Skip to main content

Uittreksel | ’n Jetski vir twee

Een

Is dit die dreuning van ’n voertuig? Wie sal dit in die donker verby die plaashuis teen die ruwe berg­paadjie af tot hier onder waag? Daar is tog nie veel mense wat weet van die twee vissershuisies agter die kliprant nie, of hoe?

Lizzy krul in ’n bondeltjie onder die laken op. Buiten die sagte geruis van die branders is dit doodstil daar buite. Dis reeds twee jaar van salige vrede hier agter die kliprant en haar werk by die kleuterskool op Sonbaai bring net genoeg opwinding in haar lewe. Sy begin stadig ontspan. ’n Sug ontsnap rukkerig uit haar binneste.

Tannie Ina-hulle se wegganery raak haar dieper as wat sy gedink het. Nog net ’n paar uur voor hulle met die plesierboot op reis gaan en dan bly sy stoksielalleen agter op die afgeleë seeplaas. Vier weke voel nou soos ’n ewigheid. Voorheen was die gedagte gerusstellend, maar nou is sy nie meer so seker nie. Dit nadat sy hulle aangemoedig het om uitein­delik vir Reuben in Mauritius te gaan kuier. Veral aangesien dit voorkom of hy nie veel belangstel in sy eie plaas of sy familie nie. Dinge kon eenvoudig nie langer so aangaan nie. Die twee oumense kwyn voor haar oë van verlange weg en sy kan dit nie meer verduur om hulle so te sien nie.

Selfs die strepie maanlig wat deur die venster oor haar bed val, lyk nou spokerig. Dit voel alles nou net te veel. ’n Beker gemmertee sal haar kalmeer.

Sy gaap agter haar hand terwyl sy regop kom. Haar een been hang slaaplam oor die kant van die bed. Nog ’n gaap.

Die klokkies agter die kombuisdeur klingel onver­wags. Sy verstyf en keer net betyds die gil met haar hand. Sy bewe so groot as wat sy is.

Dit sal tog sekerlik nie hy wees nie? Ag Vadertjie, help tog, asseblief!

Met die opstaan tel sy die gereedskapsak sag­gies van die bedkassie af en laat glip die band oor haar kop en skouer. Sy sluip op haar tone tot agter die kamerdeur en trek die pepersproei met bewende hande uit die sak.

Die houttrappe boontoe kraak en sy haal skaars asem. Haar hart klop in haar keel.

’n Lang man stap in die streep maanlig by haar verby met ’n groot tas wat hy agter hom aansleep. Gaan hy haar daarin wegsleep?

Terwyl hy afbuk en die liggie op die bedkassie aansit, sien sy die rugsak op sy rug skuif. Hy staan vir ’n oomblik doodstil, kyk moontlik na die omgekrapte bed voor hom.

Sy gee saggies ’n paar tree op haar tone nader aan hom. Op dieselfde oomblik draai hy om en die pepersproei tref hom in die gesig. Terwyl hy sy gesig vasgryp en ’n uitroep gee, vlieg sy om en vlug teen die trappe af, te laat om die pepersproeiwalms te ontglip. Haar gesig brand terwyl trane teen haar wange afhardloop. Deur skrefiesoë probeer sy om nie ’n trap mis te spring nie.

Harde voetstappe struikelval agter haar aan. Die man hoes en sy bors fluit gevaarlik. Dit klink na ’n asma-aanval. Sy wou hom nie bokveld toe stuur nie, al het hy ingebreek. Wat moet sy doen?!

Voor sy by die oop agterdeur uitvlieg, ruil sy wapens. Die koel aandlug bring haar tot besinning. Hier is meer ontvlugtingsmoontlikhede buite. In die vissershuisie se nagliggie sien sy die oop kattebak van die wit voertuig wat voor die deur geparkeer staan. Wou hy haar daar indruk? Wat was sy planne met haar? Is hy gestuur om haar te ontvoer of nog erger . . .

Oor die strook seesand struikel sy na haar vissershuisie langsaan, sy weet nie waarheen anders om te gaan nie.

Die vent se hoesbuie is kort op haar hakke. Sy kyk om, en ’n stuk gebreekte skulp steek onder die sagte vleis van haar voet in. Sy klap dit verskrik uit en ploeg voort deur die sand.

Sy benoude, fluitende asemhaling blaas in haar nek. Die oomblik toe sy arm om haar lyf sirkel, druk sy die skoktoestel teen sy arm. Hy sak brullend op sy knieë in die sand neer. Sy asemnood klink lewensgevaarlik. Terwyl sy die sleutel in haar hout­deur draai, loer sy terug. Sy sal iets moet doen voor sy met ’n lyk op hande sit. ’n Rilling hardloop deur haar lyf.

“Wie is jy en wat soek jy hier?”

In die flou skynsel van die vissershuisie se naglig sien sy hoe die vreemdeling sy bors vasgryp. Hy verkeer beslis in asemnood. “Dis . . . dis my plaas dié!”

Haar oë rek en sy trek haar asem geskok in. Noudat sy mooi na hom kyk, lyk hy nogal regtig baie soos die man in die fotorame teen tannie Ina-hulle se sitkamermure. “Reuben?”

Hy knik.

Haar gedagtes versplinter in haar kop en dit voel of haar bene ingee. O magtig! Wat het sy gedoen? As dit nie vir hom was nie, was sy nie die afgelope twee jaar veilig nie!

Haar bene kry nuwe lewe, sy val op haar knieë voor hom op die sand. “Ek is só jammer. Hoe kan ek help?”

“Pompie, as-se-blief.” Hy beduie na sy rugsak.

Sy pluk die sak van sy rug af. “Waar is dit?”

“Voorin.”

Gelukkig vind sy dit gou, ruk die blou proppie af en druk die asmapompie in sy hand. Toe hy te stadig reageer, lig sy sommer self die ding met sy hand en al tot voor sy mond en druk dit. “Toe, toe, toe, trek dit diep in. Gou, nog ’n keer.”

Die pepersproeiwalms hang om hulle. Sy rits sy baadjie voor oop en pluk dit van sy arms af. “Lig jou arms op!”

“Huh?” Geskokte groot bruin oë kyk in hare.

“Die pepersproeiwalms maak jou asma erger. Ek wil jou T-hemp uittrek.”

Hy gee oor en die T-hemp wat sy oor sy kop pluk, val bo-op die baadjie in die sand.

“Kom.” Sy hou haar hand uit, sien skaars sy sterk borskas raak en sleep hom agter haar aan tot by die sementwasbak teen die skurwe wit buitemuur.

“Spoel jou gesig af, oor en oor.” Sy klink vir haar­self ’n bietjie soos die streng juffrou wat sy soms is.

Hulle staan langs mekaar, spoel hul gesigte oor en oor met skoon water af, al brand dit soos vuur. Uiteindelik skud hy die water van sy hande af en bekyk haar fronsend op en af. Hy lyk wantrouig.

“Ek gaan kry handdoeke.” Sy vlug by die huis in, draf met die trappe op tot bo en weer terug met twee handdoeke in haar arms.

Spiere speel oor sy bruin gebrande borskas ter­wyl hy sy gesig en hare droogvryf. Sy vergeet vir ’n paar sekondes wat sy aangevang het en vergaap haar, maar net ’n klein bietjie. Mans is nou eenmaal nie betroubaar nie. Adders, om die waarheid te sê! Die hele spul van hulle.

“Jy is nie dalk dié Melissa van twee jaar gelede vir wie my vriend skuiling gesoek het nie?

Sy knik. “Dis ek, ja.”

“Nou maar hoekom het tannie Ina dan destyds gesê jy het elders geholpe geraak?”

Sy sug. “Ek het hulle gesê die leuens gaan ons een of ander tyd inhaal en kyk nou net! Tannie Ina het my oortuig dat dit beter is om my spore dood te vee, ter wille van my en hulle veiligheid. Sy vertrou nie die Skype-sessies oor die internet met jou nie, uit vrees dat iets dalk kan uitlek.”

Hy knik. “Toegegee.”

Sy steek haar hand uit. “Almal hier rond noem my sommer Lizzy.”

“Reuben Malan.” Hy hou haar hand effens langer vas, asof hy bang is sy hol weer die vlaktes in. “Ek en my tannie-hulle sal moet praat.”

Sy trek haar hand uit syne. “Ek kan verstaan.” As hy haar van die plaas af gaan wegjaag, het sy geen ander heenkome nie. Die gedagte maak haar moedeloos.

“Kom in, ek sal die slaapbank vir jou hier onder regkry om op te slaap. Die pepersproeidampe langsaan sal seker nie voor môre heeltemal uittrek nie.”

“Jy is seker reg.”

“Reuben, ek hoop jy sal my kan vergewe. Ek is regtig jammer dat ek so teenoor jou opgetree het.” Haar wange brand van verleentheid. Sy vryf oor die merk in haar linkerwenkbrou. Al weer bakhand. Die diepe skaamte, die onthou van hoe min sy werd is. Net toe sy darem weer ’n bietjie selfvertroue opge­bou het en amper begin glo het dat hierdie plek haar eie klein paradys is waar sy vir altyd veilig sal bly, ge­beur dit.

Hy glimlag effens. “Ek is ook jammer dat ek jou onnodig laat skrik het. Kom ons gaan maak die slaapbank op, dan is ek uit jou hare. Ek is nogal moeg ná die vlug van Mauritius af en als . . .”

Die situasie is nou nogal baie komies.

Hy het sweerlik haar gedagtes gelees. Hy glimlag kopskuddend. “Miskien sal ek maar net vir veiligheid met een oog oop slaap vannag.”

“Toemaar, Reuben, ek sal jou veilig hou. Slaap jy maar gerus.”

“Hmmm.”


Terwyl sy water in die ketel tap, haal hy ’n T-hemp uit sy rugsak en trek dit oor sy kop. Al wil sy nooit weer met enige man iets te doen hê nie, kan sy nie help om ’n sekonde of twee langer na hom te staar nie. Hy is dodelik aantreklik. Vreemd dat sy foto’s in die plaashuis haar nie regtig beïndruk het nie.

Hoekom wil sy amper glo dat hy skadeloos is? As dit waar is, sal hy haar dalk hier laat aanbly. Tannie Ina-hulle sal bankvas agter haar staan, dit weet sy darem. Eintlik voel sy nogal ’n bietjie trots op haar­self. Hierdie keer het sy darem ’n geveg opgesit – sy sal nooit-ooit weer soos ’n lam ter slagting rondgesleep word nie. Sy het weer mens geword die af­gelope twee jaar.

Terwyl hy sy skootrekenaar in die motor gaan haal, kyk Lizzy in haar leë kruidenierskas en byt op haar lip. Nogal ’n dilemma. Dan onthou sy van die vrugtebroodjie wat sy die vorige middag gebak het. Beslis ’n uitkoms.

Sy druk vier snytjies van die aarbeibrood in die broodrooster. Toe dit uitspring, smeer sy van tannie Ina se plaasbotter daaroor en laat loop heuning in slangpatroontjies oor die brood uit. Sy rangskik die driehoekbroodjies op ’n bord en as versiering sny sy haar laaste stukkie kaas in lang repies en versier die bord daarmee. Dit lyk glad nie sleg nie.

Al wat pla, is die gedagte dat hy hier onder gaan slaap. Sy hou van haar privaatheid. “Tee of koffie?” vra sy toe hy die houtdeur agter hom toetrek en sluit. Sy voel al klaar ingehok met die spiertier in haar kom­buis. Ugh! Sy kan gerus soos Spiderman teen die mure uithardloop en onderstebo teen die dak bly hang.

“Koffie, dankie. Dit sal my bors verder oopmaak.”

“Is die asma-aanvalle ’n gereelde ding?”

“Nie eintlik nie. Maar dit is darem nie elke dag dat ek onverwags gepeper en geskok word nie.”

Sy lag saggies, aangesien sy kan sien dat hy haar net terg. “Kom sit sommer hier by die tafel.” Sy gaan sit oorkant hom en drink klein slukkies van haar warm gemmertee.

Reuben se hare skyn donker en klam onder die kombuislig. Hy hanteer die gebeure bo verwagting goed. Haar eks en haar pa sou dit nooit so goed hanteer het nie.

“Dankie vir die broodjies, ek besef nou eers hoe honger ek is.”

“Plesier.”

“Self gebak?”

“Ja. Ek en tannie Ina soek heeltyd resepte vir die oorvloedige aarbei-oes. Eintlik kompeteer ons nou al met mekaar om te sien wat ons als met die aar­beie kan doen.”

“Hierdie broodjie is heerlik. Solank julle bak, sal ek help minder maak.” Die kuiltjie in sy wang trek haar aandag. Sy wil nie so na hom kyk nie. Daar is duisend en een redes hoekom sy haar nooit weer so kwesbaar voor ’n man sal maak nie. Flitse uit die verlede stuur van voor af ’n waarskuwing na haar brein.

Tog is daar iets wat haar wil oortuig dat hy an­ders is. Kan sy haar oordeel vertrou? Sy oom is da­rem ’n liewe mens. Vir eers sal sy hom die voordeel van die twyfel gee.

“Lizzy, ek is jammer dat ek jou so groot laat skrik het. As ek maar net geweet het, sou ek jou vooraf gewaarsku het. Ek wonder wel hoekom jy in my bed geslaap het, terwyl jy tog duidelik eintlik hier bly.”

Warm vlamme kruip teen haar nek op na haar wange. “Vandat ek hier bly, het ek die versorging van die twee huisies oorgeneem. Oor naweke slaap ek daar om die illusie te skep dat beide huisies bewoon word. Ek sit ook verskillende ligte deur die week in jou plek aan en sorg dat my voetspore met verskillende skoene rondom albei huisies sigbaar is. Ek het ook al die reënskoene in jou kas daarvoor geleen. Ek hoop nie jy gee om nie. Dis net . . . in die twee jaar wat ek hier bly, was jy nog nooit hier nie. Ek het nie gedink jy sal ooit hierheen terugkeer nie. Dit was ook die rede hoekom ek jou oom en tannie aangemoedig het om by jou te gaan vakansie hou. Hulle vertrek oor ’n paar uur. Ten minste sal julle darem kan groet voor hulle ry.”

“Jy is nie ernstig nie!”

“Ongelukkig, ja. Al waaroor hulle die afgelope paar weke praat, is oor hoe hulle en hulle vriende jou gaan verras en Kersfees saam met jou gaan deur­bring.”

“En dit is presies wat ek hier doen.”

Lizzy trek haar skouers op. “Kommunikasie is definitief belangrik. Ek het gewaarsku, maar hulle wou jou verras!”

“Met ander woorde, jy sou alleen hier op die plaas agtergebly het?”

“Ja. Dis nie regverdig dat hulle my heeltyd oppas nie. Ek is nie eers familie nie. Jy is.”

“Maar vir jou is dit lewensgevaarlik om alleen hier agter te bly.”

“Alles draai nie om my nie. Hulle word oud, Reu­ben.”

“Jy is regtig lief vir my familie. Dan is ek maar bly dat ek nou hier aangekom het.”

Sy lig net haar skouers. Hoekom gee hy om daaroor? Sy byt hard op haar lip om die warm trane wat in haar oë begin opdam, in te hou. Hoe moet sy so ’n tipe man hanteer? Dis vreemd en ontstellend! Sy vee vinnig die trane weg.

“Lizzy, ek kan in die plaashuis gaan bly as dit jou gemakliker sal laat voel.”

“Moenie laf wees nie. Ek sal dit nooit van jou ver­wag nie, dis so lieflik hier langs die see. Gaan jy my nie wegjaag nie?”

Die glimlag blink tot in sy oë. “En moontlik die avontuur van my lewe misloop? Nie eers ’n halwe kans nie.”

Sy glimlag. “Ek is darem nie altyd so opvlieënd nie.”

“Opvlieënd nogal.” Hy lag saggies. “Ons oorspronklike ooreenkoms staan vas, Lizzy. Ek is oortuig dat ons in vrede as buurman en buurvrou kan saamleef, of wat dink jy?”

“Natuurlik! Baie dankie. Jy weet nie wat dit vir my beteken nie. Hierdie plaas is huis vir my. Ek kan jou nooit genoeg bedank vir die voorreg om hier te mag woon nie.”

“Dis my plesier. Die huisies het leeg gestaan. Jy gaan dan voort soos altyd, ek is hier om vakansie te hou en te skryf.”

“Ek het nie geweet jy skryf ook nie. Jy is mos ’n marinebioloog, of hoe?”

“Ja, ek is. Daarom is dit vir my so lekker om my kennis oor die see en seelewe met belangstellendes te deel. Die see en alles daarin is net te fassinerend om daaroor te swyg.”

Die knoop in haar binneste gee skiet. Dit be­hoort oukei te wees saam met hom hier. Hy is beslis ’n omgeemens. Raar, maar blykbaar waar.

“Ek hoop oom Danie het al hierdie jaar my jetski laat diens. Gewoonlik is hy baie getrou daarmee, want ek kan nie wag om die see in te vaar nie.”

“Dit is seker baie lekker.”

“Baie. Hoe hou jy jouself gewoonlik besig, Lizzy?”

“Ek werk by ’n plaaslike skooltjie op Sonbaai, maar tydens vakansies vang ek graag vis, toets re­septe uit en lê en lees bedags op die strand.”

“Visvang, nogal. By die rivierstroom?”

“Ja, en ander kere dobber ek in die ou bootjie rond terwyl ek probeer om ’n vis uit te trek.”

“Seker nie met die ou bootjie wat al vir jare in wind en weer lê nie?”

Sy lag. “Ja. Die karaktervolle ou bootjie is nog heeltemal bruikbaar. Dit is my veiligste plek op aarde!” laat glip sy.

“Is jy nie bang dit sink nie?”

“Nee, soos die water inloop, skep ek dit uit.”

“Hoekom sien jy dit as ’n veilige plek?”

“Al is die stroompie op die oomblik nie te diep nie, het my eks ’n verskriklike vrees vir water.”

“Hy moet dalk maar op land ook versigtig wees, jy kan gevaarlik raak.”

Sy glimlag. “Kom voor of ek darem die afgelope twee jaar iets geleer het. Nog koffie voor ons gaan slaap?”

“’n Laaste koffietjie sal lekker wees, dankie.”

Sy skuif haar stoel agteruit en staan op. “Vroegoggend sal jou huisie weer silwerskoon wees voor ek Sonbaai toe ry vir my vakansievoorraad. As dit nie vir die tegniese probleem op die skoolstelsel was nie, was my salaris al gister inbetaal en my inkopies afgehandel, maar as ek vroeg genoeg ingaan, sal ek die vakansiegangers ontduik.”

“As jy uit die dorp wil bly, kan ek vir jou gaan inkopies doen.”

Sy glimlag. “Dankie, ek sal regkom.”

Hy kyk vreemd na haar. Hoor hy ooit wat sy sê?

Dan dring dit tot haar deur: die ou, deurgewaste wit bandjiestoppie wat sy by ’n baie kort slaapbroekie aanhet. Aarde, sluk my in! Haar skamele bates uitge­stal voor die vreemdeling se oë.

“Ek is nou terug.” Sy spring die trappe twee-twee op boontoe en pluk ’n oorgroot swart T-hemp oor haar kop.