Skip to main content

Uittreksel | ’n Bruid voor Kersfees

Een

Marli Botes sit die flikkerlig aan om te wys sy wil by die skool se hek indraai. Aan die groepies kinders wat reeds in die straat aanstap huis toe, lei sy af dat die klok etlike minute gelede al gelui het en dit beteken sy is laat om haar dogter op te laai. Haar volle aandag was by haar werk en sy het nie die tyd dopgehou nie.

’n Groot viertrekbakkie draai skielik reg voor haar in en sy moet remme aanslaan vir ’n vale. Wie sou nou so ongeskik wees? “Haai, paloeka, kyk waar jy ry!” raas sy deur haar oop venster met die bestuurder. Natuurlik is dit ’n mansmens wat dink die hele straat behoort net aan hom en sy monster van ’n bakkie.

“Hou links, vroumens,” hoor sy ’n diep stem antwoord toe hy rakelings by haar verbyflits. As gevolg van die feit dat die bakkie soveel hoër as haar motor is, kan sy nie sien wie so onbedagsaam bestuur nie, maar die stem en die gespierde voorarm wat op die oop venster rus, bevestig haar vermoede dat dit ’n man is. Ongeskikte vent.

Sy ry om die gebou tot so naby moontlik aan die klaskamer waar Bea se laaste klas op ’n Donderdag gewoonlik is. Meneer Ongeduldig se loodgrys bakkie is voor haar daar en rem so skielik om die enigste oorblywende parkering onder die koeltebome te kan annekseer, dat sy byna agter in sy buffer vasry.

Genade, die man het bestuurslesse en sommer ook ’n paar klasse in goeie maniere nodig. Sy koers verby die groot voertuig om darem ook ’n stukkie van die skaduwee te kry. Dis Oktober en die sonnetjie raak geniepsig hier in die Bosveld dié tyd van die middag.

Dit lyk darem of sy betyds is. Die klaskamer se deur is gelukkig steeds toe en die matrieks het nog nie verdaag nie, al is die res van die skool so te sê almal reeds by die hekke uit. Sy laat rol haar twee voorste vensters heeltemal af sodat die welkome briesie deur die kar kan waai, en lig met haar vingers die dik blonde hare van haar nek af om die koeler lug toe te laat om haar vel af te koel.

As dit nou reeds so warm is, beloof dit om weer ’n snikhete somer te wees vanjaar. Die groot bakkie se vensters is nou toe en die enjin luier nog steeds, natuurlik om die voertuig se lugreëling te laat loop. Te oordeel na die spoed waarteen hy beweeg, het die man beslis verkoeling nodig. Marli draai die kantspieëltjie van haar kar so dat sy kan sien wat in die bakkie langsaan gebeur.

Agter die stuur sit ’n donkerkopman, klaarblyklik besig om ’n groot kaart of plan te bestudeer. Hy steur hom nie aan haar wat verplig was om skuins in die klein ruimte wat hy vir haar gelaat het te moes inkruip nie. Aanmatigend, om die minste te sê.

Sy kan nie help om op te merk dat hy ’n sterk profiel met ’n reguit neus het nie. Dan is hy aantreklik ook nog. Dis geen wonder hy tree so arrogant op nie. Hy was sekerlik Mamma se mooiste seuntjie en is bederf nog voordat hy kon praat. Sy ma het hom natuurlik geleer dat die hele wêreld net vir hom bestaan en daarna het die res van die mensdom se gedrag teenoor hom dit oor en oor bevestig. Jip, dis nooit anders nie. Sulke mense loop bo-oor ander en glo dis hul goeie reg.

Vies draai sy die spieël terug sodat sy hom nie meer hoef te sien nie en skakel haar radio aan om liewer na rustige musiek te luister sodat sy kan kalmeer. Mense soos hy moet tot elke prys geïgnoreer word.

Wag ’n bietjie ... hy lyk soos ... Vinnig draai sy weer die spieëltjie, maar hy sit nou met die groot kaart voor sy gesig. Sy kan niks sien nie.

“Hallo, Mamma,” groet haar jongste toe sy inklim.

Marli glimlag. “Haai, meisiekind. Hoe was jou dag?”

“Moenie nog vra nie. Ek haat driehoeksmeting. Sin, cos en tan maak vir my geen sin nie.”

“Oeg, moet net nie vir my vra om jou daarmee te help nie. Ek is ’n taalmens. Wiskunde is vir my soos Grieks.” Marli skakel die kar aan, maar wag dat die meeste van die ander matrieks se ouers eers vertrek voordat sy in beweging kom. Die groot bakkie is reeds buite sig. Hy is natuurlik eerste by die hek uit, dit spreek vanself. “Me first” is sekerlik sy persoonlike leuse. “Buckle up,” gee sy opdrag aan haar spruit en vee die irritasie van die man uit haar gedagtes uit.

Bea lag. “Ma, jy is funny. Grieks is ook ’n taal, nè?” Met ’n giggel maak sy haar veiligheidsgordel vas.

“Jy’s reg, maar as jy vashaak, sal jy maar die naweek wanneer jou twee broers van die stad af huis toe kom, vir een van hulle moet vra om jou te help. Gelukkig het hulle jou pa se wiskundebrein geërf.”


Vrydagoggend hou Marli voor die gashandelaar se gebou stil nadat sy Bea by die skool afgelaai het. As sy nie nou die gasbottel laat volmaak nie, gaan die gas die naweek opraak. Sy hou daarvan om spesiale etes te kook wanneer al drie haar kinders tuis is.

Dis erg genoeg dat hulle sonder ’n pa moes grootword. Daarom bring hul ma meer as haar kant om op te maak daarvoor. Met haar aandag op die foon in haar een hand maak sy die kattebak oop sodat die winkel se helper haar bottel kan kom uithaal.

’n Groot hand lig skielik die swaar bottel uit die kattebak uit. Sonder om op te kyk, bedank sy die helper. “Dankie.” Sy grawe in haar handsak se sysakkie waar sy altyd muntstukke vir fooitjies bêre, en hou vyf rand na die persoon toe uit terwyl sy terselfdertyd die foon se skerm afskakel en die kattebak toedruk.

Hy neem dit egter nie, wag blykbaar net dat sy die winkel moet instap.

Sy kyk steeds nie op nie en hou weer die muntstuk vir hom. Is dit te min na sy sin? Moes sy hom liewer tien rand aangebied het? Dan lig sy uiteindelik haar kop. Sy moet twee maal kyk om seker te maak sy sien reg. Langs haar staan nie die winkel se helper nie, maar die aantreklike donkerkopman wat gister so ongeskik voor haar ingery het daar by die skool. In sy een hand hou hy haar gasbottel en op sy skouer ’n groter een, seker sy eie. “Die fooitjie is onnodig. Dis die minste wat ek kan doen nadat ek gister so haastig was dat ek byna bo-oor jou gery het,” sê hy skertsend.

“En boonop die enigste ordentlike parkeerplek voor my gegaps het, ja.” Hoekom moet sy juis nou opmerk dat hy die mooiste helderblou oë het wat sy nog ooit gesien het en ... aan wie herinner hy haar? Meer nog, hoekom het sy vergeet hoe om asem te haal?

“Wat kan ek sê? Ek was laat. Tyd is kosbaar en ek het nie die geduld om op draaikouse soos jy te sit en wag nie.”

Marli blaas verontwaardig die asem wat sy uit pure paniek opgehou het uit en probeer om ongemerk die muntstuk in haar handsak terug te druk.

“Draaikouse?! Ek het self te min tyd vir wat ek moet doen en wanneer ’n arrogante, selfgesentreerde vent soos jy so aanmatigend optree, verloor ek my geduld ook.”

Kalmeer nou net ... in, uit, in, uit, in ... Aan wie herinner die man haar? Dan onthou sy. Die baard is die ding wat haar mislei het. Nooit! Ná al die jare. Wickus, die ou wat in matriek haar hart gebreek het.

Die muntstuk glip uit haar lomp vingers, val op die teer en rol by die drein se gulsige bek langs die straat in. Hy lag daardie lag wat sy ná dertig jaar steeds op enige plek in die wêreld sal eien. “En daar is ek my ruim fooitjie heeltemal kwyt. Pleks die arrogante, selfgesentreerde vent dit liewer gevat het, want nou gaan die trol wat daar onder in die ingewande van die riool woon, dit opeis.”

Sy vererg haar opnuut vir die man wat haar eie woorde so netjies na haar toe teruggooi en ’n gek van haar maak. Weer ’n keer. Die trol wat in die riool woon, inderdaad. As die gasbottel nie so swaar was nie, het sy dit nou uit sy hand gegryp en op sy voet laat val. Sy kry nie ’n woord uit nie. Haar opinie van hom was in die kol, hy dink beslis die ganse wêreld bestaan net vir hom. Sy onthou dit maar alte goed.

Hy het haar hart vir hom gevat en dit in die modder vertrap asof dit niks werd is nie. Nou lag hy haar openlik uit. “As jou oë regtig vuur kon spoeg, het ek nou spontaan ontvlam en ons albei die lug in geblaas saam met hierdie twee gasbottels. Stap asseblief nou in, die goed word swaar.” Hy beduie met sy kop dat sy die winkel moet binnegaan.

Steeds stomend van verontwaardiging is sy verplig om te gehoorsaam en vooruit te loop. In die winkel oorhandig hy die gasbottels aan die helper en verdwyn met ’n spottende kyk en ’n kopknik na die hardeware-afdeling dieper die gebou in. Sou hy haar herken het? Waarskynlik nie.

Hy het haar sekerlik net daar in rooikop-Debbie se arms, toe hy haar agter die pawiljoen staan en vry het, reeds vergeet.

Dankbaar dat hy nog nie terug is nie, betaal sy ’n rukkie later vir haar gas en stap voor die helper met die bottel die winkel uit. Hierdie keer maak sy doodseker dat die fooitjie in die regte hand beland. Sy gee die loodgrys bakkie ’n giftige kyk en hoop om hom nooit weer raak te loop nie. Wanneer sou hy na hulle tuisdorp toe teruggekom het? Hy is ná matriek weg stad toe en sy het nooit weer iets van hom gehoor of gesien nie. Vinniger as wat nodig is, trek sy weg om gou ’n draai by die supermark te gaan maak om vars produkte vir die naweek te kry.


Marli kyk op toe haar buurvrou by die agterdeur inkom. “A, Saritha, jy’s net betyds. Ek het pas die ketel aangeskakel. My mond is nou so droog, ’n koffietjie gaan nou goed afgaan.”

Saritha kom sit by die toonbank tussen die kombuis en die eetkamer. “Waarvan is jou mond so droog? Praat jy tog nie hier met jouself nie?”

“Nee, ek moes van bakboord na stuurboord rondbel om ’n kontrakteur in die hande te kry om die veranderinge aan my huis te kom doen.” Marli haal twee koffiebekers uit die kas.

“Gaan jy dit nou uiteindelik laat doen? Jy droom al soveel jare daarvan.”

“Jip. Ek het einde ten laaste genoeg gespaar. Met die twee oudstes nou klaar met universiteit en Bea aan die einde van haar matriekjaar, sien ek kans daarvoor.”

“Ek sien in die media jou nuutste spanningsverhaal maak opslae. Jy gaan sekerlik sakke vol geld daarmee verdien,” spekuleer Saritha.

“Sakke vol geld? Dream on. Die Afrikaanse boekemark is hopeloos te klein daarvoor. Ek maak staat op die oorsese mark noudat ’n klompie van my ouer boeke vertaal is.”

Saritha glimlag. “Jy het jouself ’n reuseguns gedoen toe jy ophou skoolhou en voltyds begin skryf het, vriendin.”

“Dit was eintlik te danke aan my erfporsie ná my pa se dood, onthou. Andersins sou ek nooit die wa deur die drif kon trek met drie kinders wat geleerdheid moes kry nie.”

“Dis hoog tyd dat jy so ’n ietsie vir jouself ook neem. Kom ek en jy gaan op daai bootreis waaroor ons so lank droom. Ná alles wat jy al moes deurmaak, is jy dit aan jouself verskuldig, my maat.”

Marli gooi kookwater oor die kitskoffie in hul bekers en haal die melk uit die yskas. “Jammer, no can do. Ek het uiteindelik iemand gekry wat aanbeveel word om die bouwerk aan my huis te kom doen en, kan jy glo, kans sien om dit voor Kersfees te voltooi.”

“Wie is dit?”

“’n Maatskappy wat spesialiseer in die restourasie van ou geboue. Creative Enterprises, of so iets. Die eienaar is blykbaar ’n argitek, maar doen self ook die bouwerk aan alle projekte wat hy aanpak. Ek het nie eens geweet dat daar so iemand op ons ou dorpie is nie.”

“Oee, ek het al gehoor van die man. Daar was groot oproer onder die ongetroude dames van die dorp toe hy hom hier kom vestig het. Blykbaar is hy ongetroud, ’n hunk met die gesig van ’n filmster, maar hy het nie ’n saak met romanse nie, steur hom niks aan al die aandag van die teenoorgestelde geslag nie.”

“Ai tog, vir ’n geskeide vrou is jy darem baie gepla met romanse.” Sy gee een beker koffie vir haar vriendin aan en bring haar eie ook nader. “Dis van al daai romantiese boekies wat jy so verorber.”

Saritha gooi melk en suiker in haar koffie. “Los jy my noveltjies uit. Ná my egskeiding is dit die enigste thrill wat ek deesdae in my lewe het. Nee man, ek dink aan jou, dis jy wat ’n bietjie romanse in jou lewe verdien, nie ek nie. Hoe lank is jy nou al weduwee?”

Marli trek ’n glasfles vol koekies nader en gaan sit oorkant haar buurvrou. “Agtien jaar. Jy weet goed dat ek met die drie kinders nie een minuut vir myself gehad het nie, laat staan nog tyd vir mansmense. Buitendien, watter hubare man sal na ’n byna vyftigjarige weduwee soos ek kyk? Die beskikbare mans van my ouderdom kyk almal na veel jonger vroue. Nee dankie.”

“Enigeen wat oë in sy kop het, sal jou nie kan miskyk nie. Daar is weinig jong vroue wat by jou kers vashou. Jy het nog ’n lyf wat skrik vir niks en daar is nie een grys haar op jou kop nie.”

Marli blaas oor haar koffie. “Ja, toe nou maar. Ek weet wat ek weet.” Net sy weet van die blonde kleursel wat sy self maand na maand aanwend.

“Ek sê jou nou, daai ou kan al sy bouplanne agternagooi as hy jou kan kry. Hy is hoeka die regte ouderdom vir jou, so min of meer vyftig en blykbaar baie bekwaam. Ek voorspel jou huis is nie al wat hy voor Kersfees gaan regsien nie.”

Marli lag so, sy verstik byna aan die koekie waaraan sy gehap het. “Jy’s nou lekker laf. Ek dog dan jy vertel hy steur hom nie aan vroumense nie?”

“Hy sal hom wel aan jou steur, jy sal sien.”

Op daardie oomblik lui die voordeurklokkie. “Dis seker die koerier met my boekpakkie van die uitgewers af.” Marli staan op en stap voordeur toe.

Op haar drumpel staan egter ’n lang man wat nou sy sonbril oor sy donker hare skuif sodat hy haar ernstig kan betrag. Daar is geen boekpakkie in sig nie, maar op die rylaan staan die loodgrys bakkie.

Sy trek haar asem skerp in. “Wickus!” bars sy naam uit haar uit.

“Einste, maar hoe ...” Sy wenkbroue wip op, sy gesig nou die ene verbasing. “Wag ’n bietjie ... is jy nie Marlene ... Madelein ... nee ...”

Hy onthou nie eens haar naam nie. “Marli, en jy is Wickus Malherbe. Jy is die ...”

“Die arrogante, aanmatigende vent wat soos ’n paloeka bestuur,” las hy behulpsaam by.

Marli se asem is al weer soek. Wat maak hy hier?

“Die hartelose een wat in matriek ...” Wat? Sy kan nie vir hom sê dat hy haar hart gebreek het nie, want hy was nie eens bewus daarvan dat sy hom met haar hele jongmeisiehart liefgekry het nie. Hy was salig onbewus van haar heldeverering. Sy tree terug en mik om die deur in sy gesig toe te druk.

Hy vang die deur en hou dit teë. “Wag nou, waarvan praat jy? Ek onthou wel nou dat ons saam hier in die hoërskool was, maar dis al.”

“Natuurlik sal jy nie onthou nie, want jy was die hoofseun, die eerste rugbyspan se kaptein, en ek was hier van die onderdorp, die muurblommetjie by al die partytjies.”

Hy bekyk haar van kop tot tone. “Muurblommetjie? Jy? Ek kan dit skaars glo. Jy is gorgeous.”

Marli lag vreugdeloos. “So gorgeous dat jy vir Debbie bo my verkies het.”

Hy frons verbaas. “Debbie? Wie’s Debbie?”

“Toe ek dog jy gaan my vra vir die matriekafskeid, toe soen jy haar.” Daar. Nou ken hy haar hele sad storie.

“Ek wou nie eens matriekafskeid toe gaan nie, toe vertel daai vryerige Debora-girl vir almal ek het haar gevra. Was dit Debbie?” Hy kyk om hulle rond.

“Kan ek inkom? Ons staan so soort van in die straat hier.”

“Hoekom is jy hier? Om om verskoning te vra vir jou swak bestuursvernuf?”

Hy sit beide sy hande liggies op sy heupe. “Nee, ek is die argitek en boukontrakteur met wie jy ’n afspraak wou maak vanoggend. Is jy mevrou Botes?”

Sy knik net stom. Hy is die ou wat aanbeveel is?

“Jy het vroeër met my sekretaresse gepraat.”

“O. H’m ... sjoe ...” Sy vat selfbewus aan haar hare. Het sy dit ooit ordentlik gekam vanoggend?

“D... dit was vinnig,” is al waaraan sy kan dink om te sê. Genugtig, is dit sy wat soos ’n tienermeisie met ’n geknoopte tong na ’n man staan en staar? Byna dertig jaar gelede het hy haar hart gesteel en blykbaar het hy steeds die mag om die rewolusies van haar mouter gevaarlik hoog op te jaag.

’n Stadige glimlag sprei oor sy gesig terwyl sy oë haar weer van kop tot tone inneem. “Nou onthou ek. Marli Meyer met die lang blonde vlegsels. En jy is nou mevrou Botes, die een wat daar saam met my by die gaswinkel was.” Sy glimlag verbreed tot ’n grinnik. Dis duidelik dat hy die situasie terdeë geniet. “Ek moes hier verby, toe dog ek ek sal kom kennismaak en vinnig sien wat gedoen moet word voordat ons tot ’n ooreenkoms kom.”

Sy raak vlugtig aan die hand wat hy uitsteek.

“Kom in, asseblief.” Sy staan opsy. Saritha was reg. Hy kon ’n filmster gewees het met sy breë skouers, helderblou oë en netjiese kort hare. Wow. Die jare het hom wonderbaarlik goed behandel. Sy beduie dat hy haar moet volg.

“Jy sê dis hoofsaaklik die kombuis en badkamers wat vernuwing nodig het?” vra hy, nou die ene saaklikheid.

“Ja, dis reg. Sien jy regtig kans om dit voor Kersfees te voltooi?” Sy hoop nie sy werk word so oorhaastig uitgevoer soos hy bestuur nie. Meer nog, sien sy kans vir hom hier in haar huis terwyl hy die werk doen?

“Een van my kliënte het gekanselleer weens ’n finansiële probleem en ’n ander een het besluit dat hy die werk aan sy plek eers ná die nuwe jaar gedoen wil hê, so ek het toevallig nou tyd beskikbaar.”

Hy bly stil toe hulle die kombuis bereik en Saritha opstaan.

“Dis my buurvrou, Saritha Barnard. Saritha, dis ...”

“Wickus Malherbe, ek weet.” Sy glimlag en neem die hand wat hy uitsteek. “Ons het een maal by die teëlplek ontmoet en jy het my baie goeie raad gegee oor watter teëls om te koop.”

Hy frons effens en lyk beslis nie of hy haar onthou nie, maar bly nietemin vriendelik. “Bly om te kon help.” Hy draai na Marli. “Ek wil net vinnig kyk na die badkamers, dan sal ek later weer kom vir ’n deeglike konsultasie wanneer jou man ook hier is.”

“Sy is nie getroud nie, sy is ’n weduwee,” werp die moedswillige Saritha so ewe tussenin en gee voor dat sy nie Marli se skuins kyk opmerk nie.

Hy huiwer slegs vir ’n oomblik. “Ek sal volgende keer voor die tyd skakel en ’n afspraak maak. Wys my waar die badkamers is, dan sal ek my uit die voete maak sodat julle verder kan kuier.”

Marli glimlag vir die eerste keer regtig vir hom terwyl sy benoud wonder in watter toestand die kinders die badkamers gelos het. “Kom ek gaan wys jou.”


“Wat het ek jou gesê?” jil Saritha toe Marli weer in die kombuis kom nadat sy hom by sy bakkie afgesien het. “Wat ’n man, wat ’n hunk! Jy sal dom wees as jy nie jou kans waarneem nie.”

“Ja, toe. Was dit nou nodig om hom te vertel ek is manloos?” kapittel Marli haar. Sy gaan haar sowaar nie vertel dat hy die een is wat haar hart gebreek het in matriek nie. Saritha sal haar nooit die einde daarvan laat hoor nie.

“Natuurlik was dit. Daai Natalie Verhoef loop glo soos ’n klein hondjie agter hom aan. Sy het nou al haar hele huis deur hom laat oordoen net om sy aandag op haar te vestig.”

“Natalie? Maar sy is getroud.”

Saritha snuif. “Blykbaar nie baie gelukkig nie. So weet die grapevine te vertel. Sy hou die arme Dan glo net aan vir sy dik beursie. Die merrie is duidelik op soek na ’n volgende slagoffer voor sy haar huidige gans wat die goue eiers lê die trekpas gee. Ek sê jou dit sal ’n ramp wees as sy ’n man soos Wickus in haar gretige kloutjies beetkry.”

Marli gaan sit hul koffiebekers in die skottelgoedmasjien en skroef die koekiehouer toe. “En sy sing elke Sondag voor in die koor by die kerk? Kan ’n mens so wees? Wat van haar twee pragtige kinders?”

“Marli, almal is nie sulke dienende Marthas soos jy nie. Jy sloof jou af vir jou kinders en almal om jou, en dit stoksielalleen. Dis hoekom ek sê jy verdien ’n bietjie romanse, al kom daar niks van nie. As Bea volgende jaar ook uit die huis uit is, gaan die leë nes jou tref. Vra vir my.”

“Ek gee nie om om dinge vir hulle te doen nie, my kinders is my hele lewe.”

Saritha beduie met ’n wysvinger om gewig aan haar woorde te verleen. “Presies. Wat van jou eie lewe? Jy gaan soos jou vinger alleen in hierdie grote huis oorbly. ’n Man soos Wickus is net wat jy nodig het.”

“Wickus is die vent wat laas week byna bo-oor my gery het daar by die skool.” Sy vertel van die insident by die skool sowel as by die gasplek.

Saritha lag dat jy haar waar kan hoor. “Daar het jy jou cute meet.”

“Cute meet? Waarvan praat jy?”

“Dis wanneer die held en heldin mekaar op ’n besondere, onverwagte manier ontmoet soos in my noveltjies.”

“Glo my, daar was niks cute aan die manier waarop ons ontmoet het nie. Die man maak my tande stomp.” En steel haar asem totaal en al soos dertig jaar gelede.

Saritha giggel steeds. “Maar hy is cute, stry?”

“Ag, Saritha, jy is hopeloos te veel gepla met romanse. Klein hondjies en katjies is cute. Geen man kan cute wees nie, veral nie ’n arrogante een soos hy nie. Ek fokus nou op die restourasie van my huis. Romanse is vir jongmense.” Sy kyk in die vertrek rond. “My kombuis gaan so mooi wees met alles in wit. Op die internet is die wonderlikste idees en dit klink my Wickus het ook allerhande planne. Hy sê my huis is karaktervol en sy hande jeuk om dit mooi te maak.”

“Hopelik jeuk sy hande vir meer as jou huis,” hou die stuitige Saritha met spottende oë vol.

“Saritha, hou jou in! Ek sê mos ek is nie in die mark vir ’n man nie en jy sê self hy steur hom nie aan vroumense nie.”

Saritha lag ondeund. “Ek het gesien hoe hy na jou kyk. Hy mag maak of hy nie in vroumense belangstel wanneer Natalie op hom jag maak nie, maar daai man is beslis nie ’n klip nie, mark my words.”

“By wie se huis vergader die boekklub vanaand?” verander Marli veiligheidshalwe die onderwerp. Saritha is dierbaar en sy het haar al deur moeilike tye bygestaan en ondersteun, maar as sy ’n idee in haar kop kry, is sy soos ’n bulhond met ’n been.