Skip to main content

Uittreksel | Liefde vir 'n Prins

Proloog

Delmarie Kemp sit moedeloos op hulle huis se stoeptrappie. Sy kyk om haar. Die armoede en jammer­likheid is sigbaarder in die skemer. Dis morbied en toekomsloos. Daar is geen geluk, liefde of uitkoms te siene nie. Wat gaan nou van haar word? Sy is alleen. Trane rol oor haar wange. Wat moet sy doen? Sy het nie eers ’n foon om iemand te bel om te kom help nie, want dis ’n luuksheid. En daar is in elk geval nie iemand om te skakel nie, dink sy huilerig. Die bure is ook nog nie tuis nie, anders sou sy daar gaan aanklop het. Dalk moet sy na die hoekkafee stap en daar probeer om die polisie of ambulans te bel?

Sy weet nie hoe lank sy daar gesit het nie, maar sy kyk op toe sy die armsalige tuinhekkie hoor kraak.

“Juffrou Prins, wat maak jy in hiérdie deel van die dorp?” kry sy dit flou uit.

“Ek het goed by die kinderhuis kom aflaai, toe ek jou sien. Hoekom huil jy, my meisie? Waar is jou ouers?”

“Ek . . .” Maar sy kom nie verder nie, want rou snikke ruk uit haar keel.

“Jy kan maar met my praat as jy wil,” sê haar Afrikaans-juffrou kalm.

“Dis my ma. Sy . . . Toe ek terugkom van skool af, toe lê sy net in haar kamer. Sy . . . sy is dood en ek weet nie wat om te doen nie. Of wie om te bel nie. Nou is ek alleen. Ek het nie ’n pa of familie nie. Ek het niemand. Niemand!”

Die hartseer brand in haar keel. Niemand gaan haar wil hê nie, dink sy.

“Ai, my meisie. Toe maar, toe maar.” Juffrou Prins vryf oor haar hare totdat sy uiteindelik kalmeer. “Jy kom bly by ons totdat hierdie probleem opgelos is. Kom.”

“Nee, ek kan nie. Wat van Juffrou se man en kinders? Ek gaan net in die pad wees. Ek is nie Juf­frou se verantwoordelikheid nie.”

“Nee, jy is nie, maar ek wil jou help. Jy is ’n lief­like meisie en ek gaan nie toelaat dat die welsyn jou laaste skooljaar vernietig nie.”

Sy het nie daaraan gedink nie en begin opnuut snik, maar die ouer vrou vou weer haar arms om Delmarie en laat haar begaan.

“Ek gaan gou ’n paar oproepe maak. Dink jy jy kan solank die nodigste goedjies gaan inpak? Ons kan anderdag die res kom haal.”

“Ek dink so. Is Juffrou seker?”

“Natuurlik, my kind. En van nou af noem jy my tannie Suné.”

Delmarie word styf vasgedruk en vir die eerste keer sedert haar pa se dood tien jaar gelede ervaar sy iets soos ouerliefde. Sy druk die tannie ook styf teen haar vas en fluister saggies: “Baie dankie.”


Een

Delmarie soek tussen die talle mense op George Lughawe na die dierbare tannie Suné. Sy moet haarself keer om te begin hardloop toe sy haar uit­eindelik sien. Soos gewoonlik kan jy haar deur ’n ring trek. Die kort swart hare is in ’n netjiese, moderne styl gesny en sy is, ook soos gewoonlik, be­hang met juwele. Hoe het sy hierdie vrou nie gemis nie! Eintlik die hele familie. Oom Ben is ’n wonder­like man wat ’n wildvreemde tienermeisie in hul huis ingeneem het en haar as deel van die familie beskou en behandel het.

Sy loop vir tannie Suné tegemoet en druk haar styf teen haar vas.

“Ek het so na Tannie verlang.”

“En ek na jou, my meisie. Maar kom ons gaan nou eers hier uit. Die baie mense maak my kloustrofobies.”

“Wat Tannie waar kry? Tannie staan dan elke dag voor ’n klomp mense.”

“Nee, kinders is nie mense nie; hulle is ’n ander spesie.”

Sy kan nie help om te lag nie. En tannie Suné is ernstig – sy moet drafstap om by haar by te hou.

In die motor sug tannie Suné. “Dankie tog. Vertel my nou eers hoe dit met jou gaan.”

“Baie goed. Ek is so dankbaar julle het my ge­nooi om die Desembervakansie saam met julle by die strandhuis te kom deurbring.”

“Ja, dis jou eerste somervakansie saam met ons klomp Prinse. Wat heeltemal onnodig was. Jy kon elke universiteitsvakansie saam met ons gewees het. Maar jy moet jou woorde tel; dit kan soms ’n bietjie mal raak as almal daar is,” sê sy terwyl sy die motor uit die parkeerarea bestuur.

“Ek kan dit nie dink nie.”

“Jy sal verbaas wees.”

“Hoe bedoel Tannie?” vra sy laggend.

“Nee, wat. Jy ken mos die oom. Vakansie beteken eers om die hele huis reg te maak, en daarna doen hy niks anders as slaap en rus nie. En hoe langer die vakansie, hoe minder wil hy doen. Dit raak selfs ’n uitdaging om op die strand te gaan stap. Melt is ernstig, soos altyd, maar sjoe, hy spandeer baie tyd in die gim. Jy moet hom sien. Ek kon amper nie glo hoe anders hy nou lyk nie. Toe ons verlede week op Skype gepraat het, het ek amper gedink ek praat met iemand anders. En Rossouw; jy weet mos hoe hy is. Niks het verander nie; ons jongste het nog steeds ’n massa mooi meisies op sleeptou. Ek dink Uys is die enigste normale een tussen ons lot. Vir ’n verandering wil hy net vakansie hou.”

“O, dan gaan ek ook uiteindelik julle oudste seun ontmoet,” sê Delmarie opgewonde.

“Wil jy vir my sê jy het hom in die vyf jaar wat jy ons klomp ken, nog nooit gesien nie?” vra tannie Suné verbaas. Daar is ’n frons op haar voorkop ter­wyl sy vinnig in Delmarie se rigting loer.

“Ja, kan Tannie glo?” Delmarie haal ’n rekkie uit haar handsak en bind haar lang blonde hare vas.

“Maar dis mos onmoontlik!”

“Nie regtig nie.”

“Jy kon eintlik meer saam met Melt vakansies huis toe gekom het. Hy sou glad nie omgegee het as jy saam met hom van Potch af gery het nie.”

“Ek weet, maar ek het mos tydens universiteits­vakansies meestal gewerk. Ek kon nie elke vakan­sie op julle nekke kom lê nie.”

“My meisie, jy kan mos nou nie so praat nie. Ons sou jou met ope arms ontvang het.”

“Ek weet, maar julle het al so baie vir my gedoen. Ek . . .” Delmarie sluk hard aan die knop in haar keel. “As dit nie vir die Prinse was nie, weet ek sowaar nie.”

“Ag, jy is mos soos my eie kind, my meisie.” Tan­nie Suné se stem klink ook ’n bietjie krakerig. “In elk geval, ek is bly jy gaan Uys uiteindelik ontmoet. ’n Pragtige mens en die enigste dokter in die familie.”

“Tannie het al so baie van Uys gepraat, dit voel asof ek hom al klaar ken.”

Daar heers ’n oomblik stilte terwyl tannie Suné seker maak sy neem die regte afdraai na Mossel­baai se strand.

“Ek moet jou waarsku daar is net een voertuig tussen die spul van ons. Ons los hierdie motor in die motorhuis hier en vlieg gewoonlik heen en weer. Ons buurman ry so nou en dan ’n draai met die motor sodat die battery ’n bietjie kan laai. Ons het ’n huisreël dat jy betyds moet laat weet as jy die kar gaan nodig hê. Uys kom gewoonlik met sy eie bakkie van Stellenbosch af, maar hy het hierdie keer gevlieg. Nou reël ons maar so onder mekaar.”

“Ek sal nie die motor gebruik nie, Tannie. Ek wil net heeldag na die see sit en kyk.”

“Ek sê maar net vir ingeval. Vertel my hoe die studie gegaan het hierdie jaar. Ek is so bly jy het in my voetspore gevolg en onderwys gaan swot. Dis nou wel Wiskunde, wat totaal en al Grieks is vir my, maar jou vierde jaar is mos nou agter die rug.”

Vandat die Prinse hulle oor haar ontferm het, het Delmarie geweet sy wil eendag ’n onderwyseres wees. Op daardie stadium het sy nie geweet hoe daardie droom eendag gaan realiseer nie, maar sy wou ook mense help soos wat oom Ben-hulle haar gehelp het. Ten spyte van die omstandighede waarin sy haar tienerjare spandeer het, het sy baie omgee en liefde by die Prinse ervaar. Selfs Melt en Rossouw was soos die broers wat sy nooit gehad het nie. Sy het Rossouw se eindelose geterg en spottery en Melt se sagte omgeehart baie gemis en sien daarna uit om saam met hulle in die son rond te rits.

“Ja, kan Tannie glo ek is uiteindelik ’n gekwali­fiseerde onderwyseres! Die gradeplegtigheid vroeg volgende jaar is net ’n formaliteit. Ek sal Tannie-hulle op hoogte hou sodat julle dit ook kan bywoon. Nou moet ek net eers ’n pos iewers kry. Ek het my CV al by verskeie skole ingedien en selfs al ’n aanlyn on­derhoud gehad, maar nog geen terugvoer gekry nie.”

“Die onderhoud is goeie nuus, maar geniet nou eers die vakansie saam met ons, dan bekommer jy jou in die nuwe jaar oor ’n werk.”

Sy wil aan die liewe tannie noem dat sy eintlik so gou moontlik werk moet kry, maar besluit daarteen. Sy wil nie hê tannie Suné moet haar verder oor haar wat Delmarie is, bekommer of ontferm nie. Die geld wat tot haar beskikking was en die geld wat sy oor die jare vir haar vakansiewerk gekry en gespaar het, gaan binnekort op wees.

Net ná haar agtiende verjaardag het die fami­lieprokureur haar uit die bloute op die Prinse se landlyn gekontak, want oom Ben het destyds alles hanteer. Daardie oproep was die beste nuus wat sy nog ooit ontvang het. Haar pa se testament het voorsiening gemaak dat ’n gedeelte van sy erflating gespaar bly totdat sy enigste kind agtien word om haar finansieel te help met haar studie. Sy moes steeds elke naweek en elke vakansie werk om ekstra geld te verdien vir klere en handboeke, maar die boedelgeld kon die vier jaar se klas-en koshuisgeld dek. Haar pa was haar en haar ma se steunpilaar en ná sy dood was haar ma ’n wrak. Sy kon nooit uit daardie hartseer groef kom nie en uiteindelik het dit haar lewe gekos.

“Van wanneer af is julle al hier?”

“Ek en die oom is al ’n week hier, Rossouw vanaf eergister, Uys vanaf gister en Melt kom eers môre. Die strandhuis het baie aandag nodig en die oom is al heelweek besig met herstelwerk. Ons gaan eers ná Nuwejaar terug Bloem toe. Het jy al ’n terugvlug bespreek?”

“Ek sal dit doen as ek weet waarheen ek op pad is. Op dié stadium is ek ’n bietjie huisloos. Ek sal maar wag en kyk waarheen die noodlot my neem.”

“Maar tot dan kan jy bly so lank as wat jy wil, al is ons dan reeds weg. Die huis gaan in elk geval net leeg staan. En ons het ook gedink jy kan nog op ons medies bly totdat jy jou voete gevind het. Medies kan ’n duur ding raak, jy weet.”

“Dankie, ek sal Tannie dalk opvat op daardie aanbod. Julle doen so baie vir my; julle het harte van goud! Maar vertel my eers hoe gaan dit by die skool.”

“Skool is my passie, soos jy weet, maar hierdie jaar kon die vakansie nie gou genoeg aanbreek nie. Ons het ’n nuwe hoof gekry. En siestog, een van my voogklas-matriekdogters het al vroeg in die jaar swanger geraak. Ek het haar so jammer gekry, maar is dankbaar sy het matriek geskryf. Sy het selfs die ou seuntjie nou die dag vir my kom wys. Ek was sommer broeis, maar ek sal nie nou al kan staat­maak op ’n paar kleinkinders nie.”

“Ja-nee. Daarvoor is Rossouw beslis nog nie ge­reed nie.”

“Nie een van my kinders is nie. ’n Mens sou dink dat veral Uys op sy ouderdom al ’n vrou in sy lewe het, maar hy fokus net op sy werk.”

“Tannie laat hom soos ’n stokou man klink,” lag Delmarie.

“Wel, hy is al sewe en twintig. Het jy nie al ’n outjie in die oog nie?”

“Nee, dankie! Vir sulke goed was daar nog nie tyd nie. Dalk eendag, maar tot dan sal ek geduldig wag vir die prins op die wit perd om my te kom haal.”

“Ek vra maar net,” sê tannie Suné asof sy iets geheimsinnig probeer wegsteek. “Hier is ons nou.”

Hulle ry deur ’n sekuriteitshek en draai regs aan die einde van ’n kort straatjie. Daar is tien huise in die goedversorgde kompleks. Om die seegevoel te kry het alle huise wit, blou en sandbruin kleure. Tan­nie Suné parkeer die motor in die motorhuis en Del­marie klim uit. Sy kan die see ruik en hoor, en am­per die souterigheid daarvan proe. Sy sluit haar oë ’n oomblik.

“Kom, dis hierdeur.” Tannie Suné beduie na die enkeldeur wat na die huis toe lei. Delmarie sit haar tas langs die muur voor sy tannie Suné hoor roep: “Ons is hier!”

Die manne staan dadelik nader, maar nog voor­dat sy enige iets kan inneem, tel Rossouw haar op en swaai haar laggend in die rondte. Sy klou verbete aan hom terwyl hy haar vashou.

“Yes, die vrou van my hart!” Hy soen haar vol op die lippe ten aanskoue van almal.

“Ja, ek het jou ook baie gemis,” skerts sy terug. Toe hy haar los, som sy hom vinnig op. Soos des­tyds op skool, is hy steeds lank en lenig. Die son het sy vel bruin gebrand sodat die sproete oor sy neus donkerder vertoon en sy hare effens verbleik is.

“Is dit nou al? Ek verlang my dood en jy vergeet van my.” Rossouw hou sy hart vas asof hy gepynig word.

“Ai, jy sal ook nooit verander nie,” sê sy en soen hom skrams op die wang.

“Kom nou, seun. Ek wil ook behoorlik groet.” Oom Ben tree vorentoe en sy stap in die kring van sy veilige omhelsing. Sy hare is gryser as toe sy hom laas gesien het, maar die liefdevolle oom herinner haar steeds aan ’n sagte teddiebeer. Hy hou haar ’n rukkie styf teen hom vas. “Ons het jou hopeloos te lank laas gesien.”

“Ek stem saam. Ek het julle almal so baie gemis.”

Oom Ben staan terug en vou sy arm om sy vroutjie.

“My man, kan jy glo Delmarie en Uys het mekaar nog nooit ontmoet nie?”

“Hoe is dit moontlik?” vra oom Ben.

“Jy het baie misgeloop, ou broer. Hierdie girl is amazing.” Rossouw neem haar linkerhand in syne asof dit die normaalste ding op aarde is en sy glim­lag vir hom.

“Ag, dis maar net omdat jy altyd iemand gesoek het wie se hare jy kan trek of skoolboeke jy kan wegsteek,” skerts Delmarie saam en kyk na die oudste Prins-seun wat ook nou by hulle aangesluit het.

“En dit is dan nou Uys,” stel tannie Suné haar seun plegtig voor.

Uys, wat tot nou toe nog nie ’n dooie woord gesê het nie, staan nader en hou sy hand professioneel na haar toe uit. Sy aantreklike gesig is dadelik vir haar opvallend. Donker oë, sterk ken, donkerblonde hare en ’n baie, baie soenbare mond wat tans on­vriendelik lyk.

Sy reik ook uit na sy hand, maar voordat sy dit kan neem, druk Rossouw haar vorentoe tot teen­aan Uys.

“Is dit nou hoe jy jou suster groet, broer? Jy kan seker ’n bietjie beter as dít doen!”

Uys se donker oë blits in haar rigting, maar hy vou tog sy arms om haar. En skielik, asof vanuit nê­rens, klop haar hart teen ’n wilde tempo. Haar ore suis soos sy die bloed deur haar kop voel vloei. Sy hoop nie hy kan dit voel nie. Haar arms vou bewerig om sy warm middel. Hy los haar so skielik dat sy amper omval. Genadiglik lewer Rossouw nie kom­mentaar hierop nie.

“Welkom,” is al wat hy sê. Sy stem is dieper as wat sy verwag het.

“Kom ek gaan wys jou kamer vir jou, my meisie,” praat tannie Suné agter haar en sy word gedwing om oogkontak met Uys te verbreek.

“Jy is gelukkig! Ons manne moet deel sodat jy die derde kamer net vir jouself kan hê. En jy het die beste view,” vertel Rossouw. “Ek weet nie van die ander nie, maar dit pla my natuurlik glad nie. Ek is net bly om jou hier te hê, Dellie.”

Delmarie loer weer in Uys se rigting en sy kyk vinnig, ongemaklik weg toe hy haar stip, fronsend aankyk. Hy draai skielik om en stap deur die voordeur op die stoep uit. Is dit moontlik dat haar teenwoor­digheid oom Ben en tannie Suné se oudste seun só kan ontstel dat hy nie eers na haar kan kyk nie?

Die leefarea is gesellig met drie swart gestof­feerde banke en ’n groot TV teen die muur. Agter die langste bank is ’n ligbruin eetkamertafel, groot genoeg vir ses mense om by aan te sit. Tussen die twee vertrekke is groot skuifdeure wat na die see front. Die stoep is toegebou met glaspanele en die groot skuifdeure is oopgestoot. ’n Klein, maar prak­tiese kombuisie is agter haar.

Delmarie skud die wolke uit haar gedagtes en volg die tannie in die kort gangetjie af. Die eerste deur regs van haar is ’n vol badkamer in helder herfskleure. Die kamer langs die badkamer het drie enkelbeddens in dieselfde kleurskakering. Reg voor haar is die deur toegetrek; waarskynlik die ouer­paar s’n.

Tannie Suné laat haar eerste in die linkerkantse kamer instap en sy trek haar asem in. Alles in die kamer is wit en seegroen, maar dit is nie wat haar aandag trek nie. ’n Groot venster wat die hele muur beslaan, bied ’n uitsig oor die see. Branders breek op die sand en die son skitter op die wateroppervlak.

“Dis pragtig. Ek het nie woorde nie.” Delmarie druk haar vir ’n paar sekondes teen haar vas. “Dankie.”

Toe sy opkyk, staan Uys die hele deurkosyn vol. Hy kyk na haar en sy tree selfbewus terug.

“Baie dankie, Tannie,” sê sy ’n bietjie harder.

“Kom ons gaan eet iets; jy is seker honger.”

“Dit sal lekker wees. Kom ek gaan help vir Tan­nie.”

“My kind, sal jy asseblief hoor wie wil koffie hê, dan maak ons vrouens toebroodjies?” vra die tan­nie vir Uys.

Hy staan opsy sodat sy ma verby hom kan loop, maar toe Delmarie ook wil uitstap, staan hy skie­lik weer in die deur, sy arms voor sy bors gevou. Sy sluk en kyk teen sy ribbekas vas. Haar oë volg die bors, nek, vierkantige ken met ’n dag oue baard, pertinente wangbene en die donkerste blou oë wat sy nog ooit gesien het. En is hy aantreklik! Te veel na haar sin. Daardie lippe . . . Sy sien nou eers hoe hoog hy oor haar uittroon. Hy kam met sy vingers deur sy kuif. Sy sluk weer en kyk vraend na hom. Sy oë weerspieël niks goeds nie en sy kan nie uitmaak of hy aspris of net pleinweg befoeterd is nie.

“Drink jy melk en suiker in jou koffie?” Sy oë hou hare vas asof sy ’n gevangene is.

“Ja,” piep sy uit.

Sonder om ’n woord te sê staan hy weer opsy. Sy arm vou om haar elmboog en hy lei haar terug tot in die TV-kamer. So asof sy nie self kan loop nie, laat sy dit toe. Sy het nie woorde nie. Hoekom tree die man so vreemd op? Hoekom tree sy so vreemd op? Dis belaglik! Kinderagtig. Sy het die vermoë om met mans te praat, so waarom voel dit asof sy haar tong ingesluk het? Sy voel hoe Uys sy hand van haar elmboog wegvat en sy kom agter dat sy nog heeltyd haar asem ophou. Sy haal kort en vlak asem om haar ewewig te herwin.

“Ons maak sommer kouevleis-en-kaastoebrood­jies, Delmarie. Kan jy vir ons die kaas rasper?” Tan­nie Suné se stem ruk haar weer terug na die realiteit en sy maak die yskas onnodig hard oop.

“Hier is dit.” Rossouw druk die kaas in haar hande toe sy klaarblyklik te lank neem om dit te soek. “Wat is fout met jou?”

Fokus, Delmarie!

“Man, ek is in ’n trans oor my pragtige uitsig. Is dit die hoofstrand?”

“Nee, as jy by die hekkie is en jy draai regs, is die hoofstrand so vyftien minute se stap. As jy links draai, stap jy na die rotse toe,” verduidelik oom Ben.

“Hierdie is ’n bederfvakansie.” Sy probeer herstel sodat die Prinse nie moet agterkom dat hulle oudste seun haar so ontstig nie.

“Jy verdien dit, Dellie. Dis ’n ruskansie voor jou grootmenslewe begin.”

“Wat weet jy van hierdie sogenaamde groot­menslewe, jou ou joller?” spot sy vir Rossouw.

“True. Maar wie kan my vuur blus? Die lewe is te wonderlik om oud te wil wees.”

“Ek gaan jou vuur blus as jy nie nou jou ma help met vanoggend se skottelgoed nie. Hier is nie eens genoeg skoon borde vir middagete nie en sy het jou al ’n paar keer gevra,” kerm oom Ben en almal lag. Almal, behalwe Uys. Ai tog, die man het ’n bietjie vuur in sy lewe nodig, dink Delmarie en rasper die kaas hardhandig klaar.

Rossouw het tog na sy pa geluister, want kort voor lank sit almal by die stoeptafel aan. Sy sit oor­kant Rossouw en sy ma, en langs haar, aan die kop van die tafel, sit Uys.

“Kom ons vat hande,” laat die oom hoor.

Delmarie neem oom Ben se hand, maar hou haar ander hand op haar skoot. Uys kyk haar stip aan en hou sy hand bo die tafel na haar toe uit. Hui­werig neem sy die hand voordat Rossouw weer iets te sê het. Maar in plaas daarvan dat Uys se hand sy koue houding teenoor haar weerspieël, is dit warm en sag. Lang vingers krul om hare. Toe sy hand hare vinnig druk en los, is die gebed verby, maar sy het nie ’n woord daarvan gehoor nie.

“Jy is besonder stil vandag, Uys,” sê tannie Suné op haar rustige, kalm manier.

“M’m . . .”

“Wat vir ’n antwoord is dit nou?” vra Rossouw spottend.

“Die een wat sê jy moenie karring nie,” voorspel oom Ben.

“Dit is vandag presies twee jaar vandat ek die eerste keer as dokter in ’n operasieteater ingestap het en nie net as waarnemende student nie,” verander Uys die onderwerp.

“Sjoe, is dit al so lank?” vra sy ma en hy knik be­vestigend.

“En nog nie een pasiënt verloor nie, nè, my seun?” vra oom Ben met trots in sy stem.

“Nee, met genade van Bo. Baie van my kollegas kan ongelukkig nie dieselfde sê nie.”

“Ek is baie dankbaar daaroor,” sê sy ma.

“Het jy gespesialiseer?” vra Delmarie vir Uys direk. Dis hoog tyd dat sy aan hom bewys dat hy haar nie bangmaak nie. En dat sy haar man kan staan.

“Dis volgende jaar se planne. Ek het ingeskryf vir verdere studie sodat ek in plastiese chirurgie kan spesialiseer,” antwoord hy doodluiters.

Tipies! lewer sy amper hardop kommentaar. Met sulke goeie gene en stunning looks kan hy homself seker nie keer om deel te wees van die oppervlak­kige wêreld van kosmetiese operasies, silikoonin­plantings en perfek mooigemaakte vroue nie.

“O,” antwoord sy dus en eet verder.

“Dit klink na ’n veroordelende ‘O’?” vra Uys reguit.

“Dink jy nie daar is al te veel ophef van plastiese chirurgie gemaak nie? Almal wat ontevrede is met iets van hul lywe, wil net laat sny en ontplooi vir perfeksionisme. En dan is hulle eintlik al klaar perfek. Maar net omdat die nuutste modegier of die wêreld se uitkyk van hulle eie opinie verskil, kraak dit hul selfbeeld af. Wat het geword van selftevredenheid en aanvaarding?”

“Plastiese chirurgie het ’n groot mark geword, veral in Kaapstad . . .”

“Waar al jou soort dokters seker miljoene maak om mense se foutjies reg te maak.” Net om haar punt te bewys, lig Delmarie haar vingers in krulhakies toe sy van foutjies praat. Vandat sy die sielkundige gaan spreek en vrede met haar eie selfbeeldprobleme ge­maak het, is sy ’n voorstander van selfrespek. As sy nie hieraan vasklou nie, kan sy maklik weer in daar­die gat val.

“Ek dink jy is reeds ’n uitstekende dokter, Uys. En ek dink jy sal ’n reusesukses maak van enige veld waarin jy spesialiseer,” probeer tannie Suné die vrede bewaar.

“Dankie, Ma.”

“Hoe smaak jou koffie?” vra die man en Delmarie wonder of hy nou ’n opinie oor haar slegte gewoon­tes ook gaan hê, want dit is haar enigste sonde en sy sal dit vir niks en niemand los nie.

“Soos koffie, dankie,” kom die antwoord meer sarkasties as wat sy wou klink.

“Daar het jy dit nou, ou broer.” Rossouw lag hard. “Eet klaar, Dellie, dan gaan swem ons gou voordat die wind te erg raak.”

“Ek is klaar. Dankie vir die lekker toebroodjies, Tannie.” Sy kyk na Uys. “Dankie vir die koffie.”

Dié knik net sy kop en sy help gou afdek voordat sy haar swembroek uit die tas grawe. Sy los haar tas net so onuitgepak op die bed en trek ’n wit somer­rokkie oor haar kop.

“Jis, maar jy vat lank,” kla Rossouw toe sy by die leefarea instap. Hy staan van die bank af op waar hy langs sy broer gesit en gesels het.

“Ek weet jy is haastig om die meisies uit te kyk, maar gun my tog ’n greintjie genade,” terg sy.

“Vandag het ek net oë vir jou,” lag hy en neem haar hand spontaan.

“Ja, ook net vir ’n rukkie, dan maak jy jag op elke meisie om my, ou vleier.”

“Nooit!”

Sy stap voor hom op die stoep uit.

“Rossouw kan die arme meisiekind tog so terg; nes ’n regte broer en suster,” hoor Delmarie tannie Suné sê toe sy seker dink hulle is buite hoorafstand. Sy kan nie oom Ben se antwoord hoor nie, maar sy glo Uys het ’n mondvol te sê gehad. Sy wonder wat is sy probleem met haar. Hy ken haar glad nie en ná ’n paar uur in sy geselskap, of liewer die gebrek daaraan, kan hy haar beslis nie oordeel nie.

“Ons het direkte strandtoegang.” Rossouw los haar hand en wys na die kompleks se hek wat met toegangbeheer werk. “Jy gebruik net die klein grys skyfie by hierdie kontrole en dan maak die hek oop.”

“En as ek aan die ander kant sonder ’n skyfie is?”

“Dan is jy gestrand. Letterlik.” Hy lag vir sy eie flou grappie. “Daar is ekstra skyfies. Ek sal vir jou wys waar dit is.”

“Ons het baie om op te vang. Wat het alles in jou lewe gebeur vandat ons mekaar verlede winter laas gesien het?” vra sy terwyl hulle stap.

“Ag, nie veel nie. Ek was mos vanaf verlede Sep­tember tot April op die bote. Het op internasionale waters gevaar om vir al die ryk omies en tannies toergids te speel. Maar dit weet jy mos. En van daar af het ek vir die winter in die Nasionale Krugerwild­tuin gaan werk. Ek was daar tot so drie maande gelede. Jis, daai hitte was torture. En toe het ek vir drie maande by ’n bekende hotel by hulle ontvangs gaan werk. Dit was nou vir jou boring. En nou hou ek vakansie.”

“En hierna?”

“Ag, wie weet waarheen dan? Ek sal maar sien. Ek oorweeg dit om by ’n gholflandgoed aansoek te doen. Maar jy weet mos hoe ek is . . .”

“Weet ek nie! Jy’s ’n regte vleier en bok vir sports. En passievol en roekeloos en vol pret. Het ek iets vergeet?”

“Ja, amazingly awesome!”

“Gmf! Dink jy!” Maar Delmarie weet dit is eintlik presies hoe Rossouw is. Saam daarmee kom geen verbintenis, hartseer, realiteit of erns nie. En dit is goed vir hom, maar sy sal nooit so kan leef nie. Veral nie met alles waardeur sy al is nie. Sy soek standvastigheid, sekerheid en natuurlik opregte en ware liefde. Nie die tipe liefde wat haar pa en ma gehad het nie, want dit was verwoestend. Maar sy twyfel of haar beste skoolvriend ooit sal ernstig raak of liefde sal ervaar. Sy is dankbaar dat sy só ’n tipe persoon in haar lewe gehad het toe sy pret en afleiding bitter nodig gehad het. Ná hul matriekjaar is sy Potchefstroom toe en hy het in Bloemfontein gebly om te probeer swot. Ná vier jaar het hy, met ’n gesukkel, sy graad in toerismebestuur gekry, maar het daarna nooit werklik iets met daardie stukkie papier vermag nie.

“Kom ons sit ons handdoeke hier neer, dan gaan swem ons.”

Sy pluk die rok oor haar kop en hardloop na die water toe.

“Laaste een in die water is ’n loser!” skree sy sor­geloos.