Skip to main content

Uittreksel | Kom Saam: Wysheid vir jou lewensreis

Voorwoord

“Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is” (Luk. 22:32, DB).

Jesus het hierdie woorde vir Petrus gesê ná sy opstanding uit die dood. Dit is my gebed dat ek en jy dieselfde woorde sal gebruik om mekaar te bemoedig op ons aardse lewensreis.

Ek nooi jou nou om saam met my te kom as ons oor dinge wonder. Kom saam met my wanneer ek my sleutels verloor – ja, daar is so baie dinge wat ons op ons lewensreis verloor … Kom saam met my wanneer ons vakansie hou en soms gaan stap. Ook wanneer daardie diep verlange na “iets” aan ons harte kom pluk.

Kom saam, toe! Ek wil by jou inhaak wanneer jy voel dat jy te moeg raak of as jy dalk iewers langs die pad swik. Die einde is in sig! Paulus leer ons so mooi in Filippense 3 dat ons die dinge wat agter ons is, moet agterlaat en ons moet uitstrek (ja, strek totdat ons arms eintlik seerkry) na dít wat voor is. Ons sal dan saam die hemelse prys behaal wanneer ons by Jesus aankom, want dit is waartoe God ons roep.

Sonja


As ek wonder oor 

Die lewe

“Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis.” (1 Joh. 5:12, DB)

Gestel jy hou ’n tou vas waarvan die eerste vyf sentimeter rooi geverf is. Die res van die tou loop tot in die oneindige en jy sien nie die eindpunt nie. Ons lewe op aarde is net daardie rooi geverfde deel. Die orige deel verpersoonlik die res van ons bestaan.

Kies vandag hoe jy die res van jou lewe wil deurbring: in vreugde, vrede en oorwinning saam met Jesus in sy hemelse woning of in ellende en pyn saam met Satan in die verderf.

Moenie dink die klatergoud en genietinge van hierdie lewe is waaroor die lewe gaan nie. Dit alles gaan gou verby. As mens jonk is, dink jy daar is nog baie tyd voordat jy aan doodgaan hoef te dink. Ek kyk vandag terug en dink: Ek was gister nog ’n dogtertjie wat al my voortande op die bure se stoeptrappie uitgeval het. My kinders was gister nog babas en nou is hulle al drie groot met hul eie kinders. My hande was gister nog glad en jonk; vandag is my vel dun en my vingers krom.

Tyd is vlietend. Vir God is een dag soos ’n duisend jaar en ’n duisend jaar soos een dag (2 Pet. 3:8). As jy uitstel, verloor jy tyd waarin jy God se vrede en heerlikheid kan ervaar. Wees nóú gereed vir die lewe saam met Hom.

Hou op wonder. Maak jou keuse en kies vir Jesus sodat jy ook die ewige lewe saam met Hom sal hê.

GEBED: My Vader, ek wonder oor die lewe. Gee my die oortuiging om U bo alles te kies. Ek wil vir altyd saam met U in u hemelse paradys woon. Amen.


My vermoëns

“Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word.” (1 Tim. 4:15, DB)

Hoe weet ek wat my vermoëns is? Nie almal is seker oor hulle eie vermoëns nie. Baie weet presies wat hulle kan doen en wat nie. Vir ander is dit ’n ontdekkingsproses.

Paulus wou nie dat Timoteus toelaat dat mense hom ontmoedig omdat hy jonk is nie. Hy moedig hom aan om God se woord te verkondig. Moenie die gawe wat God jou gegee het verwaarloos nie. Moenie passief wees nie. Werk hard sodat mense Jesus in jou optrede en werke kan sien. Dít is die einddoel.

Doen die dinge waaroor jy passievol is en wat jou gelukkig maak voluit vir Jesus. Alan Redpath het gesê: “A Christian might have a saved soul but a wasted life – but no follower of Jesus should ever be content with such a place.”

Ons sukkel met hierdie gedagte van “wat moet ek doen met my vermoëns?”. Ons probleem lê daarin dat ons alles meet aan: Kan ek geld hiermee maak? Gaan mense meer van my dink? Gaan ek meer aanvaarbaar vir die samelewing wees? Sal ek dan belangrik wees?

God se opdrag was nog altyd dat ons ander mense help en hulle nader aan Hom trek. Om uit te deel en te seën. Verskuif dus jou fokus weg van jouself.

Prys God vir die vermoëns wat Hy jou gegee het en onthou: Of jy nou sing, klavier speel, boeke balanseer, koekies bak, motors regmaak … doen dit met oorgawe sodat ander Jesus in jou raaksien.

GEBED: My Vader, vandag kom vra ek U om vir my ’n passie te gee vir alles wat ek doen. Ek wil dit só doen dat ander U in my sal raaksien. Dankie, Jesus. Amen.