Uittreksel | Leer my liefkry

Een
“Liandrie Pretorius, jy’s sowaar jou laaste regdenkende varkie kwyt!” kla haar vriendin terwyl sy nog fluks besig is om haar tasse te pak. Ja, dink Liandrie by haarself, hierdie hele situasie klink absurd, en selfs te goed om waar te wees, maar sy het die kriteria geslaag en die kontrak is geteken. Sy kan daarom nie nou kop uittrek nie.
Of kan sy?
Nee, sy het nog nooit teruggestaan vir ’n uitdaging nie, hoekom sal sy nou begin? Sy het nogal rof grootgeword op ’n plaas met drie broers, sommige sal sekerlik sê sy’s ’n klein bietjie van ’n rabbedoe, maar dit het haar juis nou gehelp om ’n werksaanbod van die millennium los te slaan.
“Kalmeer, Janie,” probeer sy paai en gooi nog ’n paar kouse in haar tas. “Jy het ons nou op die life360-toep geregistreer en ek belowe om my location altyd aan te hou. Jy gaan die hele tyd weet waar ek is.”
“Ag man, dit laat my mos nou geensins beter voel nie. Skobbejakke gooi heel eerste selfone weg. Human trafficking is real, Lee,” word haar bynaam na aan trane geneul.
“Sal jy beter voel as ek jou ook toegang gee tot my Netstar?”
“Dié man is ’n multimiljoenêr . . . Dink jy werklik hy gaan jou Polo’tjie gebruik as ’n getaway car? As hy slim is, stuur hy iemand met jou kar weg in ’n ander rigting en dan . . .”
“Wag nou!” skerm sy en vat haar vriendin se hande in hare voor sy haar ernstig in die oë kyk. “Moenie jouself so op hol jaag nie. Jy was saam met my na hulle kantore toe; alles is legit, my liewe Janie.”
“Ek hoor jou en ek het gesien. Ek weet, maar komaan, Lee, wees eerlik. Waar behalwe in Hollywood-flieks gebeur dinge soos hierdie? Ek meen, dink aan die uiterstes waartoe die man gegaan het om nié ’n PA te kry nie. Dit is verstommend. Met al daardie vereistes wat hy gestel het, is die kans dat hy iemand sou kry wat kwalifiseer vir die pos, een uit ’n miljoen. Jy het sélf gehoor: Hulle het die pos al vir drie jaar geadverteer!”
“And along came I,” glimlag Liandrie breed en maak ’n joviale buiging voor haar vriendin. “Alles gebeur op die regte tyd, Janie. Hulle het net gewag vir daai een uit ’n miljoen om hulle lewe te kom inkleur. And here I am.”
“Ek sien rooi, pienk, geel, pers en oranje vlaggies en jy is so opgewonde soos ’n Labrador wat ’n tennisbal in die swembad sien!” grom Janie skepties.
“Kyk, ek moet sê, ek verwag nie om met ope arms verwelkom te word deur ene meneer Liham Vermaak nie, maar ek gaan dit laat werk. Hy het nogal tot ekstreme uiterstes gegaan om nie iemand te kry nie; ek verwag dus nie ’n verwelkomingspartytjie nie en berei myself emosioneel voor dat hy dit dalk aspris moeilik vir my gaan maak . . . Maar jy ken my, my liewe Janietjie. Ek is hardkoppig en het ’n vasberade streek in my. Hierdie is ’n droom wat bewaarheid word, en daarom gaan ek met naels en tande baklei om dit te laat werk. En jy weet ek . . .”
“Liandrieee!” stuit Janie die stormvloed woorde met ’n uitroep. “Die man is ’n perv! Ek kan nog oor die vereiste kom dat die kandidaat tussen die ouderdom van drie en twintig en sewe en twintig moet wees, maar dan boonop enkellopend én ’n maagd daarby? Dit maak my van die staanspoor af vreeslik kriewelrig. Eers was dit alles goed en wel, want ek was vas oortuig dit was net ’n grap, maar nou is dit realiteit en net te vreemd.”
“Wat is so snaaks daaraan? Die feit dat daar nog min maagde is op ons ouderdom, of die feit dat die man – soos die prokureur dit interpreteer het – iemand soek wat kan bewys dat sy volgens streng reëls en morele waardes leef? Iets wat daarop dui dat sy standvastig is.”
“Ag, dis twak daai, “ klik Janie haar tong vies. “Jy kan ’n maagd wees met hoë morele waardes, maar steeds nie hond haaraf maak van jou eie lewe nie. Jy is dan ’n bewys daarvan. Hierdie ou gaan jou toesluit in sy mansion en jou gebruik vir sy perverse fantasieë. Ek sien sommer reeds die frieken hoofopskrifte op sosiale media.”
“Ai, Janie,” sug Liandrie, nou self na aan moedeloosheid. “Ek dink werklik die maagd-klousule was net nóg ’n manier om te verseker dat hy nie iemand kry nie. Kom ons lees weer die advertensie deur. Hier. Lees jy terwyl ek my nagklere inpak, dan sal jy sien dat seks die laaste ding op hierdie man se brein was toe hy dié posbeskrywing geformuleer het.”
Dikmond vat Janie Liandrie se foon by haar en begin die advertensie se skermskoot hardop lees. “‘Persoonlike assistente, administrasiekoördineerder. Aansoeke vir bogenoemde pos word ingewag vir die hoofdirekteur van Vermaak Industrieë. Die geskikte kandidaat moet oor die volgende vaardighede beskik: goeie interpersoonlike- en telefoonvaardighede, vermoë om elektroniese dagboeke na behore te bestuur, rekenaarvaardigheid . . .’ Blah die blah-blah . . . ‘bereidwilligheid om konferensies, vergaderings en byeenkomste by te woon . . .’ Blah-blah. ‘Basiese kennis en versorging van kontraktuele dokumente te hanteer. Tikspoed nie minder as veertig woorde per minuut nie. Moet bereid wees om 80% van die tyd weg te werk, sowel nasionaal as internasionaal. Besprekings van verblyf en vervoer te hanteer . . .’ Blah die blah-blah.”
Liandrie luister na haar vriendin wat die vereistes waaraan sy weet sy gelukkig voldoen, vluglees. Sy het immers ’n graad in regte en besigheidsbestuur. Sy sal net aan haar tikspoed moet werk. Met die onderhoud kon sy die vereiste spoed handhaaf, maar het heelwat foute gemaak. Dalk omdat die teks tydens die toets aan haar voorgelees is en haar senuwees geknaag het. Indien sy die teks self kon lees, of iets uit haar kop moes tik, sou dit baie vinniger en vlotter gegaan het. Gelukkig was hulle meer geïnteresseerd in haar tikspoed as akkuraatheid.
“Aha! Hier begin dit,” dring Janie se stem weer tot haar deur. “‘Die geskikte kandidaat sal ook streng aan die volgende vereistes moet voldoen om ’n suksesvolle aansoek in te dien: vroulik, met natuurlike blonde hare, verkieslik skouerlengte of langer, groen oë en ligte velkleur . . .’ Besef jy hoe skaars is blonde hare en groen oë?! Gewoonlik is dit blonde hare en blou oë.”
“H’mm . . . nie so skaars as ék dit het nie,” probeer Liandrie ’n grappie maak deur haar wimpers te fladder, maar sy kry net ’n kwaai kyk.
“‘Naam moet begin met ’n L . . .’ Regtig?! Maar wag, dit raak selfs nog meer bisar, nè?” Weer kry Liandrie ’n geïrriteerde kyk. “‘Lengte nie langer as 1,6 meter nie. Gewig nie meer as 65 kilogram nie. Enkellopend, met geen afhanklikes nie. Moet ’n maagd wees met geen mediese toestand soos kroniese medikasie en/of allergieë nie. Die kandidaat moes in ’n stabiele gesinsopset grootgeword het, verkieslik met biologiese ouers wat steeds getroud is ten tye van die aansoek. Geen vorm van dwelmmisbruik of -afhanklikheid nie, en met sober gewoontes. Nie ’n roker nie, insluitend vaping. Die suksesvolle kandidaat moet ’n goeie balans handhaaf ten opsigte van skoonheidsversorging . . .’ Ek weet nie eens mooi wat daai een beteken nie,” onderbreek Janie haarself weer. “‘Die suksesvolle kandidaat moet gemaklik wees in formele drag, maar ook om by tye baie informeel te kan wees.’ Aarde, waarop was die ou toe hy hiérdie goed uitgedink het? Waddehel beteken dit?” hou sy op lees.
“Ek het dit maar net gesien as iemand wat hou van opdress en cinderella speel, maar ook iemand wat met tye kan downdress en kan gaan visvang. Van balkostuum na jeans en tekkies, jy weet? Die balans van die skoonheidsversorging is seker maar net ’n waarskuwing dat hy nie gaan duld dat jy ure der ure in ’n salon spandeer nie. Miskien is dit ’n waarskuwing om nie tyd te verkwis om jouself op te dollie nie en dat jy altyd stiptelik op tyd moet wees. Altans, dit is my interpretasie.”
“Dan kon hy mos net so gesê het? En jy is seker die enigste persoon in die heelal wat met sukses die up- en downdress-ding kan doen. Hierdie is darem ook nie ’n probleem vir jou nie, jy weet hoe om met geld te werk,” mor haar vriendin en lees verder. “‘Finansieel stabiel, en mag nie onder administrasie wees nie. Goeie gemiddelde kredietrekord. Kandidaat moet meer as een tipe voertuig kan bestuur.’ Wel, daar slaag jy met vlieënde vaandels! Jy kan wat als ry? Karre, outomaties en handrat, bakkies, trokke, trekkers, forklifts, selfs drie-en vierwiele. En dan nog bote ook!”
“Ek kan nie swaarvoertuigtrokke bestuur nie. En ek dink nie ’n jetski en visvangbootjie word in hierdie konteks as ’n voertuig geklassifiseer nie.”
“H’m, altyd beskeie jy,” klik Janie haar tong en lees verder: “‘Kandidaat moet in besit wees van ’n geldige paspoort met alle inentings op datum.’ Ons het nie gevra nie, maar tel dit vir die Covid-ene ook? Hierdie ou is omtrent die enigste nar wat sin maak in hierdie sirkus – die feit dat jou reisdokumente op datum moet wees. Die res is ’n klomp snert. Flippit, jy moet dan selfs ’n doktersondersoek en ’n persoonlikheidstoets ondergaan het!”
“Daai persoonlikheidstoets was nogal fun,” onthou Liandrie. “Niemand kan sê dat hierdie man nie weet wat hy wil hê nie,” kom sy in dieselfde asem op vir haar nuwe werkgewer.
“Die woordjie ‘scam’ staan regoor hierdie advertensie geskryf, Lee! Enigiemand kon oor driekwart van dié goed gejok het, maar niemand het eers probéér nie. Hulle het dadelik gesien hoe verregaande hierdie hele ding is.”
“Dit is dalk hoekom hulle die sesmaandeklousule ingewerk het; sodat iemand wat op hul aansoek gelieg het, teen daai tyd ontbloot sou wees. Niemand kan vir so lank hulle ware self wegsteek nie.”
“O, werklik?” trek Janie haar wenkbroue hoog en dramaties op. “Ek ken wel iemand.”
“Ja, ja,” kom dit traag met ’n sug oor Liandrie se lippe. “André het ons almal ’n rat voor die oë gedraai.”
“Vir vyf jaar, ja. Is dit oor hom wat jy hierdie mal perd opsaal, Liandrietjie?”
“Nee,” kom die antwoord vinnig, huiwer dan. “Miskien tog?” gee sy toe en trek haar skouers op.
“André is die een wat die dubbele lewe gelei het, jy het geen skuld daaraan nie. Onthou dit tog, asseblief.”
“Ek weet, Janie,” sê sy en vervolg stilweg: “Ek wonder net soms steeds hoekom ek dit nooit agtergekom het nie. Wat kon ek anders doen om dit te verhoed? En hoekom moes ek hóm van alle visse in die see leer liefkry?”
“Jy moet ophou om die fout by jou te soek. Hy is die een wat jou om die bos gelei het. Niks wat jy gedoen of nie gedoen het nie, regverdig sy gedrag nie, Liandrie. As jy nie uitgevind het nie, twyfel ek of hy ooit die guts sou gehad het om jou self te vertel.”
“Miskien maak die feit dat dit ’n ander man was, dit so effentjies beter? Ek weet nie. Dit klink seker vergesog, maar as dit ’n ander vrou was, sou ek dit dalk nie so maklik gevat het nie.”
“Nee, dit maak eintlik sin. Meer sin as wat hierdie nuwe baas van jou maak, by the way.”
“Dink só daaraan: Ek gaan Suid-Afrika sien, my liewe liefste vriendin, en as ek dit reg verstaan, sommer die hele wêreld ook. Dit is iets wat ek nog altyd bitter graag wou doen. Travel, travel, travel! Ek kan op my een hand tel hoeveel keer ek buite die grense van die Vrystaat was, en ek is amper agt en twintig jaar oud! Ek wil my vlerke gaan sprei en daar buite gaan vlieg en alles gaan beleef en leer ken en . . . Ag, ek’s net só opgewonde en gaan regtig nie toelaat dat ons paranoia, of dalk ’n suurknolbaas, my droom in ’n nagmerrie verander nie.”
“Nog ’n ding wat jy ook net-net gemaak het – jou ouderdom. Nog vier maande en jy was te oud vir die aansoek!”
“Sien,” straal Liandrie tevrede. “It is meant to be!”
“Nee, man! Ons weet nie eens hoe lyk die man nie; ons kon hom nêrens op sosiale media opspoor nie. Die paar berigte is sulke agterkop en sydelingse foto’s, so asof hy werklik dit sy missie maak om nie gesien te word nie. En sy prokureur sê net: Jammer, geen foto’s word uitgedeel nie. Hy’s ’n baie private persoon. Dodgy verby!”
“Sy gesig is dalk geskend, of hy’s skeel of . . . of iets. En met sy geld kon hy dit regkry om uit die publiek se oog te bly en die hele jammerte en boeliery wat dalk mag ontstaan het, sodoende te vermy.” suig Liandrie ’n paar verskonings uit haar duim.
“Nee, o donnersdag. Daar’s geen salf aan jou te smeer nie! Kom, pak klaar dat ek jou vir ’n laaste keer na ons koffieplek toe kan vat vir wortelkoek en cappuccino. ’n Mens weet nooit of dit dalk jou laaste keer is wat jy gaan eet nie,” sug haar vriendin erg oordrewe.
“Genade, Janie. Jy’t jou beroep gemis. Jy moes ’n dramaturg of iets geword het.”
Liandrie stop vir die laaste keer by ’n vulstasie voor sy haar bestemming bereik. Sy het genoeg brandstof in haar motortjie, maar sy wil net gou weer seker maak van die instruksies wat sy per e-pos ontvang het. Ook om haarself gou ’n bietjie op te knap. Net hare kam en ietsie vir die lippe. Sy weet meneer Vermaak is nog in die buiteland en kom eers oor twee dae terug, maar sy wil ’n goeie indruk maak by die res van die personeel. Sy het weliswaar net gemaklike jeans en tekkies aan vir die lang rit vandag, maar sy glo nie iemand gaan haar dit kwalik neem nie. Dit is immers boonop ’n Saterdag, so wie gaan haar nou in formele kantoordrag inwag?
Goed. Volgens haar GPS is sy nog sowat dertien kilometer van die huis waar sy op die perseel in ’n woonstel gaan bly. Sy moet by die sekuriteitskompleks teken vir haar persoonlike toegangskaart wat haar kom en gaan sal vergemaklik. En dan’s daar ook nog ’n kode vir die huis se hek: 1030. Nie juis baie oorspronklik nie, trek sy ’n wenkbrou op. Iemand sal haar glo by die hoofhuis inwag om haar woonstelsleutels vir haar te gee en parkeerplek aan te wys. Sy moet net eers by die hoofingang stop. Deeglik, mymer sy. Daar is selfs foto’s van hoe die ingange lyk en waar sy moet stop.
Sy sal notas moet neem, want duidelik is dit dié tipe noukeurigheid wat van haar verwag gaan word.
Eintlik is dit ’n bedekte seën dat haar baas nog nie by die huis nie. Dit sal aan haar die geleentheid bied om eers in te burger voor die groot vuurdoop kom.
Sy kry die kompleks maklik en volg die instruksies soos sy dit nou al gememoriseer het. Sy het vooraf geweet sy gaan in ’n mansion bly, soos Janie dit beskryf het, maar niemand kan voorbereid wees op dit wat sy nou voor haar sien nie. Dit is beslis die gesogste voorstad in Pretoria! Nogeens Hollywood-materiaal, verkyk sy haar aan alles.
Sorgvuldig ry sy om die groot sirkel sodat sy nie die mooi gemanikuurde boompies raakry nie, en stop op die aangewese plek. Die ingang het twee massiewe houtdeure en opgewonde trippel sy die trappies twee-twee uit. Voor die imposante ingang huiwer sy ’n oomblik. Is daar ’n knoppie wat sy moet druk, of moet sy klop? Sy sien niks nie, maar net toe sy haar hand lig om te klop, swaai die deur geruisloos oop en ’n vriendelike jongman in uniform groet haar vriendelik in sekerlik vier verskillende tale. As sy reg getel het.
“Goeiemiddag, ek is Liandrie Pretorius. Ek moet glo iemand hier ontmoet vir my sleutels.”
“Aha, mejuffrou Pretorius! Net ’n oomblik, asseblief. Ek is nou by u.”
Die man verdwyn net so vinnig soos wat hy verskyn het, en Liandrie gebruik die geleentheid om nuuskierig haar omgewing in te neem. Ultramodern is nie die woord nie, maar eintlik is dit nie juis indrukwekkend nie. Die huis kort warmte, som sy op tussen al die staal, sement en glas om haar.
“Juffrou Pretorius,” hoor sy ’n stem agter haar en sy swaai verskrik om. “Jammer, ek wou jou nie laat skrik nie. Hier is jou sleutels, maar kom asseblief eers saam met my. Gee jou motorsleutels sommer vir Aaron, hy sal dit vir jou omtrek. Ons stap solank hier deur na jou plek toe.”
Die man voor haar slaan oombliklik Liandrie se asem weg. Sy sal haar salaris verwed dat dié man op ’n druppel na soos die akteur Jensen Ackles lyk. Die enigste verskil is dat hierdie man so stroef en saaklik is dat sy te bang is om te lank vir hom te kyk. Sy wonder watse werk hy hier doen, want hy’t dieselfde besigheidspak aan as die outjie wat die deur vir haar oopgemaak het. Behalwe dat syne baie beter aan hom sit. Sjoe. Oukei Liandrie, konsentreer, berispe sy haarself en dwing haar om haar omgewing verder in te neem.
Hulle loop links verby die trappe, af in die gang – of moet sy liewer sê akwarium, want die een muur bestaan uit ’n massiewe vistenk – tot regs voor by die sitkamer, oor die dek en verby die swembad. Trappe na regs af en direk links onder. Genade! Dié plek kan ’n doolhof raak, sluk sy aan die beklemming in haar keel. Netnou is Janie se dungeons-en-dragons-teorie waar. Hoe ver nog?
“Jy bly in die gastehuis hier voor links,” verduidelik die man oor sy skouer.
Net voor sy heeltemal wil omdraai en op die vlug slaan, doem ’n huisie voor haar op met omtrent net glasvensters reg rondom. Oukei, as hy haar wou toesluit sou dit seker nie in ’n glaskas gewees het wat duidelik sigbaar is van die swembad en ontspanningsarea nie – of dalk júís, hoor sy Janie se teenstem. Nou kan hy en sy perverse vriende jou die hele tyd dophou.
Liandrie klik haar tong en skud haar kop. Dat die dekselse Janie haarself én haar op die koop toe so maklik kan bangpraat!
“Ekskuus?” vra die man verbaas en hy stop so vinnig dat sy amper in hom vasloop.
“Nee, jammer. Niks is fout nie . . .” giggel sy senuweeagtig.
“Nou waarom giggel jy so?” frons die man stroef.
Jinne, hy is selfs sexy wanneer hy frons. “Aag,” paai sy met haar hand. “My vriendin het hierdie wilde idee in haar kop dat ons werkgewer my net aangestel het sodat hy my kan toesluit en misbruik. Ek weet sommer sy gaan omtrent histeries wees wanneer sy my glaskashuisie sien.”
“H’mm . . .” antwoord meneer Tall and Handsome terwyl hy die skuifdeur oopsluit. “Miskien is haar teorie nie so verregaande nie. Hoekom het jy die pos aanvaar? Jy moes tog seker al van die skinderstories gehoor het?”
Het hy ook groen oë? Dis nou toevallig, kom die gedagte by haar op. Beskik al meneer Vermaak se werknemers oor skakerings van blonde hare met groen oë? Flippit, Janie se knaende waarskuwings begin nou ook by haar aanklank vind.
“Want dis ’n geleentheid van ’n leeftyd, en ek steur my nie aan skinderstories nie,” antwoord sy nogtans vol selfvertroue.
“Maar hy is alles wat almal sê, én dalk nog erger. Eksentriek, streng, moeilik. Rigied in sy idees. Ek hoor hy het net gister weer ’n vroulike kollega in trane gehad en dat almal wat vir hom werk, hare op hul tande nodig het.”
“Wel, jou tande lyk nog baie mooi skoon en sonder hare, so dit kan seker nie só erg wees nie. En ek glo daaraan om my eie opinie te vorm, dankie. Ek sal dit ook verkies dat jy nie verder ons werkgewer met my bespreek nie; dit is bra onprofessioneel en ietwat dislojaal, as jy my vra.”
“Aha! Vir een keer dink ek Rupert het ’n punt beet hier,” grinnik die man so skielik dat dit haar heeltemal van stryk bring. Moet hy verdomp so lekker ruik?
“Uhm,” maak sy keelskoon en vestig haar aandag eerder op haar kombuis se swart granietblad as die man se asemwegslaanvoorkoms. “Wie is Rupert nou weer?”
“Die een wat jou aangestel het. Die prokureur. Hy’t nogal gesê jy sal jou man . . . e . . . vrou kan staan. Hy kon nie uitgepraat raak oor jou nie.”
“O, ja. Rupert. Dis goed om te hoor ek het hom opgewonde gemaak, maar dit gaan my niks in die sak bring as meneer Vermaak my nie die kans gaan gun om myself te bewys nie.”
“En hoekom dink jy gaan hy jou nie die kans gun nie?” vra hy openlik geïnteresseerd.
“Die advertensie vir een. Ek en my vriendin glo hy het uit sy pad gegaan om nie iemand te kry wat aan ál die vereistes voldoen nie. Ons weet daarom nie hoe welkom ek eintlik hier is nie, en of hy juis goed gaan soek, of goed gaan doen, om van my ontslae te raak nie. Ekskuus . . .” vra sy dadelik om verskoning. “Hier bespreek ek nou ook ons werkgewer en dit is nie reg nie.”
Haar karretjie trek haar aandag en sy kyk na die man voor haar. “Sal jy my verskoon, asseblief? Ek sal graag wil uitpak en myself uitgesorteer kry. Ons sal seker later weer met mekaar te doen kry, maar dankie vir jou moeite om my plekkie vir my te wys. Dit is werklik pragtig, ek sal seker maak om meneer Vermaak daarvoor te bedank.”
Die beslistheid in haar stem laat die man skeef glimlag voor hy sy kop knik en omdraai om te groet. “O, ja! Baie welkom hier, Juffrou. Mag ons gou weer ontmoet.”
Nee, liewer nie, mymer sy by haarself. Janie sal natuurlik in ekstase wees om te weet daar is nog mans op hierdie moeder aarde wat haar na haar asem kan laat snak en haar sommer van haar goeie maniere laat vergeet.
Gepraat van Janie. Sy sal haar moet video call. Hierdie huis is voorwaar iets uit ’n glanstydskrif!