Skip to main content

Uittreksel | Joune

Een

Ashton McKenzie staan roerloos voor die groot venster in sy studeerkamer, sy gesig onleesbaar terwyl hy na buite kyk. Op die oog af lyk hy kalm, maar Thomas Steadman weet dat sy vriend sy woede met moeite beteuel. En hy neem hom nie kwalik nie.

“Hoeveel tenders is nog oor vir die res van die jaar?”

“Ek skat ongeveer dertig.”

“Ek het akkurate inligting nodig, Thomas. Vind uit as jy nie seker is nie.”

Ashton vat die laaste sluk whisky in sy glas, draai van die venster af weg en loop tot agter die swaar donkerhoutlessenaar wat al sewe generasies in die McKenzie-familie is.

“Ek gaan vir Clark & Bennett Associates aanstel om ’n forensiese ondersoek te loods. Iewers laat lek iemand inligting uit, en ek wil weet wie dit is. In­tussen verhoog ons die aanbod aan Marine Tech­nologies vir die nuwe radarlense met een miljoen dollar.”

“Is jy seker dis nodig om nog ’n miljoen dollar te spandeer? Atlantic Express het net twee honderd duisend dollar meer aangebied, en volgens ons bronne is dit alreeds veel meer as wat hulle kan bekostig.”

“Hierdie onderhandelinge het lank genoeg gesloer. Wie ook al die inligting aan Atlantic Express voer, sal binnekort geïdentifiseer word; dan stop hierdie kat-en-muis-spelery finaal. Doen wat nodig is wat Marine Technologies betref – ek soek daardie lens in produksie binne die volgende drie weke.”

Thomas knik. “Hoe laat vertrek jou vlug?”

Ashton trek sy baadjie aan wat oor die stoel se rugleuning gehang het.

“Oor twee uur. Ek sal jou bel sodra ek in Miami is om te hoor of die onderhandelings met Marine Technologies afgehandel is.”


“Nog ’n glasie wyn?”

“Nee, dankie.”

Jesse kyk op haar horlosie. Dit is amper agtuur en as sy dinge só kyk, lyk dit nie asof Michael van plan is om binnekort huis toe te gaan nie.

“Ag kom nou, Jesse, nog net enetjie. Ons het me­kaar meer as ’n jaar gelede gesien en dis anyway nog te vroeg vir ons om nou al huis toe te gaan. Wat kan in elk geval belangriker wees as om saam met jou gunstelingneef te kuier?”

Jesse lag en skud haar kop. Van al haar nefies en niggies was Michael nog altyd die een wat haar die beste verstaan het, iemand by wie sy haarself kan wees sonder om geoordeel te word. Dieselfde geld vir hom. Hy kom weg met moord by haar. En hy weet dit.

“Hou maar daai taktiek vir ’n ander keer, dit gaan nie vanaand op my werk nie.”

Die kelner verskyn langs hulle tafel. Michael kyk vraend na haar. Verdomp, hy weet ook net hoe om haar om sy pinkie te draai! Sy kyk vererg op na die kelner.

“Een koffie met warm melk, ’n dubbel whisky met water, en die rekening, asseblief.”

Michael glimlag lui toe die kelner wegstap, te­vrede dat hy haar weereens kon oorreed. G’n won­der soveel vrouens swig voor sy sjarme nie – hy het die kuns bemeester om sy sin te kry. Dat daar al baie harte gebreek is deur haar liewe neef is geen geheim nie. As die huidige Formule Een-wêreld­kampioen het hy nooit ’n tekort aan vrouens wat mekaar se oë wil uitkrap om net deur hom raak­gesien te word nie. Dis belaglik. Boonop is sy repu­tasie as ’n moderne Don Juan algemeen bekend in Miami. Die sosiale blaaie van koerante en tydskrifte publiseer weekliks foto’s van hom met een of an­der model aan sy arm, of selfs met ’n ander man se vrou. Om nie eens te noem van die internet en sosialemediaplatforms nie – hy sorg vir ’n fees van materiaal om oor te skryf. Vir Michael is die lyn tus­sen reg en verkeerd haarfyn. Jesse wonder heimlik of die vrou wat hom eendag gaan vastrek, tevrede gaan wees met al die spoke van sy verlede. En daar is baie, dit weet sy goed.

“Koffie? Dis redelik verbeeldingloos vir ’n Sater­dagaand.”

“Ek moet nog vanaand gaan werk wanneer ek by die huis kom.”

“Dit kan seker wag tot Maandag?”

“Ek wens dit kon, maar daar is ’n dringende ver­slag wat ek Maandag moet inhandig en David slag my af as dit nie klaar is nie.”

Die kelner bring hulle drankies en rekening. Mi­chael haal ’n paar note uit en gee dit vir hom. Jesse vat ’n slukkie van die koffie. M’mm . . . dit smaak hemels.

“David kan nie kwaad raak vir jou nie, so ek sal myself nie te veel daaroor bekommer nie.”

Michael vat ’n groot sluk whisky, sy glas al weer amper half. Hoeveel het hy al vanaand gedrink?

“Jy het meer guts as ek om sommer so in ’n vreemde land te kom woon. Ek mag dalk die groot­ste gedeelte van die jaar oorsee resies jaag, maar ek sal my huis vir niks verruil nie.”

“Dit het niks met guts te doen nie. Ek werk nog vir dieselfde maatskappy, doen dieselfde werk, maar net in ’n ander ligging. Behalwe vir Tafelberg wat my nie meer elke oggend groet nie, voel Miami baie soos die Kaap.”

“En Rick? Is dit finaal verby tussen julle? Ons was almal redelik verbaas toe ons hoor jy het die verlowing verbreek.”

Jesse kyk stip na die koffie in haar hand. Haar vingers klem stywer om die beker. Sy het verwag dat hy haar een of ander tyd gaan uitvra oor Rick, maar sy is nog nie gereed om daaroor te praat nie. Selfs nie eens met haar geliefde Michael nie.

“Ek het besef ’n huwelik met hom sou nie werk nie.”

Michael se een wenkbrou lig effens, maar hy vra nie verder uit nie. Jesse druk die klein koekie wat saam met die koffie bedien is, vinnig in haar mond.

“Is jy nie nou besig om te oefen vir die nuwe Grand Prix-seisoen nie?”

Hy knipoog en vat die laaste sluk van die glas whisky.

“Nee, my program skop eers Maandag af. Tot dan is dit carte blanche!”

Hy sit die glas effens te hard op die tafel neer, leun agteroor in sy stoel en sluit sy oë vir ’n oomblik. Hulle sit in stilte, elkeen besig met sy eie gedagtes. Haar oë dwaal stadig oor die smaakvolle vertrek. Die ligte is effens verdoof en die helder stadsliggies skyn deur die groot glasdeure wat op ’n balkon uitloop. Dis vanaand koeler in Miami as ander aande, maar ten spyte van die koue is daar nog steeds ’n hele paar tafels buite waarby gaste sit en die aand geniet. Michael het die perfekte kroeg gekies vir vanaand se kuier, want almal hou hulself besig met hul eie sake. Niemand het al kom vra vir ’n foto of handtekening nie, alhoewel daar ’n paar nuuskierige kyke na hulle kant toe was.
Sy vat die laaste slukkie koffie en kyk na Mi­chael wat nog met geslote oë sit. Dis baie duidelik dat hy ver oor sy dranklimiet is. Met sy fiksheidsvlak raak hy ná twee biere besope. Vanaand het hy ten minste vier dubbele whiskies gedrink. Sy kyk vlugtig om hulle rond. Die hotel is een van Miami se luuksste hotelle en definitief nie ’n plek wat aan skandes gewoond is nie. Slegs ’n paar mense sit by die kroeg, so sy behoort Michael hopelik hier uit te kan kry sonder dat iemand sy toestand opmerk. Sy staan op en hou haar hand na hom toe uit.

“Kom, ek dink dis nou tyd dat ek jou by die huis kry. Ek sal bestuur. Gee my jou sleutels.”

“Wát? Jy bestuur? My Maserati?” Hy skud sy kop stadig heen en weer, sy oë halfpad toe. “Ek dink nie so nie.”

“Hoekom nie?”

“Kyk, nig, ek is verslaaf aan spoed, maar . . . jy jaag te vinnig.”

“Jy is die Formule Een-renjaer tussen ons twee, nie ék nie. Jy is in elk geval nie in staat om te bestuur nie. Toe, gee my jou sleutels.”

Verlig sien Jesse hom die sleutels uit sy baad­jiesak haal. Michael staan op en moet momenteel aan die stoel se armleuning vashou sodat hy sy balans kan herwin. Sy beweeg vinnig langs hom in en vat sy arm stewig vas.

“Lyk my jou laaste drankie moes toe ook maar eerder koffie gewees het. Kom, ek help jou.”

Toe hulle by die hysbak kom, is daar ’n nota op­gesit dat dit buite werking is en die trappe gebruik moet word. Jesse kyk bekommerd na Michael wat skielik baie moeg en lomp langs haar staan en verward na die nota staar. Die restaurant is op die tweede vloer, so dit is gelukkig nie ’n lang stel trappe om af te klim nie. As hulle dit stadig vat, behoort hulle veilig onder te kom.

“Lyk my . . . ons moet die trappe . . . vat,” mompel hy stadig. Jesse vou sy arm stewiger deur hare.

“Hou vas aan my en probeer om nie oor jou voete te val nie.” Michael snork sag, maar stry nie verder nie. Jesse hou hom onderlangs dop en kan nie help om te glimlag nie . . . sy oë is halfpad toe, sy gesig ernstig soos hy konsentreer op elke tree wat hy gee.

“Jy is so ’n staatmaker, Jesse . . . die beste . . . die man wat jou eendag trou . . .”

Hy stop skielik en kyk na haar, ’n frons op sy gesig. “Wanneer gaan jy . . . eendag trou?”

“Wanneer dit sneeu in die Serengeti.”

“Serengeti? Maar . . . dit sneeu mos nie . . . daar nie.”

“Presies.”

Hy kyk haar verward aan. Sy sug. Dis duidelik dat al sy ligte afgeskakel is.

“Toemaar, ek sal op ’n ander dag verduidelik. Kom!”

Jesse gee ’n tree vorentoe, maar is te vinnig vir hom. Hy trap skeef en sy voet gly onder hom uit. Hy gryp na die trapreling, maar dis te laat. Hy pluk Jesse saam met hom en die volgende oomblik voel sy hoe haar bene onder haar invou en sy voren­toe val. Die volle gewig van Michael se liggaam tref haar toe hulle saam vooroor tuimel tot op die landing tussen die twee vloere. Michael kom skuins teen haar te lande en met die impak rol hy haar tot op haar rug. ’n Dowwe pyn skiet deur haar linkerheup waarop sy geval het, maar verder voel sy niks wat seer is nie. Michael kreun hard en druk homself lomp op met sy arms, sy bolyf halfpad oor hare. Hy kyk af na haar met lag in sy oë. Die skerp drankreuk in sy asem kielie haar neus.

“Oeps . . . jammer . . . is jy oukei?”

“Ja, skuif net opsy sodat ek kan opstaan.”

Jesse wil haarself nog regop stoot, maar ’n diep, harde stem praat skielik by hulle.

“Hierdie is ’n publieke area en nie ’n vryplek nie. Kry ’n kamer!”

Wát? Jesse druk vir Michael, wat so pas besluit het om bo-op haar aan die slaap te raak, met mening eenkant toe en sit regop. Sy blonde kop val tot op haar skoot, sy een arm om haar bene gedrapeer. Dit moet seker sleg lyk, maar dit gee niemand die reg om sulke aantygings te maak nie, dink Jesse vererg. Sy kyk op en moet haar nek be­hoorlik agtertoe buig om oogkontak met die lang donker gestalte voor haar te maak. Goeie genade, maar dis ’n mooi man! Dit grens aan sonde. Sy donkerbruin hare blink in die lig bo hom. Sy donker wenkbroue is perfek gevorm en net dik genoeg om sy lang, ewe donker wimpers en ongelooflik sexy koffiebruin oë te komplementeer. Sy vel is bruingebrand en ’n kort stoppelbaard verdonker die kante van sy wange en ken. Sy maak haar mond oop om te verduidelik dat hy die kat aan die stert beethet, maar die woorde sterf op haar lippe toe sy afkyk na sy mond. Vol, sensuele lippe wat ’n woordelose belofte uitskree van die genot wat hulle inhou. Die enigste fout wat sy kan vind, is die smalende trek om sy hoogs soen­bare mond wat haar terugruk tot die werklikheid. Sexy of nie, geen man het die reg om haar vals te beskuldig nie – veral nie van ’n vryery in die openbaar nie!

“Dis nie wat jy dink nie.”

Dis al sinvolle woorde wat sy kan uitkry ondanks die feit dat sy gereed voel om oorlog te verklaar. Vir een of ander rede voel dit asof haar verstand stil gaan staan het. Die man se perfek gevormde wenk­broue skiet omhoog. ’n Harde uitdrukking flits in sy donker oë.

“Werklik? Dis nie hoe dit vir my lyk nie. Ek is nie die een wat onder ’n man se liggaam betrap is nie,” antwoord hy afgemete.

Sy woorde skok Jesse terug na die werklikheid. Sy maak haar mond oop om terug te kap, maar Michael gee op daardie oomblik ’n sagte snork en wikkel sy kop gemakliker op haar skoot. Sy bloos bloedrooi en skud sy skouer vererg, maar kry geen reaksie van haar neef nie. Verdomp, wat ’n tyd om aan die slaap te raak!

“Jy maak die verkeerde afleiding. Ons het gestrui­kel en geval en ek was net besig om op te staan toe jy hier aankom.”

’n Sterk, bruingebrande hand verskyn skielik voor haar. Sy kyk op en ontmoet die man se donker oë, maar kan die kyk daarin nie lees nie. Sy skuif Michael se kop versigtig van haar skoot af, ignoreer die man se hand en stoot haarself tot op haar voete. Die reuk van vars seep hang tussen hulle, asof hy onlangs gestort het. Goeie genade, die vlugtige beeld van hierdie man onder ’n lopende stort is genoeg vir ’n uitklophou! Jesse vee haar hare wat met die val uit haar poniestert losgekom het, vinnig plat. Sy buig haar nek effens agteroor om hom in die oë te kyk. Sy kake is opmekaargeklem terwyl hy net stil na haar kyk. Dan lig hy sy een hand en vou dit skielik om die agterkant van haar nek, trek haar gesig nader totdat sy asem net ’n fluistering weg is van haar gesig af.

“Jou aksent is nie Amerikaans nie. Van waar af kom jy?”

“Suid-Afrika,” antwoord sy, nie in staat om aan iets anders te dink behalwe aan haar hart wat nie meer op die regte plek in haar liggaam klop nie. ’n Warm gloed beweeg teen haar bene op, dreig om hulle onder haar te laat ingee. Nog nooit het ’n man só ’n uitwerking op haar liggaam gehad nie.

“Ek sien. In daardie geval moet ek jou reghelp. In hierdie hotel is daar streng reëls oor wat in publieke areas toegelaat word. Dit sal jou goed doen om dit te onthou terwyl jy hier is.”

Jesse lig haar kop effens sodat haar oë vinnig, uitdagend, na hom kyk. Dit is duidelik dat elke sen­timeter van hierdie man haar sintuie uitmekaar ruk, maar dit hoef hy nie te weet nie. Sy het ’n breukdeel van ’n sekonde om haar eer te herstel as sy nie soos ’n totale sot in die geskiedenis van die moderne wêreld opgeskryf wil word nie. Sy dwing ’n glimlag om haar mond.

“Laat ek raai – jy ken die reëls van die hotel so goed omdat jy hier werk?”

Hy antwoord haar nie, maar die kyk in sy oë verander na iets onleesbaar. Jesse snak na haar asem toe sy hand teen die lyn van haar nek op­beweeg, die agterkant van sy kneukels sag teen haar vel. Sy het geen tyd om die verwarrende sen­sasies wat hy in haar wakker maak, of die swaar dosis passie wat deur haar ruk te registreer nie want ’n lui, sexy glimlag verskyn om sy mond. Sy donker kop buig af, hul lippe sentimeters van me­kaar af.

“Nee. Ek besit die hotel.”

“Jesse . . .?”

Michael se stem ruk Jesse terug na die werk­likheid. Asof sy gebrand word, ruk sy haar weg van die man voor haar. Haar nekvel prikkel waar sy vingers ’n oomblik gelede ’n pad gebrand het. Sy sak tot op haar hurke langs Michael wat sag­gies kreun en sy kop stadig heen en weer beweeg. Jesse gryp hom om sy boarm en skud hom liggies. Haar geduld is skielik min, bitter min. Sy kan die man se donker blik op hulle voel brand.

“Kom, Michael, staan op. Ons moet huis toe gaan.”

Michael se blou oë gaan oop en rek effens toe hy die onstuimige kyk in Jesse se gesig sien. Sonder ’n woord lig hy hom stadig op terwyl hy aan die trapreling vashou en homself optrek.

“Ek’s jammer, Jesse . . . regtig baie jammer.”

Michael lig sy kop en moet eers ’n paar sekondes hard konsentreer om reg te fokus. Sy oë dwaal sta­dig verby Jesse na die figuur agter haar. Verbasing flits oor sy gelaat.

“Ashton, wat maak . . . jy hier? Ek dog jy . . . is . . . in Europa.”

“Michael?” klap die man se stem soos ’n sweep agter Jesse. Sy kyk oor haar skouer en die paar kof­fiebruin oë pen haar met ’n vurige kyk vas.

“Ek sien my afleiding was toe nie verkeerd nie,” sê hy grimmig.

Enige teken van die passie wat oomblikke gelede tussen hulle was, het verdwyn. Die betekenis van sy woorde dring meteens tot Jesse deur. Natuurlik! Michael se reputasie as ’n Don Juan! Voor­dat enigiemand nog verder kan praat, gryp sy Mi­chael aan die arm en slaan haar ander arm om sy middel. Genoeg is genoeg, sy moet van hierdie man af wegkom voordat sy haar opvoeding ver­geet en hom presies vertel wat sy van hom dink. Kan die man dan nie sien wat hier aangaan nie? Michael kan skaars regop staan, wat nog te praat van . . .

“Ek wil nóú huis toe gaan, kom!”

Sy sleep-dra Michael se lang, swaar lyf by die laaste paar trappe af tot by die hotel se voordeur, intens bewus van die donker oë wat op hulle rus. Vermetele, arrogante, alleswetende mansmens!

“Wie is daardie man?” vra Jesse vererg vir Mi­chael toe hulle buite is. Die feit dat hulle mekaar ken, verbaas haar glad nie, want dit het nog altyd gevoel asof Michael almal ken. Waar hy ook al gaan, maak hy altyd ’n klomp vriende. Sy roem het hom net nog bekender gemaak. Asof hy dit nodig het.

“Hû? Ashton?”

“Ja. Wie anders?”

“My kaptein.”

“Jou kaptéin?”

“Ja. Van die seiljagklub. Gawe man. Goeie kaptein . . . ons wen altyd. Jy sal van hom hou.”

Jesse antwoord nie. Wie of wat Ashton vir Mi­chael is, is nie die indruk wat hy by haar gemaak het nie. Ten minste sal sy hom nie weer sien nie, want sy sal haar voete nie weer in sy hotel sit nie. Met ’n groot gesukkel kry Jesse hulle albei in Mi­chael se bloedrooi Maserati. Sy maak hulle gordels vas en gly haar hande stadig oor die stuurwiel. Wat ’n lieflike motor! Dit maak die afgelope tien minute amper die moeite werd. Michael kyk skuins na haar en kreun toe Jesse die enjin aanskakel en hy die glimlag om haar mond sien.

“Gaan jy my nou laat boet vir wat op die trappe . . . gebeur het?”

Jesse antwoord nie, die bande se swart strepe op die teerpad is antwoord genoeg.