Skip to main content

Uittreksel | Liefde met 'n uitklophou

Een

Shaylyn gooi haar lang donkerbruin poniestert oor haar skouer en frons effens. Sy kyk sonder veel be­langstelling na die mans wat ’n ent van haar af in die vegkryt oefen. Sy deel al byna drie jaar die per­seel met ’n vegklub en kan steeds nie gewoond raak aan die mense wat hier uithang nie.

Daar is ’n aardige reuk in die lug en sy trek haar neus op ’n plooi. Haar paalfiksheidateljee is altyd silwerskoon, en ruik skoon en higiënies.

Sy kan ’n paar oë op haar voel en sy keer haarself om ongemaklik rond te trap. Sy is hier met een doel voor oë en dis om hul samewerking vir haar lief­dadigheidsprojek te kry. Haar oë soek deur die ver­trek. Sy is nie eens heeltemal seker na wie sy moet soek nie. Die man wat by Ontvangs werk het haar gister ingelig dat die eienaar vandag hier sal wees. Sy bring weer haar poniestert oor haar skouers en speel ingedagte met haar hare. Sy wonder of sy die man al ooit gesien het.
Volgens die prentjie wat sy van die man in haar gedagtes geskets het, lyk hy soos ’n regte gim-apie. Een wat te veel tyd voor die spieël met gewigte span­deer en te min tyd met sy neus in boeke. Sy glimlag. Dis stereotipering op sy beste. Haar beroepskeuse word gereeld op sy baadjie getakseer en sy probeer haar bes om nie dieselfde teenoor ander mense te doen nie. Ongelukkig laat gevegkuns – in enige vorm – haar hare rys.

“Goeiemiddag, kan ek help?”

Shaylyn draai om toe ’n man agter haar praat en verstik amper aan haar eie spoeg. ’n Man wat selfs meer uit sy plek lyk as wat sy voel, kyk af na haar. Sy moet haar ken lig om behoorlik na hom te kyk en neem vinnig die prentjie voor haar in. Die lang lig­tekop man dra ’n pak wat spreek van goeie smaak en die geld om dit te kan bekostig. Sy hoef nie ’n fiksheidsinstrukteur te wees om te weet dié man is goed gebou nie. Sy oë is ’n rare grysgroen en daar is ligte stoppels op sy gesig.

“Hallo.” Haar stem klink huiwerig.

Alhoewel sy nie sal sê dat hy modelmooi is nie, kan sy die manlike perfeksie voor haar nie ontken nie. Shaylyn besef sy staar en skud haar kop voor­dat sy met meer selfvertroue antwoord: “Ek is op soek na die eienaar.” Sy voel ongemaklik, sy het gister nie eens die moeite gedoen om die eienaar se naam te vra nie en nou kan sy haarself dalk lelik vasloop.

Hy frons liggies. “Ek is die eienaar. Hoe kan ek help?”

Duidelik het hy ook geen benul wie sy is nie. Hy kyk haar op en af en sy oë steek vas op die tatoeëermerk op haar ontblote voorarm.

Sy voel onseker onder sy blik en besluit om die gesprek so vinnig as moontlik kort te knip: “My naam is Shaylyn Laubscher. Ek is die eienaar van die paalfiksheidateljee in die ander gedeelte van die perseel.” Sy wys met haar oë na die ingang van haar ateljee.

Hy volg haar blik en maak dan weer oogkontak. Hy kyk haar dan stip aan.

“Kan ek moontlik ’n paar minute van jou tyd neem om ’n aangeleentheid te bespreek?” Haar woorde is baie meer formeel as wat die situasie regverdig, maar die man maak haar senuagtig met sy besonderse oë en hemelse geur wat om hom hang.

“Ek het nou ’n paar minute. Wil jy sit?” Hy wys na ’n ystertafel en stoele wat ’n paar tree van hulle af staan.

Sy knik en volg hom. Tot haar verbasing trek hy die stoel vir haar uit voordat hy gaan sit. Dis duide­lik dat hy nie oor dieselfde kam geskeer kan word as die ander mans in die vegklub nie.

“Cameron Myburg, aangename kennis.” Hy beduie met sy hand dat sy kan voortgaan.

Sy haal diep asem en val weg: “Ek is seker dat jy weet van die skool vir gestremde kinders net hier in die straat af?”

Hy knik.

“Die skool trek swaar en die finansiële druk om na almal se behoeftes om te sien, is groot. Meeste van die kinders in die skool se ouers beskik een­voudig nie oor die vermoë om meer as die basiese uitgawes te betaal nie, en baie kinders woon vol­tyds op die perseel.”

Sy frons verdiep.

Shaylyn weet dat meeste mense geskok is as hulle hoor dat sommige kinders bloot by die sen­trum afgelaai word en die ouers nooit weer terug­kom nie. Dit maak haar steeds woedend.

“En jy is hier om te vra vir ’n donasie?” vra hy doodluiters.

Shaylyn wil haar vir die man vervies. “Nee, ek is nie hier om geld te bedel nie. Ek beplan om die gemeenskap betrokke te kry deur ’n liefdadigheidsgeleentheid te hou. Dis net soveel ’n bewusmakingsveldtog as ’n fondsinsamelingsgeleentheid. Ons gaan ’n paar van die kinders wat daartoe in staat is om ’n item of twee te lewer, afrig. Kaartjies gaan verkoop word en daar sal ander geleenthede wees om op geborgde items te bie. Ek wil weet of julle bereid sal wees om deel te neem aan die dag se gebeure deur demon­strasies te lewer of selfs van die kinders af te rig?”

Cameron Myburg luister aandagtig na haar voorstel. “Is jy deel van die skool se beheerliggaam of ’n ouer?”

Shaylyn voel effens in die gesig gevat. Sy mag miskien nie meer in haar vroeë twintigs wees nie, maar agt en twintig is nog ’n bietjie jonk om al ’n ouer van ’n tiener te wees. Vir ’n oomblik oorweeg sy om te vertel dat sy ’n voog van een van die kinders is, maar besluit daarteen.

“Nie een van die twee nie.”

Hy kyk haar vraend aan. “Hoe is jy dan betrokke by die skool?”

Shaylyn skuif ongemaklik in haar stoel rond. “Ek rig van die kinders af. Enige hulp sal regtig waardeer word. Sal julle betrokke wil raak?”

Cameron kyk ondersoekend na haar asof hy weet daar steek meer in haar woorde as wat sy wil sê. Hy draai in sy stoel voordat hy haar uiteindelik antwoord: “Net ’n oomblik.”

Hy wink ’n man wat sy al verskeie keer hier raak­geloop het, nader. Sy koester geen positiewe gevoelens oor hul ontmoetings nie. Hy is die verpersoon­liking van arrogansie. Die man is goed gebou en weet dit. Ongelukkig dink hy dit gee hom die reg om snedige aanmerkings oor haar sportsoort te maak.

Hy stop langs die tafel en glimlag reguit vir haar. “Hallo daar.”

Sy knik net vir hom.

Cameron kyk vir die man met ’n waarskuwing in sy oë, dan weer na haar. “Shaylyn, ontmoet John, een van my afrigters.”

Cameron sit effens terug in sy stoel toe hy weer na John draai. “Shaylyn beplan ’n liefdadigheidsver­toning en sy wil graag hê ons moet deel daarvan wees. Sal jy ’n paar reekse kan saamstel?”

John kyk eers na haar en dan grinnik hy. “Met graagte sal ek ’n regte sport kom uitbeeld.”

Shaylyn voel hoe ergernis in haar opstoot, maar voor sy die man iets kan toesnou, ontlont Cameron die situasie: “Ek is seker die doel van die geleentheid is nie om die twee sportsoorte teen mekaar te verge­lyk nie?” Cameron klink glad nie aanvallerig nie, maar sy woorde is steeds olie op haar vuur.

Sy lig haar ken effens. “Hoekom nie? Beide is volwaardige sportsoorte.”

Sy is baie lus om by te voeg dat vegkuns nie ’n erkende sport behoort te wees nie. Dis net ’n ver­skoning vir mans om gewelddadig op te tree sonder dat hulle oor die vingers getik kan word. Wie weet wat leer hierdie sport mans van geweld teenoor vroue en kinders?

Hy lyk uit die veld geslaan en kyk met onseker­heid na haar. “Want paalfiksheid is nie ’n geharde sport nie.”

Weer stoot ergernis ’n hitte teen haar nek op. “Ekskuus! Hoe sal jy nogal weet? Het jy dit al ooit self probeer?”

Hy trek sy skouers traak-my-nieagtig op. “Nee. Dalk is dit die stigma daaragter wat my verhoed om dit self te probeer.”

Haar humeur dreig om die oorhand oor haar te kry toe John vir Cameron se minagtende aanmerking lag. Cameron het so pas in millisekondes van ’n sterk nege tot ’n nul op haar skaal geval.

Sy trek haarself regop en kyk hom stip aan. “Hoekom kom doen een van julle nie een van ons reekse saam met ons nie? Sodoende kan julle vir ’n slag ’n ingeligte opinie oor paalfiksheid gee. Dis nou as julle mans genoeg is om dit te probeer.” Shaylyn kan amper nie glo wat sy so pas voorgestel het nie en hoop heimlik dat hulle haar gaan aflag.

Cameron kyk na John en dié kry ’n groot glim­lag op sy gesig. John leun vooroor. “Dis ’n briljante idee en dit sal net reg wees as jy – as voorbeeld vir die res van ons as jou werknemers – die uitdaging aanvaar.”

Sy sien haar eie verbasing op Cameron se gesig. Maar John het ’n punt beet en sy verlekker haar vir ’n oomblik saam met John in die verknorsing waarin hy vir Cameron dompel.

Hy kyk stil na haar voordat hy sy skouers optrek. “Goed, ek sal dit doen.”

John slaan met sy vuis in die lug. “O, yes! Ek moet vir die ouens gaan vertel.”

Hy drafstap weg en sy kyk hom ’n oomblik ag­terna. Dit het waarskynlik sy dag gemaak dat sy werkgewer aan haar verskoning vir ’n sport gaan deelneem.

Sy kyk terug na Cameron wat met sy hande voor sy bors gevou sit.

“Ek sal dit doen op twee voorwaardes.”

Shaylyn trek haar wenkbroue op. “Ek dink nie jy is in ’n posisie om te onderhandel nie.”

Hy gee ’n selfversekerde glimlag. “Ek is ’n be­sigheidsman; ek is altyd in ’n posisie om te onder­handel. Die eerste voorwaarde is dat jy saam met my die item doen. Tweedens: Ek dink dit sal goed wees indien jy dan ook saam met my een van óns items aanpak.”

Shaylyn moet sluk aan die knop in haar keel. Sy verpes geweld en die idee van gevegkuns. Daar is nie ’n manier hoe sy dit sal doen nie. Veral nie saam met hom nie. Haar hartklop versnel. Sy kan nie deel wees van enige gewelddadige sportsoort nie. Onaange­name herinneringe dreig om na die oppervlak te kom, maar sy dwing dit terug. Sy merk Cameron se speurende oë op haar en sy beheer haar emosies.

Sy vou haar arms en kyk Cameron reguit in die oë. So maklik laat sy haar nie ompraat nie. “Ek dink nie dis nodig nie. Ek is nie die een wat nie respek vir ander se sport toon nie.”

Hy sit ook terug. “Maar jy is die een wat ’n punt probeer bewys en fondse vir die skool wil insamel.”

Shaylyn se oë vernou. Sy stemtoon herinner aan die fyn lyn tussen ’n opmerking en afpersing. Hy kyk nie weg nie en sy sug met die besef dat sy in ’n hoek vasgekeer is. Sy is die een wat verleë oor hóm is. Die skool is vir haar baie belangrik en sy het die hulp nodig. Daar is nie juis ander mense wat sy kan nader nie, en daar is net ’n paar weke oor voor die geleentheid.

Sy ervaar ’n innerlike worsteling en kyk diep in haarself. Sy het bevryding nodig – bevryding van die verlede en geweld. Miskien is hierdie oomblik ’n teken van Bo: ’n geleentheid om die laaste paar spoke hoek toe te jaag.

“Goed, ek aanvaar jou voorwaardes.”

Vir ’n oomblik lyk Cameron verras, dan sprei ’n groot glimlag oor sy gesig. Dié man is deksels aantreklik, al moet sy dit nou teen haar sin erken.

Hy staan op. “As jy my sal verskoon, my kliënt het so pas gearriveer en ek moet nog gaan aantrek.” Hy trek ’n besigheidskaartjie uit sy sak en plaas dit langs haar hand op die tafel. “Hier is my besonder­hede. Stuur vir my die detail.”

Sy tel die kaartjie op en vir die tweede keer stik sy amper. Hy is nie net die eienaar van die vegklub nie, maar ook van die hele gebou.

Haar oë skiet op na hom en hy glimlag. “Sien jou weer, Shaylyn. Lekker dag.”

Cameron Myburg loop met lang treë weg en sy kan nie anders as om hom agterna te kyk nie. Die man het haar in die laaste paar oomblikke verras, kwaad gemaak en geïnteresseer. ’n Dodelike kom­binasie. Sy staan op en stoot die stoel terug. Daar is ook ’n fladdering in haar hart oor die tipe mens wat Cameron werklik kan wees.

Met botsende emosies wat haar gedagtes deur­mekaar krap, stap Shaylyn terug na haar ateljee.

Sy hoop nie sy het vir haarself nou ’n situasie geskep wat sy later gaan berou nie. Om een van haar items saam met ’n man te doen, is een ding, maar om saam met hom in ’n vuisgeveg betrokke te raak, is net te naby aan alles wat sy die afgelope paar jaar juis probeer vergeet het. Tog is daar iets aan die uitdaging wat haar hart weer dapper laat klop – wie weet, dalk is Cameron Myburg se voor­stel presies wat sy nodig het om die verlede finaal te verwerk.