Skip to main content

Uittreksel | Hospitaal Weltevreden

Hoofstuk 1

Anna-Mart

Wat ’n dag in die ongevalle-eenheid. Anna-Mart stoot haar spreekkamerdeur oop en sak gedaan in die stoel neer.

Haar blonde hare is netjies vasgemaak in ’n poniestert agter haar kop. Sy vryf daaroor om seker te maak elke haartjie is in posisie. Vandag het sy die minimum grimering aan. Net ’n bietjie onderlaag en maskara. Sy hou nie van oordadige grimering nie. Veral nie wanneer sy werk nie. Met ’n swaar sug vee sy oor haar gesig. Die horlosie sê dit is tien oor vyf. Haar laaste geval was moeilik. Touch and go, soos hulle hier sal sê. Sy maak haar oë vir ’n rukkie toe en haal diep asem.

’n Twee-en-sestigjarige man het kom kla oor drukking op sy bors. En daar gaan staan sy hart toe in ongevalle. Ná tien minute van kardiopulmonêre resussitasie en drie skokke kon hulle hom darem bykry en is hy geïntubeer. Nou is hy in die hande van die hartchirurg, dokter Marloux Pienaar. Marloux was seker die pasiënt sal ’n hartomleiding moet kry. Dinge het nie goed gelyk nie. Die toetse en skanderings wys verkalkte are, maar hy is in die hande van een van die land se beste hartchirurge. Met sy donker hare, potblou oë en sterk kakebeen maak Marloux menige suster, verpleër en vroulike dokter se knieë lam. Sommige susters noem hom ook dokter McDreamy, na die TV-reeks Grey’s Anatomy se sexy dokter.

Koffie. Dit is wat sy nou nodig het. Dan moet sy die magdom admin klaarmaak voor sy daaraan kan dink om huis toe te gaan.

Sal sy eers ’n draai by die gimnasium maak? Nee wat. Vandag sal daar nie tyd wees nie. Dit is nou een ding wat hierdie ses-en-dertigjarige noodgevallespesialis onderkry – die administrasie. Verslae op verslae van elke geval. Alles spesifiek. Elkeen in detail. As sy tog liewer net mense kan help terwyl iemand anders die admin hanteer. Weer vryf sy oor haar gesig. Haar konsentrasie het verslap en die ure sonder rus het die pyn in haar lae rug aangebring. Die hope pasiëntelêers lê aan die regterkant van haar tafel. Sug. Miskien moet sy dit nou gryp en aan die gang kom. Sy gaan staan by die venster. Daar is nie genoeg motivering in haar om die admin af te handel nie.

Haar spreekkamer is netjies. Kan netjieser as sy regtig wil. Dog eenvoudig. Lessenaar met ’n potplant wat sy net-net aan die lewe hou, ’n kapstok vir haar doktersjas en ’n kas met ’n liasseerkabinet. Sy probeer tenminste haar tafel altyd aan die kant hou. Louise kan tog so maklik skimp wanneer dinge op haar tafel te deurmekaar is.

Sy kyk by die venster uit. Die verkeer is besig en mense loop haastig rond. Hopelik het Ma alreeds heerlike kos gemaak.

Dit is darem een van die voordele wat sy het. Ma woon by haar vandat sy ’n jaar en ’n half terug die permanente aanstelling by Hospitaal Weltevreden gekry het, en sy kyk goed na haar enigste dogter. Die gedagte aan haar liewe ma laat haar glimlag. Louise verduidelik dit so mooi soos net ’n beste vriendin kan: rough around the edges, maar ’n hart van goud. Plat op die aarde en sê ’n ding soos dit is. Daar is nie ’n wag voor haar mond nie. Soms kan sy so skaam kry vir Ma, maar dan onthou sy haar grootwordjare. In Danville. Dinge was maar moeilik.

Sy was die jongste van hulle drie kinders, en hulle het dit nie breed gehad nie. Haar broers Fanie en Antonie is in onderskeidelik graad ses en agt uit die skool, glo om die gesin te help. Dit is allesbehalwe wat hulle gedoen het. Die twee is vier en twee jaar ouer as sy, maar het gou met verkeerde vriende deurmekaar geraak en dit was nie lank nie, toe begin hulle met dagga en daarna met dwelms eksperimenteer. Ma het hulle naderhand soos sleg honde van die huis af weggejaag.

Tot vandag toe kan sy sien dit vreet aan Ma. Die kere wat hulle wel vir Fanie en Antonie gesien het, het dit net moeilikheid tot gevolg gehad. Die dwelms maak hulle aggressief. Veral vir Fanie. Alhoewel sy en Ma dit nie hardop vir mekaar sê nie, is hulle al twee bang vir hom. Antonie is die rustiger een, doen als wat Fanie vir hom sê. Sy sal nie verbaas wees as die twee iewers in die tronk is nie. Dié gedagte laat haar koud.

Pa is oorlede toe sy maar net vier jaar oud was. ’n Vragmotor het hom van sy fiets af gery op pad werk toe en hy is op slag dood. Ma moes toe die pot aan die kook hou en het met naaldwerk maar skrapse geld verdien. Anna-Mart het enduit skool gegaan en met agt onderskeidings matriek behaal. Dit was twaalf harde jare. Naweke het sy by die Spur in Queenswood gewerk en haar fooitjies net so vir Ma gegee vir kos en ander broodnodige sake. Sy het in haar studentejare aanhou werk by die Spur wanneer sy kon, om Ma te ondersteun. As daar ’n geldjie was, het sy vir hulle tweedehandse klere by die hospice gekoop. Geld vir luuksheid was daar nie. Inteendeel, daar was van luuksheid nie eers sprake nie.

Sy vryf oor haar nek, haar oë nog toe. Daar is ’n klop aan haar deur.

Dit is Louise.

Hulle het mekaar leer ken toe Louise gespesialiseer het in onkologie, en sy weet alles van Anna-Mart. Die dag wat sy by Hospitaal Weltevreden begin werk het, was dit Louise wat eerste met haar begin gesels het. Anna-Mart onthou die dag goed. Daar was ’n pasiënt wie se toetse en skanderings aangedui het dat hy moontlik lewerkanker het, en sy het die hulp van die onkoloog ingeroep. Gou het sy agtergekom Louise is op die man af en draai nie doekies om nie. Louise het die pasiënt dadelik oor die stand van sake ingelig en dat hy nie gaan gesond word nie, ook dat hy binne die volgende vier maande sou sterf.

Eers het dit Anna-Mart ontstel dat iemand so blatant kan wees, maar gou het sy besef Louise kyk na die mediese uitslae voor haar en maak op slegs die wetenskap staat. Vir haar is daar nie grys areas nie. Net wit of swart. Dit is ook hoe sy haar pasiënte behandel. Gou het sy Anna-Mart ook daarop gewys die regte protokol is om ’n internis of chirurg in te roep voor sy as onkoloog intree.

Anna-Mart glimlag by dié gedagte.

Louise is ’n kort vrou, effe rond om die middel, maar het ’n kiertsregop postuur. Altyd vinnig aan die beweeg, kort voetstappe. Mens kan nooit uitmaak of sy werklik haastig is of nie.

Sy stoot die deur agter haar toe. “Jy lyk moeg. Harde dag?”

“Ek sal nie jok nie, dit was ’n taamlik bedrywige ene. Die ongevalle was besig en my laaste pasiënt was ’n touch and go. Marloux is nou juis besig met hom. Dit was net genade van Bo dat ek hom nie verloor het nie. Of sal ek sê luck.” Sy stap na haar tafel toe.

“Daar bestaan nie iets soos genade van Bo nie, Anna-Mart. Dit was bloot nie sy tyd nie. Kom. Kom ons gaan drink koffie by die hospitaal se koffiewinkel. My dag was ook maar uitdagend.”

Ja wat. Die admin kan wag en sy smag na ’n koppie koffie. Sterk, sonder melk of suiker. Sy loop saam met Louise die gang af.

“Wil jy praat oor jou uitdagende dag?” vra sy vir Louise.

“Dis maar net die gewone. Mense wat gediagnoseer word met ’n ongeneeslike kanker en dan moet jy vir hulle hoop probeer gee. Juis ’n vrou met fase vier borskanker. Petro is haar naam. Interessante mens. Haar borste is verwyder tydens ’n mastektomie, maar die kanker het moontlik reeds te ver versprei.”

“En chemotera…”

Maar Louise val haar in die rede. “Terapie gaan haar lewe met dalk vier maande verleng. Nou net om haar te kry om dit te aanvaar. Maar ek is bevrees dis een van daai wat met die Bybel geklap is en glo sy gaan gesond word.”

“Ai, Louise, soms is die Bybel al wat mense nog aan die gang hou.”

“Jy weet hoe ek voel oor mense wat die Bybel oral inbring, Anna-Mart. Ek het al honderde mense sien bid tot ’n God wat net nooit tot hulle redding kom nie.”

Anna-Mart laat dit eerder daar. Dit is ’n onderwerp wat sy nie met Louise kan of wil bespreek nie. Wit of swart. Die wetenskap wys vir haar wat gaan gebeur. Einde van die storie. Sy het al baie keer vir Louise probeer vertel hoe die Here in haar lewe gewerk het en hoe sy deur die Here se genade gekom het waar sy is, maar dan het Louise altyd die een of ander teenantwoord.

Hulle stap die restaurant binne. Sy dink gereeld aan Louise en haar onverbiddelike filosofie, maar het die afgelope jaar en ’n half geleer om nie met haar daaroor te stry nie.