Skip to main content

Uittreksel | Karoowals

Een

“Ek weet ek is onbehoorlik laat!” Windverwaaid kom Sonja by die deur ingestap. Die deur klap met ’n harde slag agter haar toe en die swaar sak wat oor haar skouer gedrapeer is, val dawerend op die vloer.

Tannie Babs, haar bejaarde ontvangsdame wat agter die lessenaar sit, kyk haar met geboë wenkbroue aan. Kenmerkend is sy geklee in een van haar helder bloese met pienk lipstiffie wat volmaak daarby pas. “Hm, dramatic entrance. Dit nogal vir ’n Woensdag,” laat tannie Babs met ’n skewe glimlag hoor.

Ergerlik stryk Sonja deur haar donker hare wat in ’n warboel oor haar skouers hang. Daar was nie tyd om dit vas te maak nie, net haar borsel daardeur te jaag. Verslaap. Sy wat pynlik stiptelik is vir elke liewe geleentheid in haar lewe. “Moenie eers vra nie. Selfoonwekkers is hoegenaamd nie betroubaar nie, veral as daar drie keer deur die loop van die aand en nag beurtkrag was en sy battery nie kon herlaai nie.” Sy sug hardop en tel die sak van die vloer af op. “Gelukkig het ek nie die vergeet nie. Moes omtrent die heuningkwas inlê, maar Braam het die voorraad oornag gekoerier.” Triomfantlik hou sy die sak in die lug.

“Dalk sal jy ’n koekoekklok moet aanskaf, Sonja. Of eerder ’n man wat jou kan wakker maak met koffie in die bed. Kyk net hoe maklik het jy Braam om jou pinkie gedraai,” terg tannie Babs skalks.

“Natuurlik is mans mos die antwoord op elke liewe probleem wat vrouens ondervind.” Geïrriteerd loer Sonja na tannie Babs toe die ’n grinnik onderdruk. “Nie net is ek tien minute laat vir my eerste afspraak nie, maar ’n man het sowaar as waaragtig my parkeerplek geannekseer. Kan seker nie eens lees nie, want daar staan tog lewensgroot: Dokter Wagner. Hy kan onmoontlik nog ’n van ook met my deel.”

“Hoe weet jy dat dit ’n man is? Dalk beskuldig jy nou die adamsgeslag verniet. Dalk het die persoon gedink die parkeerplek is vir dokter Wagner se pasiënte bedoel.” Tannie Babs tik onverpoos op haar rekenaar terwyl sy net nou en dan opkyk.

Sonja gee ’n onvroulike snork terwyl sy vinnig die voorraad op die toonbank uitpak. Sy sal regtig haar litte moet roer. Haar eerste pasiënt van die dag is seker al ongeduldig teen die tyd. Nie deel van die werketiek waarop sy so roem nie.

“Dit is net ’n man wat sy ego wil streel en wil opmaak vir sy lae vlak van testosteroon, wat so ’n ongepoetste BMW-viertrek ry, en net ’n man wat so arrogant sal wees om op ’n parkeerplek wat duidelik gemerk is, te parkeer,” merk sy droog op voordat sy vinnig deur die dag se afsprake gaan.

Eerste afspraak is darem net ’n gewone huiskat. Dit behoort redelik vinnig te verloop; haar selfs in staat stel om van die verlore tyd in te haal, anders gaan dit ’n dag wees waar almal se afsprake agter skedule gaan raak.

“Nie geweet jy’t so ’n sterk opinie oor mans met sulke groot karre nie. Dis amper asof hy jou nogtans beïndruk.” Tannie Babs se opmerking laat ’n gloed van haar keel af opkruip. Sy bewonder niemand nie. Haar oggend was net besonder gejaagd. En om eerlik te wees, sy weet nie of die eienaar van die spoggerige motor ’n man of vrou is nie. Weer vleg haar vingers deur haar hare.

Daar was ’n man, nie ver van die betrokke kar af nie, wat gelyk het of hy vir iets of iemand wag. Sy uitsonderlike groen oë flits deur haar gedagtes. Sy gaan sukkel om daardie prentjie uit haar geheue te wis. Besonders. Asof ’n stukkie see daarin vasgevang is. Hoekom dit onthou? Sy trek haar mond op ’n plooi. Die feit is, iemand het haar parkeerplek gesteel en veroorsaak dat sy ’n hele ent verder in die straat af moes parkeer.

“Dokter, Lemoen wag reeds in die spreekkamer vir jou,” onderbreek tannie Babs haar gedagtes genadiglik.

Hoekom nou hier helder oordag oor ’n vreemde man se oë staan en droom? Sy haak haar doktersjas van die deur af en trek dit oor haar gemaklike jeans en wit bloes. Eenvoud en gemak was nog altyd die twee woorde wat haar klerekas die beste opsom. Gelukkig het sy ’n lyf wat in ongeveer alles pas danksy die drafgogga wat haar gebyt het.

Ruk jou reg, raas sy met haarself. Dit is ’n lang dag wat voorlê. Verslaap akkordeer definitief nie met haar nie. Sonja bepaal weer haar aandag by tannie Babs. Het sy reg gehoor? Lemoen? Sonja bekyk haar ontvangsdame met opgetrekte wenkbroue. In die boek het net gestaan: huiskat.

“Lemoen?! Dit sal seker ’n gesonde ontbyt uitmaak, maar ek het nie een ingepak nie. Inteendeel, ek nog nie eens kans gehad vir ontbyt nie.” Haar bruin oë bly vraend gerig op tannie Babs.

“Ag, hartjie, dis jou volgende pasiënt,” antwoord tannie Babs geduldig. Sy staan vir die eerste keer agter die rekenaar op en gee Sonja se skouer ’n bemoedigende drukkie terwyl sy haar in die rigting van haar spreekkamer stuur.

“Laat, en ’n Lemoen vir ’n pasiënt . . . Vandag begin regtig met die verkeerde kant van die muishond.”

“Blykbaar al geryloop ook, die betrokke kat. Ek sal sorg vir koffie en beskuit sodra jy klaar is. Toe, opskud,” jaag tannie Babs haar skaamteloos aan.

“Ek dink Tannie kort ’n vakansie. ’n Lang een by die see. Sonder diere of vreemde katte,” praat Sonja glimlaggend oor haar skouer terwyl sy gangaf na haar spreekkamer stap.

Sy oorwerk regtig vir tannie Babs. Dié vreemde naam verstaan sy nou beter, maar ’n kat wat ryloop? Nee, kyk, nou het sy alles gehoor. Danksy haar werk as veearts kom sy daagliks in aanraking met interessante kreature. Ook nie net dié wat aan die diereryk behoort nie. In haar vier maande op die klein dorpie was daar genoeg sulke gevalle.


Sy stap haar spreekkamer binne en maak haar donker hare in ’n poniestert vas. Anders is dit heeldag in haar pad.

“Goeiemôre. Blykbaar is ’n spesiale kat, Lemoen, hier vir my aandag? Jammer dat julle moes wag, maar my wekker het vanoggend nie afgegaan nie en iemand het my parkeerplek gesteel . . .”

Toe Sonja haar kop oplig, kyk sy vas in twee liggroen oë wat definitief nie aan ’n kat kan behoort nie. Die res van haar sin stol net daar op haar lippe. Sy vee ’n sliert hare agter haar oor in en draai vinnig na die kas waar sy haar handskoene bêre, trek instinktief ’n paar aan. Probeer in die oomblik haar ewewig herwin. Dieselfde liggroen oë van vanoggend. Dit beteken dat hy waarskynlik die eienaar van die viertrek is wat op haar parkeerplek staan; die analfabeet, of moedswillige mansmens, wat daarvan hou om ander mense se parkeerplekke te steel. Boonop te lui om die ekstra twintig tree te stap.

Die warmte wat in haar nek opkruip, het net mooi niks te doen met die son wat so lekker skyn daar buite nie.

“Lemoen is my kat, Tannie. Hy voel nie baie lekker nie en maak sulke snaakse geluide. Ek weet katte moet miaau, maar hy rek dit so u-u-it.”

Nou eers sien Sonja die blonde dogtertjie met die mooiste krulhare wat woes om haar kop staan. Beslis moet sy Lemoen se eienaar wees. Die krulkop hou haar met ’n bekommerde frons dop terwyl sy saggies oor die tamaai gemmerkat se sagte pels vryf.

“Jani, los die tannie dat sy eers na Lemoen kyk voordat ons haar kop deurmekaar praat.”

Meneer Groen-oë het ’n ryk baritonstem wat die hele vertrek vul. Sonja trek haar skouers geïrriteerd terug. Tannie, nogal, al is sy dertig. Bewus daarvan dat sy reeds oor die voorgestelde ouderdomsperk is, maar nogtans is dit nie hoe sy aangespreek wil word nie.

Toe sy weer sy oë ontmoet, besef sy dit is nie net sy stem wat die spasie soveel kleiner laat voel nie. Lank en breedgeskouerd staan hy daar soos ’n hedendaagse Herkules. Goudblonde hare wat sy besonderse oë komplementeer, en ’n hewige frons wat sy misnoeë met haar duidelik afets teen sy sonbruin vel.

Vanoggend het daardie oë haar gevange geneem en verhoed dat sy die res van hom kon waarneem. Ook maar goed so, want dit kon haar nog ’n klein ongelukkie laat veroorsaak het.

“Ons gaan Lemoen sommer in ’n japtrap beter laat voel, jong. En hoe oud is jou lieflike kat?” bepaal sy haar liewer weer by die dogtertjie en skuif haar gedagtes oor die Griekse geskiedenis eers opsy.

“Hy’s nou eers twee jaretjies oud, tannie Dokter. Maar hy’t nog nooit sulke snaakse geluide gemaak nie.” Jani streel weer besorgd oor sy pels.

Sonja kry haar instrumente en ondersoek Lemoen deeglik van kop tot toon. Toe sy by sy maag kom, en daarop druk uitoefen, gee die kat weer ’n nare geluid wat almal laat terugdeins.

“Jani, onthou dat ons nie vir Lemoen inskryf vir vanjaar se kooroudisies nie, hoor,” sê Herkules en vee oor die dogtertjie se bos krulhare.

“Ag, wie’t nou lus om na ’n kattekoor te luister! Lemoen is in elk geval net ’n ou plaaskat,” verduidelik die krulkop beterweterig.

“Het Lemoen dalk iewers op die plaas seergekry, Jani?” Sonja druk weer op sy maag en voel iets abnormaal; amper soos ’n groot skaafplek wat begin ontsteek. Definitief die oorsaak van die arme kat se ongemak.

“Hy’t mos saam met Pappa en Mamma na ’n troue gery, maar nie ín die kar nie . . . onder die kar, Tannie. Op’ie spaarwiel.” Jani glimlag van oor tot oor.

“Tannie, my Pa sê dis ’n regte kattemaai.”

Sonja se gesig ontspan merkbaar. Dan het tannie Babs sowaar nie stories opgemaak nie.

“Dalk is dit waar hy so seergekry het. Sal jy saam met Pappa in die wagkamer gaan wag sodat tannie hom gou kan opfieks?”

Sonja knyp Jani se wang speels toe sy onseker na haar kyk. “Sal hy nie baie seerkry nie, Tannie?” Jani lyk onwillig om haar spesiale kat sommer net so aan Sonja se genade oor te laat en draai hulpsoekend na Herkules.

Binne twee tree staan hy langs haar. “Is jy seker dat jy sy wond self sal kan versorg? Ek gee nie om om te help nie.” Die ryk baritonstem vul weer haar hele spreekkamer.

Sonja en die yslike man reik gelyktydig uit na die gemmerkat in Jani se arms. Hulle hande ontmoet vir ’n millisekonde en ’n skokgolf hardloop deur Sonja se lyf, laat haar onverwags omdraai. 

“Meneer, ek verseker jou, hierdie is nie my eerste wond wat ek verbind nie, en definitief ook nie my laaste nie. Ek is meer as bevoeg om my werk te kan doen.”

Sy gryp sommer die naaste instrument en begin dit steriliseer. Nie dat sy vandag enigiets gaan oopsny nie. Hierdie wildvreemde man is besig om haar bloeddruk lelik op te jaag. Wat gaan aan met haar? Dit is seker die eerste keer in haar lewe dat sy verslaap het, maar hopelik is dit tog nie hoe die res van die dag gaan verloop as jy jou dag op die agtervoet begin nie! Haar skoolhoofpa sou nooit sulke laksheid duld nie. Hulle moes altyd ’n uur voor die res van die skool aanmeld, want dit sou ’n swak indruk skep as hulle laat was. Ingedril oor twaalf jaar, maak dat vandag heeltemal teen haar grein inwerk.

Dalk kan sy die onttrekkingsimptome van kafeïne blameer, maar sy weet dit het niks met haar koffielus te make nie. Hierdie is ’n besorgde pa wat sy dogter bring om haar siek kat gesond te kry, en sy’s besig om soos ’n bakvissie te kere te gaan. Dit boonop met ’n getroude man!

Sonja draai na Jani en hurk voor die bekommerde dogtertjie. Haar stemtoon is aansienlik minder kortaf.

“Jani, ek sal baie saggies met jou lieflike kat werk, hoor. Hy sal sommer in ’n japtrap weer sy ou self wees. Anders het jy dalk later oorpluisies nodig vir Lemoen se gekerm.”

Sy gee die dogtertjie se hand ’n drukkie en loop saam met haar na die deur. Herkules volg hulle en sy staan effens opsy sodat hy saam met Jani na buite kan loop.

By die deur draai hy om en merk effe geamuseerd op: “Ek het eintlik net bedoel dat indien jy ’n assistent of iemand wil hê om jou by te staan. ’n Kat kan nogal erg krap, veral een wat jou nie ken nie.”

Sonja probeer hom aankyk met ’n uitdrukking van aangeplakte verdraagsaamheid. “Ek het alles onder beheer. Baie dankie, Meneer.”

Met ’n hensopgebaar loop hy in die rigting van die deur.

“Ons wag dan buite vir jou. Ek kan sien jy’s nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie.”

Sy mooi oë vonkel ondeund voordat hy die deur agter hom toemaak en sy iets bitsig kan antwoord. Dit laat onmiddellik die hitte van netnou weer opvlam.

Sonja slaak ’n sug van verligting. Sy voel soos ’n afgeblaasde ballon. Dit was seker die vreemdste tien minute van haar hele lewe. Dit voel of sy deur die hele spektrum van emosies gehardloop het.

Nou bepaal sy eers haar aandag by die groot gemmerkat voor haar, en of sy dit nou wil herken of nie, sy is vrek bang die kat begin krap. Teensinnig moet sy toegee dat Herkules waarskynlik die kat se geite en grille beter ken as sy. Dalk krap Lemoen vir die eerste span en sy wil definitief nie aan die ontvangkant daarvan wees nie.

“Nee, ek’s nie bang vir jou nie en jy gaan my nie seermaak nie, né?” koer sy vir die kat terwyl sy hom agter sy oor vryf. “Nou toe, Lemoen, laat ek gou jou spuit gereed kry voor ek ander handskoene moet aantrek. Hier gaan ons . . .”

Die kat bekyk haar wantrouig met yslike geelgroen kykers. Gelukkig bly hy doodstil sit en nadat sy die verdowing ingespuit het, kan sy rustig voortgaan. Nou en dan maak hy kermgeluidjies, maar verder gedra hy hom soos ’n ware heer. Sy plak die laaste pleister op die gedreineerde wond en kielie vir oulaas agter sy oor.

“Hm, jy’s sommer ’n spoggerige kat. Dankie dat jy so mooi stilgesit het. Moenie weer ryloop nie, hoor, dis nie aan te beveel vir katte soos jy nie.”

’n Sagte spingeluid verseker Sonja dat hy nie meer pyn ervaar nie. Of hy egter na haar waarskuwing gaan luister, weet sy nie.

“Nou kom, Lemoen.” Versigtig tel Sonja die kat op terwyl sy met hom na die wagkamer stap. “Jou eienares is seker al rasend van bekommernis.”

Toe sy die wagkamer binnekom, is Jani dadelik by haar. “Tannie Dokter, is Lemoen nou weer oukei?”

Die besorgde plooi is terug op haar voorkoppie en Sonja buk sodat sy makliker met Jani kan gesels. Sy oorhandig die kat versigtig.

“Hy’s nou weer reg vir nuwe avonture op die plaas. Probeer om hom vir die volgende paar dae maar stil te hou in die huis en gee hom baie melk en lekker kos, dan sal hy weer spoedig al die muise in die stoor vang.”

Toe sy orent kom, vang sy Herkules se blik op haar.

“O, en onthou dat Pappa nie weer jou kat in die spaarwiel se bak laai as julle na ’n troue toe gaan nie. Dis regtig nie ’n goeie plek vir ’n kat nie.”

Sonja byt op haar lip. Hoekom klink dit kwaaier as wat sy bedoel het? Hoekom is dit so ’n verskriklike gedagte dat hierdie indrukwekkende man ’n vrou het?

“Tannie Dokter, oom Sebastiaan is nie my pappa nie! Hy’s net my oom. Mamma se boetie, eintlik,” snip Jani. “Maar dankie vir die raad, tannie Dokter. Ek sal dit beslis onthou as ek weer na ’n troue toe moet gaan.”

Sebastiaan grinnik met ’n skitterwit glimlag. Dit laat hom verrassend jonk en sorgvry lyk.

“Hm, ek vra om verskoning vir my verkeerde afleiding. Jani, kyk mooi na Lemoen en onthou die melk, hoor,” sê Sonja vinnig voor sy omdraai om te kyk wie haar volgende pasiënt is.

Genadiglik is die res van die wagkamer leeg. Dan bekyk sy haar afspraakboek. Natuurlik het sy daardie boek ’n halfuur terug bestudeer, maar dit help om haar verleentheid weg te steek. Haar hart begin onbedaarlik klop en dit voel asof die hele wêreld dit raak kan sien. Dit was nou ’n baie slegte voetfout om te maak.

Sonja voel vir haarself soos ’n vreemdeling. Kan hierdie oggend enigsins vreemder word? Net vanmiddag ry sy winkel toe en gaan koop sommer twéé wekkers. Verslaap sal sy nooit weer nie. Tog weet sy haar ongedurigheid het absoluut niks te doen met die feit dat sy verslaap het nie.

Sy kyk hoe Jani die kat in haar arms neem en saggies in sy oor iets fluister. Dan draai sy weer na Sonja.

“Oom Sebastiaan ken ’n tannie wat in ’n ander land bly, en nie soos my pappa en mamma wat in dieselfde huis bly nie. Is vreemd, né, tannie Dokter?” Jani se neusie wip op en Sonja glimlag vir die koddige gesiggie. Sebastiaan se gesig raak stroef, asof ’n wolk skielik verby die son geskuif het. Weg is die glimlag. Vlugtig wonder sy wat die skielike gemoedsverandering veroorsaak het.

Sebastiaan stuur Jani aan die elmboog na tannie Babs waar hy die rekening kan betaal. “Kom, Jani, ek moet jou nog plaas toe vat,” brom hy.

Die deur klap toe agter hulle en Sonja slaak heimlik ’n sug van verligting.

“Uit die mond van die suigeling,” laat tannie Babs spitsvondig hoor. Sonja het vergeet van die tannie wat die hele petalje vanaf haar lessenaar sit en aanskou het.

“Ek sal my koffie en beskuit in my spreekkamer neem, dankie, Tannie.” Sonja maak haarself uit die voete voor tannie Babs weer allerhande afleidings maak.

Of die kat aan die stert beetkry.