Skip to main content

Uittreksel | Klein wonderwerk

Deel 1: Maak oop jou mond

Een

“’n Mens kan gelukkig nie kla oor die diens nie.” Só probeer die ouer, effe mollige vrou joviaal met die veel jonger vroutjie voor haar in die ry ’n geselsie aanknoop. Mense wat ure lank in kronkelende, morrende rye in ’n staatskantoor moet staan, maak mos maar praatjies met vreemdelinge. Hoe anders kry jy die tyd om?

Sy is van vanoggend af al bewus van die jong vrou met die woelige spruit aan haar hand. Steels beskou sy die jonge se liggroen kantoorrok, net lank genoeg om kuis te wees, sonder om die mooi bene heeltemal weg te steek, en in die middel los genoeg om die kurwes van ’n jong lyf te suggereer.

“’n Mens kan gelukkig nie kla oor die diens nie,” herhaal sy nadat die jonger vrou eers aan haar kind aandag moes gee.

“Hoe meen jy nou?” Die aangesprokene klink ietwat ongeërg, al pluk haar seuntjie steeds aan haar.

“Ek bedoel hier is nie diens nie,” verkneukel die ouer vrou haar in haar eie afgesaagde ou grappie en stryk ingenome oor haar geblomde langmoubloes by die bruin langbroek en swart plathakskoene.

“Jy ook moeilikheid met jou munisipale rekening?” verneem die mooi donkerkop in die byderwetse groen rok. Opsigtelik ook al moeg gespook met die woelwater by haar.

“Nee, ek het net die oom gebring.” Die ouer vrou beduie met haar kop in die rigting van ’n ou man in ’n kakiebroek en ’n ligbruin hemp ’n entjie agter haar. “Hulle het glo lankal hulle huis verkoop, maar hy sukkel al maande lank om sy deposito uit die stadsraad uit te kry. Ek werk by die ouetehuis. Vervoer, ry oumense rond.”

“Lyk vir my maar ’n bietjie na ’n knorrige ou man, seker al moeg gestaan.”

“Ek ken hom nie eintlik nie. Ek werk nou maar skaars ’n week by die ouetehuis, ken nog nie al my inwoners nie.”

“Om met oues te werk is nie ’n grap nie,” sê die jonger vrou sagter. “Vra my, ek weet, ek is ’n maatskaplike werker.”

“Hier in Mooifontein?”

“Ja, by die NG Welsyn se kantore.”

“Dan ken jy mos mense.” Die ouer een proes.

Die meisie van Welsyn huiwer, voeg toe, byna kru, onderlangs by: “Gelukkig werk ek nie met bejaardes nie, my fokus is op honger kindertjies.”

Die vrou van die ouetehuis lag gesellig. “My naam is Simoné.”

“My mense het maar altyd van my as ‘die meisiekind’ gepraat; my ouma het my so genoem en kleintyd het ek gedog dis my naam,” sê die maatskaplike werker effe ingetoë en kyk weer na die oom.
“Die ou man staan so ver van ons af, hy sal maak dat iemand sommer tussen ons kom indruk.”

“Ja, en indruk is mos nie meer ongeskik in hierdie land nie.”

“Wat sê die tannie, Mamma?” kla die seuntjie aan “die meisiekind” se hand.

“Sy praat sommer oor die mense, liefie.”

Die mannetjie kan seker so ses of sewe wees en hy moet natuurlik al moeg gestaan wees.

“Die ou man,” merk sy ma fluisterend op, “loer al die hele oggend na my seuntjie.” Toe, asof sy besef sy kan verkeerd verstaan word, voeg sy verskonend by: “Laat hom seker aan sy eie kleinkind dink.”

“Sover ek weet, het hy nie kleinkinders nie. Die huismoeder het gesê sy vrou is onlangs oorlede en sy enigste seun is iewers oorsee. Dis dié dat ek hom moes bring. Nie gedink dit sal die hele flippen oggend opvreet nie.” Salomé sug. “Maar dis mos nou maar my job om my oumensies rond te karwei.” Toe, amper verskonend: “Ek kla nie. Ek het ten minste ’n werk, al voel dit soms vir my of die huismoeder net wag dat ek iets verkeerd doen.”

“Ons is darem al amper voor.”

“Voel nie vir my of ons beweeg nie,” antwoord Simoné skepties.

Weer ruk die seuntjie aan sy ma se hand en die twee vroue se gesels droog voorlopig op.

Dit lyk in elk geval of niemand in die betaalportaal van Mooifontein se munisipale kantoor hierdie tyd nog vir lang praatjies lus het nie. Beslis nie as ’n mens al vir ure tussen die ry beheerversperrings ingehok staan nie, en dit boonop in ’n tou wat lyk of dit die afgelope uur glad nie vorentoe beweeg het nie.

“Soos skape in ’n drukgang,” het iemand vroeër verveeld vir die hoë plafon gesê, “die verskil is net dat skape die etiek van voor in die ry indruk verstaan.”

Agter die glasafskortings tussen die ry wagtendes en die toonbanke kekkel kassiere om ’n tafel, elkeen met ’n beker tee wat ’n vrou met ’n geel kopdoek pas vir hulle op ’n lendelam trollie kom bedien het. Aan die ontevrede gemor duskant die toonbank steur die gesellige amptenary hulle bitter min.

Dis teetyd vir die munisipaliteit en die stilte wat oor die betaalsaal daal, weet die personeel lankal, voorspel nie ’n bloedige opstand nie. Hulle staan al van vroeg af tussen die chroompale met die swart bande wat die ry afbaken, sonder om te betoog, om tog net ’n water-en-ligte rekening te kom betaal, party net om te kla. Van hulle kom probeer verduidelik dat hulle onmoontlik dertig duisend rand se water in agt en twintig dae kon verbruik het, en hulle het nie eens ’n visdam nie, wat nog te sê van ’n blerrie swembad.

“En as die klomp eendag klaar tee gedrink het, moet ons seker weer alles in iets wat amper soos Engels klink, verduidelik,” mompel ’n man in ’n baadjie en ’n das vir dié wat wil hoor, “en dit in ’n dorp wat net Afrikaans of Setswana kan verstaan. Veeltaligheid het mos ’n paspoort vir eentalig Engels geword. Hoe onverstaanbaarder die Engels, hoe dommer is die hoorder en slimmer die spreker.”

Maar die meeste van die siele in die tou het al geleer om stil te bly en geduldig te wag totdat hy of sy voor by die toonbank kom om vriendelik by die kassier te vra wat gevra moet word. Die mense in die ry mor net moerig onder mekaar, versigtig om eerder nie slapende amptenare wakker te maak nie. By wyse van spreke, natuurlik.

“Kan ek jou help met die kind? Ek kan darem nie net met die oues werk nie,” bied Simoné aan, effe geamuseerd deur die ma met die seuntjie wat verveeld probeer om haar onder die swart band deur uit die lang ry uit te trek.

“Ons moet nou huis toe gaan; ons wag al die hele dag en Mamma staan en staan en staan net.”

“Jou pa sal nou kom, liefie, ek het hom weer gebel. Hy kom.”

“Ek wil nie saam met my pa gaan nie. Mamma moet kom.”

“Ons is amper voor, nog net ’n rukkie,” bemoedig sy, en vir Simoné van die ouetehuis agter haar sê sy sinies: “Ek verkies die kleintjies bo die oues.”

“Dis nie so erg nie. Die oues, bedoel ek.”

“Jy werk nog maar ’n week of wat met hulle,” herinner sy haar nuwe kennis.

“Ek werk darem al ’n hele ruk met bejaardes, dis nie my eerste ouetehuis nie, ek het jare se ervaring. Ek het pas by Huis Mooifontein begin. Beter salaris, lekkerder werksomstandighede, het ek gedog.” Sy dink ’n oomblik na. “Ek dink amper daar gaan ’n pos vir ’n maatskaplike werkster by ons oop. Ek sal jou laat weet.”

“Liewer nie, ek werk lekker waar ek is en ek is maar lugtig vir die oues, veral ou mans.”

Simoné lag en kyk na die ou man. “Hy lyk nie vir my gevaarlik nie.”

Die ander vrou trek net haar skouers op. “Miskien vertel ek jou nog eendag my storie met mans.”

“Net nie hier nie.” Simoné probeer die gesprek ligter maak.

Maar die ander vrou vertolk die opmerking letterlik, want sy antwoord ernstig: “Die praktyk het my geleer dit is omdat ons vrouens dink ons moet kan wys in plaas van dat ons ons monde oopmaak en vertel wat mans aan ons doen, al het ons niks om te wys nie.”

Praatkous Simoné beduie met haar oë na die seuntjie wat steeds sy ma uit die ry uit probeer beur. “Hy het seker tog ook oupas?”

“Gelukkig net een, en dié steur hom nie aan kinders nie.”

“Dit klink darem vir my of hy ’n pa het?”

“Partykeer.”

“Dog jy sê jy is lugtig vir mans,” karring die vrou van Huis Mooifontein.

“Ek kom al hoe meer agter hoekom.”

Die seuntjie pluk weer aan sy ma en kerm. Hy rem skuins, weg van die ou man agter hulle in die ry.

Aan die ander kant van die kassiere se glashokkies duur die teeparty luidrugtig voort asof die lang ry wagtendes nie op enige diens geregtig is nie.

Uit een van die kantoordeure agter die toonbank kom ’n lang, skraal vrou uit en kyk streng af op die teedrinkende klerke totdat ’n korterige mannetjie by die teetafel van sy stoel af opwip en die bord koekies na haar toe uithou. Sy glimlag, neem ’n koekie, gaan sit aan die koppenent van die tafel en kyk hoe een van die klerke vir haar tee in die leë koppie langs haar skink.

“Dis mos nou maar hoe dit deesdae in hierdie land van ons gaan,” sug Simoné teenoor die meisiekind, “die klase maak maar soos hulle base.”

“En niemand los die probleem op nie,” beaam haar gespreksgenoot.

“Ek het nog nie eers gevra hoekom jy ook in die ry staan nie,” babbel Simoné voort asof ’n mens tog nie die sinlose moeite sal doen om in ’n ellelange tou in ’n regeringskantoor te kom staan as jy nie ’n rêrige probleem het nie.

“My kind se pa het al weer vergeet om die water-en-ligte-rekening te betaal en dis nou al die derde keer wat ek hier in die ry moet kom staan. Asof ek nie ’n werk het nie. My man het vrede met sulke alledaagse geploeter.”

“Hy kan jou mos ’n bietjie kom aflos. My man sal.”

“Ek en hy is by aflos verby. Dis hoekom ons die huis verkoop, ons loop van hier af verkieslik elkeen sy eie paadjie.”

“Mamma, hier kom my pa,” sê die seuntjie byna benoud toe ’n lang man die lokaal haastig van buite af binnekom. Die ongeskeerde gesig opsigtelik bewolk.

Die kind glip huiwerig weer onder die swart band deur tot teen sy ma. Asof hy nie kan besluit watter een van sy ma of pa die beste opsie sal wees nie, maar hy buk tog onder die band deur en vat onseker sy pa se uitgestrekte hand.

Die lang man kyk skerp na die kind se ma in die ry. “Is jy wragtag nog nie klaar nie?”

“Ek staan maar. Jy kan mos sien hulle drink net eers tee. Ek is amper voor.”

“Dan ry ek en Dawid maar solank. Ek vat die kar, my pa het my kom aflaai. Bel as jy klaar is, dan kom haal ek jou.”

“Asseblief, ja, Dawid is al moeg en raak lastig van die lank wag.”

“Ons ook,” sê iemand doer agter uit die ry.

“Pragtige kind, mooi soos sy ma,” merk Simoné op toe die man en die kind by die deur uitloop.

Maar dit is selfs vir die nuuskierige Simoné duidelik dat haar nuutgevonde vriendin nie van plan is om verder te verduidelik nie. Die vrou staan half weggekeer en kyk afgetrokke na die ou man wat stip agter die man en die protesterende seuntjie aan staar.

Simoné onthou weer dat die oom eintlik vandag haar verantwoordelikheid is en die huismoeder wys haar gereeld daarop dat sy wat Simoné is, moet onthou dat sy vir die eerste maand nog op ’n proeftyd is. Sonder haar maandelikse toegiffie kan hulle nie die kinders in ’n goeie skool hou nie. Die huismoeder se opdrag was vanoggend weer duidelik: “Sorg jy net dat oom Petrus sy besigheid gedoen kry. Dis nie die eerste keer dat hy daar in die ry moet loop staan nie.”

Simoné kyk besorgd na oom Petrus – “die ou man”, soos die ander vrou hom gedoop het – waar hy moeg op een van die chroompaaltjies probeer leun, asof die staan vir hom te veel geword het.

“Oom Petrus, gaan sit Oom ’n rukkie, ek sal Oom se plek in die ry hou,” bied sy aan.

“Dankie, maar ek is nie moeg nie.” Hy los die wankelrige paaltjie op die chroomvoetstuk dat die hol geluid van metaal bokant die dowwe gedreun van stemme soos ’n noodsein skel.

Die maatskaplike werker kyk weg toe sy besef waar die klank vandaan kom.

“Ntate kan mos daar by navrae gaan staan,” stel ’n jongman in ’n netjiese swart hemp en ’n wit pastoorkragie reg agter die ou man voor. “Oumense mag omloop. Hulle sal Ntate help,” probeer hy die bejaarde verder oortuig.

“Dis vir gestremdes,” mompel oom Petrus half bot.

“En vir bejaardes,” glimlag die pastoor.

Oom Petrus glimlag amper. “Die ouetehuis waar ek woon, sê ons is nie bejaardes nie en ons bly nie in ’n ouetehuis nie. Ons is seniors en ons woon in ’n aftreeoord.” Hy soek tog geselskap en knoop die boonste knoop van sy bruin hemp ingedagte oop asof hy skielik warm kry.

“Hoekom ons in hierdie land niks by die naam wil noem nie, weet ek nie. Al noem jy ’n probleem ’n uitdaging, bly dit ’n probleem. Help nie jy dink ’n donkie gaan ’n perd word net omdat jy die ding ’n nuwe naam gegee het nie. Wat is ’n naam nou?”

Die pastoor lag. “Is so, Ntate, maar miskien is daar tog ’n siel in elke naam, of hoe?”

Die ou man dink ’n wyle. “Lyk my dis eintlik wat ek sê.”

“Dit help tog om sommer oor niks te klets as ’n mens vir ure in rye moet staan,” meen die man met die boordjie. “Ek moet tot namens die kerk se sekretaresse in die tou kom staan om te probeer uitvind hoekom my pastorie se kragrekening so onhebbelik hoog is.” Hy kyk na die ou man in die kakieklere en vra belangstellend. “Is Ntate ’n boer?”

“Was.” Byna bitsig. “Totdat sy my plaas gesteel het. Nou is ek net pensioenaris.”

“Sjoe,” is die predikant se enigste kommentaar. Hy kan tog nie hier in die openbaar die oue verder uitvra nie. “So staan ons maar almal in dieselfde ry en wag,” voeg hy ligtelik by met ’n verleë laggie.

“Net so,” reageer die afgetrede boer en maak die tweedeboonste knopie van sy hemp met die een hand weer vas. “Pastoor en boer in dieselfde ry en wag op diens wat nie bestaan nie.”

“Ja, Ntate, wag moet ons deesdae maar wag, of jy nou koning of kraai is, daar is niks wat mense so vinnig gelyk maak as om ure in ’n tou te staan en wag op swak diens waarsonder nie een van ons kan klaarkom nie.”

Die ou man lag net, asof hy volkome saam met die pastoor stem.

“Hoekom staan Ntate vandag hier in die ry? Wat is die probleem?”

“Man, dis my kragrekening. Net ’n rukkie voor die vrou oorlede is, het ons ons meenthuis hier in die dorp verkoop, en ek wag nou al sedertdien dat die munisipaliteit my deposito terug moet gee en dis onmoontlik om oor ’n telefoon met dié spul te probeer praat. Jy kan skaars hoor wat hulle sê, en as jy hulle die slag hoor, dan is dit ’n Engels wat koning Charles nie eers sal verstaan nie, al is jy en die een aan die ander kant albei Afrikaans.”

“Ntate se kragdeposito?” verneem die pastoor net toe die krag in die lokaal skielik afgaan.

“Load shedding,” kondig iemand agter die glasafskorting aan.

“We are closed. Please come back after two. Sorry.”

Die lig is net genoeg om te sien hoedat die personeel hulle goed bymekaar maak en iewers agter die toonbanke in verdwyn.

“Ons sal maar ná twee moet terugkom, Oom,” sê Simoné moedeloos.

Oom Petrus sug in die skemer.

“We are closed.” Die veiligheidswag staan klaar met die oop glasdeur in sy hand en rinkel die bossie sleutels.

Die ry los op soos wat die wagtendes uit die gebou probeer kom. Die jongeres trap oor die band, dié wat nie meer so jonk is nie, buk onder die versperringsbande deur en die oues skuifel agter mekaar voor by die bek van die drukgang uit.

Die vrou met die seuntjie is eerste by die deur omdat sy al amper heel voor in die tou was. Haastig by die deur uit asof sy die helder son in probeer vlug.

Simoné buk steunend onder die band deur en loop buite die versperring langs na die ou man aan die binnekant van die band. Sy wil oom Petrus aan die elmboog neem, maar hy skud haar hand af.

“Ek kom reg.” En hy skuifel voel-voel van onvaste chroompaaltjie tot paaltjie asof hy na uitkoms soek.

Op die geplaveide sypaadjie voor die toe deur wag sy toe Simoné en Petrus uitkom. “Dankie vir die gesels.” Sy haal ’n kaartjie uit haar handsak en gee dit vir Simoné. “My visitekaartjie, vir ingeval julle ’n maatskaplike werker nodig kry.”

“Dankie, ek laat weet as daar ’n pos by ons oopgaan. Ek sou jou kon oplaai, maar ek mag nie ander draaie met die ouetehuis se bussie ry nie.”

“Ek is reg, dankie, ek bel net my man.” Sy loop eenkant toe.

“Dis mos die meisiekind met die seuntjie?” verneem oom Petrus.

Hy trap die skuinstetjie af parkeerterrein toe mis, struikel en val vooroor, al probeer Simoné hom aan die mou gryp.

Die ou man wil die val met sy een hand stuit, maar dit help nie en hy slaan op sy sy op die warm plaveisel neer. Die meisiekind en die pastoor storm nader om hom op te help.

“Moenie hom probeer optel nie, asseblief,” keer Simoné benoud. “’n Mens tel nie ’n oumens wat geval het sommer op nie, hy kon iets gebreek het. Ek bel die kliniek.”

Oom Petrus probeer self op sy regterelmboog kom, kry dit nie reg nie en verleë bly hy so lê. Sonder sy waardigheid. “Help my net op my knieë, ek makeer niks.” Niemand waag dit om te help nie. “Vir wat waarsku hulle ’n mens nie dat daar ’n blerrie trappie is nie? Gee my net jou hand,” vra hy een van die bekommerde omstanders.

“Oom hoor mos ons moet wag vir die mense van die kliniek.”

“Ek makeer niks, net my balans bietjie verloor.”

“Suster, oom Petrus het geval, kom help gou,” groet Simoné beangs oor die foon. “Die parkeerterrein by die munisipale kantore. Maak gou. Nee, dit lyk nie of hy seergekry het nie, maar julle sê mos ons mag hulle nie optel nie. Dankie, ons wag.” Toe, aan die mense om haar: “Die klinieksusters is aan die kom.”

“Ek sal self opkom, help my tog net,” protesteer die ou man.

“Asseblief, oom, ek wil nie my werk verloor nie. Hulle is nou hier.”

Die meisiekind staan ’n entjie weg terwyl sy haar selfoon uit haar handsakkie haal. Bel en wag duidelik ongeduldig dat iemand antwoord. ’n Motor kom haastig die parkeerterrein in en hou langs die ou man stil. Twee verpleegsters in blou uniforms draf nader.

“Hoe voel oom Petrus?” vra die een.

“Ek makeer niks, help my net op.”

Die twee help die oom met hulle hande onder sy skouerholtes op.

“Hoe kyk jy na jou mense, Simoné?” vra die ander een.

“Hy het die trappie misgetrap.”

“Jy weet mos die oom sien nie so goed nie.”

“Ek het nie geweet nie, en die oom het my niks gesê nie.”

“Ontspan,” troos die klinieksuster, “ons sal nie praat nie. Jy is nog nuut. Is alles reg, Oom?”

“Ek sê mos ek makeer niks nie. Dankie, julle kan maar ry. Ek sal saam met Simoné in die bussie kom.”

“Kan ek jou iewers aflaai?” vra Simoné toe sy sien die ma staan nog op die sypaadjie met haar selfoon in die hand.

“Ek bel net my man om te sê ek sal nog lank wees. Ek sal maar wag totdat hulle weer oopmaak. Om nou huis toe te gaan en môre weer van voor af in die ry te kom staan, is tydmors en daarvoor sien ek regtig nie kans nie. Ek is tog nou hier.”

“Ja, ons sal ook maar later weer kom.”

Die ma loop eenkant toe en begin oor die foon praat, maar Simoné kan nie hoor wat sy sê nie, net dat sy geïrriteerd beduie, asof sy vies raak vir die mens met wie sy praat. Driftig prop sy die selfoon terug in haar sak en gaan op die enigste bank in die tuin voor die kantoorblok onder ’n boom sit. Haal weer die selfoon uit.

Simoné draai terug na oom Petrus toe waar dié versigtig oor die effense trappie sypaadjie toe trap. “Kan ek Oom help?”

“Dankie, maar ek kom reg.” Hy laat nogtans toe dat sy hom aan die elmboog vat en na die bankie toe lei waar die ma op die een punt sit en op haar selfoon konsentreer.

“Sit ’n rukkie hier op die bank. Oom moet seker al moeg wees van al die staan en die opwinding. Dan kan ons teruggaan huis toe.”

“Ons wag liewer,” keer hy. “Ons is tog nou hier.”

Hy gaan met ’n steun op die bank sit, hy op die een punt en die ma op die verste punt asof hulle mekaar nie raaksien nie.

Agter hulle kom ’n lang, donker vrou by die munisipale gebou se voordeur uit. Dit lyk of sy by die twee op die bank gaan verby loop, maar toe steek sy vas. “Meneer was mos daar in die ry, nie waar nie?”

“Die hele oggend al.”

“Ek kan sien u is moeg, Meneer. Dalk kan ek u help. My naam is Naledi Mogotsi en ek werk hier bo in die kantoor.”

“Het ek jou nie daar binne saam met hulle sien tee drink nie?” Dit klink nogal of oom Petrus die amptenaar dit verkwalik dat sy daar werk en nou met hom kom praatjies maak.

“Ek het en ek het julle in die ry sien staan. Ek kan julle help.”

“Jy werk dan saam met hulle?” Steeds verwytend.

“Ek is ’n enkelma en ek kan nie bekostig om nie te werk nie. Enkelouer wees, is nie maklik in hierdie tye nie,” voeg Naledi sagter by.

“Een van die mooi dae is ek ook ’n enkelma.” Sy praat net hard genoeg dat die ander haar kan hoor.

“Mooi dae is dit nie,” verseker die amptenaar haar en kyk na die meisiekind op die ander punt van die parkbank. “Dit kan net beter gaan.”

“Ek kan nie wag nie.” Vir die seuntjie se ma is dit klaarblyklik die einde van hierdie onderwerp. “Sal jy ons regtig kan help?”

“Gee my julle rekeninge en ek kyk wat ek vir julle kan doen as die krag weer aankom.”

“Het die stadsraad dan nie ’n kragopwekker nie?” verneem die ou man verbaas.

“Diesel is op. Kan ek julle rekeninge sien en hoor wat die probleem is?”

“Wag maande al vir die korrekte rekening. Ons is besig om ons huis te verkoop,” antwoord die meisiekind en oorhandig die pakkie papiere aan die behulpsame vrou.

“Wag al meer as ’n jaar dat julle my deposito teruggee,” knor oom Petrus.

“Dit sal wonderlik wees, dankie, Naledi.” Simoné kom tussen die twee op die bank sit. “Dit sal ons baie help.”

“Ek sien daar is ’n paar wolkies doer agter die hotel se dak.” Naledi kyk lug toe.

“Lyk of dit sal kan kom reën. Bedompig genoeg.” Oom Petrus kyk na die ma op die ander punt van die bank asof hy haar nou eers raaksien.

“Gelukkig is die koffiewinkel naby.” Naledi wys na Moerketel oorkant die straat. “Julle kan daar wag as ek te lank draai.”

“Ons wag maar en sien.”

Simoné staan op. “Ek bel net die huismoeder.”

Oom Petrus en die meisiekind kyk na die skraal vrou wat met hulle dokumente die gebou in loop. ’n Wolk skuif voor die son in. Só bly hulle sonder ’n enkele woord op die eindpunte van die bank sit. Totdat Simoné weer kom sit en die eerste druppel huiwerig val.

“Kom ons stap oor Moerketel toe, dan wag ons daar vir Naledi. Daar is sekerlik meer as een tafel in die koffiewinkel,” stel Simoné voor.

“Ek is nie nou lus vir koffie nie.” Die meisiekind kyk op. “Ek bel weer of wag totdat hulle oopmaak.”

“Ek is in elk geval te moeg,” kla oom Petrus.

Dit begin vinniger drup.

“Ag kom, ons is al drie moeg en geïrriteerd met die swak diens en die ewige gewag.” Simoné begin loop.

Die ou man kreun terwyl hy sukkelend probeer opstaan.

Die meisiekind slenter weg oor die parkeerterrein toe hy regop kom, eers weer terugsak. Hy moet met die regterhand op die armleuning steun en die ander hand op die natterige sitplek voor hy uiteindelik sukkelend en kreunend regop staan.

Hy struikel byna weer toe hy nie die skuinstetjie van die sypaadjie af na die parkeerterrein sien nie, maar Simoné het hom stewig aan die hand beet.

“Nou kom dan net, dêmmit,” blaf die meisiekind in haar selfoon. Hulle staan vir haar en wag.

“My kind se pa kom my haal. Sal jy asseblief my dokumente kry en my bel as jy dit het?” vra sy vir Simoné. “Hy is al op pad en hy het nie geduld nie,” voeg sy verskonend by.

“Ek maak so, ek het mos jou nommer.”

’n Nuwe BMW jaag die parkeerterrein binne. Die voordeur aan die passasierskant vlieg oop en die witkopseuntjie van vanoggend val byna uit die motor, storm op sy ma af. “Hy wil my weer slaan!”

“Ja, hol weer na jou frieken ma toe.”

Hoe, weet niemand nie, maar die volgende oomblik staan die ou man by die BMW se oop voordeur. “Raak aan die kind en jy sal met my te doene kry.”

“Kom hier,” sê die ma toe en vat die kind aan die hand, klim in die kar en klap die deur net betyds agter haar toe voor die motor brullend die straat in spoed. “Oom Petrus kon seergekry het. Wat besiel Oom?”

“Dit kon my kleinkind gewees het.”

“Oom het mos nie ’n kleinkind nie?”

“Ek het.” Bot.

“Waar is dié?” Asof Simoné met ’n seniele oumens praat.

“Ek weet nie,” mompel hy huiwerig. “Die skoondogter het hom gesteel, maar ek het pas besluit ek sal hulle gaan soek.”

“Gesteel?”

“Ek praat nie daaroor nie.”

Sy sit hom net verstom en aanstaar.

“Kom ons gaan drink ’n koffie hier oorkant, Simoné,” nooi oom Petrus uit die bloute. “Ek koop vir jou ’n koffie om dankie te sê vir al jou moeite.”

“Is nie moeite nie, Oom, dis my werk.”

“Ons moet tog wag vir die vriendelike vrou. Wat is haar naam nou weer?”

“Naledi, Oom.” Simoné begin aanstap oor die parkeerterrein, draai om en wag.

Dit neem hom ’n rukkie om tot by haar te kom. Hy laat selfs toe dat sy hom aan die hand lei. Só stap die twee versigtig oor die straat tussen die ligte verkeer deur tot in die ingang van die skemer koffiewinkel, waar ’n kragopwekker iewers in die agtergrond raas.

By die deur groet die kelner. “Tafel vir twee? Julle sal ongelukkig ’n rukkie moet wag, ons is vol.”

Hulle wag nie te lank nie voordat ’n tafel oopgaan en hulle kan gaan sit.

“Reg om te bestel?” vra ’n jong student by hulle tafel.

“Moerkoffie, swart,” bestel oom Petrus.

“Filterkoffie, asseblief, warm melk,” sê Simoné.

“Is Oom nie al te moeg nie?” vra sy besorgd toe die koffie voor hulle neergesit word. “Ons drink net, dan vat ek Oom huis toe en ek kom haal later die papiere by Naledi.”

“Ek is reg,” pruttel hy met sy neus in die koffiebeker.

Hulle drink in stilte verder.

Die koffiebekers is amper leeg toe Naledi ’n stoel aan hulle tafel uitskuif en die kelnerin ’n groot beker koffie voor haar neersit.

“Dankie, Juffrou. Meneer lyk vir my gedaan.” Dit is ’n stelling van Naledi, nie ’n vraag nie.

“Ons wag vir jou,” sê die ou man.

“Lyk vir my of julle nog lank gaan wag, nou net hier buite gehoor ons is nou weer skielik op fase ses. Die krag sal eers ná vyf aangaan en dan is die kantore al toe.”

“Dan ry ons maar.”

“Nee, sit,” keer Naledi. “Een van my personeel het die dokumente. Sy sal vanmiddag nog julle probleme oplos.” Sy drink aan haar koffie.

“Ek sal saam met u kantoor toe gaan,” bied Simoné verlig aan.

“Dankie, maar hulle sal nie nou iemand saam net my daar binne toelaat nie.”

“Dan kan ons mos maar gaan?” vra oom Petrus hoopvol.

“Julle kan. Mevrou, gee my net jou e-posadres.”

Naledi skryf die adres neer en drink dan haar koffie klaar.

“As oom Petrus reg is, kan ons maar ry. Oom kan by die ouetehuis gaan rus.”

“Aftreeoord,” korrigeer hy. “’n Mens kan sien jy is nog nuut by ons.”

“Is daar dan ’n verskil?” Simoné kyk af op haar hande met die blink ringe wat ontspanne op die tafel lê. Sy staan op en stryk haar klere reg. “Ons moet ry, my oom. Die huismoeder het al twee keer gebel om te hoor hoekom draai ek so. Oom kan daardie verskil vir my verduidelik. Op pad ouetehuis toe,” voeg sy tergend by.

“Aftreeoord,” hou hy vol.

By die deur sien sy hoe hy met een voet die drumpel soek, met die agterkant van sy hande weerskante teen die kosyn druk en versigtig die trappie buitetoe aandurf. Eers toe hulle in die bussie is, begin hy vir haar die verskil tussen aftreeoord en ouetehuis verduidelik.