Skip to main content

Uittreksel | ’n Huis vir liefhê

Een

Anita parkeer tussen twee motors ’n hele ent van die lodge af. Sy sit ’n rukkie stil om die toneel om haar in te neem. Sy het nie verwag dat daar reeds so baie motors op die lodge se parkeerterrein sou staan nie. Kan daar regtig soveel mense in Mpumalanga en omstreke wees wat in paddas belangstel?

Sy het self het maar eers onlangs bewus geword van die belangrikheid van paddas in die ekosisteem. Terwyl sy twee weke gelede op ’n stuk koerant groente geskil het, het sy ’n advertensie van ’n paddajag by Chrissiesmeer raakgesien. Dit het so interessant geklink dat sy dadelik gedink het dit is net die ding vir haar en Tina om saam te doen.

Tina, vroegtiener wat sy is, het egter nie dadelik aan die idee gebyt nie. “Ag nee, Ma, gross,” het sy gegril, “wie vang nou paddas met die hand? ’n Mens kry vratjies daarvan.”

Anita het haar glad nie deur hierdie afwysende reaksie laat afsit nie. “Dis net ’n ouvroustorie, liefie. En buitendien, as jy hulle opspoor, sal ek hulle vang.” Anita het haar stemtoon op “verleidelik” gestel. “Daar is lekker pryse om te wen.” Aan die kompeterende lig in Tina se blou ogies kon sy sommer sien sy het die regte knoppie gedruk.

“Pryse, regtig? Waarvoor nogal? Om die slymerigste, grootste brulpadda te vang?”

Anita het innerlik gesug. Die kind was nog glad nie gewen vir haar idee nie. Sy probeer weer. “Nee, darem nie. Ek sien nie ’n brulpadda op die lys van spesies wat daar voorkom nie.” Anita het geweet sy moet haar kaarte reg speel. As die aktiwiteit wat sy beplan Tina te veel laat gril, gaan hierdie plan van haar nie werk nie.

“Nou hoe wen ’n mens eintlik ’n prys?” wou Tina tog weet.

“Hier staan die persoon wat die eerste padda vang, word beloon. So ook die gesin of span wat die meeste paddas vang en die groep wat die meeste spesies vang.”

Anita weet hulle moet uit die motor klim sodat die avontuur waartoe Tina ingestem het, kan begin. Die herinnering aan Tina se reaksie op die skynbaar doodonskuldige inligting oor die pryse, laat Anita vir ’n oomblik met ’n pyn in haar bors agter die stuurwiel vries. Sy het die verbode woord gebruik: gesin.

Sy onthou asof dit gister was hoe die lig in Tina se oë verdof het. Anita beleef weer die pynlike besef van wat sou kom.

“Ons gaan teen gesinne moet kompeteer.” Daar was ’n bitter trek om haar kind se mond toe sy die woord “gesinne” gesê het. Die rebelse klank, wat Anita die laaste tyd al hoe meer gehoor het, was ook terug in Tina se stem. “Maar ons is net ’n halwe gesin. Dis onregverdig.”

Vandat Tina se grille en koppigheid saam met die puisies op haar gesig kop uitgesteek het, verslind Anita elke goeie ouerskapboek op die mark. Sy voel op die oomblik soos ’n kenner op die gebied van adolessente vloermoere en opstand. Dit was tyd om die onderwerp te laat vaar. Genoeg van paddajagte. “Kom ons praat later weer hieroor wanneer ek meer uitgevind het oor die reëls van die kompetisie.” Sy het met inspanning na haar opgeruimde register oorgeslaan. “Ry gou saam winkel toe dan koop ons vir ons bevrore jogurt op pad terug.”

Die uitsteltaktiek het gewerk. Tina het heelpad van die jogurtwinkel af opgewonde gebabbel. Volgens haar sou dit “awesome” wees om met ’n flits in die donker paddas te jag. Sy het selfs gesê sy sal een optel, en as dit haar nie uitfreak nie, sal sy kans sien vir meer.

En hier is hulle nou by Chrissiesmeer.

Anita hoor Tina by die motor se kattebak vroetel. Sy is reeds besig om hul waterskoene uit te laai. Anita klim ook uit die motor. Die lug is swaar van die vleiland se natgrondgeure en in die riete kwetter vinke saam met die geluide van watervoëls wat sy nie ken nie. Sy neem haar handsak, sluit die motor en beduie vir Tina dis tyd om die ander mense na ’n groot saal te volg.

Tina kom loop skielik langs Anita en vat haar hand styf vas. Ten spyte van haar nuwerwetse idees en die sporadiese rebellie het sy nog nie heeltemal haar kleinkindskaamte vir onbekende mense ontgroei nie. Dat sy haar pa op die brose ouderdom van tien verloor het, het ook haar ontluikende selfvertroue geknou, weet Anita. Tog sien sy die laaste tyd al hoe meer tekens dat haar gefokusde aandag en volgehoue belangstelling in alles wat Tina doen, haar dogter meer en meer laat ontdooi.

“Mamma, kom ons kry gou vir ons goeie plekke,” moedig Tina haar aan en trek Anita die saal binne.

Die helfte van die ruimte is gevul met gedekte tafels waarby tien tot twaalf mense kan sit. Anita kan nie help om te glimlag toe sy die tafelversierings opmerk nie. Groengeverfde polistireenpaddas leun uitpeuloog teen die sout-en-peperstelle. Teen die mure pryk groot plakkate met paddas van alle groottes en kleure. Iemand het geweldig baie moeite met die dekor vir hierdie byeenkoms gedoen. En ’n sjef of twee het ook hul bydrae gelewer want van êrens agter die skerms meng die geur van verskillende kosse aptytlik met die aroma van brandende kerse.

Sy voel hoe Tina haar in ’n ander rigting, verby die tafels, stuur. Nou eers merk sy op dat daar teen die verste muur van die saal dwars in elke hoek ’n reuse-TV-skerm opgestel is. Die rye stoele wat voor die skerms uitgepak staan, is al byna halfpad beset met mense wat opgewonde klets en lag.

Terwyl mense saam met hulle by die saal instroom, laat Anita Tina toe om vir hulle plekke te kies. Net ’n paar rye van voor af neem hulle die twee kantsitplekke van ’n ry in vanwaar hulle ’n onbelemmerde uitsig op die skerm regs voor in die saal het. Hulle stoot hul waterskoene onder hul stoele in.

Toe Anita regop kom, word sy bewus van ’n figuur langs haar. Sy kyk op. ’n Man van ongeveer haar eie ouderdom en ’n dik bos kastaiingbruin hare kyk na die twee sitplekke in die middel van die ry waarin sy en Tina sit. Die volgende oomblik buig hy effens af na haar toe en twee laggende donker oë kyk reguit in hare. Die aangename geur van sjampoe laat haar haar asem behaaglik intrek.

“Verskoon my, asseblief, mag ons verbykom?”

Hoewel die stem ’n vraag oordra, is dit nie kruiperig nie, maar spreek van selfvertroue. Die man vra eintlik nie toestemming nie – hy lig haar maar net in dat hy gaan verbyskuur tussen hulle bene en die stoele voor hulle, wat nogal naby aan mekaar is.

Anita prewel “met plesier” en draai haar knieë na regs. Toe die man met sy omringende wolkie sjampoegeur flink by haar verbybeweeg het, sien sy die tienerseun agter hom wat in ’n gebreekte stem ook ’n “verskoon my” laat hoor.

Die volgende oomblik gee Tina ’n gilletjie van pyn.

“Eina, oppas, man, jy’t . . .” Sy sluk die res van die beskuldiging in.

Anita wonder wat die arme seun gesondig het. Sy kyk op en is nie verbaas om ’n uitdagende lig in sy donker, byna swart oë te sien nie. Nes die man by hom s’n. Die twee is waarskynlik pa en seun.

“Jy kon hulle verder ingetrek het, weet jy,” antwoord hy Tina met ’n adolessent se tipiese onwilligheid om ’n fout te erken.

Anita kyk van die seun na Tina. Die frons op dié se gesig wys dat sy hierdie reaksie van die jongman glad nie aanvaar nie. Anita sit haar hand saggies op haar dogter se knie en skud haar kop. Tina bly stil, maar gluur die twee donkerkoppe agterna tot hulle op die oop sitplekke gaan sit.

Daar kom skielik ’n reeks steurende kraakgeluide oor die mikrofoon. Dankie tog, iemand wil die verrigtinge aan die gang sit, dink Anita. Dit behoort Tina, al is dit tydelik, te laat vergeet van watter oortreding die seun ook al gepleeg het.

“Dames en here, jongmense, welkom by die negende paddanag by Chrissiesmeer,” kondig ’n lang, skraal man in ’n veldwagtersuniform trots aan.

Na ’n kort inleiding oor die nodigheid om paddas teen uitwissing te beskerm, word die ligte in die saal afgeskakel sodat daar ’n video oor paddas vertoon kan word.

Deur ’n venster van die saal sien Anita hoe die dalende son ’n rooi baan oor die meer verf. Sy voel haar binneste liggies tril van opgewondenheid oor die jag wat gaan begin wanneer dit skemer is. Is sy dan nou besig om kinds te word? Die gevoel herinner aan haar jeugdige opwinding toe sy hoopvol agter vlinders aangehardloop het: Sy het bly glo sy gaan eendag naby genoeg aan een kom om daardie toegevoude vlerkies vas te vat en die ontwykende fladderaar in haar besit te hê. Waarom, en om wat mee te doen, weet sy nie.

Daar het seker maar in elke moderne mens ’n oorblyfsel uit die jagterstydperk oorgebly, raai sy. Sy voel dit in haar are prikkel. Gelukkig is hierdie ’n jag met die oog op vang en loslaat, nie ’n lewensbelangrike soektog na kos vir die pot nie.

Sy gee teen haar wil toe aan ’n nuuskierigheid om na links te kyk. Die voorwerp van haar belangstelling – die man wat saam met sy seun by hulle verbygeskuur het – staar stip na die skerm. Hy het ’n sterk profiel: welgevormde neus en ken en ’n regop houding. Terwyl sy kyk, leun hy na regs om vir die seun langs hom iets te sê en Anita kyk vinnig weg. Maar sy verbeel haar hy het sy kop effens geknik toe hulle oë vlugtig ontmoet het.


Terwyl dit buite vinnig skemer word, verduidelik die voorsitter van die Matotoland Ekotoerismevereniging dat die deelnemers die paddas wat hulle vang, versigtig moet hanteer. Elkeen word in ’n spesiale plastieksakkie gesit wat aan die deelnemers uitgedeel sal word. Almal moet hulle waterskoene aantrek om in die vleiland te kan stap maar moet mooi kyk om nie van die kosbare paddas raak te trap nie.

“Maak gou, Ma,” por Tina, haar oë vonkelend van opwinding. “Ek wil die eerste padda vang.”

Anita en Tina trek vinnig hul waterskoene aan en hou hul flitse gereed. Toe beweeg hulle, weer hand aan hand, vinnig uit die saal. Anita is diep dankbaar dat hierdie plan van haar tot dusver so goed uitgewerk het. Die paddajag kan baie doen vir die binding tussen haar en haar dogter. Dit kan Tina ook help om uit die dop te kruip wat sy in haar gemis om haarself gebou het.

In die lug pols ’n ritmiese paddakoor uit die vlei se rigting. Dit gorrel, borrel en klik. Dit kweel en kwik en kwaak deurmekaar, en Anita weet dit gaan nie help om te probeer agterkom waarvandaan ’n spesifieke geluid kom nie. Om op die klank te probeer afpyl, gaan ’n mens g’n help om enige spesifieke padda op te spoor nie. Jy moet maar met jou oë soek. Voor hulle sien sy reeds kinders met emmers tussen die rietpolle langs die meer rondspring.

Gou bereik sy en Tina ook nat grond. Hulle moet hulself inspan om deur die modder te loop wat hul waterskoene met elke tree vassuig. Tina buk vinnig. 

“Blikslaner!” roep sy en kom met iets in haar hand orent.

“Van wanneer af praat jy so lelik, Tina?” Genade, het die gebruik van gekruide taal nou deel van Tina se tienerarsenaal geword?

Tot haar verbasing bars Tina uit van die lag. “Het Ma nie opgelet toe die man die praatjie gegee het nie? Kyk,” en sy steek haar hand, palm na boontoe, na Anita uit. Op haar hand sit ’n bruin paddatjie met ’n ligbruin strepie van kop tot stert. “Ontmoet die blikslanertjie, of caco.”

Sy spreek die naam as “kekkou” uit. Anita lag saam en trek vinnig ’n sakkie oop om die padda te ontvang. Hulle steek ’n wit vlaggie op en ’n beampte van die vereniging met ’n glimbaadjie aan, kom haastig nader.

“Jy’t die eerste padda gevang, skat,” sê sy vir Tina. “Wat is jou naam?”

“Tina Minnaar, Mevrou.”

Die dame maak ’n aantekening. “Nou ja, weg is julle. Sterkte met die jag.”

Anita se ore raak geleidelik ingestem op die manlike paddas se paringsroep. Sy wys een ná die ander amfibie met trillende keelvel vir Tina uit. Die entoesiasme waarmee Tina die sakkies vul, laat tevredenheid soos ’n lag in haar opborrel. Sy raak so moedig dat sy soms self die vangs opraap en in ’n sakkie laat glip.

Die kennis wat Tina uit die inleidende praatjie versamel het, verstom vir Anita: Haar kind ken byna al die name: rivierpadda, langtoonpadda, sandpadda. Watter genade dat sy so maklik leer. Dit gaan vir haar in die toekoms deure oopmaak in ’n baie kompeterende wêreld, dink Anita dankbaar. “En hierdie gele met die swart kolle wat so ’n borrelgeluid maak, kinta?” vra sy om vir Tina te toets.

“Dis die borrelvleipadda, Mamma. Ag, hy is so mooi, ek neem hom sommer saam huis toe,” sê Tina en tel die paddatjie versigtig op.

“Ek dog hy gaan jou vratjies gee,” terg Anita.

“Aag, Ma, dis al afgesaag. Die oom het ook so gesê . . .”

“Het jy getel hoeveel ons al het? Ek raak nou kwaai honger,” merk Anita na ’n halfuur op. ’n Ligte maagkramp verwyt haar dat sy in haar etenstyd winkels toe is om vir hulle waterskoene en nog ’n flits te koop in plaas van middagete te eet.

Tina tel vinnig die sakkies. “Dit lyk soos nege. Hier is glo dertien spesies, maar ons het twee van party soorte. Kan ons maar nog ’n rukkie aanhou?”

Anita kom versigtig orent met ’n skurwe, bolmaagpaddatjie en is net betyds om te sien hoe Tina en ’n donkerkopseun ’n entjie van haar af in dieselfde rigting duik. Sy herken hom as die tiener wat Tina met die verbyskuur in die saal vertoorn het. Die man met die adonisprofiel wat by hom was, staan ’n ent van hulle af met ’n tros sakkies in sy hand.

“Ek het hom eerste gesien,” hoor Anita haar dogter verwytend roep toe die seun met ’n padda in sy hand orent kom. “Jy is regtig ongeskik, weet jy. Eers vergruis jy my tone en nou steel jy my padda.”

Dan is dít die aartssonde wat die arme seun gepleeg het: hy het op Tina se voet, of voete, getrap in sy poging om by sy sitplek te kom.

“Ratser wees volgende keer, juffrou Langtone. Ek kon nie anders as om hulle raak te trap nie.”

Geen berou daar nie. Tipies tiener.

“En jy babbel net so sinneloos soos die korttoonvleipadda, weet jy,” haak Tina af. “Ja, jy is ’n regte bubbling kassina.”

“Ai toggie, groentjie. Wys jou net wat jy van paddas af weet. Die bubbling-deel van sy naam is Engels en dit beteken borrel, nie babbel nie.” Die seun kyk Tina beterweterig aan.

“Whatever, daar borrel die warm lug in elk geval al weer betekenisloos uit jou mond.”

Anita voel heimlik trots op haar kind wat die astrante kêreltjie in gelyke munt betaal.

“As jy nie daarvan hou om warm te kry nie, bly uit die kombuis. Dis ’n kompetisie hierdie, onthou,” kom die spottende antwoord, en die paddadief spring rats tussen die polle weg.

Anita soek verder na paddas sonder om met Tina oor die voorval te praat. Sy het met haar flink antwoorde bewys sy is groot genoeg om haar eie geskilletjies op te los.

Toe die gelui van ’n klok die einde van die paddajag aankondig, het Anita en Tina sestien sakkies met wriemelende lywe in wat van geel tot ligblou, bruin en groen wissel. Hulle moet ’n rukkie in ’n ry staan voor dit hulle beurt is om die paddas een vir een vir ’n beampte te wys en by die ander op die lang tafel uit te pak. Anita sien met verligting dat die sakkies vol klein gaatjies is wat help dat die paddas nie versmoor terwyl almal wag vir die beoordeling nie!

“Mamma, dis ’n awesome gevoel!” bevestig Tina Anita se tevredenheid met haar plan. “Ek het dit stukkend geniet. Kan ons dalk wen?”

“Wel, ek weet nog nie hoeveel spesies ons het nie, maar jy gaan die prys kry vir die eerste padda,” verseker sy vir Tina.

Hierna word die jagters genooi om by die gedekte tafels aan te sit. Op pad soontoe word Anita en Tina deur die donkerkopman en sy seun voorgekeer. Anita merk op dat die man ten spyte van die toer deur die vleimodder lyk asof hy pas uit ’n stort gekom het. En ruik ook. Sy is mal oor ’n man wat homself goed versorg. Tiaan het altyd . . .

Die seun kom vorentoe en steek met ’n verleë uitdrukking op sy gesig by Tina vas. “Haai, ek is jammer dat ek so aaklig met jou was. My naam is Pierre Bremer en ek hoop jy kan my vergewe.”

Anita is trots op Tina toe die dadelik prewel: “Natuurlik, geen hard feelings nie, Pierre. Ek is Tina Minnaar.”

“Dankie, dan, en . . . ek hoop jy doen goed in die kompetisie.”

Die donkerkopman glimlag vir Anita. “Noudat ons kinders kennis gemaak het, kan ek myself netsowel voorstel. Chris Bremer, aangename kennis.”

Anita voel hoe haar hand stewig toegevou word in ’n warm handdruk. Stewig, maar nie so brutaal soos die van ’n macho man wat sy krag ten toon wil stel nie. “Anita Minnaar,” antwoord sy en voel hoe die skaduwee wat by die gedagte aan Tiaan oor haar gemoed gesak het, lig danksy die man voor haar se spontane gebaar.

Toe sy en Tina wil gaan sit, trek Pierre vir Tina haar stoel uit en gaan sit daarna langs haar. Sy pa gaan sit langs hom.

Anita val met genot weg aan die kos wat vir hulle bedien word. Terwyl hulle later vir die nagereg wag, vergelyk Tina en Pierre iets op hul selfone en skater skielik van die lag. Bo-oor sy seun se kop knik Chris vir Anita. Sy voel die blos van haar nek af opwaarts styg, so ongewoon is dit vir haar om belangstelling en nuuskierigheid in ’n vreemde man se oë te lees.

Tina kry ’n reusepadda-sleutelhouer omdat sy die eerste padda gevang het en Chris en Pierre is die jagters met die grootste aantal spesies. Hulle het Anita en Tina met net een geklop.

Die seremoniemeester maak die opgewonde gesels stil wat op die prysuitdeling volg. “Dames en here, nou vra ons nog net vrywilligers om die paddas met ’n groot voertuig na die vlei toe terug te neem, en dan kan u na u huisvesting toe verdaag. Ons sluit môreoggend hier in die saal met ontbyt af. Goeienag.”

Chris spring op. “Ek en my seun bied aan om die paddas te vervoer.” Hy buig vorentoe om om Pierre te loer wat vir Tina met handgebare iets beduie. “Wil julle twee saamkom?”

“Ag toe, Mamma, dit sal pret wees,” soebat Tina voor Anita kan reageer.

Sy stem in, verbaas oor die trilling van opwinding wat die uitnodiging in haar binneste laat ontstaan. Die afgelope vier jaar het sy baie selde manlike geselskap gehad. Sy was nie lus daarvoor nie; sy het nog oor Tiaan getreur.

Tog maan haar ingebore versigtigheid haar dadelik tot kalmte. Die man is tien teen een getroud en op ’n pa-en-seun-uitstappie sonder sy vrou. Sy uitnodiging hoef niks meer te beteken as blote vriendelikheid nie. Dalk wil hy opmaak vir Pierre se aanvanklike onbeskoftheid teenoor Tina.

“Kom ek help julle om al hierdie springende paddas na jul voertuig te dra,” bied een van die organiseerders aan. Chris wys die pad na sy dubbelkajuitbakkie aan en Anita merk aan ’n plakker in die ruit dat Pierre in dieselfde hoërskool as Tina is. Toe die paddas gelaai is, klim Anita en Tina in.

By die vlei aangekom, doen Anita haar deel met die loslaat van die paddas wat in alle rigtings wegspring asof hulle vir hulle lewens vrees. Sy bly egter heeltyd daarvan bewus dat Chris kort-kort na haar kyk asof hy vir haar iets wil vra.

Toe dit uiteindelik kom, is Chris se versoek vir haar ’n verrassing. Hy wag tot die oomblik toe hy haar en Tina by hul motor afgelaai het. “Anita, Pierre wil graag vir Tina ’n geskenkie bring om behoorlik om verskoning te vra. Mag ons asseblief julle telefoonnommer kry?” Anita huiwer ’n oomblik. “Maar is dit nodig? Woon julle nie te ver . . .”

“Nee, Tannie, ons het gesels,” neem Pierre oor. “Ons is toe in dieselfde skool en ons bly nie te ver van Tannie-hulle af nie. Ek wil baie graag ordentlik ekskuus sê,” pleit hy.

Anita se hart word sag. Dit kan tog seker nie skade doen nie. Sy haal ’n besigheidskaartjie uit haar handsak. “Ons huistelefoonnommer is daarop. Maar ek werk voldag – saans is die beste tyd om te bel.”

Chris se vingers raak vlugtig aan hare toe hy die kaartjie by haar vat. “Baie dankie.” Sy oë is baie donker in die maanlig.

Anita trek haar ligte truitjie vaster om haar skouers. “Ek dink ons moet ingaan, Tina. Dit sal sleg wees as jy voor volgende week se balleteksamen verkoue kry.”

“Natuurlik,” maak Chris haastig verskoning. “Ons wil julle nie langer ophou nie. Kry julle bagasie, dan stap ons saam met julle tot by julle chalet.” Met sy arm om Pierre se skouers staan hy en wag dat Anita haar oornagtas uit die motor laai. Hy neem dit dadelik by haar, en Pierre boots sy pa na deur Tina s’n se handvatsel by haar oor te neem.


Toe hulle albei gestort en hulle nagklere aangetrek het, gaan sit Anita op Tina se bed vir hulle gebruiklike nagsêpraatjie. Sy merk op dat Tina se oë blink. “Mamma, was dit nie lekker nie?” begin sy opgewonde.

Anita moet aflei dat die uitstappie in haar dogter se oë ’n groot sukses was. Sy klop haarself innerlik op die skouer vir die idee.

“Pierre het vir my ’n great app op sy foon gewys. ’n Mens kan enigiets vreemds afneem en dan op CamFind uitvind wat dit is.”

Anita se borrel bars. In plaas van oor die uitstappie, gaan Tina se vreugde oor haar ontmoeting met die donkerkopseun. Sy dwing haarself om entoesiasties te klink. “O, en het jy dit ook afgelaai?”

Tina vertel opgewonde hoeveel van die paddas wat hulle gevang het, sy met die toep opgespoor het.

Anita se gedagtes dwaal. Tina se vreugde het skynbaar nie soveel met die paddakompetisie te doen as met die potensiële nuwe vriend nie. Maar kan sy haar kwalik neem?

As sy doodeerlik met haarself wil wees, moet sy erken dat sy self ook opgewonde is oor die aand se gebeure. Haar sintuie is ná maande, nee jare, se luiering in laagste rat verskerp deur die gewaarwording van iemand wat haar interessant vind en dalk beter wil leer ken. Sy sien regdeur die verskoning dat Pierre nodig het om weer ter wille van Tina met hulle kontak te maak. Vermoedelik is dit eerder sy pa wat rede soek om by hulle huis op te daag. Tog trek haar hart saam by hierdie gedagte. Sy weet wat haar daarvan weerhou om op hierdie fantasie voort te bou, en dit is ’n ernstige hindernis.

Chris Bremer kan getroud wees. En dit sal enige moontlikheid van verdere kontak vernietig.

Anita weet sy sal nooit “die ander vrou” kan wees nie. Daarvoor is die herinnering aan wat sy en Tiaan gehad het te kosbaar, en die gedagte dat sy iemand anders se geluk kan vernietig, heeltemal onaanvaarbaar.