Skip to main content

Uittreksel | Matrone op ’n Harley

Een

“Charlotte Beyers, het jy so waaragtig agter my rug met daardie brommasjien van jou die lang pad Mosselbaai toe gevat!” In haar geestesoog sien sy hoe hy met sy arm in die lug beduie. “Die oomblik toe ek my rug gedraai het, is jy vort met jou oupa se motorfiets!”

“Maar ek hét mos gegroet, Prof Jan . . .

“Ja, dit was Vrydag! Ek moes nooit konferensie toe gegaan het nie.” Sy hoor hoe hy mopperend iets rondskuif. “Ek moes jou self op die vliegmasjien gesit het.”

“Ek is mos nou veilig hier! Ou Charlie is my enig­ste ryding, hoe kon ek hom nou in die Kaap gelos het?” Sy sluk.

“Waar is jy? Hoe weet jy jy’s op die regte pad? Jy weet hoe rigtingbedo. . . e . . . bedinges jy is! Onthou jy die slag toe jy –”

Charlotte val hom vinnig in die rede voor hy weer die storie kan vertel van die dag toe sy vanaf die Kaap na Malmesbury toe wou ry en in Herma­nus gaan draai het. Sy hét aan hom verduidelik dat sy agter die lenteblommetjies aangery en heeltemal vergeet het waarheen sy op pad was.

“Prof, luister! Ek staan nou net hier voor die Robinson-pas by die afdraai na die kliniek. Ek weet nie of ek boontoe ’n sein sal kry nie, want die pad lyk steil.”

“Is jy seker dis die regte plek?”

“Hier staan die bord reg voor my, Prof, die ding is amper groter as die berg: SHALOM PRIVAAT VER­PLEEGINRIGTING.”

“Hoekom is jy dan so laat nog op die pad?” Hy klink agterdogtig. “Het jy die ver. . . ditsimste motor­fiets die hele pad gestoot of het jy weer verdwaal?”

“Ek het te lank ontbyt geëet by Peregrine-pad­stal.”

“Praat nou van onverantwoordelik wees . . .”

Sy steur haar nie aan sy tussenwerpsels nie, want die vreemdheid van haar nuwe werksomgewing veroorsaak ’n stywe knop op die krop van haar maag. “Tussen Swellendam en Heidelberg het ek vir ure agter ’n enorme swaarvoertuig beland wat met ’n swetterjoel voertuie en flitsende ligte aangekruie het. Ek kon nie verbyry nie.”

“Nou toe, ry nou voor dit donker word daar in die berge. Ek sal netnou met Adriaan praat. Hy an­twoord nog nie sy verd. . . verdingeste foon nie!” Sy hoor aan die kras geluide dat hy seker voor sy less­enaar sit en sy frustrasie op sy skryfgoed uithaal.

Sy lag in sy oor. “Dié ou vriend van Prof is seker net so verstrooid soos party mense wat ek ken.”

“Solank jy net onthou dat die ‘ou vriend’ jou baas gaan wees en jy nie jou speelgoed uit die kot gooi as hy jou teëgaan nie.”

“Hoe ken Prof my?”

Sy glimlag toe sy sien dat hy die foon net so, sonder om te groet, in haar oor doodgedruk het. Sy ken sy eksentrieke maniere al sedert sy ’n dog­tertjie is. Prof Jan, soos haar pa sy universiteits­kollega genoem het, het ook vir haar Prof Jan ge­word; trouens, hy was deel van hulle familie en het des te meer familie geword toe sy alleen oorgebly het – soos ’n pa, ’n mentor wat haar met ’n arendsoog dophou en leiding gee waar sy dit kort. So is dit hy wat haar vertel het van die matronepos wat op Shalom oopgegaan het.

Met ’n noulettende oog bekyk sy die bord voor haar. Die strak woorde spel eksklusiwiteit. Sy is dank­baar vir hierdie werk wat sy gekry het; sy sou selfs in die woestyn of op see gaan werk het, solank dit sou beteken dat sy uit Kaapstad kon wegkom waar almal van haar weet. Sy draai die sleutel sodat die motorfiets onder haar sitvlak kragtig vibreer. Sy kyk met respek na die hoë kranse van die majestueuse Outeniquas se skoonheid voor haar – Prof Jan het belowe dat dit die naaste plek aan die paradys is wat ’n mens op aarde kan kry.

Nou ja, Charlotte, kry jou ry. Iewers hier voor in die tuin van Eden gaan jy nou jou slag moet wys. Regs van haar kronkel ’n motor versigtig teen die eerste steilte van die pas in.

Haar hart klop in haar keel; sy trek haar asem ruk­kerig in en blik vinnig na die horlosie op die motorfiets se effens geronde paneel. Sy druk ’n vinger onder die valhelm in waar haar leerbaadjie ongemaklik teen haar nek plooi. Sy het vanoggend te laat uit die Kaap vertrek, besef sy. Sy het aangeneem dat die pad op ’n Maandag stiller sou wees as gewoonlik.

Sy smoor die versneller op haar handvatsel ef­fens voor sy links swenk op die geplaveide pad. Shalom, hier kom ek! Dis nie maklik om met ’n Harley met ’n syspan veilig om ’n draai te gaan nie, maar haar oupa het haar deeglik onderrig in die hantering van sy geliefde motorfiets voor hy haar toegelaat het om op ’n openbare pad te gaan. Toe het hy nog saam met haar gery.

Sy druk die neus van die fiets in die skadu’s van suikerbosse deur op die smal pad wat slingerend teen die berg op kronkel; die digtheid van ’n den­nebos laat nie ’n kol sonlig deur toe sy die versneller oopmaak om met krag ’n volgende steilte uit te klim nie. Op ’n skerp draai in die pad maak die kranse oop en lei haar oog na ’n uitsig wat haar dwing om spoed te verminder. Sy stop die fiets baie vinnig toe sy die son op die ronding van die see op die verre horison oor die deinings van die beboste koppe van Ruiterbos deur sien flits. Sy het sowat ’n halfuur gelede verby Mosselbaai op die snelweg weggedraai, die binneland in, werk sy vinnig uit, maar sy moet hoog in die berg wees om op só ’n ver afstand ’n glimp van die see te kry.

Prof Jan het nie gejok toe hy gesê het dat hy haar na die paradys stuur nie. Hy het voorspel dat geen spoke van haar verlede haar ooit in dié pragtige omgewing sal inhaal nie.

Sy strek haar gespanne skouers en draai die motorfiets se sleutel beslis. Die kragtige dreuning van die enjin wat deur haar lyf trek, is terselfdertyd troos­tend en opwindend. Hier begin haar nuwe lewe met ’n knal, lag sy oopmond toe die motorfiets met ’n ruk vorentoe spring. Geen man gaan weer die voorreg hê om vir Charlotte Beyers met sy tong of vuis letter­lik of figuurlik teen die grond te kry nie. Maar dankie vir die drie manne in haar lewe wat haar op die nuwe pad gesit het: Pa Eon wat haar op ’n dag aan haar elmboog by haar huis uitgelei het na die polisiekan­toor, en Prof Jan wat haar omgepraat het om hier­die pos te aanvaar. Hier sal sy kan ontsnap van die bekende omgewing waar die verlede haar om elke hoek en draai, in elke winkel en hospitaalgang, kon herinner aan haar verlede. En dankie, oupa André vir ou Charlie wat hy aan haar bemaak het toe hy die motorfiets na haar vernoem het! Sy klap liefkosend op die syspan wat net so blinkrooi en mooi soos die motorfiets is, en waarin haar handsak veilig onder ’n seil toegezirts in die passasierskapsule skuil.
Sy rem om voor ’n stewige ysterhek tot stilstand te kom. Bo-oor die hek krul die naam Shalom im­posant in gegote yster om die landgoed aan te dui. ’n Klipgeboutjie staan neffens die hek, net duskant ’n baie ou knoetserige akkerboom. Behalwe vir ’n bok­kie wat sy vlugtig tussen die bosse deur sien wegskarrel, is daar geen beweging te bespeur nie.
Dan sien sy die paar groot oë wat ongelowig na haar deur ’n klein venstertjie staar. Sy rev die ver­sneller vir ’n oomblik voor sy die masjien afskakel. Sy sug en klim van die motorfiets af.

“Hallo!” Sy waai na die figuur in die venster, maar dit roer nie. “Hallo . . . Meneer?” Sy knoop haar val­helm los. Haar donker hare val los om haar skouers toe sy die rekkie lostrek.

“Jô! Jy’s ’n vroumens?”

“Hoe het jy gedink?” Sy sukkel om haar gesig se­dig te hou toe die sekuriteitswag in sy donker uni­form versigtig om die deur loer. “Gaan jy vir my die hek oopmaak?”

“Eisj, nee! Hierdie is ’n private hospital.”

“Ek weet, want ek kom hier werk.” Sy trap skeef. Die feit dat dit nou ernstig tot haar deurdring dat dit regtig die plek is waar haar voete ’n holte moet vind vir die volgende paar jaar, skommel haar ewewig. Sy word bewus van ’n ademlose stilte tussen die sagte kruiereuk – fynbos!

“Met die mouterbaaik?” ruk die man se ongelowigheid haar gedagtes terug. Hy pons iets in op die foon in sy hand, maar bly wantrouig anderkant die hek staan. Sy hoor die kraakgeluid van stemme – ’n interkomstelsel, vermoed sy.

Charlotte rek haar bene. Sy is moeg – die Kaap lê nie net om die draai nie. As hier selfoonontvangs tussen die klowe is, kon sy maar self bel, dink sy vies.

“Naam, asseblief, name, please?” Hy druk steeds die foon verbete teen sy oor vas.

“Charlotte Beyers.” Sy sien hoe sy mond stadig oopgaan.

“Die nuwe matron?” vra hy en praat dan vinnig oor die foon: “Eh-whê! Dis sy!” Daar is nuwe lewe in die hekwag se lyf. Hy maak vinnig oop en lig dan sy hand asof hy haar salueer. “Welkom by Shalom Kli­niek. Welcome to Shalom Clinic.”

“En wat is jou naam?” vra sy terwyl sy haar haar hare onder die valhelm inbondel en haar been oor die motorfiets swaai.

“Salomo, Juffrou.”

“Dag, Salomo,” groet sy en wuif vir hom met haar gehandskoende hand. “Weet jy dalk of ’n afleweringsvoertuig vanoggend my bagasie hier by die kli­niek kom aflaai het?”

“Hy het, Juffrou. Vroegmôre al.”

Charlotte se oog vang die mansfiguur in haar spieëltjie met die foon teen sy oor. “Hier kom klaar moeilikheid, Charlie,” gesels sy binnensmonds met die kragtige stuk metaal onder haar sitvlak, “en dit het iets met jou te doen. Of dalk het ek vir die man soos iets uit die onderwêreld gelyk.”

Die skemerskadu’s onder die bome wyk toe die klowe oopmaak en die pad uitloop op ’n plat, groen plato. Die gebou wat voor haar lê, sweef soos ’n skip teen die agtergrond van die bergklowe. Dis ’n moderne gebou, met vyf dubbelverdiepingvensters wat in V-vorm vorentoe strek om deel te vorm van ’n enorme stoep waarop patiomeubels gesellig ge­rangskik staan.
Soos in ’n skildery wat hulle deel van die gebou maak, wag ’n paar mense in ’n reguit ry, in spierwit uniforms, haar stokstil in. Sy ry met die sirkelpad tot reg voor die trappe. Dis asof selfs die wind en wolke in hierdie oomblik gevries het. ’n Groot sjokolade­bruin Labrador sluip uiteindelik agterdogtig teen die trappe af in haar rigting. Charlotte klim versigtig van die motorfiets af toe die hond naby aan haar kom. Hy is eerder versigtig as aggressief, herken sy die lyftaal. Sy haal haar valhelm af, skud haar hare los en kyk vraend na vyf gesigte wat met verskil­lende uitdrukkings na haar staar. Sy skreef haar oë, want sy kan sweer dat al vyf se monde oophang asof hulle almal met een mond tegelykertyd aan die praat wou gaan.

“Hallo, honne.” Sy buk om die groot kop te vryf. Die oomblik toe sy opkyk, sien sy ’n donker geklede mansfiguur wat by die imposante houtdeur omdraai om in die dieptes van die gebou te verdwyn.

Wel, as Mohammed dan nie na die berg wil gaan nie . . . Haar oog vang die laaste strale van die on­dergaande son se blink op die strepie see.

“Goeienaand, mense.” Sy loop rondom Char­lie om die syspan se oortreksel oop te rits en haar handsak uit te haal. Terwyl sy die paar trappe opwip, swaai haar blik oor die asemrowende sonsonder­gang teen die periferie van die bergtoppe. “Ek is bly dat ek vroeg genoeg hier is om dit te sien,” wys sy met haar hand.

Asof daar ’n knoppie gedruk word, klink daar skielik ’n paar stemme tegelykertyd op. Die woord ‘matrone’ kom nie in een voor nie.

“Goeienaand, ons het u al van vanoggend af ver­wag.” Sy kyk om, vas in die gesig van ’n bejaarde, deftige vrou in ’n turkooiskleurige baadjiepak.

As dit die baas van hierdie plaas, of liewer hospitaal, se vrou is, wil ek nie hier wees nie, glip die gedagte deur Charlotte se verwarde brein.

Dit voel of sy saam met Julie Andrews in die fliek Sound of Music haar eie woorde kan sing: “’n Matrone van Shalom Kliniek, what’s so fearsome about that?” Die ligte wat oor die stoep aanknip, knoop skielik haar tong los. Sy steek haar hand uit en lig haar ken. “Charlotte Beyers.” Haar stem dreig om te wankel, maar sy druk deur: “Matrone Beyers.”

“Matrone!”

’n Harde fluit klink waarderend oor die stoep. “Wow! ’n Harley met ’n syspan!” Sy kyk op in die be­wonderende gesig van ’n jong man wat by die groep op die stoep aansluit. “Welkom, Matrone! Ek sal dêm graag ’n rit op haar wil hê. Wow!”

“Dis ’n hy.”

“Ekskuus . . .?”

Charlotte wys trots na haar motorfiets. “Sy naam is Charlie.”

“Oukei. Dis ook net ’n man wat so mooi kan wees,” lag hy breed, en dan, asof hy skielik bewus word van sy pligte, draai hy om na die groep mense wat steeds stom na haar staar. Hy klap met sy hand teen die stetoskoop wat om sy nek hang. “Ek is die inwonende dokter van die kliniek, Maynard Viljoen. Aangename kennis.”

Sy lang arm beduie teen die ry af. “Laat ek jou voorstel, Matrone: Dis mevrou Le Grange, ons ont­vangsdame.” Hy wip sy wenkbroue. “Dis sy wat sorg dat die kliniek se wiele op hulle gebaande weë bly.”

Charlotte knik na die stywe, beplooide gesig van die vrou in turkoois. Haar oë volg Maynard se hand.

“Suster Ada, suster Bea en suster Cornelia.” Hy glimlag. “Ons drie saalsusters. Ons noem hulle die ABC van Shalom.”

Charlotte skud die drie susters se hande. Hulle lyk wel ’n bietjie verward, maar vriendelik genoeg, besluit sy.

“En dit is suster Veronica, ons hoofsuster.” Dis ’n koue hand wat sonder gevoel om hare vou. Charlotte weet instinktief dat hierdie vrou haar nie goedgesind gaan wees nie. Die vrou se oë en gesig is uitdruk­kingloos op haar gerig. ’n Aantreklike gesig wat ver­weer onder die afkeer in haar gesig.

“En dit is die kindersaal se tannie Feetjie,” stel die vrolike dokter Maynard haar bekend aan ’n moeder­like, vol figuur wie se wit kappie op haar kop heelte­mal skeef teen haar hare vasgeknip is. Ons noem haar sommer tannie Fytjie.”

“Dis suster Felicia Witbooi. Ek sal dit waardeer as jy my susters op hulle regte name noem, Dokter, al lyk sy so onnet in haar gekreukelde uniform.” Char­lotte se oog vang Maynard se oë wat hemelwaarts rol as antwoord op die hoofsuster se ysige stem.

“Aangename kennis, suster Fytjie. Ek is seker dat die kinders se lyfies soms op jou skoot sit,” glimlag Charlotte vir haar voordat sy in die swart, venynige oë van suster Veronica vaskyk. “Ek sal almal se volle name mettertyd leer ken, Suster.”

Vinnige voetstappe klap op die stoepteëls agter hulle. ’n Blonde meisie wat sukkel om haar uniform se knope vas te kry lyk windverwaaid, maar sy kyk met só ’n stralende gesig op na haar nuwe matrone dat Charlotte dadelik ’n warmte om haar hart kry.

“Ekskuus, Matrone, William het nou net ’n kop­pie koffie per ongeluk oor my uniform omgekeer. Ek moes eers ’n skone kry.” Haar blik vang die motor­fiets. “Cool! ’n Motorfiets,” roep sy spontaan. “Jis­laaik!”

“Stafverpleegster Botha! Staak jou gebabbel!” Die hoofsuster se stem klap onverbiddelik. Charlotte sien hoe die meisie se gesig val toe sy bedeesd trustaan.

“Bonnie Botha, Matrone,” stel Maynard die meisie ongestoord voor.

Charlotte kyk saam met die ander om toe ’n bus­sie reg voor die stoep stop.

“Dis die nagpersoneel, Matrone. Ek stel voor jy ontmoet hulle op ’n ander keer. Ek sal jou nou deurneem na doktor Adriaan Welgemoed se kantoor, hy verwag u,” onderbreek die ontvangsdame se gearti­kuleerde stem die voorstellery. Charlotte kyk vir oulaas waarderend oor die blou skemerte van die berghange en trek dan haar skouers reguit.

Net voor sy agter die turkoois figuur by die im­posante, gekerfde houtdeure van die gebou in­stap, vang haar oog die kyk tussen Bonnie Botha en die aantreklike inwonende dokter van Shalom Verpleeginrigting. Sy glimlag onwillekeurig. Dan is daar darem ook romanse in die gebou waarin sy nie eintlik ’n gasvrye ontvangs tot dusver ervaar het nie, dink sy verlig.

Charlotte luister na die bekende geluide van dag-en nagpersoneel wat mekaar groet en gewone geselsies maak. Die geluid van trollies klink in die gange op. Dís die karakter en atmosfeer waarin sy tuis voel, dink sy; die haastige, professionele en soms angstige ambiance waarmee hospitaalperso­neel te doen het, selfs krisisoomblikke beleef. Dít is deel van haar hartklop.

Eers toe die ontvangsdame aan ’n deur verder af in die lang gang klop, onthou Charlotte hoe dit voel om voor die skoolhoof se kantoordeur te staan en te wéét dat die ontmoeting dalk nie rooskleurig gaan afloop nie. Die diep, onpersoonlike stem wat op die klop reageer, versterk die gevoel.

“Doktor Welgemoed, ontmóét ons nuwe matróne, me. Beyers.” Verstom wonder Charlotte of die vrou se stem gewoonlik so in ’n gesprek styg en daal of is dit dalk weens ’n tikkie angstigheid; haar gedagtes verstar toe sy teen die stywe rug van die man voor die venster vaskyk. Sy herken die donker geklede figuur wat by die voordeur in verdwyn het toe sy van haar motorfiets afgeklim het.

Charlotte se sug steek diep in haar longe vas. Wraggies weer ’n man met ’n intimiderende houding! Is dit dan haar lot dat hulle soos stekeldorings oor haar lewenspad verskyn?

“Dankie, mevrou Le Grange.” Diep stem. Neu­traal. Hy buig liggies, uit erkentlikheid, in haar rigting sonder om ’n woord van welkom te besig.

Die ontvangsdame verdwyn soos ’n skim by die deur uit. Charlotte kyk die vrou agterna, wens verlangend dat sy saam met die turkoois geklede figuur by hierdie kantoordeur uit kan verdwyn. Sy merk dat die deur op ’n skrefie oopgelos word – dalk uit genade vir haar om vinnig te kan vlug.

“Sit, asseblief.” Met die laaste lig van die dag wat van agter en oor hom skyn, lyk dit of ’n stralekrans hom omgeef. Die illusie word verbreek toe hy oor sy lessenaar leun en ’n lig tussen hulle aanskakel.

Charlotte byt onseker op haar onderlip toe hy op sy stoel neersyg, sy donker kop buig en sy neusbrug met sy duim en middelvinger vasvat. Sy staar in stilte na die streng lyne van sy gesig; hoekige kakebene en sterk ken onder die wye voorkop wat omring word deur ’n perfekte, netjiese haarstyl. Sy breë skouers vertoon hoog bo die tafelblad. Imponerend.
Sy neem op die punt van ’n luukse stoel plaas en sit haar valhelm en handsak langs haar op die Persiese mat neer. Wat verwag hy van haar? Moet sy groet, iets vra, of moet sy bloot haar mond hou? Sy beskou die stil figuur woordeloos.

In ’n raam teen die muur lees sy dieselfde ge­segde wat sy vlugtig in die voorportaal gelees het: Shalom is ’n toestand van volkome heel wees; wel­stand van denke, siel en liggaam – VREDE.

“Matrone?” Sy elmboë rus op die lessenaar voor hom. Hy vleg sy vingers inmekaar en laat rus sy ken daarop om uiteindelik na haar te kyk. “Hier is ’n enorme fout.” Sy sien die moegheid in sy oë; donker oë wat oor haar skeer, oor haar swart leeruitrusting en uiteindelik tot stilstand kom op die valhelm op die vloer langs haar. Selfbewus skuif sy haar voete in die stewige leerstewels dieper onder die stoel in.

Nee! Nie weer nie! Die gedagte is ’n ligflits deur haar kop, dit streep pynlik waar dit raak.

“’n Fout, Doktor?” Sy luister magteloos na die skorheid van haar eie stem.

“Dis . . . jy is . . .” Hy maak ’n magtelose gebaar met sy hande. “Jy sien, ek kon nie self die keuring doen nie, want ek was vir drie maande in die buiteland. Ek is jammer. Jy is . . .”

“Nie wat u verwag het nie?” Sy wip haar wenk­broue. “Is dit ek of Charlie wat u teen die bors stuit?”

“Charlie?” ’n Frons vurk teen sy breë voorkop.

“My motorfiets, Doktor.”

“Sien jy . . . dis presies wat ek bedoel . . .”

“Wat het u verwag, Doktor?”

“’n Matrone wat soos een lyk.”