Skip to main content

Uittreksel | Liefde genees

Een

Sy wil so ver soos sy kan weg van Pretoria en die verraderlike Wynand de Winter kom. Oorweeg dit selfs om by Médecins Sans Frontières, oftewel Dokters Sonder Grense, aan te sluit en sommer in ’n oorloggeteisterde gebied te gaan werk. Dan dink sy weer, waarom sal sy haarself straf met lewensgevaarlike werk as dit eintlik Wynand is wat die sondaar is? Haar hart is verbrysel, maar sy het nog nie ’n doodswens nie.

Wegkom uit haar ou omgewing, is egter noodsaaklik. Sy kan nie verder in die Jakaranda Kliniek werk waar almal weet wat gebeur het, haar jammer kry, of agter hulle hande skinder nie. Dit is só vernederend om die vrou te wees wat verneuk en verlaat is.

Madeline kyk na die koerant in haar hande. Die naam Dokters Sonder Grense trek weer haar aandag. Een van hul gewese dokters open ’n kliniek en hersteloord in Stellenbosch en hy adverteer vir personeel. Sy moet aansoek doen vir een van dié poste. Dis ’n deur wat oopgaan waardeur sy kan ontsnap uit die sel van pyn, ontnugtering en bitterheid waarin sy die afgelope maand vasgekeer is sedert haar man haar vir ’n jong, sexy teatersuster gelos het.

Sy vat ’n sluk van die witwyn wat voor haar staan. Trooswyn. Dis ook nie goed om alleen te drink nie, nè?! Maar as jou hart stukkend is, soek jy verligting. Hoe rooskleurig het die lewe nie gelyk toe sy Wynand ontmoet het nie! Sy, pas gekwalifiseer as mediese praktisyn en hy ’n ingenieur. Sy kry ’n goeie pos by die Jakaranda Kliniek en skielik wil hy ook medies swot. Hulle trou en sy onderhou hulle ses jaar lank. Skaars is hy gekwalifiseer, of hy kry ’n pos by dieselfde kliniek waar sy werk. En toe ontmoet hy die skynbaar onweerstaanbare teatersuster.

Nét so vergeet hy van al die opoffering, die sakke sout saam opgeëet. Sy liefde vir haar verdamp só vinnig dat hy op ’n vreeslike dag brutaal aankondig die huwelik is verby, hy gaan by sy nuwe liefde intrek. Sy sal nie weer toelaat dat ’n man haar hart verrinneweer nie. Die seer was net té erg, die ontnugtering té verwoestend.

Wynand wil seker so gou moontlik skei, en dan met sy minnares trou. Gelukkig het hulle hul huis gehuur en nie gekoop nie, anders sou die verdeling van bates ’n verdere probleem gewees het. Nou is sy verlig dat hulle nie kinders het wat onder ’n skeiding sou ly nie. Sy kyk na die selfoonnommer in die advertensie en besluit om dadelik te bel, al is dit al aand. ’n Hersteloord wat op ’n eeueoue wynplaas ingerig word, gaan mos mense trek. So ’n mooi werksomgewing is om van te droom. Waarskynlik sal daar etlike aansoeke vir die poste daar wees. Sy moenie gras onder haar voete laat groei nie.

Gebeur ’n wonderwerk en sy kry daardie geadverteerde pos, sal sy dadelik die huur van dié huis opsê en Kaap toe trek. Daar sal haar wonde weer genees. Sy tel haar selfoon op, oorweeg dit eers, en skakel die nommer. ’n Diep manstem antwoord. “Brian Thompson.”

“Goeienaand, is u die dokter wat vir personeel vir die Jonkershoek Kliniek en Hersteloord adverteer?”

“Ja ...”

“Ek is dokter Madeline du Bois van Pretoria. Tans werk ek by die Jakaranda Kliniek, maar ek wil graag aansoek doen vir die pos van kliniese assistent by u nuwe hersteloord. Ek het MBChB aan Stellenbosch Universiteit verwerf en wil graag weer in die Kaap woon en werk.”

Sjoe, sy het dit uitgebabbel en die man het stilswyend geluister. Klink sy nie dalk oorywerig of desperaat nie? Wel, sy ís desperaat.

“Hoe oud is u?” vra die diep stem.

Sy wil-wil haar vererg, maar antwoord bedaard:

“Ek is twee en dertig. Maak ouderdom saak?”

“Ouderdom maak nie soveel saak soos ondervinding nie. Hier gaan ons werk met traumagevalle en ek soek nie onervare personeel nie.”

“Ek werk darem al vyf jaar lank in dié hospitaal …”

“Stuur asseblief vir my al u besonderhede, dan kyk ek. Daar was reeds ’n aantal aansoeke …”

Impulsief sê sy: “Ek was van plan om Kaap toe te kom vir ’n kort vakansie. Ek kan al volgende week vir ’n onderhoud kom, as dit reg is.” Dan kry sy moontlik haar voet in die deur.

Daar is ’n oomblik stilte. “Goed. As u volgende week hierheen kan kom, sal dit goed wees. Die hersteloord is op die plaas Bellevue in Jonkershoek buite Stellenbosch. Ons is nog aan die bou en meubileer, maar binne twee maande behoort alles voltooi te wees.”

Hulle kom ooreen op ’n datum en tyd en sy onderneem om al haar besonderhede aan hom te stuur. Nou moet sy net ’n vliegkaartjie koop. As sy hom in die oë kan kyk, het sy reeds haar groottoon in die deur. Sy mooi stem fassineer haar. Hy kon ’n radiopersoonlikheid gewees het met so ’n welluidende stem wat strelend sal wees vir siek mense.

Sy besluit om hom te google. Gefassineerd kyk sy na dokter Brian Thompson se foto. Blykbaar is hy veertig jaar oud, maar sy hare is spierwit en borselkop gesny. ’n Paar opvallende blou oë kyk reguit na haar onder swaar, donker wenkbroue uit. Sy gesig is nie modelmooi nie, maar sterk en hoekig met ’n nogal streng mond. Daar is ’n keep in sy ken, iets wat nog altyd vir haar ’n mooi feature by mans was. Sy sien hom halflyf en sy skouers lyk breed. Hy glimlag nie. Sy gesig is ernstig, en hy lyk beslis nie na die ligsinnige grapmakertipe soos Wynand nie. Wynand maak altyd grappies met die verpleegsters en ander personeel, en laat hulle lag. Nou dink hulle natuurlik hy’s sjarmant verby.

Sy vind stukke wat noem waar dokter Thompson al oral in diens van MSF was – in Mosambiek by Cabo Delgado, in Suid-Soedan, selfs in Natal. Hy het sy kwalifikasies aan die Universiteit van Kaapstad behaal en het in trauma gespesialiseer. Hy het by Dokters Sonder Grense bedank om die hersteloord te begin. Madeline lees hierdie interessante inligting met groot aandag. Dié man het hom in van die gevaarlikste gebiede ter wêreld begewe. Ongetwyfeld ’n dapper en toegewyde geneesheer.


Madeline ry die Dinsdagoggend met haar gehuurde motor van die Lanzerac Hotel af waar sy tuisgaan, in Jonkershoek se rigting. Sy ken die omgewing redelik goed. In haar studentedae het sy en vriende in die Jonkershoek-natuurpark kom piekniek hou, en in die berge en tot by die watervalle geloop. Sy kyk met groot lekkerkry na links en regs. Die pad kronkel tussen die berge deur en aan weerskante is die een pragtige landgoed ná die ander. Aan die linkerkant, hoog teen die berg, is ’n pseudokasteeltjie wat tog te fraai lyk. Die bome langs die kronkelpad is oud en reusagtig. Hierdie landelike omgewing buite Stellenbosch is vir haar paradyslik.

Sy ry ’n hele ent voordat sy aan die linkerkant by ’n groot wit hek kom waar ’n waghuisie met ’n man in uniform by ’n sperboom staan wat voertuie keer om verder te ry. Die groot kennisgewingbord dui aan: Bellevue Estate, Jonkershoek Kliniek en Hersteloord/Jonkershoek Clinic and Convalescent Institution. Opening soon.

Die man kom nader toe sy stilhou en sy draai haar venster af. “Môre, ek is dokter Du Bois en ek kom dokter Thompson sien,” sê sy.

Hy kyk op ’n lys. “O ja, Dokter, hy verwag u. Draai asseblief links waar die pad vurk en ry na die herehuis. Hy sal u daar sien.”

Hy lig die sperboom en sy ry deur. Verwonderd kyk sy na die omgewing. Hierdie is een van daardie ou plase wat aan die vroegste setlaars gegee is en waar alles gevestig is. Sy draai af waar die pyltjie Bellevue House aandui. Langs die pad is tuine en hoë akkerbome. Die pad is geteer en loop opdraand in die berg se rigting. Deur die bome kom ’n groot Kaaps-Hollandse huis te voorskyn. In haar studentedae het sy oor dié plek gewonder, maar ’n mens kon nie die huis sien nie; dit is te ver van die pad af. Die aansig is só mooi dat sy eers moet stilhou om dit te bewonder. Die huis is spierwit, asof dit pas geverf is. Daar is groen luike by die vensters, ’n swart teëldak, en op die gekrulde voorgewel staan die jaartal 1840. Voor is ’n stoep met groot potte, en ’n stel trappe loop op na die ingang. Die tuin om die huis is mals van kleure, met blomme en struike wat geil groei. Sy sien twee tuiniers doenig, een snoei ’n bos en die ander een loop met ’n dreunende grassnyer oor ’n smaraggroen grasperk.

Sy hou in ’n parkeerarea stil en klim uit. Daar staan ’n rooi Suzuki en sy wonder of dit aan ’n ander kandidaat behoort. Sy adem die vars lug diep in en ruik blommegeure, hoor voëls tjirp en sing en bye wat zoem. Hierdie sou sowaar ’n ideale werksomgewing wees. Sulke natuurskoon is heilsaam vir die siel. Hier sal mense rustig van trauma en beserings kan herstel. Nou wil sy met alle geweld hier kom werk en terwyl sy die stoeptrappe klim, stuur sy ’n skietgebedjie boontoe.

Die voordeur is toe. Sy lui die klokkie langsaan. Die deur gaan oop en ’n gesette vrou in ’n blou uniform staan daar.

“Hallo, ek is dokter Du Bois,” stel sy haarself voor.

Die vrou glimlag. “O ja, kom in, Dokter. Dokter Brian voer nog ’n ander onderhoud. U kan solank in die voorkamer wag.”

Sy lei Madeline deur ’n portaal waar sy Bataafse teëlvloere, ’n Persiese mat en pragtige armoires sien. Daar is skilderye van seetonele teen die mure. Koperkandelare hang van die plafonne af. Alles blink en lyk skoon. Die sitkamer, oftewel voorkamer, is groot en spog met antieke meubels. Daar is skilderye van mense in vorige eeue se drag en natuurtonele. ’n Groot geelhoutarmoire met koperbeslag domineer die vertrek. Die stoele is in blou en groen gestoffeer en teen een muur is ’n antieke staanhorlosie wat so mooi is dat Madeline dit eers moet ondersoek.

“Watter pragtige huis,” sê sy. “Dis soos ’n museum vol kosbare skatte.”

“O ja, die oumies was baie puntenerig. Alles moes eksieperfeksie wees. Die huis is mos geërf van toeka se tyd af en alles moet goed versorg bly. Sy is ses maande gelede oorlede. Die oubaas is al verlede jaar oorlede. Dokter Brian het die plaas geërf, want hy’s die oudste kind en enigste seun en daarom maak hy die kliniek waar die wynkelders eers was.”

“Mag ek vra wie jy is?”

“Ek’s Evelina October, Dokter, die hoofhuishoudster. Dokter Brian noem my sommer Jill of all trades.”

Sy giggel.

Madeline glimlag en hou sommer van haar. “Nou ja, bly te kenne, Evelina.”

“Bly te kenne, Dokter. U is so mooi en lyk so vriendelik, ek hoop dokter Brian wil u aanstel. Kan ek vir u tee bring?”

“Dit sal lekker en kalmerend wees, dankie. Ek is ietwat op my senuwees.”

Evelina lag. “Moenie vir dokter Brian skrik nie. Hy lyk groot en kwaai, maar sy hart is sag. Hy vat niks nonsens nie, maar hy’s regverdig en sy se ma het hom mooi grootgemaak met goeie maniere saam. Hy’s mos ’n dokter oor hy ’n sagte hart vir ander mense het. Ek bring Dokter se tee.”

Evelina kom met tee in ragfyn koppies en ’n bordjie beskuitjies. Madeline neem ’n slukkie tee en hap ’n beskuitjie. Iets trek haar aandag. ’n Mooi jong blonde vrou kom laggend by die deur verby.

“Dankie, Dokter,” sê sy vrolik oor haar skouer. Daarna kom ’n groot man verby. Madeline hoor hoe hulle by die voordeur praat. Haar mond is nog vol beskuitjie toe hy skielik in die deur verskyn. Sy skrik só groot dat sy amper verstik, en sy sluk vinnig. Haar gesig is warm van verleentheid. Hy is lank en sy skouers is breed. Sy lyf is lenig en hy dra ’n denim en ’n geruite blou hemp wat oop is by ’n sterk keel. Hy skep die indruk van krag. Lyk formidabel, met daardie ernstige gesig. Sy blou oë kyk ’n bars. Skielik voel sy asof sy nie genoeg suurstof kry nie.

Wat skrik sy tog so? Sy’s mos nie ’n skaam of bang mens nie. Vinnig sit sy haar teekoppie op die skinkbord neer en hoop hy het nie gesien haar koppie rinkel soos sy skielik bewe nie. Ruk jou reg, Madeline, raas sy met haarself en kom orent. Hy bekyk haar krities, van haar loshangende donker hare tot by haar gemaklike, plat loafers. Miskien moes sy haar hare eerder vasgemaak het. Sou dit nie meer professioneel gelyk het nie? Miskien ook nie sommer slenterdrag gedra het nie. Sy dra ’n denim, maar sy het darem ’n mooi wit syhemp aan. Ag, wat maak dit saak? Hy is dan ook in slenterdrag.

“Dokter Du Bois?” Die diep stem klink nou bekend.

“Ja.” Sy steek haar hand uit en hy vat dit in ’n groot, warm hand wat hare heeltemal toevou. ’n Skok trek deur haar. Sy is amper ’n kop korter as hy en kyk braaf op in sy helderblou priemende oë. Dink hy reeds met die intrapslag dat sy nie geskik lyk vir sy pos nie? Haar moed sak tot in haar skoene. Sy het so gehoop …

“Kom asseblief saam met my na my kantoor.”

Sy volg hom tot in ’n groot vertrek met baie boekrakke en kabinette, ’n groot lessenaar met ’n skootrekenaar, drukker en skandeerder, hoë gemakstoele. ’n Gesellige vertrek, al lyk dit asof hier besigheid gedoen word.

“Sit gerus.” Hy dui ’n gemakstoel aan. Sy gaan sit en hy sit oorkant haar.

Sy probeer op haar gemak voorkom, maar sy voel asof sy op ’n mespunt balanseer. Weet skaars wat om met haar hande en voete te doen. Hy gaan haar lyftaal lees met daardie deurdringende blik. Hy het nog nie een keer geglimlag nie. Hierdie man is regtig intimiderend.

Sy stemtoon is egter aangenaam en nie skerp nie toe hy haar begin uitvra. Sy moet hom van haar agtergrond vertel, al het sy vir hom inligting per epos gestuur. Hy sit rustig met sy hande op die lessenaar gevou en hou haar dop.

“Ek het in Pretoria grootgeword, waar ek aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer het,” vertel sy. “My pa het my Stellenbosch Universiteit toe gestuur omdat hý hier gestudeer het. Hy is ’n ginekoloog.”

Brian Thompson knik. “Ek sien jy is getroud. Beoog jou man om saam te kom, mits jy hier kom werk?”

’n Verleë blos klim hittig teen haar hals op. “Ek en my man is … uitmekaar … hoewel nog nie amptelik geskei nie. Ek wil alleen Kaap toe trek. Nou soek ek ’n pos hier onder.”

“H’m ...” Hy vra haar uit oor haar werk en ondervinding. Sy praat en praat terwyl hy haar rustig sit en bekyk.

“Nou goed,” sê hy toe sy haar lewe klaar voor hom uitgepak het. “Ek het nou ’n baie goeie idee van watse soort mens en dokter jy is. Daar was ’n aantal aansoeke, en ek sal moet besluit wie die geskikste vir die pos van kliniese assistent sal wees. Ek sal jou binne twee weke laat weet of jou aansoek geslaag het, of nie. Slaag dit wel, bied ek ’n salaris aan wat jy kan aanvaar, of nie. Baie dankie dat jy hierheen gekom het om die beer in sy grot aan te durf.”

Skielik grinnik hy en daar is verbasend genoeg ’n ondeunde lig in sy oë. Sy kan amper nie glo dat hy so handomkeer verander nie. Hy maak selfs ’n grap.

“Ek moes darem kom seker maak dat ek die man vir wie ek dalk kan werk, aanvaarbaar vind,” grap sy parmantig.

Hy lag. “Ja, dit kom van twee kante af, nè?” Hy kom orent en troon bo haar uit. Sy volg hom na die voordeur waar hy weer haar hand in sy grote neem. “Jy hoor dan van my, dokter Du Bois.”

Sy loop oor die stoep en by die trappe af, bewus daarvan dat hy nog steeds daar staan en haar agternakyk. Sy moet net nie struikel nie. Haar hart klop woes, dit voel kompleet asof dit by haar keel gaan uitspring. Watter oorweldigende effek het dié man nie op haar nie! Gaan hy haar ooit wil aanstel? Sy twyfel sterk.