Uittreksel | Liefde in die lug

Een
Februarie 2014
Gia haal haar wynrooi hoed en roomkleurige serp af en bêre dit sorgvuldig saam met haar handsak in die kas wat vir die kajuitbemanning se persoonlike besittings gereserveer is. Haar vingerpunte vee versigtig oor die goudblonde hare wat styf agter haar kop in ’n bolla saamgevat is om seker te maak elke haar is steeds op sy plek. Soos die duiwel dit wil hê, het sy al weer saam met Laurie McDermot op ’n skof beland, iets wat sy ná hul laaste vlug saam, gehoop het nooit weer sal gebeur nie. Gelukkig is haar hare en grimering hierdie keer perfek en is daar niks wat gekritiseer kan word nie.
“Het jy gesien wie is in charge?” vra Louise toe sy by die dienskombuis inkom.
Gia knik en maak die kasdeur oop om die voorraad na te gaan. “Is ons nie gelukkig nie?” merk sy sarkasties op. “Ek het dit oorweeg om vandag siek te speel toe ek haar naam vroeër die week op die rooster gesien het, maar my pligsbesef het ongelukkig in die pad gestaan.”
“Sy is in besigheidsklas, moenie worrie nie. Ek is seker sy het lankal van julle onderonsie vergeet.”
Gia rol haar oë en sug beswaard. “Ek betwyfel dit, sy het ’n geheue soos ’n olifant. Danksy haar het ek twee waarskuwings op my rekord. Die laaste ding wat ek nou nodig het, is om weer op dieselfde vlug as sy te wees. Ek is reeds op dun ys, Lulu.”
Louise haal plastiekglasies uit ’n houer en pak dit sorgvuldig op die trollie uit saam met drie boksies vrugtesap. “Jy werk meer ure as enigiemand anders, Gia. Dit sal in jou guns tel. Buitendien het jy niks om oor te worrie nie, jou pa sal nooit toelaat dat jy afgedank word nie.”
Gia draai weg van die kas af en kyk met ’n diep frons na haar vriendin. “My pa sal nie inmeng nie. Dit was sy voorwaarde toe ek besluit het om by Emirates aan te sluit. Hy was destyds glad nie gelukkig oor my besluit nie, juis omdat hy bang was mense dink ek het ingekom omdat hy al soveel jare vir die maatskappy werk. Nee, Lulu, as die pawpaw die fan strike, is ek op my eie. En Laurie sal iets soek al is daar niks nie. Sy verpes my.”
“Miskien. Maar sy is skrikkerig vir jou pa.”
“Dit het haar nie gekeer om twee klagtes teen my te lê nie.”
“Alles in orde hier?”
Gia ruk soos sy skrik toe die onderwerp van bespreking meteens in die kombuisie verskyn en uit die hoogte na hulle staan en kyk.
“Alles is onder beheer. Ons is byna klaar,” sê Gia in Engels terwyl haar hart in haar ore dawer. Toe die rooikopvrou omdraai en wegstap, sug sy sidderend.
“Dankie tog sy verstaan nie Afrikaans nie. Kan jy dink wat sou gebeur het as sy moes hoor hoe ons van haar staan en skinder?”
“Dis net sewe en ’n half uur Londen toe, Gigi. Jy lyk eksie-perfeksie, soos een van die modelle in die maatskappy se advertensies. Laurie sal hard moet soek om fout te vind met jou voorkoms. Of jou werk, for that matter.”
“Ja, ek weet. Maar ek hoop nogtans daar is vandag ’n uiters veeleisende passasier in besigheidsklas sodat sy nie kans kry om op ons te kom check nie. Net vir ingeval,” lag sy toe dit voel of haar binnegoed in ’n vuis saamgeklem word by die gedagte daaraan dat die hooflugwaardin onnodig sal kom snuffel vir foute.
Die vlug is net so vol soos die een tussen Kaapstad en Dubai, besef Armin toe hy sy rekenaarsak versigtig tussen al die bagasie in die oorhoofse bagasieruim sit. Hy het skaars sy sitplekgordel vasgegespe toe iemand liggies op sy skouer tik. Langs hom staan ’n ouerige vrou en sy glimlag vriendelik.
“Verskoon tog, ek bedoel nie om lastig te wees nie, maar wil net vra of u sal omgee om sitplekke met my te ruil? U sien, ek en my man kon nie langs mekaar plek kry nie. Hy is in die middelste sitplek langs u en ek het ook soos u ’n paadjiesitplek, toe wonder ek of u miskien sal omgee as ons sitplekke rui.”
Armin glimlag gemoedelik en staan op.
“Natuurlik nie, Mevrou. U kan enige tyd my sitplek kry. Wat is u nommer?”
“47C, dieselfde sitplek as u, net twee rye agtertoe.”
Hy haal weer sy sak bo uit die bagasieruim en sukkel om vir haar sak plek daarin te kry voordat hy na sy nuwe sitplek toe loop. Daar is meer spasie in die oorhoofse rak as by sy vorige sitplek en hy bêre sy rekenaarsak voordat hy in die paadjiesitplek langs twee uitbundige tieners gaan sit en sy sitplekgordel vasmaak. Toe die gespe vas is en hy opkyk, voel dit ineens asof iemand hom met ’n vuis op die krop van sy maag tref. Die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het, kom van voor af in die paadjie afgestap. Sy glimlag vriendelik terwyl sy hier en daar stop om na ’n passasier te luister of iets vir iemand te sê. Toe sy omtrent vyf tree van hom af is, vang hulle mekaar se oog en dadelik voel dit vir Armin asof ’n weerligstraal deur sy lyf skiet. Toe sy verby hom stap, kry hy die sagte geur van haar parfuum. Hy leun terug in sy sitplek, maar kan die versoeking om agtertoe te kyk nie weerstaan nie. Onbeskaamd staar hy na die soepel bewegings van haar lyf onder die kakiekleurige uniform en kan homself nie keer nie toe sy oë outomaties afgly na daar waar die rompie styf oor haar sitvlak span. Eers toe hy bewus word van die afkeurende kyk van ’n vrou in een van die middelste blok se sitplekke skuins agter hom, draai hy sy kop terug en kyk vorentoe. Sy hart klop wild in sy borskas. So iets het hy nog nooit beleef nie.
Ná ’n paar sekondes kyk hy weer agtertoe en sien hoe die blondekop ’n passasier help wat vir ’n swaar sak plek soek in die oorhoofse rak. Sonder om twee maal te dink, maak Armin sy sitplekgordel los, staan op en stap na haar toe.
“Wag, laat ek jou help,” sê hy in Engels en neem die swaar sak uit haar hande. Hy is langer as sy en kan beter bykom om die bagasie só te skuif dat daar plek vir die sak is. Die passasier wie se bagasiestuk dit is, gaan sit op haar plek en steur haar nie verder aan hom of die lugwaardin nie. Hy druk die oorhoofse rak se deurtjie toe en kyk af na die blondekopmeisie. Toe hul oë ontmoet, voel hy weer die elektriese straal deur hom skiet, net soos wat ’n paar minute gelede met hom gebeur het.
“Dankie.” Die klank van haar stem stuur ’n heerlike rilling deur hom.
Vir ’n paar sekondes staar hulle net in mekaar se oë voordat ’n passasier by die gangetjie afkom en by hulle verby wil skuif. Armin draai hom skuins sodat die man kan deurkom en is teleurgesteld toe die lugwaardin wegdraai en na die kombuisie toe loop.
Hy gaan sit weer op sy plek. Sy moes tog seker ook die vonk tussen hulle gevoel het, waarom anders sou sy net doodstil na hom gestaan en kyk het?
Toe sy ’n rukkie later van agter af verby hom loop, kry hy weer die ligte geur van haar parfuum en volg haar met sy oë totdat sy by die punt van die paadjie omdraai om saam met die ander vlugpersoneel die veiligheidsdemonstrasie te lewer. Die meeste passasiers volg die demonstrasie op hul individuele televisieskerms, maar Armin kan om die dood nie sy oë van die meisie af weggeskeur kry nie. Hy vlieg gereeld en het al ontelbare kere die demonstrasies gesien, tog volg hy elke beweging van haar lyf soos een wat heeltemal oningelig is. Toe sy blik weer na haar gesig toe verskuif en hy onverwags haar oë op hom betrap, raak sy liggaam lam en mis sy hart ’n slag.
Iets onverklaarbaar is besig om met hom te gebeur, iets wat hy glad nie begryp nie. Dit voel kompleet asof hy haar ken, al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie. Hierdie magnetiese stroom tussen hulle slaan hom dronk. Hy ken baie mense en ontmoet gereeld nuwe gesigte deur sy werk, maar niemand het nog ooit so ’n effek op hom gehad nie.
Terwyl sy in die gangetjie stap en seker maak al die passasiers is vasgegord, vensterskerms is oopgeskuif en alle handbagasie is op ’n veilige plek gestoor voordat hulle opstyg, volg Armin se oë haar. Sy kyk nie weer na hom nie en hy kry byna die gevoel dat sy hom met opset ignoreer. Miskien om te voorkom dat hy haar aandag aflei, dink hy met genoegdoening. Dit beteken sy is net so bewus van hom soos hy van haar. So hoop hy altans.
Dit voel soos ’n ewigheid voordat hulle in die lug is en die veiligheidsgordel se liggie afgeskakel word. Hy draai hom skuins in die sitplek, loer agtertoe na die kombuisie waarheen sy verdwyn het en sien sy is saam met nog ’n lugwaardin besig om die bedientrollies gereed te kry. Die vrou skuins agter hom kyk weer met ’n ontevrede frons na hom. Sy keur duidelik nie sy belangstelling in die vlugpersoneel se doen en late goed nie.
’n Glimlag vorm om sy lippe toe hy weer sy kop vorentoe draai en gemaklik teen die sitplek terugleun. Sy medepassasier dink waarskynlik hy is een of ander pervert wat ’n gewoonte daarvan maak om lugwaardinne te beloer. Hy gaan hom egter nie deur haar kwaai kyke laat afskrik nie.
Voordat hulle op Heathrow land, wil hy die blondekop amptelik ontmoet en probeer sin maak van hierdie chaos wat sy in hom ontketen.
“Ken jy hom?” vra Louise toe sy en Gia ná die drankies en die laataandmaaltyd se bediening weer met hul trollie terug in die kombuisie kom.
“Wie?” vra Gia terwyl sy die waterhouer vol maak en op die trollie terugsit.
“47C. Hy kon sy oë nie van jou afhou nie.”
Gia skud haar kop, oorbewus van haar hart wat woes teen haar ribbe skop toe sy weer dink aan die uitdrukking in die vreemde man se oë terwyl sy rooiwyn aan hom bedien het. Toe sy later die ete vir hom aangee, het sy hand vlugtig aan hare geraak en dit was so hittete of sy het die kos op hom laat val van skrik.
“Hy’s gorgeous!” fluister Louise. “Is jy seker julle ken mekaar nie? Jy’t self ’n bietjie rattled gelyk toe jy hom bedien.”
“Nee, ek ken hom nie en het hom nog nooit voorheen gesien nie. Hoeveel glase is daar oor?” Gia wys na die plastiekglasies op die trollie.
“Genoeg vir die volgende bediening. Die appelsap is amper op. Gee asseblief ’n boks daarvan aan, dis daar in die kas langs jou. Miskien moet jy ’n geselsie met hom gaan aanknoop. Hoor of hy ’n kombers of kussing wil hê.”
“Hoekom sal ek dit doen? Dan moet ek mos vir elke liewe passasier in ons bedienblok dit gaan vra.”
“Hemel, Gigi,” sug Louise oordrewe. “Is jy stupid of wat? Hoe anders gaan jy . . .” Sy bly opeens stil toe Sophie en Myra met hul trollie terugkeer en kla oor een van die passasiers in hul bedienblok wat ’n glas rooiwyn op haarself omgekeer het.
Die kajuit is stil en al wat hoorbaar is, is die sagte dreuning van die Boeing 747 se enjins. Hier en daar brand ’n leesliggie in die halfdonker, maar die meeste passasiers slaap of is besig om met oorfone op na die flitsende televisieskerms te staar.
Armin is rusteloos en wag al sedert hulle opgestyg het vir ’n geleentheid om met die beeldskone lugwaardin te gesels, maar sy en die ander drie wat saam met haar in hierdie deel van die vliegtuig werk, bly die hele tyd besig. Toe sy in ’n stadium weer verby hom kom en na die kombuisie toe loop, staan hy vinnig op en volg haar.
“Haai,” sê hy sag toe hy by die kombuisie instap en haar by een van die kassies sien werskaf.
Die blou oë rek verbaas toe sy oor haar skouer na hom kyk. “Kan ek help?”
Meteens is hy verleë en stoot sy vingers deur sy deurmekaar kuif. Dit kom nou daarvan as ’n mens oorhaastig is en nie behoorlik beplan het wat jou volgende stap is nie. “Ja, kan ek . . . um . . .” Sy oë draai na die trollie toe wat eenkant staan en hy beduie daarna. “Kan ek asseblief ’n glas water kry?”
Sy knik, maak die kassie toe en skink vir hom ’n glasie water uit ’n groot plastiekhouer wat op die trollie staan. “Sekerlik. Hier.” Met ’n glimlag gee sy dit vir hom aan.
Hy neem die houertjie by haar en drink ’n slukkie water, sy oë reguit in hare. “Die water is net ’n verskoning,” sê hy toe hy die halfvol plastiekglasie op die trollie neersit. “Ek wou met jou kom praat. Georgia,” lees hy op haar naamplaatjie.
Sy tel die glas op en gooi die orige water uit voordat sy dit in ’n vullisdrommetjie laat val. “Waaroor? Is daar iets anders waarmee ek kan help?”
“Ja. Jy kan vir my sê wat jou naam is.”
Sy wys na die naamplaatjie. “Dit weet jy mos reeds.”
’n Verleë laggie ontsnap uit sy mond terwyl sy oë oor haar beeldskone gesig toer. Flippit, hoe is dit moontlik dat ’n mens so mooi kan wees? Haar oë vonkel daar waar sy met opgetrekte wenkbroue na hom staan en kyk en Armin weet sy verlustig haar in sy verleentheid. Hy beter verduidelik wat hy eintlik hier in die kombuis kom maak het.
“Hoe lank gaan jy in Londen wees?”
Weer rek die blou oë effens asof sy vraag haar verras het. “Twee dae. Hoekom?”
“Omdat ek jou wil sien terwyl jy daar is.”
Die vliegtuig ruk onverwags en dié skielike beweging gooi hom ietwat van balans af. Onvas op sy voete steier hy vorentoe en pen haar in die proses in die hoek tussen die kajuitvenster en ’n muurpaneel vas. Om te keer dat hulle val en om homself te stabiliseer, druk hy met sy een hand teen die paneel bo haar kop terwyl sy ander hand instinktief om haar skouers vou. Met hul gesigte sentimeters van mekaar af, staan hulle só totdat die ergste geskud afneem. Armin is skaars bewus van wat om hom aangaan so gefassineer is hy deur die goue spikkeltjies in haar potblou oë. Sy lippe tintel asof hy vibrasies van haar mond af kan voel en dit kos inspanning om nie sy kop ’n paar sentimeter te laat sak en haar te soen nie.
“Jy beter teruggaan na jou sitplek toe. Dit lyk my ons het turbulensie,” sê sy heserig met haar oë steeds in syne toe die vliegtuig opnuut begin skud.
Armin kom regop en glimlag vir haar. “Oukei. As jy belowe ons kan mekaar in Londen sien.”
“Ek . . .” Haar fokus verskuif en sy kyk oor sy skouer. Blitsvinnig beweeg sy nader aan die bedientrollie terwyl sy inderhaas ’n glas van die trollie af gryp en water daarin skink. “Hier. Vra gerus as u nog water wil hê.”
“Meneer,” sê iemand meteens agter hom. “Het u nie die aankondiging gehoor nie? Sal u asseblief na u sitplek terugkeer en u veiligheidsgordel vasmaak?”
Armin vat die glasie water by Georgia en knipoog vinnig vir haar voordat hy na sy sitplek toe teruggaan. Die turbulensie hou vir ’n hele ruk aan en terwyl die liggie brand wat daarop dui dat passasiers moet bly sit, beweeg niemand in die kajuit nie. Selfs die lugwaardinne het op sitplekke plaasgeneem en hulle vasgegespe. Dit voel soos ’n ewigheid voordat die geskud ophou en die sitplekgordel se liggie uiteindelik weer afgaan.
Die voorbereidings vir ontbyt begin en hy kry nie weer kans om met haar te praat nie. Sy skarrel saam met die ander lugwaardinne soos miere om alles gereed te kry vir die bediening. Glimlaggend hou hy haar dop terwyl sy werk. Georgia, herhaal hy haar naam in sy gedagtes. Hy hoop om haar in Londen uit te neem, al het sy nog nie bevestig dat dit in die haak is met haar nie. Geen meisie onder die son het al ooit sy bloed so warm deur sy are laat pols nie. En op sewe-en twintig het hy al baie van hulle teëgekom. ’n Monnik is hy beslis nie en hy geniet vrouegeselskap. Meer as net hul geselskap, korrigeer hy homself in sy gedagtes. Maar nog nooit het hy iemand ontmoet wat só ’n uitwerking op hom het nie. Om bloot net na haar te kyk, laat sy bloed soos sjampanje bruis. Haar nabyheid laat hom asemloos, verdubbel sy hartklop en lê hom lam. Hy móét haar eenvoudig beter leer ken en uitvind presies wát dit aan haar is wat hom só uitboul.
Gia is besig om alles weg te pak en gereed te kry vir landing terwyl haar ander drie kollegas na die passasiers in hul bedienblok se behoeftes omsien. ’n Beweging by die kombuisdeur trek haar aandag en haar hart mis ’n slag toe sy die donkerkopman sien wat na haar staan en kyk.
“Jy moet gaan sit en jou vasmaak. Ons land binnekort,” sê sy vinnig in ’n poging om haar opwinding te temper. Terwyl sy lyf hare vroeër teen die kas vasgepen het, het sy vuriglik gewens hy wil haar soen. Sy weet dis absurd en dit kan haar haar werk kos indien hulle betrap sou word, maar sy kan nie die begeertes wat hy in haar opwek, onderdruk nie.
“So het ek gehoor. Ek neem aan julle verlaat die vliegtuig heel laaste?”
Sy knik. “Ja, die bemanning gaan in ’n groep deur.”
“Ek sal vir jou wag. Sodra ek my bagasie gekry het. Net voor die uitgang.”
Gia glimlag terwyl haar hart woes galop. “Oukei. Sien jou daar.”
Dit lyk of hy nog iets wil sê, maar Louise kom by die kombuis in en hy draai weg en gaan terug na sy sitplek toe.
“En dit?” vra haar vriendin met opgetrekte wenkbroue. “Klink of julle planne het?”
“Ek weet nie van planne nie, maar hy gaan op die lughawe vir my wag. Hy wil my sien terwyl ons in Londen is.” Gia kan die opgewondenheid wat binne haar woed nie uit haar stem hou nie. Dis nie haar gewoonte om met passasiers te sosialiseer ná ’n vlug nie, maar hierdie een is anders. Vir hom sal sy ’n uitsondering maak.
Louise glimlag ingenome. “Wat het ek jou gesê? Hy kon sy oë die hele vlug lank nie van jou afhou nie. Jy’t die man getoor, Gigi!”
“En hy vir my,” fluister sy giggelend toe hulle gaan sit vir die landing.
Soos gewoonlik groet die kajuitpersoneel die passasiers by die vliegtuig se deur en toe die man van 47C verbykom, kyk hy met ’n glimlag na haar en vorm die woorde “ek wag vir jou” voordat hy op die loopvlak uitstap. Dit tref Gia meteens dat sy nie eens weet wat sy naam is nie. Hopelik het sy nie nodig om na hom te roep nie. Sy is seker sy weet presies waar hy vir haar sal wag.
Armin kyk vir die soveelste keer op sy polshorlosie. Al die passasiers op sy vlug het reeds hul bagasie afgehaal en is al vort, maar van Georgia en die ander vlugpersoneel is daar nog geen teken nie. Wat kan so lank neem? Of het hulle mekaar gemis toe hy sy bagasie afgehaal het? Nee, dit kan nie wees nie. Hy is redelik gou deur doeane en teen die tyd wat hy by die vervoerband gekom het, was sy tas reeds daar. Hoe lank wag hy nou al hier?
Honderde passasiers van verskeie vlugte stroom uit en wemel om die vervoerbande. Deur die geroesemoes van stemme en beweging probeer hy kyk of hy haar kan sien. Daar is geen manier dat hy haar sou miskyk nie. Dis asof hy intuïtief kan aanvoel as sy in die omgewing is. Sy hét mos ingestem om hom hier te kry. Sou sy dalk van besluit verander het? Maar waar is haar kollegas dan? Hy sien ook nie een van hulle nie.
’n Swaar sug val uit sy mond. Hy kan nie langer wag nie, anders gaan hy nie betyds wees vir die vergadering nie. Teleurgesteld draai hy weg en stap na die uitgang toe. Hoewel hy laat is, wag die maatskappy se drywer gelukkig steeds daar met ’n naambordjie voor sy bors vasgeklem waarop Armin Wentzel in groot swart letters pryk.
Op pad middestad toe soek Armin op sy selfoon na die lugdiens se nommer. Hy wil net uitvind waar hul personeel in Londen tuisgaan, maar word summier na hul kliëntediens toe deurgeskakel. Die persoon aan die ander kant lig hom in dat sy ongelukkig nie daardie besonderhede aan hom mag verskaf nie.
“Ek is dringend op soek na een van die lugwaardinne wat op my vlug gewerk het.”
“Wil u ’n klagte lê, Meneer?”
“Nee. Ek wil graag kontak maak met Georgia . . . Ek weet nie wat haar van is nie, maar haar naam is Georgia. Kan jy dalk vir my haar besonderhede gee?”
“Dis ongelukkig nie moontlik nie, Meneer. As u ’n klagte wil lê, kan u die vorm aanlyn . . .” begin sy, maar Armin maak haar dadelik stil en verduidelik weer dat hy haar net in haar persoonlike hoedanigheid in die hande wil kry.
“Ons mag ongelukkig nie ons personeel se besonderhede verskaf nie, u verstaan dit tog?”
“Ja, natuurlik. As ek net kan weet by watter hotel die bemanning in Londen tuisgaan, sal ek haar daar gaan opsoek.”
“Ek kan u ongelukkig nie help nie, Meneer. Is daar enigiets anders waarmee ek u kan assisteer?”
Moedeloos sit hy sy selfoon in sy baadjie se sak en staar by die venster uit. Hy is vies vir homself. Hy moes Georgia se selfoonnommer gekry het. Of ten minste uitgevind het waar sy tuisgaan. Hoe kon hy so onnosel gewees het? Hoe gaan hy haar nou ooit in die hande kry?
Gia is byna in trane toe hul paspoorte weer oorhandig word en hulle toestemming kry om te gaan. Sy kan nie glo dit het gebeur nie. En dit juis op hierdie vlug waarop sy ’n afspraak gemaak het met die aantreklikste man wat sy nog ooit ontmoet het!
“Bleddie Colin!” vaar Louise uit toe hulle buite hoorafstand van die ander is. “Ek hoop hulle sluit hom vir ewig toe!”
“Dalk praat hy die waarheid en is hy rêrig onskuldig,” keer Gia vir haar kollega, al voel sy presies net soos haar vriendin oor die hele onsmaaklike situasie.
“Jy glo tog nie sy storie dat een van die passasiers die pille skelm in sy bagasie gesit het nie, Gia!”
“Nee. Ja. Ag, ek weet nie wat om te glo nie, Lulu. Colin is darem nie die tipe wat so ’n kans sal vat nie. Hy’t mos gewéét hulle sou hom uitvang.”
“En as een gevang word, moet almal teruggehou en deursoek word. Die hele bleddie crew! Dis ’n klap in ons almal se gesigte.”
“Die ergste vir my is dat die ou waarskynlik nou dink ek het hom met opset mislei. Dat ek hom verniet laat wag het en nooit beplan het om op te daag nie.” Gia voel weer trane agter haar ooglede prik.
Louise sit haar arm om haar vriendin se skouers. “Ag, jou arme ding! Ek het skoon daarvan vergeet. Bleddie Colin en sy onwettige pille is al waaraan ek die hele tyd kon dink. En hoe ek myself uit die tronk gaan hou as hulle besluit om ons almal te charge. My ouers gaan uitfreak as hulle moet hoor die polisie het ons deursoek!”
Hulle sit hul bagasie in die bussie se kattebak en wag dat die res van die personeel inklim.
“Kyk op die passasierslys,” sê Louise gedemp en stamp liggies aan Gia se skouer toe hulle gemaklik is in hul sitplekke. “Vra vir kaptein Ross die lys en kyk wie het in 47C gesit.”
Gia se oë rek opgewonde. “Ja, dis ’n goeie plan.”
Nadat Gia vinnig ’n storie gespin het om die kaptein te oortuig, oorhandig hy die passasiersmanifes aan haar. Sy en Louise blaai dadelik na die plek toe waarop die passasiers in hul bedieningsblok aangedui word. Sy vind die naam en frons verward.
“Mevrou Fatima Al Hadid Hassam,” lees Gia en skud haar kop verward. “Dis wie volgens die lys in 47C gesit het.” Sy kyk onbegrypend na Louise. “Dis nie die regte lys nie. Ons weet mos albei daar het ’n man gesit, nie ’n vrou nie.”
Louise se frons keep so diep dit lyk amper of haar ooglede aan haar neusbrug kan raak. “Dis onmoontlik. Hoekom sal kaptein Ross vir jou die verkeerde lys gee? Hy het tog sekerlik net die huidige manifes by hom?”
“Ek dink so. Dalk het die man met iemand plekke geruil, wat beteken dit kan enigiemand op die hele vlug wees wat op sy plek gesit het,” kerm Gia moedeloos. “Hoekom het ek nie daaraan gedink om sy naam te vra nie?” teem sy ontsteld. “Dan het ek ten minste nou iets gehad om mee te werk. Nou sal ek nooit weet wie hy is nie!”
“Of wat tussen julle kon gebeur het nie,” vul Louise melankolies aan. “Dit was dalk jou ridder op sy wit perd vir al wat ons weet.”
Die volgende twee dae terwyl sy in Londen is, funksioneer Gia se oë kompleet soos ’n skandeerder in haar soeke na die vreemdeling se aantreklike gesig. Teen die tyd dat sy op haar terugvlug na Dubai klim, voel sy ellendiger as ooit. Op twee en twintig het sy haar droomman vlugtig ontmoet en weer verloor. Voordat haar sprokie kon begin om waar te word, is dit tot as verbrand deur blessitse Colin Schultz se wandade. Wat is die kans dat sy ooit weer ’n man gaan teëkom wat so ’n vuur in haar aansteek? Sedert hul oë die eerste keer ontmoet het, kon sy die vonk tussen hulle voel. Die feit dat hy haar in die vlugkombuis kom opsoek het en haar in Londen wou sien, vertel vir haar dat hy dit ook gevoel het. Alles verniet!