Skip to main content

Uittreksel | Kom saam

Voorwoord

Ons almal is besig met ’n lewensreis. Alhoewel ons elkeen verskillende paaie kies, is die uitdagings en vrae vir ons almal min of meer dieselfde.

Bedink saam met my die dinge wat met ’n mens gebeur in jou alledaagse lewe. Ek kwel my soms oor die aarde en alles wat op hierdie planeet gebeur. Jy wonder tog ook oor die beskikbaarheid en kostes van voedsel, water en elektrisiteit, nie waar nie?

Ons word almal soms teleurgestel en is bang vir verwerping, die donker en ook die toekoms. Soms raak ons angstig, moeg of kwaad en dwaal van koers af. Ons verloor ons motorsleutels of belangriker dinge soos die liefde, ons huwelike, vreugde, geduld en geloof word op ’n hobbelpad uitmekaar geskud. Dalk is daar tye wanneer jy swaar dra aan sondebesef en jy oor Jesus Christus en jou verlossing peins.

Ten spyte van al hierdie en ander uitdagings en kwelvrae, is daar soveel mooi op elkeen van ons se lewensreis te ervaar. Kom ons raak weer opgewonde oor die pad vorentoe. Vandag nooi ek jou saam op my reis. Kom saam met my wanneer ons beplan, inpak en gereed maak om in die motor te klim.

Die lekkerste deel van enige reis is die gevoel van vakansie hou: Die saamwees met jou kinders, kosmaak, om die kampvuur kuier, en ja, selfs om sommer net rond te ry en na mooi huise te kyk. Kom stap ’n rukkie saam met my vir oefening en ook om weer werklik die natuur raak te sien en verwonderd te wees oor wat ons kan leer.

Dikwels gebeur dit dat ’n mens na iets en iemand verlang sonder dat jy self mooi weet na wie en wat jou hart hunker. Gelukkig kan ons dan met mekaar deel wat ons nodig het om ons deur sulke tye te dra: dinge soos om beskuit te bak, met mense te kuier en om aan Jesus vas te hou.

Kom raak saam met my opgewonde wanneer die einde van ons aardse reis in sig is. Raak saam met my emosioneel omdat ons uitsien om na God se huis te gaan. Hy is reeds besig om voorbereidings te tref vir ons tuiskoms. O, dit gaan ’n plek wees wat ons wildste drome oortref!

Kom reis saam, toe! Want dan sal ons in wonderlike oorwinning in God se genade kan leef en ons oor niks op hierdie aarde hoef te bekommer nie.

Liefde
Sonja

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”
(Ps. 32:8, AFR83)


Two roads diverged in a wood, and I – I took the one less
travelled by, And that has made all the difference.
Robert Frost


As ek beplan

My identiteit in God

“Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak” (Gal. 4:7).

Wie is jy? Miskien is jy Piet Boer van die plaas Langlaagte naby George. Jy is ’n hardwerkende boer, dolgelukkig getroud en het twee kinders. Of dalk is jy mevrou doktor Adelle Stetoskoop van De Aar. Jy het nie kinders nie, sien jou man selde, en nou ry jy maar op sy kwalifikasie omdat jy skaam is vir wie jy is.
Soms sukkel ons om te verstaan dat ons nie iemand anders se titel of goedkeuring nodig het om vir God aanvaarbaar te wees nie. As dit met ons sleg gaan, dink ons maklik ons beteken niks en niemand sien ons raak of is lief vir ons nie. Gaan dit met ons goed, voel ons weer positief en geliefd. En ja – dalk soms hoogmoedig ook.
Die ander dag erf ek so ’n klein bietjie geld by my tannie en besluit toe om ’n reis aan te pak. Toe ek met my beplanning wil begin, tref dit my: Ons is mos maar almal eintlik reisigers op hierdie aarde. Tog het ons die voordeel dat ons nie geld hoef te erf sodat ons hierdie reis kan meemaak nie. Nee, ons Abba Vader noem ons wat sy Seun, Jesus Christus, aangeneem het as ons Saligmaker en Verlosser, sý kinders. En omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Dit beteken dat alles wat Syne is ook ons s’n is.
Ons erf iets wat veel groter waarde het as geld: Sy vrede ten spyte van die storms van die lewe. Sy liefde en vergifnis vir onsself en ander ten spyte van ons sonde en pyn. En sy woonplek, sy hemelse paradys, waar ons verniet saam met Hom sal woon in die hiernamaals.
So, wie is ek en jy nou eintlik? Ons is kinders (en dus erfgename) van die allerhoogste God.

GEBED:
My Hemelvader, baie dankie dat my identiteit daarin lê dat ek u kind en erfgenaam is. Amen.


Die onbekende pad

“Ek laat die blindes loop op ’n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie”
(Jes. 42:16).

Daar kom tye wanneer jou lewe verander. Dit is glad nie ’n lekker plek om te wees nie, want die pad wat voorlê, is onbekend. Miskien staar jy moontlike aflegging of bankrotskap in die gesig of jy tree af. Dalk word jy met ’n egskeiding, jou kind wat die huis verlaat of die dood van ’n geliefde gekonfronteer. Jy moet moontlik ’n keuse maak rondom ’n huweliksmaat. Of jy verhuis na ’n ander dorp of stad toe of emigreer na ’n ander land. Jy wil nog so baie doen ... Ja, ek hoor al hoe jy sê jy ken die gevoel.
Gelukkig vertel Jesaja ons van Jesus Christus wat vir die blindes lig bring op donker plekke. Hy laat hulle loop op paaie wat hulle nie ken nie. Ja, selfs die ongelyk plekke maak hy gelyk. Is dit nie ook waar van ons nie? Ons beland so dikwels op ’n plek waar ons in sirkels loop of in slaggate trap asof ons regtig blind is. Ons is bang om nuut en oor te begin.
Ek en jy kan hier aan die begin van ons reis vir God vertrou as Hy sê dat Hy “soos ’n soldaat [is] wat gaan oorlog maak. ... Hy skreeu en gee die oorlogskreet. Hy oorrompel sy vyande” (Jes. 42:13, DB). Hy loop voor en maak die pad vir ons gelyk.
Jy hoef nie jou reis alleen aan te pak nie. Jy hoef nie bang te wees nie. Volg die lig, want Hy ken die pad.
Kom, hoor sy oorlogskreet. Kyk, daar is sy lig. Kom saam ...

GEBED:
My Hemelvader, ek is nou so bly dat U vooruit loop. Dankie vir u lig. Amen.


God is liefde

“Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê” (1 Joh. 4:9).

Sommer voordat ons verder beplan of pak, moet ons eers hieroor praat. God bring nie slegte goed oor ons pad nie. Dis ons mense op hierdie aarde wat keuses maak wat nie altyd in lyn is met God se wil nie en dan is daar gevolge.
Dis so eenvoudig: Verkeerde keuses veroorsaak pyn en hartseer. Goeie keuses het weer seën en innerlike vrede tot gevolg.
Daar is ook die geldgierigheid van diegene wat eerder na hulle eie sakke kyk as na ander. Die gevolg is korrupsie, diefstal en moord. Daar is mense wat nie omgee hoe hulle die natuur uitbuit nie. Hulle vergeet hoe nodig ons die natuur het vir ons voortbestaan. Almal praat nou oor die gat in die osoonlaag en ons koraalriwwe wat kleiner raak, maar die rommelstortings in die see gaan voort, die hoeveelheid uitlaatgasse word net meer, en al hoe minder word gedoen om veldbrande en oorstromings te keer.
Gelukkig is God liefde en het Hy sy Seun vir ons gegee as losprys vir ons sonde. Jesus Christus het aan ’n kruis gesterf sodat ons wat Hom liefhet sonder sonde voor God kan staan. Sodoende is daar nou vir ons vrye toegang tot God. Hoe meer ons met Hom praat, sy hulp
vra en ons afhanklikheid van Hom bely hoe meer sal ons sy liefde vir ons verstaan en waardeer.
God is lief vir jou. Dit maak nie saak wat op jou reis met jou gebeur nie. Sy liefde sal nooit opraak of wegraak nie. Niemand sal jou uit sy hand kan ruk nie (Joh. 10:28).

GEBED:
My Hemelvader, dankie dat U my liefhet. Amen.