Uittreksel | Maanengel – Wilreza Smit-Theron
Een
Franskraal se baai kurf silwergoud. Oor die kalm see lê ’n maanweg tot duskant die horison. Monya hardloop die houtbruggie af tot op die strand. Skop dan haar skoene uit. Dit is soel en sprokiesmooi. Die strand is verlate buiten twee ander sandlopers wat by haar verby asem.
Sy sal moet vinnig maak anders noem tannie Helga haar weer onverantwoordelik en wild. Maar een kyk na die gedempte kleurespel om haar en sy weet dit was die moeite werd. Sy stap vinnig. Die vlak water om die soom van die strand lek-lek aan haar voete. Elke nou en dan spring sy om ’n skulp mis te trap. Waar die water opstoot by Uilenkraalsmond wik en weeg sy vir ’n oomblik.
Stap dan doelgerig die water in. Met ’n kortbroek aan pla die water wat bo haar knieë opstoot haar min. Ses tree en sy is deur.
Aan die ander kant van die mond vlieg ’n swerm meeue op. Sy hardloop agter hulle aan. Kom dan net so skielik weer tot stilstand. Sy knip haar oë. In die skemer is sy nie heeltemal seker wat sy sien nie. Stap nog ’n paar meter nader. Besef dan dat dit nie ’n illusie is nie. In die verte sit ’n maanengel op die sand. Altans dit is hoe dit vir haar lyk.
’n Reusemaanengel.
Sy gaan sit op ’n duin skuins agter hom. Hy behoort dus nie hierdie agie op te merk nie. Sy trek haar asem in. Die maanengel staan op. Wit vlerke wapper in die effense seebries as hy sy arms uitstrek en ’n oomblik sy kop agteroorgooi. Donker lokke tuimel oor sy skouers.
Dan kyk hy om.
Sy sit asof sy in ’n soutpilaar verander het. Arms styf om haar opgetrekte knieë gevou. Die maanengel lig sy een hand en wuif. Haar hand het ’n wil van sy eie en wuif terug. Sy bly sit tot hy oor die duin verdwyn het. Laat sak dan haar kop. Wat het so pas gebeur?
Sy kyk terug na die plek van waar die maanengel verdwyn het.
Spring dan op en draf mond toe. Die watervlak is nou effens hoër as voorheen. Sy beur teen die stroom tot op die sand. Halflyf nat.
Tannie Helga gaan beslis ’n paar woorde hieroor te sê hê. Sy draf tot by die kar, sit die rubbermatjie op die sitplek neer om nie die bekleedsel nat te maak nie en ry met ’n oop venster huis toe.
Toe haar pa en ma albei ’n jaar gelede in ’n motorongeluk gesterf het, het sy hier op Franskraal kom woon. Sy het toe nog in Kaapstad by ’n uitgewersmaatskappy haar brood en botter verdien, maar ná die begrafnis het sy haar bedanking ingedien en ’n nuwe kontrak geteken waarvolgens sy op ’n vryskutbasis steeds ’n inkomste kon genereer.
Die reusevoordeel was dat sy haar bykans op enige plek kon vestig solank sy toegang tot die internet het. Haar hart klop warm toe die houthuis se ligte in Seaviewrylaan nader kom. Van haar gelukkigste herinneringe is hier by die see onder die reusemelkhoutbome.
Tannie Helga staan reeds voor die sitkamervenster en wag. Hande op die ronde heupe. Sy is haar ma se enigste suster en eintlik meer soos ’n tweede ma vir haar.
Sy parkeer en glip vinnig by die oop deur in. Tannie Helga lyk bekommerd. “Jy is sopnat, my liewe kind. Gaan bad of stort gou sodat jy kan warm word. As jy swemklere aangehad het en die son nog geskyn het, was dit ’n ander saak. Hoe het jy dan so nat geword hierdie tyd van die aand?”
Monya maak asof sy haar koue lyf teen tannie Helga s’n gaan vasdruk en glimlag skuldig. “Ek het my met die gety misgis en toe ek weer oor die riviermonding wou terug, was dit hoër as wat ek gedink het.”
Tannie Helga kyk haar nuuskierig aan. “Het daar dalk iets anders op die strand gebeur waarvan jy my wil vertel? Jou oë vonkel soos wat ek hulle in maande nie gesien het nie.”
Sy bloos en trippel die gang af badkamer toe. Kyk dan oor haar skouer. “Daar het beslis iets gebeur, my liewe Tannie, maar nou moet ek eers warm water oor my vel voel anders begin my tande ’n orkes van hulle eie.”
Die brokkie nuus het beslis die gewenste uitwerking gehad. Tannie Helga se oë rek van afwagting en vir ’n oomblik lyk dit asof sy haar tot in die badkamer gaan volg. Sy maak die deur vinnig toe en begin die nat klere van haar lyf af stroop.
Terwyl die stort warm word, trek sy die haarrekkie uit haar hare. Die swart slierte tuimel oor haar skouers. In die spieël kyk twee vonkelende blou oë na haar toe terug. Tannie Helga was reg. Sy lyk anders. Asof iets towerpoeier oor haar gestrooi het en sy die spreekwoordelike reënboog doer op die horison kan sien wink.
Sy klim onder die warm stroom water in. Maak haar oë toe en verplaas haar na die strand en die maanengel wat kruisbeen op die sand sit. Haar hartklop versnel. As klein dogtertjie het sy ’n Kinderbybel gehad met die Jesus-figuur as ’n lang man met donker hare tot op sy skouers en die sagste okkerneutbruin oë wat haar genooi het om tot in die boek te klim en langs hom te gaan sit.
Daar was iets heiligs aan die figuur in die wit gewaad. Of dalk was dit maar net die maanlig oor die see en die wasigheid waarin die vreemdeling toegevou was. Dit is beslis nie een van die alledaagse verskynsels op Franskraal se strand nie. Sy kan nie help om te wonder wat die stoere plaaslike inwoners daarvan sou dink nie. ’n Man met lang hare in wit lappe met uitgestrekte hande na bo?
Sy giggel. Selfs vir haar was dit ’n ongewone gesig. Maar fassinerend. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd kon iets haar opgewonde maak. En die maanengel het.
Sy was klaar en trippel in haar handdoek kamer toe. Met die afgly van die handdoek loer sy skrams na haarself in die spieël. Sy is petite en bruingebrand van baie tyd in die buitelug deurbring. Alle eer daarvoor aan haar ma. ’n Ligte klop aan die deur laat haar vinnig ’n gemaklike sweetpakbroek en sagte langmou-T-hemp uit die kas haal. “Ek is amper klaar, tannie Helga. Nog twee minute en ek is daar!”
Sy hoor tannie Helga iets mompel van kos wat koud word voordat sy wegstap. Monya haal ’n bolletjie sokkies uit die laai en stap in die rigting van die kombuis.
Die skaapkerrie op die stoof laat haar mond water. Sy gee tannie Helga ’n drukkie waar sy lepel in die hand besig is om ’n bord kos te skep. “Hierdie is nou ’n deeglike bederfie. Wat sou ek sonder Tannie doen?”
Tannie Helga blom. “My kind, jy is al bloedfamilie wat ek nog het. Hoekom sal ek jou dan nie bederf nie? En eintlik bederf ek myself mos ook.”
Hulle stap deur sitkamer toe waar die groot venster op die see uitkyk. Aandete terwyl die son sak, het ’n instelling geword. Vanaand is hulle egter te laat. Die son het reeds agter die horison verdwyn.
Tannie Helga raak nie aan haar kos nie. Haar nuuskierigheid het heeltemal die oorhand gekry. “Monya, voordat ek my lippe aan my kos sit, wil ek eers weet wat op die strand gebeur het. En moet asseblief nie dink dat ek ’n nuuskierige ou tannie is wat nie my neus uit jou sake kan hou nie. Ek is maar net bekommerd oor jou. As daar ’n insident op die strand was, wil ek weet. Hier is baie gure karakters wat van Uilenkraalsmond se kampeerterrein op ons strand beland. En indien dit vir jou ’n gevaar ingehou het, wil ek voorstel dat jy nie meer alleen gaan stap nie. Veral nie laatmiddag nie.”
Monya weet haar tannie gryp nou na strooitjies, aangesien haar oë mos nie sou vonkel ná ’n onaangename ondervinding nie.
Nuuskierigheid is ’n lelike ding! Maar sy praat tog gedeeltelik die waarheid. En al is sy eintlik effens oorbeskermend teenoor haar sedert haar ouers se dood, is die oorsaak liefde en omgee.
Sy kou rustig klaar voordat sy antwoord. “Ek het vandag ’n maanengel op die strand gesien. En hy het vir my gewaai.”
Tannie Helga frons. “’n Maanengel? Monya, waarvan praat jy?”
Monya glimlag. “Tannie hoef nie bekommerd te raak nie. Al my varkies is nog op hok. Ek het deur die riviermonding gestap en skielik ’n man in ’n lang wit gewaad kruisbeen in die sand sien sit. Vir my het hy aan ’n maanengel laat dink met sy donker skouerlengte hare en Boeddha-posisie en die volmaan oor die baai.”
Pleks van kalmer, lyk tannie Helga nog meer onthuts. “My kind, dit klink vir my soos iets wat ’n mens soms sal droom. Is jy seker jy het reg gekyk? In die laatmiddaglig kan ’n mens jou maklik verbeel jy sien allerhande dinge.”
Monya eet verder. “Tannie se kos word koud. Vergeet nou van maanengele en drome en allerhande ander goeters wat nie sin maak nie. Ek sal my nooit ophou met nonsens nie. Dit weet Tannie tog.”
Tannie Helga knik. Glimlag dan dat die spoortjies om haar oë nog meer uitwaaier. “Ek weet, my kind. Jy het ’n goeie skeut van jou pa en jou ma weg. Jou pa se deursettingsvermoë en ambisie en jou ma se kreatiewe gees. Soms wonder ek net hoe jy dit regkry om die balans tussen die twee te handhaaf.”
Monya hou haar glas in die lug. “Met genoeg van hierdie heerlike rooi voggies en my geliefde tannie se bederfkos. Hoe klink dit?”
Haar tannie se glas lig. “Jou pa sou nou gesê het ‘So ’n bek kort jam!’”
Monya lag en smul verder. Hierdie tannie van haar is soos ’n tonikum. Daar is nie ’n kans dat die donker met sy lang skaduwees ‘n sitplek na aan haar kan kry met haar naby nie. Dit was asof sy ná haar ouers se dood engelvlerke gekry het wat sy om haar, Monya, kom sprei het.
Toe sy sien dat albei hulle borde leeg is, staan sy op en strek haar hand uit. “Die minste wat ek ná so ’n heerlike bord kos kan doen, is die skottelgoed was. Sit Tannie nog ’n rukkie.”
Tannie Helga sug en rol haar oë. “Jy laat my al so skuldig voel. Elke liewe aand is dit dieselfde. Ek maak potte en panne en borde vuil en jy was dit. So kan dit nie aanhou nie, my kind. Môreaand is dit my beurt. Reg so?”
Monya stap giggelend uit. “Ja, tannie Helga. Kom ons kyk teen môreaand wat gebeur.”
Tannie Helga snork liggies. “Al weer dieselfde storie. Ons albei weet dat môreaand nie veel anders gaan verloop nie.”
In die kombuis tap sy water in die wasbak. Kyk hoe die wasmiddel borrels begin maak. Dit verplaas haar skielik na die skuimspoor op die strand vroeër. En die maanengel.
Sy draai die kraan toe. Was die skottelgoed meganies terwyl haar kop op die strand vassteek. Dit is ’n toneel wat sy graag op doek sou wou vaslê. Dalk is dit tyd om haar verfkwaste af te stof en uit te pak . . .
Vreemd hoe alle kreatiwiteit vir baie lank ná die gru-ongeluk die wyk geneem het. Al haar fokus en energie was slegs daarop gerig om elke dag bloot deur die dag te kom. Iets te vind wat die toekoms minder leeg en doelloos sou laat lyk.
Sy skud haar kop. Pak die laaste messegoed op die droograk en vee haar hande af. Hoe mooi was die volmaan nie oor die baai nie. En die engelagtige wese in die verte. Daar was soveel lig . . . op die strand en om hom.
Tannie Helga loer by die kombuis in. “En daardie droomverlore uitdrukking, Monya? Dit is kompleet asof jy ’n engel gesien het!” Sy knipoog en verdwyn al laggende in die rigting van haar kamer.
Monya se wange is warm. Vervlaks! Haar tannie kan lekker moedswillig wees as sy wil. Sy hoor hoe sy die televisie in haar kamer aanskakel. Inkruiptyd.
In haar eie kamer skakel sy die lig aan en trek die gordyne toe. Buk dan en trek ’n klein swart koffertjie onder die bed uit. Knip die slot oop en gaan sit op die mat. Pak amper alles om haar uit. Kwaste in allerhande groottes. Buisies verf in elke denkbare kleur onder die son. Potlode en rowwe potloodsketse met geskribbelde teks hier en daar. Foto’s met hulle rugkante na bo. Sy trek haar asem diep in.
Draai die boonste foto stadig om. Haar hand bewe. Vanuit die raam lag haar ma en pa wyemond. Hulle het pas die Visrivier-staproete voltooi en sit op die grasperk voor die restaurant in Ai-Ais. Lank nadat dit weggespoel en weer herbou is.
Dit was ongeveer ’n jaar voor hul dood. Sy draai die volgende foto om. Haar oë begin brand. Sy staan met haar toga tussen hulle tydens haar gradeplegtigheid. Hulle was so trots op haar.
Toppresteerder uit ’n groep van veertig regstudente. Sy vee die trane weg. Sit die twee foto’s op haar bedtafeltjie neer. Die res van die foto’s pak sy weer weg. Dit is vir ’n ander dag. Sy kruip halflyf onder die bed in, trek ’n esel uit en maak dit staan voor die venster.
Gelukkig is haar kamer ruim genoeg. Sy vroetel tussen die buisies verf en kies geel, wit en silwer wat sy op die bed neersit. Tel dan nog ’n buisie op. Donkerbruin. Sy frons. Sal sy oë lig of donker wees?
Voor sy die res wegpak, sit sy die donkergroen en drie verskillende blou buisies langs die ander neer. Sy is meteens so opgewonde. Haar hande jeuk om te begin.
Daar is ’n ligte kloppie aan haar deur voor tannie Helga inloer. Haar oë rek. “En dit Monya? Wil jy dalk hierdie aanvallige ou lyf van my op doek verewig voordat ek die emmer skop?”
Monya giggel. “Nee, my liewe Tannie. En dit is beslis nie omdat daar enigiets met daai lyf skort nie. Ek was sommer net lus om my kunsgoed uit te pak.”
Tannie Helga se oë vonkel. “O, en dan daarna te sit en kyk?”
Monya sug oordrewe. “Tannie is al heelaand lekker moedswillig. Wat gaan aan?”
Tannie Helga knipoog. “Ek dink vandat jy ’n sekere verskynsel op die strand gewaar het, is jou koppie ’n bietjie deurmekaar. Of wat praat ek alles?”
Monya se wange word weer warm. Sy terg terug. “Maar natuurlik raas my koppie nou effens, want ná vanaand sal Franskraal se strand vir my nooit weer dieselfde wees nie.
Gebruik Tannie se verbeelding . . . die silwer maan oor die see . . .
spierwit sand . . . ’n witgeklede gedaante met wapperende lappe vir arms . . . En dan kyk hy nog om ook en waai vir my! Neem Tannie my hierna enigsins kwalik dat ek selfs net ietwat geïnspireer is?”
Tannie Helga se oë flikker. “Geïnspireer?” Wys dan na die esel. “Wil jy hom verf, Monyatjie?”
Monya spring op. Gaan staan hande in die sye voor die esel. Draai dan terug na haar toe. “Ek wil nie vir hóm skets nie, tannie Helga. Ek wil die toneel van die baai en die volmaan en die silwer see skets.
Dit was ongelooflik mooi. En natuurlik dra die maanengel by tot die hele prentjie. Dit maak dit iets besonders. Uniek.”
Tannie Helga glimlag sag. “Ek verstaan, my kind. Beter as wat jy dalk dink. As jy hierdie maanengel ooit weer iewers raakloop, kan jy hom gerus nooi vir ’n koppie tee. Ek sal graag wil sien hoe so iemand, of moet ek liewer sê so ’n verskynsel lyk. Belowe jy my?”
Monya skud haar kop in ongeloof. “Nee, tannie Helga. Ek belowe niks. Ek glo nie ek sal hom kan oornooi nie, want ek glo nie ek sal hom ooit weer sien nie en ek glo beslis ook nie dat hy die tipe is wat ’n koppie tee sal geniet nie. Vergeet nou asseblief dat ek ooit so iets genoem het.”
Tannie Helga gee meteens ’n tree vorentoe en slaan haar arms om haar. “Lekker slaap, Monyatjie. En ek is bly dat jy jou kunsgoed weer uitgepak het. Jy kon altyd so mooi verf en teken.”
Monya voel die sagte rondinge teen haar lyf. Druk haar styf vas. Fluister dan in haar oor. “Tannie sal die eerste een wees wat dit sien. Ek belowe. Gaan slaap nou lekker en vergeet van maanengele en allerhande moontlike voorbodes of verspotte idees wat dalk in Tannie se kop kom nesmaak het.”
Sy stap saam met haar kamer toe. Wag tot sy in die bed is voordat sy die lig afskakel. “Sien Tannie môreoggend.”
Sy stap terug sitkamer toe. Trek die gordyne toe en maak seker dat al die vensters toegemaak is. In die kombuis voel sy aan die kombuisdeur. Trek die grendel dan dig. Buiten die gewone inbrake het hierdie stranddorpie tot nou toe nog gewapende roof en moord vrygespring.
In haar kamer trek sy haar nagklere aan en klim in die bed. Maar die esel voor die venster trek haar soos ’n magneet. Sy kan nie aan die slaap raak nie. In haar gedagtes meng sy verf en speel met kleure en lyne dat dit haar later uit die bed opjaag. Sy klim op ’n stoel om een van haar doeke bo van die kas af te haal en sit dit op die esel neer. Gryp dan ’n potlood en begin teken. Met elke streep wat sy trek, voel sy die suurstof in haar longe opwel.
Hoe kon sy haar so lank hiervan ontneem het? Tyd vlieg. Toe sy uiteindelik in die vroeë oggendure effens terugstaan van die esel en na haar handewerk kyk, glimlag sy. Die prent is onmiskenbaar dié van ’n sekelmaanstrand met ’n volmaanpad oor ’n silwer see . . . en ’n maanengel.