Skip to main content

Uittreksel | Leer my ken

Een

Feit: Rod Steward het die grootste gratis konsert nog gehou (tot 2018).

Met ’n taamlike gespook kry Marina uiteindelik die laaste pakkies opgedra na haar woonstel. Sy blaas soos ’n kat wat sy vangs beskerm en sak moeg op die rooi bank neer. Nie dat sy onfiks is nie, sy draf dan daagliks tussen twee en vyf kilometer en dit afgesien van die feit dat sy heeldag op haar voete is. Sy het egter lanklaas so baie kruideniersware op een slag moes aankoop en by ’n stel trappe opsukkel. Haar finansies is beroerd. Gelukkig kan sy ná ’n groot kopkrap en finansiële beplanning dalk binne ’n jaar uit haar gemors wees, maar dan moet sy geld-slim begin dink. Wat beteken maandelikse kruideniersware, nie meer uiteet of wegneemetes nie, en nog veel meer veranderinge wat sy aan haar onverantwoordelike lewenstyl moet maak. Gelukkig het sy familie en vriende wat haar bystaan, en dan het haar deugdelike ma gesorg vir ’n spyskaart, heel gepas vir ’n koningin op haar beperkte fondse.

Gesonde ontbyt, middag- en aandetes met selfs hier en daar ’n bederf van ’n poeding of selfgebakte mieliebroodjie. Geen wonder haar ma dien al jare in die kerk se vrouebediening nie. Binne die bestek van ’n week nadat sy haar ma in trane gebel het, het sy ’n spyskaart met ’n uitgewerkte inkopielys en resepte gekry. Sy mag nou net een keer ’n week winkels toe gaan om vars produkte aan te koop. Haar boekaankope gaan sy steeds fyn moet beplan, of weer by ’n biblioteek aansluit sodat sy haar verveeldheid weg kan lees eerder as om onnodig rond te rits vir haar onskuldige window shopping-ekskursies wat altyd, maar altyd, lei tot die uitgee van geld wat sy nie eintlik het nie.

Die gedagte aan die sak vol boeke wat haar ma saamgestuur het, laat haar ligvoets opspring en elkeen eers weer nagaan voor sy hulle in haar boekrak pak. Sy het op die harde manier geleer dat boeke koop en boeke lees eintlik twee heeltemal verskillende sportsoorte is. Verspot klik sy haar tong toe sy haar verbeel die ander boeke wat sy nog nie kans gekry het om te lees nie, al is hulle nou al ’n geruime tyd op haar TBR-lys, kyk haar kwaai aan.

“Ja, oukei. Ek gaan julle ook nou gelees kry,” mompel sy vir haar versameling boeke en skakel sommer haar televisie aan om haar speellys se feel good music op YouTube te luister. Niks kan haar bui so vinnig lig soos ’n paar lekker liedjies en ’n nuwe boek in haar hand nie. En sy het nou enigiets nodig om haar beter te laat voel.

Doef! Die harde geluid langsaan laat haar verskrik ’n boek laat val. Sy hou haar asem op om te hoor of sy enigiets verder hoor. Grrrt. Benoud gaan grawe Marina haar selfoon uit een van die inkopiesakkies toe sy nóg ’n geskuifel hoor. Sy sug verlig toe die stem aan die ander kant opgewonde groet.

“Liezel! Laat jy my nou skrik. Ek dog dan jy gaan vir die langnaweek na Niël toe?” vra sy sonder om te groet.

“Ek gaan, ja, ek is reeds hier by Niël,” antwoord haar buurvrou, en Marina voel hoe haar hart weer verskrik plek soek om weg te kruip.

“Nou wie is dan in jou woonstel?” vra sy verbouereerd en gee twee lang tree tot by haar deur en sluit hom met oorhaastige vingers. “Ek hoor ’n gedoef en ’n gesleep en ek weet nie wat nog nie. Dalk is iemand besig om in te breek,” babbel sy van voor af uitasem. “Ek gaan my panic button druk sodat die sekuriteit kan kom kyk,” fluister sy dringend terwyl sy haar kar se sleutels met die paniekknoppie begin soek.

“Marina, wag! Dit is net my broer,” stuit Liezel se stem haar in haar soeke.

“Jou broer?!”

“Ja, dis net my liewe ouboet Riaan,” stel Liezel haar gerus. “Hy het vroeër teruggevlieg sodat hy vir sowat ’n maand kan rondkuier tussen vriende en familie, en om Niël beter te leer ken voor ons troue. Ek het in elk geval al so te sê klaar oorgetrek na Niël toe, maar het nog my kennismaand by die woonstel. Toe stel ek voor Riaan bly daar, anders mors ek net my maand se huurgeld. Pas hom ook, want hy’s omtrént allergies daarvoor as dit selfs net lyk dat hy afhanklik van iemand anders moet wees.”

“Shit, Liezel! Amper laat ek jou broer arresteer,” sug Marina verlig en word uitgelag. “Het jy toe die venue en ander diensverskaffers finaal vasgemaak gekry?” verander sy die onderwerp om die kollig van haar af te neem.

“Ek het,” antwoord Liezel opgewonde. “Ons hoef nou nie meer ons gaste te beperk nie. As ons nie so baie oorsese en oumensie-VIP’s gehad het nie, sou ons seker al getroud gewees het, maar ek is bly ons het die hele Covid-ding uitgewag. Nou kan ons ordentlik makietie hou.”

“Ek kan dink julle is al ongeduldig gewag,” simpatiseer sy met haar buurvrou wat ’n goeie vriendin geword het. Hulle gesels nog oor ’n paar troureëlings voor hulle groet.

Marina wonder soms of sy ooit self ’n deksel vir haar pot gaan kry. Dalk is sy nie ’n pot nie, dalk eerder ’n Tupperware-bak waarvan die deksel altyd weg is en bestem is om alleen oud te word. Haar ma hanteer alleenwees baie goed. Ná haar ouers se egskeiding toe sy nog op hoërskool was, het Marina se ma nooit weer in ’n ander man se rigting gekyk nie; eintlik was haar ma nog al die jare baie gelukkig met haar enkelstatus. Haar pa, daarenteen, is ’n storie wat sy liewer nie wil oorvertel nie.

Sy wil nie soos haar pa wees nie, maar sy weet ook nie of sy soos haar ma kan wees nie. Sy raak soms jaloers op Liezel en Niël se saamwees. Wat haar die meeste vang, is die intimiteit wat hulle deel – emosioneel, maar ook fisies. Die woonstel se mure is maar dun, en gevolglik moes Marina al etlike kere hul liefdemaaksessies aanhoor. Sy is seker daarvan hulle het al seks gehad in elke moontlike hoekie en vertrek, en sekerlik op elke moontlike meubelstuk ook.

Partykeer sit sy die televisie harder om die geluide te doof maar ander kere sal sy na hulle bly luister en drome ophelder van haar eie held wat haar in ’n stomende omhelsing vasdruk en na ongekende hoogtes neem. Dit laat haar gewoonlik daarná net met meer hunkering smag na iemand om ’n soortgelyke passie, begeerte en vervulling mee te deel.

Die klop aan haar deur laat Marina haar kop skuldig skud oor die gedagtes wat sy koester. Dit is seker haar onderste bure wat hulle sleutel vir haar bring om hulle kat die naweek wat hulle weg gaan wees, kos te gee. Griet, Marina, jy klink soos ’n pervert, betig sy haarself. As Liezel ooit moet uitvind dat sy hulle skaamteloos afluister, sal sy wragtag van die balkon af spring. Dit is onteenseglik verkeerd, maar sy kyk nie pornografie nie en hopelik kanselleer die twee mekaar eendag uit in haar boekie van goed en kwaad.

“Um, hallo,” groet sy die vreeslik aantreklike besoeker wat lui teen die pilaar by haar ingang leun.

“Hei, ek’s Riaan Volschenk,” groet hy op die man af. “Die inbreker langsaan,” voeg hy by toe sy net na hom bly staar.

Sy wou sê hy lyk bekend. Die familiefoto’s in Liezel se sitkamer doen egter nie reg aan hierdie man met oë en hare wat amper ewe swart is nie. Of dalk is dit die lengte van sy hare . . . Op die foto’s is dit kort, maar nou dra hy dit effens verby skouerlengte met ’n kuif wat verleidelik oor die een kant van sy gesig val.

“O,” asem sy toe haar longe benoud begin protesteer. Hoe vergeet ’n mens om asem te haal, rol die gedagte vlugtig deur haar disfunksionele brein. Wanneer ’n man soos Riaan Volschenk aan jou deur klop, antwoord sy haar eie vraag.

“Liezel het aangedring ek kom stel my voor,” gaan hy gemaklik voort, maar Marina sukkel om sin te maak van die woorde wat in haar verstarde brein vasslaan.

“Marina,” onthou sy uiteindelik haar eie naam. “Marina Beukes,” herhaal sy en vat lomp die hand wat hy uithou vir haar.

“Aangename kennis, Marina,” streel sy stem die slapende vlinders in haar maag wakker.

Die aanraking laat die skoenlappers nou opgewonde rondwarrel. Dit versprei deur haar hele liggaam en sy voel hoe sy millimeter vir millimeter van die grond af gelig word. Wow! Bekommerd dat hy sien watse effek hy op haar binneste het, kyk sy eerder weg van sy deurdringende oë, af na hulle hande wat in ’n warm gevoel teen mekaar vibreer. Beslis kunstenaarshande, merk sy op terwyl sy skraal vingers om haar kleiner hand sluit. Sy het nog altyd ’n ding gehad vir ’n man met mooi hande.

“Aangename kennis,” erken sy die groet en glimlag. Altans, sy hoop dit is wat sy doen. Vir al wat sy weet, gee sy die man nou die een of ander aaklige grynslag. As sy kan vergeet om asem te haal, kan sy sekerlik ook vergeet hoe om te glimlag?

“Enige iemand wat saam met jou tuis gaan bly vir die langnaweek?” vra Riaan met ’n skewe glimlag wat die skoenlappers met mening by haar keel wil laat uitvlieg.

“Nope. Net ek,” antwoord sy senuweeagtig. “En jy?” vra sy en voel simpel oor haar vraag toe ’n helder glimlag oor sy gelaat speel.

“Nope. Net ek,” antwoord hy met ’n vonkeling in sy oë. “En my kitaar, natuurlik.”

“Oukei dan,” sê hy toe die stilte tussen hulle uitrek en hy hom van die pilaar af wegstoot. “Ek het nog ’n paar goed om af te laai. Ons praat gou weer, Marina,” groet hy met ’n oogknip en drafstap weg.

“Oukei dan,” fluister sy vir haarself aangesien hy al buite hoorafstand is, maak die deur dan stadig toe voor sy met haar rug daarteen leun.

Wow, wow, wow, sug haar vroulikheid. Wat ’n man! Tall, dark and handsome met hande wat gemaak is om oor ’n vrou se liggaam te streel en haar diepste geheime te verken. Daai lieflike lippe van hom wat in stories as sensueel beskryf sou word, sal haar beslis kan soen dat sy al haar waardes vergeet.

Wag! Wat nou? Wat is fout met jou vandag, Marina Ann Beukes, betig sy haarself in haar ma se stem. Jy klink kompleet soos ’n hormonale tiener wat nie weet wat om met haar eie lyf aan te vang nie. Van wanneer af kyk sy na ’n man deur haar hormone? Hormone wat klaarblyklik nog slapend was, want sy sien goed wat sy nie voorheen sou oplet nie. Nog nooit nie. Maar tot haar eie verweer moet sy erken, nog geen man wat sy al in lewende lywe ontmoet het, lyk soos haar nuwe buurman nie . . .