Uittreksel | Myne
Een
Ysige rukwinde snerp teen Lida vas toe sy haastig by die hooggeregshof se roldeure uitstap. Donkergrys wolke hang swaar in die lug, gereed om ’n stortvloed water los te laat. Haar swart toga wapper wild in die lug en sy knyp dit stywer onder haar arm vas. Vlugtig kyk sy op haar horlosie. Dêmmit, sy is al meer as ’n uur laat vir drankies saam met haar beste vriendin, Katie.
’n Kuier wat sý boonop gereël het. Sy lig haar hand net betyds toe die Uber wat sy bestel het, amper by haar verby ry. Sy bevestig die restaurant se adres en sak met ’n sug agteroor in die sitplek. Wat ’n dag! Weens ’n onredelike kliënt is ’n saak wat veronderstel was om ’n uur te neem, uitgerek tot amper drie ure. Op ’n stadium het dit gelyk asof selfs die regter gereed was om sy laaste bietjie hare uit te trek. Lida haal haar selfoon uit, lees vlugtig oor die string boodskappe wat Katie intussen gestuur het en tik vinnig een wat laat weet dat sy op pad is. Die verkeer in Kaapstad se middestad is, soos gewoonlik op ’n Vrydagmiddag, ’n riller. Gewoonlik bestuur sy self in stad toe vanaf Stellenbosch waar sy woon, maar sy het haar motor vir haar broer Eben geleen om saam met vriende Langebaan toe te gaan vir die naweek om die universiteitsvakansie af te skop. Tot almal se verbasing vaar Eben besonder goed met sy studies. Anders as Lida wat selfstandig en koelkop is, was Eben nog altyd die loskop-Malan met ’n terglustigheid wat haar ouers beslis meer grys hare gegee het en gesorg het vir naelbytoomblikke wanneer die rapporte uitgedeel is. Gelukkig het hy iewers tussen matriek en sy eerste jaar op universiteit besef dat hy sy energie op belangriker plekke as partytjies en avonture moet fokus. As dit nie gebeur het nie, sou sy nooit haar motor vir hom geleen het nie.
Teen die tyd dat die Uber uiteindelik voor Banshees in Woodstock stop, het die wolke oopgebars en slaan die reën hard teen die motor se dak en vensters. Lida oorweeg dit eers om ’n paar minute te wag, maar een kyk na die drywer se ongeduldige gesig laat haar na haar toga en aktetas gryp. Met ’n vinnige groet stoei sy teen die wind om die deur oop te maak. Buite die motor val reusedruppels hard op haar neer. Sy klap die deur toe en hardloop so vinnig as wat haar hoëhakskoene dit toelaat teen die trappe op tot binne-in die gebou. Haar oog vang haar weerkaatsing in ’n venster van een van die winkels wat reeds gesluit is. Die paar sekondes in die reën het die bokant van haar wit bloes deurweek en die dun materiaal kleef nou aan haar skouers met die dun bandjies van haar bra duidelik sigbaar. Hoekom het sy vanoggend sonder ’n baadjie hof toe gegaan? Sy moet wraggies leer om die weervoorspelling dop te hou, maar soos gewoonlik was sy te gefokus op haar werk om aandag aan enige iets anders te gee. Sy stop in haar spore en begin die haarnaalde uit haar stywe bolla trek sodat haar blonde hare in dik golwe oor haar skouers tuimel en die bandjies verbloem. Met haastige vingers kam sy deur die nat slierte, druk die haarnaalde in haar broek se sak en storm dan op Banshees se ingang af.
Die restaurant is stampvol toe sy instap, maar haar oog vang dadelik vir Katie en ’n man waar hulle by hul gunstelingtafel in ’n hoek sit en gesels. Lida grinnik saggies. Dis ook net Katie wat die bestuurder kan oorreed om vir hulle ’n tafel op ’n Vrydagaand te reserveer. Banshees doen dit nooit nie. Behalwe as dit Katie is wat vra.
“Lida! Uiteindelik is jy hier!”
Katie se swart-en-helderpienk hare wip oor haar skouers toe sy opgewonde opspring en Lida omhels.
“Ek is jammer dat ek so laat is,” fluister Lida teen haar oor. Katie gee haar nog ’n stywe drukkie.
“Dis oukei, ek weet mos jy het nie beheer oor jou tyd in die hof nie.”
Katie beduie met haar hand na die aantreklike blondekopman wat langs haar sit.
“Lida, ontmoet vir Benjamin. Hy is die nuwe kollega waarvan ek jou vertel het. Ek hoop nie jy gee om dat ek hom ook genooi het nie, maar dit was op die ingewing van die oomblik.”
Lida glimlag en skud sy hand. “Natuurlik nie. Lekker om jou te ontmoet, Benjamin. Dankie dat jy vir Katie geselskap gehou het terwyl sy vir my moes wag.”
Die glimlag om sy mond is warm, vriendelik.
“Glo my, dis net ’n plesier. Kan ek vir jou iets kry om te drink?”
“’n Glas cabernet sauvignon, asseblief.”
Lida maak haarself tuis op die houtkratte waarop sagte kussings gepak is. Sy trek haar hoëhakskoene uit en vou haar bene onder haar in. ’n Sug ontsnap uit haar bors. Ná ’n lang, uitmergelende week is hierdie nou presies wat sy nodig het. Sy kyk glimlaggend na Katie.
“Benjamin lyk gaaf.”
Lida mis nie die blos op Katie se wange nie.
“Ja, ek dink ook nogal so. Ons gesels eintlik vanaand vir die eerste keer behoorlik. By die kantoor is almal te besig. En hy is boonop sag op die oog ook. Bonus as jy my vra.”
Lida lag. “Jy het nog altyd ’n swak plek vir blonde mans gehad.”
Katie lag en knip vinnig oog. “Het jy gesien hoe styf span sy jean oor sy …”
Lida kug saggies toe Benjamin langs haar verskyn en die glas rooiwyn voor haar neersit. Katie sluk haar lag met ’n slukkie bier weg. Die geselskap vloei gemaklik en ná haar tweede glas wyn voel Lida die stres van die week uit haar liggaam vloei. Hulle bestel elkeen ’n burger en het pas klaar geëet, toe die klok by die kroeg lui om ’n uur van buy-one-get-one-free aan te kondig. ’n Vrolike gejuig trek deur die vertrek en dit neem nie lank voordat kelners met skinkborde vol shooters tussen die tafels begin inbeweeg om die druk op die kroeg te verlig nie. Lida se oë volg ’n kelner wat by ’n tafel in die verste hoek van die vertrek tot stilstand kom en shooters begin neersit. ’n Ligte skok skiet deur haar liggaam toe sy na die groep mense om die tafel kyk en haar blik op die man aan die punt van die tafel rus. Liewe hemel, dis ’n aantreklike man.
Tydsaam bestudeer sy elke kontoer van sy gesig. Sy donker wenkbroue is net dik genoeg om sy lang donker wimpers en helderblou oë te komplementeer. Sy blas vel is glad tot waar ’n kort donker stoppelbaard die kante van sy wange en ken verdonker. Sy neus is reguit, amper adellik, maar dis sy sensuele lippe wat haar vinnig na haar glas wyn laat gryp om ’n sluk te vat. Lida se oë sak laer teen sy sterk nek af, oor sy breë skouers en bors wat skerp afsteek teen die swart V-nekhemp wat hy aanhet. Hy begin lag vir iets wat iemand sê en hitte spoel teen haar bene af. Genade … alles aan hom is perfek, selfs sy tande!
“Lida? Hallo, Lida?”
Katie kyk nuuskierig na haar en wil net omdraai om te kyk waarna sy staar, toe Lida haar blik wegskeur en haar vriendin se hand gryp.
“Jammer, ek het gou aan ’n belangrike punt gedink oor die saak van vandag.”
Katie gee een kyk na Benjamin, wat dadelik ’n kelner nader wuif. ’n Springbokkie word voor Lida neergesit en sonder om te wag, sluk sy die groen vloeistof weg. Wat gaan met haar aan? Sy is gewoond aan aantreklike mans … die regswêreld het genoeg van hulle, maar nog nooit was daar een wat haar aandag só vinnig en volledig kon vasvang nie. Sy kan haarself nie keer nie en loer weer vlugtig in sy rigting, asof sy haarself wil oortuig dat sy hom nie net in haar gedagtes opgetower het nie. Die leë glasie val amper uit haar hand toe sy vaskyk in sy blou oë. Vir ’n oomblik dink sy dat dit bloot toeval is, maar sy blik pen haar vas en maak dit vir haar onmoontlik om weg te kyk. Die uitdrukking op sy gesig verander meteens en sy oë begin blink met ’n intensiteit wat haar senuwees ongemaklik laat prikkel. Haar gesig voel verskriklik warm, en haar hartklop weergalm in elke vesel van haar liggaam. Sy skeur haar blik van syne af weg en laat sak haar oë vinnig na die glas rooiwyn voor haar op die tafel. ’n Glas wyn het nog nooit so interessant gelyk nie.
“Katie vertel my dat jy ’n advokaat by Harper Horner Associates is. Hulle is een van die vyf groot regsfirmas in die land, nie waar nie?” vra Benjamin.
Lida lek vinnig oor haar droë lippe. Dank die gode Katie het niks agtergekom nie. Sy kyk op en dit verg al haar wilskrag om nie weer in die vreemdeling se rigting te kyk nie. “Dis reg, ja. Ek werk nou amper twee jaar by die firma.”
“Lida is een van die beste advokate in die Kaap,” kondig Katie trots aan. Lida skud haar kop haastig.
“Nee, nee, glad nie. Ek is nog ’n junior advokaat en het nog ’n baie lang pad om te stap voordat ek my plek by die firma verdien het.”
Katie swaai haar vinger voor Benjamin se neus. “Moenie na haar luister nie, sy is te beskeie. Glo my, sy is een van die beste. Anders sou sy nie by Harper Horner Associates gewerk het nie.”
Benjamin gryp haar vinger vas en lag saggies, sy oë vonkelend terwyl hy na Katie kyk.
“Ontspan. Ek weet dit.”
“Hoe weet jy dit?” vra Katie onthuts.
“My niggie is ook ’n advokaat, en sy sal haar voortande gee om vir Harper Horner Associates te werk.”
Lida luister geamuseerd na die twee se gesprek en voel hoe die laaste greintjie spanning uit haar liggaam verdwyn. Katie se wange het ’n blos wat nie eens deur die restaurant se dowwe beligting verbloem kan word nie. Dit is duidelik dat Katie Benjamin se geselskap geniet. Meer as net geniet. Sy glip haar skoene aan haar voete en staan op.
“Verskoon my, ek gaan gou toilet toe.”
Katie en Benjamin kom skaars agter dat sy die tafel verlaat het. Lida kreun saggies toe sy besef die ingang na die toilette is feitlik tussen die kroeg en die aantreklike man se tafel. Oral staan mense rond en sy moet tussen hulle deur vleg om by die toilette te kom. Sy is net ’n paar meter weg van die ingang, toe ’n kelner skielik omdraai en met sy skinkbord teen haar bots. Klein glasies vol gekleurde drank stort grond toe, maar nie voordat ’n paar teen Lida se bors spat nie. Sy probeer na die glasies gryp, kry een gevang, maar die res val stukkend op die vloer.
Lida staan nog verdwaas en kyk na die drank wat teen haar wit bloes afstroom, toe die kelner ’n vadoek uitpluk en haastig oor haar borste begin vryf. Sy probeer hom stop, maar voordat sy ’n kans kry, gryp ’n bruingebrande hand die kelner se hand met die vadoek vas en druk hom van haar weg. Dan vou dieselfde hand ferm om haar pols en sy word verby die kroeg getrek tot binne-in die damestoilette. Sy staar na haarself in die spieël. Groen, rooi, blou en roomkleurige drankstrepe loop teen haar keel en bors af tot teen haar bloes wat vol gekleurde vlekke aan haar liggaam kleef. Maar dis nie haar voorkoms wat haar laat staar nie – dis die spieëlbeeld van die aantreklike vreemdeling wat sy so bewonder het, en wat nou besig is om papierhanddoekies nat te maak onder die kraan. Hy is lank, baie langer as wat sy verwag het. En maggies, ’n adonis onder die skerper ligte van die vertrek.
“Bleddie sot van ’n kelner wat nie kyk wat hy doen nie. Hier.”
Sy kyk af na sy hand wat die bondel nat papiere na haar uithou. Soos ’n slaapwandelaar vat sy dit by hom en begin haar nek afvee. Hul oë ontmoet in die spieël en sy trek haar asem saggies in. Sy blou oë hou hare gevange en vir ’n oomblik beweeg nie een van hulle nie.
“Dankie vir jou hulp … Ek sal regkom.”
Sy verwag dat hy die vertrek gaan verlaat, maar hy bly agter haar staan.
“Wat is jou naam?” vra hy sag.
Sy diep stem vou strelend soos ’n lieflike melodie om haar en skielik voel dit asof elke senuwee in haar liggaam wakker geword het.
“Lida,” fluister sy amper onhoorbaar.
Sy oë gly stadig oor haar gesig, nek, bors en dan rus dit ’n oomblik op haar borste waar die nat materiaal aan haar lyf vaskleef. Onmiddellik verhard haar tepels onder haar hemp. Hitte vloei teen haar nek op toe sy besef dat die puntjies deur die nat bloes sigbaar word. Sy lig haar arms om haar borste toe te vou, maar sy een hand keer die beweging.
“Nee, Lida, jy moet nooit skaam wees om te wys wanneer jy seksueel geprikkel is nie.”
Hy beweeg totdat sy liggaam agter teen haar rug druk. Sy hand neem haar pols en laat sak haar arm weer tot teen haar sy. Lida staan gehipnotiseer, sien hoe sy ander hand teen haar ander sy begin opbeweeg tot by haar hare. Stadig vee hy die blonde slierte weg van haar nek. Dan laat sak hy sy donker kop, hul oë nog steeds gevange in die spieël. Sy kop stop millimeters van haar nek af, sy asem streel warm, verleidelik, oor haar vel maar sy lippe sak nie verder af nie. Hy trek sy asem in, sy ooglede half gesluier toe hy haar reuk inadem.
“Jasmyn … ’n natuurlike aphrodisiac.”
Lida trek haar asem saggies in en haar bloed bruis in haar ore. Die sensualiteit van sy diep stem, die warm asem teen haar vel, die hitte van sy liggaam wat teen haar rug brand … Dra haar parfuum werklik by tot die intensiteit van die oomblik? Sy kry nie kans om te probeer sin maak van sy woorde nie, want heerlike rillings beweeg saam met die streling van sy vingers; op teen haar arm, oor haar skouer, teen haar nek.
Al waaraan Lida kan dink, is die effek wat hierdie vreemde man op haar sintuie het en die hitte wat sy liggaam so naby aan hare uitstraal. Hy lig haar ken met sy vinger, buig haar kop agteroor en laat sak sy donker kop totdat sy warm lippe tergend teen haar nek begin afbeweeg … Sag en verleidelik trek hy die laaste bietjie asem uit haar. Sy wang skuur saggies teen haar neus en die reuk van skoon, vars naskeermiddel maak meteens ’n beeld van hom onder ’n stort in haar gedagtes los. Dis hierdie beeld en wat dit aan haar liggaam doen, wat haar uiteindelik terugruk tot die werklikheid. Wat is sy besig om te doen?! Sy laat val haar kop vorentoe, draai haarself om en stoot hom weg met al die krag wat sy bymekaar kan skraap. Hy gee ’n tree agteruit, maar die hitte van sy liggaam hang nog steeds tussen hulle. Sy lig haar oë tot teen sy breë bors.
“Ek weet nie of dit ’n gewoonte van jou is om dames in openbare toilette te probeer verlei nie, maar dis nou tyd vir jou om uit hierdie vertrek te stap.”
Hy lig sy hand tot onder haar ken, maar sy deins terug teen die wasbak, skud haar kop en sluit haar oë. Instinktief weet sy dat dieselfde vuur in sy oë gaan brand as wat deur haar liggaam woed.
“Ek is jammer. Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Jy het my onkant gevang.”
Haar kop ruk op, ’n kreukel tussen haar wenkbroue.
“Ék? Wat bedoel jy?”
Sy blou oë gly oor haar gesig en die bevlekte bloes wat teen haar nat vel kleef. Voor hy kan antwoord, swaai die toiletdeur skielik oop.
“Lida, is jy oukei?”
In ’n breukdeel van ’n sekonde ruk hy weg van Lida af en tree eenkant toe, vas in Katie wat by die deur instorm. Sy sterk arms skiet uit en keer net betyds dat Katie teen die muur val, dan verdwyn hy by die deur uit. Die kosbare sekondes voordat Katie vir Lida sien, gee haar net genoeg tyd om terug te keer na die werklikheid. ’n Werklikheid waarin sy eerder nié wil wees nie. Wat so pas gebeur het … was die mees sensuele oomblik van haar lewe. En dit saam met ’n vreemdeling wie se naam sy nie eens ken nie! Wat de hel!
“Wie was dít?”
Lida tel ’n stukkie papierhanddoek op en begin haar nek skoon vee. “Ek weet nie. Hy het my gehelp toe die kelner teen my gebots het.” Sy gooi die papier hardhandig in die drom. “Ag, wat help dit tog, dis verby met hierdie bloes.”
“Ek het met die bestuurder gepraat. Hy het aangebied dat jy by die agterdeur kan uitglip as jy nie só voor die mense wil uitgaan nie. Ek het jou toga en tas gebring. Ek en Benjamin is ook gereed om te gaan as jy so besluit.”
Lida blaas haar asem hard uit. Sy haal haar selfoon uit en bestel ’n Uber. Haar vingers bewe liggies, maar gelukkig sien Katie niks raak nie.
“Dankie, vriendin. Jy is die beste. Moenie huis toe gaan omdat ek nie langer kan bly nie. Julle twee kuier so lekker.”
“Is jy seker?”
“Natuurlik. Ek is in elk geval moeg ná die week en kan doen met ’n vroeë aand in die bed. Geniet jul aand verder. Ons gesels môre.” Sy vat haar tas en toga by Katie en trek liggies aan Katie se pienk haarpunte. “Waar is die agterdeur?”