Uittreksel | Lewensgids vir vroue
Voorwoord
Met soveel stemme wat vandag op en vir ons skree, soveel wat ons aandag opeis, soveel wat ons geld en fokus en konsentrasie wil hê, is dit belangrik om onder die leiding van die Heilige Gees een of twee stemme te kies wat jy kan vertrou om jou die nodige leiding te gee. Ek onthou toe ons swanger geword het met ons eerste baba, was daar soveel opinies van almal wat al daardeur was. Doen dít, eet dát, moet nie só staan nie, moet nie dit dra nie … en ons moes ’n doelbewuste besluit neem om te sê: Ons gaan na dié en daardie luister omdat ons hulle vertrou en omdat ons uit die vrug in hulle eie lewe kan sien dat hulle wél die gesag het om oor hierdie onderwerp ’n opinie te lewer. Wat die res betref, gaan ons glimlag en die woorde/raad/opinies soos water van ’n eend se rug laat afloop. Anders sou ons nie heel aan die ander kant uitgekom het nie. My opregte versugting vir jou met die lees van hierdie gids is om heel (heler) aan die ander kant uit te kom, met rigting en antwoorde, met bakens en bestemmings op hierdie baie opwindende reis deur die lewe!
Ek vertrou dat jy ook onder die leiding van die Heilige Gees hierdie lewensgids gaan optel en gaan voel ek ken vir Aletté, ek hoor haar hart, ek sien haar groot oë soos sy passievol verduidelik hoe mens moet en nie moet optree in sekere situasies nie. Ek hoor haar lag en ek sien die trane wat sy saam met my huil oor my verlies, verraad of verleentheid. Ek glo jy kan in jou geestesoog sien hoe ons saam op die mat sit en gesels oor die dinge van die lewe wat elke vrou deur die verskillende fases van haar lewe moet weet. Vir sommige van julle kan ek voel soos ’n ouer suster of vriendin, vir ander mag ek voel soos ’n jonger suster of dogter, en nóg ander mag my selfs amper “Mamma” kan noem. Dít is die doel van hierdie boek. Jy moet in elke moontlike fase waarin jy jou begewe, voel hier is ’n stem wat verstaan, wat al daar was, wat al iets geleer het en nie skroom om daardie lesse tot die beste van haar vermoë te deel nie. En miskien was ek nog nie ’n ouma nie, maar ek weet uit my eie ervaring hoe lyk die ideale ouma wat so gereeld so geliefd in animasiefilms uitgebeeld word.
Die meeste van ons het grootgeword met stemme uit die familie, stemme uit die kerk, stemme uit die skoolomgewing en stemme uit die gemeenskap. In hierdie boek, glo ek, word al daardie stemme gekonsolideer en word dit jou one-stop shop waar jy kan leer hoe om die béste moontlike jy in élke seisoen en fase van jou lewe te wees. Maar dis baie belangrik dat ek dit van die begin af onomwonde stel dat ek deurlopend gaan verwys na die Woord van God, die Bybel, as die fundamentele lewensgids waarsonder ons in die donker sou rondtas. Hierdie is dus Woord-gebaseerde waarhede wat, as ons dit ons eie persoonlike waarhede maak, ons lewens kan verander.
Maak jou oë toe en spring saam met my in. Saam kan ons dit doen!
Hoofstuk 1
Hoe om die beste jy te wees: Ontwikkel en behou ’n gesonde gees
Waar wil jy die ewigheid spandeer? Het jy al daaroor gedink? Die ewigheid. Die ewigheid? Hoe lank is die ewigheid …?
Ek begin doelbewus by jou gees, omdat ek vas oortuig is, soos die Woord van God ons leer: Jy ís ’n gees, jy hét ’n siel en jy lééf in ’n liggaam. Ons was eerste gees. As jy die Bybel ken, het ek nie eers nodig om dit vir jou te bevestig nie, maar indien ons ’n paar kantlynkykers het, hier kom dit:
Die woord van die Here het tot my gekom: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. (Jer 1:4-5, AFR83)
U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. (Ps 139-16, AFR53)
“… soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”
(Ef 1:4-6, AFR53)
Goed, jy – met jou size 36-jeans en jou blondgebleikte hare en gebotoksde voorkop (jy kan jou eie beskrywing hier insit) – jy was nie daar voor die grondlegging van die aarde sesduisend jaar terug nie. En as ons glo élke woord uit die Woord van God is waar, en as ons glo al drie bogenoemde skrifte bevestig ons bestaan, óf God se bewustheid van óns bestaan voor die grondlegging van die aarde, dan is ons al op ’n baie goeie spoor dat ons wél geesmense is.
Dan kyk ons na Gen 1:26-28 (AFR83): “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
As jy geskape is na die beeld van God en God is Gees, dan moet jy seer sekerlik ook gees wees. Hoekom hamer ek so hierop? Want daar is iets wat in die gees gebeur wanneer ons as mense op hierdie aarde in hierdie tye waarin ons leef, besef dat dit wat in die gees gebeur veel belangriker is as dit wat in die vlees gebeur. Daar gaan eintlik ’n hele nuwe wêreld vir ons oop.
Ek het hierdie teorie dat dit amper lyk soos die animasiefilm Boss Baby (2017), met ’n klomp “geesbabas” wat in die hemel woon. En dat die Here dan besluit watter ouers Hy bymekaar gaan sit om watter liggaam en siel te vorm, om watter gees te huisves, en dan word daai gees geaktiveer in ’n lyfie en daar is jy! Ek het ’n paar jaar terug, toe ons dogtertjie, Alannah, so twee jaar oud was, besef sy was die mees onlangse saam met Jesus in die hemel. Sy sal Hom heel waarskynlik nog herken. Hoe spesiaal is dit nie?
Die feit is, jy is gebore, soos Ester dit sou noem, “vir ’n tyd soos hierdie”. Ons kon in énige era, in énige eeu of tydperk deur die duisende jare van die aarde se bestaan geleef het. En biljoene hét al, maar God het gekies dat ons nóú lewe, in die 21ste eeu, in die wildste van wilde tye, omdat Hy jóú vertrou om juis nóú hier te wees.
Dit bring ons by jou gees. As iemand jou op straat moet stop en vra:
“Wie is jy?”, sal jy sekerlik eerste jou naam noem. Party sal miskien uitbrei oor hulle werk of hoeveel kinders hulle het. Maar wanneer God my vra:
“Aletté, wie is jy?”, moet my antwoord oortuigend en oorweldigend kan wees: “Ek is ’n dogter van die Allerhoogste God!”
Dit is ons pa se rol op hierdie aarde om aan ons ’n identiteit te gee. En dit is ons Pa se rol in die hemel om aan ons ’n identiteit te gee. Jou identiteit lê nie in jou naam of in wat jy doen nie. Om die beste geesmens te wees wat jy kan, moet jy besef dat God jou geken het voor die grondlegging van die aarde en omdat jy na sý beeld gemaak is, is jy deurtrek met God en is daar definitief ’n gat in die vorm van God in elkeen van ons se harte wat net Hy kan vul.
Ons kan probeer, en ons hét al vir jare en dekades en eeue probeer, om daardie gaping te vul met enige iets van drank tot verhoudings, kos, ander verslawings, gewoontes. Maar dis so goed jy probeer ’n bal in ’n vierkantige houer van presies dieselfde grootte pas. Of ’n vierkant in ’n driehoekige vorm. Dit gaan nie werk nie, want dit is nie waarvoor dit gemaak is nie. Maar JY is gemaak om jou God te dien, te loof en te prys, en te aanbid. Dit is letterlik in jou DNS – jy kan nie daarvan wegkom nie, al wil jy. Al wou jy al. Hy gaan jou agternasit. Hy gaan jou nie jaag en moeg maak nie. Nee, Hy gaan jou soos ’n ware heer die hof maak, soos in die ou dae.
Jak 4:8 (AFR83) leer ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Die God wat alles gemaak het, wat die mag en krag het om absoluut enige iets te kan doen – dink enige aksie- of fantasiefilm waar daar vreemde, bonatuurlike dinge gebeur, maal dit soos met miljoene en dink aan jou God wat meer as dit kan doen! Hy wag vir jóú om die eerste skuif te maak. Dink net daaraan! Hy sal Hom nooit op jou afdwing nie, en alhoewel Hy jou sou kon forseer om Hom lief te hê en Hom te kies, doen Hy dit nie want dit is vir Hom belangrik dat jy Hom wíl kies.
Dink aan daardie liedjie “I want you to want me” uit die rolprent 10 Things I Hate About You (1999). Die Here smag daarna dat jy, sy beeldgeskape kind, Hom aanvaar as jou Pappa. En Hy wil ook hê dat jy sy enigste Seun, Jesus Christus, wat aan die kruis vir jou gesterf het en weer opgestaan het, sal aanvaar as jou Verlosser en Redder.
Rom 10:13 (AFR83) sê: “… elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Ons is dus nie outomaties gered omdat ons op ’n sensusvorm die woord “Christen” as ons geloof kies nie. Ons is nie outomaties gered omdat ons in die kerk grootgeword het, Sondagskool toe gegaan het en deur katkisasie is nie. Ons gaan nie outomaties gered wees omdat ons “goeie mense” is nie. Volgens die Woord van God, waarin ons glo, is ons gered wanneer ons die naam van die Here aanroep. Joh 14:6-7 (AFR53) bevestig dit ook: “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.”
Daar is dus duidelik géén ander manier terug na die Vader (wat ons voor die grondlegging van die aarde gekies het), behalwe deur Jesus en behalwe om Hom aan te roep nie! Die aanroep wat Rom 10:13 na verwys beteken natuurlik nie dat jy dit uit volle bors hoef te gil nie. Dis meer soos ’n desperate en innige belydenis met jou mond. Bid saam met my as jy nou so voel:
Here Jesus, vandag kies ek vir U. U het my al lankal gekies, maar vandag kies ek U terug. Ek bely met my mond dat U my Verlosser en my Saligmaker is, die Een vir wie ek wil lewe. Ek bely ook my sonde en ek vra dat U my sal vergewe vir alle sonde wat teen my naam is. Ek onderneem om van vandag af hierdie pad saam met U te stap, ek in U en U in my. Ek verklaar ek is nie meer dieselfde mens nie. Ek glo met my hele hart, Here Jesus, dat U vir my gesterf het aan ’n kruis, maar ook weer opgestaan het sodat ék die ewige lewe kan hê. Dankie vir wat U vir my gedoen het en dankie dat ek die ewigheid saam met U in u glorie en heerlikheid kan spandeer. In Jesus Naam, Amen.
En net soos dit, is jou gees die beste weergawe van ’n gees wat dit kan wees. Jy kan as ’n regverdige dogter van die Koning na sy troonkamer hardloop en Hom énige iets vra en vertel, want Hy wil van jou hoor en Hy wil ’n verhouding met jou hê. Hierdie is die stap wat bepaal wáár jy die ewigheid gaan spandeer.
Onthou, aan die begin het ek gesê wat in die gees gebeur, is báie belangriker as dit wat in die vlees gebeur. Ons tyd op hierdie aarde is ’n druppel in die oseaan wat ons in die ewigheid óf saam met God, óf saam met die vyand gaan spandeer. En hiérdie hoofstuk het dalk, net dalk, die trajek van jou lewensreis sopas verander … Ek hoop dit het.
Die ewigheid gaan nooit ophou nie. Nooit. Anders as ons kortstondige tyd hier op die aarde, wat ons tyd, gedagtes, dade en lewenswyse verteer.