Skip to main content

Uittreksel | My alles vir jou

Een

Sy kan niemand sien nie, maar sy hoor duidelik die ontevrede stem agter die deur. Sy laat sak haar hand en hou haar handsak stywer vas. Sy wil nie op iemand se privaat gesprek inbreuk maak nie, maar toe hoor sy haar naam.
“Tom, ek gee nie om wie Mirre Ehlers is nie. Ek het gevra vir ’n bekende sanger, nie ’n klein nobody wat nog probeer sing nie. En hoeveel keer moet ek vir jou sê: Om die opening act vir die Cranberries te doen is ’n groot eer. Dit kan daardie kunstenaar se naam maak of breek. Nou wil jy ’n onbekende meisie, van wie ek nog nooit eens gehoor het nie, in die spotlight plaas en hoop sy maak nie ’n gemors daarvan nie. Terloops, in watter genre sing sy?”

“Wel, sy is oorspronklik ’n gospel singer, maar het al . . .”

“Wat, ’n gospel singer?! Is jy gek? Ek kan nie glo dat jy dit eers oorweeg nie. Die Cranberries is tans een van die gewildste rock bands in Amerika. Wat de ongeluk gaan hulle fans daarvan sê as sy die show met ’n gebed of iets open?”

Sy suig haar asem liggies in en haar bloeddruk styg met ’n graad of twee. Die kwaai stem wat so afgaan, klink miskien jonk maar sy is seker iewers agter daardie deur sit of staan ’n monster. Niemand wat sy ken, kan só gal braak teenoor ’n kollega of ’n werknemer nie. Dié man het duidelik geen maniere nie. Nog minder weet hy hoe om mense te hanteer. Sy gee ’n tree vorentoe. Sy gaan nie heeldag staan en luister hoe ’n vreemde man uitgekryt word net om­dat hy skynbaar vir haar in die bresse wou tree nie.

“Meneer Saunders, as jy my net kans sal gee om klaar te praat. Juffrou Ehlers is . . .”

“Hier vir haar afspraak,” sê sy kalm en stoot die deur heeltemal oop. Sy neem dadelik alles in die ver­trek in. Sy was reg. Die boelie sit agter sy massiewe lessenaar en die man wat as Tom aangespreek is, staan soos ’n skoolseun voor hom. Sy steek haar hand na hom uit. Sy skat hom in sy vyftigs en iets aan die lagplooitjies langs sy oë verklap dat hy dalk ’n vriendelike en gemoedelike ou kan wees. “Ek is Mirre Ehlers en u is?”

“Tom Grové, aangename kennis.”

“Dan is u net die persoon wat ek soek, meneer Grové. Jammer ek is laat vir ons afspraak, maar ek moes ’n ompad neem. Daar’s oral padwerke rondom die Arena.”

Tom lyk aangenaam verras met haar koms. Of dalk is dit met haar voorkoms. “Juffrou Ehlers, kan ek jou aan meneer Eric Saunders voorstel? Hy is my bestuurder en die Arena se hoof-uitvoerende direk­teur.”

“Ek sien,” sê sy, maar dié twee woordjies spreek boekdele.

Eric loop om sy lessenaar en sy handdruk is so effentjies dat sy haar weer wil vererg. Is die man bang sy dra die enigste oorblywende koronakiem in die wêreld of iets binne? Tog kon sy nie help om op te merk dat sy lyf lank en lenig is nie. Sy donker hare is krullerig en raak net-net aan sy kraag. Sy blou oë is egter baie koel; sy is gewis nie ’n verwel­koming te wagte nie. Sy draai na Tom en glimlag vriendelik. “Meneer Grové, het ons nog ’n afspraak of nie?”

Tom kyk na sy werkgewer en weet duidelik nie wat om haar te antwoord nie. Sy draai na Eric. “Wel, menere, het ons of het ons nie?”

Haar haantjie-uitnek-houding beïndruk Eric nie en hy skud sy kop. “Ons het nie,” sê hy ferm.

Haar hart gee ’n teleurgestelde sprongetjie, maar sy gaan beslis nie haar emosies op iemand soos Eric mors nie. “Dis jammer.” Sy maak haar handsak oop en haal die volledige demo wat sy voorberei het, uit. Toe sien sy haar laaste gospeldemo raak wat sy ook in haar handsak ronddra. Die idee was om dit die een of ander tyd by die platemaatskappy se kantore af te lewer. Sy loop nader en sit die twee CD-houers op Eric se tafel neer. “Meneer Saunders, as jy meneer Grové kans gegee het om klaar te praat, sou hy jou waarskynlik ingelig het dat ek nie nét ’n gospel singer is nie, maar dat ek my nou op meer kontemporêre musiek toespits. Ook dat ek al sangtoekennings verwerf het. Indien jy tyd het, kan jy gerus na my werk luister. Ek skat dis wat eintlik van ’n bestuurder of ’n promotor, of wat jy jouself ook al noem, verwag word vóór hy ’n kunstenaar summier wegwys.”

Sy steek haar hand uit na Tom en hy neem dit traag; duidelik was hy nie wat hy pas gehoor het, te wagte nie.

“Totsiens, meneer Grové, dit was aangenaam om u te ontmoet.”

Hy glimlag terug en sy lees die apologie in sy oë. “Dankie vir jou moeite om ons te kom spreek, Juf­frou.”

“Dis ék wat dankie sê. Geniet asseblief die res van u dag.”

As ’n bewys dat sy wel maniere het, trek sy die deur saggies agter haar toe. Maar haar kalmte is net ’n klug. Haar hart klop verskriklik vinnig en sy voel lam van teleurstelling. Haar grootste droom het pas deur haar vingers geglip.

Sy loop stadig terug na haar motor. Haar bin­neste is skielik só seer dat dit voel of sy nie asem kry nie. Sy haat dit om so verslaan en oorwonne te voel, maar soms is selfs jou beste poging om selfbe­heersing te behou, nie voldoende om jou emosies te beteuel nie. Trane vorm in haar oë; vererg vee sy dit van haar wange af, maar dit hou aan kom. Sy wil haar oorgee aan die gevoel van mistroostigheid, maar dis ook nie in haar aard nie. Sy staan stil en haal diep asem. Toe weer en weer totdat die donker mistige kolle in haar kop opklaar. Sy probeer haar reaksie en haar emosies ontleed.

Toe spreek sy haarself kwaai aan: Waaroor wil jy nou eintlik huil, Mirre Ehlers? Oor ’n skobbejak sonder ’n hart of oor jou ego wat gekneus is? Eric Saunders se opinie mag miskien vir iemand in die sangbedryf tel, maar gaan jy toelaat dat ’n wild­vreemde man jou sang en jou talent kritiseer? Hy het nog nooit van jou gehoor nie, so hoe kan hy agter daardie groot lessenaar sit en jou waarde bepaal? Haar handsak se band glip van haar skouer af en sy pluk dit vererg terug in plek. “Nee, ek dink nie so nie,” sê sy hardop en vasberade om ’n einde aan haar self­gesprek te maak.

“Ekskuus, ek vra net ’n paar sente. Vir brood en ’n koeldrank. Wat is nou so erg daaraan?”

Mirre knip haar oë en sien vir die eerste keer die man wat langs die muur staan en bedel, raak. “Ek . . . ek is jammer, ek praat sommer met myself. Dè, hier is iets vir jou.” Sy grou in haar handsak se bodem rond tot sy ’n paar muntstukke voel. Sy verloor gereeld muntstukke uit haar beursie se stukkende ritssluiter, maar daar is nie nou geld vir ’n nuwe een nie. Sonder om te kyk druk sy die munte is sy hand en loop vinnig verder. Haar wange word dadelik warm toe hy agter haar aan skree: “Dankie, maar jy kon maar die vyf sente gelos het!”

Sy rek haar treë. Sy gaan hom nie oor sy ondankbaarheid betig nie. Ook nie oor sy parmantige houding nie. Genugtig, almal het deesdae ’n houding teenoor haar. Selfs die bedelaars. Staan dit op haar voorkop geskryf dat sy ’n pushover is?

Terug by haar motor kyk sy misnoegd na haar voorruit. Sy haal die boetekaartjie onder die ruit­veër uit en kyk vlugtig daarna. Toe soek sy na ’n verkeersinligtingsbord en vind een hoër op in die straat. Sowaar, hier mag sy net vyftien minute par­keer en nie ’n uur soos sy gedink het nie. Sy sluit haar oë ’n oomblik en sug diep en gefrustreerd. Dit ook nog. Het sy nie reeds genoeg probleme nie? Net soos met baie ander dinge in haar lewe staan sy hulpeloos en toekyk hoe goed tussen haar vingers deur glip.
Sy druk die sleutel in die selfaansitter en wil die motor aanskakel. Die stuurwiel is egter vuurwarm gebak in die son en sy ruk haar hande weg. Vervlaks, dit was seer! Terselfdertyd is sy verlig. Sy het nou iets anders om op te fokus; sy kan maar haar Sorry Suzy-houding wegpak.


Mirre gooi haar handsak op die koffietafel neer en sit op die bank. Haar skoene druk effens, maar sy is nie eens lus om dit uit te skop nie. Sy hoor die gerit­sel in die gang, maar kyk nie op nie.

“Hoe het dit gegaan?” vra haar pa, Simon Ehlers. Hy rol sy rolstoel nader en sy lees die besorgdheid op sy gesig.

“Hallo, Paps. Nie goed nie. Die man was ’n skurk. Wel, darem nie die man met wie ek ’n afspraak ge­had het nie. Die ander een. Sy hoof.”

“Wat het gebeur?”

Sy skud haar kop. Sy kan steeds nie glo die man was so onbeskof nie. “Hy wou my glad nie ’n kans gee nie. Die oomblik toe hy hoor ek is ’n gospelsan­geres wou hy niks verder van my weet nie. Hoe ar­rogant en stiksienig kan ’n mens wees?”

“Moenie die man so vinnig veroordeel nie, Pop. Jy weet nie of hy ’n slegte dag gehad het nie en dalk was jy net die stukkie strooi wat die kameel se rug gebreek het.”

Sy maak haar mond oop om op haar pa se stel­ling te reageer, maar maak dit net so vinnig weer toe. Natuurlik is hy reg; sy ken nie Eric Saunders se omstandighede nie. Nogtans. Haar pa het nie sy minagtende stemtoon gehoor nie. Of sy koel en arrogante houding aanskou nie. Nee, ’n slegte dag bring nie só ’n houding mee nie, dis ’n man se persoonlikheid wat hom so laat optree. Eric Saun­ders is ’n man sonder ’n gewete. Hy het haar droom onder sy voete vergruis – sonder om ’n oomblik aan haar gevoelens te dink.

“Ek’s jammer, Paps. Die man skuld my niks, so ek kan seker nie kwaad wees nie.”

“Dis meer my meisie,” sê haar pa tevrede.

Mirre haal diep asem en wag dat haar kalmte terugkeer. “Sal ek vir ons tee gaan maak?” vra sy toe sy beheer oor haar emosies het.

“Sit jy, ek sal dit doen.”

“Dankie, Paps, dit sal lekker wees.”

Sy hou haar pa dop terwyl hy die ketel aansit en die koppies uitpak. Die woonstel wat hulle twee deel, is piepklein. Die leefarea is óf ’n sitkamer óf ’n eetkamer. Die spasie laat nie plek vir albei toe nie. Haar pa gebruik die groter slaapkamer terwyl haar kamer net plek vir ’n enkelbed het. Om eerlik te wees, die plek is ideaal vir ’n enkellopende, nie vir ’n man in ’n rolstoel en sy volwasse dogter nie. Dis egter al wat hulle kan bekostig.

“Bring ons tee, Mirre. Maar skuif eers die patio se deur oop, die plek is vandag ekstra warm.”

Sy staan op en doen presies wat haar pa gevra het. Sy sit sy koppie tee in sy hande en neem haar plek op die bank in. Ingedagte roer sy haar tee.

“Jy broei al weer, Mirre. Waaroor nou?”

Sy kyk vinnig op. Haar pa se beplooide oë rus kalm op haar. Sy verstaan nie hoe hy altyd so rustig kan wees nie. Niks, maar net mooi niks, versteur sy goeie luim nie.

“Ek het sommer net gedink, Paps. Die een op­trede by die Arena sou ’n ekstra paar rand ingebring het. Ons kon dalk oorgetrek het na die woonstel op die hoek. Dis soveel groter as dié een. En die huur is nie soveel duurder nie.”

“H’m, dis dalk groter, maar nie so lekker warm soos dié een in die winter nie. En ’n groter plek bring meer huiswerk mee. Huiswerk wat jy nie altyd kan doen as jy nie lekker voel nie. Ons moet bly wees ons het juis dié ou plekkie gekry. Dis perfek vir ons be­hoeftes.”

Daar is dit al weer. Dankbaarheid vir dit wat hulle wel het. Dankbaarheid dat sy niks hoef te doen die dae wanneer sy swak en moeg voel nie. Dis nog iets wat sy nie kleinkry nie. Simon Ehlers was ’n paar jaar gelede ’n welaf man gewees. Hulle . . . sy het alles gehad wat sy begeer het. ’n Blink toekoms, gesteun deur haar pa se fortuin, het vir haar gewink. Toe gebeur sy ongeluk en alles wat vir haar bekend was, verdwyn. Asof dit nie genoeg was nie, moes haar eie gesondheid ook in die gedrang kom. Ten spyte van die een terugslag ná die ander knak haar pa, met sy reeds gebroke liggaam, nie onder die druk nie. As sy maar net ’n greintjie van sy krag en optimisme gehad het. As sy net geweet het hoe hy dit regkry, sou dit al klaar gehelp het.

“Paps is seker reg. Wat ons hier het, is heeltemal hanteerbaar.” Sy drink haar tee klaar en staan op. “Dis nog vroeg, maar ek gaan met aandete begin. Waarvoor is Pa lus?”

“Vis en tjips?”

“Dis ’n goeie idee. Ek sal sommer ’n bak slaai daarby maak.”

Voordat sy haar plan kan uitvoer, is daar ’n klop aan haar deur. Sy kyk op haar horlosie. “Dis seker Lucille wat wil kom hallo sê.”

Sy is reg. Toe sy die deur oopmaak, staan haar vriendin en buurvrou, Lucille Marais, op hulle drum­pel. “Kom binne, ek dink daar is nog tee in die teepot,” groet sy eerste.

Lucille kyk by haar verby en groet haar pa. “Mid­dag, oom Simon, gaan dit goed?”

“Dit gaan altyd goed, dankie.”

“Wat staan jy so, wil jy inkom of nie?” vra Mirre gemaak kwaai.

“Nee, ek het gehoop jy wil gou saam met my win­kels toe ry. Dan kan jy my sommer vertel hoe jou on­derhoud verloop het. O, ek’s jammer. As jy jou oë só rol was daar seker nie een nie. Ek wil nietemin hoor wat gebeur het.”

Mirre kyk oor haar skouer. “Kan aandete ’n ruk­kie wag, Paps? Ek is seker ons sal nie lank weg wees nie.”

“Gaan gerus, Mirre. Daar’s geen haas nie. Ek het vanmiddag laat twee beskuite gehad en is nie nou honger nie.”

Mirre gryp haar handsak van die koffietafel af. “Dit sal nie lank neem nie,” verseker sy hom en trek die deur agter haar toe.

Dadelik vra Lucille: “Het jy jou onderhoud gemis dat jy so beteuterd gelyk het?”

“Nee, ek was daar maar . . .”

“Wag, moenie my nou sê nie. Ons gaan dit oor ’n melkskommel bespreek. En nee, ons sal nie lank weg wees nie. My inkopies kan ook wag tot môre. Jy het nou iemand nodig om mee te praat.”

Mirre skud haar kop. “Jy ken my hopeloos te goed.”

’n Paar minute later sit hulle teenoor mekaar in ’n koffiewinkel. Sonder om eers te vra, bestel Lucille twee sjokolademelkskommels. “Nou goed, uit daar­mee. Wat het gebeur?”

“Daar is nie veel om te vertel nie. Ek het ’n af­spraak met een van die Arena se kommunikasie-en-vermaakbestuurders gehad. Ons gesprek oor die telefoon het nogal belowend geklink, maar toe ek daar aankom, vind ek uit sy baas het blykbaar die laaste sê in die saak. Ek het nie eens kans ge­had om myself voor te stel óf my musiek behoorlik aan hulle voor te lê nie.” Sy vertel kortliks wat in die kantoor afgespeel het.

“Wie was die tweede man gewees?”

“Eric Saunders, as ek reg onthou. Ek was só ont­steld, ek kon dalk verkeerd gehoor het.”

“Dis maklik om uit te vind of dit sy naam is.”

“Wat doen jy nou?” vra Mirre toe Lucille na haar foon gryp en iets begin intik.

“Die rede hoekom ons hiernatoe kom en nie by ’n ander plek gaan koffie drink nie, is omdat hulle gratis Wi-Fi het. Ons gaan hom google, wat an­ders?” Sonder om op te kyk gaan sy voort. “Of ons kan na die Arena se webwerf toe gaan en hom daar opspoor.”

“Wat maak dit saak wie die man is, Lucille? Hy was ’n skurk gewees en dis dit.”

“Ek wil weet, Mirre. ’n Paar maande gelede het ek iewers gelees dat ’n jong miljoenêr en entrepre­neur in die Arena belangstel om dit van moontlike finansiële ondergang te red.” Lucille byt haar lip in­gedagte vas terwyl sy met haar foon besig is. Haar gesig helder op. “Aha, ek was reg. Dis die man wat in die artikel genoem is.”

“Is meneer Saunders die nuwe eienaar?”

“Hy is, maar dis nie hoekom ek hom onthou nie. Kyk ’n bietjie na dié pragmens.”

Lucille gee haar foon oor die tafel aan en Eric Saunders se gesig kyk terug na haar. Behalwe dat hy dié keer nie so stroef en omgekrap lyk nie. In­teendeel, die gesig in die foon se skermpie is uiters manlik en as sy eerlik moet wees, is hy baie aantreklik met sy blou oë en teruggekamde haar­styl. Sy voorkop is oop en hy lyk intelligent, maar ’n mens se voorkoms is dikwels misleidend. Hy’s dalk klipdom. Of altans sy optrede kan dom wees. Sy gee die foon terug.

“Dis die man, ja.”

“En?”

“En wat?” vra sy ongeërg.

“Is dit nie die aantreklikste ou wat jy al op twee bene gesien het nie?”

“Nee, hoe kan onbeskof aantreklik wees?”

Lucille druk haar foon in haar handsak. “’n Mens kan jou ook nie maklik beïndruk nie.”

“Dis nie ’n kwessie van beïndruk nie, Lucille. Dié man het my enigste droom onder sy hakke vertrap. Jy weet dit was nog altyd my een groot begeerte om voor so ’n groot skare op te tree. Nie noodwendig om roem te verwerf nie, maar vir my persoonlike satisfaksie.”

Lucille se gesig versomber. “Ek weet, in dié stadium gaan dit sekerlik nie oor die roem nie. Ek is jammer die man was so kortsigtig. Die verlies is syne, al weet hy dit nie.” Sy stoot haar stoel terug. “Ek moet die badkamer besoek; ek’s nou terug.”

Toe Lucille wegstap, huiwer Mirre se vingers bo­kant haar eie foon. Eintlik is Lucille reg, Eric Saun­ders is beslis iets vir die oog. Sy kyk rond en voel effens skuldig toe sy sy naam google en op nog foto’s van hom afkom. Eric Saunders is inderdaad ’n ryk pierewaaier. Op elke sosiale foto hang daar ’n meisie aan sy arm en soms selfs twee. En natuurlik sal hy langs ’n bloedrooi Ferrari poseer. En langs ’n geel Lamborghini. En langs ’n swart Mer­cedes. Hoe uiters pretensieus. Sy voel sommer hoe sy ’n pyn op ’n ongemaklike plek kry. Sy wil die toep verlaat, maar besluit daarteen. Sy soek verder na wat soos ’n outobiografie lyk en vind iets. Sy sien sy geboortedatum raak en maak ’n sommetjie. Bin­nekort is hy dertig jaar oud. Hy’s die enigste nasaat van Jurie Saunders, die eiendomsmagnaat, en die welbekende advokaat Mariette Saunders. Sy ak­kolades beslaan ’n hele kolom. Toppresteerder in sy skool en universiteit. Op vier en twintig het die stad se sakekamer hom as die entrepreneur van die jaar aangewys. Die daaropvolgende jaar loop hy weg met die titel van mees belowende junior sake­man. Hy besit aandele in verskeie maatskappye en dien in verskeie direksies. Sy kernbesigheid blyk die aankoop van sukkelende maatskappye te wees wat hy dan op sy beurt regruk en weer winsgewend maak. Die Arena moet dus een van dié projekte wees. Dit verklaar seker hoekom ’n belangrike man soos hy deel moet wees van elke stukkie besluitne­ming. Die Arena se sukses, óf ondergang, word aan sy reputasie gekoppel.

Sy kyk op en Lucille vleg tussen die tafels deur; vinnig skakel sy haar foon af en sit dit langs haar melkskommel neer.

“Wat gaan jy nou doen? Ek weet jy kon baat by ’n finansiële inspuiting,” vra Lucille toe sy sit.

Mirre roer haar skouers as ’n teken dat sy self daaroor wonder. “Ek moet seker my CV sirkuleer, maar ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie. Nie voor ek heeltemal gesond is nie.”

“Wat van jouself beskikbaar stel vir tuisonderrig, of selfs au pair-werk?”

“Maak nie saak wat ek doen nie, Lucille. Ek sal my mediese geskiedenis moet noem.”

“Hoekom? Jete, ’n mens sou sweer jy het ’n aansteeklike siekte. Hoekom sê jy nie net . . .”

Mirre lig haar hand op. “Nee, ek kan nie oneerlik wees en die feit verberg nie. Mense wil weet hulle kan hulle au pair ten volle vertrou. En wat doen ek as ek onverwags siek word, of behandeling in die hospitaal moet ontvang? Dan moet hulle ’n plaas­vervanger soek; iets wat nét so moeilik is.”

Lucille se gesig versomber. “Mirre, ek wou jou al lankal vra . . .” Toe skud sy haar kop en haar oë vul onverwags met trane. “Nee, ek wil nie weet wat jou prognose regtig is nie. Een van die dae is jy honderd persent gesond. Ek en jy gaan nog saam oud word en . . . en in hierdie einste plek oor ons kleinkinders en agterkleinkinders sit en skinder. Ek weet dit net.” Lucille kyk weg en probeer haar emosies onder be­heer kry. Mirre verstaan maar alte goed en maak of sy nie die ander meisie se trane raaksien nie.

“Die plek maak steeds die beste melkskommels in die stad. Volgende keer probeer ons die aarbeigeur,” verander sy doelbewus die onderwerp. Dis miskien moeilik vir Lucille om uit te vra, maar dis nog moei­liker om daaroor te praat. Selfs met haar beste vrien­din.