Skip to main content

Uittreksel | Ierse onthou

Een

“Laaste aankondiging vir Vlug 307!” weergalm die blikkerige stem oor die luidsprekers. Kate hoor dit, maar registreer nie regtig die woorde nie. Die vlieg­tuigkaartjie frommel al effens soos sy dit in haar hande vasklem terwyl sy verlore voor haar uitstaar.

“Ek klink nou seker oornuuskierig, maar as ek dit nie mis het nie, is dit jou vlug wat hulle daar af­kondig.” Die tannie langs haar raak saggies aan haar skouer. Kate se wenkbroue lig vraend terwyl sy na die geplooide gesig staar.

“Die nommer op jou kaartjie. Ek’s seker dis die vlug wat hulle afkondig. Roer jou, anders verpas jy jou vlug en met die vliegtuigkaartjies se pryse dees­dae kan jy regtig nie bekostig om geld sommerso in die water te gooi nie.” Die tannie se pienk lippe trek op ’n plooi. Dan tref dit Kate soos ’n hamerhou tus­sen die oë. Haar vlug! Die een wat sy twee uur tevore inderhaas bespreek het. Hopelik het sy alles onthou wat sy nodig gaan kry; anders maar daar koop. Sy het nog nooit binne twintig minute ’n tas gepak nie, nie eens ’n naweektas nie. Dan weet sy ook nie of sy regtig genoeg geld gaan hê vir hierdie impulsiewe vakansie nie, maar as jou lewe vir die soveelste keer uitmekaar val, maak spaargeld seker nie regtig saak nie.

“Dankie!” skree sy vinnig oor haar skouer vir die tannie toe sy haar handbagasie oor haar skouer gooi.

“Regte blond,” mompel die tannie voordat sy weer haar boek oopmaak.

Gelukkig vir haar is Kate haastig op pad na die regte terminaal, anders het sy dalk iets leliks terug­geantwoord. Sy verpes blondinestigmas. Terwyl sy saam met die res van die passasiers die ysterdoolhof na die vliegtuig aanpak, weet sy intuïtief dat sy hier moet wees, op hierdie spesifieke oomblik. Sy gooi haar bos natuurlike blonde hare oor haar skouer en trek haar skouers terug. Totsiens, Suid-Afrika met mans wat dink vrouens is woer-woers met geen gevoelens nie. Partykeer is mans regtig net diere met twee bene.

Dirk kan gaan doppies blaas! Eintlik kan sy “good riddance to bad rubbish” byvoeg. Eers vir haar kom vertel sy’s te maer na sy smaak, dat sy ’n sterk per­soonlikheid het en dat hy voel sy oordonder hom. ’n Lorrievrag bene met ’n groot kop. Dit was sy presiese woorde. As hy dan meer vatplek en meer van ’n ja-tannie wil hê, moet hy maar vir hom iemand anders gaan soek. Miskien is dit net omdat hy ’n bra verveli­ge mannetjie is, met ’n vervelige werk en ’n vervelige kar.

Maar om by haar kantoor ingestap te kom ná hulle finaal uitmekaar is, die deur te sluit, haar hardhandig teen ’n lessenaar vas te stamp en iets op te eis wat sy hom nooit gegun het nie, is bar­baars. Eers toe haar bloes se knope spat, het sy be­sef wat werklik aangaan. Gelukkig weet sy presies waar sy sogenaamde kroonjuwele sit en het dit ’n harde hou van haar knie geverg om sy seekathande te laat slap word.

Met ’n koue sweet wat oor haar gesig uitgeslaan het, het sy gemaak dat sy wegkom. Die angs het heeldag in haar keel bly klop. Toe sy hom daaroor kon­fronteer, het hy net gemaan dat hulle in elk geval uit­gegaan het, so wie gaan haar glo? Wat haar ooit be­siel het om by hom betrokke te raak, weet sy ook nie.

Toe kom die houe, met die laaste een die ergste. Omrede hy haar nie uit haar rok kon kry nie, het hy hom daarop toegespits om haar uit die maatskappy te werk. Onder andere het hy aan haar baas vertel dat sy die een is wat vertroulike inligting aan die kompe­tisie uitgeblaker het en sodoende die firma een van die belangrikste kliënte gekos het. Dit net omdat hy geweet het dat sy die bevordering bo hom gaan kry.

Dit is ook nie asof meneer Bruwer probeer het om na haar kant van die storie te luister nie. Hy het nie eens ondersoek ingestel nie, net die stories wat Dirk vir hom opgedis het, blindelings geglo, en haar klag van teistering in haar gesig afgelag terwyl sy oë soos ’n roofdier s’n oor haar bene onder die sny­erspakkie gedwaal het.

Nog een van die diere wat nooit vrouens as hul gelyke sal beskou nie.

Kate het geweet sy sal die aftog moet blaas. Hoekom sal sy vyf jaar van haar lewe vir die firma gee en dan só iets aanvang? Toe Dirk die storie van die poging tot aanranding hoor, het hy dit omgedraai en gesê dit is sy wat hom bespring het en nie andersom nie. Volgens hom kon sy nie die verkrummeling van hul verhouding hanteer nie en natuurlik het sy hom begin agtervolg en geteister. Die vervelige Dirk het toe wraggies ’n helse verbeelding en natuurlik word vervelige Dirk geglo.

Die kortstondige verhouding waarin hul was, was sekerlik die grootste, mees patetiese flater van haar lewe. Eintlik was dit iets om haar in die aande minder alleen te laat voel met hier en daar ’n pik­soen wat nooit iets in haar geroer het nie. Kate won­der hoe lank hy aan die storie moes dink. Nou sit hy op sy bevorderde troon en maak asof hy dit verdien.

Sonder dat sy dit besef het, is sy amper by haar sitplek. Sy gee een harde onvroulike snork. Die man wat langs haar staan, kyk gesteurd op en die ruspes bo sy oë reik na waar sy haarlyn veronderstel is om te wees. Kate snork aspris weer. Hierdie keer harder en morsiger as die vorige keer. Dit laat die man sum­mier na haar draai.

“Probleem, juffie?” Natuurlik. Maar moenie spe­siaal voel nie, dit is eintlik so met elke liewe mansmens op die planeet. Die frons op sy voorkop ver­diep, wat die ruspes op en af laat spring en dan forseer hy sy handbagasie in die enigste ruimte in wat nog bo haar kop beskikbaar is.

“Haai, jy kan nie jou bagasie in my plek prop nie.” Twee harige arms verskyn bo haar kop. Die skielike walm sweet wat haar in die gesig tref, laat haar instinktief agtertoe tree. Verdomde mans­mens. Die arms hou nie op met hul taak nie en hy lig sowaar ’n derde tas op om dit in die kompartement bo haar kop in te druk. Hoeveel bagasie het hy dan?

“Sover ek weet is daardie plek vir almal in hierdie ry beskikbaar. So, sit maar neer daardie tas en gee pad sodat ek my piepklein tas daar kan indruk voor jy alles vir jouself inpalm. Ons gaan mos nie selfsug­tig wees nie, gaan ons?” Iewers naby haar hoor sy ’n proeslag, maar dit kan Kate glad nie skeel nie. Mans gaan nie meer oor haar loop nie. Sy strek haar tot haar volle een komma ses meter uit.

Vinnig skuif sy haar bagasie tot op die plek waar sy tevrede is. Dan kyk sy hom reg in die oë, glimlag liefies en laat gly haar blik krities oor hom. Iets wat hy verpes. Dit kan sy sien aan die vat-vat aan sy oor­lel. Die ouderdom was hom ook nie eintlik geneë as sy hom so bekyk nie. Dit wys die maag wat oor die leergordel hang en die sweetlagie wat op sy voorkop blink. Die kaal kol op sy kop keep heelwat dieper as wat daar van sy ouderdom verwag word. Net jammer hy kan nie van sy armhare na sy kop verplant nie. Kate onderdruk ’n giggel en skuif in die sitplekke oor tot sy die een langs die venster inneem.

“Juffie, jy sit in my sitplek,” maak die man beswaar.

“Vir jou drie tasse is dit jou verdiende loon.” Sy gee hom ’n moordende kyk en skuif nie ’n aks nie.

“Vroumense,” hoor sy hom onderlangs brom, maar maak asof sy niks hoor nie.

Dit is amper heeltemal donker en die rye liggies maak haar skielik rustig. Meneer Hagar neem die sit­plek naaste aan die paadjie in en los sodoende een oop tussen hulle. Ook net haar geluk dat sy die vol­gende tien uur saam met hierdie bombastiese mans­mens vasgekeer sal sit, maar genadiglik lyk dit nie of daar nog ’n passasier tussen hulle gaan plaasneem nie.

Die lugwaardin maan almal om hul veiligheids­gordels vas te maak en dan skielik beweeg die lig­gies al hoe vinniger by haar verby tot dit doer in die niet agterbly terwyl die Boeing al hoe hoër styg. Ier­land, hier kom ek. Sy wou nog altyd gaan en toe die portier haar vra waarheen sy wou gaan, was dit die eerste woord wat oor haar lippe gekom het. Hoe sy op die lughawe beland het, weet sy nie, maar sy wou doodeenvoudig net wegkom uit die Kaap na waar niemand haar gou sal kan opspoor nie. Daar was nie eens iemand belangriks om te laat weet dat sy landuit gaan nie; haar ouers is lankal weg en sy het geen sibbe nie. Gelukkig is haar visum vir Ier­land steeds geldig nadat die beoogde reis daarheen ’n paar maande gelede nooit gerealiseer het nie weens die werk waarmee Dirk haar toegegooi het. Anders was Sun City seker haar voorland.

“Iets om te drink?” Die lugwaardin stoot raserig ’n trollie nader. Natuurlik antwoord Hagar eerste. “Whiskey en soda.” Die lugwaardin kyk na haar.

“Whiskey en soda, maar maak dit asseblief ’n dubbel.”

Hagar se ruspes skiet dadelik die hoogte in. “Jy raak nie naar nie, gehoor.”

“Al wat jy sal hoor, is my ysblokkies wat met my drankie kennis maak.”

Hagar se mondhoeke beweeg afwaarts en sy hoor hom onderlangs brom, maar verder los hy haar uit. Weer klink daar ’n lag iewers naby op. Kate probeer haar nek draai om te sien wie dit is, maar sy kan niks sien nie. Die brunet skuif haar glasie eerste oor en knipoog skalks voordat sy Hagar bedien.

Stadig skuif Kate terug in haar sitplek. Of dit die drankie is, of dalk net die ritmiese suising van die vliegtuig, weet sy nie, maar ’n geluksaligheid vul haar. Sy is werkloos, ’n bietjie rigtingloos en of sy dit nou wil erken of nie, die beste is dat sy uiteinde­lik manloos is.

“Jy wil nie dalk sitplekke ruil nie? Vrouens gaan mos baie badkamer toe en dan hoef jy my nie heel­tyd te pla nie.” Hagar krap in sy oor terwyl hy oor die oop sitplek leun. Kan hy haar nie net uitlos nie?

“Ag, weet jy, die uitsig is baie beter van hier af, dankie.”

Haar glimlag bereik nie haar oë nie. Hy gee ’n snork en bepaal hom weer by die tydskrif met ’n bloedrooi motorfabrikaat voorop. Weer hoor sy die grinnik van vroeër. Dit moet seker iemand wees wat ’n ry agter hulle sit en die gesprek gevolg het. Anders lag die persoon toevallig elke keer as sy en Hagar gesels. In ’n vliegtuig is daar nie regtig iets soos persoonlike ruimte nie.

Vinnig sluk sy die ligte slaappil wat sy party aande drink. Eintlik die laaste tyd die meeste van die aande as gevolg van die kleinmannetjiedramas wat haar lewe die afgelope weke kenmerk. Sy stoot doel­bewus die gedagtes na ’n deel van haar brein wat gemerk is: vullisdrom. Impulsief is nie deel van haar geformuleerde woordeskat nie, maar sy is klaar met daardie wêreld en na een toe op pad wat sy nie ken nie. Algaande dommel sy rustig in.


Kate vee oor haar oë. Waar is sy? Tussen die slaap­newels deur hoor sy die roesemoes van stemme en mense. Dan onthou sy van haar spontane reis na Ierland.

“Dit is nou tyd om die vliegtuig te verlaat, juffie.” Hagar se stem ruk haar behoorlik wakker en dit boonop op ’n nugter maag.

“Totsiens en moenie van jou vele handbagasie vergeet nie, hoor. Daarsonder sal jou vakansie ramp­spoedig begin,” antwoord sy liefies terug. Die bagasie wat hy in haar spasie moes indwing.

Haastig vryf sy oor haar oë, trek ’n kam deur haar hare en spuit van die parfuum in haar handsak aan. Gelukkig het sy ook altyd pepermentkougom en sy glip een in haar mond. Dit is die naaste wat sy aan vars gaan kom. Hopelik spoor sy dadelik ’n hotel of gastehuis iewers op en kan sy behoorlik opfris. Sy het wraggies deur die hele vlug geslaap. Dit moet die kombinasie van die whiskey en die slaapmiddel wees wat haar so uitgeboul het. Teen hierdie tyd is die vliegtuig amper leeg en kan sy rustig haar hand­bagasie kry en die vliegtuig verlaat. Sy moet behoor­lik rek, want Hagar het haar bagasie natuurlik in die verste hoekie ingeprop.

“Dankie vir julle vriendelike diens,” glimlag Kate vir die twee lugwaardinne wat droomverlore na iets ’n entjie voor haar staar. Die volgende oomblik voel sy ’n harde manslyf voor haar. Dit moet wees, want haar hande druk teen ’n baie gespierde rug en toe sy opkyk, eien sy twee breë skouers. Sy hoor die lug­waardinne geskok hul asem intrek. Die iets waarna die twee gestaar het, moet dan seker die gesiglose persoon wees waarmee sy nou hard kennis gemaak het. Hy draai sy skouers en sy reik vinnig na die sit­plek langs haar om haar balans te herwin.

Twee hande trek haar saggies aan haar arms regop. Sy volg die hande se pad na die sterk hoekige skouers, en dan hoër op tot by twee ligblou oë. Dit word omraam deur twee donkerbruin wenkbroue wat skerp afsteek teen die ligrooi van sy kuif wat oor sy effens besproete voorkop val. In haar lewe het sy nog nooit so ruwe, aantreklike man gesien nie. In storieboeke is rooikopmans nooit die helde of selfs aantreklik nie, maar hulle het voorwaar nog nie hierdie een onder oë gehad nie. Kommerplooie versier sy voorkop.

“Het ek jou omgestamp?” vra hy sag.

“Nee, ek het nie gekyk waar ek loop nie. Jam­mer.” Kate vryf ’n blonde haarlok van haar voorkop weg.

“Miskien is dit wat gebeur as jy nie die venstersitplek wil afstaan nie, of ’n dubbele whiskey bestel?” Tergliggies flikker in sy blou oë en in sy linkerwang verskyn ’n verskuilde kuiltjie. Hoe het hierdie rowwe diamant iets soos ’n kuiltjie in sy wang? Dit laat hom baie sagter vertoon.

Kate vee agter haar nek. “Ten minste luister ek nie ander mense se gesprekke af nie. Verskoon my.”

Weens sy grootte en haar bagasie sukkel sy om verby hom in die paadjie te beweeg. Dan is sy hande op haar heupe en tel hy haar op, draai in die rondte, en sit haar en haar bagasie weer sagkens voor hom neer.

“Dit is beter. Toe, ons wil ook nou nie die hele dag op hierdie vliegtuig spandeer nie, wil ons?” ’n Rooi­bruin wenkbrou lig vraend. Met ’n laaste kyk in sy rigting begin sy verward vorentoe stap. Miskien is die slaappil nog nie uitgewerk nie, en droom sy oor ’n Ierse man met rooi hare en ’n kuiltjie wanneer hy glimlag. Versigtig probeer sy so ongemerk moontlik oor haar skouer loer. Nee, daar staan hy lewensgroot en verwaand.

“Jy weet waar die pad is?” Spottend. Kate draai summier om en met ’n regop rug loop sy tot by die uitgang. Dan tref dit haar – dit is hy wat vir haar en Hagar gelag het. Verpestelike rooikopluistervink met breë skouers en ’n onnodig aantreklike kuiltjie in sy wang.