Skip to main content

Uittreksel | Liefde en verlies

Een

Margaretha sit voor die spieël en kyk hoe haar sussie Riekie haar lang blonde hare uitborsel voordat sy dit met linte vasmaak.

“Jy hoef dit regtig nie so seer te trek nie,” verwyt sy.

Riekie is dikmond. “Wel, dis dik, en krullerig, en nie maklik om mee te werk nie.”

Hulle deel ’n kamer aangesien die huis te klein is om vir al vier sussies hul eie kamers te gee. Riekie is twee jaar jonger as sy, nuuskierig en ’n pes. Margaretha wens sy kan haar eie kamer kry. Sy is darem al sewentien jaar oud! Liesbet wat dertien en Sofia wat elf jaar oud is, deel ook ’n kamer, maar hulle kla nie soveel soos Margaretha nie.

Kla sy by hulle ouers, sê hulle moeder sonder die geringste simpatie: “Wees bly julle is net twee-twee in ’n kamer. Ons was maar arm daar in Volmoed. Ek moes ’n kamer met drie susters deel.”

Daarmee het sy die saak as afgehandel beskou. Hulle is soos orrelpypies en Margaretha skaam haar. Haar moeder het op sestien al geboorte geskenk aan haar en sy was bykans konstant swanger totdat die vyfde kind gekom het. Weer ’n dogter, maar dood by geboorte. Daarna het sy darem nie weer swanger geraak nie.

“Ons het aanhou probeer om ’n seun te kry wat julle vader moet help boer,” was haar moeder se verduideliking. “Maar die seun het nooit gekom nie.”

Hulle moeder kom by die slaapkamer in, uitgevat in haar kerkrok. “Toe, toe, moenie heeldag vat nie, ons sal laat wees vir die diens.”

“Margaretha se hare is so dik, ek sukkel,” kla Riekie wat self bra dunnerige vaal hare het soos haar moeder.

Hendrika kyk met goedkeuring na die hare. “Ai, dié haredos is darem pragtig. Waar jy dit kry, weet nugter. Dalk van ’n ouma af. Dis jou goue kroon. Dis een van die dinge wat vir jou ’n goeie huwelik met ’n ryk man sal waarborg. Jy moet altyd mooi lyk as ons kerk toe gaan; dit vang die oog. Ek sien hoeka hoe die jong manne na jou loer. Hulle vra om te kom opsit, maar ons het nog nie die regte een gekry nie. Jy moet goed en verstandig kies. Jy wil tog nie arm wees en sukkel soos jou moeder nie.”

Nee, sy wil nie sukkel soos haar moeder en haar vader wat te diep in die bottel kyk nie. Dis nie dat hulle brandarm en behoeftig is nie, maar hulle kry swaarder as hulle bure. Hulle boer ook met volstruise, maar het veel minder as die ryk Markgraaffs wie se enigste kind, Lettie, haar boesemvriendin is. Ook veel minder as die Le Rouxs, Oliviers en Cloetes, en verskeie ander boere wat floreer omdat die prys vir vere so hoog is. Die twee Cloete-seuns, Michael en John, is aansienlik – én hulle het baie geld. Sy het lankal haar oog op hulle. Michael is die sterkgeboude ouer broer met donker hare en oë. John is lank, skraal en blond met blou oë. Albei is aantreklik en omtrent al die ongehude meisies is agter hulle aan. Dit sal sowaar ’n triomf wees as sy een van hulle vang!

In die kerk sal sy weer subtiel vir hulle ogies maak. Hulle kyk in elk geval altyd na haar. Staar, eintlik. Soos vele ander jongkêrels. Haar moeder sê mos sy is verreweg die mooiste van haar dogters en die een op wie sy haar hoop vestig vir ’n beter toekoms.

“Jy moet goed en ryk trou. Jy moet ons nie teleurstel nie.” Dié refrein hoor sy oor en oor. Sy het ’n plig en verantwoordelikheid. Sy moet ambisie hê en nie met ’n ploeteraar trou nie. Die volstruisvere maak baie mense ryk, en dis met een van hulle wat sy haar toekoms moet ingaan.

Vandag dra sy vir die eerste keer ’n lieflike blou-en-wit rok, wat eintlik nie nuut is nie. Haar vriendin, Lettie Markgraaff, het dit aan haar geskenk toe dit te klein word. Sy is groter as Margaretha wat fyntjies is, en dra in elk geval ’n rok net een of twee keer. Sy het ook altyd probleme met haar gewig. Hendrika is handig met naaldwerk en verstel dit sommer gou dat dit haar dogter pas. Margaretha sluk haar trots as Lettie by haar aankom en syself dra 'n tweedehandse rok. Dis mooi en van goeie kwaliteit, en later gee Margaretha dit weer aan na haar eie sussies. Haar moeder is altyd oorvloedig en vernederend dankbaar vir dié aalmoese.

Eendag gaan sy nuwe klere dra, van die beste gehalte. Sy sal sélf die materiaal en patroon kies. Dan sal sy nooit weer iemand anders se smaak uit verleentheid hoef te aanvaar nie.

“Goed, dis klaar,” sê Riekie en gee haar hare ’n venynige pluk.

“Eina.” Sy weet Riekie is jaloers op haar, maar sy kry haar jonger suster jammer oor sy so vaal is. Die lewe is nie regverdig nie.

“Jy is my deugsame kind,” sê hulle moeder altyd vir Riekie wat hard werk en fluks is en werk doen wat hande grof maak terwyl Margaretha s’n bewaar moet word aangesien dit ’n vereiste is dat ’n dame mooi hande moet hê.

Hulle sit die tweeperdkapkar vol. Ook dit is vir Margaretha ’n verleentheid. Die Markgraaffs en Cloetes en ander mense soos hulle kom met groot blink rytuie met vier perde by die kerk aan. Húlle sit nie so opmekaar dat hul klere kreukel nie.

Sy kan nie vinnig genoeg afklim toe hulle naby die kerk stilhou nie, en trek aan haar rok om die kreukels uit te kry; voel aan haar hare en weet dit blink goud in die sonlig. Wel, sy mag die dogter wees van Jacobus du Toit van Bossieskraal op wie die gegoede mense neersien, en een van die Du Toit-orrelpypies, maar sy weet sy is baie mooi en sy kan trots wees. Ydel is sy ongetwyfeld, maar mense vertel mos vir haar sy is die mooiste meisie in die kontrei. Kop omhoog loop sy na die kerk. Weet dat mense omdraai om na haar te kyk. Dat oë haar volg. Daar is die aansienlike Cloete-seuns, en hulle kyk ook na haar. Sy glimlag skalks vir hulle.

In die kerk sit die vername Cloetes in hul gewone bank naby voor. Dorothy Cloete is só deftig in ’n silwergrys rok en pêrels, dat Margaretha skaars haar oë van haar kan afhou. Haar hare is pragtig opgedoen en daar is blink oorkrabbers aan haar ore. Haar man lyk altyd asof hy ’n splinternuwe pak klere aanhet. Die seuns ook. Altyd so smaakvol en deftig aangetrek, dié Cloetes.

Sy glimlag vir Lettie Markgraaff wat naby hulle sit by háár vername ouers. Wel, hulle is ryk; nogtans was haar moeder, Aletta, se ouers ook maar brandarm mense in Volmoed soos Margaretha se moeder-hulle. Aletta het egter die geluk gehad om met lelike, maar ryk Paulus Markgraaff te trou. Aletta is plat op die aarde en nie aanstellerig nie, sê Margaretha se moeder. Sy laat ’n mens nie minderwaardig voel nie, want sy weet waar sy vandaan kom.

Lettie lyk ongelukkig te veel na haar vader. Die plaaslike jong mans staan nie juis tou om háár die hof te maak nie, al weet hulle sy is ryk.

Ná die kerkdiens staan almal buite en gesels. Margaretha staan doodstil; sien uit die hoek van haar oog dat die twee Cloete-broers na haar kant toe stap. Onmiddellik begin haar hart spoed kry, maar sy hou haar ongeërg.

“Hoe gaan dit met die mooiste nooi in Kannaland?” vra John en sy mooi blou oë terg haar.

“Ag, dit gaan goed, dankie.” Ai tog, hoe onbedaarlikbons haar hart nou.

Michael glimlag net vir haar. Hy is so manlik, dit sal enige meisie se knieë laat knak. Gesog is hy beslis. Hy’s egter nie een wat sommer gesels of komplimenteer nie.

“Hoe gaan dit met julle volstruise?” spot sy.

Die twee broers lag, asof sy iets slim gesê het.

“Hulle is vol vere, dankie,” skerts Michael. Wys sy mooi, reguit wit tande in ’n breë glimlag. Ook hý laat haar hart rumoer. Iets wat hy uitstraal, affekteer haar altyd. Hy lyk so sterk en selfversekerd. So in beheer. Intimiderend viriel. Haar kroontjie kom net by sy skouer. Daardie mooi mond kan seker lekker soen. Lettie beweer hy maak háár knieë lam, maar hy beskou haar net as ’n vriendin.

“Kan ek môreaand vir jou kom kuier?” vra John onbeskroomd.

Margaretha is onkant betrap. Hy wil kom kuier en vra sommer reguit?! Oeps, kyk hoe frons sy broer; asof hy nie hou van wat hy hoor nie.

“Vra my vader.” Sy kan aan niks anders dink om te sê nie.

“Goed, maar ek vra jou eerste. Kan ek kom, of sal jy my met die besem wegvee?”

Sy lag en voel die gloed van triomf, maar ook verleentheid, teen haar nek opkruip. “Dink jy ek’s ’n heks?”

“As jy is, is jy ’n mooi heksie.”

“Jy kan kom as my vader inwillig.”

Fronsend loop Michael weg. Duidelik hou hy nie daarvan dat sy broer by haar wil kuier nie. Dink hy sy is nie goed genoeg vir die Cloetes nie?

“Ek het hom voorgespring, en nou’s hy die moer in,” grinnik John. Hy loop na haar vader en sy kan nie hoor wat hy sê nie, maar haar vader knik.

Sy kan ronddans van blydskap, maar hou haar koel en kalm soos dit ’n gesogte meisie betaam. Dis moeilik om tussen die broers te kies, maar nou het John sy voet in die deur en sy hoef nie te kies nie.

By die huis is Margaretha se ouers net so bly soos sy dat een van die Cloetes uiteindelik gevra het om by haar te kom opsit.

“Ek het só gehoop en gebid dat een van daardie vooraanstaande seuns in jou sal belangstel,” kraai haar moeder, “maar ek wens dit was eerder die ouer een. Hy is meer standvastig, meer volwasse. John is rusteloos en nog te jonk. As die oudste seun is Michael darem die hooferfgenaam.”

“John sal ook ryk wees,” protesteer Margaretha ergerlik.

“Maar nie so ryk soos Michael nie,” hou haar moeder vol.


Michael wil nie soos ’n slegte verloorder lyk nie, maar hy is skoon iesegrimmig oor John so voortvarend is en sommer by Margaretha du Toit aanlê.

John kondig dié aand aan etenstafel trots aan dat hy by Margaretha gaan kuier. Sy en haar vader het toestemming gegee.

Sy moeder is dadelik kwaad. “Wat?! Jy het jou oog op ou sukkelaar Jacobus du Toit se dogter? Jy moet weet jy kry daardie hele beteuterde en versukkelde familie saam as jy haar kry.”

“Ons is ryk genoeg,” sê John. “Ek hoef nie met ’n ryk vrou te trou nie.”

“En daar is nie ’n mooier nooi in ons geweste nie, nè,” sê Michael, swaar sarkasties.

“Jy’s net afgehaal oor jý nie vir haar gaan kuier nie.” John klink só leedvermakerig, Michael kan hom gerus ’n opstopper gee.

“Skoonheid vergaan en deug bly staan,” sê Dorothy vroom.

“En wie het nogal meer deugde as sy?” vra John parmantig. “Tog nie oom Paulus Markgraaff se lelike dogter nie. Dié is bederf oor sy ’n enigste kind is en boonop sal sy kinders skrikmaak met daardie gesig.”

“Haar vader is een van die rykste boere …” begin sy vader driftig.

John val hom in die rede. “En geld wat stom is, maak reg wat krom is. Maar nie vir mý nie.”

Michael skrik eintlik toe hy sien hoe rooi sy vader in die gesig word. Asof hy ’n oorval wil kry.

“Ek weet wat dit is om nie geld te hê nie en hard te moet werk om dit te kry,” bulder Michael senior. “Jy weet nie wat dit is om nié ryk te wees nie, jou bogsnuiter. Jy werk jou nie juis vrek nie, maar jy lewe in oorvloed.”

Seergemaak gluur John sy vader verontwaardig aan, staan dan op van die etenstafel en loop na buite.

“Dit was nie nodig om hom so sleg te sê nie,” sê Dorothy tranerig. “Hy doen tog sy deel op die plaas!”

“Ek het net die waarheid gepraat, vrou. Hy’s buitendien nog nie reg om vrou te vat nie; dat hy nou na dié meisie wil gaan vry, beteken net hy’t rooi hakskene.”

Hy vat ’n sluk van sy wyn. “Dis seker die ergste kwaal waaraan jong mans soos wat ons seuns is, ly.”

Inderdaad, dink Michael. Hy gaan hom nie laat uitstof deur sy jonger broer nie. Hy sal ook sien hoe ver hy met Margaretha du Toit kom. En mag die beste man wen.