Skip to main content

Uittreksel | My geliefde wag in Umbrië

Een

Gabriella sluit haar posbus oop. Natuurlik sal dit vol gemorspos wees, maar sy maak dit leeg en kyk vinnig deur die advertensies.
Daar is sowaar ’n brief, en dit kom van Italië af! Wie skryf deesdae sulke briewe en verwag dat die posdiens dit binne ’n redelike tyd sal aflewer? Erg nuuskierig sluit sy haar voordeur oop; gooi die gemorspos in die drommetjie in die kombuis en skeur die brief dadelik oop. Op die briefhoof staan: Fabrizio Gotti, notaio/lawyer. Die adres is Orvieto, in Umbrië, Italië. Daar is telefoonnommers en ’n e-posadres. Die papier is van goeie kwaliteit en die briefhoof gebosseleer.

Dear Miss Armitage
Ek is die eksekuteur van signorina Francesca di Bartolli se boedel. Sy is onlangs oorlede. Sy was die eienaar van die landgoed Bartolli in die distrik van Orvieto in Umbrië.
Dit het my ’n ruk geneem om u op te spoor. Ek het die adres van Emilia di Bartolli, u ouma, in korrespondensie tussen haar en haar suster Francesca gevind, maar dit is ou korrespondensie en ek moes verneem dat u ouma lankal oorlede is. Ek het uitgevind dat Emilia ’n dogter het, maar ongelukkig is sy ook al oorlede. Uiteindelik het ek uitgevind dat Emilia se kleindogter in Stellenbosch woon. Francesca di Bartolli het nooit getrou nie en sy het geen nageslag nie. As die enigste lewende familielid erf u dus die landgoed Bartolli, waarop daar ’n groot huis is, en alle roerende en onroerende eiendom plus geld.
Ek wag om van u te hoor. Sal u my asseblief so gou moontlik laat weet wanneer u hierheen kan kom sodat alle wetlike aspekte hiervan afgehandel kan word? Ek sal u vlugreëlings tref en die reiskoste betaal. Enige addisionele koste wat u aangaan sal ek vergoed. Dit sal alles uit die boedel kom. U vlieg na Perugia waar ek u sal kry en neem na Bartolli. As u hier is, sal ons die amptelike papierwerk en u verblyfreëlings afhandel.

Gabriella is só uit die veld geslaan dat haar bene omtrent onder haar padgee. Het daar manna uit die hemel geval?
Al wat sy van ouma Emilia se geskiedenis weet, is dat sy oupa Robert Armitage in Italië ontmoet het en sy het saam met hom weggeloop na Suid-Afrika. Sy was vervreem van haar familie. Gabriella se ma en pa het verongeluk toe sy vier jaar oud was en sy moes by haar pa se suster Emma Webb, ’n dokter en weduwee met twee kinders, gaan woon.
Dié aardskuddende nuus wil amper nie indring nie. Is sy tog nie wragtig ewe skielik die eienares van ’n Italiaanse landelike herehuis nie?!
Sy moet dadelik met tannie Emma, haar neef Gor­don en niggie Gayle, praat. Gordon is ook ’n prokureur. Hulle sal haar kan adviseer. Sy’s nou te gerattle om reguit te dink.


Vroeg die aand gaan Gabriella na die Webbs se huis en wys hulle die brief.

“Julle sal nie glo wat met my gebeur het nie! Ek het sowaar ’n huis en plaas in Italië geërf.”

Haar tannie, neef en niggie staar haar sprakeloos aan. Sy gee eerste die brief aan tannie Emma, wat dit hardop lees. “Sjoe, dis nou vir jou ’n groot geskenk.” Haar oë is koeëlrond soos groen albasters.

Gayle sit met een hand teen haar keel. “Dis mos onge-blêrrie-lóóflik!”

Gordon neem die brief by sy ma en lees dit weer. “Amper te goed om waar te wees.”

“Vertel my meer van die familie, tannie Em,” sê Gabriella. “Ek moet daardie Italiaanse prokureur vanaand nog antwoord.”

“Gordon, skink asseblief eers vir ons drankies dat ons tot verhaal kan kom,” sê sy ma. “Whisky en soda vir my, dan vertel ek wat ek weet.”

“Ek het ’n glas rooiwyn nou baie nodig!” sê Ga­briella.

“Ek ook,” beaam Gayle.

Gordon skink en kom sit weer.

Emma maak keel skoon. “Gabriella, jou ouma Emilia, gebore Di Bartolli, het verlief geraak op jou oupa toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog in Italië was. Hy het saam met die Suid-Afrikaanse troepe in Ethiopië, wat destyds Abessinië was, teen die Italianers geveg en toe in Europa nadat die Duitsers Italië verower het. Hy is deur die Duitsers gevange geneem, maar hy en ’n paar van sy makkers het dit reggekry om te vlug. Simpatieke Italianers het hulle gehelp. Robert het by die ryk familie op die landgoed Bar­tolli beland. Daar het hy hulle dogter Emilia ontmoet. Ouma se broer Jacopo, die erfgenaam, is in die oor­log dood. Hy het die familienaam gedra en dit was vir Jacopo senior glo ’n vreeslike slag om sy seun te verloor. Francesca, die oudste dogter, sou opsluit die landgoed moes erf.”

“En sy het volgens die prokureur nooit getrou nie,” sê Gabriella.

“Ouma Emilia het nooit weer teruggegaan Italië toe nie en is vroeg oorlede.”

“Ek is vrek nuuskierig om te sien wat jy geërf het,” sê Gayle. “Ek wens ek kon saam met jou gaan, maar ek sal nie so vinnig verlof kan neem nie. Dis te besig by ons praktyk en ek sal ’n locum moet kry.”

Gabriella wens ook sy kan saamkom, maar haar niggie en ’n ander fisioterapeut het ’n besige praktyk en dit verg beplanning as sy verlof wil neem.

“As jy wil sal ék saamkom, hoewel ek hoogstens twee weke kan afstaan,” sê Gordon.

Hy het drie vennote, twee sekretaresses en ’n ont­vangsdame en vir hom is dit nie so moeilik om afwe­sigheid te reël nie.

Gabriella glimlag dankbaar. “Dit sal wonderlik wees as jy saamkom en my ondersteun. Dit klink asof ek dalk in Italië sal moet gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land.”

“Tensy jy die landgoed verkoop.”

“Gaan kyk eers of jy regtig daar wíl bly,” sê Gayle. “Indien wel, sal jy jou werk moet bedank, en emigreer.”

Haar tannie knik. “Ja, dit sal ’n hele omwenteling in jou lewe wees. Jy moet seker maak dat jy daarvoor kans sien.”

Haar werk as wynmaker by Belle Ombre, een van die groot wynplase in die Boland wat heelwat uitvoer, is vir haar heerlik en bevredigend. Sy sal spyt wees om dit op te gee.

“Hulle kweek ook druiwe daar in Umbrië en maak wyn,” sê Gordon. “Jy sal jou eie plaas hê waar jy kan wyn maak. Wynmaak daar kan nie veel verskil van wynmaak hier nie.”

Geesdrif vlam in Gabriella op. “Ek sal onmiddellik bedank. As dinge nie uitwerk nie, kan ek altyd terug­kom. Wynmakers kry altyd werk hier in die wynland.”


Noudat Gabriella voor Jacques Malan staan en hom vertel wat haar oorgekom het en dat sy moet bedank, voel sy glad nie meer so braaf nie. Hy kyk erg geskok na haar.

“Jy het wat?!” vra hy weer.

“Ek het my groottante se wynplaas in Umbrië geërf en nou moet ek soontoe gaan,” herhaal sy. “En tien teen een kom ek nie terug nie.”

“Dis vir my sleg om jou te laat gaan,” kla hy. “Kan jy Italiaans praat?”

“Nee, ongelukkig nie. Ek sal vinnig moet leer as ek daar tussen die Italianers wil woon. Maar ek is seker hulle kan Engels praat. Baie Engelssprekende ekspats woon daar en in Toskane.”

Sy kan skaars wag om daar uit te kom.


Twee

Eduardo hou in die pad bokant die wingerd stil, klim uit en kyk fronsend en omgekrap na die netjiese rye waar die trosse druiwe geil hang. Hierdie is uitstekende terroir vir wyn. Hy het die grond al heelwat vergroot sedert sy pa se dood, maar eintlik kan hy nie genoeg grond kry nie. Vulkaniese grond met baie minerale.

Hy kon dit regkry om daardie groot stuk grond in die suide by ou Francesca di Bartolli te koop, maar hierdie hange voor hom, dié wingerd op die Bartolli-grond, wou sy net aan hom verhuur sodat sy ’n gereelde inkomste kon kry. Nou is sy skielik oorlede en die landgoed gaan aan iemand anders behoort. Hy sal van voor af alles met dié persoon moet onderhan­del. Wat as die persoon steeks is, of weier?

Kon die ou vrou nie ’n familielid in Italië opspoor nie? Maar nee, dis iemand in Afrika. Hoe kan jy jou lewe lank spyt wees dat iemand nie met jou getrou het nie? Daardie Engelse soldaat het gesorg dat hy haar suster kry, en toe word dié arme vrou ’n banneling. Dis moeilikheid soek om met ’n vreemdeling wat nie jou kultuur en taal deel nie, te gaan staan en afhaak.

Hy ry tussen sipresse deur en draai in waar die bord aandui: “Tenuta di Montebello – Vini di Orvieto.”

Die pad verdeel in twee en een loop na Castello di Montebello. Dit gee Eduardo steeds ’n opwelling van trots dat hy nou die eienaar en baas is van die eeueoue kasteel wat al sedert die 1800’s in sy familie se besit is. Hier is alles pragtig versorg, soos sy voor­sate dit gehou het en hy dit ook sal hou. Hy sal nooit toelaat dat dit vergaan en verweer soos Bartolli wat tragies agteruitgegaan het nie.

’n Groot ontnugtering wag op die persoon wat Bartolli erf. Onder ou Francesca het dinge werklik nie meer gefloreer nie. Sy het eenvoudig haar lus vir die lewe verloor. Die wynmakery het lankal gesneuwel. Mense wat hulle werk verloor het, het by hom kom werk of weggegaan.

Sy pa het altyd gesê die arme Francesca het nie al haar varkies nie; dat die oorlog haar ’n knou gegee het waarvan sy nie herstel het nie.


“Francesca di Bartolli se erfgenaam is ’n jong vrou,” vertel notaio Fabrizio Gotti hom. “Die kleinkind van haar suster Emilia en Robert Armitage; hulle het net een dogter gehad en ná sy en haar man saam verongeluk het, is die dogtertjie wees gelaat. Sy is deur Robert se familie grootgemaak.”

Hulle sit in die notaio se kantoor en ’n koel bries kom by die venster in, maar Eduardo word vuurwarm van ergernis.

“Vir my is dit erg genoeg dat ’n familielid uit Afri­ka, wat niks van ons geweste weet nie, só ’n waarde­volle plek kom erf. Nou moet ek boonop hoor dis ’n meisie!”

Fabrizio haal sy skouers op asof hy dit gelate aan­vaar, tog wys die uitdrukking op sy gesig hy’s nie be­sonder gelukkig oor dié vreemde toedrag van sake nie.

“Jy sal die kontrak om haar wingerd te huur, weer opnuut met die nuwe eienaar moet onderhandel. Mits sy gewillig is, natuurlik.”

Eduardo byt op sy onderlip. “Ek sou graag alles wou koop, die casale inkluis. Ek sal dit opknap en Cecilia of Franco kan daar gaan woon wanneer hulle trou.”

Die twyfel straal uit Fabrizio. “My liewe Conte, jy kan ’n aanbod probeer maak, maar ek sal verbaas wees as dié jong dame, wat boonop nog ongetroud is, dit sommer sal verkoop. Kyk hoeveel stranieri koop en huur huise in Umbrië en Toskane. Ons word let­terlik oorval. Buitelanders is dol oor Italië, veral hierdie provinsies wat so mooi is.”

Eduardo kyk ergerlik na die notaio. “Wel, ek kan steeds nie dink wat op aarde een jong bogsnuiter met so ’n groot casale sal wil doen nie. Om dit op te knap sal mos ’n fortuin kos! Of is sy ryk?”

“Nee, sy’s glad nie ryk nie. Haar familie en omstan­dighede is nou wel nie armoedig nie, maar gemid­deld.”

Eduardo staan op. “Nou ja, signor Gotti, sodra sy aanland om Bartolli in besit te neem, moet jy my as­seblief laat weet sodat ek en sy kan onderhandel oor die huur van die wingerd.”

“Ek maak so, Conte. Ek is besig om al die reëlings te tref om haar hier te kry.”


Gabriella en Gordon het by Perugia se lughawe ge­land. Nadat hulle deur doeane is en die aankomsaal binnestap, kyk sy rond of iemand dalk ’n bordjie in die lug hou met haar naam op.

“Daar,” beduie sy vir Gordon.

’n Lywige Italianer met donker hare, sy skat hom in sy veertigs, hou ’n papier in die lug waarop Signo­rina Gabriella Armitage di Bartolli in vet letters geskryf staan.

Sy loop na die man wat glimlag toe sy naderkom. “A, signorina Gabriella Armitage. Ek is die notaio, Fabrizio Gotti.”

“Bly te kenne.” Sy skud sy hand en stel haar neef aan hom voor.

Hy bestudeer haar noukeurig. “Jy lyk nie na die Bar­tolli’s nie. Dis ’n verrassing dat jou hare blond is en jou oë blou.”

“Ek lyk nie Italiaans nie en ek praat ook nie die taal nie. Ek lyk na my Engelse familie.”

Hy lei hulle weg na waar hy sy motor geparkeer het. Ná die lang vlug voel Gabriella allesbehalwe mooi en vars, maar sy het haarself op die vliegtuig so netjies moontlik probeer maak. Fabrizio Gotti laat haar voor langs hom sit in sy groot, splinternuwe Alfa Romeo en hy bestuur teen ’n spoed wat haar verbyster. Die motor het ’n linkerhandstuur, wat vir haar vreemd is. Terwyl sy haar aan die verbysnellende landskap ver­gaap, probeer sy wegsteek dat sy roekelose manier van bestuur haar senuagtig maak.

“Dis ongelooflik mooi hier,” sê sy. “Asof ’n mens in ’n skildery is, met die sipresse wat so langs die paaie staan en die dorpe op heuwels.”

“Daar anderkant is Orvieto,” sê hy.

Dit bedek ’n heuwel hoog bokant ’n vallei wat groen is van lappe wingerd met die goudgeel van sonneblomme tussenin. Fabrizio Gotti ry op kronkelpaaie tussen sipresse deur en op by ’n heuwel waar­op ’n groot huis tussen hoë bome uitsteek.

“Daar’s jou huis, Casale di Bartolli,” beduie hy en kyk met ’n skalkse glimlag na Gabriella.

Sy staar in ongeloof. “W. . . wat? Dis nogal groot, hoor!”

Gordon leun vorentoe en kyk oor haar skouer. “Magtag. Is dit regtig die plek wat Gabriella erf?”

“O ja,” lag die Italiaanse prokureur. “Van ver af lyk dit indrukwekkend, hoewel nie heeltemal so indruk­wekkend soos Castello di Montebello op die aangrensende landgoed nie.”

“Castello di Montebello?” vra Gabriella.

“Ja. Die landgoed is Tenuta di Montebello en die Antoneschi’s woon in ’n kasteel. Conte Eduardo het sy titel geërf. Sy voorsaat se titel is deur koning Vic­tor Emmanuel II aan hom toegeken en al die oudste kinders erf dit daarna. Sedert Italië in 1946 ’n republiek geword het, is dit nou slegs ’n beleefdheidstitel, maar almal respekteer dit en hy word conte genoem. Die Antoneschi’s is groot wynboere, baie ryk, en báie invloedryk. Hulle het die grootste wingerde in die val­lei en besit ook eiendom in Orvieto en ander plekke.”

“So, ons buurman is ’n graaf,” sê sy vir Gordon. “Wow.”

“Lyk my jy woon nou hier langs die aristokrasie,” lag hy.

Fabrizio Gotti beduie na ry op ry groen wingerd aan die regterkant van die pad. “Dit het aan die Bartolli’s behoort, maar nou behoort dit aan die Antoneschi’s.”

Verbaas en agterdogtig kyk Gabriella na hom. “Regtig? Waar lê die . . . my grond?”

Hy beduie na die linkerkant. “Van hier tot by daar­die heuwel daar, en agter om die casale, behoort aan jou. Maar conte Eduardo huur al die Bartolli-grond wat nie reeds aan hom verkoop is nie.”

Dis nogal ’n skok. “Is die grond dan in ander hande?”

Die notaio kyk vlugtig na haar. “Laat ek verduide­lik. Conte Eduardo het die helfte van signorina Fran­cesca se grond gekoop en hy huur al vyf jaar lank die ander helfte wat sy nie wou verkoop nie. Sy het die wynmaakbesigheid gestaak en die inkomste wat sy deur verhuring gekry het, was vir haar ’n oplossing toe sy oud word. Die kontrak met conte Eduardo kan hernu word . . . Of nie. Hy is van voorneme om dit met jou te onderhandel.”

Gabriella blaas haar asem stadig uit. Probeer die ontnugtering verwerk. Sy het sommer aanvaar dat hier nog wyn gemaak sou word.

“Ek sal dit alles met jou uitklaar en jou regte en die grootte van jou eiendom uitspel wanneer ons die dokumente teken,” sê die notaio.