Uittreksel | Kakiebosliefde

Een
Lumé Gous krink haar sportmotortjie se lugversorger nog hoër in ’n poging om die Vrystaatse somerhitte teen te werk en trommel met haar vingers op die stuurwiel. Hittegolwe glimmer op die oppervlak van die teer toe sy volgens die instruksies van haar GPS in die stofpad afdraai. ’n Sinkplaatpad strek hobbelrig voor haar uit. Haar arme karretjie hop behoorlik. Hoe ver kan daai plaas nog wees? Die naald van die spoedmeter daal laag. Sy durf nie te vinnig vorder nie want sy is nie gewoond daaraan om op grondpad te bestuur nie, en versigtigheid is mos haar tweede naam. Volgens haar berekeninge moes sy nou al die plaas bereik het waar die olievervaardiger boer. Sy is hoe lank al uit Clocolan uit. Natuurlik is daar nêrens enige aanduiding van afstand hier op die plaaspad nie. Sy is nie eens meer seker dat sy wel op die regte pad is nie.
Die stem van die GPS kry skielik weer lewe. “You have reached your destination on the left.”
Lumé gooi haar hande in die lug. “Jy speel seker! Al wat ek vir kilometers en kilometers weerskante van die pad gesien het, is bossies, en hier en daar ’n paar modderplasse. Hoe kan dit my bestemming wees?” ’n Vinnige kyk na die brandstofmeter vertel haar die vlak van die tenk is reeds gevaarlik laag. Wat nou gemaak?
Sy trap die rem toe sy ’n tweespoorpaadjie bereik wat uit die groter pad uitdraai. Haar bestemming? Daar is nie ’n bordjie of iets wat haar kan vertel waar sy haar bevind nie. Is sy en haar GPS nou ewe verdwaal? ’n Weerkaatsing op die ruit van ’n voertuig in die verte maak dat sy haar oë skreef. Hopelik is dit iemand wat hierdie wêreld ken wat haar kan help.
Dis ’n stowwerige plaasbakkie wat langs die uitgetrapte modderpaadjie staan. Sy laat rol die ruit af en rek haar nek om by die passasierskant uit in daardie rigting te kyk, maar gewaar geen siel nie.
“Kan ek help?” vra ’n diep basstem skielik hier reg langs haar. Sy wip soos sy skrik. Waar kom hy nou vandaan?
Lumé kyk op, maar kan nie veel van die lang man se gesig uitmaak met die son reg in haar oë nie. “Nee dankie. Ek het ’n GPS.”
Hy maak ’n laggeluid in sy keel. “Wat jou reguit na my toe gelei het.”
Sy pers haar lippe opmekaar. “Oukei, ek dink ek het verdwaal.” Sy haat dit om hulp te vra of enigsins hulpbehoewend te wees, maar wat anders kan sy doen?
Hy staan effens opsy sodat sy breë skouers die son uit haar oë keer, en sy gesig kom in fokus. Hy het ’n effense baard en verrassende ligbruin kykers wat stip op haar gerig is. H’m. Dit help nie juis dat hy nogal sag op die oog is nie, behalwe natuurlik vir die agterstevoor bofbalpet. “Waarheen is jy op pad?” vra hy terwyl sy blik skepties oor haar plat sportmotor loop, so al asof hy dink haar vervoermiddel gaan dit nie maak tot daar waar sy wil wees nie.
Laat hom gerus maar kyk en dink wat hy wil. Sy is mal oor haar nuwe ryding. “Ek is op soek na die plaas Kakiebos waar die Mulders eteriese olies vervaardig.”
“Jou GPS is reg, jy is op die regte plek. Hierdie is Kakiebos en ek is Neil Mulder.” Hy steek ’n hand na haar toe uit.
“Ek is Lumé Gous van Rabedu Parfuums.” Bewus daarvan dat haar hande sweterig is, raak sy net vlugtig aan sy growwer een.
Sy wange keep en sy oë lag nou openlik vir haar. “Rabbedoe? Jy lyk allesbehalwe na een. Ek weet, ek het drie sulke susters en glo my, jy kan nie naastenby soos een van hulle wees nie.”
Sy besluit om sy aanmerking te ignoreer en kyk rond. Hy ken haar immers nie. ’n Volwasse man met ’n agterstevoor bofbalpet en ’n gevlegte leerbandjie om die pols kan sy sowaar nie ernstig opneem nie. “R-A-B-E-D-U,” spel sy die naam uit. Sy kan op sy gesig sien dat hy dit aspris interpreteer het om sy opsomming van haar te pas. “Miskien moes hierdie plek se naam eerder Nêrens gewees het. ’n Mens sien dan niks,” kry sy ’n steek van haar eie in.
Die hand met die leerbandjie vee oor sy mond asof hy ’n glimlag wil bedek. “Hierdie is nie nêrens nie, hier gebeur dinge, jy sal sien. Ons huis en die distilleringsaanleg is net agter daardie bult.” Hy wys vorentoe na waar daar inderdaad ’n effense deining in die landskap is. “Ek verstaan jy het vroeër geskakel en met een van my susters gepraat. Sy vertel my jy is op soek na ’n verskaffer van eteriese olies vir jou parfuumfabriek. Ry agter my aan, dan kan ons by die kantoor gaan gesels. Ek wil net eers hier voor stop om seker te maak gister se reënwater het nie die kakiebos oorstroom nie. Dis byna oestyd en te veel water is nie goed nie.” Hy klim in sy bakkie en trek met ’n gespat van modder en fyn klippies weg.
’n Ent vorentoe klim hy uit en kom staan weer langs haar kar. “Kom saam, dan kan jy sien waarvan die spesifieke olie waarna jy op soek is, gemaak word.” Sy oë spot steeds met haar en dit maak dat sy haar rugstring reguit maak en summier uitklim. Sy sal hom wys, al is sy nie ’n rabbedoe nie, sy het ruggraat.
Fout nommer een: Sy het reg langs ’n poel water stilgehou en beland met haar splinternuwe wighaksandale enkeldiep in ’n modderpappery. Eeuw!
Fout nommer twee: Sy gryp na die naaste ding om haar balans te probeer behou en dit is die grinnikende man se skouers. “Ug!” steun sy onvroulik en moet aan hom vasklou om staande te bly en te keer dat haar ligte langbroek ook met modder besmeer raak.
Die skouers waaraan sy vashou, begin ruk van die lag. “Rabbedoe? Nooit gesien nie! Jou parfuum se naam moet eerder Altefyn of Effentjies wees.” Hy raap haar op en maak haar op haar motor se neus sit.
Sy gluur af na haar moddervoete en dan op in sy vonkelende oë. “Kyk nou net hoe lyk my skoene! Jy kon my gerus maar gewaarsku het van die modder, maar wat meer kan ’n mens van ’n ongepoetste boer verwag?” kla sy hom aan en bekyk sy stewige werkstewels wat stowwerig, maar heel ongeskonde daar uitsien.
“Moes ek in die pad gaan lê het sodat jou fyn voetjies teen die modder beskerm kon wees?”
“Dis nie wat ek gesê het nie.”
“Ek is nie gewoond daaraan om namens ander te kyk waar hulle hul voete neersit nie, hooggeagte prinses,” verdedig hy homself. “Wag, ek kry iets om dit mee af te droog. Jy verwag sekerlik van ’n ongepoetste boer om jou voete te was, nie waar nie?” Hy gaan haal ’n handdoekie uit sy bakkie en kom hurk by haar voete. Sonder seremonie trek hy haar skoene uit en droog die modderwater van haar voete af. “Hierdie skoeisels sal gewas moet word.” Hy draai haar skoene in die handdoek toe en gooi dit agter haar sitplek by die oop motorvenster in.
Lumé sterf tien dode daar waar sy sit. Wat ’n verleentheid en dit op haar eerste solosending om ’n nuwe verskaffer te werf. “Nou wat nou? Ek kan nie hier bly sit nie.” Sy weier om haarself jammer te kry.
Hy kom staan voor haar met sy rug na haar toe. “Dan sal ek u hoogheid maar moet abba. ’n Koninklike kan sekerlik nie hier bly sit nie. Kom, klim op.” Hy hou sy hande sodat sy aan hom kan vashou.
Lumé huiwer. “Is jy ernstig?”
“Natuurlik. Daardie sagte voetjies sal nie die klippe en dorings in die kakiebosland oorleef nie.” Hy druk sy agterstewe teen haar knieë sodat sy sy rug kan bykom.
“Maar ek is te swaar,” keer sy nog. Sy kan mos nie op ’n wildvreemde man se rug klim nie!
“Watwou, jy weeg sweerlik nie naastenby soveel soos ’n sak kunsmis nie, en ek dra dit met gemak. Komaan, klim op, ek het my susters al baie so gedra.” Hy kyk oor sy skouer na haar.
“Het jy my so pas met ’n sak mis vergelyk?”
“Natuurlik nie, u hoogheid, ek het drie parmantige susters, ek sal dit nie waag nie, anders verloor ek dalk ’n belangrike ledemaat.” Sy hele houding lag haar steeds uit.
Lumé sien ook uiteindelik die humor in die situasie, maar weier om hom dit te laat agterkom. “Oukei dan.” Dankbaar dat sy vandag ’n langbroek aanhet, vat sy maar sy hande en klim op sy rug. Wat anders kan sy doen? Op daardie oomblik stuif sy manlike reuk haar longe binne – nie die reuk van die veld om hulle nie, nie sweet nie, net pure man. En nou moet sy boonop styf teen sy rug sit.
Hy haak sy arms onder haar bene in en wikkel haar gemaklik op sy heupe. Lumé is verplig om haar arms om sy nek te sit. Sy voel hoe sy lag onder haar hande vibreer. Dit resoneer ook hier waar haar borste teen sy rug druk. Ai. Sy hoor skaars wat hy sê. “Nou kan jy sê jou eerste les as rabbedoe was ’n abbarit deur ’n kakiebosland.”
Sy ignoreer die verwysing na rabbedoe en bekyk die bossies wat geel in die blom staan so ver as wat sy kan sien. “Is dit kakiebos hierdie?”
“Jip, vyfhonderd hektaar daarvan. Wil jy vir my sê jy weet nie hoe die kakiebos lyk waarvan die olie gemaak word wat julle gebruik om die parfuum se reuk stadiger vry te stel nie?”
Dis moeilik om iemand van agter sy rug ’n vuil kyk te gee, sy antwoord hom dus maar. “Ek is ’n chemikus en werk in ’n laboratorium in ’n semi-industriële gebied van die stad. Ons kry die olies in die finale vorm. Hoe moet ek nou weet hoe lyk die kakiebos waarvan dit gemaak word?”
Hy reik af, pluk ’n takkie en hou dit vir haar. “Dè, ruik.”
“Stink dit nie baie nie?” Sy snuif darem ewe fyntjies daaraan. “Jip, dis allesbehalwe welriekend, maar die olie ruik dan amper soos mango wanneer ons dit kry. Voeg julle iets daarby?” gesels sy om haar eie aandag af te trek van die feit dat die sittery op sy rug eintlik baie intiem is.
Hy stap ewe gemaklik met haar dieper die bossieveld in. “Nee, aanvanklik ruik die olie ook baie sleg, maar ná ongeveer ses maande begin dit verouder en dan ruik dit so vrugtig.”
“Is dit die enigste soort olie wat julle maak?”
“Nee, ons maak ook heelwat olies van blomme soos rose, roosmaryn en Egiptiese irisse. My ma en my suster Suzanne is in beheer van die blomkwekery. Roosolie is die duurste, want dit vat geweldig baie rose om net ’n bietjie olie te maak. Roosolie word gebruik in heelwat soorte medisynes en selfs kos ook.”
“Ek ken die prys van roosolie, ons gebruik dit natuurlik ook. Is jy ’n chemikus?”
Hy snuif-lag. “Ek dog dan jy dink ek is net ’n platvloerse boertjie?”
“Jy beantwoord nie my vraag nie.”
Hy sug gemaak verontwaardig. “Nee, my ander suster Carol is ons chemikus. Ek het ingenieurswese geswot en glo my, ek gebruik daardie kennis elke dag om die aanleg aan die gang te hou,” verduidelik hy nietemin. “Boerdery het ek by my pa geleer en entrepreneurskap by my ma. Die res het ons as gesin op die internet nagevors en op die self-probeer-manier geleer. Oukei, die inligtingsessie is nou verby.” Hy gaan staan en kyk rond. “Dit lyk darem nie of die stortreën enige skade aangerig het nie.” Hy draai om en stryk aan terug na sy bakkie toe. “Hoekom wil julle nou van ons olies koop? Is julle besigheid nuut of wil julle bloot van verskaffer verander?”
“Ek dog die inligtingsessie is verby?”
Hy lag. “Dis nou die koningshuis se beurt om vrae te beantwoord.”
Sy glimlag teen sy rug en kyk na waar sy donker hare in sy nek krul. Die man het ’n besoek aan die haarkapper nodig. “Fair enough. My oupa en ouma het die parfumerie sestig jaar gelede begin toe hulle nog bitter jonk was. Ons vorige verskaffer se plaas het die afgelope twee jaar erg onder veldbrande deurgeloop en hulle kan nie meer genoeg olies aan ons verskaf nie.”
“O ja, ek weet daarvan. Die arme ou het baie skade gely. Ons verskaf nou ook aan ’n paar van sy internasionale kliënte. Hoekom is julle parfuum se naam Rabedu? Dis duidelik dat jy ’n gesofistikeerde stadsjuffer . . . prinses is en nie ’n rabbedoe nie.” Sy kan duidelik hoor sy tong is steeds stewig in sy kies. Hy het beslis ’n moedswillige streep, geen wonder sy susters wil hom van ’n ledemaat of twee ontneem nie. Hy maak haar motor se deur oop en draai om sodat sy van sy rug af op die sitplek kan afsak.
Lumé blaas haar asem verlig uit toe sy weer in haar kar sit. “Oukei, ek moet toegee dat ons parfumerie se naam van die woord rabbedoe afgelei is. Jy sal verstaan wanneer jy my ouma ontmoet. Sy was haar lewe lank ’n rabbedoe en die Rabedu-geur was haar heel eerste ontwerpersparfuum. Sy het natuurlik oor die jare heelwat ander geure ook ontwerp. Ek erf dit nou omdat sy op tagtig uiteindelik besluit het om af te tree. Dis haar vrye en avontuurlustige gees wat haar tot nou toe in ’n baie kompeterende bedryf staande gehou het.”
“Watter soort gees dryf jou daar van onder jou tiara? Wag, laat ek raai.” Hy fokus steeds op haar en praat verder terwyl sy oë van haar kop tot haar nie-baie-skoon-nie tone toer. “Jy is die teenoorgestelde van jou ouma, jy is ’n perfeksionis wat alles op lysies neerskryf en dit presies uitvoer. Jy kan ligsinnigheid nie verdra nie en jou werk, jou klere en hare moet te alle tye perfek wees. Dis hoekom die insident met die modder jou so ontstel het.” Hy raak liggies aan haar kastaiingbruin hare wat in ’n netjiese Franse rol gekam is. “Kyk net daar – nie ’n haartjie kruip onder die tiara uit nie. Hulle durf dit nie waag nie.”
“Wat is fout daarmee?” Verontwaardiging laat haar stem styg. Hierdie man het darem ’n baie vry sê. Sy kan ’n bietjie terg hanteer, maar eers vergelyk hy haar met mis en nou klim hy in haar karakter in!
Lumé kan sien hy lag nog steeds heimlik vir haar, sy verbeel haar dit nie. Kyk net hoe vonkel daai sprekende paar oë. Hy is natuurlik ’n terggees van die eerste water. “Seker niks nie, maar dit kan dalk uitputtend raak vir ’n koningsdogter soos jy. Kyk net hoe stres jy oor ’n bietjie modder aan jou voete.” Hy kyk op sy polshorlosie en raak skielik haastig. “Kom, ry agter my aan, dit raak laat.”