Skip to main content

Uittreksel | Hoog tyd

Een

1724

Jacques le Roux gee ’n glas konjak vir sy vriend aan en gaan sit op die leunstoel voor die kaggel met gloeiende kole wat poog om die Kaapse win­ter uit sy studeerkamer te verdryf. “Vertel my, hoe het jy geweet dat jy jou Juli liefhet en nie my sus­ter Juliette nie? Hulle is immers byna identies wat voorkoms betref. Ek verstaan dit nie.”

Louis Rousseau skreef sy oë terwyl hy ingedagte aan sy drankie teug. Hy sluk en suig sy asem deur sy tande in. “Ja, hulle is uiterlik ewe mooi, maar dit wat ek vir Juli voel, het niks met haar voorkoms te make nie. Dis asof ek vanaf die eerste oogopslag kon aan­voel sy is nie Juliette nie. Die oomblik toe ek my oë op haar lê, het iets my net hier getref.” Hy vee oor sy onderbaadjie wat netjies oor sy borskas pas, so al asof hy dit nou nog kan voel. “Daar is ’n energie wat uit haar straal en my onweerstaanbaar aantrek, ’n vonk wat ’n vuur in my aansteek. Haar vroulikheid spreek tot die man in my. Dis asof sy vir my gemaak is.”

Jacques kan sien slegs die gedagte aan sy vrou vervul sy vriend met vreugde. ’n Klein stekie jaloesie trek deur hom. Hy lag. “Om te dink jy het altyd gesê jy sal nooit trou nie, en toe land sy letterlik byna in jou skoot vanuit die een-en-twintigste eeu.”
Louis stoot die punt van sy tong oor sy lippe. Dis duidelik dat hy Jacques se oorlede oupa se verou­derde konjak baie geniet. “Wat laat jou nou aan ro­mantiese liefde dink? Die storie loop dat jy gereeld saam met Danielle de Villiers gesien word, maar ek weet jy is nie verlief op haar nie. Het dit verander? Het jy dalk trouplanne waarvan ek nie weet nie?”

Jacques sug effens, lig ’n gestewelde voet en stut dit by die enkel op sy ander knie.

“Die storie?”

“Jy vergeet ek is getroud. My vrou weet van elke gefluisterde storie van hier af tot in die Kaap. Die vroue skinder mos gedurig onder mekaar, en wat hulle nie weet nie, vind die slavinne uit en vertel dit vir hul meesteresse.”

“Natuurlik. Met dié dat hier nie meer vroumense onder my dak woon nie, het ek daarvan vergeet. Ek vermoed Danielle se ma is die oorsprong van die stories. Sy het beslis trouplanne vir ons, want sy be­werkstellig gedurig ‘toevallige’ ontmoetings tussen ons twee sedert Danielle hubare ouderdom bereik en ek teruggekeer het hierheen, maar ek en Danielle voel nie dieselfde as madame De Villiers nie.”

“Nie?”

“Nee. Ons is bloot goeie vriende omdat ons ouers destyds saam uit Frankryk hierheen gekom en vriende gebly het tot en met Mama en Papa se dood. Danielle is al erg omgekrap oor die druk wat haar ouers op haar plaas om met my te trou. Sy oor­weeg dit om op ’n skip te klim Frankryk toe om vir ’n ruk by familie daar te gaan kuier in die hoop dat haar ouers die boodskap sal kry.” Hy verskuif sy glas van die een hand na die ander. “Ek weet nie of sy dit werklik sal doen nie; dis darem net te gevaarlik vir ’n vrou alleen.” Hy sug weer. “Miskien is sy juis ’n goeie keuse vir my. Vriendskap is dalk ’n beter ba­sis vir ’n huwelik as romantiese liefde. Daar is in elk geval niemand anders wat my oog vang nie.”

“Ongelukkig is die oes hier aan die Kaap maar skraal, en jou hele houding vertel my jy is nie op­gewonde oor ’n huwelik met Danielle nie, maar jy kan nie stry nie, sy is iets vir die oog.” Louis maak bewegings met sy hande wat aandui presies wat hy bedoel.
Jacques snorklag, lig sy glas en bekyk die diep kleur van sy drankie teen die agtergrond van die vlamme in die kaggel. “Sê die man wat beweer sy liefde vir sy vrou het min met haar uiterlike voorkoms te make.”

“Dis waar, ja, maar dit help as sy vir jou mooi is. Jy is byna drie en dertig jaar oud, my vriend. Dis hoog tyd dat jy vrou vat. As jy nie gou speel nie, gaan ie­mand anders haar opraap en dan is jou hoop op ’n aanvallige bruid daarmee heen. Buitendien, jy wil tog sekerlik nie ’n ou man wees wat deur sy jong bruid versorg moet word nie,” terg Louis sy vriend van baie jare.

“Ek wil ook nie ’n onwillige bruid in my bed hê nie. Dis jy en Juli en jul vurige verhouding wat my oortuig het om vir die regte een te wag. Ek soek ook daardie opwinding wat ek in jou oë sien opspring wanneer jou vrou by die vertrek instap.”

Louis maak keel skoon, laat sak sy kop skuins en glimlag, duidelik uiters ingenome met homself. “Wel, ek kan dit ten sterkste aanbeveel.”
Jacques klink sy bolglas teen sy beste vriend s’n. “Ons stem dus saam dit is hoog tyd dat ek trou, maar dat ek nietemin meer tyd moet toelaat om na die regte een te soek.”

Louis wys met ’n vinger na hom. “Onthou net, die tyd loop uit. Ek kan sweer ek sien ’n grys haar of twee daar teen jou slape.” Hy leun nader en maak asof hy sy vriend se haarlyn ondersoek.
Jacques stoot sy hand laggend weg. “Dit sal die dag wees. My hare is so donker soos die dag wat ek gebore is. Ontspan, my tyd vir vrou vat sal wel kom. Intussen is ek doodtevrede met my alleenloperstatus. Die plaas en die wynmakery hou my besig genoeg.”

Louis kyk op die oupahorlosie teen die oorkantste muur, sluk die laaste van sy drankie en staan op. “Van tyd gepraat, dis tyd dat ek huis­waarts keer. Al hierdie gepratery oor die regte vrou vir jou herinner my dat myne op hierdie oomblik die bed vir my warm hou, en ek kan ná vier jaar steeds nie wag om saans daar te kom nie. Bly jy net weg van daardie silwer sakhorlosie af. Ek en Juli wil jou nie weer verloor nie.”

Vier jaar vantevore het die woorde van ’n ou heks vir ’n tweede keer waar geword toe die naamgenote Juliette en Juli oor driehonderd jaar heen plekke geruil het omdat hulle aan die silwer sakhorlosie in die vertoonkas in La Rochelle se sitkamer gestel het. As agtienjarige jong man het Jacques ook op dieselfde manier verdwyn en kon eers weer terugkeer toe hy en sy naamgenoot tien jaar later besef het hulle kan terugruil deur middel van ’n brief in die ou Familiebybel te kommunikeer.

Jacques staan ook op. “Daarvan gepraat, ek wonder of Juliette die briewe wat ons vir haar in die Bybel gelos het om in 2015 te vind, in die hande gaan kry?”
Louis tel sy baadjie op en trek dit aan. “Wie weet? Drie eeue is ’n bitter lang tyd. Die briewe kan baie maklik verlore raak. Ons weet nie eens of die papier en ink so lank behoue sal bly nie. Dalk bestaan die Bybel nie meer oor driehonderd jaar nie. Enigiets kan in drie eeue gebeur.”

“Die brief wat die ander Jacques le Roux in 1720 vir my in die Bybel gelos het, was nog daar in 1920 en dit het my gehelp om terug te keer. Ons weet dus papier en ink kan vir tweehonderd jaar hou.”
Louis gee hom ’n broederlike klap op die rug. “Presies. Ons kan maar net hoop Juliette kry haar brief en dat sy begrip vir my en Juli se situasie sal hê en bly waar sy is. Ek sien nie kans om my vrou te verloor nie.”

“H’m. Ek het weer begrip vir my arme sussie wat haarself in ’n baie vreemde tyd bevind. Juli het ons mos al heelwat van al die wonderlike uitvind­sels van haar tyd vertel.”
Louis stap voordeur toe. “Dis te verstane. Jy het immers ondervinding van ’n moderner tyd.”

Jacques maak die swaar houtdeur oop. “Onder­vinding wat ek per ongeluk opgedoen het. Glo my, ek vat nooit weer aan daardie vrekken sakhorlosie nie. Ek het lus en gaan gooi die ding in die see. Die ou heks wat dit vir my oupa gegee het, het ons familie beslis nie ’n guns bewys nie. Eers het ek verdwyn en toe my suster. My ouers het hulle glo doodgetreur oor my. Gelukkig is hulle nie meer hier om hul dogter se verdwyning ook te beleef nie. Die ou mense het nie ’n idee gehad wat gebeur het nie. Vir hulle was die heks se storie van tydreise hopeloos te vergesog om te glo.”

Louis fluit vir sy spierwit perd wat ’n ent weg staan en wei en klim in die saal toe Eclair gehoor­saam naderkom. “Wel, dit was tot my voordeel. As Juli nie met Juliette omgeruil en hierheen gekom het nie, sou ek en sy mekaar nooit ontmoet het nie. Dit maak nie saak wat die ou heks se bybedoeling met die sakhorlosie met sy magiese kragte was nie. Ek bly haar en Juliette dank verskuldig. Lekker slaap. Kom kuier gerus; Juli sal bly wees om jou te sien. Met dié dat sy binne enkele dae geboorte moet skenk, ry sy nie op die oomblik rond nie. Die vroedvrou is oortuig dis ’n tweeling, en ek is maar bekommerd oor haar.” Met ’n tongklik hits hy sy perd aan. Eclair spring weg en galop in die pad af in die rigting van L’Avenir, Louis se wynplaas.


2019

Dani de Villiers druk die knoppie wat haar mo­tortjie se venster laat afskuif sodat die wind deur haar skouerlengte hare kan waai. Die onderonsie met Jans Rademeyer, die redakteur van die tyd­skrif waar sy werk, het haar vanoggend lelik die harnas in gejaag. Hy het ’n ondersoekende artikel waaraan sy weke lank gewerk het met die neerhalende aanmerking afgeskiet dat sy haar liewer by die eenvoudiger werk wat hy vir haar gee, moet bepaal.
“Seksistiese, chauvinistiese boepensbuffel,” grom sy gefrustreerd en trap die pedaal van haar motortjie net so effens dieper in toe sy onthou hoe hy agteroor­gesit en haar met belustige oë aangekyk het terwyl hy haar vertel sy moet die “regte werk” los vir die manne wat weet wat hulle doen. Sy het diep asemgehaal, tot by tien en weer terug getel en gemaak dat sy uit sy kantoor kom voordat sy iets sê waaroor sy spyt sal kry. ’n Mens sou dink dat sulke blatante dis­kriminasie nie meer in die een-en-twintigste eeu be­hoort te bestaan nie, maar nie in die boeke van Jans Rademeyer en sy manlike kollegas nie!
By die bordjie wat aandui dat sy La Rochelle, die wynlandgoed van die Beukes-egpaar bereik het, verminder sy spoed en draai by die indrukwekkende rylaan in. Op aandrang van die einste buffel met die onooglike bierpens, is sy hier om ’n onderhoud met die bekroonde jong skilder, Juliette Beukes, te voer. Die opdrag was dat sy ’n artikel moet skryf oor die einste skilder wat binne enkele jare groot hoogtes bereik het. Asof ’n vrou nie sulke suksesse kan be­haal nie. Genugtig, ’n mens sou sweer dis nog die Victoriaanse era. As werk nie in 2019 so skaars was nie, het sy sowaar vir Jans Biervat vanoggend vertel waar hy sy werk kan indruk. Sy parkeer haar motortjie onder ’n yslike eike­boom en kyk waarderend na die ooglopende tekens van welvaart. Haar navorsing oor die eienaars van La Rochelle het vertel van ’n hardwerkende familie wat oor eeue heen dit wat sy hier sien, met toewyding en innovering opgebou het. Die Kaaps-Hollandse herehuis wat die datum 1699 op die gewel vertoon, staan effens eenkant van die kompleks wat die veel nuwer kelder, wynproelokaal, splinternuwe restaurant en die administra­tiewe geboue huisves.
Dani tuit haar lippe en sug. Haar eie voorvaders, wat self ook vanaf Frankryk hierheen gekom het, het sekerlik die Le Rouxs geken wat destyds die landgoed besit het. Die verskil is net dat die De Villiers-familie hul erfgrond verloor het omdat haar oupagrootjie te lief vir dobbel was en boonop meer van sy wyne gedrink het as wat hy verkoop het. Dis dié dat sy nou verleë is oor werk en nie gasvrou kan speel op ’n spoggerige wynlandgoed soos hierdie nie.
Met ’n diep asemteug stap sy met die breë stoeptrappe op. Dis byna twaalfuur, die afgespreekte tyd vir haar onderhoud met Juliette Beukes, vantevore Le Roux, nou getroud met Luan Beukes. Dani hou daarvan om betyds te wees.
’n Vriendelike vrou wat haarself as die huis­houdster voorstel, laat haar in en neem haar na ’n groot sitkamer met die belofte om haar werkgeef­ster te gaan roep.
Dani sit haar handsak op ’n pers leunstoel voor die kaggel neer en stap na die muur van boekrakke en vertoonkaste agter glas. Sy glo dat jy baie van mense kan leer uit die tipe boeke wat hulle op hul rakke aanhou. Miskien kan sy ietsie meer om­trent die Le Roux-en Beukes-familie uitvind. Luan Beukes is glo deur die vorige Le Roux-egpaar aan­geneem wat in ’n plaasaanval omgekom het.
Dis duidelik dat die boekery oor baie jare versamel is. In ’n ereplek lê ’n dik Bybel met ’n leeromslag en daar bo-op is ’n silwer sakhorlosie aan ’n ketting.
Sonder om te dink wat sy doen, maak sy die glasdeur oop en tel die horlosie op. Haar eie oupa het nadat sy pa hulle familieplaas verloor het, ’n horlosiewinkel begin en sy het baie van horlosie­makery by hom geleer. Dis sekerlik ’n kosbare erf­stuk wat hier agter glas bewaar word. Agterop is wat lyk na die Le Roux-familiewapen en dit beves­tig haar vermoede. Die silwer omslag se knip glip maklik oop. Die horlosie staan op drieuur. Haar oupa het haar geleer ’n mens moet nooit ’n hor­losie laat afloop nie. Met ’n kyk op haar digitale polshorlosie, wat wys dit is nou presies twaalfuur, stel sy die tyd reg en wen dit op.
Skielik begin die aarde om haar draai. Sou sy iets onder lede hê? Dan is dit asof ’n yslike warrel­wind alles in die vertrek laat versplinter en haar in ’n lang lugtonnel insuig. Sy gryp haar kop vas net voor alles om haar donker word . . .