Uittreksel | In twee geskeur
Een
September 1835
“O, hier’s jy …” Helena loop nader na waar haar verloofde met sy rug teen ’n boom staan. Sy een been is opgetrek teen die stam terwyl hy kepies in ’n stuk biltong sny.
Hy kyk op en sy wenkbroue trek na mekaar terwyl sy donkerbruin oë opsommend oor haar gaan asof sy ’n vreemdeling is, en hy ’n eerste indruk van haar vorm. Belangstelling flikker in sy oë.
’n Gloed stoot in haar wange op en sy steek vas. “Ekskuus, ek dag …”
Hy maak ’n afwerende gebaar met die mes in sy hand en sny die biltong deur. “’n Biltongboekie vir jou?” vra hy en druk homself weg van die boom.
Haar hartklop skiet op. Dit moet Jakob wees. Weet Daniël sy tweelingbroer is terug? Hy het al bekommerd begin raak en gewonder of Jakob iets oorgekom het op sy jagtog. Dink net hoe bly sal hy wees wanneer hy hoor Jakob is betyds terug om hul bruilof môre by te woon.
Jakob se uitgestrekte hand noop haar om nader te gaan, maar sy ernstige oë wat diep in hare kyk, doen vreemde dinge aan haar. Haar hart dawer al hoe vinniger terwyl ’n ongekende opgewondenheid in haar ontwaak; dit is byna asof sy haar lewe lank op hierdie oomblik gewag het.
Jakob se vinger raak aan hare toe sy die stukkie biltong aanvat. Sy aanraking stuur ’n vuurwarm tinteling deur haar. “Dankie,” antwoord sy en kom agter sy is besig om haar asem op te hou. Haar stem is ook buitengewoon skor. Wat moet hy van haar snaakse optrede dink?
Verlig merk sy geen geamuseerdheid by hom nie. Sy adamsappel beweeg net asof hy swaar sluk.
“Voel jy dit ook?”
Haar mond gaan oop om hom te antwoord, maar die woorde dwarrel soos herfsblare deur haar kop.
“Liefling, ek soek jou die wêreld vol om Jakob aan jou voor te stel, en hier het jy hom al die tyd self gekry!”
Helena se hart mis ’n slag en haar kop ruk om.
“Daniël!” Dit neem haar ’n telling of twee om haarself reg te ruk. “Ek het jou ook gesoek ...”
Daniël glimlag breed vir sy tweelingbroer. “Ek het jou gesê sy’s die mooiste nooi in die kontrei.”
Helena kyk op na Jakob. Haar hart klop in haar keel, maar hy lyk ewe ontsteld.
Daniël se glimlag krimp van onbegrip. “Moenie vir my sê niemand het julle nog aan mekaar voorgestel nie?”
“Ek …” Helena se stem krap so erg dat sy eers moet keel skoonmaak. “Ek het nou net hier aangekom en Jakob vir jóú aangesien.”
Daniël lag en pomp sy broer in die sy. “Sy gaan seker nog baie keer daardie foutjie maak. Jy beter net nie saamspeel nie. Sy’s van môre af net myne. Maar laat ek julle nou eers aan mekaar voorstel: Jakob, ontmoet my verloofde, Helena Conradie. Helena, dit is nou my broer waarvan ek jou vertel het wat met ’n roer in die hand gebore is.”
Jakob glimlag, maar die vreugde daarin makeer.
“Helena, ek wens ons het mekaar al eerder ontmoet.”
’n Beklemming span om haar binneste. Hoe wens sy dit ook! Én dat dit lank voor haar en Daniël se ontmoeting was. Is sy totaal verspot? Sy beter die situasie red voor daar ’n misverstand ontstaan. Voor sy egter aan iets gepas kan dink, leun Jakob vorentoe en erken die bekendstelling met ’n beleefde kus.
Wat bloot ’n broederlike kus moet wees, vlam warmer as Daniël se vurigste liefkosing deur haar; seker omdat Jakob se lippe ’n oomblik te lank en innig op hare rus. Haar wange is twee kole vuur toe hy terugstaan, haar tong plak aan haar verhemelte vas en haar brein haak op ’n enkele woord vas, naamlik: Jakob.
Dit is ook al wat sy uiteindelik uitkry.
Daniël kyk om toe ’n akkordeon in die verte opklink.
“Kom, dit klink of hulle gaan begin dans.”
Jakob sny ’n nuwe kepie in die stuk biltong. “Gaan julle gerus. Ek is moeg en nie lus vir die joligheid nie.”
Daniël knik. “Ek kan glo jy’s kapot van heeldag in die saal sit. Dan sien ek jou later by die wa?” Sonder om op sy broer se antwoord te wag, bied hy sy arm aan vir Helena.
Ná ’n paar tree kyk sy om. Jakob skeur ’n bladsy van die biltong met sy tande af en glimlag skrams, sy oë somber. Sy kyk vinnig terug en byt self ’n stukkie biltong af, maar sukkel om dit afgesluk te kry. Wat gaan aan met haar? Miskien is sy net senuweeagtig oor haar troudag môre.
Daniël kan Helena net ’n uitgerekte oomblik in sy arms vashou. Sy nagsêsoen moet ook kort wees. ’n Vryery sal nie tussen die waens wat vir die nagmaal op die kerkterrein uitgespan is, deug nie. “Wel te ruste, my liefling. Dis ons laaste aand alleen, maar môreaand kan jy in my arms slaap.”
Helena glimlag werktuiglik, maar haar keel trek toe. Sy weet dit is nie omdat sy nié in sy arms wil slaap nie. Dit gaan eerder oor daardie deel in Genesis wat sê dat ’n man en vrou een vlees sal word. Salomo skryf in Hooglied in skokkende besonderhede daaroor. Nie dat vader Piet ooit dááruit boekevat nie. Sy het dié boek skelm in die Statenbijbel gaan lees.
Haar wange begin sommer brand toe sy die een gedeelte herroep: Deze uw lengte is te vergelijken bij een palmboom, en uw borsten bij druiventrossen. Ik zeide: Ik zal op den palmboom klimmen, Ik zal zijn takken grijpen …
Met mag en mening dwing sy dit uit haar kop en mompel: “Nag, Lief,” en glip by die tent in wat vader Piet en Dawid vir haar opgeslaan het. Haar veertienjarige broer kap dit nog uit op die dansbaan, maar hulle deel nie meer ’n tent soos toe hulle jonger was nie. Deesdae moet hy kooi maak onder die wa; haar ouers slaap binne-in.
’n Lang ruk moet sy eers diep asemhaal om haar ewewig te herwin. Sy kyk besluiteloos na die matras op die vloer. Hulle het Jakob nog nie weer met ’n oog gesien nie, maar hy moet al so uit soos ’n kers wees. Dit is ook tyd vir haar om in die kooi te kom, maar sy weet die slaap sal haar ontwyk. Wat vroeër tussen hulle gebeur het, kan sy maar net nie vergeet nie.
Hoekom? Dit maak glad nie sin nie. Die twee broers lyk eenders. Hoe op dees aarde kan sy dan so ’n sterk aantrekkingskrag tot die een hê? Hul oë verskil. Jakob s’n kyk tot diep in haar siel en woel ongekende dinge in haar los – sóndige dinge.
Die saak moet reggestel word voordat sy môre met Daniël trou, anders gaan dit haar altyd skuldig laat voel. Sy het ook vanaand heeltyd aan Jakob gedink terwyl sy met Daniël gedans het en dit hoort nie só nie.
Helena loer by die tent uit. Gelukkig het Daniël reeds tussen die ander waens verdwyn. Haar voete kies vanself koers na die boom waar sy Jakob laas gesien het. Wat maak haar so seker daarvan dat sy hom daar sal vind? Hy het gesê hy’s moeg en moet al slaap. Nogtans draai sy nie om, of verander van koers na hul staanplek nie.
Helena trek haar asem in toe sy ’n paar tree van die boom af kom en die swart silhoeët van ’n man kan uitmaak. Sy gaan staan. “Wie’s daar?”
“Kom maar nader. Ek het vir jou gewag.”
Al het sy Jakob se stem verwag, of eerder daarop gehoop, kom dit nog steeds as ’n skok vir haar. “Ons moet oor vanmiddag praat.”
“Ek weet. Praat net sagter en kom nader.” Dit is dalk nie ’n goeie idee nie. Iemand kan hulle egter hoor as hulle so hard moet gesels. Watse verduideliking sal sy ook kan gee as Daniël agterna ’n voëltjie hoor fluit oor dié nagtelike ontmoeting met sy broer?
Asof sy besig is met kattekwaad, gaan sy op haar tone nader. Sy gaan staan langs hom en asem diep in. “Jakob, oor vanmiddag …”
Rustig kyk hy op na die maan. “Daar was nogal ’n interessante man in ons jaggeselskap. Schalk-Willem Dijkstra. Hy het vertel sy sustertjie was kleintyd erg behep met die maan. Sy het vas geglo daar was ’n hasie op die maan en sou dan in die middel van die nag opstaan om daarna te kyk. Maar sy moes dit in die geheim doen, want die slavin wat haar opgepas het, het weer geglo die maan sou haar toor as sy daarna bly kyk.”
Helena sug. Sy het nie gekom om stories te hoor nie. Tog is sy teen haar sin geprikkel. “En toe?”
“Een nag toe sy weer opstaan om na die maan te gaan kyk, was dit sekelmaan soos vanaand. Sy het gedink Schalk-Willem het die hasie geskiet – dié dat daar ’n gat in was – en was hewig ontsteld daaroor tot haar grootvader haar reggehelp het.”
Helena glimlag teensinnig, versober toe. “Jakob …”
Sy blik keer na haar. “Moenie dit probeer afmaak asof dit niks was nie.”
“Maar dis verspot!”
“As dit só was, het jy nie nou hier gestaan nie.”
“Dis omdat ek wil seker maak daar is nie ’n misverstand tussen ons nie.”
Hy draai haar na hom. Dit is nie om iets dringends vir haar te sê soos sy gedink het nie. Sy arms gaan om haar en sy is nie in staat om te retireer nie. Haar oë gaan ook met ’n wil van hul eie toe terwyl haar mond effens oopgaan.
Dit is ’n byna heilige oomblik toe hulle lippe ontmoet. Saligheid golf deur haar en sy mond gaan oop oor hare. Sy is net vaagweg bewus daarvan dat sy kreun.
Die bloed begin deur haar are bruis. Begeerte kolk al hoe hewiger in haar.
Jakob maak die drie boonste knopies van haar tabberd los. As vader Piet hom nóú vang, slaan hy hom dood. Sy moet hom wegstamp, maar alles in haar smeek vir net ’n bietjie meer. Sy lippe gly teen haar keel af tot amper in die kloof wat haar borste maak. Dit punt soos twee bergspitse en laat haar asem hortend kom.
Dit is net ’n mot wat reguit na ’n kersvlam vlieg. Haar goeie naam is op die spel. Sy moet dit stop voor dit te laat is én iemand hulle vang. Net nog ’n oomblik …
Sy sal nou …
Jakob herwin eerste sy selfbeheersing, staan uitasem terug en sit sy hande dringend op haar skouers. “Helena, jy kan nie môre met Daniël trou nie. Ek sal met hom gaan praat.”
Nugtere rede breek stadig deur die mistigheid in haar kop tot die wete eensklaps helder skyn. “Nee! Ek kan dit nie aan hom doen nie.”
Hy sug. “Ek weet die tydsberekening kan nie slegter wees nie, maar die stories sal mettertyd oorwaai. Ek glo ook my broer sal dit later aanvaar, al gaan dit nie vir hom maklik wees nie.”
Haar kop gaan wild heen en weer. “Nee! Ons kan nie.”
Sy vingers verstewig op haar skouers. “As ons dit nie nóú doen nie, gaan ons dit die res van ons lewe berou. En moenie my vertel jy voel anders oor my as ek oor jou nie?”
“Een aand se waansin beteken nie ons het mekaar onsterflik lief nie!”
Haar stem klim en hy wys sy moet sagter praat. Toe trek hy sy asem hoorbaar in. “Helena, as iemand my voor vandag gevra het of ek aan liefde met die eerste oogopslag glo, sou ek dit as die grootste onsin afgemaak het. Maar toe ek die eerste keer in jou oë kyk … My siel het jou dadelik herken as daardie deel van my wat ek nie eens geweet het ek kortkom nie.”
Haar asemhaling raak al hoe swaarder. Is dit die verklaring vir wat vroeër tussen hulle gebeur het? Sy sluk en lig haar ken. “Ek kan nie op my woord teruggaan nie, Jakob. Ons moet die regte ding doen en ek sal daarby staan.”
“Dis edel van jou en dit was ook mý eerste reaksie, maar dit gaan nie die probleem oplos nie.”
“Ek dink weer ons het nie ’n keuse nie; jý as Daniël se geliefde broer behoort dit tog te besef ...”
“Kragtie, Helena. Jy gaan aan asof ek nie vir hom omgee nie, maar dis juis omdat ek vir hom omgee dat ek nou wil ingryp voor dit te laat is. Of dink jy regtig ons sal ons gevoelens vir mekaar kan wegsteek? Dit kan hom as man ruïneer.”
Haar kop gaan heen en weer. “Wat vanaand tussen ons gebeur het, is niks anders as wellus nie. Ek weet nie wat my besiel het nie, maar dit sal nie weer gebeur nie.”
Toe haar blik voor syne sak, lig hy haar ken en dwing haar om hom weer in die oë te kyk. “Is dit wat jy werklik wil hê?”
Natuurlik is dit! Sy is net uitermate gespanne oor die bruilof en hul huweliksnag wat voorlê. Jakob het haar op ’n slegte tyd gevang en sy is nie haarself nie. “Ja, en ek wil asseblief nooit weer hieroor praat nie. Ek is van môre af jou skoonsuster en ek wil hê jy moet my as sodanig hanteer en respekteer.”
Sy hande val terug langs sy sye en ’n lang ruk kan hy haar net oorbluf aankyk. “In daardie geval moet julle my asseblief môre by jul bruilof verskoon.”
Toe hy omdraai en wegloop, roep sy uit: “Waar gaan jy?” Sy en Daniël se staanplek is anderkant toe.
“Terug na Springbokfontein,” antwoord hy oor sy skouer.
“Maar jy kan nie ons bruilof misloop nie! Daniël sal vreeslik teleurgesteld wees en wat gaan ek vir hom sê?”
Hy haal sy skouers op. “Die waarheid?”
“Jakob de Vries! Jy durf my nie alleen met die mandjie patats los nie.”
Hy swaai om, maar kom staan nie voor haar nie; hy loop verby haar in die rigting van die waens.
Helena gryp sy arm. “Waar gaan jy nou?”
“Met Daniël praat,” antwoord hy droog en gaan staan.
“Maar jy kan nie! Jakob, asseblief, ek smeek jou.”
Met ’n sug draai hy om. “Dan laat ek dit nou in jou hande. Nag, Helena.”
Hoendervleis slaan op haar arms uit toe hy sy arm wegtrek en verby haar loop.
Onverwags steek hy vas en kyk om. “Jy het tot môreoggend elfuur om te besin. Onthou, ’n leeftyd sonder mekaar kan nimmereindigend lank raak. Die keuse is joune.”