Flippit, maar dis warm. Sy tel weer die bottel water op wat op die tafel staan. Was dit nie netnou nog koud nie? Sy drink ’n sluk, en met haar kop agteroor laat drup sy die water oor haar hals en sommer voor by haar bandjiestoppie in. Sy maak die band los van die dungaree wat sy bo-oor die toppie aanhet, en trek die bolyf af.

Vir ’n oomblik huiwer sy, toe trek sy die dungaree heeltemal uit. Sy het ’n heel fatsoenlike kortbroek onder aan. Buitendien, dis halfvyf op ’n Vrydagmiddag. Freek, haar getroue handlanger, is reeds vroeër huis toe en sy verwag geen kliënte dié tyd van die dag nie.

Dis beter. Met haar een hand lig sy haar hare op en met die ander hand gooi sy van die water agter oor haar nek. Sy was eintlik ook van plan om vroeër huis toe te gaan, maar toe daag die ellendige koerier weer op met die flippen koevertjie geld. Sy gaan eerder nog werk en probeer om van haar aggressie ontslae te raak.

Buitendien – wat maak sy by die huis? ’n Paar maande gelede nog kon sy enige een van haar vriendinne nooi vir ete, of een van die ander sou iets beplan. Nou is almal verdomp getroud. Tot Nicola wat niks wou weet van trou nie, het ’n ring aan haar vinger.

Fokus, Sannatjie, fokus. Sy leun vorentoe en begin weer aan die hout skuur.


Jacques probeer asemhaal, maar die vreemde, vreemde beklemming om sy borskas maak dit onmoontlik. Hy weet hy moet wegkyk, iets sê of naderstap sodat San-Marie sal weet hy staan al minute lank na haar en kyk. Sy het oorfone in haar ore, sy het hom nie hoor inkom nie.

Dit was seker die stupidste ding om hiernatoe te ry, maar hy is so fed up vir die ellendige koevert met geld wat elke tweede dag weer op sy tafel beland, dat hy in sy motor op pad na haar toe was voor hy baie daaroor kon dink.

Die een oomblik was hy nog moerig, maar toe maak hy die deur van haar werkswinkel oop en verloor ál sy asem. Met haar kop agteroor, haar hare los – hy het dit nog nooit so gesien nie – gooi sy water oor haarself. Sy oë het die een druppel gevolg wat teen haar hals afloop en verdwyn onder die bandjiestop wat sy aanhet. En toe strip sy waaragtig reg voor hom. Reg. Voor. Hom.

Sy oë is vasgenael op die paar baie sexy boudjies in die swart kortbroek. Wat heen en weer beweeg. Blik-sem.

Miskien het sy iets aangevoel, hy sal nooit weet nie, maar die volgende oomblik vlieg sy om. Die snak wat oor haar lippe val, ontplof in die stil vertrek. Terwyl sy die oorfone uit haar ore ruk, trek sy haar asem diep in. “Jacques – wat maak jy hier?”

Sonder enige boodskap van sy brein, beweeg sy voete vorentoe. Hy stap tot reg voor haar. Sonder om sy oë van haar af te haal, sit hy die koevert op die tafelblad neer. “Ek wil nie jou geld hê nie.”

Haar blou oë blits. “En ek betaal my eie rekeninge.” Met haar lippies styf opmekaar gepers, tel sy die koevert op en druk dit teen sy lyf. “Dis jóú geld, ek wil dit nie hê nie.”

Sy hand vou om hare voor hy baie daaroor kan dink. Hulle raak albei stil. Om hulle raak die lug swaar met aanvoelbare, vreemde vibrasies.

Hy vergeet van sy irritasie met die girl voor hom, van die intense hitte in die werkswinkel, van die rede hoekom hy hier is. Al waarvan hy bewus is, is die porseleintekstuur van haar vel, haar volronde mond wat effens oop is, en haar asem wat onegalig oor haar lippe val. En die geur van rose wat altyd om haar hang, en wat hom van dag een af van sy kop af maak. Selfs bo die reuk van hout en stof glip die geur deur elke porie op sy lyf.

Die dag toe die vier vroumense by Etienne se huis opgedaag het, het hierdie einste geur hom heeltemal onkant betrap. Mina het besluit sy wil met Louw trou en hulle moes almal help. Op daardie stadium was hulle al drie de vieste in vir Mina, hulle het nog nie geweet hoe sy oor hulle pel voel nie.

Die dag toe die vier vroumense by Etienne se huis opgedaag het, het hierdie einste geur hom heeltemal onkant betrap. Mina het besluit sy wil met Louw trou en hulle moes almal help. Op daardie stadium was hulle al drie de vieste in vir Mina, hulle het nog nie geweet hoe sy oor hulle pel voel nie.

Sonder enige waarskuwing het elkeen van die vroumense, behalwe Mina, vorentoe gestap en vir een van hulle ’n drukkie gegee. San-Marie het geen geheim daarvan gemaak dat sy eerder glas sal kou as om hom te druk nie, maar sy het nietemin haar arms om hom geslaan.

Die drukkie het ’n breukdeel van ’n sekonde geduur, maar as hy eerlik is, was dit die oomblik wat alles verander het. Hy wat elke aand ’n ander girl uitgeneem het, was ewe skielik glad nie meer lus om te date nie. Van daardie dag af spook hierdie vroumens en haar rosegeur by hom.

Half verdwaas vryf hy oor sy gesig. Dis die eerste keer wat hy dit aan homself erken.

Die slim ding om te doen, is om weg te draai, uit te stap en te sorg dat hy so ver moontlik van haar af wegkom, maar asof gehipnotiseer, gly sy oë oor haar gesig tot waar haar lang hare oor haar skouer val. Met groot konsentrasie glip sy hand onder haar hare in en hy trek sy vingers versigtig deur die lang slierte. Sysag.

En sonder enige boodskap van sy brein, vou sy hand om haar nek. Sy blik sak af, oor die pols net onder haar oor wat freneties klop tot by die ronding van haar borste wat net-net bokant haar top sigbaar is.

“Jacques . . .” Sy naam op haar lippe. Nie vies, soos wat sy gewoonlik klink nie, maar op ’n heel ánder manier, een wat sy bloed binne millisekondes ver verby kookpunt stuur.

“San-Marie,” prewel hy, sy oë op haar mond. Gewoonlik glip die een bitsige woord ná die ander oor haar lippe in sy rigting, maar vir die oomblik is sy stil en . . .

So asof die beweging heeltemal buite sy beheer is, tel hy een oorfoon op en druk dit in sy oor. 

I’m gonna love the hell out of you
Take all the pain that you’re going through
And I’ll bring you heaven, yeah if that’s what you need

Hy laat val die oorfoon. Haar tong glip uit, gly oor haar onderlip, en met ’n kreun buk hy af totdat hulle lippe millimeters van mekaar is. Enige oomblik nou gaan sy hom wegstamp, hom iets toesnou. En sy’s reg. Om haar te soen is heeltemal belaglik, hulle is gedurig in mekaar se hare . . .

Desperaat probeer hy aan een enkele rede dink hoekom hy eerder moet wegstap, maar sy brein weier om saam te werk. Sy ander hand vou ook om haar nek en met sy duime lig hy haar ken. “Ek gaan jou soen. As dit nie is wat jy wil hê nie, is nóú die tyd om te praat,” prewel hy.

Haar blou oë is donker poele ink vol . . . begeerte? Vlietend raak hy met sy mond aan hare om haar reaksie te toets.

Sy frons. Uiteindelik ’n reaksie wat hy ken. Hy begin sy hande uit haar hare loswikkel.

“As dít jou idee van ’n soen is, is ek nie verbaas jy’t elke aand ’n ander girl aan die arm nie.”

Verstom kyk hy af na haar, maar hy het reg gehoor. Die uitdaging is daar, in die kennetjie wat opgelig is, in die donkerblou dieptes.

Met ’n grinnik druk hy sy hande in sy broeksakke.

“Kom ek wys jou wat ek selfs sonder my hande kan doen.” Hy buk vorentoe en hierdie keer vang hy haar mond ferm met syne vas voor sy haar kop kan wegruk.

Hy wou haar net terg, kyk wat sy doen, maar die bliksemstraal van begeerte wat hom amper onmiddellik op sy knieë dwing, is só onverwags, sy hande is op haar lyf voor hy besef wat hy doen. Passie brul in sy ore, sny alle gedagtes, alle lig, alle bekommernisse uit.

Hy soen háár. San-Marie. Hiervoor, weet hy meteens diep binne hom, wag hy al sy lewe lank. Niks gaan hierna ooit weer dieselfde wees nie, en al wat hy wil hê, is nog.


’n Kombinasie van skok en sensoriese sensasies laat San-Marie eenvoudig wegsink in die soen. Willoos om enigiets anders te doen, gryp sy Jacques se hemp vas. Sy hande is nie meer in sy broeksakke nie, maar op haar lyf. Oral op haar lyf.

Jacques Myburgh – die man wat haar irriteer, frustreer, mal maak – soen haar. En o, liewe aarde, wat ’n soen! Teer. Passievol. Vol heerlike beloftes.

Moenie ophou nie, moenie ophou nie. Dis al boodskap wat by haar benewelde brein uitkom. Die reuk van Oosterse speserye, van son en van lang, soel nagte sypel deur haar vel.

Niemand, niémand, het haar al ooit só gesoen nie. So asof hy dors is, asof hy nooit genoeg kan kry nie, asof hy sy hele lewe lank al vir hierdie oomblik wag.

Verlangs probeer ’n ou hees stemmetjie haar aandag kry, maar Jacques kantel sy kop, verdiep die soen, en die stemmetjie verdwyn in die newels van genot wat haar toevou. Groot, warm hande vou om haar heupe en asof sy dit al baie keer gedoen het, glip sy haar arms om sy lyf en stap tussen sy bene in.

Nog. Nog. Nog. Of dit is wat sy dink, of hy, weet sy nie, maar sy hande beweeg rusteloos op en af teen haar sye asof hy presies weet wat sy nodig het. Afwagting bou op en op en op. Hoe verstommend dat sy nog nie in vlamme uitgebars het nie.

Ná lang minute lig hy sy kop, sy blougroen oë amper swart, sy asem, soos hare, hortend oor sy lippe. Met sy oë op hare vou sy hande om haar lyf sodat sy duime teen die onderkant van haar borste druk.

Haar asem raak weg, haar mond droog. Kurkdroog. Die warmte van die dag hang om hulle, maar dis nie naastenby so intens soos die hitte wat tussen hulle opbou nie.

“Bliksem, San-Marie,” prewel hy voor hy sy gesig in haar nek druk, sy mond oop teen haar vel.

Terwyl sy lippe teen haar afbeweeg, trek-trek haar hande angstig aan sy hemp totdat sy uiteindelik sonder enige hindernisse aan hom kan raak. Sy wou dit al so lank al doen. Van die eerste dag wat sy hom gesien het, om presies te wees.

Soekend gly sy mond oor haar hals tot waar sy tong die buitelyne van haar borste volg. Haar kop val agteroor.

Sy het geen idee gehad ’n soen kan ’n mens na ’n ander werklikheid transporteer waar begeerte ’n lewendige ding is nie. Tot haar siel sidder – nie iets wat sy gedink het moontlik is nie.

Die bandjies van haar top glip laer af oor haar arms, maak dit moeilik om hom verder te liefkoos. En toe sy mond verby die bokant van haar top glip en soekend, troetelend oor haar borste gly, kan sy net vashou.

Soos een wat lank onder water was, lig hy uiteindelik sy kop met ’n diep asemteug. Sy oë is koorsig van begeerte, sy kake styf opmekaar geklem. Sonder om weg te kyk, gly die agterkante van sy hande rakelings oor die stywe puntjies van haar borste wat kloppend van begeerte pyn.

Die snak wat oor haar lippe val, kan sy op geen manier keer nie. Haar sintuie is só oorgestimuleer, haar lyf ruk onwillekeurig.

“Vroumens . . .” kry hy hortend uit en vou sy hande om haar gesig. “Jy’s so, so beautiful . . .”

En op daardie oomblik dring die hees geskreeude ou stemmetjie uiteindelik tot haar deur. Wat dóén sy? Dis Jacques Myburgh, sy weet maar te goed van die gebreekte harte wat hy agterlaat.

Haar hande is nog onder sy hemp, op sy lyf. Vinnig ruk sy haar hande onder sy hemp uit en draai haar rug op hom terwyl sy met dom vingers probeer om die bandjies van haar toppie weer op hulle plek te kry. Haar asem val rukkerig oor haar lippe, haar stomme hart weet nie watter kant toe om te tol nie.

“San-Marie . . .”

Sy lig haar hand. “Dít . . . kan nooit, ooit weer gebeur nie. Nooit! Totsiens.” Oortuigend klink sy baie beslis nie, daarvoor is haar stem te hees, te vol begeerte. En as hy weer aan haar moet raak . . .

Met haar asem in haar keel, wag sy. Vir lang minute is dit doodstil agter haar. Uiteindelik hoor sy sy voetstappe wegstap. Eers nadat die klank van sy motor se enjin verdwyn, blaas sy haar asem uit en leun teen die werkstafel. Haar knieë is soos jellie. Om te beweeg is onmoontlik.

Met ’n kreun laat val sy haar gesig in haar handpalm. Dis omtrent ’n jaar gelede wat sy in sy arms gestap het. Om Mina te help, moes hulle die manne vra vir hulp om ’n troue te reël. Deel drukkies uit, was Emily se voorstel toe Louw se knorrige vriende vir hulle die deur oopmaak.

Emily het vir Ryno ’n drukkie gegee, Nicola vir Etienne, en sy het nie ’n keuse gehad nie. Dit was haar lot om vir die man wat elke aand ’n ander girl op sleeptou het, ’n drukkie te gee. Hoogs geïrriteerd het sy dit gedoen, maar in daardie millisekonde so naby hom het iets gebeur, want van toe af spook die hitte van sy lyf, sy warm asem oor haar gesig, by haar. En vandag kon sy haarself met die beste wil in die wêreld nie keer om haar hande op sy lyf te sit nie.

Die eerste ding wat sy raaksien toe sy uiteindelik opkyk, is die flippen koevert met die geld wat nog op die werkstafel lê.