Skip to main content

Uittreksel | Melktert vir die hart

Proloog

Junie 1819

Ousus Andrea druk die kombers agter Annie se rug in en soen haar saggies op haar voorkop. “Lek­ker slaap, Annie Patat. En onthou, lê op jou sy en droom van my.”

“Ek is nie moeg nie.”

Andrea sug. “Moet ek vir jou ’n storie vertel?”

“Ja!” roep Annie opgewonde uit.

Andrea hou haar vinger vinnig voor haar mond en beduie na middelsus Lettie wat op die ander ka­tel lê en slaap. “Nou goed,” antwoord sy en onder­druk ’n gaap. “Maar daarna gaan ons slaap, hoor.”

Annie knik plegtig.

Andrea glimlag liefdevol vir haar en kyk eers ’n rukkie ver voor haar uit voordat sy in ’n fluisterstem begin vertel: “Eendag lank, lank gelede was daar die mooiste prinses. Haar naam was Margareta en sy het in ’n land met helder waterstrome en pragtige blomme gebly. Daar was wittes, geles, perses en rooies – al die kleure waaraan ’n mens kon dink.

“Sy het alles gehad wat haar hart kon begeer. Die bediendes het die fraaiste tabberds vir haar gemaak. Sy het die mooiste skoene gedra en pragtige poppe gehad. Tog was sy ongelukkig. Weet jy hoekom?”

Annie skud haar kop.

“Want sy was alleen en het nie ’n sussie gehad nie. ’n Snaakse ding gebeur toe. Haar moeder se maag het elke dag al hoe groter en groter geword tot prinses Margareta eendag ’n babasussie gekry het. Sy was vreeslik bly en het haar sussie dag en nag opgepas. Haar sussie het selfs in die ledekant saam met haar geslaap.”

Annie se tone krul om van lekkerkry. “Soos ek?”

Andrea lag. “Ja, soos jy. En elke oggend het sy haar sussie ook so gekielie en gesê: ‘Patat, die son gaan jou kry. Niks en niemand is kosbaarder as jy.’ Dan het hulle die hele dag lekker gespeel en gelag.”

Annie skaterlag.

Lettie kyk kwaai op. “Kan julle asseblief sagter wees? Ek probeer slaap.”

Annie hou haar hande voor haar mond en gig­gel.

Andrea sukkel ook om haar glimlag weg te steek en wys hulle moet saggies praat. Toe word haar gesig ernstig. “Daar was vrede in die land tot die Xhosas eendag met hul assegaaie op die kasteel af­gestorm het. Hulle het die velde en die blomme aan die brand gesteek.”

Annie hou haar asem op.

“Prinses Margareta het haar sussie gegryp en te perd gevlug. Hulle het nie geweet waar hul vader en moeder was nie. Prinses Margareta het net geweet sy moet haar sussie red.

“Die hings se hoewe het gedawer soos hy ge­hardloop het tot hy skielik voor ’n rivier vasgesteek het. Prinses Margareta het hierdie kant toe en daar­die kant toe gekyk. Watter kant toe moet hulle gaan?

“Haar sussie het begin huil. Sy het haar teen haar vasgedruk en gesê: ‘Moenie huil nie, Patat. Die son sal ons kry. Niks en niemand is kosbaarder as jy.’

“Op daardie oomblik het ’n prins op ’n wit perd agter hulle verskyn. Sy oë was so blou soos die hemel en sy donker hare het soos sterre in die son geskitter. Hy het ’n groot swaard in sy hand vasge­hou en vir prinses Margareta geglimlag. Sy naam was prins Albertus.

“Die Xhosas het al nader gekom. Hulle het hard en dreigend geskree. Prins Albertus het benoud oor sy skouer gekyk en toe dringend gesê: ‘Gaan met die rivier af tot julle by die mimosabos kom. Kruip daar weg. Ek sal die Xhosas weglei.’ En net so vin­nig as wat hy verskyn het, het hy weer verdwyn.

“Prinses Margareta het gewens hy kon by hulle bly. Hy was die mooiste jong kêrel wat sy nog ooit gesien het en sy was bang die Xhosas maak hom dood, maar sy het geweet sy moet na hom luister om haar sussie te red.

“Prinses Margareta het die perd diep in die mi­mosabos ingestuur, al was dit baie donker in die bos. Sy het die perd aan ’n boom vasgemaak en teen die stam gaan sit. Haar sussie het in haar arms geslaap. Sy het opgekyk na die boomtoppe, maar sy kon nie die son sien nie. Sou die son hulle kry?

“Die volgende oggend het prinses Margareta se sussie haar wakker gemaak en gekraai van die lag. ‘Kyk, Patat. Die son het ons gekry. Niks en niemand is kosbaarder as jy.’

“Prinses Margareta het saamgelag, al was sy baie bekommerd oor hul ouers.

“Later het hulle honger en dors geword. Hulle het op die perd geklim en dieper die bos ingery om kos en water te gaan soek. Dit was nie lank nie, toe hoor hulle ’n gedruis. Hulle het soontoe gery en by ’n waterval uitgekom.

“Prins Albertus het met sy perd uit die waterval gestap. Hul vader en moeder was by hom. Prinses Margareta en haar sussie het van die perd afgespring en na hulle gehardloop.

“Hul vader het hulle styf teen hom vasgedruk. ‘Ek is so bly julle het niks oorgekom nie. Prins Albertus het ons almal se lewens gered.’

“Omdat prins Albertus geweet het prinses Mar­gareta se ouers het alles verloor, het hy hulle genooi om in sy land te kom bly. Hy het een van sy kastele vir hulle gegee en prinses Margareta gevra om met hom te trou. Hulle het ’n groot bruilof gehou en die hele land se mense genooi. Toe het hulle vir altyd gelukkig saamgewoon.”

Annie glimlag welgeluksalig toe ousus Andrea oor haar wang streel.

“Lekker slaap, Annie Patat. En onthou, die son sal jou ook altyd kry. Niks en niemand is kosbaarder as jy.”


Een

Desember 1834

“Wat van nog ’n stukkie melktert en boeretroos voor­dat jy ry?”

Annie glimlag oorwonne. “Jy weet ek kan nooit nee sê vir jóú melktert nie.” Dit is ousus Andrea se spesialiteit en haar man, Sybrand van Dyk, se gunsteling. Annie se swart hings, Prins, moet later maar net volspoed huis toe hardloop.

Andrea lyk bly, maar moegheid skemer deur in haar glimlag. “Maal jy solank vir ons koffiebone. Ek gaan net gou ’n oog oor Andries en Drienie gooi.”

“Moet ek nie eerder gaan nie?”

“Nee wat, dankie. Ek’s nou terug, dan skep ek vir ons melktert in. Ek glo die kinders sal ook wil hê.”

Annie knik toe Andrea by die voorhuis uitstap. Boeretroos kan sy maak. Kosmaak en bak en brou is ’n ander storie. Is dit waarom sy ’n oujongnooi is?

Die antwoord wat die stemmetjie in haar bin­neste gee, ignoreer sy. Sy het egter geen beheer oor die hitte wat op haar wange uitslaan toe Andrea by die voorhuis inkom nie.

“Hulle speel wegkruipertjie – dié dat hulle so stil is.”

Andrea en Lettie het ook altyd met haar wegkruipertjie gespeel, veral Saterdagmiddae ná die werf opgeruim is en die week se arbeid tot ’n einde gekom het. Toe Andrea egter met Sybrand getroud is, was Lettie nie meer lus om met haar te speel nie. Die doodse stilte wat op mens en dier neergedaal het, het Annie behoorlik van alle lewenslus gestroop.

Sondae was nog erger. Vader Isak het geen lawaai of uitbundigheid geduld nie én sy moes heeldag haar kisklere aanhou. In die oggend het hy vir hulle ’n preek in die voorkamer voorgelees waarna hulle tjoepstil moes sit en luister. En behoed die een wat nie sy vrae ná die tyd kon beantwoord nie. An­drea het haar dikwels te hulp gesnel; dit help om ’n laatlam te wees.

As sy nou daaraan terugdink, was Sondae seker nie so sleg nie. Dit was die enigste dag van die week waarop hulle poeding gekry het. Moeder Alet het ook altyd ’n spesiale middagete gekook. Benewens braaiboud was daar gewoonlik nog ’n soort vleis, rys en groente; nie net kookvleis met groente soos in die week nie.

Daarna het almal gaan rus voordat hulle oor en weer met die bure gekuier het. Vandaar dat hulle die Van Dyks so goed ken. Sybrand het altyd met haar gespeel. Op Sondae moes die spelery egter aan die rustigheid van die dag voldoen het.

Andrea skep vir hulle melktert in en draai haar kop skuins. “Is dit Sybrand wat terug is? Annie, wil jy nie gou by hom hoor of hy ook boeretroos en melktert wil hê nie?”

Annie knik geredelik, al weet sy reeds wat sy antwoord gaan wees.

Sybrand loop haar amper onderstebo toe hy by die voordeur inkom en gryp haar net betyds aan haar skouers sodat sy haar balans kan behou. Sy bruin oë kyk wild in hare. “Waar is die kinders?”

“Hulle is buite. Speel wegkruipertjie. Hoekom? Moet ek hulle gaan roep?”

“Nee, ek sal.” Oor haar skouer kyk hy na Andrea. “An-Lief, kry jou snaphaan. Annie Patat, maak die vensters toe.”

“Lief, wat is fout?” roep Andrea verskrik uit.

“Die Xhosas is op ons.”

Daarmee vlieg hy om en fluit indringend vir sy twee spruite. “Andries, Drienie, kom dadelik huis toe!”

Annie kyk stadig om na Andrea asof sy haar in ’n droom bevind. Dit voel of haar voete in die grond vasgeslaan is. Haar hart dawer verwoed. Die laaste grensoorlog was in 1819 toe sy maar sewe jaar oud was, maar die veldslag was by Grahamstad en va­der Isak het net onder plundery deurgeloop.

“Annie, moenie net daar staan nie. Kry die ven­sters toe!” jaag Andrea haar aan.

Haar bene kom werktuiglik in beweging, maar haar hande voel dom toe sy die rietskerms voor die vensteropeninge aan weerskante van die voordeur laat sak. Daarna haas sy haar na Andrea en Sybrand se slaapkamer, maar dit voel asof sy nie gou genoeg daar kan uitkom nie.

Nou nog net Andries en Drienie se kamer.

Toe ’n hond skril tjank, trek Annie haar asem skerp in en druk haar hand teen haar hart. Sy moet haarself na die venster dwing.

Net toe sy aan die rietskerm wil raak, ruk haar hand terug. Donker oë boor van buite die venster in hare. Wreedheid lê uitgekerf in die diep lyne langs die Xhosa-kryger se oë en moord straal uit elke op­gewerkte senuwee in sy donker lyf.

Annie weet sy moet voor die venster wegkom. Daar is niks tussen haar en die assegaai in sy hand nie, maar sy kan nie roer nie.

Die donker oë bly vasgenael op haar soos ’n lui­perd op sy prooi. Kon Sybrand vir Andries en Drie­nie kry? Het hy sy snaphaan by hom? Netnou was alles so holderstebolder dat sy nie daarvoor opgelet het nie, maar hy dra altyd sy sanna by hom.

“An-Lief, Annie Patat, kom buitetoe en los die snaphaan in die huis!”

Die Xhosa-kryger kyk weg in die rigting waaruit Sybrand se stem gebiedend opklink. Nie een skoot is nog afgevuur nie.

Die man hardloop weg sonder om weer na haar te kyk. Haar hart klop beangs. Wat wag daar buite op hulle? Sy kan nie eens in die huis probeer wegkruip nie. Daardie Xhosa-kryger weet sy is hier. Dalk kan Andrea hier van binne af begin skiet en hulle verwilder. Maar sal Andrea die snaphaan weer vinnig genoeg kan laai? As sy haar net kon help . . . As sy net destyds deurgedruk het toe Sybrand haar wou leer skiet. Nee, dit was sy wat by hom gekerm het om haar te leer. Sy was maar sewe jaar oud. Tog onthou sy daardie dag asof dit gister was.


Die stokkie verstil in Annie se hand toe sy die geklap van perdehoewe hoor. Sy is besig om diep voortjies in die grond te maak sodat die miere paadjies het om in te loop. Aan weerskante plant sy bossies; vir bome druk sy takkies met blare in die grond. Daar is geles, bruines en rooies.

Sy skreef haar oë teen die middagson; herken die vosperd met die wit bles en wit sokkies – Vossie. Waar sy gewoonlik nie vinnig genoeg by Sybrand kan uitkom nie, maak sy vandag dat sy wegkom.

Sy gaan kruip agter die naaste boom weg en loer om die stam toe hy sy hings by Andrea intrek. Haar suster glimlag vriendelik vir hom, maar sy kon saamgaan; dit is hoekom.

Sybrand kyk om hom rond. “Waar is Annie Pa­tat?”

Annie ruk haar kop vinnig terug.

“Ek het haar netnou nog hier buite sien speel. Dis snaaks sy het jou nie gehoor nie,” antwoord An­drea en roep: “Annie, Sybrand is hier.”

Annie hou haar asem op en voel hoe haar hart vinniger begin klop.

“Sy is seker nog kwaad vir my omdat sy nie nou die dag kon saamgaan nie.”

Annie knik oordrewe hier waar sy agter die stam wegkruip, en voel van voor af ongelukkig.

“Dis vir haar moeilik om te verstaan dat dit gevaarlik was,” antwoord Andrea. “Hoekom kyk jy nie of jy haar kan kry nie? Dan maak ek solank boeretroos en skep vir ons melktert in.”

Annie se oë raak groot. Sy het nie geweet haar ousus het melktert gemaak nie. Hoe gaan sy ’n stuk­kie kry? Dalk, as Sybrand haar nie kan vind nie, sal Andrea vir Eva stuur om vir haar te bring.

Die grond knars onder Sybrand se vellies. Haar hart klop in haar ore. Kan Sybrand dit hoor? Sy hoop nie hy breek haar miere se paaie nie.

“Annie Patat, waar is jy?”

Sybrand se roepstem is baie naby. Annie maak haar oë toe en staan doodstil.

“Wil jy nie maar uitkom nie? Dis nie vir my lekker as jy kwaad is nie.”

Annie frons en byt op haar tande. As sy nie kwaad bly nie, sal hy haar volgende keer weer hier los.

Sy voetstappe kom al hoe nader aan die boom. “Ek wonder wat steek hier uit. Is dit dalk ’n nooi­entjie se tabberd?”

Annie vries en maak een oog op ’n skrefie oop.

Sybrand spring vorentoe. “Het jou!”

Sy gil en hardloop weg.

Hy sit haar agterna en tel haar op sodat sy soos ’n velsak langs hom hang.

Toe hy haar begin kielie, skaterlag sy. “Nee! Los . . . my.”

“Ek gaan nie ophou voordat jy nie meer kwaad is vir my nie.”

Haar wange pyn al van die lag voordat hy haar neersit.

“Vergewe jy my?”

Annie kruis haar arms en skud haar kop.

Sybrand sug en gaan sit op sy hurke voor haar. “Annie Patat, ’n luiperd is ’n baie gevaarlike ding. Wat as hy jou vang? Dit is hoekom ek jou eerder hier gelos het. Ek wil nie hê jy moet ooit iets oorkom nie.”

“Maar Andrea het dan saamgegaan.”

“Dit is omdat jou sussie baie goed kan skiet, maar sy moes nog steeds heel agter loop en sou net help as daar regtig moeilikheid was.”

“Maar ek kan ook agter loop.”

Sybrand glimlag kopskuddend. “Eendag as jy groot is en mooi kan skiet, kan jy saamgaan.”

Sy hou niks daarvan wanneer iemand sê: “Eendag as jy groot is” nie, want dit is nog baie, baie lank tot sy groot is. “Maar ek wil nou leer.”

Sybrand kyk haar ’n rukkie opsommend aan en sug toe weer. “Nou goed, maar jy sal eers regtig goed moet kan skiet voordat jou vader jou sal toe­laat om saam te gaan. Reg so?”


“Annie, waar is jy?” roep Andrea benoud uit.

Annie kyk na die gordyn wat die kinders se ka­mer van die voorhuis skei. Sy skrik toe die gordyn weggeruk word en Andrea verskyn.

“Annie, kom!”

Die dringendheid in Andrea se stem kry haar aan die beweeg.

Toe sy by die voordeur kom, ruk haar asem in, al is die gesig wat hulle begroet nie heeltemal on­verwags nie. Sybrand, die kinders en hul knegte is omsingel deur Xhosa-krygers met spiese dreigend omhoog. Arme Drienie klou huilend aan Sybrand vas. Sy is maar agt jaar oud. Andries staan egter fier langs sy vader, sy oë wakker en gereed. Hy is twaalf jaar oud en ’n seun so na sy vader se hart.

Die vyandige kring maak oop en gaan weer toe agter Annie en Andrea. Sybrand se snaphaan lê buite die kring op die grond. Hulle is aan die Xhosa-krygers se genade uitgelewer. Annie vermoed die naaste wat hulle aan die woordjie “genade” kom, is “genadeloos”.

Andrea sit haar arm om haar snikkende dogter­tjie en hou haar hand na Annie uit. Sy loop werk­tuiglik nader en voel hoe Andrea se arm om haar lyf gaan; asof sy haar nog steeds moet beskerm soos toe sy klein was.

Sybrand kyk van Annie na Andrea. “As ons nie teenstand bied nie, staan ons ’n kans om te oor­leef.” Sy stem is soos altyd kalm en beheers.

Andrea se arm span dadelik stywer om Annie. Annie kan haar byna hoor sê: Moenie huil nie, Patat. Die son sal ons kry. Niks en niemand is kosbaarder as jy. Dié is egter realiteit en nie ’n storie nie.

’n Beweging naby die huis trek hul aandag. An­drea snak na asem. Ook Annie kyk versteen na die vlammende bol gras wat die Xhosa-kryger na die rietdak uithou.

’n Kooltjie begin rooiwarm in die dak gloei en dan ontstaan ’n vlammetjie. Dit word vinnig groter tot woedende vlamme teen die lug uitklim.

Een van die krygers gryp Sybrand se snaphaan en gooi dit by die voordeur in.

Annie kyk verskrik na Sybrand. Sy kake is saamgepers en magteloosheid is in sy vuiste saamgebol. Daardie snaphaan was sy vader Frederik s’n en hy was altyd so heilig daarop. Hoe vreeslik moet dit vir hom wees om te kyk hoe hulle dit met so min respek hanteer, vernietig.

Haar hart mis ’n slag toe Sybrand skielik ’n klomp onverstaanbare woorde in Xhosa aframmel. Het sy selfbeheersing ingegee en nou trap hy die Xhosas uit? Hy moet tog weet dit kan hulle dood beteken!

Die krygers hou hul spiese met hernieude ywer gereed terwyl hulle behoedsaam na hom luister. Eers toe ’n paar bevrees na die huis kyk, tref dit Annie wat Sybrand vir hulle probeer sê. Die kruit gaan ontplof.

Een van die manne gee bevel dat die krygers moet retireer. Dit geskied voetjie vir senutergende voetjie, seker uit vrees dat Sybrand hulle met ’n slap riem probeer vang.

Die beeste bulk indringend. Harde fluite en stemme ja hulle aan. Êrens blêr ’n lammetjie. Swart wolke bol teen die hemel uit.

Andrea se blik bly op die huis – die huis wat Sybrand vir hulle gebou het. Die dak gee eerste by die kombuis in. Hul melktert staan op die kombuistafel. Die boeretroos is seker nou al lou. Sybrand het met die stinkhouttafel en -stoele in die voorhuis groot­geword. Dink net as daardie tafel al die stories kon weergee wat rondom hom vertel is.

Die vlammegeweld versprei na Andrea-hulle se kamer. Die pragtige ledekant het Sybrand spesiaal vir haar gekoop. Al Andrea se kosbaarhede lê in die kis daarvoor: die tabberd waarin sy getrou het, haar kisklere, agtergrootmoeder Bernhardina se borsspeld . . . Daar is seker ook aandenkings en geskenke van Sybrand af.

Bessie kom tjank-tjank om die huis gehardloop. Haar agterbeen sleep en haar swart pels is rooi gevlek.

“Nee!”

Andrea reageer blitsvinnig en gryp Annie se arm waarskuwend vas. “Annie, wag! Die Xhosas sal niks daarvan dink om jou én Bessie te vermoor nie. Ek weet jy wil haar gaan help. Ek wil ook, maar ons sal moet wag.”

Annie knik, sluit haar oë en asem diep in. Waar is die ander honde? Sy het hulle laas hoor blaf toe sy en Andrea nog in die huis was.

Toe ’n perd runnik, vlieg haar oë oop. Prins! As hulle hóm steel of doodmaak . . .

Wat van vader Isak en moeder Alet? Blijdevooruitzicht is maar twee myl hiervandaan. Vir al wat sy weet, is hulle huis in hierdie oomblik ook besig om in vlamme op te gaan.

’n Ontploffing skiet ’n bol vuur die lug in. Die slag ruk deur Annie. Drienie begin histeries huil. Andrea druk haar koppie styf vas en fluister trooswoorde naby haar oor.

Annie draai haar gesig weg na die veld waar die grashalms vredig in die wind wieg, onaangeraak deur die vernietigende gebeure. Sal daar dan nooit vrede in hierdie land wees nie?


’n Doodse stilte daal op die werf neer toe die Xhosas ligvoets wegdraf. Dit is net die vuur wat nog knetter, sy felheid nou uitgewoed.

Sybrand draai na sy werkers en deel bevele uit. Dan trek hy sy vrou en kinders in sy arms in. Andrea hou haar hand na Annie uit. Die ou seer laat An­nie nie toe om dit te neem nie, al weet sy Sybrand en Andrea het haar nooit doelbewus uitgesluit nie.

Boonop moet sy so gou moontlik by Drienie se wol­haarbrakkie uitkom.

Bessie se stert beweeg toe sy op haar knieë langs die hondjie neerval. “Ou Bessie.” Dit is nie net haar been wat seergekry het nie; daar is ook ’n slegte steekwond in haar sy. Annie se maag maak so ’n woeste draai dat sy eers ’n oomblik moet wegkyk.

Trane vloei opeens in haar oë toe sy terugkyk en oor die wollerige koppie streel. “Ek is jammer, ou Bessie.”

Bessie kry haar kop net effens gelig voor dit weer terugval. ’n Ruk gaan deur haar lyf. Toe is sy weg.

Annie sak vooroor tot haar kop aan Bessie s’n raak. Smart stroom oor haar wange. Hoe kon die Xhosas dit aan ’n onskuldige, liewe hondjie doen?

’n Snik langs haar laat haar opkyk. Drienie was só lief vir Bessie.

Annie is nie in staat om haar hartseer weg te sluk toe sy opstaan nie. Sy druk Drienie teen haar vas en huil saam met haar. Al die jammers in die wêreld kan nie die seer wegvat nie. Dit sal met die tyd beter raak, maar sal dalk nooit heeltemal weg­gaan nie.

Andrea sluit by hulle aan en Annie gee haar ’n medelydende drukkie. “Ek wens daar is iets wat ek kan doen om dit beter te maak.”

“Ons almal lewe, Annie.” Andrea glimlag moedig, maar Annie kan sien haar suster is platgeslaan. “Sybrand en die werkers kyk gou wat hulle kan red. Dan sal ons saam met jou na Moeder-hulle toe gaan om daar te oornag.”

Annie byt haar onderlip vas. Wat as hulle daar aankom en haar ouers het ook alles verloor? Sê nou haar ouers het iets oorgekom?

Sybrand en Andrea sal nie twee keer daaroor dink om haar onder hul vlerk te neem nie. Hoe sal sy hulle kan oortuig dat sy nie kán nie? Die weg van die waarheid is die kortste, maar soms is die waar­heid nie ’n opsie nie. “Ek moet gou gaan kyk of ek Prins kan kry.”

“Sybrand het gesê ons drie moet bymekaar bly en hier vir hom wag. Moet jou nie bekommer nie; hulle sal vir Prins ook uitkyk.”

“Kan ons nie net tot by die kraal stap nie? As­seblief. Netnou het hy seergekry en lê hy daar en ly.” Annie kyk smekend na Andrea.

“Nou goed, maar nie verder as die kraal nie, hoor?”


Die kraalmuur gooi ’n lang skadu oor mis en spoor. Daar is nie ’n dier in sig nie. Dit bring net gedeelte­lik verligting. “Ek hoop nie hulle het hom gesteel nie.”

’n Glimlag pluk aan Andrea se mondhoeke. “Dink jy hulle sal hom gery kry?”

Annie lag. Prins laat nie enigiemand toe om op hom te ry nie. Dit sal egter nie die Xhosas keer om hom aan te jaag en by hul krale te gaan “inbreek” nie. As sy dink watse metodes hulle sal gebruik, wil sy sommer huil.


Al wat van hierdie veelbewoë dag oor is, is ’n rook-bevlekte oranje gloed waar die huis gestaan het. Sybrand kon nie ’n enkele perd terugvind waar­mee hulle na Blijdevooruitzicht kan ry nie. Hy het oor die agt honderd beeste en twee honderd skape verloor. Om en by twee honderd beeste en vyf hon­derd skape is egter teruggevind wat in die harwar agtergebly het. Al hul honde is dood.

Wat moet deur sy kop gaan? Ondanks sy dank­baarheid dat hulle dit oorleef het, moet hy baie bit­ter wees.

Met elke tree wat hulle nader aan haar ouerhuis kom, trek die knoop in haar maag al stywer. Oral langs die pad trek rokies; die bure moes net so erg soos Sybrand-hulle deurgeloop het. Haar oë is al seer gekyk of sy enige rook in die rigting van hul opstal kan sien.

Honde begin blaf. Annie gaan staan en glimlag al hoe breër. Dit is die mooiste geluid wat sy nog ooit gehoor het, want as hul honde leef, leef haar ouers en staan hul huis.

Bakkies, Snorre en Roet kom kwispelstert aangehardloop. Sy buk af, streel oor hul koppe en krap agter hul ore. Dankie, dankie, dankie. Nou is dit nog net Prins . . . Is daar ’n kans dat hy huis toe sou hard­loop?

Sy staan op en fluit so hard sy kan. Haar kop gaan heen en weer, meer om te hoor as te kyk. In die ske­merte kan sy slegs die naaste swart silhoeëtte uit­maak.

Komaan, Prins! Ná alles wat dit gevat het om sy vertroue te wen, kan hy nie weg wees nie. Hy was bestem vir sy vorige eienaar se koeël en totaal buite beheer toe sy aangebied het om hom te koop.

Mijnheer Bronkhorst het dit afgelag en haar va­der was glad nie geneë om die geld vir haar te gee nie. Wat kan ’n nooientjie soos sy immers met so ’n wilde perd doen? Sy is nie die deursneeboervrou nie. Dit beteken egter nie sy kan nie met diere werk nie, en sy vermoed haar vader het dit geweet.

Of dit haar smeekgebede was of bloot die feit dat die perd al klaar vir mijnheer Bronkhorst so goed as dood was, sou sy nie kon sê nie, maar hy het na­derhand ingegee; wel met deeglike vermanings oor waarvoor sy haar inlaat. Hy het seker vas geglo sy sou afval en haar nek breek.

Die eerste ding wat sy gedoen het, was om die perd se naam van Satan na Prins te verander. Geen dier verdien so ’n bose naam nie.

Origens het sy ure op die kraalmuur deurgebring en met hom gepraat. Nie oor ditjies en datjies nie, maar oor hartsdinge – al daardie dinge wat haar ge­pla het wat sy nie eens vir Andrea kon vertel nie. Sy weet hy het geluister, al het hy traak-my-nieagtig in die kraal rondgeloop.

Naderhand het hy ook met haar begin praat; nie met woorde wat haar ore kon uitmaak nie, maar met boodskappe wat haar hart in sy oë kon sien.

Maande het verloop voor sy die eerste keer op hom kon ry. Hy het haar nog nooit afgegooi nie. Haar oë flikker toe sy ’n runnik hoor. Dit kom uit die rigting van die huis. En sy ken dáárdie runnik.
Dalk sal Sybrand-hulle se perde nog terugkeer. Sy kan net vir sy part duim vashou.