Skip to main content

Uittreksel | Kastele en kerse

Een

“Chloe, jy weet hoe ek daaroor voel om vir mense te wag,” laat Lindi effe ongeduldig hoor.

Chloe Basson hoef nie op haar horlosie te kyk om te weet dat dit ’n volle twintig minute is wat sy laat is vir die afspraak met die hoofredakteur nie. Met knersende tande vra sy tog om verskoning, al dra dit geen meriete nie.

“Sal jy darem die artikel betyds klaar hê voor sper­tyd oormôreoggend?”

“Natuurlik. Dis juis hoekom ek ’n bietjie laat is.” Chloe sal eenvoudig net die een of ander vorm van inspirasie moet gaan soek om ’n uitstekende artikel in te handig, want om oor die nuutste Boho-macra­me-plantehanger te skryf, is nou nie juis haar idee van pret en kreatiewe skryfwerk nie. Dit was wel ’n heerlike nuwe ervaring om tussen die vrouens te sit terwyl hulle die toue weef, maar sy het beslis iets ernstiger in gedagte gehad toe sy vir haar studies ingeskryf het.

“Gaaf. Ek het besluit om jou Lesotho toe te stuur. Eintlik is Castle Frazer op die grens aan Suid-Afrika se kant. Het jy al van die skrywer Zack Snyman ge­hoor?”

“Hy is bekend vir sy grusame, angswekkende, spookagtige, rillings-teen-jou-ruggraat-af-boeke.”

Lindi lyk verbaas, maar sy noem eerder nie dat sy hierdie skrikwekkende stories verag nie. Juis omdat dit klink asof Chloe deeglik bekend is met Zack Sny­man se skryfwerk.

“Sy nuutste bangmaakboek, Die swye van Celine, is tot ’n draaiboek verwerk en word tans by Castle Frazer verfilm. Dit gaan jou werk wees om ons lesers by Plush daarvan te vertel. Daar was lanklaas so ’n vreesaanjaende fliek op tuisbodem gemaak en soos ek by my kontakte hoor, beloof dit om heelwat inter­nasionale blootstelling te kry. Jy moet vir ons lesers ’n eerstehandse atmosfeer skep – en dit kan jy net doen deur die verfilming in die ou kasteel te ervaar.”

Nee, vader van genade, dink Chloe. Gee haar dan eerder die potplantdakhangers. Vir ’n bangmaaksessie sien sy nie kans nie. En watse kasteel is dit? Geen kasteel is sonder spoke nie. Dít alleen is genoeg om haar al klaar die ritteltits te gee.

“Die tydskrif het lanklaas ’n ordentlike spooksto­rie by hul definisie en inhoud van smaakvol, luuks en duur gevoeg. Dit lyk nie of jy regtig in die storie be­langstel nie?” interpreteer Lindi haar gesigsuitdruk­king heel tereg en vinnig plak Chloe ’n opgewonde gesiggie op.

“Oe, ek kan nie wag nie! Ek sien baie uit na my eerste ekskursie buite Gauteng se grense.”

“Hoe ook al, ek wil hê jou artikel se hooffokus moet op die skrywer wees. Meneer Snyman was lanklaas in die kollig en die mense begin wonder waar die hu­bare, aantreklike en supersexy man hom bevind.”

Het haar streng hoofredakteur so pas die woord “sexy” geuiter?! Chloe wil so ampertjies begin lag. As sy nie nou hier met haar redakteur in gesprek was nie, sou sy beslis self ’n paar onvanpaste woorde gesê het.

“Sien jy kans?” vra Lindi half ongeduldig en Chloe wonder hoekom iemand aan die hoof van ’n tydskrif of koerant altyd so streng en onversetlik moet wees. Selfs in die filmindustrie word hulle as sodanig geti­peer. En hulle moet uiteraard met hul werk getroud wees. Soos Lindi wel is. ’n Verbitterde oujongnooi.

“Beslis.”

“Gaaf. Die artikel sal dan volgende week in die tyd­skrif se vermaakafdeling verskyn. Moenie bekommerd wees oor foto’s nie. Snyman het vooraf na die kantoor gekom vir ’n paar kiekies.”

Dis baie vinnig. Toegegee, haar ondervinding is beperk tot lokale buitelugmarkte en die nuutste vorm van kuns, genaamd “dot art”. Sy sal moet spring, want die tydskrif verskyn elke Vrydag en Donderdae hard­loop almal gewoonlik soos afkophoenders rond om die publikasie persgereed te kry.

Lindi hou ’n paar velle papier na haar toe uit. “Jy moet hierdie teken. Dis ’n vertroulikheidskontrak van die filmvervaardiger en skrywer. Toe, teken gou.”

Chloe neem die stapeltjie papiere, asook die pen wat na haar uitgehou word, en wonder vir ’n oomblik of sy nie eers moet vra wat sy onderteken nie. Lindi se ongeduldige blik bly egter gefokus op die geskrewe bladsye. Sy hoop net nie sy teken haar lewe nou hier weg nie en rammel ’n handtekening af.

Duidelik geïrriteerd word die dokument op die hoek van Lindi se lessenaar neergesit.

“Nog iets?” Haar mond trek in ’n dun lyntjie.

“Ek wil net seker maak dat Snyman wel by die kasteel is?” probeer Chloe dit professioneel hou, want met haar haastige en voortvarende persoonlikheid moet sy by tye moeite doen om haarself te tem en te kalmeer.

“Hy verkies om deel te wees van die verfilming. Die hele span is daar besig met die laaste tonele wat oor so twee weke klaar sal wees. Jou afspraak is vir Don­derdagmiddag vieruur.”

“Soos in oormôre?”

“Ja. Het jy iets beters om te doen?”

“Glad nie. Ek sien baie uit daarna.” Sy byt op haar tande.

“Wonderlik. Kry die res van die besonderhede by my persoonlike assistent. Asseblief, Chloe. Ek waag ’n groot kans om vir ’n nuutjie soos jy hierdie enorme taak te gee. Moenie teleurstel nie, want binnekort is daardie fliek al waaroor die mense gaan praat.”

“Jy sal nie spyt wees nie. Dit belowe ek jou.”

Met ’n diep sug trek Chloe die baas se kantoordeur agter haar toe. Ná vyf maande se swoeg en sweet by Plush, die weeklikse gedrukte sowel as aanlyn vrouetydskrif, word sy uiteindelik vir meer gebruik as om net advertensies en lesersmenings te redigeer. Hierdie storie gaan haar egter oorboord gooi uit haar eie beskimmelde lewensbootjie. Sy is deur en deur ’n lees­liefhebber, maar nié van die rillergenre nie. Nog minder sien sy kans vir die skrywer. Zack Snyman het ’n reputasie soos min en is beslis nie die tipe wat haar twee keer sal laat kyk nie. Tall, dark and handsome, met ’n tikkie misterie, was nog altyd haar voorkeur.

“En as jy nou hier op jou eentjie staan?” vra Mel, een van die min vriendinne wat sy gemaak het van­dat sy hier begin werk het.

“Ek word uitgestuur op ’n velduitstappie. Letterlik. Iewers in ’n veld of ’n bos in die middel van niks en nêrens.”

“H’m, is jy die gelukkige wenner van die kasteel­storie?”

“Ek het nie geweet die superheld se doen en late is algemene kennis nie?”

“Dis my werk om van alles hier rond te weet,” verklaar Mel trots. “Jy sal dit geniet. Weet jy hoe min mense al die voorreg gehad het om die hunk van die eeu in lewende lywe te ontmoet?”

“Ek is seker hy’s nie regtig so uitsonderlik soos jy aangaan nie, maar ek stel ook nie eintlik belang nie. Nie in hom óf sy boeke nie.”

“Daar is beslis iets fout met jou. Wie kan nou ‘nee’ sê vir ’n sensuele skrywer?”

“Ek is bestand teen enigiets wat broek dra,” merk Chloe droogweg op.

“Bekende laaste woorde, maar bêre nou daardie lang gesig van jou en gaan voltooi jou storie sodat dit nie die spertyd mis nie. Vertrou my, jy kan dit nie bekostig om nóú droog te maak nie,” laat Mel geheim­sinnig hoor.

“Hoe bedoel jy?” vra Chloe en kan nie die frons oor haar gesig keer nie. “Wat weet jy wat ek nie weet nie?”

“Office gossip, ongelukkig, maar moet jou nie daaraan steur nie. Jy weet mos ek kyk uit vir jou.”

“Dankie . . .?” Die onsekerheid knaag, al is dit om­dat sy nie eintlik snap waarop Mel sinspeel en duide­lik nie oor wil praat nie.

“Wyn vanaand by my plek?”

“Enige ander dag, jy weet mos ek is altyd reg vir sports, maar vir nou het ek ’n sperdatum en hope navorsing.”

“Dan reël ons dit vir die naweek iewers. Ek kan nie verder klets nie, die aanlyn inhoud gaan nie vanself op die webblad kom nie.”

Die persoonlike assistent oorhandig haar lêer met al die nodige inligting, soos die besonderhede van die oorslaapgastehuis en besigheidskredietkaarte. Seker­lik kon dit die norse meisie nie skade doen om die lêer met ’n glimlag te oorhandig nie.

Nog voordat sy by haar werkshokkie kom, keer Barry haar voor. Ag nee, magtig! Hiervoor het sy nie nou krag nie.

“Waar kruip jy deesdae weg, my meisie?”

“Barry, ons het mos nou al hieroor gepraat.” Tot vervelens toe, maar Boring Barry kry net nie die boodskap nie. Sy het hom selfs ’n tweede afspraak gegun met die hoop dat hy dalk ’n flikkering in haar kan aansteek, hy is immers nie té sleg op die oog nie, maar die misterie het geskort. Soos in báie. Hy het dit nie eens reggekry om naastenby haar aanknoppie te druk nie. “Ek is besig met ’n storie.”

“Ek doen nou-nou ’n model shoot,” vertel hy, seker­lik in ’n poging om haar jaloers te probeer maak.

“Dan hoop ek jou modelle werk saam en jou foto’s kom perfek uit.”

“Jy’s mooi genoeg om óók voor die lens te staan. Veral met jou nuwe hairdo. Dit doen nogal dinge aan ’n man.”

“Nou praat jy net nonsens,” probeer sy dit weg­praat. “Ek moet ongelukkig nou gaan. Lindi het my ’n nuwe opdrag gegee en ek weet niks van die onderwerp af nie.”

“Strongs, my meisie.” Die aangeplakte sleng irri­teer haar opnuut en sy skud haar kop.

“Ek is nié jou meisie nie,” laat sy vir die hoeveelste keer hoor, en maak dat sy wegkom van hom af.

Terug in haar oopplankantoorspasie maak sy die dokument op haar skootrekenaar oop om met hier­die week se artikel se voorlopige bewoording te be­gin. Vir middagete is daar nie vandag tyd nie.


“Oe, Rageltjie bederf ons weer vanaand!” Chloe loop agter die heerlike kosreuk aan die eetkamer binne na­dat sy haar bloedrooi Mini Cooper in die Bassons se spoggerige Sandton-huis se driedubbele motorhuis geparkeer het. Sy vryf haar hande teen mekaar weens die koue. Sy sal nou warmer word van die huis se sentrale verhittingstelsel. “Ek raai dis tamatiesop en knoffelskons.”

“Jy ruik reg, maar jy weet haar sop is nie sommer énige sop nie,” glimlag haar ouer suster, Adelie, agter haar. Dié se verloofde, Sihan, is ook vanaand genooi en sit skuins oorkant pa Dewald wat altyd aan die kop sit. Sy gaan buk oor hom en soen sy kroontjie vlugtig voordat almal begin opskep.

“Het Pa gesien die een liggie by die fontein langs die tulpe is al weer dood?” vra Chloe. “Ek het dit opge­merk toe ek nou om die sirkel gekom het.”

“Ek sal dit laat regmaak. Een van die dae is die ou blommetjies ook dood van die winter se ysigheid, wat jammer is,” gesels Dewald.

Almal gaan sit ewe formeel aan en wag dat De­wald die tafelgebed moet doen.

“Adelie, die Franse uitvoerfirma kan nie uitgepraat raak oor jou besigheidsvernuf nie. Volgens hulle is alles makliker vandat jy ons familiefirma se invoere behartig,” prys hul pa ná die eerste paar happe. Soos per gewoonte gesels pa Dewald en Adelie altyd eers oor Basson Ingenieurs Beperk, of BIB in kort, waarby albei betrokke is. Eers dan vra haar pa vir Chloe uit oor haar dag. Sy is net verskriklik dankbaar dat haar pa haar wel toegelaat het om haar droom te volg in ’n beroep van haar keuse en dat sy nie gedwing was om by hul familiebesigheid aan te sluit nie, want enige kantooropset sou haar teen die mure uitgedryf het. Haar hart is nou maar eenvoudig in mense en hul ver­hale en die wonderwêreld van lees.

Sy luister hoe hulle volgende gesels oor Adelie se boetiek met egte-leer-produkte waarby sy amper nie met die produksie kan voorbly nie.

“Dalk moet jy oorweeg om iemand aan te stel om te help?” stel Chloe voor. “Ná jul troue sal jy seker dinge ’n bietjie rustiger wil vat?”

“Dis die idee, ja.” Tipies soos ’n voornemende bruid straal Adelie behoorlik wanneer die woord “troue” genoem word.

“Hoe was my skat se dag?” vra pa Dewald nou be­langstellend aan Chloe.

“Eintlik goed. Nuwe dinge beleef en ontdek wat beslis nie my talent is nie. Ek was by vroue wat toue in stringe vleg om die mooiste potplanthouers te maak. Dit hang van die dak af en lyk baie mooi. Ek het self ook probeer, en sjoe, dis moeiliker as wat dit lyk, hoor.”

“Dit klink beslis vreemd.” Haar pa is baie meer betrokke by sy dogters vandat hy effens by die werk afgeskaal het en Adelie ’n bietjie meer beheer en verantwoordelikhede kon oorneem. Ná hul ma ses jaar gelede oorlede is, was hul pa ’n onmoontlike, moei­like beheervraat. Die meeste van sy energie was ge­fokus om sy twee dogters te beskerm, al moet Chloe erken dat Adelie baie erger deurgeloop het as sy. Tien jaar jonger as haar ousus, en sekerlik ’n ietwat te veel bederf, was Chloe altyd op die hande gedra. Arme Adelie moes talle ryk, jong mans ontmoet omdat pa Dewald haar toekoms wou verseker. Uiteindelik moes hy vrede maak daarmee dat sy verlief geraak het op iemand wat aanvanklik glad nie sy goedkeuring weggedra het nie. En kyk nou net hoe gelukkig is hulle, dink Chloe terwyl Sihan haar sus se hand bo-op die tafel vashou.

“My volgende storie gaan baie interessant wees. Ek moet oormôre tot by die Lesotho-grens ry om ’n onderhoud met niemand anders as Zack Snyman te voer nie. En dit boonop in ’n kasteel van ’n huis.”

“Jy’s nie ernstig nie!” laat Sihan opgewonde hoor.

“Ongelukkig is ek.”

“Jy weet nie wat jy mis as jy nie sy boeke lees nie.” Sihan raak byna geïrriteerd oor Chloe se onvermoë om saam met hom opgewonde te raak. “Ek is mal oor sy fenomenale skryfstyl en werk.”

“Dan is daar beslis fout met jou, swaertjie. Sy ver­hale is wreed en genoeg om enigiemand nagmerries te gee.”

“Allesbehalwe. Het jy sy nuutste boek gelees?”

“Nee. Jy weet ek sit altyd met my neus in ’n boek, maar nie met sy tipe leesstof nie. As dit nie vir hierdie artikel was nie, sou ek ook nie. Nou het ek seker nie ’n keuse nie, want ek moet my navorsing darem behoorlik doen.”

“Wel, ten minste is hy iets vir die oog,” laat Adelie droogweg hoor.

“Hei . . .” lag Sihan.

“Wat? Mooi bly maar mooi en ek het nog vier maande oor om te kyk soveel as wat ek wil. Ek belowe ek sal daarna net oë vir jou hê.”

“Hoe vorder die troureëlings?” vra pa Dewald.

“Ons tel al die weke, Pa,” oefen Sihan solank die aanspreekvorm met gemak.

“Bring jy darem ’n plus een?” vra Adelie en kyk in haar jonger suster se rigting.

“Ek soek nog hard na iemand.”

“Solank jy net jou afstand hou, my skat. Jy is nog heeltemal te jonk vir die manne se aandag,” maan haar pa.

“Ag, Pa weet in elk geval dat geen man my hart op universiteit kon verower het nie.”

“Hou dit maar so.” Hy neem ’n hap. “Dalk moet ek jou voorstel aan een van die nuwe die gholfklublede se seuns?”

“Pa weet van beter as om my aan moontlike kan­didate voor te stel,” laat Chloe koppig hoor.

“Ek wil net nie hê jy moet met die een of ander skorriemorrie hier opdaag wat oorbelle in elke sigbare gat het nie. Daardie kalante wat jy hier aangebring het tydens jou studies, het my bekommerd gehad.”

Sy neem haar pa se hand en druk dit styf voordat sy tergend sê: “Ek sal net iemand huis toe bring wat blou hare het, oukei?”

“Oor my dooie liggaam!” knor hy.

“En Pa se metgesel vir die troue?” verander Ade­lie die onderwerp wat nou dreig om handuit te ruk. Adelie loer onderlangs na hom met ’n skewe glimlag oor haar gesig gesprei. Wat het sy tog nou weer tussen haar pa en suster gemis, wonder Chloe vieserig.

“Rageltjie?” roep pa Dewald die huishoudster sonder om te antwoord. “Nagereg, asseblief.”

“Sekerlik, Meneer.” Binne minute word die heer­likste karamel-pavlova ingedra.

Tot haar spyt moet Chloe die poeding vinnig ver­orber. “Julle moet my verskoon, asseblief. Ek het baie navorsing om te doen.”

“En nou?” vra Rageltjie by die kombuisdeur uit. “Het my Chloe-kind nie van die skuimpie-poeding ge­hou nie?”

“Dit was soos altyd voortreflik, maar ek het ’n berg werk wat vir my wag...”

“Kan ek later vir jou warmsjokolade en koekies bring?”

“Dankie, maar net as dit van jou eie gebak is, Rageltjie.”

“Jy weet ek hou die bestes net vir jou.”

In haar kamer spring sy vinnig onder die stort. Vir ’n warm borrelbad is daar nie vandag tyd nie. Danksy die Brasiliaanse behandeling val haar donkerbruin skouerlengte hare en kort kuif reguit in plek ná dit gewas is. Chloe lê agteroor op haar bed en haal haar Kindle uit.

“Kan ek binnekom?” vra Adelie by die deur en soos dit hul gewoonte is, stoot sy dit oop sonder om op ’n antwoord te wag. Sy val langs Chloe neer op die bed.

“Wat het jy en Pa nou al weer aangevang? Ek sien julle loer so onderlangs na mekaar.”

“Ek het hom oortuig om ’n Facebook-profiel oop te maak. Hy was natuurlik baie daarteen gekant, maar ek probeer hom aanpor om meer uit te kom. Nuwe mense te ontmoet. Gholf elke Saterdag is nie die beste manier om mense te ontmoet nie.”

“Is dit hoekom jy hom so druk om ’n metgesel troue toe te bring?”

“Ja, maar ek dink nie ek gaan slaag nie. Mamma was en sal seker vir die res van sy lewe sy groot liefde bly. Vertel my eers hoekom jy so bekommerd lyk.”

“Ek gaan nie jok nie, ek is meer as ’n klein bietjie opgestres. Ek is onseker oor die onderhoudgedoente. Die onderhoud kan ek nog hanteer, dis vir die gru­same spookstories waaroor ek so vreesbevange raak. Al is dit sommer ’n klomp nonsens.” Genade. Vandat haar ma in ’n motorongeluk gesterf het, kan sy veral moord- en doodstories nie meer verdra nie.

“Jy weet ek sou help as ek kon, maar jy sal hierdie ding alleen moet trotseer.”

“Ek weet, maar moet nou nie soos Pa raak en my in bubble wrap probeer toedraai nie,” probeer Chloe die atmosfeer lig.

“Allesbehalwe. Jy bly nogtans my kleinsus.”

“Ek is al twee en twintig. Iewers moet ek my eie lewe in ’n rigting druk.”

“Jy is al klaar besig daarmee. Jy’s nie meer daardie bykans onskuldige meisietjie wat einde verlede jaar haar honneurs in kommunikasiekunde voltooi het nie. Vandat jy begin werk het, maak jy my só trots. Ek koop Plush op my tablet, net om jou artikels te lees.”

“Dit klink soos iets wat Mamma sou gesê het,” glimlag Chloe.

“Sy sou ook trots gewees het op jou. Sy sou dalk nie mal wees oor jou nuutste korter en reguit hare met die kuif nie, maar daaroor sou selfs ek haar aangevat het, want jy lyk pragtig. Die styl pas by jou jong, waaghalsige en ekstroverte persoonlikheid. Net soos Cleopatra. Chloe-patra,” lag sy oor haar woord­speling.

“Dankie, ek is ook mal daaroor. En Mamma sou net moes vrede maak met my parmantige streke.”

“Sy sou trots gewees het en jy sou nie jy gewees het as jy anders was nie. Jy hou selfs vir Pa op sy tone.”

“Werklik?”

“Dis die waarheid. Nou die dag was jy sy jong tie­ner wat in die agtererf se boomhuis weggekruip het, en nou staan jy klaar aan die begin van jou skryfloop­baan.”

“Dankie, ek probeer nog my voete vind en my sto­ries is nog die ou kleintjies . . .”

“Tot nou toe. Zack Snyman se naam gaan jou aan die wêreld bekendstel.”

“Die druk is beslis aan. Daarom gaan ek nou die boek aanlyn koop en begin lees. Ek sal môre kyk waar die kasteel is. My senuwees is gedaan.”

“Hierdie sal jou lewe verander . . . Jy sal sien.”