Skip to main content

Uittreksel | Liefde en oorlog

Een

Maura wag totdat die middagmaal opgeskep is en haar stiefvader die gebed gedoen het. Dit is altyd ’n goeie tyd om nuwe sake aan te roer terwyl hy alte lekker eet.

“Ek gaan môre na Lenie se huis. Ons gaan leer hoe om verbande te maak en tant Huibrecht gaan ons vertel hoe om te verpleeg.”

“Wat?” Haar stiefvader kyk na haar met ’n kwaai frons tussen sy grys wenkbroue. Sy blou oë is soos ys.

“Lenie sê De Volkstem vra vrywilligers vir die Transvaal Rooikruis. As oorlog uitbreek, wil ek gaan verpleeg. Dis die minste wat ek kan doen as ek nie op kommando kan gaan nie.”

Haar moeder, wat gewoonlik op haar kos konsen­treer en ’n groot eetlus het, kyk ergerlik na haar. “Jy kan nie sulke vuil werk gaan doen nie. Ons het jou skool toe gestuur en na die finishing school in Kaapstad sodat jy ’n dame kan wees. Dit het baie geld gekos en ons het groot hoop vir jou toekoms. Jy moet met ’n vermoënde man kan trou wat ’n fyn opgevoede vrou soek. Ek verbied jou om te gaan verpleeg.”

“Ek vra nie julle toestemming nie; ek stel julle in kennis.” Maura se gesig is vuurwarm van opstandigheid.

“Maar dis mos verregaande,” raas haar stiefvader. “Jy’s nog ’n bogkind, maar jy wil op jou eie voete gaan staan!”

“Ek is sewentien, Vader. As julle dink ek is oud genoeg om te trou, is ek oud genoeg om te gaan ver­pleeg. Ek gaan nie hande gevou hier sit as ons mans gaan veg nie. Henry sal ook moet gaan veg. Hy’s al negentien jaar oud en seuns vanaf sestien jaar moet op kommando gaan.”

Henry steek hard na sy vleis. “Nee, ek sal nie, want daar gaan nie ’n oorlog wees nie.”

Maura is seker haar bedorwe broer is bang om te gaan en sy minag hom daarvoor. “Jy weet tog die burgers is al gewaarsku en jy is ’n volwaardige burger van die land. Jy sal moet gaan, of jy wil of nie.”

“Ons kan dalk nog die oorlog keer,” sê haar stief­vader, maar hy lyk kwaad. En onseker.

“Dis nie wat Lenie se vader sê nie en hy werk vir die prokureur-generaal.” Die hitte van ergernis ver­sprei deur haar lyf. Sy kan nie glo haar stiefvader wil iets ontken wat ongetwyfeld gaan plaasvind nie.

“En waar beoog jy nogal om te gaan verpleeg?” vra hy. “Beslis nie by die Volkshospitaal nie. Jy’s in elk geval nie ’n volledige Afrikaner nie. Mense beskou jou as deels Engels omdat jou moeder Iers is. Hulle maak mos nie ’n onderskeid nie. Jy kan glo, maar dié bevooroordeelde Boere sal jou nie daar wil hê nie.”

“Ek wil nie by die Volkshospitaal verpleeg nie; Le­nie sê daar sal ander moontlikhede wees. Daar’s En­gelse meisies op die dorp wat ook wil verpleeg.”

“Lenie sê, Lenie sê,” spot haar broer. “Julle twee het altyd mal idees. Waarom kan jy nie normaal wees soos ander meisies nie?”

“Normaal?! Jy bedoel ek moet eerder sit en wag vir ’n man soos jy. Besig om te brei en te stik en te bak en te brou. Die lewe bied meer as net dit.” Nou kook Maura behoorlik van woede. Waarom moet alles wat sy wil doen, altyd afgeskiet word?

“Jy’s klaar op die rak, besig om stowwerig te word,” smaal hy. “Samuel wil na jou vry, maar hy’s ’n Boer en hy dink ons is volksvreemd. Wat hy in jóú sien, weet nugter. Jy dink jy’s so slim dat jy my vriende afskrik.”

Haar vriendin se tweede oudste broer is dolverlief op haar, weet sy. Intelligent genoeg, nie onaansienlik nie en uit ’n vooraanstaande familie. Uiteindelik sal sy seker met hom trou, maar eers ná klarigheid oor die oorlog gekry en alles verby is. Hy moet op kommando gaan en sy sal wag totdat alles verby is voordat sy oor­weeg om haar te verbind. Vir trou is sy nog nie reg nie.

“Ek stel nie in jou kastige vriende belang nie. Wanneer gaan jy met een of ander arme, dom meisie opsit, hè? Jy’s net ’n lafaard. Ek dink jy bloei pienk, nie rooi soos ’n ware man nie.”

Haar stiefvader slaan só hard met sy hand op die tafel dat almal wip. “Magtag! Watse gestry is dit aan tafel? Kan julle nie in vrede leef nie? Moet julle me­kaar altyd beledig?”

“Die kos word koud terwyl julle stry en baklei,” raas hul moeder.

Maura kyk pleitend na haar stiefvader. “Vader, as­seblief. Ek belowe ek sal niks sonder jou toestemming doen nie, maar kan ek asseblief na die klasse gaan?”

Hy antwoord nie. Begin net weer eet. Sy kan skree van frustrasie, maar naderhand kyk hy op. “Goed. Maar onthou, jy doen niks sonder my toestemming nie.”

“Dankie, Vader.”

Sy sou wat wou gee om weg te gaan, want in hulle huis is daar altyd struwelinge; eintlik verag sy haar stiefbroer, maar ’n meisie is mos altyd afhanklik. Onder die gesag van vader of man. Dis so onregver­dig. Haar ouers het in Pelgrimsrus ontmoet. Hy was ’n wewenaar met ’n opgeskote seun en Eileen was ’n skone, dog arm weduwee met ’n dogter. Toe trou hulle natuurlik en sedertdien klap hy die sweep.

As sy ’n man vat, moet hy slim en dapper wees, maar hy moet haar nie onderdruk nie. Hy moet haar ook nie met minagting behandel soos haar stiefvader dikwels met haar moeder doen nie. Samuel lyk da­rem asof hy sy vrou met respek sal behandel. Al die Krugers het mooi maniere.

Sy wonder tog waarom Samuel nog nie kom vra het om haar die hof te maak nie. Sou dit wees omdat sy ouers, wat stoere Boere is, dalk nie sy verbintenis met haar goedkeur nie? Sy met haar Ierse moeder en En­gelse skoling. Hulle weet ook haar stiefvader het geen tyd vir president Paul Kruger nie; dink hulle hy het te veel Engelse vriende en leun té ver oor na die Britse kant?

Mense se lojaliteite gaan nou getoets word.

Kom die oorlog, gáán sy verpleeg. Sy sal in die dorp gaan loseer, weg van die ewige donker wolk wat hier op Doornbosch hang.

Niemand en niks gaan haar keer nie.