Uittreksel | Huis toe vir Kersfees
Een
Surika Breedt draai die volume van haar motor se radio hoër op en sing luidkeels saam met een van haar gunstelingsangers. Die pad deur die Karoo van Stellenbosch af huis toe voel vandag ekstra ver. Sy skakel die lugverkoeler af en laat rol die venster langs haar oop sodat die wind deur haar hare kan waai.
Haar ouma Suzette het haar altyd “kind van die wind” genoem. Sy voel so vry soos ’n voël wanneer sy vinnig beweeg met die wind in haar hare. Vandag het sy die briesie nodig om die afgelope jaar se storm en drang uit haar gestel te waai. Die wind is egter onaangenaam warm. Onvergenoeg druk sy die knoppie om die venster te laat toeskuif en skakel maar weer die lugreëlaar aan.
’n Blink sportmotor blits by haar verby en swenk so vinnig voor haar in dat sy moet rem om ’n ongeluk te voorkom. “Hei, wat dink jy doen jy?!”
Met ’n ongeërgde hand waai die bestuurder vir haar en sy plat ryding word klein soos hy vet gee om te kom waar hy wil wees.
“Toemaar, ou matie, wanneer jy wiele in die lug langs die pad lê, sal ek veilig by my bestemming wees,” praat sy met die roekelose bestuurder, al weet sy hy kan haar nie hoor nie.
Toe hy buite sig verdwyn, vergeet sy gou van hom om verder oor haar eie situasie te sit en peins. Hoekom was sy so onnosel om te dink dat Derick haar sal vra om in die Kaap by een van die regsfirmas haar kandidaatskap te kom doen om naby hom te wees? Hy het haar so ewe koeltjies bedank vir haar vriendskap en alles van die beste vir die toekoms toegewens toe hy haar die laaste keer net voor die eindeksamen uitgeneem het. Toe sy dink hy gaan sy liefde verklaar, sê hy haar sowaar af! Sommer net so.
Surika stoot die volume van die radio nog hoër om die geraas in haar kop te probeer verdoof. Derick se verraad maak steeds vrek seer en het ’n bitter smaak in haar mond gelaat. Die botteltjie water wat sy vroeër by ’n stilhouplek gekoop het, verskaf geen lafenis nie. Die inhoud is onsmaaklik louwarm en vies draai sy die proppie terug.
Die romantiese pieknieks in die maanlig, kersligetes by duur restaurante en die blomme en sjokolade wat Derick gedurig aangedra het, het haar laat glo sy is die uitverkore een vir hom. Min het sy geweet sy was nie die enigste een wat hy dikwels uitgeneem en bederf het nie. Wat die seerste maak, is die feit dat almal op die kampus dit geweet het, net sy nie. Kliponnosel, dis wat sy is. Van nou af fokus sy net op haar loopbaan en die laaste deel van haar studie. Geen man gaan haar weer van koers af kry nie.
Uiteindelik word Grysbult se huise, wat soos ’n trop skape in die leegte tussen die klipkoppies saamdrom, sigbaar. ’n Verligte sug laat haar kuif op haar voorkop roer. Sy sien nogal uit na die tuiskoms, want sy het na haar dierbare ouers verlang die afgelope maande. Hulle weet nog nie dat sy en Derick nie meer saam is nie en sy weet dat hulle simpatie en liefde mildelik oor haar sal uitstort wanneer sy hulle daarvan vertel. Miskien is dit al wat sy nou nodig het: haar pa se beerdrukkies en haar ma se trooskos.
By haar ouers se mooi sandsteengastehuis met die klippilare op die wye stoepe draai sy in die rylaan in. Sy moet vinnig rem toe die einste silwer sportmotor wat haar so byna uit die aarde gery het, voor haar opdoem. Wat soek hy hier? Seker aandete en oornagplek voordat hy wie weet waarheen voortspoed. Surika skud haar kop en ry verby sy duur kar na waar die motorhuise agter in die erf is. Sy snuif verontwaardig. Roekelose vent wat ander mense se lewe in gevaar stel net omdat hy haastig is.
“Suki!” Haar ma kom met wyd oop arms by die agterdeur uit.
“Rikatjie,” volg haar pa meer bedaard.
Surika rol haar oë voordat sy uitklim. Die twee het nog altyd verskillende dele van haar naam voorgehou as die belangrikste. Surika is na haar twee oumas, Suzette en Rika, vernoem en elkeen van haar ouers begunstig die deel wat hul onderskeie ma’s se naam verteenwoordig.
“Hallo, Ma . . . hallo, Pa,” groet sy en verlustig haar in die gevoel van geborgenheid toe hulle haar om die beurt omhels en soengroet.
“Jy is seker doodmoeg en honger. Ons het so pas aangesit vir ete. Kom in, kind.” Sue Breedt neem Surika se smuktassie by haar en staan opsy sodat haar man die groter tasse uit die oop kattebak kan uithaal.
“Ek het op pad iets geëet, maar Ma se kos ruik so lekker.” Surika snuif waarderend toe sy by die agterdeur instap. In die kombuis steek sy vas. By die lang kombuistafel waar die gesin altyd hul etes geniet, sit ’n vreemde man. Gaste eet gewoonlik in die eetkamer. Wie sou dié wees?
Hy staan stadig op, sit sy servet op die tafel langs sy bord en bekyk haar van kop tot tone, maar sê niks.
“Suki, dit is Alex de Bruyn, ’n gas hier by ons. Alex, dis ons dogter Surika, van wie ons jou vertel het.”
H’m, ’n gas. Hy hoort dus nie hier in die kombuis nie. Surika knik en neem die hand wat hy oor die tafel uitsteek, maar los dit net so vinnig weer.
“Jan, neem asseblief haar bagasie na haar kamer toe, dan dek ek vir haar ’n ekstra plek,” gee Surika se ma opdrag.
“Wie is die Alex?” vra sy toe haar pa met haar bagasie saamstap na haar kamer toe.
“Hy is ’n ontwikkelaar wat groot planne vir Grysbult het. Hy is ’n gereelde gas hier by ons,” is sy niksseggende antwoord.
“Watse planne? Ons dorpie het in tweehonderd jaar niks ontwikkel nie. Hoekom nou skielik?”
“Vra hom gerus, hy sal jou sekerlik inlig daaroor. Kom, dan eet jy eers iets. Welkom tuis, Poplap.”
“Dankie, Pa, ek kom. Ek wil net eers my hande en gesig was,” maak sy verskoning. Hopelik het meneer Groot Planne (wat is sy naam nou weer?) klaar geëet en is hy weg na sy kamer toe wanneer sy weer in die kombuis kom. Hy is sweerlik die jaagduiwel wat haar byna onderstebo gery het vanmiddag. Wat anders soek die slap silwer ryding hier langs die huis?
Surika was haar hande en gesig in haar klein badkamertjie en trek ’n borsel deur haar lang blonde hare. Toe sy nie langer kan uitstel nie, stap sy traag kombuis toe. Sy is nie lus om praatjies te maak met die lang vreemdeling met die donker kuif wat parmantig van sy voorkop af opwip nie. Groot planne vir hul dorp? Wat sou dit beteken?
Hy sit steeds land en sand en gesels aan tafel by haar ouers, so al asof hy een van die gesin is. Dis gou vir Surika baie duidelik dat dit nie die eerste keer is wat hy ’n gas in haar ma se gastehuis is nie. “. . . die hele omgewing sal daarby baat,” hoor sy die einde van sy sin toe sy oorkant hom gaan sit.
“Waarby gaan die omgewing baat?” Dis die brandende vraag in haar kop sedert sy gehoor het hy is ’n ontwikkelaar. Wat ontwikkel hy nogal?
“Alex se maatskappy wil Grysbult as ’n toeristedorp ontwikkel,” antwoord haar ma en gee vir Surika ’n bord met geurige lamskerrie aan.
Alex hou ook sy bord nader. “Kan ek nog ’n happie kry, tannie Sue? Hierdie kerrie is uit die boonste rakke.”
Surika vererg haar nou. Hy is alte danig met haar ma. Tannie Sue, verbeel jou. Die duiweltjie op haar skouer maak dat haar mond vinniger as haar brein werk. “Ja, gee vir hom nog, Ma, ’n man het sekerlik baie krag nodig om ’n hele omgewing eiehandig te ontwikkel, het hy nie?” kap sy in sy rigting. Wat as tergery bedoel was, klink vir haar nou alte veel na sarkasme, maar die woorde is uit. Sy hou asem op vir ’n ewe snerpende antwoord.
Hy glimlag egter onversteurd en kyk tevrede hoe haar ma vir hom nog ’n aansienlike porsie kos inskep. “Is net soos jy sê, ja,” kom sy antwoord lakoniek. “’n Man het sy kragte nodig.”
Vinnig laat sak Surika haar blik en begin eet voordat sy nog iets neerhalends kan kwytraak. Wat is die man se storie? Sy kan nie wag om haar ma alleen te kry om meer uit te vind nie. Grysbult is ’n klein agter-die-klip-nedersetting wat in die tweede helfte van die negentiende eeu hier gevestig is en sedertdien nie veel verander het nie. Niemand het nog ooit belanggestel om dit te ontwikkel nie. Hoekom nou skielik? Wie kan wat daarby baat?
“Wat is die naam van jou besigheid?” vra sy gemaak ongeërg. Miskien kan sy hom google en uitvind of hy nie dalk ’n kansvatter is nie.
“De Bruyn Ontwikkelaars en Vennote. Dit behoort aan my pa, myself en my broer,” sê hy voordat hy smaaklik verder aan haar ma se kerrie smul. Hy sluk die laaste happie in en kyk op in haar oë. “De Bruyn met ’n u en ’n lang y, as jy dit dalk sou wou google om seker te maak dis eg. Ons bestaan reeds sedert 1950 toe my oupa dit begin het.”
Surika verstik byna aan haar kos. Uitgevang. Haar gesig het haar skeptisisme sekerlik verraai. En sy het gedink sy steek haar gevoelens goed weg. Sy vee haar mond aan haar servet af om vir so ’n bietjie tyd te speel. “Ek sal so maak. Mens weet nooit.” Voordat sy vanaand slaap, sal sy beslis ’n bietjie speurwerk moet doen. Sy sal haarself met inligting bewapen.
Daardie nag kan Surika nie slaap nie. Sy is later doodmoeg van die rondrollery op haar bed. Derick en sy verraad hou steeds haar gedagtes besig. Wat het sy verwag? Dat hulle twee saam sou wegry na die spreekwoordelike sonsondergang op die horison? Genugtig, sy was mos bewus daarvan dat hy ’n bietjie van ’n rokjagter is. Sy was dommer as dom om te hoop dat hy dit opreg bedoel het met haar.
Sy was verblind deur haar eie verliefgeit op die liefde. Hy is vir die vakansie huis toe met sy nuwe liefde, Monique, wat hy agter haar rug reeds maande lank uitgeneem het. Haar drome was dus alles net wind. Kind van die wind, inderdaad.
Nou is sy vir die Kersvakansie hier by die piepklein Karoodorpie op die oewer van die Oranjerivier waar haar pa ’n hardewarewinkel en haar ma ’n gastehuis bedryf. Sy is nege jaar gelede op twaalfjarige ouderdom weg kosskool toe en het sedertdien slegs tydens skool- en universiteitsvakansies huis toe gekom.
Hopelik hoor sy binnekort van een van die regsfirmas in Bloemfontein waar sy ternouernood om ’n kandidaatskap moes aansoek doen. Dit nadat sy besef het dat ’n toekoms by die regsfirma in Kaapstad naby Derick se familie se wynlandgoed nie meer so rooskleurig lyk nie. Om permanent na hierdie vaal dorpie op die platteland te moet terugkeer, is ondenkbaar. Sy sal tot ná Kersfees by haar ouers kuier, maar dit is dit. Die oomblik wat sy werk kry, skud sy die stof van Grysbult van haar voete af.
“Aa, daar is sy nou. Kom kry ’n koffietjie, Poplap,” verwelkom haar pa haar die volgende oggend in die kombuis toe sy vroeg-vroeg agter die koffiegeur aan kombuis toe loop. In die kombuisdeur steek sy egter vas. Oorkant haar pa, by die ander kop van die tafel, sit Alex de Bruyn, duidelik vars gebad en geskeer en netjies uitgevat vir die dag. Lank, donker en deksels aantreklik met ’n chinobroek, gholfhemp en aanglipskoene sonder kouse, ’n tipiese stadsjapie.
Surika pluk aan haar slaapklere se kortbroekie om seker te maak als is toe. As sy nou omspring en teruggaan kamer toe, sal dit die vent net sy sin gee, want dan sal hy bevestiging kry dat sy teenwoordigheid haar onverhoeds gevang het. Onverhoeds is die regte woord. Met al haar getob oor Derick het sy toe nooit by haar speurwerk uitgekom nie. Flippetie-flip tog, bars haar woonstelmaat se gunstelingsêding deur haar brein. Sy het net haar ouers in die kombuis verwag, nie ’n kraakvars sexy-genoeg-om-te-eet-Alex nie.
Sy ruk haarself met mening reg en stap ongeërg nader. “Môre, almal,” groet sy dus koeltjies, so al asof sy gewoond is om in haar pajamas voor vreemde mans te verskyn. In ’n poging om ’n bietjie skafliker te lyk, vee sy haar deurmekaar hare agter haar ore in. “Dankie, koffie sal lekker wees. Ek kry sommer self.” Sy help haarself by die koffiemasjien en gaan sit langs haar ma.
“Het jy darem goed geslaap?” vra hy hoflik en skuif die melkbekertjie vir haar nader.
“Ja, dankie,” lieg sy en kyk op, reg in sy skerp blik vas. Hy het sowaar een groen en een blou oog! Sy knipper haar eie oë en draai vinnig na haar ma toe.
“Ek dog gaste eet in die eetkamer.”
“Alex is op die oomblik ons enigste gas en hy was so gaaf om aan te bied om saam met ons hier te eet. Dit spaar my die moeite om elke ete spesiaal vir hom in die eetkamer te moet dek.” Haar ma hou vir haar van die beskuit, maar sy skud haar kop. As sy nou iets moet eet, gaan sy verstik.
Surika fokus liewer op die beker voor haar en roer suiker in haar koffie in. Dan is hy sowaar bedagsaam ook nog. Daarmee kan sy nie fout vind nie. Sy sal self enigiets doen om haar ma moeite te bespaar. Dis natuurlik deel van sy plan om die mense van Grysbult te wen met sy sjarme en mooi maniere voor hy hulle uit hul gemaksone verneuk.
Sy waag dit om weer op te kyk. “Alex, hoe beplan jy om ons eenvoudige dorpie in ’n toeristeaantreklikheid te verander?”
Hy sit gemaklik agteroor op sy stoel en kyk haar reguit in die oë. “Het jy dan nie laas nag op jou rekenaar gaan spioeneer op ons webwerf nie?” Hy klink ongelowig, effens geamuseerd.
“Nee, ek was te moeg ná die lang rit van Stellenbosch af.” Sy neem ’n slukkie koffie.
Sy wenkbroue vlerk boontoe. “Wel, in breë trekke beplan ons onder meer ’n vakansieoord op die oewer van die rivier en ’n winkelsentrum net buite die dorp. Dit sal baie groot besighede hierheen lok en natuurlik heelwat werk skep vir die plaaslike mense.”
“Ons het ysige winters hier, nie juis lekker vakansieweer nie. Sal dit nie jou seisoen met ’n hele paar maande per jaar sny nie?”
“Om dit teen te werk, beplan ons verhitte swembaddens en allerhande vermaaklikhede soos byvoorbeeld ’n dobbelhuis, ’n bioskoop met ondervloerse verhitting en knus restaurante met kaggels, alles natuurlik binnenshuis.” Die tweekleur kyk is stip en rustig. Nee, eerder uitdagend. Of is dit spottend? Flip tog!
“’n Dobbelhuis?” Haar stem styg van verontwaardiging.
“Ja, dobbelhuise is mos lankal nie meer onwettig in ons land nie.”
“Ons omgewing bestaan meestal uit eenvoudige Christenmense wat sekerlik nie belangstel in dobbel nie.”
Hy sit nou regopper. “Dié weet ek, want ek het my huiswerk deeglik gedoen, maar die vakansiegangers kom van oraloor en sal beslis in sulke vermaak belangstel.”
“Poplap, dit sal vooruitgang vir al ons mense beteken,” keer haar pa nou.
Surika spring op en gaan sit haar koffiebeker in die wasbak. “Vooruitgang? Sal dit vooruitgang vir die gastehuis wees as Ma se gaste verkies om by die vakansieoord tuis te gaan of vir Pa se besigheid as hy maandeliks tienduisende rand meer huur moet betaal in die groot winkelsentrum omdat die klante almal verkies om daar te gaan inkopies doen?”
“Dit gaan nie noodwendig gebeur nie,” keer Alex vinnig.
“Nie? Watter waarborg kan jy my ouers gee dat hul besighede sal bly soos dit is?”
“Ek kan dit seker nie waarborg nie, maar ons kan ’n plan beraam.”
“Grysbult se mense is doodgelukkig en tevrede met dinge soos dit is. Hulle het nie nodig dat jy in jou deftige kantoor in die stad sit en namens hulle planne uitdink nie, dankie. Vat jou blink kar en gaan terug stad toe waar jy hoort.” Daarmee draai sy op haar kaal voete om en storm na haar kamer toe. Voordat sy haar kamerdeur toeklap, hoor sy haar ma paaiend met Alex praat, maar wag nie om te hoor wat gesê word nie. Hy kan met sy haastige silwer ryding terugfoeter tot in die Kaap, vir al wat sy omgee!
Met ’n grom plons sy op die bed neer. Haar ouers is goedgelowige mense, oor die algemeen maklik oortuigbaar, maar hy moet weet sy is nie en sy is nou hier. Hul omgewing bestaan uit eenvoudige, hardwerkende mense. Haar dorp en sy mense het beskerming teen bloedsuiers wat hulle wil uitbuit vir eie gewin, bitter nodig. Sy wat Surika Breedt is, het nie verniet regte geswot nie. Sy ken die wet. As sy eers werk gekry het by een van die groot regsfirmas waar sy aansoek gedoen het, sal sy ’n regspan agter haar hê wat hom kan laat les opsê.
Sy gaan nie toelaat dat Opwipkuif hom op haar terrein in haar ouerhuis inwurm en hulle dorpie se mense se rustige bestaan kom omdolwe nie. Sy het oorgenoeg gehad van manne wat dink sy is ’n pushover omdat sy blonde hare en ’n sagte stem het, veral hierdie Alex-vent. Iemand met twee verskillende kleure oë kan net ’n tweegesig wees!