Skip to main content

Uittreksel | Monsterpizza

1

Die beste werk op aarde

Monsterpizza

Zia se pa het die heel beste werk op aarde. Hy maak nie siek mense gesond nie.

Hy leer nie stout kinders somme doen nie. Hy werk nie heeldag in ’n vaal, vervelige kantoor nie. Zia se pa lewer pizza af. Hy werk by Planeet Pizza. As mense bel en pizza bestel, bring Zia se pa dit met sy bromponie.

Zia is mal oor die bromponie waarmee haar pa pizza aflewer.

Dit is bloedrooi. Teen die kante is sterre en vuurpyle geverf. As haar pa daarop ry, lyk hy amper soos ’n superheld.

Op Vrydagaande is Planeet Pizza veral baie besig. Daar is hope pizzas om af te lewer.

Elke Vrydagmiddag vra Zia presies dieselfde
vraag …

Monsterpizza

“Pappa, mag ek vanaand saam met jou werk toe gaan? GROOT asseblief!”

Elke Vrydagmiddag kry Zia ’n ander antwoord. “Dalk ’n volgende keer,  my skat.” “Ek gaan te laat by die huis kom.” “Dit lyk na reën vanaand.”

Zia is al moedeloos. Sy wil so graag NET EEN KEER saam met Pappa pizza aflewer.

Sy’s seker as sy saam met hom op sy bromponie ry, sal sy soos ’n regte superheld se helper voel!

Vandag is weer Vrydag. Zia vra weer die vraag wat sy elke Vrydagmiddag vra.

“Pappa, mag ek vanaand saam met jou werk toe gaan? GROOT, GROOT, GROOT asseblief!”

Sy sug.

Sy weet tog al klaar wat die antwoord gaan wees …

Maar vanmiddag gebeur iets wat haar mond laat oopval. Dit lyk of Pappa ’n oomblik dink. Dan glimlag hy.

“Wel, Zia …” sê hy, “ek dink jy is nou groot genoeg.”
En toe haal hy iets uit ’n boks.

Dit is ’n valhelm.

’n Valhelm wat net soos syne lyk, net ’n bietjie kleiner. Dit is bloedrooi, met vuurpyle en sterre daarop.

Zia se hart begin wild klop.

Sy spring op en af.

“Dankie, P appa!”

Sy slaan haar arms om sy nek. “Ek kan nie wag nie!”