Skip to main content

Uittreksel | Lyfskap

1

Die moeilikheid met Piña Coladas
Elsa Winckler

“Ek het jou gesê Gerrit Bos se oë sit te na aan mekaar,” sê Brenna voor sy die kelner weer ’n keer nader wink.

“Ek kan nie glo hy’t jou ontwerp gesteel en as sy eie aan jou baas voorgelê nie. En dit terwyl hy maak asof hy belangstel in jou. As ek hom darem in die hande kry . . .” dreig Ellen.

Mientjie kan nie eens glimlag vir die idee dat die fyne Ellen dink sy kan iets aan Gerrit doen nie; sy’s net te kwaad. Kwaad omdat sy haar laat flous het deur die man se breë glimlag; kwaad omdat sy so naïef was om te dink hy stel werklik in haar as mens belang, en absoluut woedend omdat hy nie dink hy hoef verskoning te vra nadat hy haar idee vir ’n nuwe logo vir een van hulle groot kliënte gesteel het nie. Stommerik wat sy was, het sy dit vir hom so maklik gemaak – sy het dit ewe vir hom gewys.

Sy neem ’n lang sluk deur die strooitjie van haar piña colada en beduie vir Brenna sy wil nog een hê. “Nie net het hy my idee gesteel nie, hy het ook die bevordering gekry wat myne is. Myne!”
Dis Donderdag, amper naweek, en almal in die besige kuierplek in die hartjie van Kaapstad is luidrugtiger as gewoonlik, so niemand sal hulle aan haar uitbarsting steur nie.

“Ek dink net nie jy moes sommer bedank het nie; hoekom het jy nie eerder net vir jou baas gesê dis jóú ontwerp nie?” vra Sunette.

Mientjie trek die naalde uit haar bolla wat styf op haar kop vasgemaak is en skud haar hare los. “Gmf, wie dink jy gaan hy glo? Nee, wat. Die klomp mans het mos hulle eie klub. Ek moes net eenvoudig bedank; daar’s nie ’n manier dat ek weer saam met daai vent kan werk nie.”

“Maar wat gaan jy nou doen?” vra Brenna. Altyd die praktiese een.
“Annie, my kleinsus, trou Saterdag. Ek sou in elk geval môre na werk gery het; nou kan ek vroeër ry.”

“Dit was darem alles baie skielik. Het sy nie maar nou die dag die man ontmoet nie?”

“Drie maande gelede,” antwoord Mientjie. “Hulle het iewers letterlik in mekaar vasgeloop en volgens haar het sy dadelik geweet Eben is haar trouman.”

“Waar is die troue nou weer?” vra Sunette. “Iewers in die boendoes?”

“Êrens in die Cederberge. Dalk bly ek sommer ’n paar dae langer.” Mientjie gooi haar hande in die lug. “Ek het tyd. Vir die eerste keer vandat ek begin werk het, sal ek actually tyd hê vir myself.”

Die kelner bring ’n skinkbord met nog piña coladas vir elkeen. “Bring asseblief nog ’n rondte?” vra Mientjie terwyl sy haar glas by hom neem.

“Die moeilikheid met piña coladas is, dit smaak soos koeldrank.” Mientjie sien hoe Ellen onderlangs na hulle ander twee vriendinne loer. “En ’n mens doen dalk net dinge wat jy nie móés gedoen het nie. Dink nie jy moet stadig nie? Jy drink mos nie eintlik nie.”

“Presies. Ek is die goody two shoes. Ek drink nie, ek slaap nie rond nie, oukei, behalwe daai een keer, en ek doen my werk. En kyk wat het gebeur?! Mense loop sommer bo-oor my. Nee wat, dis tyd dat ek die lewe met albei hande aangryp.” Sy beduie met haar hande voor sy weer aan haar strooitjie suig. “Ek het klaar besluit. Die eerste man wat vanaand in my rigting kyk, vat ek huis toe.”

Brenna stik in haar piña colada, Sunette giggel en Ellen se oë rek.
“Seriously?” kry Ellen uit.

“Seriously.” Mientjie draai om in haar stoel en kyk rond in die gepakte vertrek. “Help my na ’n kandidaat soek. Een met sulke ek-wil-jou-opeet oë.”

“Moenie laf wees nie, Mientjie,” raas Brenna. “Dis nie in jou aard om rond te slaap nie. In dié tyd en dae kan jy nie sommer enige javel optel en huis toe vat nie, jy is só nie die one-night stand tipe nie.”
“Dis die piña coladas wat praat,” giggel Ellen.

Sunette grinnik en beduie met haar oë na regs. “Wel, hier langs ons sit ’n paar manne wat almal drop-dead gorgeous is, maar daar is een wat nog nie sy oë van jou kon afhaal nie.”

“Waar?” vra Mientjie en draai haar kop in die rigting wat Sunette beduie. ’n Paar pers-blou oë sluk haar feitlik in. Om haar raak dit doodstil. Gehipnotiseer gly haar blik oor die man se vierkantige kakebeen, af teen sy nek tot waar gespierde boarms styf pas in ’n wit hemp. Sy das is losgetrek, die boonste knoop oopgelos. ’n Paar slierte van sy inkswart hare val oor sy voorkop tot teenaan sy digte wenkbroue.

Haar binnegoed word omgedolwe. ’n Versengende hitte versprei binne sekondes deur haar lyf en dreig om haar te verswelg. Asemhaling is feitlik onmoontlik.

Sonder om sy oë van haar af te haal staan hy op, gooi geld op die tafel en begin in haar rigting beweeg.


“En nou?” roep Lafras agter hom, maar Tiaan haal sy oë nie van die blondekop af nie. “Waarnatoe gaan jy? Ons is nog besig om ons planne vir die naweek te finaliseer,” probeer sy broer weer sy aandag kry.

“Ek het gedink hy’s nog dikbek oor die laaste girl wat hom vir ’n Italianer gelos het,” lag Marnus.

“Wel, hy’s duidelik oor haar,” sê Reinier. “Ons het mos klaar gepraat oor wie wat saamneem. Ons sien Tiaan hopelik môre by die werk. Hy is darem een van die strooijonkers by Saterdag se troue; hopelik sal hy nie daarvan vergeet nie.”

Maar Tiaan steur hom nie aan sy broers nie. Hy het die blondekop en haar vriendinne raakgesien toe hulle instap. Al vier vrouens is aantreklik en sexy, maar daar was net iets in die gloed op die blondine se wange en die manier waarop sy haar ken hou, wat dit moeilik gemaak het om weg te kyk. Duidelik is sy ontsteld oor iets.

Dit was erg genoeg om haar dop te hou terwyl sy aan haar strooitjie suig, maar toe sy haar hare losmaak en haar goue lokke oor haar skouers val, het begeerte se vuishou hom op die krop van sy maag getref. Heeltemal onverwags. Hy hou van vrouens, weet wat begeerte is, maar wat hy nóú voel, is ’n eerste.

Hy het die piña coladas wat sy verorber het, getel. Drie glase. Die tafels in die kuierplek is naby mekaar en dit was nie moeilik om te hoor waaroor die vrouens gesels nie.

Die rede vir haar ontsteltenis het gou duidelik geword, maar dit was toe sy begin rondkyk vir iemand wat sy kan “huis toe vat”, soos sy dit gestel het, dat hy net eenvoudig moes opstaan en sy hulp aanbied.

Hulle ma het hulle mooi grootgemaak om te help waar hulle kan en met ’n one-night stand kán hy help. Om die waarheid te sê: Hy verkies dit. En in hierdie geval hoef hy nie eens vooraf te probeer verduidelik dis net een nag nie – dis presies waarna dié girl soek.

Trou en kinders grootmaak is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy ouers is geskei toe hy en sy broers in die hoërskool was en waardeur hulle is, wens hy niemand toe nie; verál nie sy eie kind nie.

So, as hy die girl vir een aand kan uithelp, doen hy dit graag. En om die een of ander rede is die idee van haar saam met ’n ander man glad nie iets waaraan hy wil dink nie. Sy’s beautiful, sexy en . . .

Sy staan op, haar oë op hom. Onder haar kort, wye rompie flits ’n paar sexy, bruingebrande bene. ’n Ligblou T-hemp pas styf om haar bolyf, maar dis die stywe puntjies wat teen die sagte materiaal beur wat sy aandag vasvang.

Begeerte hang swaar in die lug om hulle.

Met nog een tree is hy by haar. “Tiaan.” Dis nie die tyd vir lang sinne nie.

’n Pienk tong glip oor haar onderste lip, sy keel trek toe. “Mientjie.” Haar stem is hees.

“Waar bly jy?” Hy vleg sy vingers met hare.

“Groenpunt.”

“Ek is nader. My motor is in die parkeergarage langsaan.”

“Oukei.” Sy glimlag. Sy mond word kurkdroog.

“Oukei,” kry hy uit voor hy vinnig in die rigting van die deur beweeg.