Skip to main content

Uittreksel | Jy is my droom

Een

Ellie trek die sout seelug diep in haar longe in terwyl sy die hekkie oopstoot en met die kort leiklippaadjie stoep toe loop. Sy pluk liggies aan die swaar tas toe dit agter ’n ongelyke steentjie vashaak terwyl haar oë die tuin om haar fynkam. Al steunend sleep sy haar bagasie teen die drie trappies op. By die voordeur voel sy aan die knop, maar toe dit voorkom of die deur gesluit is, grawe sy in haar yslike skouersak vir die sleutel.

’n Ligte frons keep in haar voorkop toe sy haar bagasie net daar by die voordeur los en in die lang gang afstap na die kombuis toe. Kate weet sy kom vandag terug en moes Rudolf al gebring het, maar sy gewaar haar hond nêrens nie.

“Dolfie!” roep sy terwyl sy die agterdeur oopstoot. Die agtertuin is verlate en daar is ook geen teken van haar geliefde troeteldier nie. Waar sou hy wees?

Met haar hande in haar sye staan en bespied sy die area vanaf die agterstoep. Ai, sy kan sien Jansie was in haar afwesigheid hier en het die tuin kom natlei en die blare gehark, maar verder lyk die plek amper soos die wildernis in diep, donker Afrika. Die struike moet weer ’n slag gesnoei word, maar hoe sy hom ooit gaan kry om dit reg te doen, weet sy nie. Laas toe hy die snoeiskêr in die hande gekry het, was daar byna niks van haar pragtige tuin oor nie en sy was so kwaai dat die arme man seker nie die moed gehad het om weer te probeer nie.

“Dolfie!” roep sy weer in die hoop dat die Duitse herdershond van iewers af te voorskyn sal kom. Hoekom het Kate nie soos gewoonlik gewag tot sy by die huis kom voor sy terug is na haar plek toe nie? Nie dat Rudolf sal wegloop as hy op sy eie gelos word nie. Behalwe om soms deur die gat in die heining tussen haar en tant Souf se huis te kruip, gaan hy nêrens sonder haar nie en kan sy hom met ’n geruste hart buite los.

Sy gaan nie gereeld weg nie, maar Kate het tog al voorheen na Rudolf gekyk en was nog altyd hier wanneer sy teruggekom het. Daarom verstaan sy sowaar nie wat vandag aangaan nie. Ja, die bus uit die Kaap was amper ’n halfuur laat, maar Kate weet tog sy is op pad en sou nie sommer net koers gevat het nie. Hulle is nooit so lank van mekaar af weg nie en sy weet haar vriendin sou opgewonde op haar tuiskoms gewag het.

’n Yskoue vuis kom klem om Ellie se keel. Iets is nie reg nie. Sy swaai om en gaan haal haar selfoon uit haar skouersak wat op haar tas by die voordeur lê waar sy dit gelos het. Geen missed calls nie. Kate sou laat weet het as sy nie vir Rudolf kon bring nie. Nou hamer haar hart so hewig dat dit voel of dit enige oomblik deur haar borskas gaan spring.

Met bewende vingers soek na sy Kate se nommer en wag angstig terwyl die selfoon net lui en lui.

“Hallo?” antwoord ’n vrouestem uitasem, maar dis nie Kate se stem nie.

“Hallo? Dis Ellie Greyling, Kate se vriendin. Met wie praat ek?”

“O, haai, Ellie. Dis Lalie hier. Kate is gou by dokter Jordaan en het haar selfoon hier by my by ontvangs gelos.”

Ellie se hart mis ’n slag en sy trek haar asem diep in om haarself so tot bedaring te probeer bring. Dalk het Kate in haar afwesigheid uiteindelik die moed bymekaargeskraap om die aantreklike dokter aan te keer, flits ’n hoopvolle gedagte deur haar kop. Of dalk is dit iets erger, baklei haar rasionele brein dadelik terug.

“By dokter Jordaan? Wat is fout? Is Kate oukei, Lalie?”

“Ja, sy is piekfyn. Wel, seker so oukei soos een met ’n gebreekte enkel kan wees.”

“’n Gebreekte enkel? Nou hoe de josie het sy dit reggekry? Toemaar, ek sal self by haar hoor wat gebeur het. Vra haar asseblief om my te bel sodra sy klaar is by die dokter, Lalie. Rudolf is by haar en ek moet hom gaan haal. Hoe het Kate by die dokter gekom?” tref ’n nuwe gedagte haar opeens.

“Oom Leipoldt het haar gebring en wag sommer hier om haar weer huis toe te vat as Dokter klaar is. Hoe was die kursus? Jimmels, ek is bly jy is terug, Ellie. Bloubaai is glad nie dieselfde sonder jou nie.”

“Ek is só bly om terug te wees, daai Sodom en Gomorra is nou maar eenmaal nie ons mense se uithangplek nie. Maar die kursus was leersaam, en dit maak die trip darem die moeite werd.”

Nadat sy die oproep beëindig het, sleep sy die swaar tas kamer toe en maak dit oop. Vuil klere in die wasgoedmandjie, skoon klere terug in die kas, toiletsakkie na die badkamer toe, leë tas bo-in die kas. Sistematies ruim sy die kamer op en toe alles op hulle plek is, lyk dit amper asof sy nooit weg was nie.

Met ’n frons tel sy haar selfoon van die bedkassie af op en staar daarna asof sy verwag om ’n boodskap van Kate af te sien. Wat kan dan so lank neem by die dokter? Dit vat mos nie ure om gips aan te sit nie. Jene, sy hoop nie Kate sit en fladder al weer haar wimpers vir dokter Jordaan nie. Soos sy haar vriendin ken, sal sy die besoek so lank moontlik uitrek, in erge pyn ofte not! Kate het nou maar eenmaal ’n helse crush op die jong dokter, en as dit nie so absurd was nie, het sy wraggies geglo haar rooikopvriendin het aspris haar enkel gaan staan en breek net sodat sy ’n rede kan hê om hom te gaan besoek. Sy kla nie verniet dat ’n mens hom hopeloos te min in die dorp of by sosiale geleenthede raakloop nie. Toe haar selfoon skielik lui, skrik Ellie haarself in ’n wipflip in.

“Wat het jy aangevang?” raas sy sommer toe sy die foon antwoord.

“Dis Rudolf se skuld. Jou hond is lief en dierbaar, Ellie, maar hy luister nie vir ’n mens nie. Of dalk is dit omdat hy so opgewonde was toe ek vir hom sê jy kom vandag terug. Want toe spring hy mos soos ’n mal ding op en af en die volgende oomblik is my voete onder my uit en sit ek met ’n gebreekte enkel. Ek wou jou nog bel en vertel wat aangaan, maar ooo … die pyn, Ellie! Al waaraan ek kon dink, was die verskriklike pyn en dat ek dadelik by ’n dokter moes kom. Toe kom oom Leipoldt toevallig daar aan met ’n vars brood wat tannie Rika vir my gestuur het. Dis net genade, ek sê jou, Ellie. Hy was vanoggend uit die hemele gestuur om my te kom help.”

Ellie klik haar tong simpatiek. “Het dokter Jordaan vir jou pynstillers gegee? Dalk moet jy vir ’n rukkie eers by my kom bly, Katie. Jy gaan mos nie op jou eie regkom met ’n af enkel nie.”

Kate sug beswaard. “Jy is soos altyd ’n skattebol, dankie, Ellie. Maar alles is onder beheer. My ma gaan my kom help. Gelukkig gebeur dit in die tyd wat my pa in Namibië gaan jag, en my ma soek juis iets om haar mee besig te hou. En nou ja, toe gee ek vir haar ’n rede om weer haar moedersinstinkte en hennetjiegedrag uit die kas te gaan grou.”

“Ek sal Rudolf netnou kom haal. Wanneer kom jou ma? Ek sal haar graag weer wil sien.”

“Sy is al op pad. Kom so oor ’n uur, dan sal sy hier wees. Ek gaan nou ’n bietjie met my been in die lug lê. Daai mooi man het gesê ek moet met my enkel op ’n kussing lê, toe vra ek hom amper of hy nie sommer my kussing sal wees nie.” Sy giggel ondeund en snork liggies voor sy weer praat. “Jetetjie, Ellie, ek het amper van die pyn vergeet toe sy hande oor my gekneusde vel streel. Amper,” benadruk sy, “maar nie heeltemal nie. En ja, hy het vir my sterk pynstillers gegee, maar ek wens hy wou homself sommer saam met die pille voorskryf, dan het ek darem gou beter gevoel.”

Ellie lag vir haar vriendin se stuitigheid. Dit klink sowaar of Kate al klaar op hopeloos te veel pille is met haar simpel praatjies. “Gaan lê nou met daai enkel in die lug. Ek sien jou so oor ’n uur.”


“Het jy Ma baie gemis? Het jy, h’m?” kloek Ellie in ’n hoë stem toe Rudolf teen haar opspring en sy haar arms om die harige lyf slaan.

“Jy pamperlang hom hopeloos te veel. Ek weet nie hoe dit gaan wees wanneer jy eendag kinders het nie.”

“Hy is mos my kind. En nee, jy weet mos mensekinders is nie in my toekomsvooruitsigte nie. Ek maak g’n alleen ’n kind groot nie en daar is nie eens ’n skadu van ’n vaderfiguur vir sodanige bloedjies op die horison nie. Rudolf is en sal my enigste liefde bly. Of wat sê jy, Dolfie?” koer sy weer vir die hond en vryf liefdevol oor sy kop.

“Dis oor haar pa,” sê Kate vir haar ma wat oorkant haar by die tafel sit. “Ellie se pa is vort toe sy nog klein was en toe kom drop haar ma haar by haar ouma om groot te maak. Ma ken mos die storie. Nou is geen man goed genoeg vir Ellie Greyling nie, want sy is bang hulle los haar ook soos ’n warm patat.”

Ellie trek ’n stoel by die tafel uit en gaan sit met Rudolf wat op haar voete kom opkrul. “Dit was die beste ding wat my ma ooit kon doen, en ek sal die jare saam met ouma Elizabeth vir niks onder die son verruil nie. Ek is mos darem weer in kontak met my pa, Kate.” Sy kyk na die statige gryskopvrou wat met ’n glimlag na die gesprek sit en luister. “Kate oordryf soos altyd, tannie Wilma. My verlede het nie veel met my lewenskeuses te doen nie. Ek stel net nie daarin belang om ’n enkelouer te wees nie, dis al. En ek is happy met my lewe soos dit is. Ek en Rudolf het nie ’n man nodig nie, nè, Dolfie?”

“Ja, raait,” sê Kate half sarkasties. “Tot jy die regte een ontmoet. Dan gaan jy gou jou mind oor babies change. En gaan arme ou Rudolf sleg tweede kom.”

“Hy sal nooit tweede kom nie. En die regte man vir my bestaan nie, daarvan is ek honderd persent seker. Ek het dertig jaar vir hom gewag om op sy wit perd te verskyn, en sedert ek drie jaar gelede uiteindelik besef het hy is net ’n skim, is ek gelukkiger as ooit. Geen gewag en gesoek en op ’n rak sit en hoop meer vir hierdie girl nie. Jy moet dit ’n bietjie probeer, Katie. Dis baie bevrydend.”

“Nee, ek is ’n hopeless romantic en glo daar is vir elke pot ’n deksel. Die probleem is dat ons opsies op hierdie plek by die dag minder word. Buitendien is die helfte van die dorp se mans verlief op jou en die ander helfte is reeds getroud.”

Ellie lag en skud haar kop. “Moenie ’n woord glo wat sy sê nie, tannie Wilma. Ek is net pelle met almal.”

Kate se wenkbroue skiet op. “Ja, maar ek weet as hulle kon kies, was hulle beslis nie net jou pelle nie, Ellie. Al van skooldae af loer die manne vir jou met lus in hulle oë, en dit neem nie lank vir die nuwes wat soms ons ou dorpie inkom, om ook die sappige aas uit te snuffel nie.”

Ellie vererg haar opeens. Kate laat dit klink asof sy ’n regte verleidster is. ’n Opperste tert! Hoekom raak sy sulke twak voor haar ma kwyt?

“Ek is niemand se aas nie, Kate. Almal weet presies waar hulle met my staan,” sê sy vies en probeer haar stem neutraal hou. Die laaste ding wat sy wil doen, is om voor tannie Wilma in ’n rusie met Kate betrokke te raak. Sy verstaan nie wat met haar vriendin aangaan dat sy sulke dinge voor haar ma sê nie. Hoekom wil sy haar in ’n slegte lig stel, sy wéét tog Ellie is ’n kuise vrou met goeie waardes. Nou laat klink sy haar soos ’n slet wat haar aas vir mans uitgooi!

“Ek en Rudolf moet huis kry, dit word laat. Nogmaals dankie dat jy na hom gekyk het terwyl ek in Pretoria was. Hopelik word die volgende kursus wat ek bywoon, in die Kaap aangebied en nie weer daar bo in Gauteng nie. Hier,” sê sy en haal ’n pakkie uit haar skouersak wat sy vir Kate gee. “So ’n klein ietsie vir jou moeite met my honnekind. Dit was lekker om Tannie weer te sien.” Sy glimlag en kyk na Wilma terwyl sy van die tafel af opstaan. “Ons sal mekaar weer sien, Tannie gaan mos ’n hele ruk hier wees om na Kate te kyk, nie waar nie? Ek sal gereeld kom inloer, laat weet asseblief as ek met enigiets kan help.”

Terwyl sy met Rudolf huis toe stap, dink sy weer aan wat Kate kwytgeraak het. Waar kom haar vriendin daaraan dat die loslopers op die dorp op haar wat Ellie is, verlief is? Sy ken die meeste van hulle al byna haar hele lewe lank, en hoewel sy oor die jare twee of drie onskuldige verhoudings met ’n paar van hulle gehad het, was daar nooit sprake van ’n halsoorkop verliefdheid nie. Kate het in die verlede al telkens skimpe gegooi dat Ellie mans soos magnete aantrek en vriende is met almal op die dorp, maar sy weet tog Ellie het niemand nog ooit aanleiding gegee nie. Sedert sy as vyfjarige permanent by haar ouma hier op Bloubaai kom woon het, het die dorpsmense haar in hulle kringetjie verwelkom en hulle huise en harte vir haar oopgemaak. Haar ouma was ’n bekende en geliefde lid van die gemeenskap, en sedert haar skielike dood twee jaar gelede, het die inwoners van Bloubaai meer soos haar familie begin voel. Daarom is sy sommer van voor af vies vir Kate oor die snert wat sy kwytgeraak het. Dis asof haar snedigheid aan jaloesie grens, maar wat het sy waarop Kate jaloers kan wees? Die Rynhards was tog ook vooraanstaande lede van die gemeenskap, en Kate het in ’n liefdevolle huis met ’n ma, pa en broer grootgeword. Sy het alles gehad waaroor Ellie net kon droom, en al het haar ouers vier jaar gelede besluit om in Hermanus te gaan aftree, is hulle steeds ’n hegte gesin.

Sedert hulle eerste ontmoeting as vyfjariges was sy en Kate boesemvriendinne, en vandag is hulle steeds geheg aan mekaar, byna soos susters. Daarom verstaan sy nie Kate se bitsigheid nie. Ellie sal nimmer as te nooit enigiets doen om ’n doring in haar vriendin se vlees te wees nie, veral wat die manlike spesie aanbetref. Telkens wanneer Kate oor die jare in ’n spesifieke man belanggestel het, het Ellie alles onder die son gedoen om op die agtergrond te bly sodat Kate die geleentheid kon hê om wie ook al se aandag te trek. Juis omdat almal, dalk in goeder trou en onbewustelik, altyd opmerkings gemaak het oor Ellie se skoonheid.

Sy weet dis vir haar vriendin ’n teer puntjie en moes gereeld, veral gedurende hulle tienerjare, hoor hoe Kate haar rooi hare en sproete verag en wens sy kon ’n donkerkop soos Ellie wees.

Toe hulle universiteit toe is, het sy telkemale die seer op haar vriendin se gesig gesien wanneer manstudente hulle aandag op háár toegespits en slegs aan Kate aandag geskenk het omdat sy Ellie se vriendin is. Maak nie saak wat sy gedoen het nie, sy kon nie verhoed dat Kate in haar skadu staan wat die belangstelling van die teenoorgestelde geslag aanbetref nie. Ellie was die lig wat mense soos ’n mot aangetrek en Kate onbewustelik na die donker verban het waar sy desperaat na aandag gesmag het. Dis juis daardie soeke na aandag wat Kate soms onnosel dinge laat aanvang het, en wat gelei het tot twee aborsies in die drie jaar wat hulle op kampus was. Hierdie geheim dra Ellie steeds met haar saam en dit sal in haar mond gesnoer bly tot die dag wat sy haar kop vir ewig neerlê. Kate kan haar met haar lewe vertrou en sy weet dit. Waarom dan so ’n opmerking voor haar ma maak wat Ellie soos iemand laat lyk wat met mans se harte speel?

’n Swaar sug glip tussen haar lippe deur. Dalk het die ding met Erwin nou weer om een of ander rede sy lelike kop uitgesteek. Kate verseg om te verstaan dat haar broer vir Ellie ook meer soos ’n broer as ’n vryer gevoel het. Sy wou die ding laat werk, rêrig, sy het alles ingesit en haar beste poging aangewend ter wille van Kate, maar daar was net geen vonk van haar kant af nie. Om Erwin te soen was soos om Tiaan of Ertjie, haar twee beste mansvriende, te soen. Weird en ongemaklik, dis hoe dit sou gevoel het. Nie dat sy Tiaan of Ertjie al ooit gesoen het nie, die hemele behoed haar! Maar dis hoe sy dink dit sou voel om een van hulle te soen. En ten spyte daarvan het sy steeds probeer om die ding met Erwin te laat werk, gehoop ’n vonk verskyn iewers in die donker nag van hul kortstondige verhouding. Wat toe nie gebeur het nie. Kate se droom dat hulle skoonsusters word, het ’n droewige dood gesterf met Erwin wat konsuis met ’n gebroke hart gelaat is en blykbaar jare gevat het om oor haar te kom.

“Pfff!” blaas Ellie haar asem uit en rol haar oë vir die herinnering wat hom ongevraagd weer aanmeld. As Erwin se hart gebreek was, is dit net sy eie skuld. Hy het geweet sy probeer om Kate tevrede te stel en was nooit op hom verlief nie. Omdat hy blykbaar slapelose nagte oor haar gehad en Kate se arm gedraai het, het sy wat Ellie is, langtand ingestem om die waters te toets en haar in ’n oppervlakkige verhouding met hom begewe.

Ellie frons terwyl sy die hekkie oopstoot en Rudolf laat deurgaan. Nee jene, hoeveel jaar gelede is Erwin hier weg? Kate kan tog sekerlik nie nou weer dáároor snaaks raak nie. Dalk is dit die pynstillers wat haar tong onnodig skerp geslyp het.