Skip to main content

Uittreksel | In die hart van Lente

Een

Lente kyk vinnig in haar truspieëltjie om seker te maak haar helderpienk lipstiffie het nie gesmeer nie. Sy is veronderstel om haar niggie vir middagete te ontmoet, maar is effens laat. Sy druk haar hare agter haar oor in, druk die motordeur oop en klim haastig uit. Sy maak seker haar deur is gesluit en drafstap by die sypaadjie op in die koffiewinkel se rigting.

Die winkel is tjokkenblok. Hopelik is Anneke al hier en kon vir hulle ’n tafel kry. Lente lig haar op haar tone om oor die mense te sien. ’n Wuiwende arm trek haar aandag en sy sien Anneke by ’n tafel in die hoek. Sy slaak ’n sug van verligting en kom in beweging.

“Lente?!”

’n Bekende stem uit haar verre verlede ruk haar tot stilstand. Sy voel hoe haar maag op ’n knop trek en haal diep asem voordat sy omdraai.

Stander Gerber staan skaars ’n tree van haar af. Daar is fyn kepies om sy oë. Die jare het hom goed gedoen. Hy is nog net so aantreklik, eintlik aantrekliker, as toe sy hom laas gesien het. Lente besef sy staar met ’n mond vol tande na hom en glimlag styf.

“Hallo, Stander.”

Die ongemaklikheid tussen hulle is tasbaar. Hy verskuif sy gewig van een been na die ander. Sy voel sy beweging en kyk hom stip op en af. Dit lyk asof hy meer tyd aan fisieke oefening begin spandeer het.

Sy oë volg die lyne van haar nek tot presies daar waar die letsel gewoonlik sigbaar is. Haar rok is ’n halternek en slegs ’n klein gedeelte steek uit bo die blompatroon. Lente voel selfbewus onder sy blik en vat werktuiglik daaraan. Dit voel asof die wêreld begin stilstaan. Haar hart klop in haar ore. Sy moet iets doen om die atmosfeer ligter te maak.

“Hoe gaan dit met jou, Stander? Ons het mekaar jare laas gesien. Is jy terug in die land?”

Sy rammel die vrae af. Haar woorde klink ietwat banaal, in ag genome hoe goed hulle mekaar ken. Haar hande beduie wild.

Stander se gesig bly uitdrukkingloos. Sy oë bly vasgenael op haar hand soos sy beduie en sy volg sy oë na die ring wat aan haar vinger pryk. ’n Oomblik lank veg sy teen die begeerte om haar hand in haar rok se sak te druk. Sy kyk na hom. Net vir oomblik sluit hul oë in mekaar.

“Jy is verloof.”

Dis nie ’n vraag nie, maar ’n stelling. Die klank in sy stem is amper beskuldigend en sy frons onwillekeurig.

“Ja.”

Ná al die jare is dit die eerste woorde wat hy vir haar sê. Die laaste keer wat hulle gepraat het, is wel in haar brein ingeëts. Dit het ’n groter letsel gelaat as die letsel van die veiligheidsgordel wat sigbaar is oor haar nek. Daarna het sy hom nie weer gesien nie, nooit weer van hom gehoor nie. Hy was net weg. Sonder verduideliking, sonder ’n verskoning of groet. Later het sy uitgevind hy’s landuit.

“Die lewe moet aangaan.”

Sy weet nie hoekom sy dit sê nie. Hoekom voel sy dat sy haar verhoudingstatus aan hom moet verduidelik? Die pyn wat oor sy gesig flits, dui op die emosionele las wat hy skynbaar steeds met hom saamdra. Hy verbreek egter nie die stilte nie.

Lente haal diep asem. So kan dit nie aangaan nie. Sy is nie meer vars uit die universiteit nie, sy weet immers nou al hoe om byna enige situasie met grasie te hanteer.

“So, ek neem aan jy is terug in Suid-Afrika as jy nou hier is?”

Sy wil haarself skop. Haar opmerking is so logies dat dit nie regtig ’n reaksie vereis nie. Dit is soos om vir iemand te vra of hulle koud kry wanneer hulle hoendervleis het. Sy hoop Stander doen minstens die moeite om haar te antwoord.

“Ek is, ja. Aan wie is jy verloof?”

Is dit die antwoord wat hy gaan gee? Sy is sommer lus en klap haar tong. Hy kyk oor haar kop na binne. Indien hy ’n gebrek aan belangstelling probeer veins, is hy besig om te faal. Sy wens sy kan kom toesnou dat dit nie iemand is wat hy ken nie, maar ongelukkig is geluk nie aan haar kant nie. Sy sluk, want haar keel voel skielik baie droog.

“Herman Pretorius.”

Hy ruk amper sy nek af. Hy kyk deurdringend, amper smekend na haar.

“Sê asseblief vir my dis nié Herman van ons universiteitsdae nie, maar iemand wat toevallig dieselfde naam en van het?”

Stander en Herman kon nog nooit langs dieselfde vuur sit nie. Uitdrukkingloos kyk sy hom aan.

“Dis dieselfde Herman.”

“Regtig, Lente?”

Sy kan aan sy stemtoon hoor dat hy ontevrede is en sien hoe sy mond oopgaan om verder te praat. Lente rek haar uit tot haar volle lengte. Hy moenie dink hy’t die reg om hom oor haar verloofde uit te spreek nie.

“Ja, regtig. Is jý al verloof, getroud of dalk geskei?”

Haar stemtoon is soet, maar sy maak seker hy weet sy bedoel om bitsig te wees. Hy kyk vlugtig weg en weer na haar.

“Nee.”

Lente is lus en skud hom. Nee, wat? Watter een is nee? Duidelik het die baie jare in die buiteland sy Afrikaanse woordeskat soos mis voor die son laat verdwyn. Sy wil hom net vra watter een nee is, toe hy skielik nader aan haar beweeg. Sy staan asof versteen.

“Jy is net so mooi soos die laaste keer wat ek jou gesien het.”

Lente voel ’n krieweling langs haar ruggraat af. Dit is die teken vir haar. Sy kyk oor haar skouer, asof iemand haar aandag trek.

“Dit was lekker om jou te sien, Stander. Jy moet my egter verskoon, maar Anneke wag vir my.”

Dit lyk of hy haar gaan keer, maar sy gee hom nie ’n kans nie. Lente draai rats om en steek haar hand in haar rok se sak. Sy trek haar handsak stywer teen haar vas.


“O, wow! Jy’t ’n rok met sakke aan. Ek is mal oor daardie modegier. Baie modieus.”

Lente gaan sit oorkant haar niggie en wurg ’n glimlag uit. Anneke haal ’n oomblik asem en spring dan weer weg.

“Ek oefen my Afrikaanse woordeskat. Soos jy kan hoor. Met wie het jy gesels?”

Anneke se dwaal na die deur, maar Lente hou haar oë met mening op haar nig gerig. Sy wil nie omkyk nie, want sy’s nie seker sy wil weet of Stander nog daar staan of reeds weer weg is nie.

“Jy weet wie dit is,” antwoord sy.

Haar woorde is harder as wat sy bedoel het en Anneke frons oor haar bruuske antwoord.

“Ek kon nie deur al die mense sien nie.”

Lente wil nie eens sy naam hardop sê nie. “Dit was . . . Stander.”

“Stander Gerber? Van universiteit?”

Lente knik en tel die spyskaart op.

Anneke skud haar kop ongelowig. “Hoeveel jaar is dit nou?”

“Duidelik nie genoeg nie.”

Lente kyk na haar bewende hande en plaas hulle palm na onder op die tafel. Ondersoekend kyk Anneke na haar. Sy sê egter nie ’n woord nie. Die niggies ken mekaar goed genoeg om te weet wanneer om nie uit te vra nie. Lente haal stadig asem. Haar hart klop steeds benoud in haar keel.

“Ek dog hy’s landuit?”

Anneke kyk na die deur en dan vraend na haar. Lente trek haar skouers op.

“Ek het ook so gedink. Dit lyk my hy’s terug, want hy was so pas ’n tree van my af in ons koffiewinkel.”

“Wanneer laas het jy hom gesien?”

Sy kan hoor Anneke brand om uit te vra, maar sy probeer haar inhou. Lente gee ’n dramatiese sug.

“Die aand van jou ouers se dertigste huweliksherdenking.”

Anneke trek haar asem skerp in. “Dis sowat agt jaar gelede! Onthou jy letterlik dag en datum?”

Lente knik stadig. “Ek onthou dag, datum, hoe die naglug gevoel het, wat ons aangehad en hoe hy geruik het.”

Anneke rek haar oë groot. “Ten minste het jy al vergeet wat julle geëet het.”

Sy grinnik. Los dit vir Anneke om enige situasie ligter te maak.

“Wat het hy nou te sê gehad?”

Lente gooi haar hande in die lug en skiet amper die beker koffie van die tafel af.

“Niks. Absoluut niks. Al wat hy opgemerk het, is dat ek verloof is. Kan jy dit glo, ná soveel jare is dit al wat hy sê?”

Sy is sommer verontwaardig en ’n nuwe vuur vlam in haar op. Anneke lig haar skouers.

“Hy is oplettend. Ons kan dit vir hom gee. Die meeste mans sou nie so ’n piepklein diamant aan iemand se vinger opgemerk het nie.”

Lente klap haar tong. Anneke is glad nie beïndruk met die ring wat Herman vir haar gegee het nie. Sy het al verskeie kere gesê dat dit nie die grootte van die diamant is wat saak maak nie, maar die liefde waarmee dit gegee word. Anneke het haar minagtend aangekyk. Miskien sal sy verstaan wanneer sy iemand spesiaal ontmoet. Lente frons. Iemand spesiaal. Is spesiaal genoeg? Wat van liefde? Wat van sielsgenote?

Sy skud haar kop. Dit is iets waarin jong meisies glo danksy feëverhale en films. Dis nie die realiteit van die moderne lewe nie. Sy is lief vir Herman. Hulle is baie goeie vriende en ken mekaar al jare.

“Die man is steeds deksels aantreklik.”

Lente boog haar wenkbroue en haar mond tuit. “Ek dog jy kon nie deur al die mense sien nie...”

Anneke rek haar oë. “Ek kon nie sien wie dit is nie, maar wel hoe aantreklik die man is. Jy kan nie stry nie.”

Lente weet sy kan nie met haar niggie se opmerking stry nie. Jare gelede het sy gedink Stander Gerber is een van die mooiste mans wat sy nog ooit teëgekom het. Nou met die jare wat kepies om sy mooi oë gevorm het, is hy nog steeds ’n aantreklike man. Sy glimlag.

“Ek kan nie stry nie.”

Anneke glimlag triomfantlik. “Ek dink nie jy hoef te veel oor hom te tob nie. Hy is immers na ’n bankrower vernoem.”

Anneke se stem ruk haar terug na die hede. Lente kyk eers geskok na haar, en toe bars sy uit van die lag. Sy skud haar kop toe die lagbui uiteindelik bedaar.

“Hy’s nie na ’n bankrower vernoem nie, dis ’n familienaam.”

“Dan is die familie na die bankrower vernoem.”

Ongeërg lig Anneke haar skouers, asof sy nie anders oortuig sal kan word nie. Lente kan nie help om te giggel nie. Hulle geniet hulle koffie in stilte. Verlangend kyk Lente in die deur se rigting.

“Ek wens ek kon hom . . . Nee, toemaar. Ons het baie om te doen en te min tyd.”

Anneke leun oor die tafel. “Wat wens jy? Jy weet jy kan my enigiets vertel. Wat ons vir mekaar sê, bly altyd tussen ons.”

Lente weet sy kan haar niggie met haar lewe vertrou. Haar woorde is gedemp.

“Ek wens ek kon hom net een keer weer sien en vra wat gebeur het.”

Haar woorde vervaag in die lawaai van die besige koffiewinkel. Anneke kyk stil na haar. Lente glimlag.

“Dit is sommer ’n lawwe gedagte uit die verlede. Kom ons begin. Daar is meer lysies om deur te werk as ure in die dag.”

Anneke vang haar skimp, en trek haar tablet nader. “Waar begin ons?”

Lente is verlig dat haar niggie nie aanhou karring nie. Sy haal haar foon uit haar handsak en aktiveer die app wat help met bruilofsbeplanning, maar skielik is haar opgewondenheid oor die troue effens gedemp. Sy probeer dit afskud en plak ’n groot glimlag op haar gesig. Anneke loer onderlangs na haar, maar sê nie soos gebruiklik wat sy dink nie.