Skip to main content

Uittreksel | Liefdesleuens

Een

Maya en Douw sit oorkant mekaar in die sagte lig van die kers in hulle gunstelingrestourant. Die lig flikker op hulle gesigte en gooi hul verwronge skaduwees teen die muur. Die ander mense se geselsery is ’n sagte agtergrondgeruis.

Vanaand is veronderstel om ’n romantiese aand te wees. Dis Maya se dertigste verjaardag en die driekaraatdiamant aan haar linkerhand flits behoorlik as die lig dit vang. Dié pragtige en opvallende ring sit al vier jaar lank aan haar vinger. Mense sien dit al­tyd raak. Sy werk as agent by Prestige Properties en Douw is die eienaar. Kort nadat sy in die maatskap­py aangestel is, het hulle besluit dat hulle vir mekaar bedoel is. Douw is nie net buitengewoon aantreklik met sy lang, lenige lyf, blonde kuif en helderblou oë nie, hy is ook lewendig en charismaties en kan met mense toor. Lyk nogal na die filmster Ryan Gosling en weet dit. Hulle spot altyd daaroor. Boonop is hy een van die suksesvolste en gesogste eiendomsagente waarvan sy weet. Die agentskap het slegs drie agente en ’n ontvangsdame cum sekretaresse, maar hulle doen besonder goed vir hulle omvang.

“Douw kan ’n krot aan ’n miljardêr verkoop en die man laat dink hy kon die winskoop nie weer­staan nie,” het een van hulle vriende gespot.

Sy kon hom ook nie weerstaan nie, en hy het nie gehuiwer om haar onmiddellik in te palm nie. “Ek wou nog altyd ’n Ierse skoonheid gehad het,” het hy vir haar gesê. “Een met swart hare en oë grys soos die wolke as ’n storm opsteek. Iets wat ’n mens nie agter elke bos sal uitskop nie.”

Met komplimente was hy nog nooit suinig nie.

Hulle is veronderstel om vanaand vrolik te wees, maar daar is iets ongemakliks in die lug.

Die kelner bring vir elkeen van hulle ’n biefstuk en sit dit voor hulle neer. Dit lyk heerlik en by dié fyn­proewersrestourant is dit ook aantreklik voorgesit, met net die regte trimmings, soos Douw altyd sê. Hy is baie kieskeurig as dit by kos kom.

Die kelner skink vir hulle nog van die Franse sjampanje. Douw sal nooit die plaaslike vonkelwyn bestel nie en vanaand het hy die duurste invoer­produk bestel. Maya probeer sy gesigsuitdrukking lees. Waarom lyk sy glimlag gedwonge? Sy kry die indruk dat sy blik afwesig is, asof iets hom pla. Sy oë dwaal, en hy kyk nie intiem in haar oë soos ge­woonlik nie.

Sy kyk fronsend na hom. “Is iets verkeerd?”

Dit lyk asof sy glimlag soos die kerslig flikker. Hy kyk apologeties na haar. “Nee, ek is jammer. Lyk dit so? Daar’s net iets omtrent ’n huis wat ek verkoop het wat my pla, maar dis niks wat ek nie kan uit­stryk nie. Moenie jou daaroor kwel nie.”

Haar oë bly ondersoekend op sy gesig. Waar is die warmte en konneksie wat hulle gewoonlik deel? Teleurstelling spoel deur haar. Vandag is ’n soge­naamde ronde verjaardag, ’n okkasie, maar dis nie so lekker soos sy veronderstel het dit gaan wees nie.

Hulle klink glase. “Op die mooiste vrou in die land vir wie ek die liefste is.” Verbeel sy haar of hoor sy ’n vals noot in sy stem?

Hulle eet en drink, maar hulle gewone geterg en speelsheid is afwesig. Hulle lag nie vir mekaar se grappies nie. Daar is ongemak, ’n onderstroming van spanning.

Sy sluk haar sjampanje, maar haar gedagtes is kolkend. Iets is verkeerd. Daar is skielik ’n glasmuur waardeur sy nie kan dring nie. Het iets lelik skeefgeloop by die besigheid, maar Douw wil haar nie vertel en onrustig maak nie? Wat wil hy haar nie vertel nie?

“Jy is net nie jou gewone self nie. Ons is veronder­stel om vanaand te geniet en iets te vier, maar jy is allesbehalwe vrolik.”

“Ag, Maya, ek is jammer. Ek voel nie te gesond nie. Miskien het ek iets onder lede.”

Hy steek sy hand oor die tafel en vat hare. “Ek is jammer as ek jou verjaardag bederf. Belowe ek sal vergoed. Vandag was net chaoties en ek het regtig ’n seer keel en hoofpyn.”

“Skuif maar dinge wat jy nie kan hanteer nie, op my af,” terg sy. “Ek is mos jou werknemer ook, nie net jou verloofde nie. Jy kan mos altyd op my nom­mer druk as jy onder druk is. Ons is tans vreeslik besig, maar ons kan dit met mekaar se hulp hanteer.”

Hy trek haar hand nader en soen dit. “Ja, ek weet, my enigste en mooiste liefling. Ek dink ek moet me­disyne drink en bed toe gaan. Môre voel ek beter, dan kan ek weer die wêreld op my rug dra.”

Hulle maak gou klaar en hy gaan laai haar by haar dorpshuis in De Oewer af. Die ongemak in haar gemoed wil nie wyk nie. Skadu’s kan skielik en onverwags oor die heerlikste geleentheid val. Sy soen hom, maar hy is vanaand sonder passie.

“Moenie inkom nie, gaan dadelik bed toe.”

Met ’n sug sluit sy haar deur oop en hoor hoe sy Mercedes-sportmotor, ’n duur AMG GT R-koepee se bekende klank wegraak. Sy het al gewonder waar­om hy dit nodig ag om so ’n buitensporig duur mo­tor te ry. Asof iets so blink moet wys hoe suksesvol hy is. Asof hy daardeur iets wil bewys.

As hy siek voel, moet sy nie so oorreageer nie. Dit gaan nie net oor haar nie, al verjaar sy. Hulle verstaan mekaar mos. Saam sal hulle enige uitdaging te bowe kom en hulle liefde vir mekaar sal hulle lei deur enige onsekerhede wat mag opduik. Vertroue en onderskraging is mos deel van liefde, nie waar nie?

Sy ontspan in ’n warm bad, trek nagklere aan en gaan kruip in. Ongelukkig kan sy nie aan die slaap raak nie; iets knaag aan haar. Die tyd stap aan, en twyfel kruip al hoe meer by haar gemoed in. Dit voel asof sy al ’n ewigheid lank aan Douw verloof is, maar hulle kom net nie tot trou nie. Die aanvanklike opwinding van die huweliksaansoek en verlowing het vervaag.

Sy voel aan haar groot, duur verloofring. Onthou hoe Douw haar daarmee verras het. Hy het dit aan haar vinger gesteek en haar asem het weggeslaan oor die grootte en skoonheid daarvan. Douw sou nooit ’n goedkoop ring of klein diamantjie gekoop het nie. Hy het liefde en trou beloof, en ’n leeftyd se kameraadskap. Waarom voel dit nou asof daardie belofte in die lug hang, onvervuld?

Sy draai op haar sy, met een hand onder haar wang. Nee, die slaap wil net nie kom nie.

Dae word weke, weke word maande, maande word jare, maar Douw is net nie gereed vir trou nie. Sy en Douw woon nie eens saam nie. Pare in hulle vriendekring trou die een na die ander. Sy moet luister na trouplanne en -reëlings, venues help bespreek, soms bystaan as rokke aangepas word. Sy gaan na bruidstees en bespreek blommerang­skikkings, en wonder heeltyd wanneer sy dan haar beurt gaan kry.

Terwyl sy voorgee dat dit haar nie regtig traak nie.

Met ’n sug staan sy op, skakel die lig aan en loop kaalvoet na die badkamer. Soms drink sy slaappille, maar dis die uitsondering. Sy neem een klein blou pilletjie en sluk dit met water af. Kyk na haarself in die spieël. Haar troebel oë. Dink aan wat sy en Douw al gedeel het: gelag en drome, stil en intieme aande. Maar dan dink sy ook aan die argumente wat dikwels opvlam, veral as sy praat van trou. Hulle lei veeleisende lewens, argumen­teer Douw. Hy sien nie nou al kans vir ’n gesinslewe nie. Die romantiek van bloot verloof wees, maak hom gelukkig. Met die gevolg dat alles net in die lug hang.

Sy gaan weer terug na haar groot bed met die pragtige wit beddegoed waarin sy alleen slaap. Nou vra sy die moeilike vraag: Wil Douw regtig trou? Of is hy ’n reeksverloofde? Hy was voorheen verloof en het die meisie gelos. Hy is ook al vyf en dertig jaar oud, wat hom na ’n verstokte oujongkêrel laat lyk. Wil hy regtig ’n toekoms bou saam met haar wat Maya is, of is die huidige situasie vir hom te gerieflik om te verander?

Sy klim onder die duvet in, skakel weer die bed­lamp af en bly staar na die plafon. Haar beste vrien­din Wilma het haar al aangemoedig om dinge be­hoorlik met Douw uit te praat, maar sy is versigtig. Wil nie alles bederf nie. Hulle is mos veronderstel om gelukkig te wees.

“’n Gesonde verhouding beteken eerlikheid teenoor mekaar,” preek Wilma vir haar. “Liefde verdra nie leuens nie.”

Dié gesprek met Douw sal moed verg. Sy moet die waarheid vierkant in die gesig kyk.

Watter waarheid? Het sy by ’n kruispad gekom?

Verhoudings is kompleks en albei partye moet moeite doen. Daar moet groei en begrip wees. Van twee kante af.

Haar verhouding moet tot trou lei of sy moet ’n ander pad inslaan. Sy is nie ’n marionet wat deur ’n man gemanipuleer word sodat sy vir hom moet dans nie. Vir haar eie geluk en vervulling sal sy nou moet veg. Reg of weg?


Maya eet muesli en drink soet swart koffie. Daarna stort sy vinnig, was en stileer hare, grimeer liggies, en trek haar gewone netjiese pakkie en hoëhakskoene aan. Sy voel altyd dat sy professioneel moet lyk en die beeld van ’n bekwame, hardwerkende sakevrou moet vertoon, aangesien sy met hoëpro­fielkliënte werk wat net duur en luukse eiendomme soek. Sy is ambisieus en trots daarop dat sy as suk­sesvol beskou en vertrou word.

Soos gewoonlik gaan sy vroeg werk. Hulle kan­tore is in Dorpstraat in een van die historiese huise wat pragtig opgeknap is. Dis stapafstand van haar dorpshuis, maar sy gebruik heeltyd haar motor om huise te gaan besigtig, en daarom ry sy in by die smal hek waar die uithangbord Prestige Properties aandui, en gaan parkeer agter die gebou waar daar ’n ry parkeerplekke onder skadunette in die netjiese tuin is. Soos gewoonlik tjirp en sing die voëls in die bome en hol ’n eekhoring oor die grasperk. Hy gaan staan eers en hou haar met kraalogies dop.

“Ja, jou klein vabond, ek het vergeet om vandag vir jou neute te bring. Ekskuus, ek sal môre onthou.”

Sy lag, want sy kan sweer hy lyk vies, en hy skiet by ’n boom op. Sy noem hom Albertus en hy verwel­kom haar elke oggend. Douw noem hom ’n boom­rot en ’n pes, maar sy is lief vir eekhorings omdat hulle kordaat en oulik is.

Maya en Douw is gewoonlik ’n uur vroeër as die ander personeel op kantoor, maar nou is Douw se opvallende sportmotor nie by die parkeerplek nie.

Sy loop in by die luukse, stylvolle portaal met leermeubels, koffietafels met nuwe tydskrifte, en olieverfskilderye aan die mure. Sagte kleure, wit en beige en liggroen, sag op die oog. Die wulpse twin­tigjarige sekretaresse cum ontvangsdame, Olga, is natuurlik nog nie op kantoor nie. Sy arriveer altyd presies om agtuur, en soms ’n paar minute laat. Die ywerige jong eiendomsagent, Wouter Bezuiden­hout, is ook nog nie op kantoor nie; sy Audi was ook nie buite geparkeer nie.

Maya het pas by haar kantoor ingeloop en haar tablet, portefeulje en handsak neergesit, toe haar foon lui.

“Maya-lief, ek voel vandag te oes om in te kom.” Douw klink nasaal. “Hou tog die fort, asseblief.”

“Foeitog, het jy meds, of moet ek vir jou bring of stuur?”

Hy het vir hom ’n groot huis in Thibaultstraat in Mostertsdrift gekoop en dis naby genoeg aan die kantoor om vinnig oor te haas om te gaan kyk of hy oukei is.

“Nee, ek het genoeg moetie, dankie. Moenie worry nie. Luister, daar’s ’n dokter wat van Preto­ria af trek, ene dokter Reinhardt Enslin. Eintlik is hy ’n dermatoloog. Maak seker puisiegesigte gesond. Anyway, hy’t twee groot kinders wat vanjaar eerste­jaars aan Stellenbosch Universiteit sal wees, en hy soek ’n mansion, nie sommer ’n common of gardenhuisie nie. Hy’t geld, so behandel hom soos goud. Jy sal vir hom moet huise wys. Ek het reeds gedink aan Solomonstraat 15 hier naby my, ’n ryk ou weduwee se huis. Sy wil na ’n aftreeoord trek. Grand plek. ’n Money spinner. Sy is mevrou Selby en die huis het pas ingekom op ons boeke. Blykbaar het sy dit voor­lopig net vir ons gegee as alleenmandaat.”

Hy begin hoes en Maya wag geduldig totdat hy ophou.

“Skuus, my keel is blerrie seer en ek hoes vir ’n wen en ’n plek. O, die dok het ’n moewiese groot en smart huis in Pretoria se grand voorstad Water­kloofrif verkoop, so hy’s waarskynlik ’n kontantko­per. Kry sy lêer by Olga. Oukei?”

“Als reg. Drink net jou moetie en rus.”

Hy maak soengeluide. “Cheers, my ding.”

“Tata, Douw.”

Sy kyk na haar skedule vir die dag. Kontroleer haar e-pos vir boodskappe van kliënte af en opdaterings van lyste eiendomme wat moontlik binnekort op die mark kom, en potensiële kopers. Solo­monstraat 15 is een daarvan. Die foto’s wys ’n enorme en duidelik baie ou huis, dubbelverdieping, tuin ruig met reusebome. Sy moet na die plek gaan kyk en bepaal in watter toestand dit is. Eienaar, mevrou Roberta Selby. Blykbaar die weduwee van die man wat die bekende Selby’s-vervoermaatskappy gehad het. Sou hulle kinders hê?

Olga kom in met haar oggendkoffie. Gewoonlik is sy vrolik. Haar bloedrooi hare krul woes om haar kop en haar grimering is swaar genoeg om ver­hooggrimering te wees. Haar groen rok sit styf aan haar en beklemtoon al die kurwes. Sy lyk flambo­jant, maar haar gesig is stroef.

“Haai, moenie vir my sê jy’s ook siek soos Douw nie?” sê Maya besorg.

Olga glimlag flou. “Ek is nie regtig siek nie. Ek het net ’n helse uitval met my boyfriend gehad en toe min geslaap.”

“Foeitog.”

Maya dink aan haar eie onrustige nag en kry die meisie jammer. Moet die liefde altyd hobbels in die pad hê?

Dis dalk ’n goeie plan om sommer nou na die groot Solomonstraat-huis te gaan kyk. Sy verkoop nooit ’n huis wat sy nie self behoorlik geïnspekteer het nie. As iemand ’n kat in die sak koop, sal dit haar skuld wees en dan ly haar goeie reputasie skade. Sy vra Olga om ’n afspraak te maak.

Olga kom gou na haar terug. “Die ou tannie, mevrou Selby, sê jy kan binne ’n halfuur kom, Maya.”

“Goed, dankie.”