Uittreksel | Jy is my hartklop

Een
“Jitte, wat het ons hier?”
Lelanie Swiegers hoor die blondine langs haar in ekstase sug en rol haar oë. As sy vir elke wat-het-ons-hier moet opkyk en ophou werk, kry sy sweerlik niks gedoen nie.
“Dis net nog ’n man, Colette, kom daaroor.”
“Nee, nie dié een nie, Lelanie. Dink jy . . . dink jy daardie hunk by die deur kan die nuwe grootbaas wees?”
“Die wat?”
“Die nuwe besturende direkteur. Moet hy nie eers volgende week sy opwagting maak nie?”
Sy gooi haar pen neer en swaai haar draaistoel so vinnig om, sy tuimel amper af. Sy staan op en kyk oor die ruim oopplankantoor uit. Die hele vloer is in tientalle werkareas verdeel wat net met afskortings geskei word. Naaste aan haar sit die argitekte met die tegniese tekenaars in die verste hoek van die vloer. Sy soek verder na die man wat Colette so beïndruk en sy suig haar asem geskok in. By die ingang van die kantoor is Leo Smith, die kantoorbestuurder, besig om ’n donkerkopman aan die werknemers naaste aan die deur voor te stel.
Die oomblik toe sy Adam West se aantreklike bakkies herken, trek haar borste pynlik saam. Nie net haar borste nie, maar ook ’n kolletjie in haar onderlyf – ’n kolletjie wat bitter lank laas op enige iets gereageer het. “O vrekte, ek is in die moeilikheid!” glip dit sag en geskok oor haar lippe.
“Ekskuus, het jy iets gesê?”
Sy vloek selde en dit was nie haar bedoeling om nou iets onguurs te sê nie, maar dit het sommer net uitgeglip. “Ek het nie gepraat nie.” Sy gaan sit weer en swaai haar stoel terug. Sy druk haar oorfone in haar ore en kyk na haar rekenaarskerm. Nou is een van daardie oomblikke wat sy haar blind en doof moet hou. O, en sy moet bid, sommer hard bid dat Adam West nie by haar tafel uitkom nie.
Sy probeer verby die musiek in haar ore luister, maar dis futiel. Intussen begin haar nekhare pennetjieregop staan. Instinktief weet sy dis omdat Adam haar dampkring stadig maar seker nader en uiteindelik binnedring. Die tinteling wat deur haar lyf rimpel, is die herkenning vir wat eens was.
Leo tik haar liggies teen haar arm, maar sy gee voor sy voel dit nie. Toe trek Colette haar een oorstuk uit haar oor. “Lelanie, meneer West wil jou ontmoet.”
Haar hart sink tot in haar skoene en sy gooi die oorfone op die lessenaar neer. Maar eers vee sy ’n stringetjie van haar lang rooi hare agter haar oor in. Sy stoot haar stoel effens terug en ten spyte van haar bene wat soos jellie voel, staan sy op. Dit voel asof sy in ’n rolprent speel waar die tyd stadiger gestel is en sy in ’n tydvakuum omdraai. Haar oë ontmoet Adam s’n en sy sien hoe die enigmatiese glimlag op sy gesig, nes Lot se vrou, in versteende sout verander. Hy verbleek. Hoewel haar hart verskriklik vinnig klop, is dit asof sy verstening na haar oorgedra word. Sy kan net terugkyk.
Hy lyk nog presies dieselfde. Sy oë is steeds die kleur van die lug op ’n mooi en helder wolklose dag, sy wimpers donker, wat die blou beklemtoon. Sy wenkbroue is dig maar goed versorg. Dis ook ’n perfekte raamwerk vir sy oë wat stadig maar seker in ’n see van onstuimigheid verander. Haar oë sak ’n aks tot by sy mond. Ja, sy ken daardie spiertjie wat so teen sy lip spring maar alte goed. Dit gebeur net wanneer hy onder die uiterste druk verkeer. En wanneer hy veg om sy selfbeheersing te behou.
“Meneer West, dit is juffrou Lelanie Swiegers – een van ons argitekte,” stel Leo haar voor.
Sy steek haar hand eerste uit, want sy het ’n effense voordeel in die situasie; sy het hom immers eerste herken. Sy hoop sy lyk nie eens ’n bietjie verbaas nie, net koel en in beheer.
“Juffrou Swiegers?” herhaal hy asof hy nie reg gehoor het nie. Sy gesig is skielik onnatuurlik bleek.
“Dis reg. Ek is juffrou Swiegers. Aangename kennis, meneer West.”
Toe hy haar hand neem en hulle vel kontak maak, skiet iets soos ’n ligte elektriese lading deur haar lyf en dit voel of elke selletjie geaktiveer word. Kompleet asof dit lank net dormant gelê en wag het vir dié spesifieke oomblik in tyd. Sy lig haar oë en maak doelbewus kontak. Dis belangrik dat hy sien sy staan onaangeraak voor hom. Dat sy hom as ’n vreemdeling beskou.
Hy hou haar hand langer vas as wat goeie etiket vereis, maar hy is nouliks bewus daarvan. Boonop voel dit of die tyd weer al hoe stadiger begin loop het en nou tot stilstand gekom het. Al waarvan sy bewus is, is dat sy voor die bron van haar bestaan staan – dat sy nes Victor Frankenstein se skepsel met ’n enkele aanraking tot lewe geskok is.
“Juffrou Swiegers is die laaste van ons personeel op dié vloer. Kom ek gaan wys jou watter kantoor joune is, meneer West.”
Adam se oë is stukkies ys toe hy haar hand los en omdraai. Sy skouers is teruggetrek in die snyerspak wat sy lenige lyf soos ’n handskoen pas. Nee, daar het hoegenaamd niks aan Adam West verander nie. Hy lyk steeds soos sy Bybelse naamgenoot – ’n perfek geskape, viriele man. Net met ’n kil, minder goddelike blik in sy oë.
“Dankie, Leo. Ek dink ek wil sommer dadelik met elkeen van die werknemers onderhoude begin voer. Hoe gouer ek die mense leer ken, hoe beter,” hoor sy hom sê toe hulle wegstap.
Sy laat haar asem rukkerig uit. Sy was nie eens bewus van die feit dat sy haar asem opgehou het nie. Dis seker hoekom sy skielik skoon flou voel, asof haar bloeddruk geval het. Vervlaks, het niks dan in agt maande verander nie? Sy was so vas oortuig dat Adam uiteindelik vir haar net ’n naam iewers in die lug geword het – ’n naam soos enige ander.
Sy gaan sit, maar draai haar kop. Colette lyk heel rustig terwyl sy Adam agternakyk. Dit beteken dat haar en Adam se ontmoeting heel normaal voorgekom het. Dis net sy wat die aarde voel skud het. Sy sug effens verlig. Die laaste ding wat sy wil doen, is aandag trek.
“Mensig, maar die man is mooi. Wat dink jy?”
“As jy so sê, dan is hy seker.”
Sy druk haar oorfone terug in haar ore. Dis moeilik om op enige iets te konsentreer. Nog moeiliker om nie in die rigting van die kantoor in die hoek te kyk nie. Die hoekkantoor bestaan net uit glas en die blinders word slegs toegetrek wanneer daar ’n vergadering gehou word. En nou is dit Adam se kantoor. Dit herinner haar dat iets drasties fout gegaan het. Sover dit haar betref, is die nuwe besturende direkteur se naam Marius Laubscher. Sy wonder net hoekom haar prokureur, Jaco Venter, haar nie van die verandering in hulle planne vertel het nie. Hy is tog immers haar afgevaardigde en verteenwoordiger in die maatskappy.
Sy haal haar foon uit haar handsak en bel sy privaat nommer. Dit gaan dadelik oor na ’n stemboodskap. “Jaco, bel my terug. Dis dringend,” los sy haar eie stemboodskap. Sy wag vyf minute en skakel weer die nommer. Dalk was hy net besig op sy selfoon. Dieselfde gebeur en haar maag trek op ’n knop. Sy hoop werklik Jaco het haar nie vandag in die rug gesteek of besluit om sy steun of lojaliteit aan iemand anders te gee nie, want dit sou soos hoogverraad wees. Sy sal hom nie daarvoor vergewe nie.
“Colette, ek voel nie lekker nie. Indien Leo my sou soek, sê asseblief vir hom dat ek ’n doktersafspraak het en hom nog daarvan wou vertel het. Maar met die nuwe baas hier kom hy my afwesigheid dalk nie eens agter nie.”
“Moet jou nie bekommer nie, ek sal hom sê. Ek hoop jy voel gou beter.”
“Dankie, sien jou later.”
Sy druk haar arms in haar baadjiemoue en slaan die kraag op. Wat eintlik belaglik is. Sy het ’n kappie nodig om haar rooi hare weg te steek, nie ’n kraag nie. Enigeen sal op ’n afstand kan sien hoe haar rooi kop tussen die afskortings deur beweeg en die kantoor verlaat. Sy gryp haar handsak en swaai dit oor haar skouer. “Kom ons hoop Adam sien jou nie raak nie, Lelanie,” mompel sy saggies onderlangs en loop koponderstebo verder.
Eers toe sy die veiligheid van haar huis bereik, laat sy haar gedagtes loslaat. Sy gooi haar motorsleutels in die rigting van die sytafeltjie in die voorportaal, maar dis mis en dit val kletterend op die teëls. Sy bodder nie eens om te buk en dit op te tel nie, maar loop soos ’n zombie by die stel trappe op, reguit slaapkamer toe. Daar val sy op die bed neer en bal haar vuiste. Sy gryp ’n kussing, vou dit oor haar gesig en gee ’n lang en skrikwekkende gil. Nee, dit kan nie wees nie! Adam West kan haar lewe nie sommer net so weer binnedring nie. Nie so onverwags en ongevraagd nie. Hy het nie die reg om dit te doen nie!