Skip to main content

Uittreksel | Liefde kan roes

Een

Het sy reg gehoor? Schalk is hier? Karien Vermeulen se asem stol in haar keel terwyl talle vrae deur haar brein woel. Hoe lank het sy nie vir hierdie oomblik gewag nie! Sal hy nog dieselfde lyk? Gaan hy haar herken? Sy het sedert hulle mekaar laas gesien het, van ’n skooldogter met vlegsels gevorder na ’n jong vrou van drie en twintig met haar voete vas op die aarde. Of hy dit sal raaksien, is egter ’n ander saak.

Met loodvoete loop sy na waar die familie op die voorstoep saamdrom om hom ná meer as vier jaar weer terug in die land te verwelkom. As sy nou in die huis agterbly, sal almal wonder. Stilte daal oor die groep wat luidrugtig tegelyk aan die praat was. Karien steek vierspoor vas. Dis duidelik dat die hele familie nog onthou van haar romantiese gevoelens vir haar oudste stiefbroer. Alle oë is nou op haar. Ag flip tog, hoekom het sy nie liewer in die woonkamer bly sit nie?

Dan kom sy beeld in fokus, Schalk in lewende lywe hier reg voor haar, die man van haar drome, nog aantrekliker as wat sy hom onthou. Sy donker hare is langer as in die verlede, nou effens krullerig om sy ore, diepblou oë wat alles om hom altyd met intelligente belangstelling waarneem. Breë skouers, smal heupe en lang bene in jeans. Haar Schalk. Nee, Ronika s’n. Die nuus op hul familie se WhatsApp-groepie was egter dat hy en Ronika nie meer verloof is nie. Is die gesegde dat liefde nie roes nie, dan nie waar nie?

“Karientjie?” Hy kom effens nader. Die verkleiningsvorm van haar naam bevestig dit wat sy gevrees het. Haar hart sak met ’n sug suid. Hy beskou haar steeds as die skooldogter wat sy was toe hulle mekaar leer ken het.

“Hallo, Schalk.” Verdere woorde ontwyk haar, sy steek slegs haar hand uit.

Hy maak egter sy arms vir haar oop. “Kom hier, Kleinsus.” Jip, sy opinie van haar het niks verander nie.

Dan druk hy haar kortstondig teen hom vas; die droomsaligheid waarna sy so verlang het. ’n Oomblik wat sy diep wegbêre om later weer te herleef. Sy manlike geur omgewe haar – pure Schalk. Karien maak haar oë toe, anders verraai dit haar dalk as hy in hulle sou kyk. Sy groot lyf so teen haar, sy sterk arms om haar – dit is waarvan sy so lank net kon droom.

Toe hy haar laat gaan, praat almal weer tegelyk en die familie beweeg terug die huis in. ’n Rukkie later sit sy vasgenael in die woonkamer van Luke se huis waar hul uitgebreide familie vanaand bymekaar is om haar stiefsussie Bea en dokter Luke Roux se verlowing te vier. Schalk het die afgelope week vanaf Nieu-Seeland teruggekeer Suid-Afrika toe nadat hy en Ronika kort ná hul verlowing soontoe geëmigreer het. Dit was dieselfde jaar toe Schalk, Jaco en Bea se ma met Karien se pa getroud is en hy haar stiefbroer geword het.

Haar verlangende blik drink hom in, die man met die sterk lyf van ’n rugbyspeler na wie sy elke minuut van elke dag so verlang het. In die enkele uur sedert hy saam met hul ouers hier opgedaag het, het die wete met sekerheid ingesink: Sy het hom nog net so lief soos haar tienerhart jare gelede besluit het. Dit blyk dat Schalk en Ronika se liefde vir mekaar wel geroes en hul verhouding skipbreuk gely het, maar sy weet nou haar gevoel vir hom is nog net so sterk. Geen roes daar nie.

Sedert hy hier aangekom het, het haar arme hart nog nie een oomblik rustig kon raak nie. Vir so lank het sy hom in stilte liefgehad, maar hy was buite haar bereik, verloof en ver weg oorsee. Gaan hy hierdie keer hier bly, of is sy gedoem om hom vir altyd van ver af lief te hê?

“Schalk, wat is jou planne vir die nabye toekoms?” vra Wickus, haar pa. Karien spits haar ore. Dis presies wat sy ook graag wil weet.

“Die maatskappy waar ek vantevore in Pretoria gewerk het, het toe hulle hoor ek kom terug, weer my ou pos vir my aangebied, maar ek het nog nie besluit nie. Ek het in Nieu-Seeland by ’n kleiner maatskappy gewerk en meer daarvan gehou. Die korporatiewe wêreld is nie regtig my eerste keuse nie.”

“H’m, my aanbod dat jy saam met my kan kom werk, staan steeds, hoor. My konstruksiemaatskappy hier op die dorp het so gegroei die afgelope vyf jaar dat ek meer mense in diens sal moet neem. ’n Bourekenaar van jou kaliber sal vir my ’n groot aanwins wees, en jou ma sal uit haar vel spring van blydskap as jy hier bly, nè, Marli?” Haar pa kyk af na sy vrou wat langs hom op die rusbank sit.

“Ek sal wat wil gee om ons oudste hier by ons te hou,” antwoord Marli met ’n hoopvolle kyk na haar seun.

Karien se hart spring byna by haar keel uit. Sy is geneig om heelhartig met haar stiefma saam te stem, maar terselfdertyd wonder sy wanhopig hoe sy dit sal hanteer om hom dikwels te sien. Gaan sy vir altyd die pyn van ’n onbeantwoorde liefde moet verduur?


Maandagoggend vroeg is Karien saam met Bea en Zoë in The Book Café, die drie vriendinne se boek- en koffiewinkel in die huis langs die een waar Luke se spreekkamers is. Dis hul gewoonte om soggens saam koffie te drink en ontbyt te eet terwyl hulle die dag se werksaamhede beplan voordat die winkel se deure oopmaak. Hulle het ’n paar maande gelede Bea se ma se ou huis omskep vir hul gesamentlike sakeonderneming. Hulle woon sedert die voltooiing van hul studies aan die einde van verlede jaar in die drie slaapkamers van hierdie huis waar hulle saam die winkel bedryf.

Bea, die barista van hul winkel, sit drie koffiebekers tussen hulle neer. “Hoe voel jou hart vanoggend, Karien?”

Karien tel haar koffie op. “Jy bedoel nadat ek laas nag nie ’n oog kon toemaak nie?”

Zoë skuif ’n houer met beskuit nader en sing tergend ’n ou bekende liedjie. “I see a bad moon rising . . .”

“Daar is beslis ’n donker maan op die horison,” sug Karien. “Hoe gaan ek dit oorleef?”

“A nee a! Watse negatiwiteit is dit hierdie met julle twee?” keer Bea hulle. “My ouboet se oë gaan oopgaan en hy gaan die sexy girl wat reg onder sy neus is, raaksien.”

“Ek twyfel. Het jy nie gehoor hy verwys steeds na my as Karientjie, sy kleinsus, nie? Boonop is hy en Ronika skaars ses maande uitmekaar, ek wil nie sy reboundmeisie wees nie. As ek nie ’n man se one and only kan wees nie, wil ek hom nie hê nie.”

“Wel, jy sal beslis reg onder sy neus wees as hy saam met jou pa werk. Nou gaan hy jou uiteindelik leer ken vir wie jy werklik is,” sê Zoë.

Op daardie oomblik kom Luke, wat elke oggend hier by die koffiewinkel ontbyt kom eet voordat hy by sy besige mediese praktyk in die huis langsaan begin werk, by die deur in. “Goeiemôre, dames, is hier iets te ete vir ’n honger man?” Hy loop reguit op Bea af en sit sy arms om haar. “En hoe gaan dit vandag met my verloofde?”

“Bekommerd oor Karien se gebroke hart,” antwoord sy en soen hom.

Luke frons en kyk na Karien. “Het ek iewers iets gemis, of is ek nou maar net my stompsinnige, manlike self?”

Bea vee sy kuif van sy voorkop af. “Nee, jy is nie dom nie, dis maar net die bekendste geheim in die familie al sedert ons nog op skool was. Karien se hart behoort aan Schalk, maar dié stiksienige man het net oë gehad vir Ronika, wat hom nou soos ’n warm patat daar oorsee gaan staan en los het. Intussen kruip my ander broer Jaco in die stad weg om sy wonde te lek oor hy verlief is op Karien. Die ewige liefdesdriehoek, of sal ek sê vierkant? Wat dink jy is Karien se kanse om Schalk se hart te wen, Luke?”

Voordat hy kan antwoord, gooi Karien haar hande in die lug, nou erg verleë voor Luke. “Ai, julle, los asseblief tog daardie ou storie in die argiewe waar dit hoort. Schalk sal my nooit as vrou raaksien nie en dit is dit.”

“Vra julle nou my stompsinnige, manlike opinie?” vra Luke en kyk van die een na die ander. 

“Ja,” antwoord die drie tegelyk.

Hy bekyk Karien van kop tot tone. “Ek ken nie vir Ronika nie, maar die man wat jou nie raaksien vir die mooi vrou wat jy is nie, het nie warm rooi bloed in sy are nie,” voldoen hy aan hulle versoek.

“Seg ek ook mos,” lig Zoë haar oorwoë mening.

“Het ek nou ontbyt verdien?” vra hy hoopvol.

“Solank die rooi bloed in jou are net vir my warm is,” antwoord sy verloofde en soen hom weer voordat sy begin om sy koffie te maak.

“Natuurlik, my meisie. Kan ek ’n omelet met kaas en sampioene vir my ontbyt kry?”

“Dis nie op ons spyskaart nie, dokter Roux,” antwoord Bea vinnig met ’n kamma kwaai frons van die koffiemasjien se kant af.

Luke neem sy koffie by haar. “Was my antwoord dan nie die regte een nie? Ai, ’n man kan ook nie wen nie.”

Bea se gesig versag en sy roep na een van hul kombuisassistente wat pas by die agterdeur ingekom het. “Selina, maak vir dokter Roux ’n vet omelet met ekstra kaas en sampioene, asseblief?”

“Voordat ek in die spervuur tussen die twee duifies kom, gaan ek liewer studeerkamer toe om die boekhouding op datum te bring,” verklaar Zoë, die syferkop van die drie vriendinne, en loop in die gang af studeerkamer toe.

Karien neem haar beker koffie en stap deur na die boekwinkel in die agterste gedeelte van die oopplanvertrek. Tussen haar geliefde boeke voel sy tuis. Hier kan sy kalm raak en haar gedagtes orden. Sy gaan sit by die lessenaar waar sy bedags, wanneer die winkel nie te besig is nie, aan haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns werk. Die drie vriendinne het almal verlede jaar honneursgrade in hul onderskeie studierigtings verwerf, en omdat werkgeleenthede in die land tans byna onbekombaar is, het hulle besluit om saam die boek- en koffiewinkel in haar en Bea se tuisdorp te begin.

Liefdesverhale en verhoudingsromans is haar gunstelingleesstof en dis ook wat sy graag wil skryf wanneer die werk aan haar graad voltooi is. Die dosent wat haar promotor is, het gesê sy sal diep in haar eie ervaring van verhoudings moet delf as sy so ’n roman wil aanpak. Waarin moet sy delf as die enigste verhoudings waarvan sy kennis dra, dié is waarvan sy in boeke gelees het? Haar eie ouers is kort ná haar geboorte geskei, en sy het alleen by haar pa agtergebly toe haar ma New York toe is om haar loopbaan daar voort te sit. Dit het Karien met ’n vaste voorneme gelos om nooit te trou nie.

Dis alles goed en wel, maar ’n voorneme om nie te trou nie, het haar nie gevrywaar van die liefde nie. Haar hart het die oomblik toe sy haar oë vir die eerste keer op Schalk Botes gelê het, besluit hy is die een vir haar. Sy het die afgelope jare hoevele keer gewens dat haar gevoelens vir hom kon oproes, in stof verander en op die wind wegwaai, maar verniet. Dit het wortelgeskiet, gegroei en weier eenvoudig om uitgeroei te word, al doen sy wat.


Schalk gaan sit oorkant sy stiefpa in sy studeerkamer in Wickus en Marli se huis in die nuwe woonbuurt van die dorp. “Kan ons gesels oor die posisie wat Pa my wil aanbied? My vorige baas in Pretoria is haastig vir my antwoord op die aanbod wat hy my gemaak het. Ek moet vandag besluit.”

Wickus skuif gemaklik op sy stoel. “Eintlik het ek iets meer as net ’n posisie as bourekenaar in gedagte vir jou. Soos jy weet, het ek nie ’n seun van my eie wat eendag kan oorneem wanneer ek besluit om af te tree nie. Ek is op soek na ’n vennoot, en ek dink jy is die ideale persoon. Jy het die regte kennis en vaardighede, en ek weet ek sal jou kan vertrou en op jou staat maak.”

Schalk vee oor sy hare en frons. “Ek dink nie ek het genoeg geld vir die koop van ’n vennootskap nie. Ek het wel heelwat gespaar vir ’n deposito op ’n huis daar in Nieu-Seeland, en soos Pa weet, het ek toe nie gekoop nie.”

Wickus lig ’n hand om hom stil te maak. “Hou jou spaargeld. Ons kan ’n ooreenkoms uitwerk sodat jy oor ’n tydperk vir jou aandeel kan werk. Die boekhouers en my prokureur kan die besonderhede uitpluis. Ek is nie op die oomblik gepla oor ’n finansiële bydrae van jou kant af nie. My maatskappy het eerder die dienste van iemand soos jy bitter nodig.”

Marli kom in met ’n skinkbord. “Sal koffie en melktert julle help om beter te dink?” vra sy.

Schalk staan op en neem die skinkbord by haar.

“Dankie, Ma. Dit sal beslis help.”

“Jy onthou seker dat ek, afgesien van bouprojekte hier plaaslik, dikwels ook saam met jou vorige werkgewer aan die beplanning en ontwerp van groot projekte in die stad werk?” vra Wickus.

“Ja, ek onthou. Ek het gewonder of Pa dit nog doen.” Schalk sit die skinkbord op die lessenaar neer sodat hulle vir hulself koffie kan kry terwyl Marli vir elkeen ’n bordjie met melktert aangee.

“Om die waarheid te sê, dit is waar ek jou die meeste nodig het. Ons werk tans aan die planne vir ’n groot, nuwe winkelsentrum, sowel as ’n meenthuiskompleks in die stad, en ’n bourekenaar soos jy sal my geweldig baie daarmee kan help. Daar is ook heelwat ander projekte in die vooruitsig waarvoor ek nie kans gesien het nie, maar met jou hulp kan ons meer sulke werk aanvaar.” Wickus haal ’n lêer uit die boekrak agter hom en sit dit voor Schalk neer. “Kyk hierna, dan kan jy ’n idee vorm waarvan ek praat.”

Marli tel haar koffie en melktert op. “Ek gaan julle manne los om besigheid te praat. Ek het baie om daar in my werkkamer te doen.”

Schalk glimlag vir sy ma. “Hierdie melktert lyk heerlik, dankie, Ma. Ek het Ma se kos vreeslik daar in Nieu-Seeland gemis.”

“Dis so lekker om jou hier te hê. Ons hoop jy aanvaar Pa se aanbod sodat jy hier by ons kan bly.” Met ’n glimlag vir haar man en seun stap Marli uit. Schalk kyk haar agterna. Hy is so bly sy ma het saam met ’n man soos Wickus geluk gevind. Hy het gedink dat hy dieselfde geluk saam met Ronika gevind het, maar sy het iemand anders ontmoet en blykbaar by die man iets gevind wat hy haar nie kon bied nie. Hy kon nooit verstaan hoekom sy tevrede was om net verloof te bly en nie te trou nie. Hy het haar meer as een maal gevra, maar sy kon eenvoudig nie tot die stap instem nie. Binne enkele weke ná die verbreking van hul verlowing is sy met ’n ander man getroud. Hy sal vroumense seker nooit verstaan nie. Sy vriende vertel hom om aan te beweeg, maar daarvoor sien hy beslis nog nie kans nie.