Uittreksel | Lêplek vir die hart
Een
“O nee, dit kan tog nie hy wees nie!” Iris steek so vinnig in Elsbet-hulle se voordeur vas dat haar pa van agter af teen haar bots. Sy draai om, gryp sy arm vas soos toe sy ’n klein, bang dogtertjie was.
“Dadda, ek kan nie hier ingaan nie.”
“Sal jy nou vir jou mensverskrik kom hou, kind?” Ma Daisy kyk kwaai oor haar man se skouer na Iris. “Het jy nou daar in kangaroeland gaan staan en beskimmeld raak?”
Op daardie oomblik hoor Iris weer die man lag. Die man wat sy liefgehad het, die dierbare man wie se lewe deur alkohol oorgeneem is. As sy nie betyds Australië toe gevlug het nie, was haar en haar kind se lewe ook daarmee heen, vasgevang in die moeras van verslawing.
Sy bly haar ma ’n antwoord skuldig en gryp haar dogtertjie se hand net betyds voor dié op die nuwe maatjies kan afpyl. “Rosie, kom, ons twee gaan liewer huis toe.”
“No, Mommy, no!” Rosie se Afrikaans is goed, maar as sy ontsteld is, slaan die Aussie-Engels deur. “Daar’s friends! I wanna play with the friends!” Soms gee dit nog ’n mengelmoes af, maar Iris weet dit sal gou-gou regkom noudat hulle terug in haar hartland is. Rosie is op die punt om ’n vloermoer te gooi, iets wat baie selde gebeur en presies wat op hierdie oomblik nié nodig is nie.
“Listen to your mommy, Rosie.” Iris sak op haar hurke af, kyk die meisietjie in die oë. “Jy weet mos as ek ’n ding gesê het, is dit klaar.”
“But Mommy . . .”
Rosie kom nie verder nie, want Elsbet se stem bring orde in die oomblikke van paniek op haar drumpel. “Hallo, julle! Kom binne, kom binne!” Elsbet, deur wie se bemiddeling die verwydering tussen Iris en haar ouers met Olivia se hulp oorbrug is. Elsbet wat vir Iris met vanaand se kuier ook in haar vriendekring innooi.
Sy het self nog net vir Elsbet een keer ontmoet en vir Olivia sou sy vanaand eers weer sien ná hulle in Australië ontmoet het. In hierdie vertrek kry hulle haar egter nie vanaand in nie. “Elsbet, ek is so jammer, maar ek en Rosie kan nie vanaand saamkuier nie.”
Elsbet se mooi gesig word strak. “Is iets verkeerd, Iris? Almal het so uitgesien om jou te ontmoet. Ek het gedink dit kan die aanpassing terug in Suid Afrika makliker maak as jy by ons groep pelle inskakel. Ons is ’n lekker klomp, hoor.”
“Ek . . .” Op daardie oomblik hoor sy dit weer: Brandon se lag.
Daardie lag wat haar hart destyds in haar borskas laat tuimel het. Sy skrik haar woorde skoon weg, want sy lag het nog presies dieselfde effek op haar. “Ek is so jammer, Elsbet,” sukkel sy voort, “Rosie voel nie lekker nie, ek vat haar liewer huis toe.” Sy is nie een wat normaalweg sommer jok nie, maar dis net ’n kwessie van tyd voor Brandon agterkom sy is hier. Sy moet hier wegkom en gou ook. Sy kan later wonder hoe dit gekom het dat hy in die Boland is en juis deel van hierdie vriendekring geword het.
Dis duidelik dat Elsbet deur haar yl rookskerm sien. En dat sy aanstoot neem, wat heeltemal te verstane is. “Rosie lyk nie vir my siek nie, maar as jy werklik nie wil saamkuier nie, is dit goed so. Ek weet net nie hoe jy haar nou hier gaan wegkry nie.”
Ja, Elsbet is reg; Rosie is reeds tussen die maatjies en op pad agterplaas toe, waar die braaiery waarskynlik al aan die gang is. Mag Brandon tog net uitgaan vuur toe en nie in sy kop kry om te kom kyk wie by die voordeur aangekom het nie. Hy het sekerlik net in die kombuis nog ’n bier kom haal, dis hoe sy hom geken het. Natuurlik sou hy op pad met almal gesels en grappies gemaak het. Waar Brandon was, was daar altyd ’n vrolikheid aan die gang. “Ek is regtig jammer, Elsbet, maar nou moet jy ons asseblief verskoon.” As hy nou werklik ’n lid van hierdie vriendekring is, sal sy hom seker teen wil en dank een of ander tyd in die oë moet kyk. Só onvoorbereid kan sy dit egter sowaar nie doen nie. Dit nog met Rosie by ook haar . . . Nee. Enigiemand met oë in sy kop sal baie gou twee en twee bymekaartel en presies die regte antwoord kry.
Of dalk is sy net totaal paranoïes omdat sy haar nou weer in dieselfde land as Brandon bevind. Dalk is dit glad nie eens vir hom wat sy hoor lag het nie. Sy ken nog nie die mans in die vriendekring nie, dalk is hulle maar net so jolig van geaardheid.
“Elsbet, Brent vra of jy die vleis gereed het.” Die ergste het gebeur: Die bekende figuur het agter Elsbet verskyn. Hy lyk nog feitlik nes sy hom onthou. Skraal soos ’n riet, hoewel ’n bietjie stewiger. Hy klink ook nog presies soos sy hom onthou. Opgewek, aan die gang, reg om die wêreld te verower.
Agter Iris snak haar ma soos een wat ’n vreeslike tyding gekry het: “O my liewe hemeltjie!” Ma Daisy het nooit kans gehad om die regte Brandon Koopman te leer ken nie. Sy het net die drinker ontmoet, die een wat te dikwels die bottel bo sy vrou en baba verkies het.
Brandon steek vas, die glimlag op sy gesig verstar. Die donker oë met die lang, lang wimpers rek en rek, die sensuele mond val effens oop. “Iris?” Dan ruk sy kop om na waar die kinders ’n kring om Rosie gevorm het. “Rosie?” Sy hoor die skrik in sy stem en dan die blydskap: “Rosie!”
Elsbet se mond gaan verstom oop en dan weer toe. Iris word warm van verleentheid; sy weet al Brent en Elsbet is nie mense vir dramas nie. Dis egter presies wat hulle nou gekry het: ’n drama van die eerste water. Want die tweede ergste ding het gebeur: Rosie het haar pa herken. Sy glip tussen die ander kinders deur en kom reg voor Brandon tot stilstand. “Daddy?”
Iris spring vorentoe en vat die dogtertjie ferm aan die arm. “Rosie, Mommy het mos gesê ons twee moet liewer huis toe gaan.” Dit kom nou daarvan om die kind groot te maak met die wete dat sy wel ’n pa het, om haar selfs foto’s van hom te wys. Sy wou nie haar kind in ’n lugleegte grootmaak nie. Sy wou haar die anker van ’n pa gee, al was dit ’n pa met wie haar ma alle bande verbreek het. Hier pluk sy nou die vrugte daarvan.
Brandon het intussen op sy hurke afgesak en staar Rosie aan asof sy die mooiste ding is wat hy nog ooit gesien het. Sekerlik sedert daardie dag toe sy met haar kind uit sy lewe gestap het, want hulle twee het daarin geslaag om ’n absoluut lieflike kind die wêreld in te bring. ’n Lieflike kind wat duidelik die foto’s van haar daddy deeglik bekyk het en hom onmiddellik herken het. “Is jy my daddy?” vra sy nou ’n bietjie onseker, verskeur tussen haar ma se instruksie en die man voor haar wat sy arms vir haar oopgemaak het.
“Rosie! Yes, ek’s jou daddy!”
Die kind loop eenvoudig in sy arms in. Hy vou haar toe, kyk dan op na Iris. “Jy’t haar van my vertel? Vir haar foto’s gewys?”
Sy probeer haar skouers ongeërg ophaal. “Jy is tog haar pa. Ek hou my nie met ’n liegtery op nie, so ek het haar nie een of ander bogstorie oor jou vertel nie.”
Voor haar verstomde oë raak Brandon se sagte bruin oë klam. “Thanks, Iris, my blom. Duisende dankies.” Maar net so vinnig verander sy bui weer: “Moenie dink ek gaan haar weer laat glip nie, hoor. Of hoe sê jy, Daddy se blommekind? Ons twee gaan nou baie van mekaar sien. Sommer plenty, sê ek jou.”
Genadiglik kom Olivia van buite af ingestorm in ’n warboel van ’n wapperende bont gewaad, ’n groot glimlag en daardie stem wat van orals af gehoor kan word. “Iris, julle is hier!” Sy kom gee Iris ’n groot druk en besef blykbaar dan eers hier is iets vreemds aan die gang. “Mense, het ek iets misgeloop?”
“Ag nee wat,” keer Iris.
“Jy’t ’n miracle gemis, Olivia,” straal Brandon egter. “Check net, hier sit ek met my eie meisiekind in my arms.”
Terwyl almal oe en aa rondom hulle, glip Iris tussen die mense weg terug motor toe. Sy sal moet asemskep, hergroepeer, anders gaan sy weer eens stukkend uit haar assosiasie met Brandon Koopman kom. Volgens die spreekwoord stamp ’n esel hom nie twee keer aan dieselfde klip nie, en sy gaan ook nie twee keer dieselfde fout maak nie. Met Brandon het sy haar les geleer; daar is geen rede om die eksamen nog ’n keer te skryf nie.
Gelukkig het sy hierheen bestuur, so sy het steeds die motorsleutels in haar hand. Haar vingers pyn behoorlik, so het sy die sleutels onbewustelik vasgeklem. Sy klim in die motor en laat sak haar kop op die stuurwiel, knyp haar oë styf toe en probeer haar asemhaling rustig kry.
“Ag, my kindjie, ek is so jammer!”
Iris ruk soos sy skrik, maar besef in dieselfde oomblik dis haar ma, nie Brandon, soos sy gevrees het nie. Hoe Daisy so saggies in die motor geklim het, weet sy nie. Dit wys net sy wat Iris is, is die kluts behoorlik kwyt. “Dis mos nie Mammie se skuld dat hy hier is nie.”
Daisy skuif haarself gemakliker in die passasiersitplek, laat haar hand ’n oomblik op Iris se arm rus. “Daar’s so baie goed waaroor ek jammer is. Op hierdie oomblik is ek die heel jammerste dat ons hier in die mansmens moes kom vasloop. Ek het nie die vaagste benul gehad hy’s in die Boland nie, never mind pelle met Elsbet-hulle.”
Iris vee die paar lastige trane ergerlik af en kyk in die swak lig na haar ma asof sy haar die eerste keer sien. “Daar’s baie goed waaroor ek ook spyt is, Mammie. Soos dat ek preggies geraak het sonder ’n ring aan my vinger.” Dis waar dinge begin skeefloop het, by daardie paar nagte van passie saam met die mooiste, liefste man wat sy tot op daardie stadium ontmoet het. Helaas nog steeds die mooiste, liefste man wat sy ooit ontmoet het. Dis die ontstellende ding – sy het in ’n oogwink besef sy is dalk glad nie oor Brandon nie. Dalk was hy maar nog al die tyd in haar hart. Baie diep weggebêre, maar steeds in haar hart. Dit het ’n enkele hartlike lag van hom gekos om hom weer heel voor in haar gedagtes in te wurm.
“Ag, my kindjie, ek en jou pa is oneindig spyt ons was so kwaai oor jou pregnancy.” Sy kan hoor haar ma se trane is naby.
“Hoekom was julle so vreeslik negatief?” Sy het hulle sterk reaksie destyds nie heeltemal verwag nie. Dis tog nie meer die Middeleeue nie. Meisies kry deesdae babas sonder ’n ring aan die vinger, verkies dit dikwels ook so. Haar ouers het egter tekere gegaan asof dit die einde van die wêreld beteken.
Daisy sit so lank stil dat Iris begin dink sy het nou te ver gegaan. Sy is deeglik bewus dat haar emigrasie – met haar ouers se enigste kleinkind – deels die oorsaak van Daisy se depressie is. Dat dinge so moes uitwerk dat Daisy vir Elsbet in die kliniek ontmoet het en dat Elsbet se vriendin Olivia toe nog in Australië was, is suiwer genade. As Olivia haar nie ingekatrol het nie, het sy wat Iris is, dalk vir die res van haar lewe daar gebly. Dalk sou sy nooit weer teruggekeer het na die hart van haar familie nie. Sy ys as sy nou dink sy kon mettertyd heeltemal van haar ouers vervreemd geraak het as dit nie vir Elsbet en Olivia was nie.
“Ons was so trots op jou, Iris,” kom haar ma se stem nou, heserig en huiwerig. Dis sekerlik nie vir haar maklik om eerlik op die eerlike vraag te antwoord nie, maar Iris kan hoor sy probeer. “Jy’t so goed gedoen op skool en op kollege. Jy’t nie in die slaggat getrap van te vroeg ’n kleintjie kry en jou kans vir geleerdheid befoeter nie.” Sy sug, vat Iris se linkerhand vas en koester dit tussen hare. “Ons het ons begin verbeel ons is anders, ons kind is anders. Jy het uitgestyg, my kind, sommer vir my en jou pa se onthalwe ook.”
“Toe val ek ook maar.” Vir die eerste keer verstaan sy ’n klein bietjie van destyds se ontsteltenis.
“En daar gaan trou jy toe waaragtig met die man, Iris.” Daisy se stem is nou sterker, verontwaardig. “Dit was die heel ergste. Ons sou jou gehelp het, jou bygestaan het toe die ergste skok verby was. Maar jy loop trou met die vent en trek Gauteng toe saam met hom. Die ergste was, toe die pawpaw die fan strike, kom jy nie huis toe nie. Nee, jy vat die pad Australië toe.”
Nou loop Iris se trane. Dalk is dit die doel van Brandon se herverskyning in haar lewe, dat dit die ou wonde oopruk sodat hulle eindelik gesond kan word. “Ek was so lief vir hom, Mamma. Ek het geglo ek kan hom verander, geglo die baba sal genoeg wees om die drinkery te laat stop.”
“Jy’s nie die eerste girl wat reken sy kan ’n mansmens verander nie, my kindjie, en jy sal ook nie die laaste wees nie.” Daisy druk haar hand, verskuif in haar sitplek. “Dat jy sommer pad gevat het annerland toe, dit was die swaarste. As jy ons maar net van jou planne gesê het . . . Maar nee, toe ons dit hoor, toe’s jy al omtrent met een voet op die aeroplane.”
“Ek het vir niemand vertel ek is met die reëlings aan die gang nie, Mammie. Brandon sou my nooit laat gaan het nie en julle sou my ook probeer ompraat het.”
“Dis sad, maar dis true. Ons sou aan jou vasgeklou het, aan ons kleinkind.” Daisy skuif orent, gee haar hand nog ’n drukkie. “Nou is julle terug en ons harte loop oor. Jou kind is pragtig, van binne en buite. Ek weet nou net nie wat gaan ons oor haar pa doen nie. Ek het nooit kon raai jy’t haar grootgemaak met kennis van hom nie. Jy kon my vanaand met ’n veertjie omtik, hoor.”
“Behalwe vir die drank was Brandon ’n goeie pa, Mammie. Ek wou die pad oophou dat Rosie hom eendag kon opsoek. Ek wou haar nie die wete van ’n pa ontneem nie. Sy het tog nie uit die lug geval nie; sy is uit liefde gebore.”
“Sy is die hele tyd wat ons hier sit en kekkel, daar binne saam met hom.” Daisy draai dringend na haar: “Wat gaan ons máák, my kind? Hy sal vir Rosie wil sien, haar dalk nog afvat by ons. Hy kan hof toe gaan, Iris, hy kan jou aankla vir ontvoering of iets. Dis net ’n wonder hy het dit nie doerie tyd gedoen nie, was seker te onder die prop om daaraan te dink.”
“Hy’t geweet Rosie is beter af by my, Mammie. Toe hy agterkom ons is op pad, het hy ons nie probeer keer nie.” Toe sy flussies Brandon se gesig sien oopgaan het toe hy sy kind herken, het sy eers regtig besef wat dit hom destyds moes gekos het om hulle te laat gaan.
“Ons sal maar moet sien hoe lank sy goedheid hou.” Daisy maak haar deur oop, praat oor haar skouer. “Ry jy nou huis toe en kom tot bedaring, kindjie. Dan whatsapp ek jou as ons klaar gekuier het. Ek sal kyk dat die man nie jou kind op enige manier befoeter nie.”
“Dankie, Mamma.” Sy huiwer, leun dan oor en praat agter haar ma aan: “Mammie moet weet Brandon het nooit, ooit sy hand teen my gelig nie. Nog minder sal hy dit teen sy kind doen. Hy was ’n goeie man, Mammie. Dit was net die drank.”
“Dan is ek dankbaar, my kind. Ons was heeltyd te bang om te vra, te bang ons hoor goed wat ons nie wóú hoor nie.”
Sy ry stadig huis toe, so diep in gedagtes versonke dat sy eintlik verbaas is toe sy voor haar ouerhuis stilhou. Sy gaan tap ’n warm bad en gooi baie borrels in. Sy sal moet dink, besluite moet neem. Pleks van rasionele gedagtes, kom net een gedagte egter in haar op toe sy in die geurige water wegsink: die gedagte dat haar lyf vir Brandon so mooi was. Haar peervormige lyfie met borsies te klein en boudjies te groot na haar sin. Hare wat hulle met moeite laat straighten, die amandelvormige oë en hoë wangbene wat wys haar bloedlyn kom van baie ver af. Vir Brandon was sy mooi en goed en reg presies soos sy is. Hy het haar gevat soos hy haar gekry het. Dis sy wat hom nie sy enkele groot swak plek kon vergewe nie. Moes sy langer vasgebyt het? Het sy te gou die pad gevat? Sy sug en laat haar kop onder die skuim ingly, bly daar tot sy dit nie ’n oomblik langer kan uithou nie. Nee, sy het gedoen wat sy gereken het die beste is. Nie net vir haarself nie, maar vir Rosie. Veral vir Rosie. Haar roosknoppie wat haar pa nou jare te vroeg gevind het. Wie is sy om haar kind nie ’n pa te gun nie? Sy sal hierdie situasie moet hanteer en sy sal dit ordentlik moet doen. Die tyd vir weghardloop is verby. Brandon is terug in haar lewe en sy sal daarmee moet leer saamleef.
“As ons twee nie op die waterkar was nie, het ek jou nou ’n stywe dop ingejaag.” Derick staan en kyk verstom na Brandon waar hy nog steeds op sy hurke in Elsbet-hulle se voorportaal sit. “Nou sal dit seker maar ’n beker rooibos moet wees. Kom ek gaan maak vir ons.”
“Wat het van al die ander geword?” Brandon verbeel hom hy voel nog sy dogter se warmte teen hom; Iris se ontstelde stem weerklink steeds in sy ore.
Derick steek sy hand na hom toe uit en pluk hom regop, só asof hy hom uit die skoksituasie wil trek. “Die hele klomp het vuur toe gevlug, stokflou geskrik vir die onverwagte drama.” Derick lag, stap vooruit kombuis toe. “Glo my, almal wag met ingehoue asem om te hoor wat aangaan. Synde jou oudste pel hier, is ek soort van aangestel om agter die kap van die byl te kom.”
“Hulle sal maar moet wag. Ek moet eers my asem terugkry.” Brandon val op ’n stoel in die kombuis neer, laat sak sy kop in sy hande. Hy is skoon bewerig van skok; hy het wragtig rooibos nodig. “Met baie suiker, seblief, my pel.” Derick weet hy drink normaalweg sy rooibos swart en bitter, maar vanaand is noodmaatreëls nodig.
Gou-gou sit Derick ’n yslike beker tee voor hom neer en stoot die suikerpot nader. “Jy’t groot dinge vir my weggesteek, vriend.”
Hy gooi sommer drie lepels suiker in, roer so woes dat hy mors, vat ’n groot sluk en brand sy mond. “Dis oor en verby, my pel. Niks om te vertel nie.” Hy oortuig nie eens homself nie.
Derick skuif oorkant hom in, roer sy eie tee bedaard. “As niks só lyk, wil ek nie weet hoe iets lyk nie.”
“Ek het my gat afgeskrik, Derick.” Hy sluk diep aan sy tee, sit die beker hard neer toe die besef hom tref: “Weet jy wat? My eerste gedagte toe Iris so haastig hier uit is en Rosie saam met julle kinders uitgehol het, was nie drank nie.”
Derick steek speels ’n vuis in die lug. “Wragtig! Well done, pel! Dis nou sowaar iets om te vier.”
Dit kos Brandon ’n paar oomblikke en ’n paar slukke soet tee om dit gesê te kry: “Iris stap net by ’n vertrek in – en daar doen sy al klaar vir my ’n groot ding. Dis regtig die eerste keer dat ek upset raak en nie dadelik aan ’n dop dink nie, hoor.”
“Wel, dan’s die ontsteltenis klaar die moeite werd.”
“Dis ’n helse ontsteltenis, Derick. Ek het nou nog die bewerasie.” Hy haal diep asem, kry dit darem uit: “Dis nie regtig niks nie. Ek het vir jou probeer lieg, maar dit het nie gewerk nie.”
“Toemaar, jy’t my nie vir ’n oomblik gebluf nie.” Derick se kalm glimlag is vir hom ’n riem onder die hart. “Miskien moet jy eerder huis toe gaan, ou maat. Op jou eie tot bedaring kom sonder al die pelle se nuuskierige vrae. Ek kan jou sê, almal se oë was soos pierings.” Derick se hand rus ’n oomblik op sy arm. “Solank jy net nie by ’n pub gaan sit en jou sorge versuip nie.”
“Nope, my pubdae is verby.” Dis regtig lekker om dit eerlik te kan sê. “Ek dink ek moet liewer waai, ja. Sal jy vir Elsbet sê, seblief? Ek sien nie nou kans om uit te loop vuur toe nie, al brand ek om vir Rosie weer te sien.”
“Sy’s jou kind, nè? Wel, dit kan nie iemand anders s’n wees nie; sy is uitgeknip jy.”
“Jip, sy’s my kind.” Die woorde lê sag in sy mond. Ná al die jare kan hy dit uitspreek: Rosie is sy kind. Sy eie blomkind, ’n verlengstuk van die blomvrou wat hom destyds vir ’n ses geslaan het.
“En Iris? Sy’s die ma, so daar moes iets tussen julle gewees het.”
“Ons was actually getroud.” Die eenvoudige woorde slaan amper sy asem weg. Hy het dit so diep weggepak dat hy nooit eens daaraan gedink het om vir Derick te vertel hy was voorheen getroud nie.
“Wát? Brandon, het jy nie gedink dis iets om vir jou beste pel te vertel nie?” Derick lyk regtig seergemaak. Hy het seker rede. Hulle twee is in die rehab en daarna saam deur diep waters. Hulle het mekaar menigmaal van die rand van die afgrond teruggebring.
“Sorry, pel.” Hy sluk sy beker leeg, kom traag orent. ’n Yslike moegheid het oor hom toegesak. “Dankie vir die support. Soos jy sê, ek moet liewer waai.” Hy spoel sommer sy beker by die wasbak uit, keer dit op die afdroograkkie om. So tuis het hy al in Brent en Elsbet se huis geraak. Dat hy vir Iris hier sal raakloop, het hy egter nooit verwag nie. Hy het nie eens geweet sy is terug in die land nie. “Ek sal later boodskappe stuur, as ek my kop ’n bietjie bymekaar het.”
Derick spoel sy beker ook uit, vat Brandon se skouer ’n oomblik vas. “Dis reg, maar hulle gaan vrae vra. Moet ek antwoord of moet ek maak of ek niks weet nie – en niemand bluf nie? Jy weet goed ek is net so ’n swak leuenaar soos jy.”
Dalk is dit ’n maklike uitkoms, al voel dit ’n bietjie lafhartig. “Jy kan maar sê Rosie is my kind. Enige aap kan dit in elk geval sien.” As baba kon ’n mens al sien sy trek na hom, maar nou is die ooreenkoms regtig te ooglopend om mis te kyk. “Sê maar ek en Iris was getroud ook en . . .”
“En?” Derick kyk hom stip in die oë.
Jip, hy sal dit maar moet uitspreek: “Ek het my uit my vrou en kind gedrink, Derick.”
“Well done, Brandon!” Hy kry summier ’n klap tussen die blaaie wat hom amper laat steier. “Ek weet dis hel moeilik om so ’n ding hardop te erken.”
“Ek moes nou al vanaand ’n hele paar nare goedjies hardop sê. Ek is eerlikwaar ’n bietjie moeg daarvoor.” As hy net ’n waarskuwing gehad het, ’n tydjie om hom geestelik voor te berei. Maar nou ja, as is en bly verbrande hout.
Skielik glimlag Derick breed. “Het julle enigsins in kontak gebly? Wéét Iris jy’s gesond?”
“Geen kontak nie. Sy het nie ’n clue nie.”
“Wel, wel, wel, daar wag vir haar ’n lekker verrassing!”
Hy kan sommer sien waarheen loop Derick se gedagtes. “O nee, vergeet daarvan! Daar’s nie ’n kat se kans dat ons kan opmaak nie. Dis nou ás hierdie groep pelle haar ooit weer sien.”
“Ek ken hierdie klomp darem ook al, veral vir Olivia en Shaun. Daar’s nie ’n manier dat hulle vir Iris gaan toelaat om eenvoudig te verdwyn nie.”
“Ons sal maar moet sien.” Hy het nie krag vir nog derms uitryg nie. Dit was heeltemal te veel emosies vir ’n enkele aand. Sommer vir die res van sy lewe ook. Dit het soveel geesteskrag geverg om sy eks en kind te laat gaan, om oor sy alkoholisme te kom. Dit voel of hy nie ’n greintjie krag oorhet nie. “Nag, my vriend. Dankie vir jou support.” Hy loop uit, klim in sy kar en ry blindelings huis toe terwyl die beelde deur sy kop spoel: Iris, geskok, oë wyd, hand voor die mond. Rosie wat verstom na hom kyk en hom wragtig herken. Iris se ma en pa se gesigte wat hard en koud word toe hulle besef wie voor hulle staan. Die sterkste gewaarwording is egter dat Iris nog presies lyk soos toe sy uit die land weg is, en dat sy nog ’n helse impak op hom het.