Uittreksel | Leer my vertrou (RomanzaStoom)

Een
Riana haal diep asem en maak haar oë vir ’n volle drie tellings toe voor sy haar skouers doelbewus terugtrek en met ’n geforseerde glimlag die restaurant binnestap. ’n Uur tops, Riana, praat sy haarself moed in. Sestig minute van saam lag, gesels en vriendelik wees, dan kan sy hier uit wees en saam met haar kat op die bank gaan opkrul om die laaste paar episodes van Rookie op Netflix te kyk. Onthou net, herinner sy haarself, glimlag en lyk ten minste of jy probeer deel wees! Hoe meer entoesiasties sy deelneem, hoe beter is die kans dat haar vriendinne gaan glo sy is beter. Dan sal hulle haar weer vir ’n ruk uitlos tot die volgende red-Riana-van-haarself-projek opduik.
Sy moet toegee, as dit nie vir hulle ondersteuning was nie sou sy seer seker nie haar egskeiding oorleef het nie, maar soms klink pajamas en alleen oud word met ses katte, baie aanlokliker as hierdie bisarre situasies waarin hulle haar vriendelik forseer. Die sug vibreer deur haar lyf en kielie haar neus. Ag, sy weet alles kom uit ’n plek van liefde en omgee. Maar dan is daar ook so ’n klein persentasie kere wat dit voel asof hulle deur háár hulle eie drome, en noem dit maar luste, probeer uitleef. Hoe het sy tot daai gevolgtrekking gekom? Want ná elke ekspedisie, soos wat sy dit nou al begin noem het, is daar ’n week se kruisverhoor en indiepte-ondervraging oor die wat, hoe, waar, wanneer, en toe’s!
Soos vandag se absurde speed dating-uitstappie wat namens haar gereël is onder die pretensie van ’n groot liefdadigheidsorganisasie se fondsinsameling – sy weet hulle gaan elke liewe detail en elke liewe gesprek uitmekaar trek en haar berispe as sy nie haar vertellings met dik, helder vetkryte inkleur nie. Miskien moet sy haar selfoon só op die tafel sit dat sy alles kan opneem, dan kan sy mos net die opnames vir hulle op die WhatsApp-groepie stuur. Of dalk, as sy hulle op die agtergrond bel en laat inluister, kan hulle ’n lewendige uitsending geniet. O nee, miskien is dit nie die beste idee nie; hulle kan dalk net harder as sy begin vry na een van die vreemdelinge en dan sit sy weer met ’n bloedjong bewonderaar wat aspireer na bekruiperstatus! Haar selfoon begin lui net toe sy by die voorportaal instap.
Dit is Adri. “Ek is hier en ek is betyds. Ek stap nou na die ontvangs toe om aan te meld,” antwoord sy sommer uit die staanspoor met genoeg detail.
“Goed,” raak haar vriendin hoorbaar opgewonde. “En? Hoe lyk die menu?”
Haar innerlike sug spoel oor in die telefoon se mikrofoon. “Soos ek vir julle gesê het, is hier net ’n klomp jongetjies, Adri. Die meisie wat my naam op die plakker geskryf het, lyk of sy nog op hoërskool kan wees en die manne hier het almal sulke stywe broeke met skoene sonder kouse aan, maar wie is ek om te oordeel?”
“Rianaaaa,” word haar naam kwaai uitgerek. “Jy kan nie met daai negatiwiteit verwag jy gaan die aand geniet nie. Wees bietjie meer positief. Komaan, hierdie is vir ’n goeie doel!”
“Ek hoop jy verwys na die liefdadigheidsorganisasie, wat ek nog nooit eens van gehoor het nie bygesê, want ek sien geen doel hierin nie, maak nie saak hoe positief ek daarna kyk nie.”
“Wag. Byt vas, Karen wil conference call, ek bel haar gou. Intussen, vertel my solank hoe lyk die opset daar.”
“Wel, hier is darem gratis verwelkomingsdrankies.” Sy sluk haar groeiende misnoeë in een teug met ’n glas goedkoop vonkelwyn af en vat sommer nog ’n glasie toe sy die leë een neersit. “Die restaurant is baie deftig. Baie soos die Lupa Osteria-franchise waarvan ons so hou, maar dié een is bietjie meer outentiek. Die restaurant lyk binne soos ’n straat in Italië. Ek is aangenaam verras. Hier is selfs ’n outydse fiets en ’n waterfonteintjie hier binne. Wow, en met die musiek en dekor voel dit werklik of jy in Italië is.”
“Jy sien, die spreekwoordelike ligpunt aan die einde van die tonnel.” Dis Karen wat deel word van die gesprek.
“Ek gaan beslis weer hierdie plekkie kom besoek.” Riana klink beïndruk. “Hier is werklik moeite gedoen. Die wynkelder en dekor weerspieël beslis Italiaanse karakter, styl en tradisie. Hier is selfs suurlemoenbome hier binne! Het julle geweet suurlemoene speel eintlik ’n baie groot rol in die tradisionele Italiaanse leefstyl? Nie net in hulle kosse en likeurs nie, maar as ’n paletskoonmaker ook. Dit word selfs as simboliek by godsdienstige gebruike geïnkorporeer. In sekere dele van Rome word dit gesien as ’n statussimbool.”
“Ek stel nie belang in die suurlemoene nie, Riana, hoe lyk die talent daar?” knip Karen haar kort.
Riana se oë rol vanself. “Ek het reeds vir Adri gesê die outjies hier is maar skraal en tingerig. Ek is seker daarvan hulle skoonheidsroetines en haarafsprake kos meer as myne.”
“Dis nie moontlik nie, daai koperbruin haredos van jou kos seker ’n stewige bedrag om te onderhou, maar dit pas jou beautiful,” lê Karen haar eiertjie.
“Ek kan jou belowe sy het nog nie eens behoorlik gekyk nie, Karen, dalk twee sulkes met die intrapslag gesien en besluit almal lyk so. Sy is nou te beïndruk met haar suurlemoene.”
“Nou maar dan moes julle maar self gekom het,” gee Riana bes.
“Getroude mense mag nie deelneem nie, Riana,” sê Adri en voeg by: “Maar bo en behalwe dit, jongste se konsertoefeninge is elke aand die hele week en manlief oudit, hy kan nie nou af kry nie.”
“Sou hy werklik dat jy gaan deelneem het? My man sal die horries kry as ek aan so iets deelneem, al is dit net vir die pret en vir ’n goeie doel,” sê Karen. Haar vriendinne begin nou met mekaar praat asof sy nie bestaan nie.
“Hy sou saamgegaan het en dan sou ons aan die einde van die aand geskinder het oor al die mans en vrouens wat ons ontmoet het, voor ons besef hoe gelukkig ons is om mekaar te hê en dit dan gaan vier het met ordentlike seks by die naaste hotel,” kom dit laggend van Adri.
“Dat julle net vier kinders het, is ’n wonderwerk. Maar oukei, met ’n lyf soos joune kan geen man seker sy hande tuishou nie,” mor Karen.
“Kyk wie praat. Wie se man dring daarop aan om gereeld ’n seksnaweek te bespreek waar julle soos tieners tekere gaan van Donderdag tot Sondag?”
“Ek sal nou nie ons wegkomnaweke só beskryf nie. Daar is baie meer slaap en TV kyk betrokke as seks. Maar ja, dit bring ons elke keer weer op track om so bietjie alleentyd weg van die kinders en werk en alles te geniet.”
“Oukei, die verrigtinge gaan begin,” jok Riana en raak haastig. “Ons praat later weer.”
Sy luister nie verder nie en druk die foon dood.
Sy gun haar vriendinne hulle suksesvolle huwelike, al weet sy dit kos werk en baie genade om te wees waar hulle nou is. Maar sy kan steeds ná twee jaar nie vrede maak met die feit dat sy juis die een moes wees wat die egskeidingstatistiek in hulle groepie geword het nie. Met Karen en haar man se wipplankverhouding het sy en Adri amper gedink húlle is die paartjie wat die paadjie skeihof toe gaan stap, en toe is dit al die tyd sy.
Haar derde glasie vonkelwyn is net klaar toe daar ’n aankondiging is dat almal asseblief in die voorportaal moet gaan aanmeld. Nou maar goed, sug sy weer, laat die sirkus begin. Gelukkig het sy ’n baie oulike plekkie ontdek wat sy beslis in normale omstandighede weer gaan kom besoek. Sy moet hulle kos ook probeer. Sy is stout vir ’n ordentlike pasta en nie-kommersiële pizza’s, oeg, en sy kan maklik omgekoop word met ’n tiramisu!
Desperaat gryp sy na die laaste glasie vonkelwyn wat alleen op ’n skinkbord staan. Die opgewonde geselskap word bymekaargemaak en die reëls verduidelik. Die dames moet elkeen ’n tafel gaan kies vir die aand. Elke drie minute sal ’n klok lui, dan moet die mans opstaan en roteer. Lam ter slagting, sluk sy haar woorde weg voor dit hardop uit haar mond borrel en stap agter die groep meisies aan na binne. Sy maak seker om die mees weggesteekte hoekie te kry in die hoop dat die mans haar dalk sal oorsien.
Die geluksgodin is egter nie aan haar kant nie want met die eerste rondte storm twee jongmans op haar tafel af.
“Verdomp,” mompel sy onderlangs en vee onsigbare kreukels op haar romp uit voor sy braaf haar kop lig en vir die twee glimlag.
“Kom nou, menere, een op ’n slag, julle ken die reëls,” probeer sy so vriendelik moontlik wees.
“Jy lyk asof jy ons albei saam sal kan hanteer,” grinnik die een outjie verby die gesuig aan sy vape.
“En wat gee jou daai idee?” vra sy versigtig en probeer om nie openlik te gril vir die versmorende soet reuk wat om hulle hang nie.
“Wel, jy is maklik in jou veertigs, so jy sal ons ’n ding of twee kan leer. Ons is game.”
“Werklik?” Dit borrel warm binne haar. “Vir wat is julle nogal game?”
Die stil enetjie kry skielik lewe en tree vorentoe.
“Wel, ons is drie, jy ’n pragtige vrou en ons twee gewillige jong manne. Wat meer moet ek sê?”
“Wel, as ek julle een ding kan leer vanaand, is dit maniere. Weet julle ma’s julle is hier, hmm?” vra sy verontwaardig en kyk van die een na die ander.
“Nee, Tannie,” bloos die Vapesuigertjie.
“Nou ja toe, gaan speel op ’n ander plek. Ek het nie tyd vir ’n klomp wulpse tieners nie.”
“Ons is nie meer tieners nie, Tannie. Ek is twintig en hy is vanaand een en twintig.”
“O, en julle het sy een-en-twintigste kom vier in die hoop dat julle gaan score by ’n cougar?” Die skulderkenning kleef aan hulle hele wese. “Ag nee man, ek gaan nie my tyd mors met twee onervare virgins nie. Gaan soek iemand van julle portuur.” Vies vir haarself dat sy so kras geraak het van kwaadgeid, ignoreer sy hulle verder en gryp na haar selfoon. Hierdie is die laaste keer wat julle my in sulke ongemaklike situasies inboender! Ek het in my lewe nog nooit so goedkoop en desperaat gevoel nie.
“Kan ek maar hier by jou kom wegkruip, asseblief?” onderbreek ’n diep stem haar tirade en sy kyk op.
“Ek stel nie . . .” begin sy, maar verloor terstond haar woorde. Die man wat voor haar staan, is haar ouderdom of ’n bietjie ouer as sy. Hy is, soos haar vriendinne dit sal noem, al ’n silwer hings, of so iets.
“Asseblief, ek is nes jy, hier onder protes. Ek het gehoor wat daai twee drommels kwytgeraak het, maar ek kan jou belowe my storie is erger. Kan ek sit, asseblief?”
Die man lyk so benoud, sy kan nie anders as om sameswerend te giggel toe hy met die knik van haar kop so vinnig gaan sit dat hy amper die tafel omstamp nie.
“Wat’s jou storie?” kry sy dit uit, haar hart kloppend in haar keel. Jinne, maar die man is verskriklik aantreklik, nee sexy, Hollywood-mooi!
“Die eerste tafel waarby ek gaan sit het, het die meisie my gevra om haar van BDSM te leer. Ek lyk glo asof ek ’n goeie dom sal wees. Wat die vet is ’n dom?”
Sy lag hardop en bied haar halwe glas vonkelwyn vir hom aan, wat hy gretig vat en drink.
“Dankie, my naam is Jacques.” Hy het sy ewewig herwin en glimlag vir haar.
“Riana,” erken sy die groet. “Is jy ook geboelie om hier te wees?”
“Laat ek raai, jy is ook hierheen gedwing onder die dit-is-vir-liefdadigheid-mantel.”
“Dit, en jy-moet-bietjie-uitkom-en-die-lewe-geniet.”
“Hmm,” grinnik hy en sit terug in sy stoel. “So, dan ken jy ook die ons-doen-dit-vir-jou-bogstorie.”
“Einste,” erken sy met ’n glimlag wat haar mondhoeke styftrek.
“Hoekom laat ons toe dat ons vriende ons so boelie?”
Sy lig haar skouers skrams. “Want ons weet hulle bedoel dit net goed, en . . .”
“En ons is suckers vir punishment,” maak hy haar sin klaar toe sy lomp na woorde begin soek.
Laggend sit sy terug en bestudeer hom openlik.
Dit is nou al daai vonkelwyn se borrels wat na haar kop toe gaan en haar so braaf maak, besluit sy op die plek. “Wel, ek moet saamstem, jy sal nogal ’n goeie dom uitmaak,” tart sy en lag vir die frons wat donderbuie voorspel.
“Spot maar, jy was nie op ’n veel beter plek as ek nie. Hierdie kinders het wilde idees lyk dit my.”
“Hmm, en ek dink ook nie regtig hulle besef wat hulle vra of sê nie. Hulle kyk te veel flieks. Daai hele Fifty Shades of Grey-storie romantiseer die hele BDSM, noem dit maar seksgenre, heeltemal uit proporsie uit.”
“Genugtig, nou snap ek die hele dom storie!” Hy skud sy kop ongelowig. “Dit is eintlik skrikwekkend.”
Sy lag weer toe hy opsigtelik bedruk met sy hande oor sy gesig vee en sy kop skud.
“Gelukkig het ek daai een gesystap soos jy met die twee pornografieverslaafdes. Selfde storie. Die webtuistes blaas die hele threesome-storie op en eintlik is dit een groot gemors en nie eens naby aan die waarheid nie.”
Gretig vat hulle elkeen ’n glas vonkelwyn wat deur ’n kelner aangebied word.
“Hmm, daai klink vir my soos ’n storie wat al oorvertel kan word uit ondervinding.” Sy raak al gemakliker met die vreemdeling oorkant haar.
“O, nee, Riana,” begin hy en kyk haar direk in die oë. “Ek deel nie my vroue of myself nie, ek is nogal besitlik op daai gebied. Maar dit laat my nou wonder, jy wat soveel kennis van hierdie Fifty Shades of Grey het, praat jy uit ondervinding of nuuskierigheid?”
“Beslis nuuskierigheid,” antwoord sy sonder skaamte.
“Hou verby,” grom Jacques toe ’n gretige adam langs hom kom staan. Duidelik afgewater loop die jongman verder. “Jy gee nie om as ek net hier sit vir die res van die aand nie?”
“Asseblief. Jy durf nie daai stoel verlaat nie!”
Dit is nou Jacques se beurt om hartlik te lag en sy kan nie anders as om lustig na die klank daarvan te luister nie. Selfs sy lag is sexy, indien dit moontlik is om waar te wees.
“Nou maar goed, aangesien ons nou vir die volgende uur in mekaar se geselskap gaan wees, kan ons dan sekerlik deur ’n paar vrae werk,” maak hy homself gemaklik en haal ’n papier uit sy baadjie se sak.
Die silwergrys pak wat hy aanhet, pas hom soos ’n handskoen, mymer Riana. “Het julle waarlik ’n lys van vrae gekry?” vra sy toe sy skielik onthou om darem nie net te staar nie.
“Ons het, hulle noem dit conversation starters, so kom ons begin by die boonste een. Oukei wag, ons ken darem al mekaar se name. Hmm, volgende vraag. Hoe oud is jy en wat is jou sterreteken?”
Sy kan nie anders as om vir sy geveinsde konsentrasie en erns te lag nie. “Nou goed. My naam is Riana Brink, ek is drie en veertig jaar oud en is ’n Waterdraer, dink ek?”
“Aangename kennis.” Hy knik gul met sy kop. “My naam is Jacques Fourie, ek is nege en veertig jaar oud en is ’n Skerpioen toe ek laas gekyk het.”
“Aangename kennis,” knik sy terug en glimlag breed. Hy lyk nie amper vyftig nie. “Goed, volgende vraag. Hoe lank is jy single, of is jy in ’n oop verhouding?”
“Jy is nie ernstig nie. ’n Oop verhouding? Staan dit werklik daar?”
“Ek is, kyk, dit staan hier,” sê hy en leun oor om vir haar te wys.
Sy reuk betower haar. Haar hartklop skop ’n rat hoër in en sy moet haarself dwing om normaal asem te haal.
Sy lees verder. “En weet jou maat jy is hier vanaand? Sjo! Nou goed dan. Ek is enkel vir omtrent twee jaar en is nie tans in enige verhouding nie en is ook nie op soek na enige verhouding nie, wat nog van ’n oop verhouding met meer as een probleem.”
“Geskei?” vra hy en sy knik net. “Hoe lank was julle getroud?”
“Amper twintig jaar,” antwoord sy met ’n sug.
Hy fluit liggies en sit terug. “Ek is jammer, dit kan nie maklik wees nie.”
“O nee, dit is baie maklik, dankie,” borrel dit beslis uit haar mond.
“Ek neem aan dit was dan nie ’n baie gelukkige huwelik nie.”
Dit was, eens op ’n tyd, antwoord sy woordeloos. “Meneer Fourie, ek dink jy wyk van ons vraelys af,” sê sy egter streng.
“O ja,” sê hy en maak kastig keelskoon. “Waar was ons? Ek is al aan en af enkel vir amper tien jaar. Ook geskei maar ons was skaars vyf jaar getroud, alhoewel ons altesaam seker nege jaar saam was, as dit tel?”
“Dit tel, so eintlik was ek en my eks dan vier en twintig jaar saam gewees.”
“Ouch,” sê hy en trek sy gesig in ’n pyntrek, “en nee, ek glo nie aan hierdie sogenaamde oop verhoudings bog nie. Hoe bou mens vertroue en samehorigheid as jy weet daar is ’n derde wiel aan die wa?”
“Ek sekondeer. Been there done that, burnt the T-shirts.”
“Oukei, ek sê jou wat. Ek is vreeslik nuuskierig, vertel my jou storie en dan vertel ek jou my storie dan is dit verby.”
“Show me yours and I’ll show you mine?” spot sy weer en wonder vaagweg waar hierdie speelse sy van haar vandaan kom.
“Ons kan dit ook doen ja,” sê hy en knipoog stout vir haar.
Kan ’n mens nog bloos op haar ouderdom? wonder sy toe ’n heerlike hitte vanaf haar bors in haar nek opstoot. Of is dit daai perimenopousale warm gloede wat sy al gehoor het haar vriendinne oor kla? “Ek het my man vir die eerste keer in ’n affair uitgevang rondom ons tiende huweliksherdenking. Alhoewel ek weet daar was ander kere, dalk nie seksueel nie maar steeds, kon ek dit net nooit bewys nie. Ek het hom vergewe en hard aan ons huwelik gewerk. Ons het ons huweliksbeloftes hernu en ek het geglo ons is genees, maar omtrent ses jaar later het dit weer begin maar dié keer was hy slimmer om dit weg te steek. Teen die tyd wat ek konkrete bewyse gehad het, was daar drie of vier ander vroue. Seksueel en kastige skadelose flirtasies. Ek het weer vergewe maar hy kon nie ophou nie. Nie met die vroue of die drinkery nie, so toe hy my die laaste keer weer los per WhatsApp, toe besluit ek net ek gaan hom nie weer terugvat nie.”
“WhatsApp nogal? Ek is jammer om dit te hoor, ek verstaan nie hoe iemand so iets aan iemand anders kan doen nie.”
Sy begin ongemaklik in haar stoel rondskuif.
Sy verpes dit om oor haar huwelik te praat, miskien omdat sy voel sy het iewers gefaal.
“My egskeiding was nou weer deur en deur my skuld. Ek het my uit my liewe vroutjie en ons huwelik gewerk, party dae tot sestien uur per dag. Ons het vreemdelinge vir mekaar geword. Sy wou berading kry, my dwing om minder te werk en meer tyd tuis deur te bring, en ek was so dom om te dink werk kom eerste, so ek het geweier. Sy het mos geweet ek is hardwerkend die dag toe ons getrou het.” Hy kyk nadenkend in sy glas. “Ek was toe nog ’n buffel. Was so gesteld om die korporatiewe leer te klim dat ek nie gesien het hoe ’n sot ek eintlik was nie.”
“Jy klink baie spyt,” sê sy sag. Die seer is oor sy gesig ingekleur. “Het jy haar al probeer terugwen?”
“Ek is spyt, want ek het ’n pragtige mens se grootste seer veroorsaak. Nee, ek het besef die jong liefde wat ons gehad het, was nie genoeg om ons gebrokenheid te red nie. What was, will never be again. Wat ek my wel aan kan troos, is die feit dat sy ’n wonderlike man, so jaar ná ons geskei is, raakgeloop het en hulle is nog steeds dolgelukkig en verlief en het kinders en alles.”
“En jy?” waag sy ’n persoonlike vraag.
“Ek? O, ek is baie gelukkig nou, dankie. Jy?”
“Ek is ja, al glo my vriendinne my nie.”
“Dit is omdat die samelewing mens laat glo jy kan nie alleen geluk vind nie, dit moet altyd saam met iemand of as gevolg van iemand wees. Ek dink nou weer anders. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie geluk. Ons het net onsself nodig.”
“Ek sekondeer weer,” reageer sy en lig haar glas in ’n saluut. “Net een probleem met daai teorie.”
“Ek luister,” antwoord hy met ’n glimlag wat haar dadelik van binne laat warm word. Of wag, sy is reeds warm. Hoeveel glasies vonkelwyn het sy nou al gehad?
“Ons het mekaar tog nodig, maak nie saak hoe ons daarna kyk, of daarteen stry nie.”
Sy glimlag raak breër en instinktief weet sy dat sy afleiding nie haar werklike siening gaan weerspieël nie. “Ja, seks maak dinge nogal gekompliseerd.”