Skip to main content

Uittreksel | Meer as blomme – Ildé Grové

Een

“En toe, Sus, vir hoe lank beplan jy nog om weg te kruip?” vra Vincent en sit sy leë koffiebeker op die hoek van die eetkamertafel neer.

“Ek kruip g’n weg nie,” kap Mia vies terug. Sy moes van beter geweet het. Haar ouboet se onverwagte besoek was g’n omdat hy so vreeslik na haar spesiale brousel koffie en ouma Drienie se beskuit verlang het nie. Inteendeel, hy wou net weer sy neus kom indruk waar dit nie hoort nie.

“Nou wat noem jy dié?” Hy beduie met ’n oordrewe beweging van sy arm na die kaartjies, koeverte, kleurvolle penne en stukkies lint wat verstrooid op die tafel tussen hulle lê. Sy neus trek op ’n plooi. “Om nie eens van jou voorkoms te praat nie. Dit lyk of jy uit verlede week se wasgoedmandjie gekruip het.”

“Dis my lewe,” antwoord sy koel. “As jy ’n probleem daarmee het, moet jy liewer loop.” Doelbewus trek sy die eerste kaartjie nader. Hopelik as sy besig lyk, sal haar ouboet die boodskap kry: Loop net! Vir wat moet hy juis vanoggend kom karring? Weet hy nie dis Valentynsdag nie? Die dag waarop Jacques . . . Sy sluit haar oë.

Dwing haar gedagtes terug na die leë kaartjies voor haar. Probeer hulle daar hou. Sy moet iets poëties probeer optower vir die hoop kaartjies wat Ouma haar gegee het. Elke kaartjie moet sy eie unieke, romantiese bewoording hê spesiaal vir Valentynsdag, maar haar kop is leeg. Leeg soos haar hart.

“Mieks?” vra hy sag. “Ek ken jou nie so nie. Jy is nie een vir opkrul en doodgaan nie. Wanneer gaan jy weer begin lewe?”

Sy sluk krampagtig. “Het jy nie ’n skildery wat moet klaar of iemand anders se kop waarin jy kan gaan krap nie?”

Hy glimlag skeefweg. “Jy probeer verniet my vraag omseil, maar in antwoord op joune: Daardie skildery van die trop leeus waarmee ek al ’n ewigheid sukkel, is uiteindelik klaar. Wat pasiënte betref, my eerste en, vir jou kennisname, enigste pasiënt kom eers drieuur vanmiddag. Ek begin eers Maandag weer volstoom werk.”

“Dié dat jy my siel kom versondig.” Sy bly skielik stil. ’n Vae suspisie roer in haar agterkop. “Sit ouma Drienie agter hierdie kwansuise kuiertjie van jou?” Haar oë fynkam sy gesig.

Hy kug. “Sy . . . ons is net bekommerd oor jou. Jy is soos ’n plant wat besig is om stadig te verdor.”

Mia probeer hard om op die kaartjie met sy bos bloedrooi rose te fokus eerder as om vasgevang te word in die simpatieke blik van haar broer. Hoe lank neem dit om ’n gebroke hart te genees? “Ek waardeer julle besorgdheid maar daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek geniet wat ek doen.”

“Jy sal harder moet probeer as dit. Die sussie wat ek ken, sou nooit daarmee tevrede wees om net soetsappige woorde uit te dink vir kaartjies en blomme te verkoop nie.”

“Miskien het daardie sussie van jou verander, ooit daaraan gedink?”
Hy skud sy kop heftig. “Sy het nie verander nie. Sy het bloot soos ’n lamsak kom wegkruip. Besluit dis makliker om op ’n selfbejammerende hopie te kom sit as om te bly lewe.”

Mia hap-hap ’n paar maal na lug. “Hoe durf jy!”

“Ek durf, want ek is die enigste een wat blykbaar die moed het om dit vir jou te sê.”

Haar hand bewe merkbaar oor die kaartjie voor haar. Sy probeer dit nie eens stil nie. “Jy verstaan niks. Weet jy ooit wat vandag is?”

Hy stoot sy stoel agteruit en staan op. “Jou troudag.”

Mia snak na haar asem.

Sy stem versag. “Ek weet dit maak bitter seer, Mieks, maar dink jy nie daardie loser het al genoeg van jou gesteel nie? Moenie dat hy die res van jou lewe ook steel nie.” Sonder ’n verdere woord draai hy om en stap uit.

Mia bly verslae sit. Vincent se woorde tref haar soos ’n vuishou in haar maag. Hy was in die afgelope twee maande oorsee by kongresse en wie weet wat nog, anders het hy seker lankal sy sielkunde op haar kom uithaal. En Ouma? Ouma was maar net Ouma. Haar toegespin in ’n kokon van liefde, warmte en vergifnis terwyl sy geduldig wag vir haar kleinkind om te genees.

Seker ook nie meer so geduldig nie. Dié dat sy Vincent op sy eerste dag terug in die land stuur om sin in sy sussie se kop te probeer praat. Mia sug. Sy voel kompleet soos haar kinderboekheld Rip van Winkel wat ná ’n lang, donker slaap wakker word. Iewers het sy ophou lewe. Sy het bly bestaan. Bly asemhaal. Die werkies in en om Die Geelkatstert wat Ouma haar gegee het, soos ’n outomaat gedoen. Dag in en dag uit. Bloot omdat sy nie anders kon of wou nie. Sy byt haar onderlip pynlik vas. Jacques hét meer as genoeg van haar gesteel. Haar jeug, haar drome, haar grootste talent, onskuld, eerste liefde en die afgelope nuttelose maande. Vincent is reg. Sy kan hom nie die res van haar self of haar lewe gee nie.

Ironies dat sy juis vandag, die dag waarop sy sou trou, moet wakker skrik, dink sy wrang. Valentynsdag, ’n dag waarop sprokies waar word. Maar in haar geval het die prins in ’n vet padda verander en haar droom in ’n nagmerrie. Sy stoot die kaartjie net betyds weg voor ’n traan op die tafel voor haar neerplons.

Ná ’n ruk tel sy haar kop op en snuif hard. Sy voel anders. Skoon. Sy moes hierdie huilsessie al lankal gehad het. Sommer die eerste dag toe Jacques se verraad op die lappe gekom het, maar toe was sy te geskok gewees en te bang dat as sy eers begin huil, sy dalk nooit weer sal kan ophou nie. Al waaraan sy kon dink, was wegkom.

Gelukkig was haar huweliksbeplanner meer as bereid om al die kansellasies op haar skouers te neem. Haar droomrok het sy vir die naaste welsynsorganisasie geskenk.

Sy haal ’n paar maal diep asem. Genoeg hiervan. Dis tyd om haar lewe terug te neem. Mia staan op en stap badkamer toe om haar gesig te gaan afspoel. Ná ’n paar keer se afspoel bekyk sy haar gesig noukeurig in die spieël. Die koel water het ietwat gehelp vir haar rooi gesig en pofferige oë. Sy trek haar skouers ferm agtertoe.

Nooit weer gaan sy haarself so blootstel aan ’n man dat hy haar hart en drome flenters kan trap nie. Sy trek skewelip vir haar spieëlbeeld. Tyd vir ’n makeover. As sy gou maak, en met hope geluk, kry sy nog voor twaalfuur ’n afspraak by ’n haarkapper en genoeg tyd om ’n nuwe uitrusting te koop. Niks uitspattings nie, net iets wat beter lyk as ’n verslonste denim en T-hemp. Die Geelkatstert se kaartjies sal moet wag. Hierdie Valentynsdag is die eerste dag van die res van haar nuwe lewe. Met veel ligter tred stap sy kamer toe om die haarkapper te bel.


Die Geelkatstert se deur klingel vrolik toe Mia dit presies om twaalfuur oopstoot. Oudergewoonte maak sy haar oë vir ’n oomblik toe en trek haar asem diep in. Verlustig haar in die mengelmoes van jasmyn, roos, laventel en dennenaalde.

“Kan ek help?” ’n Gryskopvrou verskyn van agter die ragfyn gordyn wat die winkel van die kombuisie-cum-werksarea skei. Haar arms vol blomme. “Mia!”

Mia draai stadig in die rondte. Haar sigeunerromp swiep-swiep teen haar bene. “En toe? Wat dink Ouma?”

“Hartjie?” Ouma Drienie plak die bos blomme op die naaste tafel neer en stap nader. “Jou hare?” fluister sy. Haar vingerpunte streel rakelings oor Mia se hare. Haar oë skiet vol trane.

“Wat’s fout? Hou Ouma nie daarvan nie?”

“Aia, hartjie, natuurlik hou ek daarvan.” Sy sluk. “Dis lekker om my rooikop terug te hê. Ek het niks van daardie swart hare van jou gehou nie”.

Maar Jacques het. Om die waarheid te sê, hy het dit vereis. In die begin het sy teëgestribbel en toe haar siel verkoop. “Dis meer as net die hare, Ouma. Die ou Mia is terug. Daardie patetiese ou dingetjie van die afgelope twee maande is vir goed begrawe.”

Ouma Drienie se oë blink. “Welkom terug, hartjie. Ek hoop dit beteken jy gaan ook terug na jou sang- en musiekloopbaan toe?”

“Nee, Ouma. Daardie deel van my lewe is vir goed verby.”

“Moenie so sê nie, hartjie.”

Mia grawe blindelings in haar handsak na die kaartjies. Sy het die kraak in haar ouma se stem gehoor. Hoe verduidelik sy haar hart sal nooit weer heel genoeg wees om te kan sing nie? “Hier . . . hier’s Ouma se kaartjies.”

Ouma Drienie blaai vinnig deur hulle, lees hier en daar die woorde. “Dit sal seker moet doen.”

“Ek’s rêrig jammer, Ouma. Ek wou meer kaartjies geskryf het, maar daar was eenvoudig nie tyd gewees nie.”

“Hartjie, die probleem is nie die getal kaartjies nie, maar die woorde. Hulle kom uit jou kop in stede van jou hart.”

Agter hulle klingel die deurklokkie genadiglik. “Drien!” ’n Gesette vrou in ’n geel rok gevolg deur tweelingdogtertjies kom die winkel binnegestorm. “Jy moet my net help.”

“Ek is nou by jou, Olivia.” Sy beduie na die bos blomme op die tafel. “Mia, sal jy asseblief die ruiker doen? Die res van die blomme is agter in die winkel. Ons bestellings is vanoggend laat afgelewer. Blykbaar een of ander diensleweringstaking op die snelweg gewees.”

“Wie’s sy?” vra Olivia in ’n hoorbare fluister aan ouma Drienie.
“Herken jy nie onse Mia nie?”

Die gesette vrou se kop ruk om. “Mia! Kind, jy lyk dan skoon mooi!”
Mia hou haar doenig met die ruiker. Sy hoop naarstiglik die bos pienk rose verbloem die glimlag wat voelbaar aan haar mondhoeke pluk. Die vrou se openlike verdwasing is ’n komedie op sy eie. “Dankie, Tante.”

“Jy moet dat ek jou aan my neef se seun voorstel. Ek is seker julle twee . . .”

“Kom, Olivia.” Ouma Drienie stuur haar behendig agtertoe. “Ons het gister die mooiste angeliere ingekry. Ek weet jy hou gewoonlik van die pienkes, maar jy moet die nuwe kleure sien wat ek gekry het. Hulle het dit spesiaal vir Valentynsdag gestuur.”

Mia hou die twee vriendinne nog ’n oomblik dop voor sy die roosknop se steeltjie versigtig korter knip. Tante Olivia probeer al hoe lank om die einste neef se kind aan haar voor te stel. Dankie tog vir ouma Drienie se diplomatiese ingrepe elke keer. Sy loer vinnig oor haar skouer. Die tweeling is doenig by ’n bossie kleurvolle asters. Haar hart ruk pynlik toe hulle gelyk omkyk en skaam vir haar glimlag. Sy stap dadelik nader en druk ’n blom in elkeen se hand.

Dis hoe sy haar en Jacques se kinders voorgestel het hier in haar ouma se winkel tussen al die blomme en kosbare herinneringe. Sy draai blindelings om en stap terug na die ruiker toe. Sy moet haar hande en kop besig hou. Dis al hoe sy hierdie ellendige gedagtes gaan hokslaan. Genadiglik klingel die deurklokkie weer. ’n Handvol van ouma se vriendinne kom binnegestap.

“Môre, Mia,” koor hulle. “Waar’s jou ouma?”

“Hier’s ek,” antwoord ouma Drienie en kom uitgestap van agter die gordyn, gevolg deur ’n tevrede Olivia, haar arms vol angeliere.
Die groepie vrouens storm kekkelend op hulle af.

“Drien, jy onthou van Saterdagaand se pokerspel. Seweuur, nè?”

“Drien, kan jy vir my ’n skouerruiker maak?”

“Drien, het jy nog daardie sjokoladekoekresep van jou?”

“Drien, ek soek ’n dosyn rooi rose, nee, maak dit eerder wit, of wat dink jy?”

Hulle is skaars by die deur uit of die volgende groepie kliënte kom binne. Almal op soek na ouma Drienie.

Mia skuif die hoeveelste voltooide ruiker tot op die punt van die tafel. Haar maag gor-gor. Behalwe vir die twee stukkies beskuit vanoggend saam met Vincent, het sy nog niks anders geëet nie.

Daar is net twee kliënte, verder is die winkel leeg. Nou is so ’n goeie tyd as ooit. Sy glip agter die gordyn in en stap deur na die klein kombuisie met sy yskas, twee diep leunstoele en mankolieke kas waarop die ketel, bekers, houers met koffie, tee, suiker en melkpoeier staan. Uit die yskas haal sy ’n klein bakkie aarbeijogurt. Sy skakel die ketel aan en verwyder ’n pak verlore speelkaarte van die leunstoel voor sy daarin wegsak met haar bakkie jogurt en lepel.

Veraf kan sy die sagte gedreun van stemme hoor. Ouma en in alle waarskynlikheid twee nuwe vriendinne. Sy sak met haar kop teen die rugleuning en sluit haar oë. Elke persoon wat by hierdie winkel instap, word een of ander tyd, gewoonlik vroeër as later, ingetrek by Ouma se ewig groeiende vriendekring. Hier word meer as net blomme verkoop. Dis ’n oase vir stukkende en eensame harte.

“Mia, hartjie.”

Iemand skud aan haar skouer. Mia maak haar oë traag oop. Skuif dan vinnig regop. “Ouma.” Iets voel skielik koud en nat oor haar bors. Sy kyk af. ’n Pienk vlek groei oor haar wit bloes.

“Skuus, hartjie. Ek wou jou nie laat skrik nie. Net seker maak jy is oukei.”

“Ek moes aan die slaap geraak het. Hoe laat is dit?”
“Vyfuur.”

Sy vlieg uit die stoel. “Maar dis mos hoe laat oom Peet vir Ouma kom haal?”

“Hy’s klaar hier. Hy wag voor in die winkel.”

“Ai, Ouma. Ek is so jammer. Ouma moes my al lankal kom wakker maak het.

“Ek kon dit nie oor my hart kry nie. Jy het so rustig gelyk. Buitendien,” sy beduie na die pienk kol, “jy kan nie so voor die kliënte verskyn nie. Ek sal moet bly.”

“Bog. Dis my eie skuld dat ek aan die slaap geraak het met die jogurt in my hande.”

“En die kliënte?”

“Niemand hoef my so te sien nie. Ons maak die winkel nou toe. Dis net ’n halfuur vroeër as gewoonlik. Dis Valentynsdag. Wie ook al blomme wou gekoop het, moes al.”

“Ek weet darem nie. Die kliënte . . .?”

“. . . kan sekerlik die een keer sonder Ouma klaarkom. Toe, weg is Ouma. Oom Peet wag. Ek en Lord Nelson sal toesluit.”