Uittreksel | Inkommers
Kom in
Die bloed pols wild tot in my slape, my hande sweet, al is dit vóór sewe op hierdie heerlike Woensdag in die voorsomer.
Ek, Plakker Prinsloo, weet nie of ek nou al gereed is om vir die eerste keer saam met Bennie Afrikaner uit te ry Kom toe nie. Ek was nog nooit ’n reisiger nie, dit is nou as jy nie my en Ma se ewige getrek voor Pa se misdaadrekord uit reis kan noem nie. Ek was in my ganse lewe net uit die dorp uit om ’n nuwe skool te soek waar niemand my storie sou ken nie. Totdat Bennie in my lewe gekom en my aanvaar het sonder om vrae te vra.
Vir hom was die feit dat ek in die prokureur wat sy sake hanteer se kantoor werk, voldoende. Al is ek net die persoonlike assistent.
Nou wag ek dat Bennie my kom haal, want daar is vanoggend ’n vergadering oor die stand van die Kom se erfenisstatus en dit is ’n gulde geleentheid om die Kommers te ontmoet. Teenstribbel, het ek geweet, sou nie help nie.
“Jy moet my mense leer ken en jy moet sien waar ek bly. Daar is niks so goed soos ’n boerevergadering om my mense te leer ken soos wat hulle is nie, veral as ons grond op die agenda is. Op vergaderings oor die bewaring van die omgewing praat ons mense met hulle harte, nie met hulle koppe nie.” Bennie het gegryns en, soos sy gewoonte is, my op die voorkop gesoen.
“Hartlam, jy soek mos ’n roman om te skryf en ek vat jou nou na die storie toe.”
Hoe sê ’n mens nee vir so ’n uitnodiging?
Nou staan ek hier gespanne en wag op die grys bakkie en my hart slaan ’n slag oor toe dit om die draai kom en reg langs my stilhou.
“Is jy reg vir die dag, hartlam? Ek wil die Kommers gaan wys dat ek niks bygelieg het oor my blitsliefde nie.”
Ons ry oos uit die dorp uit, dit voel vir my of ek vir die eerste keer in my lewe gaan ry tot daar waar die son uit die goud uit opkom. Bennie praat nie, asof hy verstaan dat ek eers met myself vrede moet maak. Hy sit net sy hand lig op my regterknie en ons ry die paradys binne.
Ek het nie eens geweet van die skielike oranje rante wat nie so ver buite die dorp uit die grasvlaktes groei nie. Toe ons tussen doringbome insak wat geel sonnetjies blom, weet ek dat die hemel soms aarde toe kom om engele in die skadu’s soos sonbesies te laat sing.
Die growwe grondpad duik tussen koppe in waar klippe soos God se speelgoed rondlê. Om ’n diep draai tussen twee berge hou Bennie stil, sluit die bakkie af en draai die ruit oop. Die oggend ruik na kruie. Voor ons skuif die groot hek agter ’n pilaar van gemesselde klip in.
“Welkom in die Kom, hartlam.”
“Is dit nou die Kom of die Koepel?” vra ek ewe onnosel.
“Die Kom is ’n plaas in die Vredefortkoepel, maar vir ons is dit maar dieselfde.”
“Is dit waar jy woon?”
“Nee, dit is die Kom waar ek grootgeword het en waar die vergadering is. My stukkie Kom is Oorkantkom net anderkant die rivier.”
Ons ry in en ek onthou feitlik elke woord van die artikel oor die impakkrater wat Bennie vir my gegee het om te lees.
“Sal jy lees?” het hy gevra toe hy gisteraand beteuterd die tydskrif na my toe uithou. “Dit is bietjie akademies geskryf.”
“Ek sal lees,” het ek hom verseker. “Jy weet mos ek het van altyd af net een vriend en sy naam is lees – voordat ek jou gehad het, natuurlik,” het ek vinnig bygevoeg toe hy effe verwytend opkyk. “Ek het van kleins af gelees, alles, van weerberig tot Winterbach.” En dit wat ek gelees het, kon ek onthou, wou ek bysê, maar dit kan dalk verwaand klink.
“Is maar net ’n reuseklip wat eeue terug met ’n helse slag die aarde net hier in die maag getref het,” het my Bennie verleë gebrom. “Die Kom is omtrent in die middel van die gat.”
Ek het toe verder gaan lees oor ’n klip en ’n kom wat ontstaan het toe ’n meteoriet, glo so groot soos Tafelberg, die aarde twee duisend twee en twintig miljoen jaar gelede met ’n impak van omtrent veertien op die Richterskaal getref en ’n krater van so sewentien kilometer diep en tussen twee honderd en vier honderd kilometer in deursnit veroorsaak het. Die berge wat jy om jou sien, sê die artikel, is oorblyfsels van die konsentriese golwe wat deur die impak veroorsaak is, amper soos die konsentriese rimpels op water as ’n mens ’n klippie daarin laat val. Die huidige bewaringsgebied van die Koepel is ’n kom wat weerskante van die Vaalrivier lê in die driehoek tussen Parys, Vredefort en Potchefstroom.
“Die Kom is van die Groot Trek se tyd af die Afrikaners se eiendom,” onderbreek Bennie my gedagtes.
“As ek reg gelees het,” borduur ek, “is die Vredefortkoepel reeds in 2005 deur UNESCO as Suid-Afrika se agtste Wêrelderfenisgebied verklaar.”
“Ja,” mor Bennie en skakel die bakkie aan, “maar daar het nog niks van gekom nie omdat ons regering dit nog eers as erfenis moet verklaar.”
“Hoekom doen niemand iets daaraan nie?”
“Dit, hartlam,” verklaar hy en begin stadig aanry, “is waaroor vandag se vergadering gaan.”
Ek leun met my kop teen sy skouer. “Kan ek nie maar net hier uitklim en vir jou wag nie? Dit is so verskriklik mooi.”
“Hulle wag vir die engel wat ek saambring.”
“Presies waarvoor ek bang is.”
“Die vergadering is in dié ou tabakskuur,” beduie Bennie in die rigting van ’n lang, hoë plankgebou toe ons later onder die bome tussen ander bakkies stilhou. “Oorlede Soekie de Wit wou die skuur in ’n gastehuis omskep. Jy sal sien sy het begin verander, vensters ingesit.”
Ek sou veel eerder na die groot, moderne grasdakhuis wat nader aan die rivier is, wou gaan kyk, maar die vergadering is al amper aan die gang en ek word haastig aan die mense voorgestel. Ek weet darem al wie Bennie se ouer broer, Johnie en hulle swaer Grootpiet Sommer is, omdat dié twee ’n paar maande gelede saam met Bennie by ons kantoordeur ingebars en Bennie vir altyd my saai lewe ingestorm het.
Ek word voorgestel. Nie dat ek al die ander Kommers se name sal kan onthou nie, en Bennie moet maar onderlangs vir my fluister wie is wie.
Die saal is nog meer ’n skuur as wat dit ’n gastehuis is, maar ’n mens kan sien dat iemand besig was om die skuur op te knap. Nie dat ek juis weet hoe ’n tabakskuur behoort te lyk nie. Ek is mos maar ’n dorpsmeisie.
Die voorsitter en sy openingsrede oortuig my al daarvan dat dit nie ’n gewone vergadering gaan wees nie, want hier reg voor ons fluister ’n vrou ongeskik vir Johnie, maar hard genoeg vir almal om te hoor dat Afrikaners vandag weer ons erfgrond vir die heidene gaan weggee.
“Martjie, broer Johnie se gade,” fluister Bennie vir my terwyl die voorsitter voortgaan asof hy nie Martjie se opmerking gehoor het nie en die verteenwoordiger van die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye verwelkom, waarop Grootpiet hier voor my vir Johnie in die ribbes pomp en Johnie hardop vra: “Wat soek die man hier, hy is nie ’n grondeienaar nie?”
“Sit,” blaf die sekretaresse, “hy is van die regering.”
“Ons soek nie die regering hier nie,” val Martjie weer in, “hulle wil die boere se grond steel.” Martjie gaan sit toe Grootpiet weer vir Johnie in die sy por en dié op sy beurt sy vrou aan die mou pluk om te gaan sit, en die voorsitter rustig voortgaan, klaarblyklik gewoond aan dié soort onderbreking in ’n vergadering. Ongestoord verduidelik hy dat dit ’n inligtingsvergadering is. Die bestuur se besoek aan die Departement het goed afgeloop en hy kan met goeie hoop berig dat die vroeëre memorandum van ooreenkoms tussen die Minister van Water en Omgewingsake, die Vrystaat en Noordwes se grondeienaarsverenigings en die Bewaringskomitee tans nog geldig is en binnekort geïmplementeer gaan word.
Toe hy die verteenwoordiger van die Departement aan die woord stel, staan ’n deel van die gehoor op en loop uit.
“Wat die onnosele komitee nie weet nie,” fluister Johnie toe hy en Martjie uitloop, “is dat Grootpiet klaar vir ons later die maand ons eie vergadering met die DG gereël het.”
Grootpiet loop nie uit nie, maar bly sit en luister skynbaar aandagtig na wat die regeringsman te sê het. Klap selfs geesdriftig hande toe die man gaan sit.
Die vergadering verdaag genadiglik vir tee.
“Aan wie se kant is Grootpiet nou eintlik?” vra ek vir Bennie toe ons buite kom.
“Jy sal nog leer, hartlam, ’n mens soos Grootpiet het nie ’n kant nie, hang eerder af waar hy dink die wenner is.”
Ons drink tee.
“Ons hoef nie terug te gaan nie, hartlam, ek het genoeg gehoor en ek wil Oorkantkom vir jou gaan wys sodat jy kan sien waar jy eendag dalk saam met my sal kan woon.”
“Kan ons nie net eers na die groot huis daar naby die rivier gaan kyk nie?”
“Ek sal ’n sleutel by die buitehuis daarvoor moet gaan kry, Mara is in die week in die koshuis by die universiteit.”
“Mara?” vra ek.
“Oorlede Abel en Soekie se dogter, Mara de Wit.”
Bennie moes die skok op my gesig gesien het of hy het gehoor hoe my asem ruk. “Ken jy dan vir Mara?”
Ek kry nie dadelik geantwoord nie, want ek weet self nie hoekom ek nie lankal twee en twee bymekaar kon sit nie. Mara, het ek nou eers agtergekom, die mens wat ’n droom nodig gehad het om die werklikheid te kon sien. Dit is tog so eenvoudig: Ons droom die werklikheid weg, of droom ons dit juis terug?
“Ek het Mara de Wit op skool vir ’n kort rukkie geken,” antwoord ek uiteindelik Bennie se vraag en onthou hoe baie Mara van die Kom gepraat het, maar ek het toe nie gedink ek sou ooit self hier uitkom nie. Vir my was dit fiksie, nou is ek hier en ek verwonder my aan die werklikheid.
“Jy wil mos ’n boek skryf,” hoor ek Bennie langs my praat. “Skryf oor ons, hartlam.”
Kom toe
Een
Ons is al op die teer, op pad terug dorp toe, toe Bennie weer die skrywery ophaal en ek lughartig daarop reageer en Leipoldt aspris verkeerd aanhaal: “Ja, neef, wat kan ek, vroumens, jou vertel? Jy wil die storie van julle sterfte hoor? Nou goed! Dis nooit te laat om daarvan nog te leer en van gebruik te maak – veral vir julle, man-mense.”
“As dit nie vir ons gedienstige rebellie was nie,” mymer Bennie, meegevoer deur sy eie idee, “sou niemand seker vandag van ons Afrikaners geweet het nie – van die familie, nie die volk nie. Dit is natuurlik te sê as ons die omgewing – die Kom, nie die wêreld nie – só kan bewaar dat ’n nageslag eendag hoegenaamd nog van ons sal wíl weet.”
Ek ken al die verdere loop van liewe Bennie se gedagtes oor die Kom en sy mense en ek kan ontspan en rustig buitetoe kyk terwyl ek sy denke volg al sê hy dit nie nou weer in woorde nie.
Ouboet Johnie, meen Bennie, beweer weer as dit nie vir ’n paar wysneuse was wat kom verklaar het dat ons gat in die middel van die plat Hoëveld glo veroorsaak is deur ’n gewigtige klip uit die niet nie, sou die blerrie regering vandag nog nie eers van die Kom geweet het nie, asof die Vredefortkoepel vóór die Kom bestaan het.
Ek wat Plakker Prinsloo is, besef skielik dat selfs die naam Koepel, die Wêrelderfenisgebied, vir die Kommers ’n inkommerwoord is wat maar net nie mooi lêplek in hul kollektiewe leksikon kan kry nie. Dis te nuut en dit klink darem alte veel of dit nou skielik almal se plek is. Die waarheid, lyk dit vir my, is as dit nie vir die Kom se mense was nie, was daar vir hulle nie ’n komvandaan nie.
Bennie se stem dring weer tot my deur, maar eintlik is hy net hardop aan die dink.
Vat nou maar, redeneer Bennie by wyse van voorbeeld, iemand soos Pietman Sommer. Pietman se ma, my sus Nonnie, was ’n Afrikaner, een van ons, maar Pietman se pa, Grootpiet, was ’n aankommer.
Die Afrikaners het amper twee eeue gelede glo saam met Hendrik Potgieter se trek van die Kolonie af hier aangekom en ná die slag van Vegkop het ooroupa Jan Afrikaner op die wal van die Vaalrivier sy velskoen dwars gesit, by wyse van spreke natuurlik, en verklaar: “Anders as Noag se duif het ons nou ’n holte vir ons voet gevind.
Die Here het ons met ’n doel hier geplaas.” Oupa Jan wou die onbekende kom tussen die onverwagse berge glo die Holte noem, maar die bakhandgegiggel onder die jonges het hom laat besluit om dit eerder die Kom te doop, en vir ons wat hier woon, is dit vandag nog die Kom, al sê UNESCO wat. Die Afrikaners laat hulle nie gesê nie.
Ek, Plakker Prinsloo, is nie ’n gebore Afrikaner nie, hopelik eendag aangenaai, maar as jy my geskiedenis ken, sal jy verstaan hoekom ek selfs vóór my moontlike troue met Bennie Afrikaner ten volle by die Kom probeer inpas, al is Bennie bietjie ouer as ek. Ek moet aanpas, anders bly ek vir altyd en altyd ’n Prinsloo sonder die liefde, as dit nie vir Grootpiet was nie. Maar dit is ’n storie vir later.
Hier weerskant van die Vaalrivier tussen die konsentriese perongelukberge het ooroupa Jan glo kom staan en ’n burgerplaas wydsbeen oor die rivier in die vier windrigtings vir hom afgestap en by die landdros op sy naam laat aanteken.
Ooroupa Jan moes sy perd ’n bietjie vinniger as stap aangepor het, of die landdros was een van Bennie-hulle se mense, want die oorspronklike Kom was volgens oorlewering by die ses duisend morg. Dieselfde oorlewering wil dit hê dat ooroupa Jan Afrikaner by Vegkop vóór die geveg weggejaag het en by die vrouens gaan skuil het.
Of dit waar is, betwyfel Bennie, want almal weet mos dat as gevolg van familielede, soos Pietman en Johnie en sy Martjie se manewales, kon allerlei mites oor die Afrikaners later soos oggendmis tussen die berge begin ronddryf.
Dit is nie dat iemand soos ou Pietman ooit sleg bedoel nie, maar as ’n mens se begrip nie altyd in pas is met jou goeie bedoelings nie, word selfs die bedoeling om ’n verskil te maak, beskinder. Dit kan ook wees dat Johnie en sy vrou, alsweet Martjie, se aardigheid meer daarmee te make gehad het. Nou nie dat die Sommermanne en Alsweet regte Afrikaners is nie, maar dis waar die skinderbekke hulle bytplek kon kry. Aan die ander kant, met ’n pa soos Grootpiet Sommer is dit ’n uitgemaakte saak dat jy soms dinge verkeerd sal vertolk, veral as jy met so ’n verleë mond soos dié van arme Pietman gestraf is en ook nie geseënd is met ’n joviale, innemende persoonlikheid soos jou pa Grootpiet nie.
Dit is ook nie dat Grootpiet so danig slim is nie. Hy kon glo ook met moeite en goeie notas aan ’n rekkie in sy skoolbaadjie se linkermou destyds darem standerd agt op sy gatvelle deurskraap. Miskien het slim ook nie noodwendig met intelligensie te make nie. Stories wou dit hê dat oupa Piet se aandkuiertjies by Grootpiet se registerjuffrou ook so ’n bietjie kon gehelp het, maar of dit waar is, weet Bennie tot vandag toe nie, want hy het Grootpiet se pa nooit geken nie, en Pietman het nooit oor sy oupa gepraat nie. In elk geval moet ’n mens alles wat Grootpiet kwytraak met ’n slopemmer sout neem.
Soos dat hy glo by die koöperasie op die dorp as ’n dieselwerktuigkundige gekwalifiseer het en later, in sy eie woorde, “onder die tafel deur een van die koöperasie se trokke gekoop het en ’n florerende transportbesigheid opgebou het”. Dan het hy joviaal gegrinnik en met ’n knipoog bygevoeg: “En met ’n bietjie vloeibare onderhandelinge ’n vervoerkontrak by die ou Padvervoerraad losgelieg.”
Eers toe Grootpiet vir sus Nonnie sy bruid maak, vertel Bennie, het ons hom leer ken en agtergekom dat Nonnie hom toe ook nie regtig geken het nie, maar te bang was om vir een van die Afrikaners te sê dat sy swanger geraak het toe sy ná matriek vir ’n paar maande dorp toe is om by die koöperasie te gaan werk terwyl sy op haar uitslae van die her in Engels gewag het.
Toe, het Bennie my later vertel, het sy uit ordentlikheid in die geheim met Grootpiet Sommer getrou, net voor Pietman se geboorte. Dit was te laat vir hulle om haar teen dié olierige mannetjie te waarsku. Hulle moes hom toe maar in die Kom aanvaar toe hy ná Nonnie en Bennie en Johnie se pa, Gert Afrikaner, se dood op sus Nonnie se erfdeeltjie kom boer het. Ryk geboer het. Met wat, weet niemand regtig nie, want Nonnie het aanvanklik glo met hoenders probeer boer terwyl Grootpiet tussen boere op die Hoëveld se mielies diamante laat soek het.
Ja, láát soek het, want Grootpiet se enigste werk is nou nog om ander mense vir hom te laat werk. En dit werk.
“Die hoenders het goed gelê,” het Grootpiet geknipoog en nog ’n rondte brandewyn en Coke vir almal geskink terwyl hy vir homself skoon Coke met ys gooi voordat hy omdraai, sy glas lig en gasvry “tjorts” sê. Agter sy hand sal hy dan hard genoeg vir almal om te hoor praat: “Ou Nonnetjie, ek het darem ’n paar grotes raakgedelf.” Knipoog.
Toe hulle hul oë uitvee, het Grootpiet van die grond om hom begin opkoop, wildheining laat span en glo nuwe geld uit sy wild gemaak. Die deel van die oorspronklike Kom wat hy uitgekoop het, het hy Langsaankom genoem. “Sodat die wêreld kan weet ek het my ryk gewerk, nie ryk geërf nie.”
Dis hoekom Pietman streng gesproke ook nie regtig ’n Afrikaner is nie, maar nogtans deel is van die kom in die perongelukkoppe waardeur die Vaalrivier soos ’n groteske silwer boomslang seil. Die Afrikaners het die Sommers aanvaar ter wille van sus Nonnie Sommer, née Afrikaner, al was dit nie maklik nie.
Maar dit was lank voor Bennie se tyd, en hy moet soms ook op hoorsê staatmaak om die storie van die Kommers geloofwaardig te kan vertel.
Noudat ek mooi daaroor dink, sê Bennie, moet ek erken dat dit ook nie net Grootpiet is wat opgekoop het nie. Hoe moeilik ook al om dit op skrif te erken, moet ek sê dat die Afrikaners in die Kom al hoe minder geword het en deesdae is regte Afrikaners in die Kom so skaars soos groen witstinkhoutblare in die winter.
Daarom, moet selfs my Bennie met ’n swaar hart erken, is dit vandag nie meer net Afrikaners wat in die Kom woon nie, soos Mara de Wit se mense wat op ’n groot deel van die oorspronklike Kom gewoon het en al die grond tussen hulle en Grootpiet uitgekoop het sodat die nuwe Kom en Langsaankom vandag aangrensende wildplase is.
Dit wil darem nie sê dat die res van ons van ellende krepeer nie. ’n Boer maak ’n plan. Party meer en beter as die ander, anders was ons almal dieselfde. Party van ons kon nuwe maniere van boer op die proef stel en op kleiner stukkies Kom selfs meer as net oorleef. Soos my Bennie op Oorkantkom, sy erfdeel aan die ander kant van die rivier.
“Deesdae nie meer die Vaalrivier nie,” gaan Bennie gereeld gal af. “Vuil miskien, ja. Daar is meer drolle as babers in die water en UNESCO sou die plek lankal as wêrelderfenis gedeproklameer het as die paaie net rybaar was. Die enigste olifant in die hele Koepel is die regering se wit olifant van ’n gebarste nuwe inligtingsentrum naby Vredefort.”
“Julle wou mos vir ’n blerrie nuwe regering stem,” verwyt Johnie dan en Martjie sal hom alwetend ondersteun: “Ek sê altyd dis blindesambok omdat julle die Afrikaners verraai het. Die Here gaan julle nog straf met die Chinese virus waarvan ek in my navorsing op Facebook gelees het.”
Dis nou Johnie en Martjie; saam weet dié twee alles en volgens Bennie is daar niks so slim soos ’n dom leek nie.
My Bennie sê elke vorige geslag se patriarg het vir sy eie nageslag die grond versnipper. Nou voel ons ’n bietjie soos plakkers op ons eie grond. Steeds sentimenteel versot op wat vreemdelinge van ons grond laat oorbly het.
Ek stem saam en ek behoort te weet, want ek en my liewe Bennie Afrikaner hou die hele lot dop en ek skryf oor hulle. Wat ek nie geweet het nie, het ek by Bennie gehoor of een van die ander het my vertel. Die Afrikaners van die Kom is goed met ’n storie.
Daarom, my liewe leser, hoef ek nie alles self te vertel nie, maar jy sal, soos ek toe ek die eerste keer in die Kom gekom het, ook deurmekaar raak met wie nou eintlik wie is en hoe dié wat vandag nog hier is, hier beland het. Selfs die regte Afrikaners het nie meer gebly waar hulle aan die begin gebly het nie. Soos my Bennie.
Volgens hom was hulle pa Gert die laaste Afrikaner wat kommersieel op die Kom aan die Noordweskant van die Vaal geboer het. Hy wat Bennie is, boer suid van die rivier darem nog op Oorkantkom en as Johnie nie so onnosel rebels was nie, kon hy natuurlik ook nog op die Kom geboer het.
Die ouer Afrikaners het hulle erfgrond al langs die oewer in repies opgeknip sodat dit vandag net soos fraiings aan ’n handdoek op die wal van die rivier hang met naweekplekkies vir vermoënde plakkers.
Dié wat daar van omgewingsbewaring minder as dadels kom. Te veel kenners sonder kennis wat met ’n mislukte regering oor ’n belangrike saak soos die Vredefortkoepel onderhandel en van bewaring ’n politieke slagspreuk maak.
Met die dood van hulle pa Gert het die drie Afrikanerkinders, dis nou my Bennie, ouboet Johnie en sus Nonnie, elkeen ’n derde van die oorblywende Kom geërf, so amper drie honderd hektaar elk. Johnie die sentrale deel met die ou opstal, Bennie die stuk oorkant die rivier, Oorkantkom aan die Vrystaatkant. Sus Nonnie die stuk anderkant Grootkop, maar sy was toe nog op skool en is eers daarheen toe sy met Grootpiet Sommer getroud is. Eintlik was nie een van hulle al getroud toe pa Gert oorlede is nie.
Dit was eers ná Johnie en Martjie Louw se troue dat Bennie oorgetrek het om permanent op Oorkantkom te gaan woon en Johnie en Martjie in die ou huis ingetrek het. Toe, vertel Bennie, het hy en sy eiesinnige ouboet nog minder as vroeër gestryk, veral met so ’n beterweterige vrou soos alsweet Martjie. “En al waar Martjie Weetals deesdae boer,” kla my liewe Bennie uit gewoonte, “is op Facebook en WhatsApp om haar dag en nag om te kry met fopnuus, flou, vuil en rassistiese grappies wat sy ter wille van haar bietjie gewete afwissel met Bybelversies.”
“Suur druiwe, my lief,” treiter ek hom dan omdat ek weet hy weet dat ek die storie van hom en Martjie en sy broer Johnie en die verlies van die Kom sal neerskryf, miskien darem met ’n bietjie minder bitterheid en so ’n stekie borduursel van my eie.