Skip to main content

Uittreksel | Jy's my Kersgeskenk

Een

Vrydagoggend ’n paar minute voor agt glip Nicola uitasem in die badkamer op die grondvloer van die gebou waarin haar kantore is en trek haar baadjie uit. Goeiste tog, kyk hoe lyk haar bloes! Dit sal haar leer om nié koffie in die motor te drink wanneer sy reeds hopeloos laat is nie. Dis amper die einde van November, daar is oral Kersversierings in die winkels en Kersmusiek weergalm in die supermarkte. Sy is net nog glad nie gereed om aan son, see en saffier te dink nie, hulle is net te besig.

Vandat sy haar eie werwingsagentskap einde verlede jaar begin het, sorg sy dat sy reeds vroeg soggens by die gim is vir haar vriendin Mina, ’n biokinetikus, se klasse. Op dié manier kan sy reeds teen halfagt by die kantoor wees. Sy hou daarvan om ’n paar minute vir haarself te hê voor die res van haar span opdaag.

Die probleem is egter dat sy die afgelope ruk sukkel om by die gim uit te kom; wat nog te sê halfagt betyds op kantoor wees.

Geïrriteerd vee-vee sy met ’n snesie oor die koffieblerts. Die simpel dekseltjie van die weggooibeker was toe nié stewig op die houer koffie wat sy op pad werk toe langs die pad gekoop het nie, en toe sy haar eerste sluk neem, het dit natuurlik oor haar wit sytoppie gemors. Sy moes eerder die rooie wat sy aanvanklik aangetrek het, aangehou het.

Dis alles Etienne Fouché se skuld. Asof dit nie erg genoeg is dat hy homself tydig en ontydig in haar drome kom aanmeld nie, sit sy wraggies helder oordag ook en staar die niet in terwyl sy die baie vlietende oomblik onthou wat sy in sy arms was. Hy is die rede hoekom sy laat is, hy is die rede hoekom sy koffie langs die pad moes koop en hy is die rede hoekom haar wit bloes met koffie bemors is. Sy wat daarna streef om áltyd netjies en professioneel te wees, lyk eerder asof sy al ’n week lank dieselfde klere dra.

Dêmmit, sy wil nie van Etienne Fouché droom nie. Sy wil nie van enige man droom nie. ’n Ongekompliseerde, manlose, dramavrye bestaan – dís haar doelwit in die lewe. En sy het nie ’n sielkundige nodig om aan haar te verduidelik dis as gevolg van ’n kinderlewe saam met ’n ma wat ’n depressielyer was en ’n pa wat hom gereeld uit die voete gemaak het en op ’n dag net nie weer teruggekom het nie.

So ja, sy weet presies hoekom sy haarself nooit kan toelaat om verlief te raak en te droom van ’n wit rok en ’n troue nie – verhoudings is morsig en ingewikkeld, en sy het reeds morsig en ingewikkeld gedoen, baie dankie.

Brom-brom maak sy haar handsak oop en haal die houer met klam lappies uit wat sy altyd saamdra. Sy begin vryf-vryf aan die vlek, maar binne sekondes is dit duidelik dit gaan ook nie werk nie. Miskien moet sy vinnig terugry huis toe …

Haar foon lui. Dis Helene, haar sekretaresse.

“Môre, môre,” groet Helene vrolik. “Als oukei? Ek wil net seker maak jy het my boodskap laat gistermiddag gekry oor die afspraak wat jy vanoggend halfagt het. Die kliënt is gelukkig ook laat, maar ek hoop jy’s naby.”

“Watse afspraak?” Nicola probeer weer die kol afvee. Sy mis nooit ’n boodskap van Helene nie, hoekom het sy dié een nie raakgesien nie?

“Ene Lien van DFHM Capital het ’n dringende afspraak gevra en …”

Nicola verstar en haar hand sak. Sy weet presies wie DFHM Capital is. Mina is vroeër vanjaar getroud met Louw de Ridder, een van vier direkteure van DFHM Capital.

“… was vol verskonings, ’n tydelike sekretaresse moes die afspraak gemaak het, maar het nie, en sy het mooi gevra. Sy was op daardie stadium nie seker wie presies jou kom sien nie. Jou dag is vol, al opening was halfagt. Jy … h’m … is gewoonlik vroeër hier.”

Nicola druk haar vingers teen haar slaap waar ’n hoofpyn dreig. Dit was juis toe sy en Mina en hulle twee ander vriendinne, Emily en San-Marie, Mina se troue vinnig moes probeer reël saam met die drie ander direkteure van DFHM, manne wat ook die bruidegom se vriende is, dat sy in Etienne Fouché, een van die mededirekteure van die batebestuursfonds, se arms beland het.

Oukei, dis nie heeltemal reg nie. Die feit dat sy haar enigsins in Etienne se arms bevind het, was haar eie besluit. Dis die nare werklikheid en sy kan niemand anders vir haar onbesonnenheid blameer nie.

Die drie vriende was op daardie stadium vies vir Mina omdat hulle gereken het sy het vir Louw ontstel. Tyd vir lang mooipraatjies was daar nie: Louw se ultimatum aan Mina was hulle trou of die ding tussen hulle is verby.

Die vinnigste oplossing om die muur van dikbek mans voor hulle so ver te kry om saam te werk, was om vir hulle elkeen ’n drukkie te gee. Sy wat Nicola is, het nog altyd in die magiese heling van ’n stywe drukkie geglo, en dit was die eerste ding waaraan sy kon dink. Hulle het vinnige resultate nodig gehad en drukkies gee dit vir jou, het sy geleer.

En toe sy haar kom kry, was haar arms om Etienne se nek, sy warm asem in haar nek, sy groot, gespierde lyf styf teen hare gedruk. Emily en San-Marie het haar voorbeeld gevolg en ook drukkies aan die twee ander befoeterde mans uitgedeel. San-Marie is nou nog bitter oor die drukkery. Sy moes vir Jacques Myburg ’n drukkie gee, en om een of ander rede vryf die man haar eenvoudig verkeerd op.

Die hele proses het net ’n paar sekondes geduur, maar dit was lank genoeg vir Etienne se geur om deur Nicola se vel te dring, deel te word van haar bloedstroom sodat sy ná maande nog steeds wonder waarna sy naskeermiddel ruik. En net voor sy haar arms laat sak het, kon sy sweer sy voel hoe sy liggaam reageer. Hare verdomp ook.

“Nic?” vra Helene weer.

Hoekom wil iemand van DFHM haar kom sien? Hopelik is dit Louw. Sy en San-Marie en Emily kuier gereeld by Louw en Mina, en sy hou van die groot blonde man wat duidelik mal oor hul vriendin is.

Sy drie vriende is egter ’n ander saak. San-Marie het nog nooit haar misnoeë met Jacques probeer wegsteek nie, en Mina probeer dinge so reël dat Louw se pelle nie ook by is wanneer hulle daar kuier nie. Iets waaroor Nicola baie dankbaar is. Sy vryf oor haar gesig. Dis totaal verspot. Louw, Etienne, Ryno en Jacques is in beheer van die suksesvolste batebestuursmaatskappye in die land, hulle het sekerlik mense wat dié soort werk vir hulle doen. Sy is verniet bekommerd.

“Neem die persoon na die konferensiesaal wanneer hy of sy opdaag, ek is nou daar,” sê Nicola en druk haar foon dood.

As sy miskien die kol onder die kraan uitspoel en haar baadjie bo-oor aantrek, is dit minder opsigtelik. Vinnig maak sy die knope los en pluk haar top uit. Sekondes later druk-druk sy met die papierhanddoek die ergste water uit en glip weer die top aan.

Terwyl sy nog met haar een hand met die knope sukkel, stap sy na die deur en begin haar baadjie aantrek. Hierdie tyd van die jaar is die weer baie wisselvallig in die Boland, maar vandag is gelukkig heerlik koel, so dit sal nie vreemd wees as sy haar baadjie aanhou nie. Ten minste is haar hare netjies in ’n lae bolla in haar nek.

Terwyl sy die deur oopmaak, kyk sy af na die boonste knoop wat verdomp nie wil toe nie. Sy trek haar asem vinnig in. O, flip, die nat top is heeltemal deurskynend, haar swart bra duidelik sigbaar. Swart bra? Hoekom het sy ’n swart bra aan?

En toe onthou sy. Dêmmit, onder die rooi toppie wat sy oorspronklik vanoggend aangetrek het, het die swart nie deurgeskyn nie, maar dié top was effens gekreukel, tyd vir stryk was daar nie, en sy het toe die eerste die beste bloes in haar kas gegryp en oor haar kop getrek sonder om weer in die spieël te kyk.

“Ag nee!” kreun sy hardop terwyl die simpel knoop nog steeds sukkel om in die flippen knoopsgat in te gaan.


“Ryno, hallo,” groet Etienne terwyl hy in die kantoorgebou instap.

Ryno Henning is een van sy groot pelle. Hy en Ryno is vriende sedert hulle as klein seuntjies in die kinderhuis ontmoet het. Dis ook daar waar hulle paaie met Jacques Myburgh en Louw de Ridder gekruis het. Hulle al vier is deesdae mededirekteure van hul eie batebestuursmaatskappy – ’n droom wat lank terug in Louw se piepklein woonstel met tweedehandse rekenaars begin het en nou so gegroei het dat dit in een asem saam met van die land se voorste batebestuursmaatskappye genoem word.

Die probleem wat hulle het, is te min personeel om dinge nog steeds vlot te laat verloop. Dis hoekom hy vandag hier is. Hy hoop om die bal aan rol te sit vir die broodnodige aanstellings wat hulle by DFHM Capital moet maak. Sy afspraak is met ene Nic Ackerman, wat onlangs ’n nuwe werwingsagentskap begin het. Die laaste ruk het hulle gesukkel met die agentskap met wie hulle voorheen gewerk het, en hy het nog net goeie dinge van dié maatskappy gehoor.

“Hoe lyk dit met ’n braai ná werk vanaand? Jacques kom ook oor. So teen halfagt, ek wil eers gaan draf.”

“Miskien, dit hang af,” grinnik Etienne.

“Wat bedoel jy?”

“Ek het ’n date met Rika vir ’n drink.”

“Rika?” vra Ryno.

“Die blondine wat by die ouditeure werk. Miskien join ek julle later, miskien nie.”

“Jy bedoel Rita.” Ryno lag. “Jy moet dalk seker maak van jou date se naam voor jy dink aan seks.”

“Rita? Regtig? Ek kon sweer ek hoor Rika. Ek sal laat weet.”

“Sien jou later. As jy nie eens die meisie se naam kan onthou nie, dink ek nie die afspraak gaan baie lank duur nie. Sy sal heel waarskynlik ook nie voldoen aan jou lysie van vereistes vir jou trouvrou nie. Ek weet nie hoe lank dit jou nog gaan neem om agter te kom liefde en gelukkige eindes gebeur nie in die regte lewe nie. Veral ons wat in die kinderhuis grootgeword het, weet dit baie goed.”

Etienne vryf oor sy nek. Vandat hy die fout gemaak het om in sy matriekjaar ’n lysie van eienskappe waarna hy in ’n vrou soek met sy drie vriende te deel word hy genadeloos daaroor geterg.

Sy drie vriende lag nou nog vir hom en vertel hom hy leef in ’n fantasiewêreld as hy dink die perfekte vrou bestaan of dat huwelike werk.

Etienne skud sy kop. “Louw het net soos jy en Jacques gevoel en kyk deesdae vir hom – hy het sy perfekte vrou gekry in Mina, ’n bewys liefde bestaan tog.”

“Ja, wel, Louw is een van die min gelukkiges, sê ek jou. Ek dink net jou idee van hoe ’n vrou moet wees, is ietwat verwyder van die werklikheid. Ek moet waai. Onthou negeuur se vergadering,” sê Ryno.

“Ek sal daar wees. Ek sal baie gou kan agterkom of ons saam met Nic Ackerman kan werk.”

Ryno kreun hardop. “Ons moet dringend nuwe aanstellings maak. Ek dink nie jy moet te vol fiemies wees nie. Kry asseblief so gou moontlik vir ons hulp,” groet hy.

Etienne druk sy foon in sy sak. Dis juis Louw se breë glimlag deesdae wat hom laat moed skep dat dit tog moontlik moet wees om ’n vrou raak te loop wat ’n huis kan skep soos wat sy ouma s’n was. Een met warmte, met die reuk van liefde en onvoorwaardelike aanvaarding in die lug. Dit bestaan, hy weet; hy het dit beleef. Al het hy net vir ’n baie kort rukkie by sy ouma en oupa kon bly voor hulle in ’n motorongeluk dood is en hy in die kinderhuis beland het, is dit die herinnering aan daardie jare saam met hulle wat hom gebring het waar hy nou is.

Die ingangsportaal van die gebou is leeg en hy soek rond vir ’n inligtingsbord. Ryno is reg. Bo en behalwe Barend Saunders, die groot kliënt wat hulle vroeër vanjaar gewerf het en wie se portefeulje na hulle oorgeskuif is, het hulle juis as gevolg van hom nog ’n hele klomp groot kliënte bygekry. Dit gaan uitstekend, maar dol. Hulle het baie dringend nog personeel nodig.

Aanvanklik het hulle gereken iemand soos ’n kantoorbestuurder is voldoende, maar dit word al duideliker hulle benodig ’n gekwalifiseerde persoon wat voltyds die menslikehulpbronafdeling van die maatskappy kan bestuur sodat hy en sy mededirekteure hulle aandag aan hul kliënte kan gee.

Terwyl hy rondkyk, vang ’n beweging aan sy regterkant sy oog en hy draai sy kop. Maar dis mos …

Sy hart skop teen sy ribbes.

Nicola. Die blondekop met die koringblonde hare en blou oë is ’n vriendin van Mina, Louw se nuwe vrou. Hy dink nie hy het al ooit haar van gehoor nie. Met Louw en Mina se vinnige besluit ses maande gelede om te trou moes hulle saam met Mina se vriendinne werk om ’n troue binne dae te reël – ’n … wat sal hy dit noem? ’n Interessante ondervinding?

Veral dié girl wat vee-vee oor haar bloes, haar lang hare vandag in ’n netjiese bolla, hinder hom. Of iets. Hy is nie seker wat nie, hy weet net sy is die afgelope paar maande tydig en ontydig in sy gedagtes.

Veral die onverwagte drukkie wat hy van haar gekry het, duik gereeld in sy gedagtes op. Sagte kurwes wat perfek teen hom pas. Dis nié iets waaraan hy veronderstel is om nog steeds te dink nie. En sy onmiddellike lyflike reaksie op haar nabyheid het hom ’n paar baie ongemaklike oomblikke besorg. ’n Drukkie van ’n mooi meisie is nie vreemd nie, sy reaksie op Nicola se arms om sy lyf is wel.

Reeds die eerste keer wat hy haar in Val de Vie se kuierplek ontmoet het, het hy die diep kuiltjies opgemerk wat elke keer vorm wanneer sy glimlag. En natuurlik haar baie mooi bene – g’n volbloedman kan dit miskyk nie. Lank en slank, bruingebrand. Hy was dadelik kortasem.

Wat hy ook vinnig agtergekom het, is dat sy beslis nie die tipe girl is waarin hy belangstel nie. Hy weet nie wat sy doen nie, maar die manier waarop sy ’n wenkbrou kan lig as sy nie met iets saamstem nie, het sy nekhare laat rys. Sy is een van daai baasspelerige, koppige en gedrewe vrouens – iets wat baie duidelik geword het tydens die reëlings wat hulle vir Louw en Mina se troue getref het. En baasspelerig en koppig is beslis nié die soort eienskappe wat hy in ’n vrou wil hê nie.

Anders as Ryno en Jacques wat gereeld verkondig hulle is nie in die mark vir trou en kinders nie, is hy wel op soek na ’n vrou, maar hy het baie besliste idees oor hoe sy moet wees.

Vandat Louw en Mina getroud is, is hy en Jacques en Ryno al verskeie kere vir ete genooi, maar Mina se vriendinne was nooit by nie. Nie dat hy dit regtig opgemerk het nie, hy dink nou eers daaraan.

Hy pers sy lippe opmekaar. Yeah, right. Laat hy ten minste met homself eerlik wees – dit was nie noodwendig bewustelik nie, maar hy het tog gehoop hy sal weer vir Nicola iewers raakloop.

Met haar oë nog op die bloes begin Nicola aanstap na die trappe wat na die volgende vloer lei. Dis waar hy ook wil wees, sien hy op die inligtingsbord.

“Nicola, dis ’n verrassing,” groet hy terwyl hy naderstap. “Ek is juis hier om ene Nic te kom spreek.”

Haar oë vlieg op na syne, haar hand val langs haar sye en sy oë zoem in op die boonste knoop van haar bloes. Die een wat nie vasgemaak is nie.

’n Groot geraas vul sy ore en die wêreld kantel vir ’n oomblik om hom. Bliksem. Duidelik sigbaar tussen die sagte pante van haar bloes, steek ’n swart kantbra uit. En die ronding van ’n perfek gevormde bors.

“Dêmmit, dis alles jou skuld,” raas sy, nog steeds doenig met die knoop terwyl sy deurmekaargeskommelde breinselle hul bes doen om te funksioneer. “Ek kry nie die ellendige knoop vas nie. Omdat ek laat is, het ek koffie op my bloes gemors, ’n kliënt sit en wag vir my en dis alles jou …”

Sy kyk op, haar woorde raak weg, haar blou oë rek baie effens. “Wat?” glip oor haar lippe.

“Kom ek help,” kry hy uiteindelik uit, sy stem vreemd hees in sy eie ore. Voor hy dink wat hy doen, steek hy sy hand uit en glip die knoop in die gaatjie.

Vir ’n vlietende oomblik gly sy vingers oor sysagte vel. Nicola se snak klink hoorbaar op in die leë voorportaal. Hy moet sy hand laat sak, sy vingers wegtrek, maar sy hand is baie gelukkig waar dit is en reageer nie dadelik op enige impulse van sy brein nie, maak nie saak hoe dringend nie.

Haar hand gryp syne vas, alles om hulle verdof asof die aarde vir ’n wyle ophou draai, hulle hou op asemhaal. Soos viooltjies – ’n plaat bloupers viooltjies – dis waaraan die blou van haar oë hom laat dink.

Uiteindelik ruk sy sy hand weg en draai vinnig op haar hak om. Met net ’n wuif van haar hand begin sy met die trappe opdraf na die tweede vloer. Gefassineerd staar hy haar agterna totdat ’n lang, bruingebrande been vir oulaas om die hoek verdwyn.

Genade! Met ’n lag leun hy half uitasem teen die reling van die trap. Sy bene is vreemd lam. Wat de hel het pas gebeur? Uit dié meisie se pad moet hy ver weg bly.

Met ’n diep asemteug stap hy die trappe twee-twee tot bo. Nicola is gelukkig nêrens te sien nie. Hy weet nie eens wat sy doen nie. Heel waarskynlik ’n sekretaresse, dalk nog by dieselfde werwingsagentskap waarnatoe hy op pad is. Dié wat sy so almal om haar kan hiet en gebied – sy doen dit seker heeldag op kantoor.

Hopelik hoef hy haar nie gou weer te sien nie. Hy hou net mooi niks van die manier wat sy binnegoed omdop wanneer hy naby haar is nie. Omdat sy pel met haar vriendin getroud is, sal hulle seker noodwendig af en toe in mekaar vasloop, maar dit beteken nie hy hoef kop te verloor nie. Hy het planne vir sy toekoms, planne wat baie beslis nie ’n bossy girl insluit nie. Selfs nie een met lang, sexy bene, koringblonde hare, viooltjieblou oë en kuiltjies nie.

En hoekom is dit sy skuld as sy koffie op haarself mors? Fokus, Fouché, fokus.


“Goeiemôre!” sing Helene toe sy vir Nicola sien, maar die volgende oomblik rek haar oë. “Nicola? Wat is fout? Jou wange is bloedrooi en …”

“Ek is fine. Ek het ’n idee die kliënt is reeds hier. Neem hom konferensiesaal toe, asseblief? Ek het ’n minuut nodig.” Oorbewus van die verbaasde uitdrukking op Helene se gesig, stap Nicola vinnig in die gang af en glip in haar kantoor. Sy druk die deur vinnig agter haar toe. Vir ’n oomblik gun sy haarself die luukse om net teen die deur te leun en asem te skep. Sy sal later vir Helene om verskoning vra omdat sy ietwat kortaf was, maar sy kan nie nou met iemand praat nie.

Al word sy ’n honderd jaar oud, sal sy die uitdrukking in Etienne se oë toe hy afkyk na haar gapende bloes nooit, ooit vergeet nie. Sy blouselblou kykers was vir ’n breukdeel van ’n sekonde donker van begeerte. Haar lyf begin sommer weer sing en bewe.

Met rukkerige vingers knoop sy haar baadjie toe en stap na die klein badkamertjie wat uit haar kantoor vloei. Sy moes reguit hierheen gekom en vir Helene gevra het om haar te help, maar dit help nie om nou aan wat-asse en hoekom-het-sy-nie-maars te dink nie.

Etienne het haar bloes se knoop vasgemaak, sy vingers oor haar vel laat gly. En wat doen sy? In plaas daarvan om sy hand verontwaardig weg te ruk het sy sowaar – en dis beslis nie iets wat sy ooit vir iemand kan vertel nie – sy hand styf teen haar bors gedruk. Net vir een waansinnige oomblik, maar dis presies wat sy gedoen het.

Sy druk haar hande onder die koue kraan en toe teen haar gloeiende wange. Binne minute gaan sy weer vir Etienne sien. Op een of ander manier moet sy dit regkry om te maak asof die afgelope paar minute nie gebeur het nie.

’n Kreun glip uit. Wat op aarde het haar besiel om sy hand vas te gryp? Oukei, ter verdediging kan sy erken haar plan wás om sy hand weg te ruk, dis regtig wat sy op pad was om te doen, maar die oomblik toe haar hand oor syne vou, het iets gebeur en sy kon nie, sy wou nie …

Met rukkerige vingers stryk sy haar baadjie glad, maak seker haar romp sit reg, die naat in die middel agter en haar bloes se knope almal styf vas. Aan die swart bra kan sy nou niks doen nie behalwe om haar baadjie styf toegeknoop te hou.

Sy het hard gewerk om hier die kom. Etienne is in die gebou om oor besigheid te gesels. Besigheid wat sy nodig het. Ná vyf maande kan sy effens asemhaal, die kolomme is meer groen as rooi. Dit gaan goed, maar ’n groot kliënt soos DFHM Capital is net wat die maatskappy nou nodig het.

Die hitte van sy hand teen haar bors … Vervaard draai sy weg en stap haar kantoor binne.

’n Half histeriese lag glip uit. Aan die positiewe kant gaan sy omtrent ’n storie hê om vanaand vir Emily en San-Marie te vertel wanneer hulle mekaar vir aandete ontmoet.

Nie alles nie. Daar is sekere dinge wat sy nie eens vir haar drie beste vriendinne kan vertel nie.