Uittreksel | Maanlig en blou oë
Een
“Nog enetjie, ouens?” Sonder om vir ’n antwoord te wag, wink Gerhard die kelner vir die soveelste keer nader.
Lienke Malherbe loer ongemerk na haar horlosie. Nog net ’n halfuur voordat die restaurant toemaak. Dit voel maar bra ongemaklik om die enigste nugter persoon te wees tussen ’n klomp aangeklamdes.
Haar tafelgenote – veral die drie mans – kuier baie lekker. En hoe lekkerder, hoe luidrugtiger. Dis opvallend hoe die ander restaurantgangers doelbewus so ver as moontlik van hulle tafel af plaasneem; selfs van ’n afstand af lok hulle heelwat onvriendelike kyke uit.
Hoofsaaklik van die twee mans wat eers langs hulle gesit het, en toe hul goed gevat en vier tafels verder plaasgeneem het. Die ene, ’n blondekop, lyk darem verdraagsaam en glimlag selfs nou en dan, maar sy vriend, ’n donkerkop met digte wenkbroue en ’n reguit mond, begluur hulle asof hy hulle met graagte van die aardbol sou wou verdelg.
Sy kan hom seker nie kwalik neem nie. Haar vriende se gedrag is afstootlik.
Nie dat hulle werklik haar vriende is nie. Elmien is haar vriendin, maar die res van die groep het sy maar onlangs deur Elmien leer ken.
Die befoeterde mansmens kyk juis weer in hulle rigting. Sy blik vang hare vas en gly minagtend oor haar uitspattige haarstyl en haar bolyf met sy styfpassende swart toppie. Hy is so openlik krities en verdoemend dat dit eintlik komies is. Sy glimlag liefies vir hom en sien hoe sy oë vernou en sy uitdrukking verdonker.
Eintlik was sy heel kuis en stemmig aangetrek vir vanaand se okkasie, maar Elmien wou omtrent stuipe kry oor haar koekerige voorkoms. Sy het Lienke se besware weggevee en haar onder hande geneem, haar grimering “verbeter”, haar blonde hare met pers spuitverf opgekikker en haar in ’n einaklein bostukkie ingeboelie.
Lienke het haar vriendin gelate laat begaan. Op stuk van sake, sy het goeie rede om fees te vier. Sy het ’n helse jaar agter die rug. En minstens pas haar voorkoms nou by Elmien, wat treffend lyk in rooi en swart met bypassende rooi glinsterverf op haar donker hare, en Rika, Elmien se woonstelmaat, met haar Goth-uitrusting en dramatiese grimering.
’n Grappie van Nico ontlok weer dawerende gelag by haar tafelmaats. Die donkerkopman ruk sy nek omtrent af toe hy boosaardig opkyk. Sy oë stuur ’n sarsie moorddadige gifpyle in hulle rigting. If looks could kill . . .
“’n Heildronk, ouens. Ons drink op ons goeie vriend Gerhard wat vandag amptelik die sorgvrye twintigerjare agterlaat en die depressiewe dertigs betree,” kondig Nico hoogdrawend aan.
Almal lag. Glasies word geklink, geledig, en weer gevul.
“Ons drink ook op Lienke wat voor die tronkdeure omgedraai het en vanaand as ’n vrye burger hier tussen ons mag sit,” hervat Nico plegtig.
Lienke glimlag gedwonge en lig haar glasie, maar sy maak skaars haar lippe nat. Sy waardeer dit werklik dat almal saam met haar bly is omdat die swaard oor haar kop na maande se uitmergelende gesloer uiteindelik verwyder is. Maar sy’s nie ’n drinker nie. As mens op die ouderdom van sestien deur ’n beskonke motorbestuurder van jou ma beroof is, is jy baie versigtig vir drankmisbruik.
“Ouens, hierdie plek gaan binnekort toemaak. Kom ons verskuif die paartie na my plek toe. My pa is nie tuis nie, hy het vir sy nuutste girlfriend gaan kuier, en ek weet vir ’n feit sy drankkabinet is vol.”
Gerhard se voorstel vind luidrugtige byval, en Lienke tel haar handsak dankbaar op. Gelukkig het sy haar eie vervoer. Sy gaan beslis nie langer kuier nie.
Nico staan met ’n oordrewe, galante gebaar terug sodat sy voor hom kan stap.
Hulle groepie vleg al geselsende tussen die tafels deur. Die donkerkopman se afkeurende blik rus reeds weer op hulle.
Sy is omtrent ’n tree van hom af toe Nico struikel en haar per ongeluk hard van agter stamp. Soos ’n dominoblokkie wat omtuimel, verloor Lienke haar balans en val vorentoe. Twee arms sluit stewig om haar en stuit haar val, anders het sy sekerlik plat op haar gesig beland.
“Ben, jou gelukkige blikskottel, hoe kry jy dit reg dat die mooi meisies alewig in jou skoot val?” terg die donkerkopman se vriend met laggende bruin oë.
Lienke probeer spartel, maar die arms om haar bly ongenaakbaar hard en druk haar styf teen ’n klipharde borskas vas. Die blou oë hier naby haar gesig is net so hard. Sy mondhoeke krul snedig. “Net jammer ek’s nie lus vir ’n dronk meisie en haar dronk vriende se speletjies nie.”
Lienke lig haar ken gebelgd. “As ek speletjies wil speel, soek ek ’n speelmaat met ’n humorsin wat weet hoe om te speel,” snip sy en snak na asem toe die greep om haar lyf verstyf. Die streng gesig kom nader aan hare. Die blou oë raak so onstuimig soos donderwolke wat voor ’n haelstorm saampak.
Plotseling los hy haar.
Lienke beweeg so vinnig om weg te kom, dat sy amper weer haar balans verloor en aan die tafel moet vasgryp om staande te bly.
“Ekskuus tog, Lienke. Baie jammer, Meneer.” Nico buig omtrent dubbeld terwyl hy om verskoning vra, maar Lienke wag nie om die man se reaksie te sien nie. Sy stap uit sonder om weer na hom te kyk.
Gerhard, Rika en Elmien wag by die motors. “Waar’s Thinus?” vra Nico. Hy praat effens sleeptong.
“Badkamer toe.”
“Gerhard, vat julle my kar, ek sal saam met Lienke ry. Ons kry julle by jou huis,” stel Nico voor.
Lienke skud haar kop vinnig. “Nee, Nico, ek gaan huis toe. Dit was baie lekker, maar ek is regtig moeg,” sê sy vasbeslote en ignoreer die koor van besware wat op haar woorde volg. “En ek’s nie snaaks nie, maar ek dink Elmien of Rika moet bestuur,” voeg sy fronsend by. “Hulle het minder gedrink as julle mansmense.”
“Ja-a-a, Ma-a-a,” tart Nico.
Elmien gryp die sleutels uit sy hand. “Ek stem saam met Lienke. Ek sal bestuur.”
“Nou ja, sien julle weer. Dankie vir die lekker aand.”
Toe sy wegtrek, sien sy twee mans wat na die parkeerterrein aangestap kom – die blondekop en die donkerkop wat nie lus het vir ’n dronk meisie se speletjies nie.
Vir ’n sekonde voel sy weer die sterk arms om haar en die harde lyf teen hare. Hy het mooi oë, diep blou, en so onstuimig soos ’n stormsee. Eintlik is hy nogal aantreklik met sterk, eweredige gelaatstrekke en ’n sexy mond. Hy behoort asemrowend te lyk wanneer hy glimlag.
Ás hy ooit weet hoe om te glimlag.
Arrogante vent. Sy kan hom seker nie kwalik neem dat hy vies was nie; hulle klompie was luidrugtig. Maar gee dit hom die reg om so aanmatigend en onbeskof te wees?
Hy het hom bloediglik vererg toe sy hom terugsnip. Vir ’n oomblik was daar iets dreigends, iets byna gevaarliks, in daardie blou kykers. Vir ’n lawwe sekonde het sy amper gedink hy gaan haar soen.
Sy mond is hard. Manlik. Sensueel. Reguit, maar die hoekies krul boontoe asof hy tog wel oor ’n humorsin beskik. Hoe sou dit voel as daardie ferm lippe om hare moes sluit?
Dan kry sy lag vir haarself. Goeiste, hier sit sy soos ’n bakvissie en fantaseer oor ’n stuurse vreemdeling! Pleks konsentreer sy liewers op die pad.
Die snelweg is gelukkig stil, maar sy ry versigtig. Sy bly onder die spoedgrens en hou in die linkerbaan. ’n Paar minute later kom ’n grys voertuig van agter af verbygejaag. Die bestuurder toet en die insittendes waai vrolik.
Flip, dis haar vriende, en dis wraggies Nico wat bestuur, sien sy ontsteld.
Skaars tien kilometer verder word haar ergste vrese bewaarheid.
Die ongeluk moes oomblikke gelede gebeur het. Nico se voertuig het die kantversperring getref en staan windskeef teen ’n sieklike hoek, met sy voorwiele van die pad af. ’n Ent verder staan ’n wit voertuig, en haar hart trek angstig saam. Die wit kar lyk sleg.
Sy hou met skreeuende bande stil, skakel outomaties haar noodligte aan en spring uit.
Elmien, Rika en Gerhard staan verdwaas langs die motor. Thinus en Nico is nog besig om uit te klim. Almal lyk geskok en verslae.
“Hemel tog! Is julle almal orraait?” Lienke vertoef net lank genoeg om vas te stel dat niemand beseer is nie, toe hardloop sy na die ander motor. Die twee insittendes sit nog binne. Glasstukke en metaalflenters lê gesaai oor die pad
Sy pluk aan die passasier se deur, maar kry dit nie oop nie. “Het julle seergekry?” vra sy angstig deur die stukkende ruit.
Die passasier druk die lugsak weg van sy gesig en draai sy kop, en sy trek haar asem in. Dis hy, die donkerkopman!
“Ek is orraait. My vriend is beseer,” sê hy kortaf.
Lienke hardloop om die motor en ruk aan die bestuurder se deur. Dit is ingeduik, maar gelukkig gaan dit oop.
Intussen het ander voertuie ook stilgehou. Mense kom aangehardloop.
Die blondekopman se lugsak het nie ontplooi nie. Hy is by sy bewussyn, maar sy gesig is vertrek van pyn. In die lig van die straatligte sien sy hoe donker bloed deur sy broek sypel.
Twee mans verskyn langs haar. “Ons het die nooddienste gebel. ’n Ambulans is op pad. Kan ons iets doen?”
“Het julle mediese kennis?”
“Nee, ongelukkig nie.”
“Ek is ’n verpleegster. Help my om die man uit te kry,” beveel sy. “Hy bloei baie. Versigtig, stut sy nek.”
Hulle tel die man uit en lê hom op die skouer van die pad neer. Iemand wil ’n baadjie onder sy kop indruk, maar Lienke keer. “Nee, liewers nie. Dalk het sy nek of rug seergekry. Dis beter dat hy plat lê.”
Die man se broekspyp is geskeur. Dit is nat en swart van bloed.
“Ons moet die bloeding stop.” Lienke skeur die broekspyp verder oop en sien bekommerd hoe bloed uit ’n lang sny in sy dy opwel.
“Ons kort ’n drukverband – ’n hemp of ’n trui of iets.” Sy neem dankbaar die kledingstuk wat in haar hand gedruk word.
Sy werk vinnig en behendig, bewus van die beseerde man se oë wat op haar gesig gerig bly. Die oë lag nie nou nie, hulle is vol pyn, en sy bid vuriglik terwyl sy die bloed deurweekte hemp teen die gapende wond vasdruk.
Met groot verligting hoor sy sirenes naderkom. Blou en rooi ligte flikker. Deure klap toe. Dis die polisie, sien sy toe sy vlugtig opkyk, en, dankie Vader, die ambulans ook. Ambulansmanne met draagbare en toerusting hardloop nader. “Los maar, Juffrou, ons sal oorneem,” sê een, en dankbaar gehoorsaam sy.
Noodwerkers het begin om die deur aan die passasierskant oop te forseer. Die donkerkopman klim uit. Hy steier en gryp na die motor. Bo-oor die motor se dak kyk hy na haar. Daar is ’n bloedstreep aan sy wang, en selfs in die onnatuurlike lig kan sy die woede op sy gesig sien.
Woede wat lyk of dit teen haar gemik is.
“Het jy gesien wat gebeur het, Juffrou?” vra ’n polisieman langs haar.
“Nee. Ek het hier aangekom nadat die ongeluk gebeur het.”
“Maar jy het noodhulp toegepas op hierdie man?”
“Ja. Ek’s ’n verpleegster. Hy was besig om uit te bloei. Ek het die bloeding probeer stop.”
Die polisieman oorhandig ’n boekie en ’n pen aan haar. “Skryf asseblief jou kontakbesonderhede neer ingeval ons dit nodig kry. Daarna kan jy gaan.”
Die ambulanspersoneel laai die blondekopman op ’n draagbaar en neem hom na die ambulans. Sy vriend is langs hom, en Lienke stap impulsief nader en raak aan sy arm. “Ek is so jammer,” sê sy sag.
Hy ruk weg asof ’n pofadder hom gepik het. “Ek soek nie jou en jou spul dronk vriende se simpatie nie,” sis hy. Hy draai sy rug op haar en klim by sy vriend in die ambulans. Die deure klap toe. Die sirene loei toe die ambulans wegtrek.
Die polisie is by Nico-hulle. Lienke wag eenkant terwyl haar vriende een na die ander in die polisie se apparaat blaas. Sy sien hoe Nico weggelei en in die vangwa gelaai word.
Die ander maats staan verwese rond, en sy gaan na hulle. “Is julle oukei?”
Hulle lyk verdwaas. “Ons mag gaan, maar Nico word aangekla van dronkbestuur,” vertel Rika. Trane stroom oor haar maskarabesmeerde wange. “Ons het sy pa gebel. Hy sal polisiestasie toe gaan en Nico probeer uitkry.”
“Kan die kar nog ry?”
“Ja, gelukkig.”
“Is een van julle nugter genoeg om te bestuur?” vra Lienke droogweg.
“Ek is,” sê Elmien. “Nie die ander drie nie.”
“Gaan laai jy en Rika vir Gerhard af. Ek sal Thinus huis toe vat,” besluit Lienke.
“Genugtig, wat het jou oorgekom? Dit lyk of jy ook in die ongeluk was,” vra Thinus toe hy haar bloed besmeerde klere en hande in die lig van die dakliggie sien.
“Ek het die passasier in die ander motor gehelp. Hoekom het Nico bestuur, Thinus? Ek dog Elmien sou bestuur?”
“Jy weet hoe Nico is, hy wil nie na rede luister nie – veral nie as hy getrek is nie,” antwoord Thinus beteuterd. “Ek wonder wat gaan nou met hom gebeur. Ek hoop nie hulle is te kwaai met hom nie.”
“Wel, ek hoop hulle is kwaai genoeg sodat hy nou sy les kan leer. Dis die ouens in die ander motor wat my simpatie het. Veral die bestuurder. Hy het baie bloed verloor. Ek hoop hy maak dit.”
Dit is lank na middernag toe Lienke uiteindelik by die Erlanks, wie se tuinwoonstel die afgelope twee jaar haar blyplek is, indraai.
Dierbare Toffel, haar groot, lomp hond van onsekere afkoms, is dadelik stertswaaiend by om haar te verwelkom. Nuuskierig snuif hy aan haar bebloede klere.
Sy keer hom. “Wag nou, Toffel, dis net ’n bietjie bloed, jong,” sê sy en streel liefdevol oor sy kop.
Sy bêre haar handsak en gaan badkamer toe. In die loop stroop sy haar besmeerde klere af. Sy draai die stortkrane groot oop, en sien met verligting hoe die waterstraaltjies die bruinoogman se bloed van haar arms en hande afwas.
Maar die uitdrukking van veragting op die gesig van die donkerkopman bly haar by lank nadat sy die stortkrane toegedraai het.