Skip to main content

Uittreksel | Lentelag

Een

Christie Grey kyk op haar Apple-slimhorlosie toe sy ’n dreuning hoor. Haar wenkbroue lig. Kan Paul nie maar altyd so betyds wees nie? Haastig kyk sy in die spieël en trek haar hand deur haar lang bruin hare. Dis heerlik glad en reguit ná gister se Brazilian by die haarsalon. Die nuwe saliegroen rokkie sit ook soos ’n droom. Dit is noupassend bo van waar dit uitklok tot net bo haar knieë.

Net toe sy in die ingangsportaal kom, lui die voordeurklokkie. “Ek kom,” roep sy vrolik uit en trek die groot houtdeur oop.

Haar glimlag verstrak toe sy nie in Paul se opgewekte gesig vaskyk nie, maar in die ernstige een van ’n vreemdeling. Hy moet omtrent hulle ouderdom wees. Of dalk nie? Sy donkerbruin oë flits oor haar met allesbehalwe belangstelling, som haar in ’n oogwink op, keur haar summier af, en eindig sonder skroom in hare. Die stroewe lyne om sy mond verklap ’n leeftyd se harde winters eerder as die mooi, ontluikende lente in ’n mens se twintigs.

Haar mond is skielik kurkdroog en sy soek vervaard na iets om te sê. “E . . . Middag, Meneer. Kan ek help?”

Hy knik. “Jou pa verwag my.”

“O . . . e . . . oukei.” Vinnig staan sy opsy. “Kom gerus deur. Hy is in sy kantoor. Dis hier regs –”

“Ek weet, dankie,” val hy haar in die rede en stap by haar verby.

Haar mond sak effens oop terwyl haar oë hom verdwaas volg. Wat ’n ongeskikte vent! Sy kan nie glo haar pa wil met so iemand besigheid doen nie. Hy moet die een of ander onkruiddoder- of saadsmous wees, anders sou sy hom al voorheen gesien het. Was daar ’n handelsmerk op sy kakiehemp? Ag, wat maak dit saak? Haar pa het betroubare verskaffers en sy kan nie dink dat hy na iemand anders se produkte sal wil oorskakel nie. Sy sal hierdie man nie weer sien nie.

Haar hart klop wilder toe sy na sy gespierde bene kyk. Dit smeek om ’n Boerboelbroekie te dra. Met sy breë skouers en fris boarms mag hy ook maar met ’n wys-jou-vleis-T-hemp spog.

Vies ruk sy haar kop weg. Wie is hy om haar só te hanteer? Die Greys is gesiene mense in Chrissiesmeer en mans kyk haar nie gewoonlik aan asof sy niks is vir die oog nie.

Nog ’n dreuning klink op. Wonderlik. Dit moet Paul wees. Hierdie ongeskikte smous sal weg wees wanneer sy vanaand terugkom.

Sy is buitengewoon bly om Paul se dubbelkajuit-V8-Land Cruiser by die hek te sien inry en wag hom onder die groot akkerboom in. “Hallo, Paul. Ons kan maar ry.”

Bewondering blink in sy oë toe sy langs hom inspring. “Haai, Sexy. Wat’s die haas? Ek moet darem eers jou pa gaan groet. En vat jy nie vir jou ’n warm ding saam nie? Dit lyk of die weer besig is om op te steek.”

“Ek sal fine wees en daar is iemand by my pa in die kantoor.”

Sy blik gaan werktuiglik na die ou Toyota-bakkie onder die akkerboom wat ’n yskas, matras en ’n paar ander meubelstukke op die bak het. “Is dit jou pa se nuwe voorman?”

Instinktief volg sy sy blik en snak na asem. Dit kan nie wees nie. Haar pa sou tog nie so ’n man aanstel nie? Tog dui die teendeel daarop. Geen smous ry met só ’n trek rond nie.

Paul maak sy deur oop. “Kom jy?”

Dit is op die punt van haar tong om vir hom te sê dat sy liewer vir hom in die bakkie sal wag, maar toe val dit haar by dat sy haar handsak en selfoon vergeet het. Onwillig gly sy uit die bakkie en sluit by hom aan. “Jy kan gaan groet terwyl ek gou my goed kry.”

Hy hou haar aan haar arm terug toe sy wil aanstap huis toe en draai haar na hom. “Groet jy nie eers nie? Ek sien jy gaan vanaand weer al die manne se koppe laat draai.”

Al die mans behalwe die man in haar pa se kantoor. Die man wat dalk haar pa se nuwe voorman kan wees. Alles in haar stry en baklei daarteen en sy is net tot ’n halwe glimlag in staat.

Paul se mond sluit oor hare. Dis egter nie ’n vlugtige piksoentjie nie, maar een wat van sy hartstog getuig. Sy trek terug en kan dit nie verhelp om vlugtig in die rigting van die kantoorvenster te kyk nie. Die huis se donkerder beligting maak dit egter onmoontlik om na binne te kan sien.

Vies vir haarself begin sy aanstap huis toe en is verlig toe Paul langs haar inval. Watse verspottigheid is dit met haar? Sy liefkosings het haar nog nooit ongemaklik laat voel nie. Sy bewondering is veronderstel om haar te vlei. Dis sommer twak om haar aan die vreemde man te steur. Boonop is hy in elk geval net ’n voorman.

Sy verslap haar pas toe sy in die gang kom. Paul kan eerder vir haar wag as wat sy hom in die kantoor moet gaan soek.

Hy is nie in die ingangsportaal toe sy terugkeer nie, maar staan in die kantoor se deur.

Toe hy haar merk, wink hy haar nader. “Jou pa wil jou gou aan julle nuwe voorman voorstel.” Sy saaklike stem verklap dat hy nie opgewonde is oor haar pa se versoek nie, maar dat hy ook nou haastig is om te vertrek.

Sy sug. As die uitdrukking “van uitstel kom afstel” tog ook maar in hierdie geval kon geld. Nou is sy verplig om kantoor toe te loop. Sy probeer oogkontak met die nuwe voorman vermy, maar dit help nie juis nie, want sy kan sy skerp blik op haar voel. Haar hart begin opnuut tekere gaan.

“Chrissie, ek wil graag hê jy moet meneer Brand Ehlers ontmoet. Hy is ons nuwe voorman. Brand, dis Christie, my jongste dogter. Jy sal Lizette nog ontmoet. Sy is ons middelste dogter. Ons oudste dogter is reeds getroud en Chrisjan is nog besig om landbou op Potch te swot.”

Sy dwing haar blik na Brand Ehlers s’n en knik koel.

Sy mondhoeke pluk liggies, byna spottend, toe hy opstaan en na haar loop. Daarby hou hy sy hand uit na haar. “Aangename kennis, Christie.”

Waar kom sy goeie maniere nou vandaan? Tandeknersend skud sy sy blad, oorbewus van haar hart wat by haar borskas wil uitklim. Hy het groot sonbruin hande en sy greep is ferm en getuig van selfvertroue. “Welkom op Mooivlei,” antwoord sy deur stywe lippe.

Sy mondhoeke sprei verder uit, maar dit het niks met erkentlikheid te doen nie; dit lyk eerder of hy haar weer uitlag. Weet hy sy bedoel dit nie? Wel, dit kan haar min skeel. Daar is geen rede hoekom hulle van mekaar moet hou nie. Sonder om haar verder aan hom te steur, kyk sy weg na haar pa. “Tatta, Pappa. Sien julle later.”

Pa Christoff knik. “Geniet die verjaardagpartytjie, julle. En wees tog versigtig vir beeste in die pad as julle vanaand terugry.”

“Ons sal, Oom,” verseker Paul hom en loop saam met haar uit.

Sy wag tot hulle in die bakkie is voor sy vra: “Wat dink jy van my pa se nuwe voorman?”

Hy gryns. “Vir ’n voormannetjie dink hy darem baie van homself. Jou pa sal hom moet kortvat, anders gaan hy maak asof hy die baas van die plaas is.”

Meer kan sy nie met hom saamstem nie. Tog krap dit aan haar dat Paul so neerhalend van hom praat, asof Brand Ehlers benede hulle is. Wat hy wel ís, moet sy haarself herinner. Nogtans vind sy dit moeilik om hom in daardie boksie te plaas. Dit is amper asof hy hulle een voor is. Sy sterk persoonlikheid dwing gesag af en waarsku dat hy nie met hom laat mors nie. Ook dra sy sterk gelaatstrekke verder daartoe by.

Genoeg! Hy kan so aantreklik wees as wat hy wil; sy hou nog steeds nie van hom nie.


Brand Ehlers se vingers vreet in sy palms toe hy weer sy plek oorkant oom Christoff Grey inneem. Hy is so siek van aanstellerige, ryk mense dat hy kan naar word daarvan. Sonder om ’n woord te sê, laat hulle jou altyd goed verstaan dat hulle daar doer bo is terwyl jy daar doer onder in die modder rondploeter.

Miskien moet hy nie te hard oordeel nie. Hy was ook al van die gesiene mense in hul omgewing, maar verduiwels, hy kan nie onthou dat hy ooit só op mense neergesien het nie. Sy pa het hulle geleer om almal met die nodige respek en agting te hanteer; of dit nou ’n gewone plaaswerker of hulle voorman was. Want die wiel kan altyd draai, het hy gesê.

Sou sy pa egter kon raai dat dit regtig met húlle gaan gebeur? Hy twyfel.

Oom Christoff stoot sy stoel agteruit. “Ek sal gou met Vusi en September reël om jou te gaan help aflaai.”

Hy kom saam met sy nuwe werkgewer orent. “Dankie, Oom.” Dit is seker ’n fout om almal oor dieselfde kam te skeer. Oom Christoff het hom nog net met die grootste respek behandel en selfs daarop aangedring dat hy vir hom “Oom” eerder as “Meneer” sê.

Dit is net jammer sy dogter beskik nie oor dieselfde nederigheid nie. Sy is mooi en sy weet dit. Daarom kon sy dit nie hanteer toe hy nie deur haar skoonheid beïndruk is nie. Haar kêrel het hom ewe min beïndruk, want dié vent reken skynbaar hy is die kat se snor. Hy sal graag wil weet wat hy al op eie houtjie bereik het.

Oom Christoff stap saam met hom uit tot by sy stokou bakkie, sy oupa se ou een. Wanneer ’n mens egter vir lank sonder wiele moes klaarkom, waardeer jy wat ook al na jou kant toe kom en gee jy nie om wat ander mense daarvan dink nie. Dit bring jou immers ook van punt A na punt B.

“Kom braai saam met ons ’n vleisie wanneer julle klaar afgelaai het. Ek en die tannie is vanaand alleen met Christie en Lizette wat na Christiaan se verjaardagpartytjie toe is. Dis nou Paul, wat jy netnou ontmoet het, se broer.”

“Dit sal lekker wees. Dankie, Oom.” Hy het tannie Suzette laas vlugtig met sy onderhoud ontmoet en sy lyk ook baie aangenaam.

Toe hy wegtrek, kyk hy na die plek waar Paul se bakkie onder die boom gestaan het. Christie het nie baie ontvanklik gelyk vir sy soen nie. Nogtans het hy geen rede om hom daarin te verlekker nie.


In ’n japtrap laai Brand en die twee werkers sy besittings af. Die huis wat oom Christoff tot sy beskikking gestel het, is heeltemal te groot vir hom. Twee slaapkamers staan leeg en sy enkele rusbank lyk effe verlate in die sitkamer. Hy het ook nie ’n eetkamerstel nie. Nie dat dit hom rêrig pla nie. Al wat hy hier gaan doen, is slaap. Gelukkig het hy twee stelle gordyne – een vir die sitkamer en een vir sy slaapkamer. Maar hy is nie lus om dit nou op te hang nie. Die son is besig om te sak en dit roep hom na buite.

Oulandsgras strek voor hom uit tot dit ru teen ’n onooglike mynhoop eindig, so anders as die majestueuse Malutiberge van sy geboortegrond. Sy erfgrond. Of só was dit veronderstel om te wees.

Sy selfoon begin lui en met ’n sug haal hy dit uit sy hempsak. Hy het vergeet om sy ma te laat weet hy is hier. Nee, dis sy jongste sussie. Nicolene. “Haai, Nikki.”

“Haai. Is jy al daar?”

“Ja, nou net klaar afgelaai. Hoe gaan dit daar?”

“Goed, dankie. Ons klomp gaan ’n bietjie uit vanaand. Hoe is die nuwe mense? Het jy al die oom se dogters ontmoet?”

“Die jongste een, ja. Die oudste een is getroud en die middelste een was nie hier nie.” Al weet hy sy suster stel waarskynlik net belang, slaag hy nie daarin om die krapperigheid uit sy stem te hou nie. Miskien omdat sy gewoonlik vir hom ’n meisie soek.

“Was dit die meisie met die lang bruin hare? Sy lyk vir my na die oulikste en die mooiste een van die drie sussies.”

Sy mond sak oop. “En waar kom jy aan jóú inligting?”

“Facebook,” antwoord sy asof hy ’n dom vraag gevra het. “Hulle pryk almal op die oom se profielfoto en die boetie lyk ook glad nie sleg nie.”

“Jy skimp verniet om hom te ontmoet. Hy gaan net so verwaand soos sy sussie wees, indien nie erger nie.”

“Hoe so? Was sy dan lelik met jou?”

“Nie voor haar pa nie, maar ek kon sien wat sy en haar kêrel van ’n voorman dink.”

“Ag nee, Brand!”

“Nikki, jy ontstel jou verniet. Ek steur my nie aan hulle nie en moet gaan. Haar ouers het my vir ’n braai genooi. Gelukkig is die dogters vanaand na ’n partytjie toe en die twee ou mense op hul eie.”

“Oukei, dan praat ons weer,” antwoord sy afgehaal. “Het jy al vir Ma gebel om te sê jy’s daar?”

“Nee, ek sal nou vir haar ’n boodskap stuur.”

Netnou ontstel hy sy ma ook en dit sal onnodig wees. Hy is hier om te werk. Dit gaan lank vat om voor te kom, maar niks is onmoontlik nie. Sodra hy ’n goeie vertrouensverhouding met oom Christoff opgebou het, sal hy hom nader om te deel in die teel van die vee as deel van sy vergoeding. Só kan hy begin om ’n goeie kudde van sy eie op te bou.


Die verjaardagtoejuiging het net bedaar toe Christiaan weer sy sjampanjeglas lig. “Nou is dit my beurt om ’n heildronk op iemand in te stel.” Liefdevol kyk hy na Lizette. “Op die mooiste vrou hier vanaand en die een wat ek hoop om die res van my lewe mee te deel. Paul, vat ’n bietjie my glas aan.”

Almal trek hul asems hoorbaar in toe Christiaan na Lizette loop en op sy knieë gaan. “Liefste Lizzy, sal jy asseblief met my trou?”

“O, Chris! Ja!” roep sy uit met vreugdetrane in haar oë.

Christie kan nie help om self ’n traan te pink nie. Hulle gaan so gelukkig wees.

Vanself soek sy Paul se oë op. Sy glimlag verbreed asof hy gewag het dat sy na hom kyk. Sy kan die betekenisvolle lig in sy oë nie verkeerd verstaan nie – hulle gaan volgende verloof raak.

Met ’n skrams glimlag draai sy haar kop weg. Wat is dit vandag met haar? Dit is tog nie nuus vir haar nie. Selfs die gemeenskap weet dat sy en Lizette met die twee Van Huyssteen-broers gaan trou. Die vraag was net watter paartjie eerste sou afhaak.

Toe die ander gaste nader gaan om die verloofdes geluk te wens, staan sy terug en loop op die stoep uit.

Ingedagte kyk sy op na weerlig wat in die verte blits. Hul voorman is seker besig om sy goed uit te pak. Nie dat dit gelyk het asof hy veel besittings het nie. En sy bakkie is stokoud. Hoe sal sy gesin lyk? ’n Pa wat op die myn werk? Sy ma in verslonste klere? Hul huis ’n ou rooibaksteenmynhuis?

“O, hier’s jy! Kom jy nie jou suster en my broer gelukwens nie?”

“Ja, ek het net eers die ander mense kans gegee.”

Paul kyk haar op en af. “Is als reg?”

“Ja, ek het net ’n bietjie vars lug kom skep.”

Voor hy dit kan betwyfel, haak sy by hom in en trek hom binnetoe. Sy gee eers vir Christiaan ’n drukkie en toe vir Lizette.

Haar suster se blik verskerp op haar toe sy terugstaan. “Wat’s fout, Chrissie? Ek hoop nie jy en Paul is kwaad omdat ons voor julle verloof geraak het nie.”

“Nee, natuurlik nie. Ek is seker maar net bekommerd oor die laaste foto’s wat ek vir my fotografiekursus moet neem.” Haar suster kom iets oor as sy moet weet wat, of liewer wié, haar hinder.

Doodluiters trek Paul sy skouers op. “Hoekom los jy dit nie? Dis nie asof jy ’n papier nodig het om eendag ons kiddies af te neem nie.”

Hoe kan hy die sertifikaat so afskiet? En vir sy inligting – dit sal nogal iets vir haar persoonlik beteken, al weet sy dat sy dit nie eendag nodig sal hê om te werk nie.

“Jy verstaan nie, Paul. Dit gaan soos ’n taak voel wat ek nooit afgehandel het nie en dit sal my altyd pla.”

“Ek dink weer dis onnodig om soveel stres op jouself te sit.”

Seergemaak kyk sy weg. ’n Groot dankie vir sy aanmoediging.