Uittreksel | Mal oor jou

Een
Issa sit op haar knieë in die bedding, haar wange natgesweet en gloeiend van ergerlikheid vir die Pakistani. Sy druk die selfoon tussen haar oor en skouer vas. Haar voorkop is vol sandkorrels soos sy met die tuinhandskoen daaroor gevee het.
“Jy is besig om my ’n rat voor die oë te probeer draai, Tariq, en jy weet dit,” vat sy die kleinhandelaar vas. “As ons nie by die gewone prys kan hou nie, dan vergeet ons maar van die bestelling, reg so?” Sy gaan voort om klein geel tamatietrossies met ’n snoeiskêr van die stingels af te knip en luister met ’n halwe oor na die man se pleidooie. Raak weereens bewus van die ander oproep wat al vir ’n geruime tyd probeer deurkom.
Sy loer na die foon se skerm. Haar tante sal nie om dowe neute bel nie.
“Hou net vas,” onderbreek sy die man en skakel oor na die ander oproep. “Ja, tant Mads?”
“Jammer om te pla, Hartjie,” sê die ouer vrou, “maar ons het vanaand ’n gas wat wil weet of hy iemand kan saambring vir aandete?”
“En die rede hoekom Tante my daaroor bel, is?”
“Die man het ’n buitengewone versoek. Hy wil graag lamsboud hê saam met iets lekkers soos artisjokke, vir twee.”
“Artisjokke?” ’n Kreun verlaat haar lippe. “Weet hy ooit dat hy by ’n Airbnb ingeboek het? Hulle moet vat wat hulle kry.”
“Hy sê jy kan maar jou prys maak, Issa.”
Sy dink vir ’n oomblik. “In daardie geval kan Tante solank die boud uit die vrieskas haal. Ek sal later die kos kom maak.” Sy lui af en skakel terug na die Pakistani se oproep. “Is jy nog daar, Tariq?”
“Ek is nog hier, Ma’am. Wat is die rat waarvan jy praat?”
“Hou net aan,” sug sy en druk die foon teen haar skouer vas om skuinsoor te leun. “Wellington!” roep sy verby die tamatieranke na haar handlanger. “Gaan vra seblief vir Sanna om vir my vier groot artisjokke te pluk!”
Die antwoord kom terug bo-oor ’n welige muur van groenboontjies: “Reg, my Kleinnooi!”
“Wat wou jy weet, Tariq?” vra sy aan die handelaar. “Of nee, wag. Kom ek sê sommer vir jou. Ek het vanjaar uitstekende oeste. My groente lyk beter as ooit en as jy dink daar is niemand anders wat . . .”
Sy hou op praat toe ’n motor bo teen die pad haar aandag trek. ’n Silwer dubbelkajuitbakkie skop stof en klippe op soos hy op die sypaadjie aftrek. Die voertuig lyk kommerwekkend bekend en met haar aandag stip op die bestuurder, hervat sy die foongesprek.
“Waar was ek? O ja. As jy dink daar is nie ander kliënte wat my groente wil hê nie, Tariq, dan maak jy ’n ys. . .” Sy hou weer op met praat as die bestuurder van die bakkie uitklim en sy die eiendomsagent se kort lyf en blokkieshemp herken. Wat sou Pieter Gerber nou weer wou hê? Sy wil net weer die gesprek hervat, toe ’n deftige spierwit Mercedes Benz agter die dubbelkajuit aftrek en sy met ’n skok besef dat hy ’n voornemende koper bring.
“Tariq,” rammel sy haastig, “ek moet ongelukkig nou gaan, oukei?” Sy druk die foon dood en leun weer oor om langs die tamaties verby te roep. “Wellington! Gaan sê seblief vir meneer Gerber ek is nie hier nie.”
“Maak so, Kleinnooi,” kom sy antwoord en sy sak laag onder die digte rankplante in.
“Mambo! Milo!” roep sy gedemp. Haar twee sjokoladebruin Retrievers vlieg vanuit die skadu’s van die houthut op en waggel opgewonde nader. “Rustig nou,” fluister sy en beduie dat hulle langs haar moet lê. “Nie ’n geluid nie, hoor!”
Terwyl hulle ’n lêplek teen haar vind, slaan die twee motordeure een na die ander toe. Sy luister fyn, hoor hoe die voetstappe al nader kom, met Wellington se bejaarde stem wat hard tussen die rye groentebeddings opklink.
Sy wag vir die twee mans se reaksie en lig haar kop versigtig om te sien of hulle weer die pad gaan vat. Hulle bly egter staan.
“Maak glad nie saak nie,” hoor sy Gerber se luidrugtige antwoord. “Ons is eintlik net hier om te kyk.”
’n Geïrriteerde kreun verlaat haar lippe en sy laat sak weer haar kop, bid dat dit asseblief kliphard moet begin reën.
Wellington is weer terug op sy plek en sy wag in spanning vir die mans om klaar te kry. Al geselsende kom hul stemme nader en sy draai haar kop om te luister. Sy kan nie veel hoor nie, maar dit raak duidelik dat hulle nie van plan is om gou weer te ry nie en sy knyp haar oë ongeduldig toe.
“Die uitsig is asemrowend,” klink die vreemdeling se stem meteens naby haar op en sy trek haar asem in. “Ek het nie besef ’n mens kan die see van hier af sien nie.”
Sy byt op haar onderlip. Die stem is diep en effens aan die growwe kant, maar sy hou net mooi niks van die geesdrif wat sy daarin hoor nie.
“Jip,” kom Gerber se antwoord. “Jy staan op blue chip-eiendom. Een van Knysna se versteekte juweeltjies.”
’n Paar blinkgladde leerskoene verskyn meteens aan die ander kant van haar skuilplek en sy versteen asof sy een van die plante is. “Ek dag jy praat van ’n paar ou beddinkies,” sê die lae stem nou digby haar, “maar dis meer soos ’n paradys. Kyk net die yslike groente. En waar het jy al soveel tamaties aan een plant gesien?”
“E . . . dis wat ek bedoel het toe ek gesê het sy’t die plek behoorlik in beslag geneem.” Gerber bly meteens stil en roep dan geskok uit: “Maar my magtig! Kyk net waar lê die Te Koop-bordjie. G’n wonder ek kry nooit navrae oor die erf nie!”
Sy koes nog dieper onder die blare in. Moes hy sowaar sy vervelige ou bordjie agter die komposhoop gaan staan en raaksien het?
Die vreemdeling se hartlike lag dawer deur die tuin. “Ek sou ook nie wou hê die plek moet verkoop nie, Pieter, maar dis goed sy het nie permanente strukture opgerig nie. Daardie houthut kan maklik verskuif word en die groentetonnel ook.”
“Klein probleempies,” reken die agent. Die rankstellasie bokant haar begin meteens skud. “Wil jy proe?” vra hy en sy hoor ’n takkie knak. “Jy is seker daarop geregtig om te weet hoe dit smaak.”
Die ander man kou en kou tot sy tong klap. “Sappig. Die vrou ken haar storie. Sal nogal jammer wees om haar van die grond af te sit.”
Issa moet keer dat haar swetswoorde nie hoorbaar oor haar lippe glip nie. Die man hou te veel van wat hy sien en dit ontsenu haar.
“Solank jy jou nie daaroor bekommer nie,” troos Gerber. “Hier is baie ander leë erwe waar sy haar plantjies kan kweek.”
“Sal sy maklik toegee? Ek dag jy sê sy is effe moeilik.”
“Het ek gesê effe moeilik?” Gerber snork neerhalend. “Meneer Human, die vrou het nie al haar varkies op hok nie. Glo my, buiten dat sy ’n eksentrieke weduwee is, moet jy die heeltyd op jou tone wees. Maar soos ek sê, sy het nie ’n ander keuse as om te skuif nie. Sy boer immers verniet hier.”
Issa voel hoe haar wange soos twee vuurkole begin gloei. Wat de hel? Gerber, jou verraaier!
“Eksentriek?” vra die vreemdeling. “In watter sin?”
’n Paar deurgetrapte sportskoene word ook tussen die blare sigbaar. Gerber doen nie veel moeite om sagter te praat nie. “Kom ons sê, haar kop het bietjie uitgehaak ná haar man se dood. Net so, poef, toe onttrek sy haar van alles en almal. Sit nie haar voete van die erf af nie. Werk dag en nag in die ou akkertjies.”
“Sou jy sê sy is dalk nog besig om te rou?”
“Na twee jaar? Nee, o magtig! Sy vat dit eenvoudig te ver. Ek bedoel, buiten haar skerp tong bad sy nie eens nie. Kam ook nie haar hare nie. Die laaste keer wat ek hier was, het sy wrintiewaar nie eens . . . jy weet, ’n bra aangehad nie. Maar glo my, dit het haar nie in die minste gepla nie.”
As die ander man weereens aan die lag gaan, klem haar kake opmekaar. Rooi vonke flits voor haar oë verby en voor sy haar kan kry, vlieg sy op en storm agter die tamatieplante uit. “Pieter Gerber! Hoe durf jy so van my skinder?” skel sy. “En dit hier voor my personeel?”
Die twee mans vlieg verskrik om en die honde knor onrustig. Sy bult haar vuiste en plak dit op haar heupe. “Het jy, of het jy my nie plegtig belowe dat jy my sal bel voor jy ’n koper hierheen bring nie? Vervlaks, man!” blaas sy vuur. “Ek het geweet ek kan jou nie vertrou nie!”
“Issa, ek het nie besef . . .” Gerber trippel verleë rond met ’n skewe glimlag om sy mond. “Die rede hoekom ek dit nie nodig gevind het om te bel nie, was omdat meneer Human hier . . .”
“Vir jou informasie, meneer wat jou naam ook al is,” ignoreer sy die agent en swaai haar vinger na die donkerkopman. “Hierdie eiendom is ongelukkig nie beskikbaar nie. Ek het die eerste opsie om te koop, en dis presies wat ek beplan om te doen. Ek is baie jammer, maar Gerber moes jou gesê het!” Briesend kyk sy na die verslae vreemdeling, haar oë op sy adamsappel wat op en af beweeg soos hy sluk.
As Gerber se kop in ongeloof begin skud, tree sy dreigend nader. “Ja, Gerber. Jy’t reg gehoor. My skuld is uiteindelik afgelos en nou kan ek voortgaan met die koop. My prokureur sal jou en die trust binnekort kontak.”
“Wat? Issa, nee . . .” Hy skud sy kop heen en weer. “Ek gaan nie weer daarvoor val nie. Wat ek wóú sê, is dat meneer Human met eiendomme spekuleer en hy het reeds ’n aanbod aan die trust gemaak. Ons het jou net daarvan kom verwittig.”
“Aangename . . .”
Die donkerkopman wil nog sy hand uitsteek, maar Issa pen hom met flitsende oë vas. “Dit beteken nie hulle gaan jou aanbod aanvaar nie, Meneer wie ook al. Die eienares van die plek het my persoonlik die eerste opsie gegee. Pieter Gerber mors net jou tyd.”
“Issa,” protesteer Gerber, “dit maak nie saak wat die ooreenkoms was nie. Ja, ek weet dit stipuleer dat jy kan koop wanneer dit jou pas, maar jy kan nie vir ’n ewigheid die grond gebruik sonder om te koop nie. Daar’s baie mense wat belangstel!”
Sy gluur hom aan. Sy voel lankal skuldig oor die vergunning wat sy basies besig is om te misbruik, maar sy het tyd nodig om vrede te maak met haar verlede. Tot dusver kon sy enige belangstellendes met gemak afskrik en op haar eie na die vergifnis soek waarna sy smag. Maar siende dat dit haar steeds ontwyk, is daar nie ’n manier wat sy Eden nou al kan laat gaan nie.
Haar ken lig. “En nou maak jy allerhande bewerings oor my, net sodat jy die grond onder my kan uitverkoop, nie waar nie, Gerber?”
Die agent raak wasbleek en loer ongemaklik na sy kliënt. As die spekuleerder se een wenkbrou boonop opwaarts klim, lig hy verontwaardig sy hande. Hy probeer ’n nuwe aanslag. “Issa, kyk, meneer Human sal jou nie dadelik van die grond af sit nie. Die bouplanne moet nog eers goedgekeur word, en dit sal jou meer as genoeg tyd gee om jou groente te skuif.”
“My groente skuif?” vra sy oorbluf. Sy weet voor haar siel dat hy besig is om haar te intimideer, en dat sy haar liewer nie nou moet vererg nie, maar net die idee dat Gerber nou enige iets sal doen vir die kommissie wat hy moontlik kan verdien, stoot vuurwarm gloede oor haar nek en wange. “Is jy van jou sinne beroof, Gerber? Dis onmoontlik!”
“Ek sê mos ek is jammer.”
“Nee, dis malligheid! Ek het verskaffingskontrakte vir die hele jaar vooruit, en buitendien, waar is ek veronderstel om nou skielik ander grond te kry?”
“Om eerlik te wees? Dis nie my of meneer Human se probleem nie. Eskom sal binnekort die krag kom aanlê, en die water en riool moet ook nog gegrawe word.” Hy beduie met sy hande om hom. “Jy gaan heel waarskynlik die meeste van die beddings verloor.”
“Wat?” vra sy paniekerig. “Gerber, ek haat jou! Ek pes die grond waarop jy loop.” Sy maak haar keel skoon en spu blindelings na sy drafskoene.
“Hoeveel tyd het u nodig?” vra Human bedaard.
“Hoeveel tyd? Besef jy dat al die groente wat jy hier sien, reeds ’n koper het? Waarvan die meeste al betaal is? En die hele tonnel daar oorkant staan vol saailinge wat nog geplant moet word . . .” Dit neem haar ’n oomblik om te besef dat dit klink asof sy pas die saak verloor het, en sy sluk haar woede terug.
Die donkerkopman vryf oor sy lippe. “Mevrou Joubert, uhm, Issa? Kom ons raak rustig en . . .”
“Dis mevrou Joubert, baie dankie.”
“Nou goed,” knik hy en gaan voort. “Ek sal jou twee maande gee om die erf by die trust te koop, voor ek die saak verder vat. Ek sal jou tegemoetkom, siende dat jy kontrakverpligtinge het en nie sommer net kan oppak en wegtrek nie.”
“Dis baie gaaf van jou,” smaal sy. “Maar moet jy nie liewer eers gaan seker maak wat die ooreenkoms tussen my en die eienares was nie? Dán kan jy met jou voorwaardes kom!”
“Issa,” sê Gerber verveeld. “Wat jy nie weet nie, is dat meneer Human die eienares se kleinseun is. Hy is ’n begunstigde wat outomaties voorkeur het om te koop.”
Sy moet ’n paar keer sluk om die inligting te verwerk. Die trust kan dit nie aan haar doen nie. Die eienares het kort voor haar dood nog gesê die eiendom is hare, en sover sy weet was daar geen stipulasies ten opsigte van familie nie.
Sy suig ’n groot klomp suurstof in en probeer om te kalmeer. Twee maande gaan nie genoeg wees nie. Sy weet nie eens of sy vir ’n banklening sal kwalifiseer nie. Dit beteken sy het tyd nodig, heelwat tyd, en daarvoor het sy haar heel laaste troefkaart nodig. “Wel,” sê sy kalm, “in daardie geval hoop ek jou kliënt het insae in die Wet op Verblyfreg, spesifiek die wysiging van Artikel 4, Wet 62.”
“Maar my blikskottel, Issa. Los dit nou!”
“Nee, ek ken my regte en ek dring daarop aan.”
“Jy gryp nou na grashalms.”
“Gerber, noem dit wat jy wil, maar julle dwing my nou om te bewys dat ek deur en deur ’n regmatige aanspraak op die grond het. En ek sal nie huiwer om dit te doen nie!”
Die agent gryp sy kop moedeloos vas en stap weg asof hy nie verder wil hoor nie.
“Wet 62?” vra die spekuleerder met skrefiesoë. “Dit bepaal min of meer dat die okkupeerder verblyfreg het die oomblik wanneer die grondeienaar op enige wyse toestemming gegee het.”
“Heeltemal reg, dankie.”
“In daardie geval,” erken hy eerlik, “hou dit vir my ’n ernstige probleem in.”
Haar mond val byna oop. “Ek sou so dink, ja, maar is dit my probleem? Ek glo nie so nie.” Sy maak gereed om weg te stap, maar hy tree vinnig nader.
“Bepaal die wet nie ook dat die okkupeerder woonagtig moet wees op die perseel, met ander woorde, dat jy saans hier moet eet en slaap nie?”
Sy grinnik suur. “Het Gerber nie pas vir jou vertel dis al wat ek dag en nag hier doen nie?”
“Agge nee, rêrig?” roep Gerber in ongeloof. “Nou gaan jy seker sê jy is woonagtig in die houthut?”
“Dink jy miskien dit staan hier vir die mooiigheid, h’m?”
“My goeie donner, ek kan jou nie glo nie. Kom ons ry, meneer Human. Ek het jou probeer waarsku, maar nou kan jy . . .”
“Alles in orde,” paai die man met sy lae stemtoon, sy blik nog ferm op haar. “Kyk, ek het ’n ander bouperseel verder op teen die berg. Dus gaan ek in die komende paar maande gereeld hier verbyry.”
Issa voel die ysige rilling teen haar ruggraat, maar sy stry daarteen. “En?”
“En siende dat ons heel waarskynlik nou ’n dispuut op hande het, is daar niks wat my gaan verhoed om tydig en ontydig hier aan te kom, om te kyk of jy die waarheid praat nie.”
Sy probeer om nie te lag nie en trek haar tuinhandskoene een vir een oor haar vingers. “As jy vir een oomblik dink jy gaan hier verbyry sonder om my hier te kry . . .” Haar kop skud heen en weer. “Ek gaan lê soos ek lag.”
Gerber gooi sy hande in die lug op en stap terug na sy bakkie. Human bly nog vir ’n wyle staan. Dit lyk eers asof hy iets gaan sê, maar sy blik sak af tot by haar blommetjiestewels, beweeg dan krities opwaarts na die vuil, verslete denimlap oor haar knieë. Nog voor sy twee grysgroen kykers haar gunsteling sonverbleikte T-hemp en bruingebrande arms kan bereik – waarskynlik om te sien of sy ’n bra aanhet – draai sy om en stap weg.
Sy tel die mandjie op en loop doodluiters tot by ’n krat om die trossies tamaties daarin uit te keer. Kyk eers weer op toe die twee voertuie aangeskakel word en wegtrek. Dan blaas sy haar asem verlig uit en probeer om haar bewende lippe onder beheer te kry.