Uittreksel | Lewensgids vir mans
Inleiding
Jy wil weet wie jy is. Nie jou naam, jou werk of waar jy vandaan kom nie, maar wie jy in jou diepste menswees is. Die kern van wie jy is. Die meeste mans kan dié vraag nie met sekerheid beantwoord nie.
Jy wil weet hoekom jy hier is. Wat is jou doel op hierdie aarde? Meer spesifiek, wat is jou skeppingsdoel? Daar is ’n Skepper. Hy het jou geskep. Maar hoekom? Het jy geen idee, ’n vae idee of ’n klinkklaar idee waarom jy hier op aarde is?
Jy wil weet waarheen jy op pad is. ’n Man wat nie weet waarheen hy op pad is nie gaan sukkel om leiding te neem en te gee. Hy gaan ook verdwaal. Voel jy verdwaal? As jy êrens heen op pad is, hoekom is jy op daardie pad? Wie het vir jou gesê om daardie pad te neem? Is jy op daardie pad weens druk van jou ouers of jaag jy geld, roem en mag na? Het jou Skepper ’n sê gehad oor waarheen jy op pad is? Die meeste mans hou nie daarvan om ’n padkaart of GPS vir rigtingaanwysing te raadpleeg nie. Is jy dalk só wanneer dit by die rigting van jou lewe kom?
Jy wil vasstel of jy weet wat jy doen. Is jou benadering een van fake it till you make it? Kan jy eerlik sê jy weet wat jy doen net omdat jy van die bogenoemde vrae kan beantwoord? Jou doen sal direk gekoppel wees aan jou wie, hoekom en waarheen.
Baie welkom by ’n belangrike oomblik in jou lewe. Die oomblik waar jy kies om mans genoeg te wees om vrae te vra wat werklik saakmaak en dit begin antwoord. Mag die Here jou lei en seën op hierdie reis.
Lees saam met my wat Paulus in 1 Kor 13:11-12 sê oor die verskillende lewensfases en hoe ons meer volwasse moet word soos ons in ons verhouding met en kennis van die Here groei: “Toe ek nog ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ’n kind agtergelaat. Nou sien ons wel ’n geheimnisvolle beeld, soos in ’n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is.”
Ons lees ook in Fil 1:4-6: “Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.”
Twee elemente is van kardinale belang wanneer mens ’n reis van enige aard aanpak: die wie en die waarheen. Wie reis en waarheen gaan hulle?
Die wie is sentraal tot die tipe reis, moontlike vervoermetodes en opsionele ekstras langs die pad. Daar is ’n objektiewe en ’n subjektiewe antwoord op die wie. Objektief gesien, het ’n agtienjarige ongetroude wit man ’n ander identiteit as ’n vyf-en-vyftigjarige bruin man wat getroud is en kinders en kleinkinders het. Subjektief gesien, kan hierdie twee mans sekere belange deel maar ook baie verskillende belangstellings hê. Op ’n dieper vlak is elke man – objektief én subjektief gesien – op ’n verskillende plek wanneer dit kom by sy verhouding of gebrek aan verhouding met God en waar hy op sy lewensreis is. Ek spreek nie elke moontlike scenario in hierdie boek aan nie, maar ek hou wel aan jou beginsels voor wat met wysheid en oorleg toegepas kan word op elke spesifieke situasie.
Dan is daar die waarheen. Hierdie wie is êrens heen op pad. Die antwoord op wie het ook ’n impak op die moontlikhede van waarheen, want sekere tipe mans kan na sekere eindbestemmings gaan en ander kan nie.
Wil speel ook ’n belangrike rol – sommige mans wil na sekere plekke gaan en ander wil nie.
So, geagte manspersoon, wie is jy en waarheen wil jy gaan? Is jy wie jy wil wees? En is jy waar jy wil wees in die lewe? Is jy die beste weergawe van jouself wat jy moontlik kan wees in die fase van die lewe waar jy jouself bevind? Is daar ruimte vir verbetering?
Ken jy vir God? Indien wel, hoe beïnvloed dit jou pad vorentoe? En as jy Hom nie ken nie, wat is jou motivering om elke dag op te staan en aan te gaan? Of sukkel jy dalk juis hiermee? Is jy dalk, soos ek ook op ’n stadium was, ’n kulturele Christen?
Ek wil deur Lewensgids vir mans jou help om van hierdie belangrike lewensvrae te vra en te beantwoord, of ten minste te begin antwoord. Elke lewensfase bring unieke uitdagings.
My doel is om jou te help verstaan wie jy kan wees en waarheen jy op pad kan wees. Ek wil jou lei om die lewensfases met meer wysheid en beplanning aan te pak.
Die sleutel tot ware sukses in elke lewensfase is om te verstaan wie jy in God is en wat sy plan vir jou is, sodat jy stappe kan neem om in daardie identiteit en op daardie pad te wandel. ’n Sterk, suksesvolle lewe staan op ’n vaste fondasie wat weerstand teen die storms kan bied. Ek gaan begin deur ’n paar belangrike fondasies te lê waarop die res van die boek gebou sal word.
’n Lewensgids lei iemand van punt A na punt B deur die lewe. Maar die reis sal slegs suksesvol wees indien die persoon wat gelei word sy vertroue in sy gids plaas en dié se instruksies volg. Onthou, ’n gids wás al waar die persoon wat hy lei, wil wees. Dit kan gebeur dat die geleide persoon soms twyfel of vertroue in die gids verloor. Dit is normaal, maar dit is belangrik dat jy sulke versoekings sal weerstaan en deurdruk tot die einde toe.
Hierdie boek is dus ontwerp om jou spesifiek deur die verskillende fases van jou lewe te lei. Dink aan ’n tipiese videospeletjies – met elke vlak word daar meer van jou gevra, en jy bou op die vorige vlak se suksesse en/of mislukkings. Die enigste verskil is dat jy nie drie lewens het nie, maar een. Elke besluit is van kardinale belang.
Die belangrikste verhouding in jou lewe is jou verhouding met die lewende God, die Here Jesus Christus en die Heilige Gees. Daarom is die belangrikste bron van waarheid in jou lewe sy Woord, die Bybel. Lewensgids vir mans is nie die Bybel nie en is nie belangriker as die Bybel nie. Dit is vir jou ’n hulpmiddel om op sekere sleutelwaarhede, begrippe en wyshede in die Woord te let en deel te maak van jou menswees, sodat jy die bogenoemde vrae kan begin beantwoord en uitleef.
Om te verseker dat die Bybelverse wat ek aanhaal die nodige impak op jou maak, is dit belangrik dat jy ’n keuse maak om God en sy Woord te vrees. Dit beteken dat jy ’n heilige vrees het vir ’n heilige en almagtige God wat jou lewe in sy hande hou. Die vrees sal jou naderbring aan Hom en maak dat jy in intimiteit met Hom sal groei. Jy raak minder, en Hy raak meer. Dit veroorsaak dat, wanneer jy die Bybel lees, jy dit sal lees met ’n heilige ontsag en ’n nederige houding wat reg is om gehoorsaam te wees aan dít wat jy lees.
Paulus se gebed in Ef 1:17-20 is ook my gebed vir jou:
“Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele.”
Hou gerus ’n joernaal of notaboek byderhand om jou gedagtes en gebede in neer te pen en jou emosies te verwerk. Dit sal jou reis deur hierdie lewensgids meer effektief maak.
Hoofstuk 1
Hoe om die beste jy te wees: Ontwikkel en behou ’n gesonde gees
“Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.” (2 Kor 5:16-17)
So, wie is jy?
Ons gaan saam worstel en kou aan hierdie vraag. Teen die einde van hierdie boek wil ek hê jy moet die vraag kan begin beantwoord met ’n redelike mate van sekerheid en dan aanhou om die antwoord te ontwikkel soos jy in die Here groei.
Om hierdie vraag ordentlik te beantwoord, gaan ons fokus op die drie hoofdele waaruit ’n mens bestaan. Ons gaan kyk hoe ons in elke deel die beste weergawe van onsself kan word en bly.
Ek is ’n gees met ’n siel wat in ’n liggaam woon. En jy is ’n gees met ’n siel wat in ’n liggaam woon. Hoe weet ons dit?
Kyk na hierdie vers: “En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus Christus kom.” (1 Tess 5:23)
Paulus verwys spesifiek na ons gees, siel en liggaam en hoedat God dit heilig maak en dit kan bewaar om vlekkeloos te bly tot Jesus terugkeer.
Ons gaan dus fokus op hoe ons ’n gesonde gees, siel en liggaam kan ontwikkel en behou. Kom ons begin met ons gees want dit is die belangrikste deel van ons menswees.
In sonde ontvang en gebore
“Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het.” (Ps 51:7)
Ek het as kind gereeld die frase “in sonde ontvang en gebore” by my ouers gehoor nadat ek iets verkeerd gedoen en gesondig het. Ek het nie besef dat dit in die Bybel staan nie. Enige ouer sal beaam dat kinders vir seker nie gebore word en outomaties waardes en maniere het nie.
Hoekom is dit so? Wat is sonde? Hoekom is daar sonde? Hoekom het Jesus aarde toe gekom en gedoen wat Hy gedoen het?
Op hierdie belangrike stadium van ons reis saam, wil ek graag die evangelie met jou deel. Dit is die Goeie Nuus, die boodskap gekoppel aan die Seun van God, Jesus Christus. Jy wonder dalk: Wat is die boodskap? Jy dink dalk jy weet. Maar in my ervaring weet baie min mense wat die evangelie werklik is en wat die krag daarvan is. Of hulle dink hulle weet, maar hulle verstaan net gedeeltelik of op ’n kulturele vlak gekoppel aan mensgemaakte reëls eerder as die lewensveranderende krag wat in die Blye Boodskap van Jesus Christus opgesluit is.
Dis belangrik om hierdie fundamentele beginsel te bespreek en vas te lê, ongeag waar jy jou ook al op die spektrum van geloof en kennis bevind. Daarsonder is ons reis nutteloos.
Die evangelie
Ons lees in Rom 1:16-21:
Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: ‘Die regverdige op grond van geloof sal leef.’ Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister.
En in Rom 3:21-24 (AFR53):
M[aar] nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Ten einde die evangelie te verstaan of dit te verduidelik, moet ons fokus op Die Begin en hoe alles ontstaan het. Hieraan kan ons sien wat God se oorspronklike plan en doel vir die mensdom was, hoe die mens daardie doel gemis het, en wat die gevolge daarvan is. Hier is wat die Bybel sê aan die begin gebeur het: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” (Gen 1:1-3, AFR53)
In die daaropvolgende verse sien ons hoe God geskep het en alles in plek geplaas het deur dít te sê. Hy het aan die einde die mens gemaak. Kom ons fokus op ’n paar Skrifgedeeltes wat vir ons wys hoe God die mens geskape het, waar Hy hom geplaas het en watter opdrag Hy hom gegee het.
Ons lees in Gen 1:26-28 (AFR53) die volgende:
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Ons sien in hierdie gedeelte dat God die mense gemaak het. Die meeste Skrifgeleerdes is dit eens dat die “ons” verwys na die Drie-enige God, wat met mekaar ’n gesprek gehad het oor die skepping van die mens. Ander, soos die Ou-Testamentiese geleerde en skrywer, Michael Heiser, verwys na die moontlikheid dat die “ons” God en die ander hemelwesens wat toe reeds bestaan het, kan wees. Hoe dit ook al sy, die mens se beeld en gelykenis is op Goddelikheid geskoei.
Dit is ’n kragtige waarheid wat vir elkeen van ons die eerste leidraad moet wees tot ons ware identiteit. Ons sien ook in hierdie gedeelte die mens se skeppingsdoel, naamlik om te heers, leiding te neem en outoriteit uit te oefen oor die dinge wat God geskep het. God wou van die begin af sy skepping met die mens deel. Hy het aan die mens die belangrike verantwoordelikheid gegee om saam met Hom die wêreld wat Hy gemaak het, te bestuur en te beheer.
God het die mens as twee geslagte – man en vrou – geskape. Net twee geslagte. Dit gee vir ons duidelikheid oor ons geslagsidentiteit. Ons kan net een van twee geslagte wees, en dit word bepaal deur ons soewereine God. Die bewys is in ons liggaam opgesluit in ons fisiese voorkoms.
Bo en behalwe ons skeppingsdoel om te heers oor die skepping, het God die mens geseën en gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die … diere” (28b). God het die mens geseën. Dit beteken Hy verklaar hulle gelukkig, voorspoedig en gee vir hulle sy guns.
In die seëning is ook die vermoë om die volgende opdrag uit te voer: wees vrugbaar en vermenigvuldig. Wat beteken dit? God het hulle so pas na sy beeld gemaak en nou gee Hy vir hulle die vermoë en die opdrag om meer te word. Hy sê vir hulle dat hulle nou sy beeld wat in hulle is moet vermeerder. Hy gee vir hulle die opdrag om meer mense te maak wat ook die beeld van God sal dra.
Weet jy dat hierdie oorspronklike skeppingsdoel van God nie verander het nie? Ek en jy is steeds geroep om onder die guns van sy seën te vermenigvuldig: deur fisies kinders van ons eie binne die huwelik te hê en hulle groot te maak in die weë van die Here, en ook om geestelike kinders te maak deur ander te vertel van God en sy planne en die Goeie Nuus van Jesus.
Ons gaan nou meer ontdek van God se oorspronklike plan vir die mens. Ons lees in Gen 2:15-18, 21-25 die volgende:
Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. … God het die mens beveel: ‘Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.’ …
God het ook gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n helper maak, as sy gelyke.’ … God het … die mens in ’n diep slaap laat val, en … een van sy ribbebene geneem en … die ribbebeen … omgebou tot ’n vrou … Toe sê die mens: ‘Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees uit my eie vlees. Hierdie een sal vrou genoem word, want uit die man is sy geneem.’ Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word. Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.
God het aan die man werk gegee om te doen en ’n plek waar hy dit moet begin doen. Om te werk en om op te pas was dus van die begin af deel van ’n man se rol en werk in God se oë. Hierin is ’n belangrike les vir ons mans.
Ons sien in die verse daarna hoe God die huwelik instel. So kragtig en mooi en diep. Die woord “helper” in antieke Hebreeus beteken eintlik meer iets soos militêre hulp of ondersteuner. Dit wys hoe God vir die man en die vrou verskillende maar komplementêre belangrike rolle gegee het.
Ek hoop jy kan sien dat God van die begin af ’n plan gehad het vir die mensdom. Hy het ons na sy beeld geskape en ons onderskei as twee geslagte – manlik en vroulik. Ook het Hy vir ons ’n doel gegee (om te heers oor die skepping) en ’n plek om die doel te verwesenlik. Hy het ons geseën en opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig – om dit wat Hy in ons geplaas het, sy beeld, te vermeerder deur in die huwelik kinders te hê, wat dan ook die beeld van God sal dra. Hierdie oorspronklike plan het nie verander nie.
Maar … toe gebeur daar iets wat alles verander het …
Lees Gen 3:1-7a saam met my:
Die slang was listiger as al die diere … Hy het vir die vrou gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” Die vrou het … geantwoord: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar oor die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê, ‘Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanraak nie, anders sterf julle.’” Die slang sê toe …: “Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.” Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit ’n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om ’n mens insig te gee. Sy het van die vrugte … geëet en ook vir haar man … gegee, en hy het geëet. Al twee se oë het oopgegaan en hulle het besef dat hulle naak is.
Neem asseblief jou Bybel en lees tot by vers negentien op jou eie verder. Die slang is die vyand. Hy is vyandig teenoor God en teenoor die kroon van God se skepping, die mens. Ons. Hier aan die begin van alles, in die derde hoofstuk van die Bybel, sien ons vir die eerste keer sy verskyning en eien ons ook sy taktiek.
Satan is die vader van leuens. Hy skenk geboorte aan leuens en lieg die beste. Sy oorspronklike taktiek is om te lieg deur twyfel te saai. Hy saai twyfel oor God se karakter en oor wat God gesê het. Hy doen dit steeds vandag. Die Anglikaanse priester en skrywer, Nicky Gumbel, sê so raak: “We swallow a lie about God before we swallow the forbidden fruit.” Voordat ons kies om ’n versoeking toe te laat om te ontwikkel tot ’n sondige daad, moet ons eers ’n leuen glo oor wie God is en wat Hy in sy Woord gesê het.
Ons lees hier bo hoe suksesvol die vyand se taktiek is. Let ook op dat hy die vrou versoek; nie die man nie. God se skepping het ’n orde, en die orde bly staan. Die man is eerste geskep en is in God se orde die hoof van die huwelik en heers oor die vrou. Hierdie “heers” is nie die ongesonde prentjie van ’n oordonderende patriargale sisteem nie. Dit is om te heers soos wat Christus oor die kerk heers: Hy lei deur te ly en sy lewe neer te lê vir sy bruid, die kerk. Later meer hieroor. Die vyand ken God se orde en gaan doelbewus daarteen deur die vrou te teiken. En hy teiken haar deur twyfel oor God se karakter en Woord te saai. Sy val daarvoor en kies om die vrug te pluk en te eet.
Hier is dit belangrik om op te let dat daar nie dadelik iets gebeur nie. Die sondeval het nie dadelik plaasgevind nie. Die vrou het eers die vrug vir die man aangebied. Die man het ’n keuse gehad. Hy kon haar stop en nie die vrug by haar neem nie. Maar hy vat dit en eet dit. En toe gaan elkeen se oë oop, en hulle besef hulle is naak. Dit was die hartseer oomblik waarin die mens se wil teen God se wil gegaan het. Daardeur het ongehoorsaamheid en sonde in die wêreld gekom en letterlik alles verander.
Die sonde het dadelike gevolge: skaamte, skuld, oop oë wat nog nie moet of kan oop wees nie, skeiding van God, ’n gebrek aan die neem van verantwoordelikheid, die beskuldiging van ’n ander … en dan ’n ewige straf op die mensdom en die slang. Hier het ons al klaar ’n verwysing na Jesus wat uiteindelik van die vrou sou kom en die vyand oorwin. So, in die skeppingsverhaal en die oomblik waar sonde die wêreld inkom, het ons ’n voorspelling van God dat sy Seun alles wat so pas verkeerd geloop het, gaan regstel.
Ongehoorsaamheid. Sonde. Alles verander. God se oorspronklike plan is nog dieselfde. Maar die manier waarop die plan uitgevoer word, gaan nou deur die eeue op verskillende maniere plaasvind totdat Jesus sy verskyning maak en eens en vir altyd met sonde klaarspeel.
Ná die sondeval is alle mense in sonde ontvang en gebore. Ek en jy is in die sonde van Adam – nie die vrou nie – gebore. Weer eens sien ons die leidende rol en verantwoordelikheid van die man in God se orde. Ons mans moet besef hoe belangrik dit is om verantwoordelikheid vir ons lewens en keuses te neem.
Die sondige toestand word ook deur Paulus in Rom 5:12 en 19 bevestig: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het … Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie mense tot sondaars gemaak is, so ook sal deur die gehoorsaamheid van die Een baie mense geregverdig word.”
Die evangelie, die goeie nuus, word voorafgegaan deur die slegte nuus. God is heilig en kan geen verhouding met sonde hê nie. Hy skep die mens omdat Hy ’n familie wil hê met wie Hy ’n liefdevolle, intieme verhouding kan hê en vir wie Hy ’n belangrike skeppingsdoel gee. Een van die eienskappe wat Hy die mens gee, is vrye wil – die vermoë om eie keuses te maak.
Hoekom? Wel, want anders sou die mens basies ’n robot wees wat net doen wat hy doen omdat hy so geprogrammeer is. Maar vrye wil maak dat iemand ’n keuse moet uitoefen, en daardie keuse het ’n koste – die eie wil. Deur vir die mens een boom te gee waarvan hulle nie mag eet nie, plaas Hy hulle voor ’n keuse. Solank hulle hul vrye wil gebruik om gehoorsaam te wees, sal die pragtige intimiteit en hul skeppingsdoel in plek bly. Maar die oomblik wat eie wil teen God se wil gaan, tree ongehoorsaamheid en sonde in. En dít is die slegte nuus – dat die mens teen God se wil gegaan het.
Maar nou vir die goeie nuus. Kyk na hierdie gedeelte in Joh 3:3-6 (AFR53) waar Jesus self met Nikodémus, ’n Fariseër, praat en die evangelie met hom deel:
Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Neem jou Bybel en lees Joh 3:16-21. Hier sê Jesus:
Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie. En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie. Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.
Die realiteit, volgens Jesus, is dat almal reeds veroordeel is. Slegs dié wat in Hom glo en Hom ontvang, sal weer gebore word, verlos word van sonde en die gevolge van sonde en die koninkryk binnegaan.
Paulus verduidelik dit só: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor 5:21, AFR53) En Petrus: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees.” (1 Pet 3:18, AFR53)
Die loon van sonde is die dood, die ewige dood geskei van God. Alle mense van alle tye is as gevolg van die sonde in die tuin onder die vloek van sonde geplaas. God is ’n regverdige God, en daarom moet die ongeregtigheid van die oorspronklike sonde reggestel word. Slegs Jesus kon in die plek van die mens eens en vir altyd die ewige Paasofferlam wees.
Jy is ’n gees met ’n siel binne-in ’n liggaam. Jou liggaam is waarmee jy kommunikeer en die wêreld rondom jou ervaar. Jou siel is die deel van jou waarmee jy besluite neem – jou wil, emosies en verstand. En jou gees is wie jy werklik in jou diepste binneste is, die deel van jou wat met God kan kommunikeer deur God se gees, die Heilige Gees.
Jy is ’n lewende mens van die oomblik dat jou pa se sperm jou ma se eiersel bevrug. Alles wat sedert daardie oomblik om jou gebeur, het ’n impak op jou. Ons hoor reeds as fetusse stemme buite die baarmoeder en ervaar emosies soos aanvaarding of verwerping. Namate ons groei en later gebore word en die lewe ingaan, neem dit net toe.
Ons ouers, sibbe, huislike omstandighede, vriende, onderwysers en kollegas asook faktore soos druk, stres, finansies, ensovoorts, het alles ’n direkte impak op ons liggaam en siel. Die positief en die negatief gaan sit in ons lywe en in ons siele. Afhangende van ons omstandighede is elkeen van ons meer of minder beskadig op ’n liggaamlike en sielsvlak as ’n ander. Ons het almal ’n kombinasie van goeie en slegte areas, stewige en minder stewige fondasies, en wonde en letsels. Ons sielstoestand kan ’n impak op ons liggaam hê, en vice versa. ’n Pa se afbrekende woorde en dade of ’n ma se verwerping laat diep wonde en swaar bagasie. Elke wond skep ’n geleentheid vir die vyand om ’n leuen deur twyfel in te bring.
Teen die tyd dat jy as mens volwasse raak en genoeg verstand het om iets van God en sy Seun Jesus en die Heilige Gees te begin verstaan, kyk jy na die waarheid van die evangelie deur gekompliseerde lae van seer en omstandighede. Voeg daarby die kultuur waarin jy grootgeword het. Nou hoor jy die evangelie, en iets onbeskryfliks gebeur in jou binneste … die woorde van die waarheid van Jesus tref jou op ’n manier wat geen ander woorde al het nie. Hierdie ervaring is jou gees wat deur die Heilige Gees geraak word.
Jy besef in ’n oomblik dat jy ’n sondaar is en ’n Redder nodig het – Iemand wat jou kan red van jou miserabele bestaan. Wanneer jy positief reageer op die waarheid van die evangelie, kies om jou sonde te bely en jou te bekeer, in Jesus glo en Hom ontvang as jou Saligmaker en Verlosser, is jy van daardie oomblik af weer gebore en is jy gered. Jy is ’n kind van God, ’n volger van die weg van Jesus. Jy is nou op pad hemel toe.
Ons word uit genade en deur die geloof gered. (Ef 2:8) Dit is genade en geloof wat ons toegang gee tot die geskenk van die evangelie. Ons kan nie redding ontvang deur werke nie. Ook kan ons God nie beïndruk met moraliteit en goeie gedrag om sodoende gered te word nie. Daar is net een manier, en dit is deur Jesus Christus van Nasaret. Soos ek al die prediker, Angus Buchan, hoor sê het: “Good people don’t go to heaven, believers go to heaven.”
Ons kyk in hierdie hoofstuk na hoe jy die beste jy kan wees as geesmens. En die enigste manier waarop enige mens geestelik sy beste weergawe kan wees, is om weergebore te word. Wanneer jy tot bekering kom, word jou gees nuutgemaak. Jy word ’n nuwe skepping. Die oomblik as jy Hom kies, is jy gered. Jy is dadelik geregverdig en vry van die straf van sonde. Dan begin die baie belangrike volgende fase, naamlik heiligmaking. Dit is ’n aanhoudende proses vir die res van jou lewe tot Jesus terugkom of tot jy heengaan.
Heiligmaking maak ons vry van die krag van sonde. Hoe meer ons daagliks soos Jesus word, hoe minder doen ons sonde en hoe meer wil ons heilig leef. Regverdiging en heiligmaking gebeur op ’n geesvlak. Die ware persoon wat ons is, lê opgesluit in ons geesmens. Die Bybel leer dat wanneer ons tot bekering kom, word ons gees nuutgemaak en is ons ’n nuwe skepping. Van daardie oomblik af leef ons as nuutgemaakte geesmens onder leiding van die Heilige Gees.
Die proses van heiligmaking wat volg, is waar ons siel en liggaam stelselmatig in lyn met ons gees kom. Hoe meer ons geestelik volwasse word in Jesus, hoe meer sal ons verstand, wil en emosies asook ons fisiese liggame in lyn kom met God se wil vir ons.
So, wil jy ’n gesonde gees ontwikkel en behou? Die eerste stap is om gered te word. Bid hierdie gebed indien jy graag gered wil word:
Here, God Almagtig, ek kom na U in nederigheid. Ek bely dat ek ’n sondaar is en dat ek nie myself van sonde en die loon van sonde kan red nie. Ek kies om my te bekeer en my lewe vir U te gee. Vandag aanvaar ek U as die Here en Redder van my lewe. Ek kies om my lewe neer te lê, aan myself te sterf in die dood wat U gesterf het, en om as ’n nuwe skepping in nuwe lewe op te staan in u opstanding. Ek bely met my mond en glo in my hart dat U die Seun van God is en dat U aan die kruis vir al my sonde gesterf het. Ook dat U opgestaan het uit die dood en nou aan die regterhand van God sit. Van vandag af lewe ek vir U. Amen.
As jy hierdie gebed gebid en dit bedoel het, wil ek vir jou sê: “Welgedaan! Ek is so bly vir jou en trots op jou. Baie welkom by die kerk van Jesus Christus, by die familie van gelowiges. Daar is ’n partytjie in die hemel, want die Bybel sê die engele juig oor elke persoon wat gered word.”
Jy mag dalk dink: Wonderlik! Maar wat nou?
Ons gaan dit bespreek op ons reis deur hierdie boek. Maar ek wil nou al vir jou sê die volgende stap is om gedoop te word met water en die Heilige Gees – dit is die patroon in die Bybel. Word deel van ’n plaaslike lewegewende, Geesvervulde kerk waar jy gedissipel kan word en kan dien en groei as kind van die Here. Dít is hoe jy jou nuwe, gesonde gees gaan behou.
Dis belangrik dat jy van die begin af weet: Hierdie is nie ’n maklike pad nie. Om daagliks dood te gaan aan jou vlees is uitdagend. Jy gaan waarskynlik vriende en familie verloor wat nie verstaan wat jy gekies het om te doen nie. Die vyand gaan nou notisie van jou neem, en jy gaan bewus raak van die geestesryk soos nooit vantevore nie.
Maar, die vlak van identiteit, sekerheid, vrede, vreugde en hoop wat jy nou gaan betree, gaan alle verstand te bowe en sal jou daagliks versterk en bemoedig. Meer daaroor in die volgende hoofstuk.
Mag die Here jou ryklik seën en versterk op jou reis as nuwe skepping in Hom.