Skip to main content

Uittreksel | Lemoenbloeisels vir Alma

Een

Nuwe lewe: Thabayengwe, vyf jaar later

Van haar uitkykpunt af hou Alma Thabayengwe se troppie getraumatiseerde olifante dop terwyl hulle deur die mopanies in die boma voortluier. Hulle het gesien toe sy opdaag, maar storm gelukkig nie meer soos die eerste week na die elektriese heining as hulle enige beweging gewaar nie. Takke kraak en klap gerusstellend soos hulle die bas afstroop.

Stadig loop sy teen die helling van die bult af na die kloof waarin die boma opgerig is tot by die punt waar die olifante haar laas verdra het. Daar bly sy in die skaduwee van ’n doringboom staan terwyl haar gedagtes teruggaan na die gesprek tussen haar en haar mentor, die bekende olifantkenner Anton Louw.

Voor hy ’n uur gelede teruggery het na Izindlovu Privaat Wildtuin en lodge waar sy eie trop gerehabiliteerde olifante vir hom wag, het hy haar eenkant toe geroep.

“Ek het vir Reinier gesê jy is gereed om by my oor te neem. Jy het genoeg kennis van en ondervinding met olifante om hom en sy span te help met die res van hierdie rehabilitasieprojek.”

Reinier Espach, Thabayengwe se eienaar wat ingestem het om die getraumatiseerde olifante te akkommodeer en te probeer rehabiliteer, se voorwaarde was dat Anton Louw die projek hanteer.

“Maar Anton . . .”

Anton het haar protes weggevee. “Ek glo in jou, Alma, en Reinier vertrou my oordeel. Hulle het jou die afgelope twee weke saam met my in aksie gesien. Jy kan die aanpassing en inskakelingsproses sonder my hanteer, daaraan twyfel ek nie.”

“Wat maak ek as ek vasbrand of probleme ondervind? Of as my benadering misluk? Dit sal . .”

“Ek twyfel sterk dat dit sal gebeur. As jy probleme teëkom of sukkel, bel jy my. Jy is gereed om oor te neem en is opgewasse vir die taak. Jy moet net jou instink volg en leer om weer jou oordeel te vertrou.”

Sy glimlag wrang. “Dis makliker gesê as gedaan.” Sedert die fiasko van die televisieonderhoud het sy haar selfvertroue verloor. Sy wens sy was destyds so fyn ingestel op mens en dier se liggaamstaal soos nou. As sy die boodskap wat Beyers Gunther se lyf uitgedra het betyds kon ontsyfer, het sy dalk nooit tot daardie onderhoud ingestem nie.

’n Lae selfbeeld is ook hoekom sy nog nie glo sy kan soos Anton Louw werklik olifante se subsoniese kommunikasie aanvoel nie. Sy glo sy reageer nog instinktief op die visuele tekens soos Anton se liggaamstaal en die olifante se fisiese waarskuwings.

As hy egter in haar glo, moet sy ten minste probeer.

Sedert sy haar opleiding as wildbewaarder en veldgids vyf jaar gelede begin het, het sy heelwat ondervinding opgedoen. Daarom staan sy nou roerloos in haar kakiegroen bosdrag wat met die omgewing saamsmelt. Anton se raad was dat sy een moet word met die bos en nie soos ’n indringer moet uitstaan nie.

Soos altyd werk dit. Die kleinwild, veervolk en insekte om haar gaan reeds voort met hul gesprekke asof sy nie daar staan nie.

Die bietjie van die olifante se liggaamstaal wat sy deur die gordyn van die ruigte kan uitmaak, verklap behoedsaamheid. Dit bevestig hulle weet sy het tot by die koelte geloop. Wanneer Hannes de Winnaar, Thabayengwe se senior veldgids en wildbewaarder, in die basiskamp beweeg of met die Land Rover naby die omheining ry, trompetter die matriarg soms nog waarskuwend. Andersins kyk hulle net gesteurd op, skud die kop en flap hul ore dreigend.

Thata trompetter ten minste nie meer vir haar nie. Ook het die matriarg die afgelope paar dae selde haar kop so heftig geskud soos net ’n woedende olifant kan. Hul gedrag wys toenemend dat hulle haar roetine ken. Eers wanneer hulle ’n variasie op haar roetine aanvaar, sal dit beteken hulle herken en vertrou haar as persoon, nie net as ’n mens in bosdrag wat elke dag dieselfde ritueel uitvoer nie.

Toe sy sag begin fluit, doof die veldgesprekke uit. Die stilte duur skaars drie hartslae voor dit hervat. Die olifante wat uit die mopanies getree het, kyk vlugtig na haar voor hulle weer verder aan die rand van die ruigte wei. Hierdie aanvaarding moedig haar aan om oop en bloot in ’n kaal kol te gaan sit.

Dis tyd om haar aanslag te herdink.

Sy praat sedert die eerste dag in ’n gedempte stemtoon met hulle in die hoop dat hulle haar stem sal leer ken en vertrou. As dit gebeur, sal hul matriarg haar dalk by hul kommunikasie betrek wat onhoorbaar vir die menslike oor is. Dan eers sal sy seker wees sy het haar nie misgis toe sy die dag voor hul vertrek van Izindlovu af daardie trop olifante se boodskap gekry het nie.

Wat sou haar pa se raad wees vir hierdie situasie?

Asof sy voor hom staan, hoor sy sy bekende stem.

“Sing vir hulle, Almie.”

Impulsief neurie sy “Op my ou ramkiekie”, haar pa se gunsteling terwyl die olifante ongestoord blare van die ghwarries afstroop en eet. Die matriarg se kalf kom ook uit die ruigte, druk toe teen haar slurp en voorpoot om plek te maak sodat hy kan soog. Die ouer kalf baljaar openlik op die skoongekapte deel, ’n teken dat die liedjie aanvaarbaar is.

Sy glimlag heimlik oor haar klein sukses.

Nog vier weke is oor van die trop se ses weke kwarantyn in die boma. Net veertien van die twee en veertig dae is verby. In die kort tydjie hier het sy so verknog geraak aan Thabayengwe en sy diere dat sy haar kwalik kan indink hoe sy ooit van hulle afskeid sal kan neem.

 

Deur sy kamera se lens

Vanaf die uitkykpunt waar Simon Killian stilgehou het, kan die man met die kamera die kloof met die boma mooi in sy lens kry. “Dankie, Simon, dis ideaal.”

“Net soos Anton Louw gesê het, is die kloof hier naby die rivier die beste ligging vir die boma,” verduidelik Simon. “Twee weke gelede toe die olifante hier afgelaai is, het hy ook die koppie daar oorkant uitgewys as die ideale plek vir ’n basiskamp, want Alma moet voortdurend naby die olifante wees. Sy wou aanvanklik alleen daar bly, maar Reinier het aangedring dat Hannes die kamp saam met haar beman. Kan jy van hier af die hoëhoekskote neem wat jy in gedagte het vir jou program?”

“Die posisie werk baie goed, dankie, Simon.” Die fotograaf lig die kamera se lang lens en stabiliseer dit op die vensterstut, verstel die fokus. Die skraal figuur in velddrag wat te voet na die boma toe loop, kom in fokus. Sy wysvinger druk werktuiglik die videoknoppie.

“Die span wat die trop vervoer het, het by die vragmotor gehelp met die aflaai,” gee Simon nog agtergrond. “Ek was naby die hek toe hulle die loopvlak laat sak. Die res van die helpers was op die vragmotor of by Anton ongeveer honderd meter van die boma af, ver genoeg dat die diere nie bedreig sou voel nie.”

“Het die proses glad verloop?” raai hy.

“Nie glad nie, maar darem sonder ongevalle,” hervat Simon sy verslag. “Die olifante het uit die vervoertrokke na die boma gestorm en in die ruigte verdwyn. Elke keer as een van ons beweeg, het hulle luid getrompetter.”

“Hulle het ten minste gewaarsku en nie voor die voet gestorm nie,” wys die fotograaf uit.

Simon knik. “Ons het daarop gereken dat Thata se sensitiewe slurp die trillings van die elektriese heining sou waarneem. Toe Hannes die hek grendel en wegbeweeg, het sy die punt van daardie sensitiewe orgaan kort bokant die elektriese kabel gehou om die stroom te toets. Die heining en hek is ook deeglik ondersoek vir swak plekke. Daarna het sy met die trop gehoorsaam agterna, die oopgekapte deel naby die heining geïnspekteer. Ons het geweet as sy nie uitbreek nie, sal hulle ook nie.”

“Wat gebeur as daar ’n kragonderbreking is?” Hy kan hom voorstel watse krisis dit hier kan veroorsaak.

“Die heining is aan ’n sonkragstelsel gekoppel,” erken Simon. “Die risiko was te groot dat die matriarg tydens beurtkrag naby die heining kom en ontdek die stroom is af. Daar is ook ’n kragopwekker op bystand. Ná twee weke in die omheining weet die trop dit en is ook aansienlik rustiger.”

Die kameraman knik bloot, sy aandag vasgevang deur die gebeure onder in die kloof. ’n Paar tree van die heining af, skaars tien meter van waar die twee grootste olifante in die boma staan, het die skraal vrou pas kruisbeen op die gras gaan sit met haar rug na die koppie waar hy met sy kamera is.

“Alma is die enigste mens wat dit so naby aan die boma kan waag. Die olifante verdra niemand anders daar nie.”

Simon se woorde waarsku hom dat die veearts weet waarop hy fokus. Bang dat sy gesigsuitdrukking sy emosies sal weggee, hou hy sy oog teen die lens terwyl hy die toneel bestudeer.

Uit haar handbewegings en die skrams kyk wat hy op haar wang kry, weet hy sy praat met die diere. Die olifante hou hul afstand, maar hulle houding verander geleidelik. Die jongste kalfie druk sy slurp teen sy ma s’n, waarna sy een voorbeen versit sodat hy kan soog.

Spyt dat hy nie die paraboliese mikrofoon wat hy normaalweg gebruik om voël- en veldgeluide op te neem, saamgebring het nie, wonder hy of die gewone mikrofoon sensitief genoeg is om ’n gangbare klankopname by die beeld te voeg.

“Dit lyk of hulle Alma al vertrou,” mymer Simon. “Jy het self gesien wat die matriarg doen toe sy ons voertuig hoor naderkom het. Dis hoe sy op enigiemand anders reageer.” Simon raak aan sy arm en wys na die ver punt van die boma. “Kyk daar.”

Verbaas sien hy hoe die res van die trop ook een-een nader na die roerlose figuur gaan. “Nou toe nou.” Hy weet die olifante snuif net die lug, tog lyk die slurpe wat in die lug rondsoek, verbasend baie na ’n groet.

“Dis die eerste keer dat ek sien hulle raak nie opgewerk as Alma so naby die heining is nie,” kom dit peinsend van Simon. “Ek vermoed ons sal haar op die ou end moet gebruik om die hek oop te maak wanneer ons hulle vrylaat.”

Ys loop oor sy vel. “’n Stormloop sal vir haar . . . vir enigeen, lewensgevaarlik wees.”

“Daar is nog vier weke oor om hulle te kondisioneer.” Die veearts lyk bekommerd. “As ons hulle te vroeg vrylaat, is die gevaar veel groter. Natuurlik ook as iets gebeur wat die olifante ontwrig of wat Alma se vordering in die wiele ry.”

Hy wonder onwillekeurig of Simon hom probeer waarsku. “Noudat ek bewus is van die risiko, sal ek nog versigtiger wees. Ek hoop dat Reinier – eintlik julle albei – my nogtans die kans sal gee om die res van hierdie rehabilitasieproses en die finale vrylating vir die Natuurlewevereniging te verfilm.”

Simon lig sy skouers. “Reinier sal enigiets doen wat goed kan wees vir Thabayengwe. Of dit die beste sal wees vir die olifante, weet ek nie. Sal ons ry? Reinier wag seker al vir ons.”

Hy haal sy vinger van die sluiterknop af en knik. Onder in die vallei merk hy die jong vrou orentkom en haar hand lig asof sy die olifante groet. Toe draai sy weg en loop sonder om een maal terug te kyk na die tentkamp teen die kop oorkant die boma. Sy respek vir haar neem toe. Dis asof geen moontlikheid bestaan dat die olifante agter haar deur die heining sal breek en haar vertrap nie.

 

Koekoek in die nes

Toe die piet-my-vrou sy maat roep, merk Alma die son se sagter gloed naby die westerkim. Op haar tyd loop sy na die tentkamp waar Hannes normaalweg teen skemer opdaag.

Die boskamp is ingerig by ’n bestaande piekniekplek. Die geriewe is baie basies en het ’n draagbare sonverhitter vir stortwater en vir die kombuis wat rug teen rug met die bosbadkamer staan. Die mans het voorgestel dat sy saans teruggaan hoofkamp toe waar sy in gerief by haar chalet kan bad as sy dit verkies.

Omdat dit haar kans gee om ook verslag te doen van die olifante se vordering, haar wasgoed in te gee en haar selfoon te laai, gebruik sy die vergunning redelik gereeld. Hannes bly die rukkie in die kamp om die olifante te monitor.

Tot haar verbasing is hy reeds daar toe sy bo kom, selfoon teen die oor en diep in gesprek. Sy was so vasgevang in haar eie wêreld dat sy nie die voertuig gehoor het nie. Ook die olifante het nie op sy Land Rover reageer nie, wat beteken hulle raak sy roetine gewoond.

Hannes lig sy hand in ’n groet en hou die Land Rover se sleutel na haar uit. Toe sy dit by hom vat, hou hy sy vinger op die selfoon se mikrofoon. “Die baas en Simon kry jou halfsewe in die restaurant. Dit klink nogal belangrik.”

Sy glimlag in antwoord en draai weg sodat hy nie die kommer op haar gesig kan lees nie. Reinier Espach, met Simon Killian as sy raadgewer, is al vir twee weke haar baas.

Hoekom wil hulle haar dringend sien en nogal in die restaurant? Sy eet nie normaalweg saam met hulle nie.

Sy slinger haar eendagrugsak vol vuil wasgoed in die Land Rover en trek weg. Moenie onnodig spoke sien nie, Alma Roux, maan sy haarself op pad na die hoofkamp. Alle mans is nie soos Beyers Gunther en Nigel Kriel nie, party kan jy nog vertrou.

Sy het gister kortliks die volgende deel van die program uiteengesit. Hopelik wil hulle nie hê sy moet die tempo versnel nie.

By haar chalet in die hoofkamp prop sy haar selfoon in om die battery te herlaai. Die bosuniforms en ander kledingstukke wat sy twee dae gelede by die wassery ingegee het, is gewas, gestryk en netjies op haar bed uitgepak. Sonder meer haal sy skoon onderklere en uniforms uit en pak die res van die skoon klere in haar tweede rugsak.

Oukei, Alma, wees net pynlik eerlik met die twee mans, besluit sy terwyl die stortwater oor haar stroom. Oortuig hulle dit kan al jou vordering omkeer as hulle nou die olifante se roetine verander en te vroeg druk op die trop plaas.

Ná haar stort smeer sy room aan haar lyf, blaas haar hare droog en tem dit voor die spieël in ’n los vlegsel skuins oor haar linkerskouer. Sy is nou al gewoond aan die verbleikte stringe wat ligter strepe deur haar donkerblonde vlegsel trek. Vandag se son het ook haar gesig en arms ’n rooi skynsel gegee.

’n Milde dosis nasorgsonroom koel die ergste branderigheid af. Sy trek haar skouers ongeërg op. Grimering is oorbodig in die veld. Die diere stel nie eise nie en hulle is al wat tel.

Op pad na die gebouekompleks merk sy ’n hele paar chalets met oop vensters en gordyne. Die vroeglente lok klaarblyklik besoekers. By die hoofgebou staan ’n toerbus geparkeer.

Die wassery waar sy haar wasgoed ingee, is langs die parkeerterrein. Ook hier staan meer voertuie as gister. Sy bedank die meisie aan diens vir die skoon wasgoed in haar chalet en gesels ’n rukkie voordat sy na die ontvangsarea en restaurant loop.

Tumi, die ontvangsdame, straal toe Alma kort voor halfsewe by die portaal instap en in die verbyloop groet. “Oe, jy is ’n gelukkige meisie. Geniet jou ete.”

Alma glimlag, koers net reguit na die restaurant waar gaste vrolik gesels. By ’n tafel teen die voorvenster sit Reinier oorkant Simon. ’n Vreemdeling sit aan die punt met sy rug na haar. Breed van skouer, merk sy afgetrokke. Die rugspiere beweeg onder die dun hempsmateriaal toe hy beduie.

’n Onwelkome herinnering roer ongevraag: Haar eks het verkies dat sy kortmouhemde oor sy bors en boarms span om sy gimnasiumspiere ten beste te vertoon. Sy huiwer vlugtig.

Ruk jou reg, Alma. Jy het jare laas aan Nigel gedink. Hy het jou permanent afgeskrik van mansmense met ’n kunsmatig opgeblase selfbeeld, en Beyers Gunther het jou genees van alle mans. Nie dat hierdie gas van Reinier gekunsteld lyk nie. Daar lê beslis krag in daardie nek, rug en die bruingebrande arms. ’n Buitelugmens, niks aan hom is aangehelp deur gimnasiums en ultravioletligte nie.

Doelgerig loop sy daarheen, haar oë op die skouspel buite waar die swembad en die rivier die sonsondergang weerkaats. Die gesprek by die venster word hoorbaarder hoe nader sy gaan, die buitelanders se stemme ’n vae dreuning in die agtergrond.

Reinier is aan die woord. “Simon het jou gewys waar die boma met sy sementdam in ’n laagte lê. Die breë strook aan weerskante van die geëlektrifiseerde heining is skoongekap sodat enigiemand kan sien wanneer die olifante naby die heining is. Van die basiskamp af is die hele heining sigbaar. Hulle sal dadelik weet as die trop of die matriarg iewers probeer deurbreek. Daar bo kan hulle alarm maak sonder die gevaar om in ’n stormloop vertrap te word. Die ruigte in die middel van die boma bied weiding en skuiling vir die olifante. Omdat hulle nie vrylik ander weiveld kan soek nie, laai ons elke dag ’n kwota lusern vir hulle af.”

Alma talm by die buffettafel om te probeer peil hoekom die gas oor die olifantprojek ingelig word.

“Ek weet jy het by ’n vorige reservaat gesien hoe volgroeide olifantbulle die res van die trop help ontsnap,” neem Simon die relaas oor. “Gelukkig is hier net jong bulle. Hul tande is te kort om die boonste elektriese kabel op te lig sodat die ander die gewone heining daaronder plat kan druk en veilig uitbreek.”

As die besoeker so ’n ontsnapping gesien het, weet hy waarskynlik dat ivoor nie elektrisiteit gelei nie. Sy antwoord is egter onhoorbaar.

“Nee, hulle kan nie,” sê Simon in reaksie. “Ek en Anton Louw het die matriarg en haar tweede-in- bevel se tande in verhouding tot hul liggame gemeet. Beide se ivoor is te kort. Die kabel sal tot teen die basis van hul slurp gly, ’n deel wat besonder sensitief is vir ’n elektriese skok.”

Alma frons. Die man moet ’n BBP of lawaaimaker wees, want dit klink of Simon en Reinier hom probeer paai. Selfs sy sitplek is spesiaal gekies sodat hy ’n onbelemmerde uitsig het op die sonsondergang. Dalk is hy een van die boere wat onder die trop se plundering deurgeloop het wat nou wil seker maak die diere ontsnap nie weer nie.

“A, hier is jy, Alma,” sê Reinier toe sy naby hul tafel kom. Al drie mans staan op. Terwyl sy Simon en Reinier groet, draai die vreemdeling na haar toe.

Die skok tref haar soos ’n klap in die gesig. Sy ruk haar kop instinktief weg asof die hou werklik geval het, want die man is nie vir haar vreemd nie. Dis ook die laaste mens wat sy verwag het om hier – om ooit weer op enige plek, veral hier ver van die stad af – raak te loop.

Beyers Gunther. Die man wat sy nooit in haar lewe weer wou sien nie, het pas haar veilige toevlugsoord betree.

“Naand, juffrou Roux.” Dan weet hy ten minste haar van is nie meer Kriel nie. Sy stem is so diep soos sy dit onthou, en die huiwering toe hy sy hand uitsteek, is skaars merkbaar.

Hy is onseker, besef sy. ’n Trilling van tevredenheid vonk vlugtig deur haar. Dan het hy haar abrupte vertrek uit die televisieateljee geïnterpreteer as ’n direkte afjak soos sy dit bedoel het.

Die genoegdoening verdamp vinnig.

“O, dan ken julle mekaar.” Reinier se breë glimlag het gekrimp tot ’n vertwyfelde grinnik. Simon se oë het net effens vernou.

“Ken?” Tot haar verligting is haar stem stewig, kom die ironie in haar stemtoon goed deur. “Ek sal dit nie so positief stel nie. Ons het ontmoet.”

Sy ignoreer Beyers Gunther se groet, kyk ook sy hand mis, en trek die stoel oorkant Simon uit. Haar knieë bewe so dat sy dankbaar in die sitplek neerplof en haar rukkende vingers op haar skoot inmekaarvleg. Sy glimlag vir Simon, kyk oral behalwe na die man aan die bopunt van die tafel.

“Simon het Beyers pas vertel hoe julle vorder.” Reinier se poging om haar belediging te oorbrug misluk.

“Hannes sê jy en Simon wil met my praat?” verander sy die onderwerp en glimlag. Hopelik kom hulle dadelik tot die punt. Hoe gouer sy terug by haar chalet is om in te pak, hoe beter.

“Wil jy nie eers iets drink voor ons aandete bestel nie?” vra Reinier verbaas.

“Nee, dankie, ek eet vanaand saam met Hannes. Hoe gouer ek by die kamp kom, hoe beter.”

“Dan hou ek dit kort.” Daar is ’n waarskuwing in Reinier se oë. Toe maak hy keelskoon en glimlag in Beyers Gunther se rigting. “As jy Beyers ontmoet het, weet jy ook wat hy doen.”

O ja, sy weet en dra nog steeds die littekens daarvan. “Deeglik bewus daarvan, ja.”

“Dan het jy seker al uitgewerk hoekom hy hier is en waarom ons jou vanaand wou sien.”

Alma word koud. “Hy en sy Feit of Fiksie-span het gekom om ’n onderhoud tussen julle twee op te neem oor die werk hier op Thabayengwe?”

“Eintlik is hy hier om die verloop van die olifante se rehabilitasie te verfilm.” Daarmee slaan Reinier haar hoop plat. “Hy wil begin met onderhoude oor die rede vir die olifante se hervestiging hier en die probleme wat ons die eerste ruk ondervind het. Tussendeur sal hy Ena se stilfoto’s en kort video’s van die trop se aankoms en eerste dae deurkyk om die volle prentjie te kry. Elke dag se vordering sal afgewissel word met insetsels van die omgewing, Ena se video’s, onderhoude met die ander veldgidse en personeel.”

“Hy wil veral fokus op hul rehabilitasie,” voeg Simon by asof hy wil seker maak sy begryp die implikasies. “Die hoogtepunt sal wees om hul vrylating te verfilm. Wanneer jy die hek oopmaak en die trop beweeg deur na die res van die reservaat, sal hy daar wees.”

Sy sluk die protes wat in haar keel opstoot. Miskien probeer hulle die man met hul uitgebreide verduideliking op sy gemak stel ná haar kil ontvangs. Nou weet sy ten minste ook wat voorlê.

“Hy het vanmiddag reeds begin met skote van die hoofkamp en het ’n onderhoud met my en Simon gevoer,” hervat Reinier. “In die volgende paar dae wil hy die olifante se gedrag van die koppie af waarneem en verfilm, en later van naderby.”

As haar bene nie so lam van skok was nie, het sy lankal opgestaan en padgegee. Reinier wag ’n telling of twee asof hy verwag dat sy iets sal byvoeg.

Simon kom tot Reinier se redding. “Hy sal natuurlik konsentreer op hul reaksies in die kontroleperiode net ná vrylating. Hul verkenning van die veld buite die boma, interaksie met ander diere, met voertuie en besoekers, sulke goed. Enigiets wat die verandering in hul gedrag vir die kykers sigbaar sal maak.” Hy maak ’n vae gebaar.

“Ja, die belangrikste is natuurlik om vir die buitewêreld te wys dat hulle in die groter reservaat aangepas het en floreer,” bring Reinier die gesprek terug na wat hulle wil bereik. “Tussen opnames van die diere wil hy met jou en al die ander wat by die projek betrokke is, gesels oor julle belewenis van die proses.”

Sy staan reeds langs haar stoel toe Reinier nog met die laaste sin besig is en moet op haar tande byt tot hy klaar praat. “Selfs van die boma af sal Thata weet sodra ’n vreemdeling op die koppie opdaag. Dit sal die trop ontwrig en ons vordering belemmer, want hulle gaan negatief reageer, glo my. Miskien moet julle weer met Anton praat en vra of hy terug kan kom. Of dalk weet hy van iemand anders met meer ondervinding as ek wat bereid sal wees om by my oor te neem.”

Sy klem die rugleuning van haar stoel vas om die bewing van haar vingers te stil. As hulle Beyers Gunther naby die olifante wil toelaat, en hy boonop ’n onderhoud met haar wil voer, loop sy nou. Dis nog vroeg in die projek, betyds vir iemand anders om oor te neem. Sy het geheg geraak aan die diere en wil hulle nie graag in die steek laat nie. Om getuie te wees wanneer die getraumatiseerde diere aan Beyers Gunther en sy onderduimse planne blootgestel word, is egter ondenkbaar. Sy wil nie sien hoe hul harde werk ongedaan gemaak word nie. Dit sal die olifante net verder laat ly.

As die vent glo sy gaan dit ooit weer voor ’n kamera saam met hom waag, moet hy weer dink. “Wys hom eerder wat jy en Ena by die swartluiperdteelprogram doen,” sê sy vir Simon.

“Dis juis Ena se video oor ons teelprogram en die rehabilitasie van wildwesies wat die reservaat onder Beyers se aandag gebring het,” sê Simon droog. “Toe hy hoor die olifante kom na Thabayengwe toe, het hy die naam herken.”

“As alternatief sal ’n aand by die reënmaker se grot en ’n vertoning van Zoeloedansers die ideale materiaal wees vir sy tipe geselsprogram.” Sy glimlag onskuldig. Die plaaslike kruiekenner en medisynevrou se vaardigheid as akteurs sal hom allermins amuseer. “Haar vertoning is baie meer sensasioneel as ’n troppie verwilderde olifante. Julle sal my nou moet verskoon. Ek wil nie so laat by die boma opdaag dat ek die voertuig se ligte moet aanskakel en die olifante ontstel nie.”

Simon se selfoon lui gelukkig, daarom gryp sy die geleentheid om vaag te groet sonder om met enigiemand oogkontak te maak of een keer na hulle gas te kyk. Toe draai sy weg en loop chalet toe om te gaan inpak.

Want inpak sal sy moet. Al is Reinier nie ’n onbillike baas nie, was haar ongeskiktheid teenoor ’n gas onverskoonbaar. Haar aanstelling is vir die tydperk tot die olifante vrygelaat en ten volle ingeskakel is. As tydelike veldgids het sy geen sê oor hul hantering van die res van proses nie. As hulle publisiteit daarvoor wil hê, is dit hulle keuse. Niks verhoed hom om haar op grond van die petalje in die restaurant in die pad te steek nie. Die eerste deel van die projek is nog nie eens behoorlik op dreef nie, Reinier sal haar môre kan vervang.

Otto, die kamp se mak olifant, wag haar in by die trappe na haar chalet.

“Ja, Otto, jy sal die trop in my plek na vryheid moet lei.” Otto weet beslis van die vreemde olifante se koms, want die boma is skaars agt kilometer van hier af. Hoekom hy nog nie daar ’n draai gemaak het nie, verstaan sy eintlik nie.

Die growwe hare op Otto se slurp kriewel in haar nek asof hy haar ontsteltenis aanvoel. Toe hy haar gesig betas, glimlag sy oor die slymerige troospoging. Die warm lug wat hy oor haar wang blaas, maak haar bewus van die klammigheid van haar eie trane. Toe hy daaraan ruik, is dit soos ’n sagte soen op haar vel.

Dankbaar maak sy haar arms oop en sou hom omhels het as sy kon. Omdat hy sy slurp oplig en dit oor haar skouer vou, gee sy ’n tree nader tot teen hom sodat sy half onder sy kop en noemenswaardige tande staan.

Hy gee jou nie ’n drukkie nie, Alma. Hy gooi net sy slurp oor jou rug en laat rus sy ivoor op jou skouers terwyl hy in jou sakke soek na die lemoen wat jy saans van die buffettafel af vir hom aandra. Dis nie sy skuld dat die peslike joernalis jou daarvan laat vergeet het nie.

Sy bly so teen die dier staan met haar arms na weerskante uitgestrek, haar hande teen die olifant se voorbene, haar oor teen sy vel. Die tydsame klop van sy hart is vaag maar kalmerend, sodat sy onbewustelik begin tel.

Sy is . . . wás gelukkig hier, het meer as by Izindlovu tuis gevoel omdat sy in die boskampie nader aan die veld en diere van die reservaat is. Sy het selfs die mense begin vertrou, hoewel Reinier haar nog herinner aan die sakemanne waarmee sy in die stad te doen gekry het.

Hier het sy vrede gevind. Tot vanaand.

Terwyl die reusehart naby haar oor doef-doef, vloei vrede langsamerhand terug in haar lyf. Teen die sestigste klop beur sy effens weg. Twee minute is reeds langer as wat sy hier wou bly ná daardie ontmoeting in die restaurant. Die gewig van Otto se slurp hou haar naby hom. Hierdie dier ken en herken haar, al is sy nog kort op Thabayengwe en al vertoef sy elke aand net ’n kort rukkie in die kamp.

As sy hier weggaan, sal sy wel iewers werk kry as veldgids, en as sy ooit weer op Thabayengwe kom kuier, sal Otto haar steeds eien. Dit sal egter nie dieselfde wees nie.

Oplaas gee sy ’n tree agteruit. “Dankie, Otto, jy is ’n goeie vriend. Ek hardloop gou kombuis toe vir jou snoepgoed.”

By die tweede chalet van hare af staan iemand in die diep skaduwees onder ’n boom. Sy draf in die skemer verby en volg ’n ompad na die kombuis se agterdeur. Daar bedel sy twee lemoene by die eerste kelner wat verbykom.

Tien minute later bring Vusi vir haar ’n halwe sak van die sitrusvrugte en ’n plastiekbak. “Ons het gesien jy eet vanaand niks, Okhuluma nezindlovu. Die kombuismense het hierdie gemaak vir padkos. Jy moet vanaand ulale kahle.”

Sy druk sy voorarm dankbaar. “Ngiyabonga kakhulu, Vusi.”