Uittreksel | Liefde met 'n doelskop

Een
“Ekskuus tog.”
’n Man wat enige vrou twee keer sal laat kyk, skuur verby haar en stap doelgerig op die skoolhoof af. Alexa is dankbaar dat sy nie die teiken van daardie man se ontevredenheid is nie. Aan die diep frons tussen sy oë en die stywe kakebeen kan sy sien hy is op die oorlogspad.
“Dit is Carlo se pa. Deksels aantreklik, maar bedonnerd soos tien. Hy besit ook ’n vervoermaatskappy wat een van die borge is.”
Alexa loer na die lang en baie aantreklike man en dan terug na Sofia wat haar blik volg. Sofia is die skool se fisioterapeut en ken al die skindernuus oor elke persoon. Sy sê altyd sy maak dit haar besigheid om ander mense se besigheid te weet. Dit strek soms tot Alexa se voordeel.
“Ek sien die trekke. Behalwe dat Carlo waarskynlik die vriendelikste ou is wat ek ken.”
Sofia grinnik. “Ja, want sy pa het al die donderwolke reeds opgeslurp, daar is net sonskyn vir Carlo oor.”
Alexa skud haar kop laggend.
Sofia leun nader en fluister: “Hy is enkellopend, as jy dalk wou weet.”
“Ek wou nie weet nie, dankie. Laat ek wegkom voordat een of ander ouer my voorkeer.”
Alexa wuif en stap vinnig in die rigting van die kleedkamers. Carlo se pa staan arms gevou en kyk af na die skoolhoof. Die man ís deksels aantreklik. Lank, donker hare, goed gebou en dra ’n denim wat ’n mens se mond laat kwyl. Sy skud haar kop. Dit is waarskynlik te veel adrenalien wat haar gedagtes so aantas.
Sy moet noodgedwonge langs die mans verbyloop en val amper oor haar eie voete toe sy ’n gedeelte van die gesprek hoor.
“Hoe kon julle ’n vroumens aanstel as die agterlyn se afrigter? Wat weet ’n vrou van rugby, veral afrigting af! Jy besef dat as dinge skeefloop dit Carlo se toekoms kan beïnvloed.”
Alexa vervies haar dat haar bolla nog meer op haar kop orent spring. Die vermetelheid! Hoe seksisties en stiksienig kan een mansmens wees? Sy drentel behoorlik om eers te hoor wat die skoolhoof te sê het.
Meneer Pieter Hanekom praat ewe geduldig en rustig, asof niks hom ooit van stryk bring nie. Alexa spits haar ore.
“Ek neem kennis van jou bekommernis, meneer Becker, maar . . .”
“Bryan.”
Die ander man val die hoof ongeskik in die rede en Alexa klap haar tong. Die hoof praat egter ongestoord verder.
“Ons het ’n ingeligte besluit geneem en glo werklik dit sal vrugte afwerp. Ons afrigters, ongeag hulle geslag, is goed gekwalifiseerd en ’n aanwins vir die skool.”
Die ander man, wat sy nou al weet Carlo se pa is, gee ’n minagtende snork. “Wat weet ’n vrou van rugby speel af? Hoe kan ’n vroumens gekwalifiseerd wees?”
Die hoof frons en sy weet uit ervaring dat hy besig is om hom te vervies. Sy is lankal verby daardie punt.
“Ons het haar aangestel op grond van haar vaardighede en kwalifikasies, nie op grond van haar geslag nie. Ek beveel aan dat jy haar eers ontmoet en na die span se spel in die volgende paar wedstryde kyk. Die seuns is ook gaande oor hulle nuwe afrigter.”
Bryan, soos hy homself ongeskik aan meneer Hanekom voorgestel het, rol sy oë dramaties.
“Hulle is nog nat agter die ore. Natuurlik sien hulle haar seker as ’n tjom.”
Alexa het genoeg gehoor en mik om weg te storm. Ongelukkig gewaar die hoof haar en hy wink haar nader. Sy wil hom afwys, maar die langer man kyk ook in haar rigting. Sy stap noodgedwonge nader. Haar kakebeen span om haar tong agter haar tande te hou. Die dinge wat sy hierdie Bryan Becker wil toesnou, kan nie nou hardop gesê word nie.
Sy stap tot langs die hoof en kyk die ander man direk aan. Sy hoop haar oë spoeg vuur. Hy kyk fronsend na haar terwyl sy oë vinnig oor haar gaan en beduie dan met sy hand.
“Sien, dit is die tipe werk wat ’n vrou kan doen. ’n Fisioterapeut.”
Alexa klap haar tong so hard dat dit weergalm.
Meneer Hanekom grinnik en kyk vinnig na haar. “Dit is waar, ’n vrou sal ’n goeie fisioterapeut ook wees, maar dit is nie ons skool se fisio nie. Hierdie is . . . Alexa de Vos . . .” hy huiwer dramaties, “. . . ons nuwe agterlynafrigter by die eerste span.”
Bryan kyk geskok na haar en dan na die hoof. Hy tree effens agteruit asof hy ’n beter uitkykplek soek en kyk haar weereens op en af aan. “Jy lyk nie eens soos iemand wat rugby kan speel nie.”
Alexa trek haar wenkbroue vraend op. “Want net vrouens wat butch is, kan rugby speel, nè? Ai, dat jy nou so oningelig is.” Sy kan nie die sarkasme uit haar stem hou nie.
Hy frons en leun nader. “Ek gaan elke gedeelte van jou agtergrond ondersoek om seker te maak jy is gekwalifiseerd om hierdie posisie te beklee. Niemand gaan my kind se toekoms in gedrang bring nie.”
Sy staan nader en kyk uitdagend op na hom. “Ek kan solank my CV en stawende dokumentasie aanstuur om jou die moeite te spaar.”
Die liggroen oë verdonker. Nou trap sy beslis op die man se tone.
Meneer Hanekom tree tussenbeide. “Almal op die beheerliggaam sal die nodige inligting ontvang. Indien julle dan enige vrae het, kan dit direk aan my gerig word.”
Bryan trek homself regop en draai na die skoolhoof. “Waarom is die beheerliggaam nie in die eerste plek in die besluit geken nie?”
Alexa loer onderlangs na die hoof, maar hy is so koel soos ’n komkommer. Sy, aan die ander kant, kan vergelyk word met ’n brandrissie, so kwaad is sy.
“Dit is waarvoor die sportkomitee gestig is en hulle het die besluit goedgekeur.”
Bryan se mond gaan oop, maar hy word summier in die rede geval.
“A cool. Pa het reeds vir coach Vossie ontmoet.” Carlo glimlag breed. “Coach moenie hom te ernstig opvat nie.”
Sy wil grinnik oor sy pa se gesigsuitdrukking, maar hou haar gesig neutraal. “Ek sal my bes doen, dankie, Carlo.”
Die tienerseun gaan doodluiters voort. “Hy dink ook vrouens weet niks van sport af nie. Baie old school.”
Bryan huiwer nog ’n oomblik. “Ek is glad nie tevrede hiermee nie, Pieter. Dit is nie die einde van hierdie gesprek nie. Kom, Carlo.”
Carlo glimlag breed. “Baai, Meneer, baai, Coach. Sien Maandag.”
Sy kyk hoe die seun saam met sy pa wegstap. Uiterlik is die twee omtrent ’n replika van mekaar.
Dit is nou tipies haar geluk. Die een persoon wat haar die meeste opdraande gaan gee, is haar gunstelingspeler se pa en hy is nog deksels sexy ook. Sy vernou haar oë. Soveel meer rede om hom verkeerd te bewys en sy woorde te laat sluk.
“Ek is bly om te sien jy voel so vasbeslote om die mense verkeerd te bewys.” Die hoof praat skielik langs haar en sy kyk skuldig na hom.
“Dit gaan nie maklik wees nie, Alexa. Dit het ons geweet voordat ons jou aangestel het. Jy het ook geweet mense gaan nie so maklik wil transformeer nie. Doen jy net wat jy doen, jy is meer as bevoeg om hulle verkeerd te bewys.”
Sy glimlag vir die ouer man wat sy al byna haar hele lewe lank ken. “Dankie, Meneer. Ek sal. Ek sal Meneer nie teleurstel nie.”
Hy glimlag. “My kinders het my nog nooit teleurgestel nie.”
Meneer Hanekom stap vinnig weg. Sy sluk sommer aan ’n knop in haar keel. Hy het nog altyd al sy skoolleerders soos eie kinders hanteer en dit is moontlik hoekom die oudleerders soveel lojaliteit teenoor die skool het.
Sy raak ’n oomblik nostalgies oor haar skooljare, voordat sy weereens onthou wat daardie Bryan kwytgeraak het.
Dan trek sy haar rug reguit en storm na haar motor toe. Wag tot haar pa en broers hiervan hoor!